Die Heilige Gees – Francois Malan

Katie
vra:

Is wedergeboorte n voorvereiste om die
Heilige Gees te ontvang of is die heilige gees ook in mense wat gelowig groot
geword het maar nie die “oomblik” van wedergeboorte beleef het nie.
As die Heilige Gees in ons is, kan dit gebeur dat hy ons ook kan verlaat?Ook:
is dit die Heilige gees wat met ons praat in drome. Ook: ek kry skieliik n
gedagte en wonder “wat sal gebeur” as ek n sekere ding sien in my
gedagtes. Dan gebeur dit wat ek gesien het. Dit gebeur nie daagliks nie. Dae of
weke kan verbygaan voordat dit gebeur. Is dit die Heiliige Gees wat met my
gepraat het?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

1 Oor jou vraag: Is
wedergeboorte ’n voorvereiste om die Heilige Gees te ontvang…

Die Heilige Gees is God wat in ons
werk om ons te verbind aan Jesus Christus en sy liefdesoffer vir ons sonde en
met sy opstanding uit die dood. Hy skep ons wedergeboorte deur ons tot geloof
in Jesus te lei (Joh 15:26 en 16:8). Efesiërs 2:8 ‘Want uit genade is julle
verlos deur geloof. En dit kom nie uit julleself nie, dit is die gawe van God.’

Wedergeboorte is God se werk in
ons. In Johannes 1:12-13 sê Jesus: aan almal wat in sy Naam glo, het Hy die reg
gegee om kinders van God te word, dié wat uit God gebore is. In Johannes 3:3 sê
Jesus: ‘Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir jou: As iemand nie van bo weer gebore
word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie’ (die oorspronklike Griekse
woorde gennêthêi ánōthen beteken ‘weer gebore
word van bo af’). In Johannes 3:6 ‘wat uit die Gees gebore is, is geestelik.’

Paulus gebruik die Griekse woord palingennesía vir ‘weergeboorte’ in Titus 3:4-7: ‘Maar
toe die goedheid en menseliefde van God, ons Verlosser, verskyn, het Hy ons
verlos – nie op grond van werke wat ons uit geregtigheid gedoen het nie, maar
op grond van sy ontferming – deur die afwassing deur die wedergeboorte en
vernuwing deur die Heilige Gees, wat Hy ryklik oor ons uitgegiet het deur Jesus
Christus, ons Verlosser. So het ons, geregverdig deur sy genade, erfgename
geword van die ewige lewe waarop ons hoop.’  

In 1 Petrus 1:3 en 23 word die
Griekse woord anagennáō ‘weergebore laat word’gebruik:

            1 Petr 1:3-4 ‘Lofwaardig
is die God en Vader van ons Here Jesus Christus! Dit is Hy wat ons in groot
ontferming, deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood, opnuut verwek het sodat ons ’n lewende hoop mag hê op
’n erfenis wat nooit vergaan, besmet word of verwelk nie, en wat vir julle in
bewaring gehou word.’ 
            1
Petr 1:23 ‘Julle is immers weer gebore,
nie uit verganklike saad nie, maar uit die onverganklike saad – deur die
lewende en blywende woord van God.’ God herskep ons persoonlikheid tot ’n
radikale omkeer om nie meer vir onsself te wil lewe nie, maar vir God. En dit
doen Hy deur die Heilige Gees wat ons oortuig van die woord van God wat ons
hoor of lees, sodat ons in Jesus glo as God wat vir ons sonde gesterf het en
dat ons saam met Hom sal opstaan uit die dood.

2 Jou vraag oor mense wat
gelowig groot geword het maar nie die “oomblik” van wedergeboorte
beleef het nie.

Die Heilige Gees werk in ons om ons
tot geloof in Jesus te lei. Dit is nie in die eerste plek ’n belewenis nie,
maar ’n saak van geloof. As jy glo in Jesus as jou Verlosser kan jy seker wees
dat die Heilige Gees jou daarvan oortuig het. Vir sommige mense is hulle geloof
in Jesus as hulle Verlosser ’n vreugdevolle ontdekking. Ander mense het van
kindsbeen af in Jesus geglo, omdat die Heilige Gees reeds in babatjies van
gelowige ouers kom woon het.

3 Jou vraag: As die Heilige Gees
in ons is, kan dit gebeur dat hy ons ook kan verlaat?

Hebreërs 6:4-6: ‘Dit is immers
onmoontlik om hulle wat eenmaal verlig is, wat die hemelse  gawe gesmaak, en deel gekry het aan die
Heilige Gees, en wat die goeie woord van God gesmaak het, en ook die kragte van
die komende bedeling, en tog afvallig geword het, weer opnuut tot bekering te
bring, aangesien hulle wat hulleself betref, die Seun van God opnuut kruisig en
openlik tot skande maak.’ Volgehoue verwerping van Jesus as jou Verlosser kan
lei tot verlating deur die Heilige Gees.

4 Jou laaste vraag oor die Heilige Gees wat met jou praat: die Heilige Gees kom woon in ons en lei ons elke oomblik van ons lewe, en nie slegs om toekomstige dinge te sien of te verwag nie. Maar dan verwag Hy dat ons op Hom sal wag om ons te lei en nie ons eie wil te probeer deurvoer as dit teen sy wil is nie, maar dat ons sal kyk hoe Hy vir ons deure toemaak en ander oopmaak. Want God is vír ons, Hy het ons vrygespreek, Christus tree vir ons in by God, en geen swaarkry of ellende kan ons skei van God se liefde wat daar in Christus Jesus ons Here is nie (gaan lees Romeine 8:31-39).

Skrywer: Prof Francois Malan




Die 144 000 uitverkorenes – Francois Malan

Michele
vra:

Wie is die 144000 wat in die Bybel
genoem word?

Antwoord

Prof
Francois Malan antwoord:

In Openbaring
7:1-8 word die 144 000 genoem in verband met die verseëling van die gelowiges.
In die taal van Openbaring dra elke mens ‘n teken: óf die seël van God, óf die
merk van die dier (13:16). Die merke is nie letterlike tatoeëermerke nie, maar
simbole wat gesien kan word in die mense se lewenswyses, hulle norme, waardes
en geloof. Die merke op die voorkop wys wat in die mense se koppe aangaan (vgl.
Eseg. 9:4-6).

Die afdruk van
‘n seëlring in klei of was, het eienaarskap aangedui (dokumente is met die
seëlring van bv. die koning gewaarmerk, vgl. 1 Kon 21:8; Ester 3:10,12; 8:8.
Slawe is gemerk met die merktekens van hulle eienaars. Dié mense, wat met die
seël van God verseël is, word beskerm teen die vernietiging van die plae (9:4),
soos die Israeliete se bloed aan die kosyne hulle teen die tiende plaag ,
die  dood van die eersgeborenes, beskerm
het (Eks 12:12-13). Die bloed van die Lam (Openb 7:14) gee aan die gelowiges
hulle identiteit as God se eiendom, sy slawe, en dra die merkteken dat hulle
navolgers van die Lam is.

Vanuit die aardse perspektief  hoor Johannes die getal 144 000 wat
met die seël gemerk is om hulle te beskerm teen die plae op die aarde tydens
die vervolging. Vanuit die hemelse perspektief sien hy ‘n ontelbare
skare voor die troon en die Lam. Die ontelbare skare wat Johannes sien (Openb
7:9), verklaar die getal wat hy gehoor het (7:4-8). Die 144 000 verteenwoordig
al die gelowiges
, almal wat aan God behoort, van die tyd voor en na
Christus se eerste koms na die aarde.

Die simboliese getal 144 000 word saamgestel uit
12x12x10x10x10. Dit verteenwoordig die gelowiges uit die 12 stamme van Israel
(vgl. die 12 stamname van die 12 poorte van die nuwe Jerusalem, Openb  21:12) en die gelowiges in die die kerk,
verteenwoordig deur die 12 apostels van die Lam, wie se name op die fondamente
van die stadsmuur staan (Openb 21:14). Die stamname van Israel en apostelname
verteenwoordig saam al die gelowiges van die Ou Testament se tyd en al die
gelowiges van ná Christus se koms in die nuwe Jerusalem. Die getal 10 wys na
die afgerondheid van die volle getal gelowiges. Drie maal die afgeronde getal
10 wys na God die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Die simboliek van
10x10x10 x12x12= 1 000×144= 144 000 verteenwoordig God se volle getal
volgelinge van die begin van die skepping tot by die herskepping met Jesus se
wederkoms. In Openb 7:1-8 hoor Johannes van die 144 000 as God se weermag op
aarde wat oorwin oor die sonde. Hulle is die getuies van God se verlossing deur
die Lam en van sy liefde om mense tot bekering te roep. In Openb 7:9-17 sien
Johannes dieselfde volle getal van God se oorwinnaars wat in die hemel triomfeer
(vgl. Luk 15:7,10). God vrywaar nie sy eiendom teen die vervolging en geweld op
aarde nie, maar rus hulle met sy Gees toe om as oorwinnaars te volhard op grond
van die Lam se offer en opstanding.

Johannes hoor van ‘n sensusopname, God se ‘roll call,’ van 12 000 uit elke stam van Israel, wat ingesluit word met die woord  ‘verseëldes’ aan die begin van die lys by die Judastam en aan die einde by die Benjaminstam. Die welluidende herhaling van ‘verseëldes’ beklemtoon dat niemand van God se volk makeer nie. Die twaalf name verteenwoordig God se volle getal volgelinge op aarde met die simboliese merk op hulle voorkoppe, wat na hulle denke en geloof in hulle Eienaar, God, wys. Die nuwe Israel sluit alle gelowiges van die Ou- en Nuwe Testamentiese tyd in onder die name van die stamvaders, soos uit Openb 7:9 gesien word.

Skrywer: Prof Francois Malan




‘n Oordraagbare vloek – Hermie van Zyl

Annalize
vra:

Kan
daar ‘n band oor my lewe wees wat oorgedra was deur my ma of pa? My ma het
selfmoord gepleeg want sy het depressief geraak. My ma en pa het buite-egtelike
verhoudings gehad. My pa was ‘n alkoholis. My man is nes my pa, hy breek my af
soos my pa my ma afgebreek het. Hy drink net so baie soos my pa gedrink het.
Beide my ma en pa is oorlede. Dit voel of iets my heeltyd in die negatiewe in
trek. Ek begin so depressief raak dat dit voel: hoekom leef ek nog, wat is die
nut daarvan? My man hou aan vertel watter lekker tye hy saam met ander vroue
het. Kan dit ‘n vloek op ‘n mens se lewe wees? Is daar so iets?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die vraagsteller meld dat sy depressief
raak as gevolg van haar omstandighede. (Wie sou nie?) Tog wil dit voorkom of
die swaartepunt van haar vraag eerder neig in die rigting van ‘n sogenaamde
vloek wat op haar sou rus, wat dan vermoedelik van haar ouers se kant af kom.
Ek sal dus in my antwoord op laasgenoemde kwessie fokus. (Indien haar
gemoedstoestand egter verband hou met kliniese depressie – ‘n potensieel
lewensbedreigende mediese toestand – is dit dringend noodsaaklik dat sy ‘n
dokter, sielkundige of psigiater spreek sodat sy met behulp van medikasie
behandel kan word.)

Wat ek nou aanbied, is ‘n opsomming van
wat ek reeds uitvoerig uitgewerk het onder die titel:
“bloedlynvloeke”, op ons webwerf: bybelkennis.co.za. Ek nooi dus ons
vraagsteller uit om die volledige artikel op hierdie webwerf te soek en te
lees. Sy kan net die woord “bloedlynvloeke” insleutel by die blokkie
“Soek Fasiliteit”. Dit sal haar na die artikel toe neem. Die
hooftrekke van die artikel is soos volg:

Ons mag nooit die mag van sonde
onderskat nie. Sonde is nie net iets persoonlik wat ‘n mens doen of nalaat om
te doen nie. ‘n Mens sondig nooit net in jou persoonlike hoedanigheid nie, dit
het altyd ‘n effek op die mense rondom jou. In dié sin is sonde ook ‘n
bo-persoonlike mag wat van ‘n persoon, familie of selfs gemeenskap besit kan
neem, met verwoestende gevolge. Kom ek gee ‘n voorbeeld. Wanneer ‘n kind
opgroei in ‘n gesin waar hy of sy van kleins af blootgestel word aan
mishandeling van watter aard ook al – die pa wat die ma mishandel, of die ouers
die kinders – dan is die kanse baie goed dat so ‘n kind, wanneer hy/sy
grootword, dieselfde gedragspatrone sal openbaar teenoor sý/háár kinders of man
of vrou. Dis asof mense vasgevang word in ‘n geweldspiraal waaraan hulle so
gewoond raak dat hulle moeilik daaraan kan ontsnap. As daar nie definitief
opgetree of besluite geneem word nie, kan dit gebeur dat hulle daardie gedrag
in hulle eie lewens as volwassenes voortsit, want dis vir hulle
“normale” gedrag. Maar dit het niks te doen met ‘n Goddelike vloek
wat “vir ewig” op ‘n gesin of familie rus waaraan jy niks kan doen
nie. God plaas nie vloeke op mense nie; Hy soek nie die dood of ongeluk van
mense nie. Die aard van sonde is net sodanig dat dit verwoestende gevolge het
as jy niks daaraan doen nie. Wat lei tot die volgende gedagte.

Die Bybel is duidelik daaroor dat ons
nooit vir God of ander die skuld kan gee vir ons eie oortredings en mislukkings
nie. God het ons met ‘n eie verantwoordelikheid geskape waarmee ons moet
woeker, hoe moeilik ons omstandighede ook al is. Wanneer ons verkeerd optree,
gaan God ons self verantwoordelik hou daarvoor. Ons kan nie sê dat dit God se
skuld is omdat Hy my in sulke ellendige omstandighede laat opgroei het, of ‘n
“vloek” op my geplaas het, of dat ek slegte ouers of maats gehad wat
my lewe verwoes het, of altyd verlei het tot sonde nie. Ek moet self keuses
maak oor hoe ek my lewe wil lei. ‘n Mens is nooit net ‘n gevangene of totale
slagoffer van jou omstandighede nie. Daar is soveel verhale van mense wat in
die haglikste omstandighede grootgeword het, maar met God se genade daarbo
uitgestyg het en ‘n wonderlike seën vir hulle familie en samelewing geword het.
En dit bring ons by die laaste gedagte.

God is ‘n genadige God, ‘n God wat
verlos van sonde. Dit is juis die hoofboodskap van die Bybel. God het geen
behae in die dood van die sondaar nie, maar daarin dat ‘n sondaar hom bekeer en
lewe. God wil nie hê dat ons voortploeter in die sonde nie, maar dat ons tot
insig kom van ons sonde, God se vergifnis ontvang en lewe. Daarom dat Jesus aan
die vrou wat in owerspel betrap is, kon sê: Ek veroordeel jou nie; jy kan maar
gaan, maar moenie verder sondig nie (Johannes 8:11). Dus, wanneer iemand tot
inkeer kom, belydenis van skuld en sonde doen, God se vergifnis aanvaar omdat
Christus in ons plek gesterf het, en die begeerte het om Jesus te volg, dan is
God genadig om ons die sonde te vergewe en aan ons ‘n nuwe lewe te skenk. God
hou nie ons verlede teen ons nie. Hy maak ons juis los daarvan en open vir ons
‘n nuwe toekoms. ‘n Mens mag dus nooit terugsit nie en dink: dis te laat; of ek
is nou maar wie ek is, my sonde is te groot; of God se vloek rus op my en my
familie. Nee, God staan altyd gereed om ons te vergewe en tot ‘n nuwe lewe vry
te stel.

Ek wil dus ons vraagsteller uitnooi om te vergeet van vals leringe soos God se vloek wat op haar en haar familie rus. Dis gewoon nie waar nie. Aanvaar God se genade en breek met die verlede. En baie belangrik: Kry hulp; moenie net op jou eie insig en krag staatmaak nie. Gaan spreek ‘n dominee, pastoor of ander geestelike leier. Daar is baie mense wat gereed staan om jou by die hand te vat en verder te help.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Stefanus word gevange geneem – Francois Malan

Liesl
vra:

In watter stad/dorp is Stefanus
gevange geneem????

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Toe daar in die gemeente in
Jerusalem klagtes van die Griekssprekende weduwees gekom het, is sewe mans uit
die gemeente gekies om die apostels te help. Stefanus was een van hulle
(Handelinge 6:5). Toe hy egter in die Joodse sinagoge van die Libertyne in
Jerusalem met hulle begin redeneer het, het hulle hom by die Joodse Raad gaan
aankla, wat hom verhoor het (Hand 6:6-15). Nadat hy die Joodse Raad toegespreek
het (Hand 8:1-53) was hulle briesend kwaad vir hom; hulle het hom uit die stad
Jerusalem gesleep en hom gestenig (Hand 7:58).

Skrywer: Prof Francois Malan