Die Groot Geloofswoordeboek: Samaritane

Die Groot Geloofswoordeboek: Samaritane

Samaritane

Die Samaritane is die afstammelinge van die vermenging van Jode en hoofsaaklik Kutiërs. Daar het Jode in Samaria agtergebly na die *ballingskap van die noordelike stamme in 722 vC. Die veroweraars het ander mense, veral mense uit Kuta, ingevoer om die stede van Samaria te bevolk, en hierdie mense en die Jode wat agtergebly het, het ondertrou. Hulle was dus ‘n gemengde bevolking wat die naam van die streek gekry het: Samaritane van Samaria. Hulle het ook ‘n vermengde godsdiens beoefen. Die Kutiërs is “geëvangeliseer” om die God van Israel te dien, maar het ook aangegaan om die gode wat hulle saamgebring het te dien. Dit is die rede waarom die Jode so op die Samaritane neer­gesien het. Hoe erg hulle die Samaritane geminag het, is duidelik in die beskuldiging van die Jode aan Jesus waar hulle “Sama­ritaan” en “duiwelbesetene” as sinonieme gebruik (Joh 8:48). En die Samaritane het natuurlik op “paslike” wyse teen die Jode gereageer (Luk 9:51-55). Die ontstaan van hierdie volk vorm ‘n baie interessante geskiedenis (2 Kon 17:24-41).

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Sakramente

Die Groot Geloofswoordeboek: Sakramente

Sakramente

Sekere rites of seremonies in die kerk word “sakramente” genoem.

In die meeste Protestantse kerke is daar net twee, die *doop en die *nagmaal. Die *Katolieke Kerk het sewe. By die doop en die nagmaal (wat hulle die *mis of die *eucharistie noem), het hulle die vormsel (die Protestantse belydenis van geloof), boetedoening, salwing van siekes (“die laaste oliesel”), ordening van ampsdraers, en die hu­welik.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Reïnkarnasie

Die Groot Geloofswoordeboek: Reïnkarnasie

Reïnkarnasie

Reïnkarnasie is die geloof dat die mens se siel telkens by die dood van een liggaam na ‘n ander oorgaan in ‘n proses van reiniging totdat die siel volmaaktheid bereik het en met God verenig word. Dit word veral in Hindoeïsme geleer. Dit is nie verenigbaar met die Christelike geloof nie omdat ons glo dat ons een maal sterf en daarna kom die oordeel (Heb 9:27).

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Puriteine

Die Groot Geloofswoordeboek: Puriteine

Puriteine

Die Puriteine wou na die Kerkhervorming (*Hervorming) die Church of England reinig (purify). Hulle het die reiniging/hei­liging van sowel die individu as die samelewing nagestreef. Hulle het ‘n verbondsteologie gehad en die kerk en die staat in terme van Bybelse beginsels probeer hervorm. Hulle het baie streng lewensreëls gehad, en was veral streng oor die viering van Sondag. Ons eie voorouers het baie van hierdie reëls oorgeërf.

 

Skrywer: Prof Adrio König