DIE WIL VAN GOD VIR DIE WÊRELD EN VIR JOU Hoofstuk 3 (1) – Dionne Craffort

GOD SE WIL VIR  ELKE MENS EN VIR JOU.

  Ons het gesien dat God se skeppingswil uitgeloop het op die ontstaan van die mens wat bedoel was om in ‘n besondere verhouding met God te staan. Dit impliseer dat God ‘n besondere doel het met die mens wat sy verteenwoordiger op aarde behoort te wees.God het ‘n besondere plek vir die mens in sy Raadsplan en ‘n spesifieke doel met elke mens se lewe. Die mens kan net sinvol bestaan as hy God se wil ken en gewillig is om daarvolgens te lewe.Buite God se wil om het die mens sy doel gemis en die sin van sy bestaan prysgegee. God se wil is dus ook vir jou persoonlik bedoel. Dit het te doen met jou verlossing, jou heiligmaking [ lewe binne God se wil] en jou ewige bestemming.

  Die hoofskopus van die Bybel draai om die mens se vervreemding van God en God se heilsplan om die vervreemde mens weer met Hom te versoen.Daarom dat God die afgedwaalde mens steeds terugroep tot geloof en bekering. Die vervreemde mens se herontmoeting met God vind plaas deur die toetrede van die Verlosser tot die menslike bestaan en geskiedenis. Geen verlossing vind plaas buite Hom om nie! Hy is God se instrument van velossing. Mens word nie verlos deur filosofiese strukture nie, maar deur die aanvaarding in die geloof van Jesus Christus  as Redder en Seun van God.

  God se verlosing geskied met ‘n bepaalde bedoeling. God verlos sodat mense Hom kan eer, dien en sy wil gehoorsaam. Dit moet sigbaar word deur diens en getuienis in hierdie wêreld. Uiteindelik is die wil van God nie net gerig op hierdie lewe nie. Hierdie is slegs genadetyd waarin jy voorberei word vir die ewige lewe. Wie slegs op Christus hoop met die oog op hierdie lewe, is die ellendigste van alle skepsele want hy het nog nie die volle wil van God leer ken nie. Alles in hierdie bedeling kom tot niks.  Daarom is God se wil vir jou uiteindelik gerig op ‘n ewige lewe saam met Hom. Dit maak die swaarkry en lyding in hierdie lewe draaglik en gee hoop in ‘n hopelose wêreld.

 God se wil vir jou is jou verlossing.

 Die wil van God is dat daar êrens in die heelal ’n skepsel moes wees wat Hom kon ken, dien en verheerlik. Dat die mens verval het in ongeloof, sonde, opstandigheid en verlorenheid was nie die wil van God nie. Dat dit wel gebeur het teen die wil van God in, bly ‘n groot misterie. Ons kan nie verklaar of verstaan waarom lyding, sonde, geweld, rampe en selfs die dood  in die wêreld bestaan nie. Dit is in ‘n sekere sin alles teen die wil van God en tog op ‘n onverstaanbare manier ook opgeneem in die oorkoepelende wil van God. Wat ons wel weet is dat die wil van God onvoorwaardelik gerig is op die verlossing en redding van die sondaar. Die gebrokenheid van ons bestaan moet op een of ander wyse ook verband hou met God se plan van ons redding.

 Die Bybel verklaar baie duidelik dat God nie die dood van die sondaar begeer nie, maar dat hy hom sal bekeer en lewe. Trouens die hele verhaal van die Bybel is ‘n verhaal van God wat ingryp in ‘n verlore wêreld met die doel om sondaars te red. Hy wil die sondaar red uit sy verlorenheid, Hy wil vir Hom ‘n volk red en versamel uit ‘n vervalle wêreld en Hy wil uiteindelik die ganse aarde red van ondergang.

 Die verhale van die Ou Testament spreek duidelik van God se verlossende dade. Om maar net ‘n paar voorbeelde te noem. God red Noag en sy gesin uit ‘n korrupte wêreld en maak hom die stamvader van ‘n verbondsvolk. Hy roep Abraham uit ‘n land waar afgode gedien word en maak hom die vader van die gelowiges in wie al die volke gesëen sou word. Hy red Josef van die moordplanne van sy broers en gebruik hom om Israel van hongersnood te red. Hy roep Moses as vlugteling uit die woestyn om hom te gebruik as redder van sy volk uit slawerny. Hy sê self: “ Ek sal julle van die verknegting verlos, ek sal julle vry maak met mag en groot verlossingsdade. Ek neem julle aan as my volk en ek sal julle God wees.” [Eks. 6:5 ].

 Wanneer God hierdie belofte aan Moses vervul en sy volk verlos uit die slawerny van Egipte, word dit vir Israel ‘n  blywende teken van sy groot verlossingsdade.Die paasfees word ingestel om hierdie verlossing gedurig te herdenk en aan die jonger geslagte oor te dra. Israel moes weet dat hulle die volk is wat deur God verlos is en daarom  moes hulle aan Hom getrou bly.Wanneer Israel in die beloofde land ingelei word en hulle daar vestig, word dit gesien as die resultaat van God se verlossingsdade en as bewys van God se trou. Hy maak sy beloftes waar al is dit dan na ‘n lang en vermoeiende woestynreis.

 Wanneer Israel deur verskeie vyande oorweldig en verdruk word, stuur God die rigters om hulle te verlos. Telkens as die volk ontrou word en afgode dien, word hulle deur die Here gestraf. Wanneer hulle in berou tot Hom roep om redding, stuur God ‘n leier om hulle te red. Hy laat nie toe dat sy volk permanent in ontrou en sonde bly nie.

 Later in die geskiedenis van Israel gebruik God ‘n koning soos David om sy volk van vele vyande te red.David, as verlosser van Israel, word vir hulle die simbool van die groot Verlosser wat later uit die geslag van David gebore sou word. Aan David het God immers belowe dat sy nageslag sou bly voortbestaan voor die aangesig van God. [1 Kron 17:23, 24].

 Die hele geskiedenis van Israel word ‘n geskiedenis van val en opstaan.Telkens word die volk ontrou, maar keer op keer roep God hulle weer op tot berou en bekering. Dit was die rol van die profete om die volk terug te roep van hulle dwaalweë. As daar berou was, was God altyd bereid om te vergewe en om genade te bewys en verlossing te skenk. Die God van Israel is Redder. “ Ons Verlosser is die Heilige van Israel” {Jes 47:4} Die Psalms is vol van mense wat in hulle nood tot God roep en dan gered word en God in dankbaarheid prys. “Ek sal jubel as ek tot u eer sing omdat u my gered het. Ek sal die hele dag deur praat van u verlossingswerk’ [Ps 71:23]

 God se verlossing vind altyd plaas in die geskiedenis, in ‘n gegewe situasie. Hy maak gebruik van Sy diensknegte as menslike instrumente van verlossing. So was deur die eeue ontelbaar baie mense instrumente in God se hand waardeur Hy sy wil laat geskied het.Selfs ongehoorsames en vyande van God was dikwels sonder hulle wete die instrumente waardeur God se verlossingsplan in werking moes tree.

  Die profete speel ‘n belangrike rol in die geskiedenis van Israel.Hulle waarsku die volk dat daar straf wag op afdwaling en ongehoorsaamheid  maar dat daar ook verlossing wag as daar berou en bekering is. In die tyd van die ballingskap word die volk gestraf vir hulle ongehoorsamheid en  weggevoer na Babilon. Die temple as simbool van God se teenwoordigheid is verwoes en die volk is in wanhoop gedompel. Maar te midde van hierdie donkerste nag van wanhoop klink daar ‘n trooswoord op as die profeet in Jesaja 40 tot 55 praat van die komende verlossing. “ Die uitkoms is hier!”[Jes. 40:1] Daar wag verlossing en die volk sal weer na hulle vaderland terugkeer.

  In Jesaja 40 tot 55 verskyn daar ‘n geheimsinnige Dienskneg van die Here wat die instrument sou wees van verlossing vir Israel en ook van die nasies. God self roep sy Dienaar en rus Hom toe met sy Gees.Hy herstel die gebrokenes[Jes 42:3] en maak die wil van God bekend. Hy is die lig vir die nasies en bring redding tot aan die eindes van die aarde[.Jes 49:6].. Hy is die regverdige Dienaar wat onregverdig moes ly ter wille van sondaars.Deur lyding heen moes Hy God se wil uitvoer en verlossing bewerk. Die misterie is dat dit God se wil was dat Hy moes ly [Jes53:10}.

  Daar is baie teorieë oor wie die Kneg van die Here as verlosser kon wees in die historiese situasie van die boek Jesaja. Dit is egter nie so belangrik nie omdat ons nie regtig weet nie. In die geskiedenis van Israel was daar baie verlossers wat in diens van God gestaan het. Die Kneg is ‘n tipe  van talle verlossers wat dikwels deur lyding heen die volk moes dien en lei. Hy is egter ook ‘n tipe en simbool van die  volmaakte Kneg wat moes kom om die volk van God deur lyding heen te verlos. Sy verlossing is egter nie net bedoel vir Israel nie, maar ook vir die nasies tot aan die eindes van die aarde. Die Nuwe Testament leer ons dat die Kneg van Jesaja sy vervulling vind in Jesus as die volmaakte lydende Kneg wat die wêreld moes kom verlos van sonde. Jesus staan in die lang ry van diensknegte van God , maar Hy is die hoogtepunt van God se verlossingsplan en die volmaakte Kneg  wat volkome gehoorsaam was aan God.

                                          Jesus as Verlosser.

  Toe die volheid van die tyd aangebreek het , het dieVerlosser van die wêreld sy verskyning gemaak. Hy is Jesus genoem want dit is Hy wat sy volk van hulle sonde sou verlos. Hy sou op die troon van Dawid sit en aan sy Koningskap sou daar geen einde wees nie want Hy is die Seun van die Allerhoogste. [luk. 1:30-53].

  Hy moes ly en sterf vir die sonde van die wêreld. Sy verlossingswerk is bevestig deur sy opstanding en sy Koningskap is bevestig deur sy hemelvaart. Sy werk sal voleindig word deur sy wederkoms. In Hom is die verlossingsplan van God volkome voltrek want Hy is die Verlosser van elke mens wat in hom glo. Hy wil ook jou verlosser wees want sy wil is dat ook jy gered moet word.

  Hoe die lyding en sterwe van Christus kon uitloop op die verlossing van sondaars bly ‘n misterie wat ons nie rasioneel kan verklaar nie.Op een of ander wyse het Hy aan die eise van God voldoen en so die angel van die sonde en dood verwyder en tot niet gemaak. Deur sy voldoening het Hy ons sonde van ons verwyder so ver as die Ooste verwyder is van die Weste. Nou dink God nie meer daaraan nie, en kan sondaars kinders van God word. Sy verlossing is in lyn met God se groot verlossingsdade wat van die beginaf vir die gevalle mens en geroke skepping in werking gestel is. God se verlossingsplan deur die eeue toon duidelik dat God se wil gerig is op die verlossing van die sondaar.

Skrywer:  Prof Dionne Craffort




DIE WIL VAN GOD VIR DIE WÊRELD EN VIR JOU Hoofstuk 2 (3) – Dionne Craffort

Die gebroke wêreld vernuwe en herskep.

Die wil van God is juis dat hierdie gebroke en stukkende wêreld vernuwe en herskep moet word. Reeds in die Ou Testament kry ons die belofte van God se nuwe skepping wat op pad is. In Jesaja 65:i7-19 lees ons: “Ek gaan ‘n nuwe hemel en ‘nnuwe aarde skep; aan die wat daar nou is,sal daar nie meer gedink word nie,hulle sal nie onthou word nie.” Hieby sluit Johannes aan in Openbaring 21:1 as hy skryf: “ Toe het ek ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien Die eerste hemel en die eerste aarde het verdwyn, en die see het nie meer bestaan nie.” Volgens vers 6 het dit alles klaar gebeur met die koms van Christus. Dit kom ooreen met die boodskap van die Nuwe Testament dat die nuwe skepping in beginsel deur Christus begin is en ook uiteindelik deur hom voltooi sou word. Die skepping het deur Hom tot stand gekom en word ook deur Hom venuwe. Joh. 1:3 stel dit duidelik: “ Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie.” Alles is vir Hom en deur Hom geskep. [ Kol.1:16]. Hy hou ook alles wat bestaan in stand [ 1Kor. 8:6]. Hy sorg dat die skepping nie deur die sondige toedoen van die mens total verwoes word nie.

  Alles is ook vir Hom geskape. Ons moet dit dus so sien dat die ganse skepping afgestem is op die koms van die eén mens Jesus Christus. Toe die mens wat God se verteenwoordiger moes wees,nie aan sy doel beantwoord het nie, het God díe Mens gestuur wat volkome sy wil sou doen. In Hom sou God volkome verheerlik word. Toe ook die skepping nie meer aan sy doel beantwoord het nie, het God besluit om ook dit te herskep in en deur Jesus Christus.

  Christus het juis gekom om die sondige en gevalle mens te herskep en nuut te maak. Dit is ‘n misterie wat net so groot is as die aanvanklike skepping van die mens.’n Totaal nuwe mens kom tot stand met ‘n nuwe ingesteldheid teenoor God en sy medemens. By Paulus kom hierdie gedagte sterk na vore In 2 Kor.5:17 lees ons:  “                Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God”. Dieselfde gedagte vind ons in Ef.2:10: “ God het ons gemaak wat ons nou is;in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het”.

  God het tog sy doel met die mens bereik. Die gevalle mens kan herskep word en nuut gemaak word sodat hy weer die wil van God kan doen. Die nuwe mens word herskep na die beeld van God wat hy aanvanklik gehad het , maar verloor het as gevolg van die sonde. Die nuwe mens kan en moet nou lewe ooreenkomstig die wil van God. In Ef 4:24 kom die duidelike oproep: “ Lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig”.

  Die herskeppingswerk van Christus loop nie net uit op die skepping van ‘n nuwe mens nie, maar ook die ganse skepping word deur Hom vernuwe. God se wil en bedoeling was juis dat alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is,onder die een Hoof, Christus,verenig word. [Ef1:10]. Die verganklikheid waaraan die ganse skepping onderworpe is, sal eenmaal herstel word en die skepping sal dan ook deel in die heerlikheid van die kinders van God. Dit word uitgespel in Rom. 8:21-22 : “ die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê. Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting .” 

  So sal God dan tog uiteindelik sy doel bereik met die mens wat Hy gemaak het as sy verteenwoordiger en met die skepping wat Hy gemaak het tot sy eer en verheerliking.

 

God se wil met sy wêreld.

  God verbind Homself op ‘n besondere manier aan die aarde as die planeet waarop Hy lewe en die mens as intelligente wese geplaas het. Dit is in die besonder God se eiendom en Hy bemoei Hom in die besonder met die aarde en sy bewoners.

  Of daar iewers anders in die heelal  wêrelde bestaan waar daar lewe en intelligensie te vinde is, laat die Bybel hom nie oor uit nie.Indien dit die wil van God is om die heelal te vul met talle vorme van lewe, kan Hy dit natuurlik doen in sy almag. Van hierdie wêreld word spesifiek gesê dat dit God se eiendom is en dat sy verlossingsdade hier sigbaar word. Totdat daar bewyse van lewe elders in die heelal gevind word, moet ons aanvaar dat God juis hierdie nietige stippel uitverkies het as die tuin wat Hy wou vul met lewende wesens en met die mens. Dit maak van die aarde ‘n uitsonderlike planeet wat deur die mens bewerk en bewaar moet word namens God. Enige misbruik en besoedeling van die aarde druis direk in teen die wil en bedoelinge van God. Dit plaas ‘n geweldige verantwoordelikheid op die mens as God se verteenwoordiger in die wêreld.

  Die aarde en alles wat daarop is,die wêreld en die wat daarin woon, alles behoort aan die Here.[Ps 24:1; 89:12 en 50:12]. Die lewe op aarde is geheel en al afhanklik van God se teenwoordigheid en van die werkinge van sy Gees. “ As Hy sou besluit om sy gees,sy asem na Hom toe terug te neem, sou al wat leef sterf.” [Job 34:14]. God kan Hom dus nooit van sy wêreld losmaak sonder om dit aan totale verganklikheid oor te gee nie.

  Die hele aarde is vol van God se magtige teenwoordigheid [Jes 6:3].Juis daarom moet die hele aarde die Here vrees en alle mense moet vir Hom ontsag hê. [Ps 33:8]. Die Here voer sy planne en besluite vir die wêreld altyd uit. [Ps 33:10]. Wat ookal gebeur, die wil van God sal uiteindelik volbring word.

  Die aarde is nie alleem God se eiendom nie, maar Hy seën ook die wêreld wat Hy gemaak het. Hy skenk reën en gee oeste aan die mens en gee vrugbaarheid aan die vee. God se seëninge sorg dat die wêreld lewe kan onderhou. Te midde van die gebrokenheid sorg God se voorsienigheid dat die wêreld nie tot niet gaan nie, maar steeds plante, diere en mense  bly onderhou. Dit alles kan nie losgemaak word van die mens wat God se verteenwoordiger is nie. Hy moet namens God die natuur bewaar en versorg. Hy moet die bronne van die aarde met verantwoordelikheid gebruik. Hy moet plant en verbou, die vee bly veredel en diere en plante met eerbied en verantwoordelikheid behandel. Waar die mens dit nie doen nie, hou hy op om God se verteenwoordiger te wees en word hy God se vyand.

  Ekologie het in ons tyd ‘n belangrike begrip geword om die mens se verantwoordelikheid teenoor die natuur te beskryf. Die omvattendheid daarvan maak dit ‘n handige begrip. Dit sluit die menslike samelewing sowel as die natuurlike omgewing in. Dit sluit die ganse werklikheid in waarin die mens geroepe is om te werk en te leef.

 Die ekologiese beweging beskuldig die Christendom dikwels dat dit so besig is met die mens se verlossing en met die hiernamaals, dat die natuur en die verwoesting van die aardse werklikheid verwaarloos word. Dit berus op ‘n misverstand en is slegs waar van  ‘n eensydige interpretasie van die Evangelie. Hiervolgens is dit nie belangrik wat met die aarde gebeur nie want dit gaan in elk geval tot niet en al wat sal oorbly is die geestelike dimensie. Dit neem nie in ag dat God nie net bekommerd is oor die mens nie, maar ook oor die woonplek wat Hy aan hom gegee het. Die paradys as volmaakte woonplek van die mens het verlore gegaan vanweë die sonde. Dit moet egter herstel word volgens die wil van God en hieraan moet die mens met ywer meewerk solank as die gebroke wêreld bestaan.

  Dit is nodig om die regte balans tussen God se transendensie en immanensie te vind. As God se transendensie eensydig beklemtoon word,word sy voortdurende bemoeienis met die wêreld onderskat en die vernuwing van die aarde kry nie genoeg aandag nie. As die immanensie oorheers, is die gevaar groot dat God vereenselwig word met die wette van die natuur. Dan is Hy slegs ‘n krag of energie wat alles in die materiële wêreld onderlê en beheers. Dit kan lei tot die vergoddeliking van die aarde en tot afgodediens. Dan is die materiële wêreld die enigste realiteit met uitsluiting van ‘n geestelike realiteit waarin God bestaan.

  God is inderdaad transendent en het sy woonplek in ‘n dimensie buite die geskape werklikheid. Dit neem egter nie weg dat God ook immanent is nie.Hy is alomteenwoordig in sy skepping en op ‘n misterieuse wyse werksaam daarin.[ Jes. 6:3] Hy bewaar en vernuwe die wêreld en begelei dit na sy eindbestemming.Die werksaamheid van God in die wêreld word pragtig beskryf in Psalm 104: Hy beheer die winde,die weer en die magtige waters van die oseane.Hy skenk reën en voedsel vir mens en dier. Hy bewaar die woude, diere en voëls. Hy bepaal die tye vir die hemelliggame. Hy gee die lewensasem aan mens en dier en neem dit ook weer weg. Hoe Hy mense en natuurkragte gebruik in hierdie proses, is ‘n saak van geloof  en kan nie altyd presies beskryf word nie. Die mens het egter deurgaans die roeping om mee te werk aan hierdie bewaring, herstel en vernuwing van die wêreld waarin hy woon.

  Die sentrale betekenis van Jesus se koms na die aarde is dat Hy die koningsheerskappy van God in die wêreld sigbaar kom maak het. In hom het die Koninkryk op ‘n besondere wyse gestalte gevind. Hy is Koning in die harte van mense, maar ook Koning van die ganse skepping. Die koms van die koninkryk trans-formeer nie net mense deur die werking van die Heilige Gees nie, maar ook die ganse aarde al is dit nie altyd sigbaar nie.

  Jesus is die finale profeet van die eindtyd wat ‘n totale verlossing en vernuwing kom aankondig.Hy is ‘n eskatologiese figuur maar ook ‘n ekologiese  simbool. Sy koms het kosmiese betekenis want Hy verlos en vernuwe die ganse kosmos. Dit word vir ons uitgespel in Kol.1:15-17. “Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping. God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie …….. Alles is deur Hom en vir Hom geskep. Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand.”

  Hy is van ewigheid af daar as die pre-eksistente Seun van God en alles is deur Hom geskep en word deur Hom onderhou. Hy is as opgestane Here die eersteling in die ganse heelal. Hy versoen alles in die hemel en op die aarde met God.God se skeppende en bewarende teenwoordigheid is dus nie net ‘n natuurkrag nie. Dit het sigbaar geword in die Seun in wie God met sy volle wese kom woon het. Deur Hom en deur die Heilige Gees is God skeppend en bewarend aan die wek. Dit is die wil van God om “alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig,naamlik Christus” [Ef. 1:9en10].

  Christus het in die gebroke wêreld ingetree en sy kosmiese vernuwingswerk moet nou nog in die geloof aanvaar word. Daar kom egter volgens sy beloftes ‘n dag dat dit sigbaar voltooi sal word in die koms van die nuwe hemel en die nuwe aarde. Volgens Paulus sug die hele skepping vanweë sy gebrokenheid en sien met groot verwagting uit na sy uiteindelike bevryding en verlossing. Ook die skepping sal bevry word van sy onvolmaaktheid en verganklikheid.[Rom.1:20-22].

  Volgens die Skrif stuur alles af op ‘n voleinding en ‘n eindoordeel. Dit gebeur met die wederkoms van Christus wanneer Hy die Koninkryk wat Hy verwerf het aan God sal oorhandig om in ewigheid daaroor te regeer.[1Kor.15:24 en 25}. Dan sal die hemel en aarde soos ons dit ken verdwyn en tot niet gaan [2 Pet. 3: 11 en 12]. Ons hoop en verwagting is egter gevestig op vers 13 : “ maar ons leef in die verwagting van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers”

  Die toekoms van God se skepping eindig nie met ‘n katastrofe en totale vernietiging nie. Dit eindig met ‘n nuwe skepping waarin God se wil volkome sal heers. Hoe die nuwe hemel en aarde daar sal uitsien, bly vir ons ‘n misterie. Ons kan dit met die ervaring en insig wat ons het nie visualiseer nie. Ons kan alleen in die geloof daarna uitsien. God se bedoeling daarmee is dat alle gebrokenheid en onvolmaaktheid opgehef sal word. Daar moet volkome vrede en harmonie heers. Die indruk wat mens kry is dat dit nie net ‘n onsigbare en geestelike koninkryk sal wees nie. Op ‘n wyse wat ons nie kan begryp of voorsien nie,sal daar ‘n aarde ontstaan waar die wil van God sigbaar sal heers en deur alle skepsele ervaar sal word.

  Wat is dan die wil van God met sy skepping en met sy wêreld? God aanvaar nie gelate die gebrokenheid van ‘n sugtende wêreld nie! Hy stel ‘n proses in werking om te herstel en te vernuwe. Hy stuur sy Seun na hierdie wêreld om die magte van die bose te oorwin, Hy aanvaar die koningskap oor alles in die hemel en op die aarde. Hy verlos mense en gee hulle die opdrag om mee te werk aan die bewaring en vernuwing van die wêreld.Hy waarborg egter self die voleinding van die proses.Aan die einde sal Hy op sigbare wyse kom om sy heerskappy finaal te bevestig. Dit geskied deur ‘n eindoordeel wat uitloop op ‘n nuwe skepping.

  God se uiteindelike doel met sy skepping is presies wat Hy aan die begin daarmee be-oog het. Dit is ‘n wêreld waarin alle skepsels en wesens in harmonie met mekaar sal leef en waar daar volkome vrede sal heers. Dit is ‘n wêreld waarin die wil van God volkome  ervaar en eerbiedig sal word.

Skrywer:  Prof Dionne Craffort




DIE WIL VAN GOD VIR DIE WÊRELD EN VIR JOU Hoofstuk 2 (2) – Dionne Craffort

Skepping en evolusie.

  Die teorieë wat hierbo genoem is, laat die vraag ontstaan hoe lang tydperke van evolusie met die skeppingswerk van God versoen kan word. Dit bring vanself die vraag na die verhouding van evolusionisme tot kreasionisme na vore.

  In die ideologie van kreasionisme word meesal aanvaar dat God alles in ses dae van 24 uur geskape het so ongeveer ses duisend jaar gelede. Dit berus op ‘n letterlike verstaan van die skeppingsverhale in Genesis 1 en 2 en van die Bybel se geslagsregisters vanaf Adam tot by Christus. Die sonvloedverhaal word dan as verklaring gebruik om te verduidelik waarom bepaalde gesteentes en gebeentes miljoene jare oud lyk, terwyl hulle in werklikheid veel  jonger is.

  In die ideologie van evolusionisme word op voetspoor van Darwin aanvaar dat alle dinge oor ‘n tydperk van biljoene jare vanself tot stand gekom het deur natuurlike prosesse. Natuurlike kragte soos wedywering binne en buite bepaalde spesies, klimaatsveranderinge, oorlewing van die bes aangepaste spesies en genetiese spronge deur mutasies het die prosesse aangedryf. Dit is nie nodig om die idée van ‘n Skeppergod daarby in te bring nie.

  ‘n Derde ideologie is die van teistiese evolusionisme [God skep deur evolusionêre ontwikkeling oor biljoene jare]. Hier is nie net natuurlike dryfkragte aan die werk nie, maar aan God word ook ‘n plek toegeken. Hier word dikwels ‘n godsbekouing gevind wat God gelykstel met die natuurkragte [panteïsme]. Hy kan ook ‘n Opperwese wees wat verhewe is bo die natuur maar dan in kritieke tye ingryp in die natuur. In momente soos die oerknal,vorming van sterrestelsels,oorsprong van lewe en ontstaan van die mens is daar ‘n ingryping van die Opperwese in die gang van die natuur.

  Nie een van bogenoemde teorië is in werklikheid versoenbaar met die Bybel as Woord van God nie.  Die letterlike aanvaarding van Genesis 1 tot 3 maak van die Bybel ‘n handboek in fisika en biologie wat dit nie bedoel is om te wees nie. Dit draai ‘n blinde oog vir die bevindinge van verskeie wetenskappe rakende die ouderdom van die skepping en die aarde. Dit neem nie die getuienis van fossiele rakende die oeroue bestaan van lewe in die see en op land in ag nie. Uit genesis 1 en 2 kan ons nie die hoe en wanneer van die skepping aflei nie, aangesien dit nie die bedoeling van die verhale is om dit uit te spel nie. Dit is immers ‘n loflied wat die grootheid en almag van God besing. As mens aanvaar dat God-drie-enig alles geskep het, sluit dit nie uit dat ons baie van ander wetenskappe kan leer oor hoe dit plaasgevind het nie.

  Die ideologie van evolusionisme is vir Christene totaal onaanvaarbaar indien dit God by voorbaat uitsluit uit die ontwikkelingsprosesse. Dit skryf aan die natuur byna goddelike skeppingseienskappe toe wat dit in werklikheid nie kan hê nie. Dit maak van toeval byna ‘n god wat alles moet verklaar. Die geloof in die outomatiese ontstaan van alle dinge soos byvoorbeeld sterrestelsels, lewe op aarde en die ontstaan van die mens, verg ‘n blinde geloof  wat nog minder op bewyse gegrond is as die geloof in ‘n Skeppergod.

  Teïstiese evolusionisme probeer erkenning gee aan ‘n godheid maar dit is meesal nie die God van die Bybel nie. Volgens die Skrif gryp God nie maar net van tyd tot tyd in in die prosesse van die natuur nie, maar hou sy hand voortdurend  aan sy skepping. God drie-enig skep voortdurend deur sy Woord en onderhou voortdurend deur sy Gees die ganse skepping op ‘n wyse wat nie vir ons rasioneel verklaarbaar is nie. Die skepping bly ‘n wonder en laat hom nie eenvoudig deur evolusionêre prosesse verklaar nie. Daarvoor is daar nog veels te veel geheimenisse wat ons nie logies kan verklaar nie. Op ‘n misterieuse wyse is God deurgaans by die skepping betrokke al het dit dan ook oor biljoene jare gebeur. Dat God deur sy Woord skep, neem ook nie weg dat Hy natuurwette en –prosesse kon gebruik om sy uiteindelike doel met die skepping te bereik nie. Trouens, God is steeds aan die werk en stuur die skepping doelbewus na sy uiteindelike voleinding. As God se hand nie voortdurend in die skepping teenwoordig is nie, sou dit al lankal in totale chaos verval het. Aan die mens as God se verteenwoordiger is ‘n besondere plek toegeken om mee te werk aan die onderhouding van die skepping. Vandat die mens sy verskyning gemaak het ,het God ‘n medewerker in die proses wat ‘n geweldige verantwoordelikheid op hom lê.

  Die teologie moet deurgaans kennis neem van die bevindinge van die wetenskap want dit getuig vir die gelowige steeds meer oor die almag en alwysheid van God. Teologie en Wetenskap staan dus nie vyandig teenoor mekaar nie,maar kan mekaar aanvul op voorwaarde dat deurgaans erns gemaak word met God se selfopenbaring in die Bybel. Ware wetenskap kan God nie by voorbaat uitskakel uit sy teorieë nie. Ware teologie, aan die ander kant, kan nie blind wees vir die bevindinge van die wetenskap nie. Dit vul juis kennis aan op terreine waarop die teologie nie ‘n mandaat het om op te beweeg nie.

  Ten einde wetenskap en teologie met mekaar te versoen, word soms teruggeval op panteïsme [ wat God wil vasvang in die sigbare werklikheid]  of panenteïsme wat die transendensie van God wel aanvaar, maar Hom baie nou verbind met die prosesse van die natuur en die geskiedenis. Die God van die Bybel is egter nie net die stukrag in evolusie of ‘n energie wat alles in balans hou nie. Hy is ook nie net die kode anderkant die oerknal nie. Hy is ‘n Persoon wat sy persoonlikheid sigbaar laat word het in Jesus Christus en wat sy krag in die skepping sigbaar maak deur die werking van die Heilige Gees. Ons kan God Drie-enig dus nooit inruil vir ‘n natuurkrag wat vir ons die misterie van die skepping moet help verklaar nie. 

 

Die skepping bedorwe en weer vernuwe

  Net so groot soos die misterie van die skepping, is ook die misterie van die sondeval wat gelei het tot die bedorwenheid  en bebrokenheid van alles op aarde. Nadat God geskep het, was alles goed in sy oë. Die tragedie is egter dat die mens wat vir God geskape is, deur sy eie wilsdaad afvallig van God geword het.Deur hierdie daad het die mens ‘n verskriklike duisternis oor homself gebring. Dit kom na vore in sy verdorwenheid, opstand teen God, geneigdheid tot die kwade  en ‘n neiging om af te wyk van die wil van God. Die verdorwenheid van die mens het egter ook deurgewerk tot  ‘n gebrokenheid in die natuur. In plek van die bewaring van die natuur, dra die verdorwe mens nou by tot die vernietiging van die natuur. As gevolg van die sondeval beleef die mens nou die aarde nie meer as ‘n paradys nie, maar as vyandig en gebroke.Dit word ‘n plek van swaarkry en lyding. Natuurrampe en siektes laat die mens hunker na ‘n nuwe skepping waarin voorspoed vrede en vreugde sou heers. Dit is asof daar by die hele skepping ‘n versugting is na venuwing en verlossing.

  Die vraag is hoe mens die oorsprong van die sondige staat van die mens moet verstaan? Die verhaal in Genesis 3  wil hierdie sondige staat van die mens verduidelik en verklaar. Dit wil vir ons sê dat die mens deur ongehoorsaamheid sy vehouding met God verbreek het en daardeur die paradystoestand van gemeenskap met God verruil het vir ‘n toestand van verwydering van God.

  Die vraag is of Genesis 3 verwys na ‘n oorspronklike sondelose, volmaakte en onsterflike staat van die mens?  Dit is nie noodwendig die bedoeling van die verhaal nie. Die verhaal wil sê dat die mens geskape is met al die kwaliteite om in ‘n noue verhouding met God te kan lewe. Die mens het egter sy kwaliteite en vryheid misbruik en in opstand en ongehoorsaamheid teenoor God veval.Die verwydering van God af, het uitgeloop op afgodery en selfgemaakte godsdiens. Dit lei ook tot verwydering tussen mense onderling en loop uit op sonde, misdaad en geweld wat soos ‘n veldbrand versprei.

  Daar is al baie boeke geskryf oor hoe die sondeval verstaan moet word. Die presiese aard van die mens se ongehoorsaamheid is nie aan ons bekend nie.  Die eet van die vrugte van die verbode boom is slegs ‘n teken en metafoor van die mens se ongehoorsaamheid. Dit verklaar vir ons die sondige staat van die mens en waarom hy nie binne die wil van God wil leef nie.

  ‘n Mens sou kon sê dat die aanvanklike sondeloosheid van die mens met sy “onskuld” te doen het. Toe die mens nog geen kennis van God en sy wil gehad het nie, kon hy geen skuld hê nie. Oor baie eeue het die “mens”  geen kennis van God gehad nie. Hy moes eers ‘n selfbewussyn ontwikkel voordat hy ‘n Godsbewussyn kon ontwikkel. God het dus die mens op sy lang pad van Menswording gebring tot op die punt van bevatlikheid dat God Homself en sy wil aan die mens kon openbaar.Genesis begin dus op ‘n punt waar God met die mens in gesprek tree. Dit was die begin van ware menswees – van ‘n skepsel met ‘n bepaalde verantwoordelikheid teenoor sy Skepper.

  Die verblyf in die paradys is die simbool van ‘n tyd toe die mens in ‘n bepaalde verhouding met God getree het. Die religieuse mens het bewus geword van’n God wat op sy lewe beslag lê. Dit was die gevolg van God se selfopenbaring aan die mens. Soos God se latere spreke tot Abraham, het God op ‘n vroeër stadium sy wil aan die mens bekend gemaak. So word die mens bewus van sy Skepper  en van sy verantwoordelikhede as skepsel.

  Wat Genesis vir ons wil sê is dat hierdie paradystoestand nie vir altyd geduur het nie. Die mens het sy vehouding met God nie as ‘n kleinood bewaar nie. Hy verbreek dit met die tragiese gevolge van die verlies van die paradystoestand. Hy gaan ‘n donker tydperk in van verwydering van God en verval in selfliefde en selfhandhawing Dit is die ongehoorsaamheid van die mens.  Hy verruil sy verhouding met God vir ‘n toestand weg van God af en verloor so sy vemoë om die wil van God te doen. Hierdie gevalle mens begin om sy eie religieë te skep wat die plek van die ware God moes inneem. Uit hierdie toestand van duisternis en ongehoorsaamheid moes God die mens kom red: van ongehoorsaamheid tot gehoorsaamheid; van onkunde tot kennis van God; van selfsug tot selfopoffering. Dit sou ‘n lang pad van God se bemoeienis met die mens kos tot en met die koms van Jesus Christus na hierdie wêreld.

Skrywer: Prof Dionne Craffort




DIE WIL VAN GOD VIR DIE WÊRELD EN VIR JOU Hoofstuk 2 (1) – Dionne Craffort

GOD SE WIL MET SY WêRELD.

 Alles wat ons sien en ken begin met God se skeppingswil. Waarom sou God wou skep? As ons oor God nadink, stuit ons op talle waarom-vrae waarop ons nie antwoorde het nie. Oor dit wat God nie aan ons geopenbaar het nie, kan ons slegs maar bespiegel en wonder. Waarom sou God wat selfgenoegsaam in sy Drie-eenheid is,iets buite himself wou skep? Waarom die onmeetlikheid van die heelal waarin miljoene sterrestelsels weer miljoene ligjare van mekaar verwyder is en waarskynlik teen ‘n ontsaglike spoed verder van mekaar af beweeg in alle rigtings? Waarom ‘n Aarde met al sy wonders en tog mank in sy gebrokenheid  wat sigbaar word in natuurrampe en verganklikheid?Waarom ‘n mens as kroon van God se skepping maar tog deurdrenk van die kwaad en sonde? Waarom siekte en dood? Waarom armoede en lyding? En so sou ons kon aangaan tot in die oneindige sonder om antwoorde te vind omdat God in baie dinge sy wil nie aan ons bekendgemaak het nie. Wat nie geopenbaar is nie, sal vir ons in hierdie bedeling ,’n geheimenis bly en so sal ons dit moet aanvaar.

  Waarom God geskep het, is ook ‘n vraag waarop ons nie ‘n antwoord sal vind nie. Die Skrif stel God aan ons bekend as die Skepper. [Efes. 3:9; Openb. 4:11; Jes. 42:5 ]. Of God op ‘n moment besluit het om hierdie heelal te skep en of Hy van ewigheid af met skeppende werk besig is en miljarde heelalle geskep het of nog skep, weet ons nie.

Ons kan skaars ‘n denkbeeld vorm van die ouderdom en uitgestrektheid van ons heelal en omdat dit al is waarvan ons weet, moet ons ons slegs daarby bepaal. Al wat ons weet, is dat ons heelal bestaan omdat God dit  so wou hê.

  Oor die wyse van die skeppingsdaad wy die Skrif nie uit nie. God het deur sy Woord die skepping tot stand gebring. God se skeppingswoord wat voortvloei uit sy skeppingswil lê ten grondslag van die ontstaan van alle dinge. Wetenskaplikes en ficici sal ons moet help om die wyse van skepping beter te verstaan.Dit is asof God die geheimenisse van sy skepping  verberg gehou het sodat mense met die gawes van verstand en ywer dit stukkie vir stukkie moes ontrafel. Die ontrafeling daarvan behoort te lei tot die lof en verheerliking van die groot God wat dit alles tot stand gebring het. Die proses van ontrafeling duur nog voort en die laaste woord daaroor is nog lank nie gespreek nie. Skeppingsteorië sien daagliks nog die lig en daar is ‘n hewige stryd tussen kreasioniste en evolusioniste oor die hoe van die skepping. Sonder om kant te kies in die hewige woordewisseling, kan gemeld word dat die meerderheid wetenskaplikes vandag aanvaar dat ons heelal tussen 15000 en 20000 miljoen jaar gelede ontstaan het deur ‘n oerknal van onmeetlike omvang. Hoe en waarom die geweldige uitstraling van energie ontstaan het, en wat daar voor die oerknal was, bly ‘n raaisel ook vir die aanhangers van die teorie. Volgens die teorie is in die eerste oomblikke van die knal met sy ontsaglike hitte al die basiese elemente van waterstof en helium gevorm  en die ruimte in geslinger  om sodoende tyd en ruimte en materie te vorm. In die malende gaskolke het geleidelik die  klonte van materie saamgekoek waarin die eerste kernreaksies ontstaan het en die eerste proto-sterre gebore is. Uit die groeiende kernreaksies in die hart van reuse sterre is die swaarder elemente  gebore deur die omskakeling van atome. Toe die reaksies in die supersterre uitgewoed het, is die elemente deur geweldige inploffings en uitploffings die ruimte ingeslinger. Uit hierdie oermaterie is oor miljoene jare sonne gevorm en planete wat om hulle wentel asook mane wat weer om planete wentel.

  Nie alle wetenskaplikes aanvaar die oerknal-teorie nie en dit sal seker met die tyd nog baie gewysig word en moontlik deur ander teorieë vervang word. Daar is egter ook diegene wat met verwondering terugkyk en uitroep dat dit is asof jy die skeppingsmoment van God aanskou.  Die teorie klop egter met die Bybel se siening dat daar ‘n begin was en ‘n oomblik waarin God alles geskep het. Watter teorie ookal die heersende is, vir die gelowige bly dit ‘n getuienis van die almag en alwysheid van die God wat daaraan gestalte gegee het. Vir die gelowige kan God nooit die kode agter die oerknal wees nie of  die natuurwette wat alles op ‘n heel bepaalde manier laat ontvou het nie.Die God van die Bybel is die Skepper  wat kodes en natuurwette self vasgelê het sodat die skepping kon ontvou volgens sy wil en bepalings.Die Bybel sien dit alles as God se handewerk.” Ek het met my hande die hemel oopgespan En Ek het aan al die hemelliggame hulle opdragte gegee.” [Jes 45:12]. Die wentelbane van die sterrestelsels, sonne en planete het hulle oorsprong by God. [Jes 40:26]. Hy het vir alle dinge ‘n orde neergelê en vaste wette waarbuite hulle nie kan beweeg nie. [Ps 148:6].

  So is daar ook ‘n wyd aanvaarde teorie dat die aarde 4600 miljoen jaar gelede as ‘n planeet van die son gevorm is. Aan die begin was die aarde woes en onbewoonbaar en dit was donker op die diep waters vanweë die gasse en stoom in die lug. Deur geweldige storms heen het die waters op die aarde neergereën en te midde van vulkaniese uitbarstings is oseane en vastelande gevorm.

  ‘n Wonder net so groot as die ontstaan van sterre en planete, was die ontstaan van lewe op aarde.Vir die Skrif is dit vanselfsprekend dat God die oorsprong van die lewe is. Hy gee die lewe aan alles wat op die aarde lewe het.[Jes 42:5]. Volgens ‘n wyd aanvaarde teorie het ongeveer 3000 tot 4000 miljoen jaar gelede die eerste lewende organismes in die see verskyn. Tot nog toe kan nie verklaar word hoe die eerste lewe ontstaan het nie alhoewel talle vergesogte teorieë die omloop doen. Die oorgang van lewelose molekules tot lewende molekules  was ‘n besondere skeppingsdaad van God. Gen. 1:11 stel dit eenvoudig: “God het gesê: Laat daar uit die aarde groen plante voortkom. Teen 3000 miljoen jaar gelede het die eerste primitiewe groen plante verskyn wat suurstof vervaardig het deur fotosintese en so is die aarde se atmosfeer verander en voorberei vir dierelewe. Toe het God gesê: “Laat die waters krioel van lewende wesens, en laat daar voëls onder die hemelgewelf oor die aarde vlieg.” Die see word bevolk met visse en seediere en teen 100 miljoen jaar gelede het voëls in die lug begin vlieg.

  Toe het God gesê: “Laat die aarde lewende wesens voortbring, elkeen na sy eie aard: mak diere, diere wat kruip, wilde diere, elkeen na sy eie aard.” [Gen.1:24]. Na die tydvak van die reptiele en die dinosaurusse, het die voorlopers van talle soogdiere reeds teen 30 miljoen jaar gelede op die aarde verskyn. Die ontploffing van ‘n geweldige verskeidenheid elkeen na sy eie aard, bly ‘n wonder van die almagtige Skepper.

  Die volgende asemrowende fase in God se skepping was die koms van die mens. Toe het God gesê: “ Kom ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld.”[Gen1:26]. Die Skrif aanvaar dat die mens ‘n besondere skepsel van God is. [Deut.4:32]. As beelddraer en verteenwoordiger van God het die mens besondere kwaliteite. Hy ontvang ‘n gees en ‘n siel en daarmee ook die vermoë om met God in gemeenskap en in gesprek te kan tree. God se doel was dat daar ‘n wese sou wees wat sy wil kon ken en tot sy eer sou kon leef.[ Jes.43:7].

  Volgens  teorieë in die paleontologie het hominiede [aapagtige wesens met menslike trekke] reeds vier miljoen jaar gelede die pleine van Afrika bewandel. Teen twee miljoen jaar gelede het homo habilis sy verskyning gemaak en begin om klipwerktuie te gebruik.  Ongeveer een miljoen jaar gelede het homo erectus sy verskyning in Afrika gemaak en toe versprei na Asië en Europa. Eers teen 400 000 jaar gelede word homo sapiens, die mens soos ons hom ken, wyd verspreid in die wêreld aangetref. As hierdie teorieë aanvaar word, moes iewers op die lang pad van ontwikkeling die oorgang van dier tot mens plaasgevind het. God het aan die mens ‘n gees gegee wat hom onderskei van die diere. Dit kon met ‘n enkele mensepaar of met ‘n groep mense gebeur het. Dit kon selfs ook onder die skeppende hand van God oor ‘n baie lang tyd plaasgevind het. Ons weet eenvoudig nie.Die ontstaan van die mens bly ‘n groot geheimenis wat dalk nooit deur die wetenskap volkome ontrafel sal kan word nie! Die feit bly dat volgens die Bybel die mens die resultaat is van ‘n besondere wilsbesluit van God en die gevolg is van ‘n besondere skeppingsdaad van God. Die feit is dat die mens intellektueel, psigologies en geestelik ryp gemaak moes word vir die wonder van God se selfopenbaring aan hom. So gesien is die hele skepping en die ontstaan van die mens daarop afgestem dat daar ‘n wese op aarde sou wees wat die Skepper moes ken en aan Hom lof en aanbidding moes bring.

  Die wil van God word inderdaad sigbaar in die skeppingsgebeure en in die wyse waarop Hy vir sy skepping sorg en dit onderhou. Wie dit kan bestudeer en aanskou is inderdaad bevoorreg  en behoort die grootheid van die Skepper daarin te ontdek as hulle die gawe van geloof ontvang het.

Skrywer: Prof Dionne Craffort