Demone uitdryf – Francois Malan

Hester vra:

My vraag
is kan ‘n Pastoor wat werklik en opreg is in sy Bediening vir ‘n lidmaat se dat
dit nie moontlik is om iemand te help wat ‘n duiwelaanbidder was nie. Moontlik
dalk nog steeds is en wat kan ons dan ons familie doen om haar te help om die
demone uit haar te kry en dan ons woning en wat nodig is daarna te salf.

Dit is
nogal baie dringend asseblief ek sal enige hulp waardeer.

Antwoord

Prof
Francois Malan antwoord:

Geen
mens kan ’n demoon of ’n duiwel uitdryf nie, slegs die Here kan dit doen.
Daarvoor kan ons tot Hom bid en hom vra om ’n duiwel uit iemand te kry.
Vergelyk Markus 9:28-29 Jesus se dissipels het Hom gevra: waarom kon ons nie
die gees uitdryf nie? Hy het vir hulle gesê: Hierdie soort kan met niks anders
as gebed uitgedryf word nie.’

Ons
het nie seggenskap oor die Here om Hom rond te jaag om te doen wat ons wil nie.
Hy doen wat Hy wil, en ons kan Hom slegs in ootmoed en nederigheid in gebed
vra, in die geloof dat Hy alles kan doen, maar Hy weet wanneer en hoe Hy dit
sal doen en of dit gedoen moet word. Daarom kan ons enige tyd na die Here toe
gaan in gebed en ook aanhou met bid oor ’n saak. Maar altyd aan die einde sê:
Laat nie my wil nie, maar U wil geskied. Hy weet wat die beste is vir elke mens
en Hy wil elke mens verlos van sy sonde en sondige begeertes en gebruike. Maar
Hy wil ook elke bidder verander om te lewe soos Hy van ons vra, om mekaar lief
te hê en die Here lief te hê as ons Verlosser.   

Jesus
het ons ook gewaarsku: Wanneer ’n onreine gees ’n mens verlaat, swerf hy deur
waterlose streke op soek na rus sonder om dit te vind. Dan sê die onrein gees,
‘Ek sal teruggaan na my huis wat ek verlaat het’ En by sy terugkeer kry hy dit
uitgevee en aan die kant gemaak. Dan gaan haal hy sewe ander geeste, slegter as
hyself, trek in en woon daar. Die uiteinde van daardie mens is erger as sy
begin (Lukas 11:24-26). As die Here nie self in ons bly deur sy Heilige Gees
nie, kan ons nie die aanslae van die duiwel weerstaan nie. As ons onsself aan
God onderwerp kan ons die duiwel weerstaan en hy sal van ons wegvlug (Jakobus
4:7).

Dit is nie nodig om die huis en ander goed te salf nie. Ons salf kan dit nie reinig of beskerm nie.  Ons lewe en ons goed word deur die woord van die Here gereinig. In Johannes 15:3 sê Jesus: ‘Julle is alreeds rein deur die woorde wat Ek vir julle gesê het.’ Sy woord kry ons in die Bybel en deur dit daagliks te lees skep Hy ons telkens nuut deur sy woord.

Skrywer: Prof Francois Malan




Jesus se Doop – Francois Malan

Francois vra:

Waarom
moes Jesus gedoop word en waarom het Hy toe eers die Heilige Gees ontvang ? As
drieenige God was die Heilige Gees mos reeds “by” Jesus gewees.

Antwoord

Prof
Francois Malan antwoord:

Johannes
die Doper het dieselfde vraag gehad. Mattheus 3:14-15:  Maar Johannes het Hom probeer teengaan met
die woorde: ‘Ek behoort deur U gedoop te word, en U kom na my toe?’ Jesus het
hom geantwoord: ‘Laat dit nou toe, want dit is goed dat ons op hierdie manier
alle geregtigheid vervul.’

‘Laat
dit nou toe,’ nou terwyl Ek praat. ‘Dit is goed’
– gepas en reg. Die woord ‘geregtigheid’ beteken om reg te doen volgens wat God
vereis. Johannes het mense gedoop en ’n doop van bekering met die oog op die
vergewing van sondes verkondig (Markus 1:4). Maar Hebreërs 4:14-15 sê ons
Hoëpriester, Jesus, die Seun van God…is nie ’n Hoëpriester wat nie medelye met
ons swakhede kan hê nie, maar Een wat, soos ons, in alle opsigte versoek is, en
dit sonder dat Hy gesondig het. En 2 Korinthiërs 5:21 sê: ‘Hy wat nie sonde
geken het nie, Hom het God sonde gemaak ter wille van ons sonde, sodat ons in
Hom (Jesus) voor God geregverdig kon word.’ Deurdat Jesus met sy doop Hom met die mensdom vereenselwig het en al ons sonde op Hom geneem
het
, sodat ons geregverdig voor God kan lewe en sterwe, word alle geregtigheid voor God met sy doop vervul. Daarom
was sy doop deur sy voorloper Johannes die Doper op daardie oomblik goed, gepas
en reg, want Hy het juis gekom om ons van ons sonde te verlos.

Jesus
se salwing met die Heilige Gees direk na sy doop verbind sy salwing met sy doop
as sy inhuldiging in sy taak as die Kneg van die
Here wat as ons Hoëpriester en as die Lam van God wat die sonde van die wêreld
wegneem, moes kom sterf volgens die verlossingsplan van God (Joh 1:29). Hy word
ook ingehuldig as die Seun van koning Dawid (Mattheus 1:1), wat oor die mensdom
kom regeer as die nederige Goeie Herder-Koning (Johannnes 10:11; 18:37).

Van
die toekomstige Dawid sê die Here in Jesaja 42:1 ‘Hier is my Dienaar, Ek stel
hom aan. Ek het hom uitverkies, hy geniet my guns. Ek laat my Gees op hom kom,
hy sal my wil aan die nasies bekend maak.’ Die woorde word in Mattheus 3:17
aangehaal, en in die aanhaling in Mattheus 12:18. Van die salwing van die Seun
van Dawid deur die Gees word in Jesaja 11:2 gepraat. Jesaja 61:1-2 praat van
die nuwe tyd van die Gees van die Here wat oor hom sal kom om ’n blye boodskap
(evangelie) te bring. In Lukas 4:16-19 lees Jesus in Nasaret se sinagoge Jesaja
61:1-2 voor en verklaar dan ‘Hierdie gedeelte uit die Skrif is vandag vervul
terwyl julle daarna luister.’ Die Gees van die Here het oor Hom gekom en die
Here het Hom gesalf om die blye boodskap te bring. Daarmee verwys Jesus na sy formele salwing met die Heilige Gees met sy doop, al
was Hy verwek uit die Heilige Gees (Mattheus 1:20). Sy formele salwing met die
Heilige Gees by sy doop is sy inhuldiging tot sy openbare bediening nadat Hy ’n
gewone skrynwerker in Nasaret was wat sy familie moes onderhou na Josef se dood
(Mark 6:3).

Jesus se bediening en sy Godheid word bevestig deur die stem uit die hemele wat gesê het: ‘Dit is my geliefde Seun oor wie Ek my verheug’ (Mattheus 3:17). Daarmee word die Drie-eenheid geopenbaar met die Vader se stem, die Seun wat mens geword het ter wille van ons, en die Heilige Gees wat soos ’n duif op Hom neerdaal om Hom te salf vir sy bediening van God se versoening met ons. Die woorde van God oor sy geliefde Seun weerspieël iets van die verhouding tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees waarvan 1 Johannes 4:8,16 sê: ‘God is liefde.’  Dat die Vader Hom oor sy Seun se bevestiging verheug, wys dat God bly is dat sy Seun Hom met die mensdom kom vereenselwig het om God se verlossingsplan vir die wêreld te kom deurvoer met sy liefdesoffer van Homself. Na Jesus se eerste aankondiging van sy lyding, dood en opstanding (Lukas 9:22) praat hy en Moses (verteenwoordiger van die Wet) en Elia (verteenwoordiger van die profete) op die berg van verheerliking oor sy uittog wat Hy in Jerusalem tot vervulling sou bring (Lukas 9:31). Toe kom daar weer ’n stem uit die wolk wat sê: ‘Dit is my Seun, die Uitverkorene. Luister na Hom.’ Hy is uitverkies vir sy uittog om aan die kruis te sterf vir die sonde van die wêreld.

Skrywer: Prof Francois Malan




Depressie – Francois Malan

Annelize vra:

Kan daar n band oor my lewe wees wat oor gerda was deur
my ma of pa.
My ma het selfmoord ge pleeg want sy het depressief
geraak. My ma en pa het buiteegtelikke verhoudings gehaat. My pa was n alkolis.
My man is nes my pa hy breek my af soos my pa my ma af gebreek het. Hy drink
net so baie soos my pa ge drink het. Beide ma ma en pa is oorlede. Dit voel of
iets my die heel tyd in die negatiewe in trek. Ek begin so depresief raak dat
dit voel hoekom leef ek nog wat is die nut daarin. My man hou aan vertel waste
lekker tye hy saam met ander vroue het. Kan dit n curse op n mens se lewe wees?
Is daar so iets

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Annelize,
ek ken nie jou omstandighede nie, maar wil net enkele riglyne uit die Bybel vir
jou gee.

Eerstens
die vloek oor ’n mens se lewe.

Jesus
Christus is aan ’n kruis opgehang. Deuteronomium 21:23 sê: wie opgehang word,
is deur God vervloek. Maar Jesus wat die Seun van God was, het die vloek van
God oor al ons sonde daar aan die kruis op Hom geneem en ons vrygekoop van
vervloeking (vgl. Galasiërs 3:13). Omdat Jesus as Seun van God, self God, al
God se straf op Homself geneem het, het God ons vrygespreek en ons verhouding
met Hom reggemaak, sodat ons sy kinders kan wees, vir wie Hy baie lief is.

Romeine
8:31-37 sê: As God vir ons is, wie kan teen ons wees? Hy wat selfs nie sy eie
Seun gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal oorgelewer het – sal Hy
nie ook saam met Jesus alles aan ons skenk nie? Wie sal die uitverkorenes van God
aankla? God is die Een wat vryspreek! Wie sal ons veroordeel? Christus Jesus
het gesterf  – meer nog: Dit is Hy wat
opgewek is, wat ook aan die regterhand van God sit en wat ook vir ons intree.
Wat sal ons van die liefde van Christus skei? Swaarkry of benoudheid of
vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? …In alles is ons selfs meer
as oorwinnaars deur Hom wat sy liefde aan ons bewys het….geen dood of lewe of
engele of magte of teenswoordige of toekomstige gebeure, of kragte of hoogte of
diepte kan ons skei van God se liefde wat daar in Christus Jesus ons Here is
nie.

Daar
kan geen vloek op jou rus as jy jou lewe aan die Here Jesus oorgee en op Hom
vertrou nie.

Jesus
nooi jou ook: Kom na My toe almal wat vermoeid
en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk van liefde op julle en
leer van My, omdat Ek sagmoedig en nederig van hart is, en julle sal rus vind
vir julle gemoed (ook vir jou depressie). Want my juk is draaglik en my las is
lig (Mattheus 11:28-30).

Dat
jou man openlik praat van sy lekker tye met ander vroue, beteken dat hy egbreuk
teenoor jou pleeg, dat hy daardeur telkens sy huwelik met jou voor God
verbreek. Jesus het gesê ons moet nie skei nie, maar egbreuk is die enigste
rede vir egskeiding omdat dit reeds die huwelik verbreek het (vgl. Matteus
19:9).

Wat is die doel van ons lewe op aarde? God wil ons in sy liefde opneem as sy kinders. Hy wil self in ons kom woon om ons te lei en te versterk sodat ons vir God en ons medemens kan leef (Joh 13:34; 14:15-17,23). Eers wanneer ons leer om weg te kyk van onsself en ander mense begin help en liefhê, begin die lewe sin en betekenis kry. Jesus het gesê: ons moet die Here ons God liefhê met hart en siel en verstand, en ons medemens wat die Here op ons pad bring, moet ons liefhê soos ons self (Mattheus 22:37-39).

Skrywer: Prof Francois Malan




Die ouderdom van die aarde – Hermie van Zyl

Michelle vra:

Volgens die
Bybel, hoe oud is die aarde? Hoekom ek vra, is omdat die wetenskaplikes sê dat
die aarde ongeveer 4,5 miljard jaar oud is, en dat die heel eerste lewende ding
blykbaar ‘n bakterie was.

Ek wil ook
weet: Is dit moontlik dat toe God die aarde en alles daarop geskape het, een dag
dalk ‘n duisend jaar, of een miljoen jaar was (soos in die Bybel staan, 2
Petrus 3:8)? Of is dit een dag, soos in 24 uur? Met ander woorde, toe God die
aarde geskape het in ses dae, was dit ses dae van 24 uur elk?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Daar is eintlik twee vrae opgesluit in ons
vraagsteller se vraag: 1. Hoe moet ons Bybel en wetenskap met mekaar in verband
bring, veral as die twee oënskynlik met mekaar in stryd is? 2. Hoe moet ons die
dae van die skeppingsverhaal in Genesis 1 verstaan, veral as mens die
wetenskaplike feite aanvaar dat die aarde oor ‘n baie langer tyd ontstaan het
as wat Genesis 1 sê.

Oor die eerste
vraag – die verhouding tussen Bybel en wetenskap
– wil ek soos volg
antwoord. Dit het reeds ‘n cliché geword, maar dit is nodig om dit weer en weer
te sê: Die Bybel is nie ‘n wetenskaplike handboek oor geskiedenis, medisyne, die
ouderdom van die aarde en die mens, seksualiteit, antropologie, geografie,
argeologie, opvoedkunde, sielkunde, of watter ander kennis daar ook al is nie.
Ja, die Bybel maak wel opmerkings oor die ontstaan van die aarde en die mens,
maar dit is opmerkings wat vervleg is met die stand van kennis wat mense
destyds gehad het toe die Bybel tot stand gekom het. Die Bybelskrywers was nie
superwesens wat bo hulle tyd uitgestyg het en gesagvolle uitsprake oor alles en
nog wat gemaak het nie. Daarom, net omdat iets in die Bybel staan, beteken nie
dat so ‘n uitspraak met Goddelike gesag beklee is nie. Die Bybel het eerder op
‘n organiese manier tot stand gekom, dit wil sê, God het die mens in sy volle
menswees en met al sy beperkinge in diens geneem by die wording van daardie
boeke wat ons die Bybel noem. En tog bely ons dat die Bybel God se Woord is, en
daarom gesagvol is. Maar wat beteken dit presies? Waarin lê die gesag van die
Bybel, waaroor wíl dit gesagvol spreek?

Die gesag van die Bybel lê primêr in die perspektief wat dit oor God se
betrokkenheid by gebeure open,
en nie in die spesifieke historiese
inkleding daarvan nie. Laasgenoemde is verweef met die wêreldbeeld van die
antieke mens. Natuurlik is die historiese gegewens nie onbelangrik nie, want dit
gaan juis oor God se dade in die geskiedenis. Maar die Bybel bied nie die
historiese gebeure aan as objektiewe geskiedskrywing nie. Sy oogmerk lê elders.
Die Bybel is nie geïnteresseerd in die historiese gebeure as sodanig nie, maar
gebruik eerder daardie gebeure om God se hart en wil bloot te lê. Die Bybel wil
vertel van God se onpeilbare grootheid, genade, liefde, barmhartigheid en trou;
dat Hy sy skepping – ook die mens – nie oorgee aan vernietiging en verderf nie,
maar dat Hy vanuit sy ewige liefdestrou handel waarvolgens Hy sy ganse skepping
na voltooiing en heerlikheid lei. En by hierdie reis van God met sy skepping betrek
Hy die mense in dié se geloof, gehoorsaamheid en volharding. Vanuit hierdie
siening kan ons sê die Bybel handel oor verhoudings – die verhouding van God met
ons, ons met Hom, en ons as mense met mekaar. In dié sake wil die Bybel
gesagvol wees. Byvoorbeeld, die Bybel praat met gesag wanneer dit sê dat God
ons liefhet, so lief dat Hy sy Seun vir ons sonde laat sterf het. Of dat ek God
bo alles moet liefhê en my naaste soos myself. Maar ons hoef nie die Bybel se
voorstelling van ‘n plat aarde wat stewig op sy fondasies rus, as gesagvol te
aanvaar nie. Laasgenoemde het te make met die spesifieke wêreldbeeld van die
antieke mens wat ons nie meer deel nie. Die bedoeling van hierdie uitspraak
moet ons egter wel raaksien, naamlik dat die aarde nie toevallig ontstaan het
nie, maar voortspruit uit God se skeppingsmag en daarom rus in die
onveranderlike trou van God. God bly getrou aan sy skepping; Hy laat vaar nie
die werke van sy hande nie.

As ons hierdie verhouding tussen Bybel en
wetenskap goed raaksien, raak ons nie meer ontsteld wanneer ons teenstrydighede
raaksien tussen ons kennis vandag en wat ons in die Bybel raakloop nie. Ons
besef dan dat ons telkens dit waaroor die Bybel gesagvol wíl wees – soos hierbo
verduidelik – moet ontdek in die bladsye van die Bybel, en die res rustig
oorlaat aan wat die wetenskap vir ons ontdek oor die mens en die kosmos, onder
andere iets soos die ouderdom van die aarde.

Oor die gesag van eietydse wetenskaplike kennis
moet ons ook iets sê. Ons hoef nie van huis uit wantrouig te staan teenoor wetenskaplike
kennis nie. As ons die wetenskaplikes oor die ouderdom van die aarde wantrou,
dan moet ons hulle ook wantrou wanneer ons ‘n elektriese lig aansit, die motor
aanskakel, die dokter gaan spreek, ensovoorts. Natuurlik, wetenskaplikes is ook
mense en maak foute in hulle kennisversameling en interpretasie van gegewens.
Hulle teorieë is nie altyd reg nie. Maar ons moenie dink wetenskaplikes is met
‘n groot komplot teen die mensdom besig as hulle ons probeer wysmaak dat die
kosmos ongeveer 14 miljard jaar oud is, die aarde 4,5 miljard jaar, en homo sapiens ongeveer 200 000 jaar
(en nie 6 000 jaar nie – wat die mens betref – as
ons die getalle van Genesis volgens ‘n bepaalde berekeningsmetode bymekaar tel
en met die res van die Bybelgeskiedenis in verband bring).
Ons moet eerder die mate van konsensus wat daar onder wetenskaplikes hieroor
bestaan, aanvaar en Bybelse geskiedskrywing in die lig hiervan probeer nuut
verstaan. Anders trap ons in dieselfde strik as die kerk van die Middeleeue wat
uiteindelik sy ketterjagtery op wetenskaplikes wat gesê het dat die aarde rond
is en om die son draai, moes laat vaar en met rooi gesigte moes toegee dat die
wetenskaplikes toe al die tyd reg was. Hiermee wil ek nie beweer dat ‘n mens
alles wat wetenskaplikes aanbied voor die voet moet glo nie. Natuurlik is daar
nog oor baie dinge onsekerheid en ‘n gistingsproses aan die gang, maar oor baie
sake het daar tog al konsensus ingetree. Na alles is daar ook so-iets soos ‘n
gestadige vooruitgang in die wetenskap wat onder die seënende hand van die Here
plaasvind. En wanneer swaar verworwe kennis oor ‘n lang tyd kruiskontroles
ondergaan en die toets deurstaan het, kan ons dit aanvaar. ‘n Mens kan immers
nie die horlosie terugdraai en maak asof hierdie kennis nie bestaan en nie deel
van Bybelgelowiges se verwysingsraamwerk vorm nie. Hoe meer ons van die kosmos
(én die Bybel!) leer, hoe meer besef ons dat die Bybel nie as ‘n onfeilbare
bron van kennis oor gedetailleerde inligting rakende die ontstaan van die
skepping – die mens ingesluit – ingespan kan word nie. Soos reeds gesê, die
Bybel handel primêr oor verhoudings:
tussen God en skepping, tussen God en mens, en tussen mens en mens. Die Bybel
verskaf nie primêr wetenskaplike inligting nie.

Met bogenoemde uiteensetting as agtergrond, kan
ons nou na die tweede vraag van ons
vraagsteller beweeg: Hoe moet ons die dae
van Genesis 1 verstaan?

Soos wat nuwe inligting oor die ouderdom van
die aarde algaande die kerk se ore bereik het, was daar in die verlede allerlei
pogings om die Bybel (spesifiek Genesis 1) en die wetenskap met mekaar te
“versoen”. Een van die pogings was inderdaad wat ons vraagsteller
noem, naamlik dat ons die dae van Genesis 1 nie letterlik moet neem nie, maar
moet verstaan as langer tydperke, op voetspoor van bv 2 Petrus 3:8 waar staan
dat duisend jaar in die oë van die Here soos een dag, en een dag soos duisend
jaar is. Op dié manier kan mens dan die lang wordingsgeskiedenis van die aarde
(4,5 miljard jaar) beter inpas by wat in Genesis 1 staan en so die gesag van
die Bybel probeer “red”. Maar dan sit mens weer met die probleem dat
jy die spesifieke volgorde van die skeppingsgebeure soos in Genesis 1 beskryf
ook moet maak klop met wat die wetenskap aan ons voorhou oor hoe die aarde
ontstaan het. En dit klop nie altyd nie. Want hoe moet ons die lig wat op die
eerste dag geskape is onderskei van die “ligte” (son, maan en sterre)
wat eers op die vierde dag geskape is? Verder, hoe het die plante geleef wat
reeds op die derde dag geskape is as die son, wat ons weet nodig is vir plante
om te groei, eers op die vierde dag geskape is? En so vermenigvuldig die probleme
as ons probeer om Genesis 1 met wetenskaplike feite te versoen. Dit wil net nie
lekker werk nie.

Gaandeweg het daar by Bybelwetenskaplikes egter
die besef gegroei dat ons glad nie hierdie weg van “versoening” moet
opgaan nie, maar eerder, enersyds, die wetenskaplike feite moet aanvaar vir wat
dit is, en, andersyds, Genesis 1 in terme van sy eie bedoeling moet verstaan. Algaande
is besef dat Genesis 1 nie probeer sê hoe
God geskep het nie, maar primêr wil sê dat
die God van die verbond – die God van Abraham, Isak en Jakob – die Skepper is
van alles wat is en bestaan. Verder, vóór Hy geskep het, was daar niks. Hy het dus
uit níks, iéts daargestel – die kosmos. Dit onderstreep sy skeppingsmag. Maar
die skrywer wou nog meer sê: Teenoor die omringende godsdienste van daardie tyd
wat van die son, maan en sterre gode gemaak het, word in Genesis 1 onomwonde
gesê dat hierdie sogenaamde gode eintlik maar net “ligte” aan die
hemeltrans is; hulle is blote skeppings van die almagtige God, daar is niks
goddeliks omtrent hulle nie. Net één is God, en dit is die God van Israel. So
gesien is die skeppingsverhaal ook polemies ingestel; dit wil “oorlog
verklaar” teen wanopvattings van ander godsdienste wat die skepping wil
ver-Goddelik ten koste van die enigste ware God.

Die belangrike afleiding uit bogenoemde is dat
ons nie uit Genesis ‘n bepaalde chronologiese volgorde moet probeer aflei oor
hoe die kosmos tot stand gekom het en dit dan as die gesagvolle weergawe opstel
téénoor eietydse wetenskaplike kennis nie. Ons moet eerder oog kry vir wat die
skrywer van Genesis 1 probeer doen het. Hy het eintlik ‘n gedig geskryf oor die
grootheid van God, nie ‘n betroubare handboek probeer saamstel oor hoe die heelal
presies ontstaan het nie. Verder, as kind van sy tyd en as gelowige Israeliet
het die skrywer die ritme waaraan hulle as God se volk gewoond was, naamlik ses
dae werk en die sewende dag rus, as vertrekpunt geneem vir die inkleding van
die skeppingsgebeure. So wou hy eintlik ook ‘n soort begronding bied vir hulle
godsdiens en leefwyse, naamlik: As God Self ses dae geneem het om sy werk te
voltooi, en die sewende dag gerus het, dan is dít die rede waarom Israel ook
dieselfde lewensritme moet hê.

En dit bring ons by die lengte van die dae in
die skeppingsverhaal. Daar is geen rede om te aanvaar dat die skrywer enigiets
anders in gedagte gehad het as gewone dae van 24 uur elk nie. Dit is slegs ons
as moderne mense met ander gegewens tot ons beskikking wat daarmee probleme
het. Die antieke skrywer het nie ons kennis van die ontstaan van die kosmos
gehad nie. Vir hom sou dit die natuurlikste ding in die wêreld gewees het om
gewoon te skryf dat God ‘n woord gespreek het en dan het dit onmiddellik gebeur,
binne 24 uur. Die skepping word daarom veral as voortspruitende uit die woord
van God verstaan. By elkeen van die skeppingsdae staan daarom dat God
“gesê” het, en dan gebeur dit. God se woord is kragtig; Hy spreek, en
dit gebeur (Psalm 33:9). Hy bring dinge wat nie bestaan nie, tot stand deur sy
woord (Romeine 4:17; 2 Petrus 3:5). Daar is dus geen twyfel by die skrywer oor
die krag van God se spreke nie. Enige poging van ons kant om hieraan tekort te
doen, of die dae anders te probeer verstaan net om by ons verstaan van dinge
aan te pas, misken die bedoeling van die skeppingsverhaal wat alle klem laat
val op die mag en krag van God wat dinge tot stand laat kom bloot deur te
spreek. Die punt is: daar is geen teenstrydigheid tussen die Bybelse
skeppingsverhaal en ons kennis vandag nie. Elkeen het sy eie ontstaan en oogmerk:
Die Bybel wil die klem laat val op die skeppingsvermoë van God; die wetenskap
wil presies weet hoe dinge chronologies verloop het en hoe lank dit gevat het.

Ons moet verder ook oog kry vir die kunstige
opbou van die skeppingsverhaal. Dit versterk die gedagte dat die skrywer nie
lukraak met sy gegewens omgegaan het nie, maar dit in ‘n fyn uitgewerkte skema
aangebied het. Ek wys net op een aspek: Daar is ‘n korrelasie tussen die
gebeure van die eerste drie dae en die laaste drie dae. So word lig op die
eerste dag geskep, en op die vierde dag die ligte van die hemel. Op die tweede
dag word die hemelgewelf gemaak om skeiding tussen die waters in die lug (reën)
en dié op die aarde te maak; op die vyfde dag word gesê hoe God hierdie hemelgewelf
met voëls en die waters op die aarde met visse gevul het. Op die derde dag skep
God die see en die droë grond, saam met die plante wat uit die aarde opkom, om
die aarde leefbaar te maak; op die sesde dag skep God die diere en die mens om op
die aarde te leef en dit te vul.

Die skeppingsverhaal is dus nie daarop uit om
ons kennis van die ontstaan van die kosmos te bevredig nie, maar laat alle klem
val op die krag van God wat alles uit niks gemaak het. En verder dra die
kunstige opbou van die skeppingsverhaal die gedagte dat God planmatig geskep
het; alles pas by mekaar en in mekaar; elke ding is op sy plek, presies soos
God dit beplan het.

Bewapen met hierdie geopenbaarde kennis uit die Bybel kan ons nou die wetenskap na hartelus beoefen. Ons hoef nie alles met Genesis 1 te laat “klop” nie; ons kan gewoon uitgaan van die veronderstelling dat God se skepping ons uitnooi om alles noukeurig te ondersoek en dan telkens verstom te staan oor die wonder daarvan, en God daarvoor te prys. Dít is waartoe die skeppingsverhaal ons oproep, nie om kwelvrae te hê oor Bybelkennis en wetenskaplike kennis wat nie wil klop nie. Daar is baie natuurwetenskaplikes wat ook kinderlike gelowiges is, mense wat hulle kennis oor die ontstaan en voortbestaan van die kosmos juis gebruik om God, die Skepper van hemel en aarde, te dien en te prys.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl