1 Korintiërs (8)

1 Korintiërs (8) – Francois Malan

 

Sommige Korintiërs verwerp die opstanding van die liggaam as ‘ongeestelik’ (15:1-58)

Die Grieke het die liggaam as die tronk van jou siel beskou. Party lidmate dink hulle is reeds ‘geestelik’ met ʼn soort engele-bestaan, waarvoor die liggaam nie nodig is nie, en dat die dood hulle van die liggaam verlos. En tog glo hulle en die hele kerk dat Christus uit die dood opgewek is

15:1-11 Die kern van die evangelie wat Paulus verkondig het, wat deur hulle geglo is, en waardeur hulle gered is, is dat Christus vir ons sonde gesterf het, sy lyk begrawe is en Hy uit die dood opgewek is, waarvan ʼn reeks persone, aan wie Hy verskyn het, getuig. Aan Paulus, die geringste van die apostels, het Hy in genade ook verskyn, en deur God se genade glo die Korintiërs in Jesus, wat Paulus aan hulle verkondig het.

15:12-19 As party van hulle nou onverantwoordelik redeneer dat daar geen opstanding van die dooies is nie, is die gevolge van hulle redenering vir hulle eie lewe soos volg: dan is Christus mos ook nie deur God opgewek nie, Paulus se prediking vals, hulle geloof waardeloos, hulle sonde nie vergewe nie, en die wat gesterf het verlore.

15:20-28 Maar God hét vir Christus uit die dood opgewek as die eersteling. Hy is besig om alle magte wat teen God opstaan te oorwin. Deur Christus onderwerp God alles en almal aan Hom. Soos Adam alle mense in die dood laat beland het, so bewerk God se opwekking van Christus uit die dood die opwekking van die ganse mensheid. God sal almal wat aan Christus behoort by sy koms lewendig maak, en die dood, wat God en die mens se laaste vyand is, vernietig. Dan regeer God alleen oor sy ganse skepping, en is die doel van ons lewe om sy wil uit te voer. Die Korintiërs wat nie glo in die opstanding nie, het ʼn verkeerde opvatting van geestelikheid, van die mens se liggaam, en van God as die alleenregeerder oor die hele skepping.

15:29-34 As die dooies egter nie opgewek gaan word nie, is die Korintiërs se eie optrede vir die dooies onsinnig, Paulus se lyding ter wille van die evangelie en sy daaglikse doodsgevaar ter wille van die gemeente sonder enige doel of betekenis, en verval die rede om verantwoordelik te lewe (vgl. Jesaja 22:13). Daarom moet die gemeente hulle afkeer van die mense wat die opstanding loën. Paulus skud die gemeente wakker uit hulle ‘geestelike’ vervoerings en beskamende twyfel aan God se mag om die dooies op wek, om nugter te dink, en hulle sonde te los.

15:35-49 Dit sal egter nie bloot ʼn opwekking van lyke wees nie. Maar soos Christus se fisiese liggaam verander is in ʼn verheerlikte hemelse liggaam, so sal ons liggaam verander word om beelddraers van die opgewekte Christus te wees. Vir die Grieke was die lewendigmaak van lyke ondenkbaar. Maar soos daar ʼn verband is tussen ʼn koringkorrel wat gesaai word en die koringhalm wat daaruit spruit, sal daar ook ʼn verskil wees tussen die swak aardse fisiese liggaam en die kragtige hemelse geestelike liggaam. Die Korintiërs was oortuig dat hulle reeds in die ‘hemelse’ geestelike lewe ingegaan het, deurdat hulle die gawes van die Gees ontvang het, veral die spreek in tale. Hulle verwag die afgooi van die nuttelose liggaam wanneer hulle sterf. Paulus sê, ons sal die hemelse beeld van die opgewekte Christus dra.

15:50-58 Die sterflike liggaam moet eers met onsterflikheid beklee word. Met Christus se koms word mense wat nog lewe en die wat reeds dood is, deur God verander. Dood, en sonde wat juis die dood veroorsaak, verloor permanent hulle mag oor die mens. Die ganse natuur wat die gevolge van die sonde dra, word deur Christus verlos, ook die liggaam. Deur Christus se opstanding is die dood oorwin en die sonde vergewe. Omdat Christus die sonde en die wet reeds oorwin het, is ons lewe nie tevergeefs nie. Daarom moet ons nie toelaat dat iets ons aan die koms van Christus laat twyfel nie, en moet ons onsself ten volle gee aan die werk van die Here (15:35-58).

 

16:1-11 Die kollekte vir die arm gelowiges in Jerusalem

Die gemeente vra hoe die kollekte ingesamel moet word en hoe word dit na Jerusalem geneem. Paulus sê elkeen moet op ʼn weeklikse basis ʼn bydrae opsy sit volgens sy/haar voorspoed. Hy kom na hulle toe. Hulle moet mense aanwys wat die kollekte sal wegbring, en hy kan moontlik saam met hulle gaan. Hoewel Paulus tot dusver nog niks vir sy onderhoud van die gemeente gevra het nie, en hulle hom daarvoor kwalik geneem het, noem hy die moontlikheid dat hulle hom kan help met sy reis na Jerusalem en so deelneem aan sy sending.

 

Outeur: Dr Francois Malan

 




1 Korintiërs (7)

1 Korintiërs (7) – Francois Malan

 

11:2-14: 40 Misbruike van die Christelike vryheid in die erediens

1 Vroue misbruik hulle vryheid in Christus met hulle haardrag in die erediens (11:2-16)       

Teen die vroue wat die onderskeid tussen vroue en mans misken met hulle hare se drag en bedekking, wys Paulus op die algemene gebruik in Korinte, wat dié miskenning as ʼn skande beskou. Omdat die vrou uit die man se ribbebeen gemaak is as sy gelyke om hom te help, moet sy nie haar vryheid in Christus misbruik, asof gelowiges onsydige engele is, deur die andersheid van ʼn man en ʼn vrou op te hef nie. Die algemene opvatting in die Grieks-Romeinse wêreld was dat lang hare ʼn vrou se trots is, en in die gemeentes van destyds was dit fatsoenlik dat vroue in die erediens iets op hulle koppe gedra het. Voor God en die engele moet die vroue se haardrag en die bedekking daarvan wanneer hulle in die erediens bid of preek nie ʼn struikelblok in die gemeente wees nie.

 

2 Die ryk lidmate misbruik die nagmaal (11:17-34)

Die gemeente kom bymekaar in die huis van ʼn ryk lidmaat wat met sy mede-rykes in die kleiner eetkamer die kos eet wat hulle gebring het, en die res van die gemeente wat in die groter leefkamer sit en oorwegend slawe is, kry min of niks van dié kos nie. So word die gemeente verdeeld, die armes verneder, en teen die offer van die Here Jesus gesondig. Met die breek van die brood het Hy sy liggaam ‘vir julle’ toegesê, en met die beker die nuwe verbond wat die deelnemers as ʼn gemeenskap saamsluit, wat sy offer vir almal se sonde met hulle gemeenskaplike nagmaal verkondig totdat Hy kom. Siektes en sterftes is  God se tugtiging oor hulle miskenning van die betekenis van die nagmaal en van die eenheid van die kerk as liggaam van Christus, deur hulle onderlinge geskeidenheid. Daarom moet hulle vir mekaar wag, en saam die nagmaal te vier in die teenwoordigheid van die Here wat oordeel of dit pas by sy offer aan die kruis, sodat hulle nie saam met die wêreld veroordeel word nie.

 

3 Paulus verskil van die Korintiërs oor wat geestelik is (12:1-14:40)

12:1-31 Die gawes van die Gees

Toe die Korintiërs nog heidene was, was hulle gewoond om by hulle stom afgode in geestesverrukking te raak en deur die duiwels uitsprake te maak, selfs teen Jesus. Uit die agtergrond slaan die Korintiërs die spreek in tale so hoog aan, dat dit vir hulle die eintlike bewys is van ware geestelikheid. Vir Paulus is slegs dié mense deur die Gees van die lewende God deurdrenk wat lewe onder die gekruisigde Jesus as hulle Here, Hy wat opgewek is om oor die heelal te regeer. Die Heilige Gees ken aan elke gelowige spesifieke gawes toe soos Hy wil, om mekaar daarmee in liefde op te bou en te versorg as die een liggaam van Christus. Die een Gees deel ʼn verskeidenheid gawes mee om die een Here op verskeie maniere te dien, en dit is die een God wat die bekwaamheid aan elkeen vir sy/haar spesifieke taak gee om mekaar op te bou. Ons kan nie sonder mekaar lewe nie.

13:1-13 Liefde is die maatstaf vir ware geestelikheid

‘Geestelike’ lewe is nie om nou reeds soos engele te praat of met hoër kennis of wonderdade te spog nie, maar om mekaar in liefde te dien met die spesifieke gawes wat elkeen daarvoor ontvang het. Sonder liefde vir mekaar is spreek in tale soos die heidense lawaai voor ʼn afgod; is ek tot geen nut vir die gemeente, selfs met profesie, insig in geheime, en alle kennis en geloof; bereik ek niks deur my besittings uit te deel of myself op te offer nie. Hoe die vrug en werking van die liefde van Christus in die gelowige uitwerk om hom/haar in diens van ander toe te rus word in 15 kenmerke beskryf (4-7), en afgesluit met die grootheid en onverganklikheid van die liefde teenoor die verbygaande gawes (8-13). Liefde staan teenoor alle vorms van geestelike selfsugtigheid, soos ook deur die Korintiërs geopenbaar word.

14:1-40 Profesie teenoor spreek in tale

Die erediens vereis verstaanbare taal om gelowiges en buitestaanders op te bou, en orde om elkeen ʼn geleentheid te gee om deel te neem. Spreek in tale sonder uitleg, is onverstaanbaar, en bou nie die gemeente op nie, maar net die spreker self. Daarom moet die mense wat sonder uitleg daarvan in tale spreek in die gemeente swyg en alleen met hulleself en met God praat. Soos die profete van die Ou Testament wens Paulus dat alle gelowiges profete word, wat met ʼn boodskap van God die gemeente in liefde opbou deur hulle te vermaan en te troos.

 

Outeur: Dr Francois Malan




1 Korintiërs (6)

1 Korintiërs (6) – Francois Malan

 

Trots op hulle kennis, verwerp sommige leiers Paulus se gesag en sy opdrag om nie om te gaan met afgodedienaars nie (8:1-11:1; vgl. 5:10-11). Dit gaan oor hulle gebruik van vleis wat aan die afgode geoffer is in heidense tempels tydens heidense feeste (8:1-10:22), en wat op die vleismark verkoop en in private wonings geëet word (10:23-11:1).

8:1-13 Christelike optrede is gebou op liefde, nie op kennis nie

Gelowiges weet dat die baie sogenaamde gode en here nie bestaan nie, want vir ons is daar maar een God, die Vader, die Skepper van alle dinge, wat ons as sy kinders aangeneem het om vir Hom te lewe en sy wil te doen; en daar is maar een Here wat oor ons regeer, Jesus Christus, deur wie God alles geskape het en ons kinders van God maak. Omdat hulle weet dat ʼn afgod niks is nie, en kos nie jou verhouding met God affekteer nie, is die gemeentelede trots op hulle kennis, vier fees saam met hulle heidense vriende en familie in die tempels van die afgode, en eet hulle ook vleis wat aan die afgode geoffer is. Omdat God ons liefhet word Christelike optrede nie deur kennis bepaal nie, maar deur liefde, wat nie mede-lidmate wat nog swakker in die geloof is, laat struikel nie. As die ‘swakkes’ sien dat die ‘sterkes’ afgodsoffers in die afgodstempel eet, word hulle verlei om dit ook te doen, en loop daarna met ʼn skuldige gewete voor God. Om ʼn ‘swakke’ te laat struikel is sonde teen ʼn medegelowige en teen Christus. Kennis maak hoogmoedig teenoor die ‘swakkes’. Liefde bou die ‘swakke’ op, lei hom nie in versoeking deur jou optrede nie.

 

9:1-27 Paulus verdedig sy optrede as apostel

Die ‘sterk’ lidmate betwyfel Paulus se gesag en vryheid as apostel, omdat hy nie van hulle geldelike ondersteuning gevra het nie, en slaghuis-vleis wat aan afgode geoffer is saam met hulle geëet het.

Volgens Christus se bepaling het dié wat die evangelie verkondig die volste reg op onderhoud soos deur die gemeente. Paulus het egter van sy reg afstand gedoen en die evangelie kosteloos aan die Korintiërs gebring om geen struikelblok vir hulle bekering te wees nie. Hy het ook saam met hulle geëet volgens Christus se liefdeswet, om soveel mense as moontlik vir Christus te wen, maar wanneer dit vir ʼn swakke ʼn struikelblok word, sit hy nie sy mond aan vleis nie, om geen hindernis in die pad van die evangelie deur die wêreld te wees nie. So is hy vir die gelowiges ʼn voorbeeld hoe om uit liefde op te tree, en nie uit kennis nie. Sy roem en sy loon is juis dat hy van sy regte afstand doen. Die evangelie maak vry om ander te dien.

Die evangelie maak jou egter ook vry van jouself. Soos atlete oefen Paulus hom in selfbeheer, om volgens die liefdesreël te lewe. Teenoor die ‘sterkes’, wat hulle vryheid ten koste van die ‘swakkes’ uitlewe, stel Paulus die voorbeeld, deur sy vryheid op eie koste uit te leef en vry te bly om vir ander te lewe en nie vir homself nie.

 

10:1-22 Deelname aan die etes in die afgodstempel is afgodediens

Met voorbeelde uit Israel se woestynreis na Kanaän waarsku Paulus die Korintiërs teen God se straf as hulle volhou om Christus se genade te beproef deur offermaaltye by die afgode by te woon. Hulle meen dat hulle doop en deelname aan die nagmaal hulle beskerm. Die Jode het egter in sonde geval en hulle lyke het orals in die woestyn bly lê, ten spyte daarvan dat hulle deur die water van die Rietsee gegaan het en daagliks manna van God ontvang het. Hulle het God nie behaag met hulle onsedelikheid en afgodery voor die goue bulkalf by Sinai, later by die afgod Baäl-Peor, en toe hulle teen God en Moses uitgevaar het oor hulle kos nie.

ʼn Afgod is niks, en vleis wat aan ʼn afgod geoffer is niks, maar offers aan afgode is werklik offers aan die duiwels. Die nagmaal is deelname aan die offer van Christus. As Nagmaalgangers ook aan die tafels van die duiwels gaan aansit, soek hulle die toorn van die Here wat Israel se afgodediens nie verdra het nie. Vlug vir afgodsdiens. Dit is in wese diens aan die duiwels.

 

10:23-11:1 Vleis wat op die mark verkoop word

ʼn Christen is vry om vleis te eet wat in die slaghuis verkoop word, want alles behoort aan die Here. Maar as jy by ʼn ongelowige aan huis eet en iemand wys jou daarop dat die vleis aan die afgode geoffer is, los jy die vleis ter wille van die persoon se gewete. Doen alles tot eer van God, sonder om vir iemand ʼn struikelblok te wees, soos Paulus vir Christus navolg. (10:24-11:1).

Outeur: Dr Francois Malan




1 Korintiërs (5)

1 Korintiërs (5) – Francois Malan

 

Die huwelik en die ongehude staat (hoofstuk 7)

In die eerste gedeelte van die brief het Paulus gereageer op berigte oor verkeerdhede in die gemeente (1:10-6:21). In die tweede gedeelte (7:1-16:12) reageer hy op hulle brief met kritiek teen sy waarskuwings in sy vorige brief.

Uit hulle Griekse minagting van die liggaamlike het die Korintiese ‘geestelikes’ se opvatting oor geestelikheid gelei tot ʼn valse siening van vryheid om selfs met ʼn prostituut omgang te hê, want God gaan tog die liggaam vernietig (6:12-20). Die askete in die gemeente het weer gedink die liggaamlike benadeel hulle geestelike lewe, en om ‘geestelik’ te wees propageer party lidmate, veral vroue, of onthouding in die huwelik of egskeiding, en vir ongetroudes om ongetroud te bly (7:1-40). Hierop reageer Paulus met ʼn woord van die Here (7:10) en met sy mening as iemand wat deur die genade van die Here betroubaar is om as die Here se apostel/gesant die Here se woord oor te dra (7:25) en dink dat hy ook die Gees van God het wat sy mening vorm (7:40).

 

7:1-9 Geen onthouding in die huwelik nie

Paulus sê dat mans en vrouens, wat nie die gawe van onthouding ontvang het nie, kan nie in die huwelik met hulle eie liggame maak wat hulle wil nie, maar die man is uitsluitlik op sy vrou, en die vrou op haar man se liggaam vir seksuele gemeenskap aangewys, en hulle kan, slegs by uitsondering, met wedersydse toestemming, vir ʼn kort tydjie, daarsonder bly vir toewyding aan gebed. Wewenaars en weduwees kan ongetroud bly, maar vir almal wat nie die gawe van onthouding ontvang het nie, beveel hy ook aan dat hulle trou.

 

7:10-16 Geen egskeiding vir getroudes nie

Vir die getroudes gee hy die opdrag van die Here self, dat ʼn vrou nie van haar man moet skei nie. As sy van hom geskei het, moet sy ongetroud bly, of met hom versoen. Die huwelik bly ʼn permanente verbintenis selfs na egskeiding. ʼn Man mag ook nie van sy vrou skei nie (vgl. Markus 10:11-12).

Kinders uit ʼn huwelik tussen ʼn gelowige en ʼn ongelowige is deur die gelowige aan God gewy, en so ook die ongelowige. Daarom moet die gelowige nie skei nie, maar probeer om die ongelowige tot geloof te lei. As die ongelowige egter wil skei, is die gelowige nie gebind om in die huwelik te bly nie.

 

7:17-24 Bly in die staat waarin die Here jou geroep het

Dat jy getroud of ongetroud, ʼn besnede Jood of onbesnede Griek, ʼn slaaf of ʼn vrygeborene was toe God jou geroep het, is nie vir God belangrik nie, maar wel dat jy in jou omstandigheid vir Hom lewe en sy wil gehoorsaam. As ʼn slaaf egter die geleentheid kry om vry te word, moet hy dit aangryp.

 

7:25-38 Die ongetroude staat is

Die verloofdes in die gemeente vra of dit sonde is om te trou. In die lig van die komende verdrukking en van onverdeelde aandag aan die dinge van die Here, meen Paulus dat dit goed is om ongetroud te bly, as hulle die gawe daartoe het. Maar as die jongman of jongmeisie nie die gawe van onthouding het nie en graag wil trou, is dit geen sonde nie. Hulle hoef hulle nie te bekommer of hulle moet trou of nie, maar wel oor hoe hulle in hierdie verbygaande wêreld vir God lewe, as getroudes of ongetroudes, in vreugde en rou, en ook met hulle besittings.

 

7:39-40 Die huwelik is ʼn lewenslange band

ʼn Vrou is aan haar man verbind totdat hy sterf. Na sy dood is sy egter vry om ongetroud te bly of te trou, maar net met ʼn gelowige.

 

Outeur: Dr Francois Malan