Die Groot Geloofswoordeboek: Die Hel

Die Groot Geloofswoordeboek: Die Hel

Hel/Verderf/Verdoemenis/Vuurpoel

(*Oordeel, *Toorn, *Straf van God) • Doderyk (sjeool, hades) • Hel (gehenna)

Die doderyk (Hebreeus: sjeool, Grieks: hades) kry ons in die Ou Testament en die hel (Grieks: gehenna) in die Nuwe. Verderf, ver­doemenis en vuurpoel is alternatiewe benamings vir die hel.

Ons moet ‘n duidelike onderskeid maak tussen die Ou Tes­ta­ment en die Nuwe. In die Ou Testament is net van die doderyk sprake. Dis eers in die Nuwe Testament dat ons van die hel lees. Volgens die Ou Testament het alle mense na die doderyk gegaan, en was daar geen onderskeid tussen regverdiges en onregver­diges nie. Volgens die Nuwe Testament gaan die goddelose na die hel, ter­wyl die gelowiges uiteindelik na die hemelse heerlikheid van God op die *nuwe aarde gaan.

  • Doderyk (sjeool, hades)

Die voorstelling van die Ou Testament is dat die doderyk onder die aarde is en die teenoorgestelde is van die boaardse, hemelse sfeer van lig en lewe. Dis ‘n plek van duisternis en doodse stilte. Alle dooies gaan daarheen en daar is geen onderskeid tussen hulle nie. Dit is ‘n weer­sinwekkende plek en die gelowiges pleit sonder ophou by God om hulle nie daarheen te laat gaan nie. Volgens Job is die doderyk ‘n stikdonker land, ‘n land van don­ker nag met diep duisternis, waar niks georden is nie, ja, waar die lig self donker is (10:21-22). Die psalmdigter praat van die dooies as dié aan wie God nie meer dink nie en van wie Hy sy hand teruggetrek het, en verderaan vra hy retoriese vrae soos: “Sal U met dooies ‘n wonder laat gebeur? Kan gestorwenes opstaan en U loof? Word daar in die graf (‘n ander woord vir doderyk) vertel van u troue liefde? Word daar in die plek waar almal vergaan, van u trou vertel? Sal u wondermag ondervind word in die duisternis van die dood, u redding in die land van vergetelheid?” (88:6, 12 ev).

 

Hiskia is die klassieke voorbeeld van hierdie weersin in die doderyk. Hy kry die boodskap van Jesaja dat hy gaan sterf, en dan wend hy hom op ‘n dramatiese manier tot God (Jes 38). Hy pleit om nog langer te lewe. Die Here verhoor sy gebed, en dan kry ons sy lied met sy belewing van sy siekte en sy reaksie teen die dood en veral teen die doderyk (38:9-20).

 

Waarom sien hy nie kans om te sterf nie? Omdat hy na die do­deryk moet gaan. En “in die doderyk kan niemand U loof nie, geen­een wat dood is, kan U prys nie; niemand in die graf dink aan u trou nie! Net hulle wat nog lewe, kan U loof, so doen ek dit vandag” (38:18-19).

Dit klink vreemd om daaraan te dink dat dit juis die vromes is wat nie kans sien om te sterf nie. Waarom nie? Dis duidelik uit die aanhalings wat reeds gedoen is dat dáár geen verwagting meer is van gemeenskap met die Here nie. Hiskia sê: “In die doderyk kan niemand U loof nie. Net hulle wat nog lewe, kan U loof” (38:18-19).

 

Dit is aangrypend dat sy diepste behoefte, wat nie meer in die doderyk vervul kan word nie, is om God te loof. Is dit ook joune?

 

  • Hel (gehenna)

Dié woord kom van die naam van ‘n dal suid van Jerusalem wat die (Ben) Hinnomdal genoem is. Dit was die stad se vuilgoedhoop wat altyd gesmeul het. Volgens die Nuwe Testament is die hel ‘n vreeslike plek waar ‘n onblusbare vuur brand, ‘n donker plek waar mense altyd sal huil en op hul tande kners, ‘n plek wat gemaak is vir die duiwel en sy engele. Dit word ook die verderf, die vuurpoel, en die verdoemenis genoem (Mark 9:43 ev; Matt 25:30; Op 20:14 ev; 2 Tess 1:9).

Die gedagte van ‘n massa mense wat vir ewig in die aller­vrees­likste smarte sal wees, is vir ons moderne lewensgevoel so aanstoot­lik dat dit omtrent heeltemal uit die woordeskat van die Christen­dom verdwyn het. Dis seker net in uitsonderlike gevalle dat daar nog ernstige aandag daaraan gegee word. Dit is ook moeilik om sinvol in verband gebring te word met ‘n God van liefde.

Maar ons moet ook nie ons moderne menslikheidsgevoel ver­absoluteer nie. Daar is inderdaad harde kante aan die boodskap van die Bybel wat waarskynlik eerder bedoel is om ons te waar­sku as om redenasies uit te lok.

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Heilsweg (8)

Die Groot Geloofswoordeboek: Heilsweg (8)

Uit God gebore: ‘n merkwaardige begrip

Ons besef nie altyd hoe merkwaar­dig die begrip “wedergeboorte” is nie. Daar word ‘n hele paar voor­stellings vir die skeppingswerk van God gebruik (*Skepping), soos skepping deur die woord, skep­ping deur skeiding, skep­ping deur iets voort te bring. Hierdie voor­stellings kom ook al­mal voor by die volke rondom Israel. Eint­lik het Israel geen eie skeppingsvoorstellings nie. Hulle deel hierdie voorstellings met die ander volke. Maar hulle maak wel ‘n keuse. Daar is sekere voorstellings wat hulle nie gebruik nie, juis omdat hulle weet dit pas nie by hulle God nie.

Een van die voorstellings wat hulle nie gebruik nie, is skep­ping deur geboorte. Dit was algemeen by die ander volke. Veral die mense sou so geskape wees: ‘n manlike god en ‘n vroulike god sou gemeenskap gehad het en daaruit sou die eerste mense ge­bore ge­wees het. Dikwels was dit dan juis die koninklike familie wat so geskape sou wees. Dit het natuurlik aan hulle ‘n besondere status gegee: hulle was goddelik. Hulle is tog uit gode gebore.

Daar is minstens twee redes waarom Israel nie hierdie voor­stel­ling gebruik het nie. Daar is maar een ware God, daar is nie manlike en vroulike gode nie. En die mense stam nie van God af nie, hulle is deur God gemaak. Hulle is dus nie goddelik nie, net soos die res van die skepping. Net God is God en Goddelik. (*Skepping)

Maar juis dit alles maak dit soveel merkwaardiger dat die Nu­we Testament dan tog gelowiges in hierdie unieke ver­hou­­ding tot God laat staan as “kinders van God”, en dat die ge­boor­tevoorstel­ling inderdaad gebruik word: hulle is “uit God gebore”, en “God se saad” is in hulle. Petrus sê dieselfde in ‘n ander woord: Gelowiges kry deel aan die Goddelike natuur (2 Pet 1:4). Dit is nie regtig so ver van Paulus se boodskap af nie dat ons deur die doop aan Christus se sterwe en opstanding deel kry sodat Christus nou ons lewe is (Kol 3:4).

Die Katolieke praat van die vergoddeliking van die mens. Ons as Protestante het tereg nog altyd gehuiwer om dit te sê, maar die begrippe “kinders van God” en “uit God gebore” gee ons ‘n on­ge­looflike naby verhouding met God, ‘n verhouding wat ons nie deur die skepping gekry het nie. Tereg skryf Johannes dat ons nie van nature (kragtens die skepping) hierdie verhouding met God het nie, maar net kragtens die wedergeboorte.

 

‘n Paar slotopmerkings oor wedergeboorte

Eerstens moet ons oppas vir die manier waarop sommige “weder­geboorte” met geboorte vergelyk en dan allerlei afleidings daaruit maak. Om­dat ons by ons geboorte heeltemal passief is en geen by­drae maak nie, sou dit dan ook so wees by ons wedergeboorte. Ons is vol­kome passief. God alleen doen alles. Ons moet eenvoudig wag tot iets met ons gebeur, en dan kan ons eers reageer. Veral mense wat nog in die ou terme dink van een gebeurtenis na die ander (eers wedergeboorte, en dan bekering), beweer dan dat ons van ons kant niks kan doen nie.

Dit is ‘n afleiding wat nie pas in die klassieke hoofstuk oor die wedergeboorte nie. Dit is nie waar dat Jesus vir Nikodemus sê, of selfs net impliseer, dat hy eers moet wag tot iets met hom gebeur, en voor die tyd nie kan reageer op die evangelie nie. Inteendeel. Jesus rig ‘n appèl tot Nikodemus. As Nikodemus vra hoe dit moont­lik is om nog ‘n keer gebore te word, is Jesus se reaksie nie dat hy moet wag tot God iets doen nie. Jesus roep hom dringend op tot geloof (Joh 3:10-15). Die boodskap oor die wedergeboorte loop juis uit op die bekendste heilsaanbod in die hele Bybel waarin die persoonlike verantwoordelikheid ten sterkste beklemtoon word (3:16). En die vervolg van die hoofstuk is ‘n herhaling van die belangrikheid dat ‘n mens moet glo (3:17-21).

Die reeks begrippe wat gebruik word vir die wyse waarop ons aan die heil deel kry, gee ‘n besonder ryk, gevarieerde beeld. Daar is geen manier waarop hierdie begrippe ervarings kan voorstel wat een na die ander gebeur nie.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Heilsweg (7)

Die Groot Geloofswoordeboek: Heilsweg (7)

  • Wedergeboorte (Nuwe lewe) (*Kind/Kinders van God)

Soos die ander begrippe oor die heilsweg is wedergeboorte ‘n ra­dikale woord. Dis eintlik skokkend om te dink ‘n mens moet nog ‘n keer gebore word. Jou eerste geboorte was nie goed genoeg nie. ‘n Motor met ‘n paar lelike stampe kan nog by die duikklopper reggeklop word. Maar as jy die motor weer wil opsmelt om dit heel­temal oor te maak beteken dit dit was onherstelbaar be­ska­dig. Dis wedergeboorte. God moet ons oormaak.

‘n Paar sake is belangrik. Die eerste is dat dié woord eintlik baie min in die Bybel voorkom, net ses keer (Matt 19:28; Joh 3:3; Tit 3:5, 7; 1 Pet 1:3, 23 – in ‘n paar gevalle net in die 1953-vertaling). Dit skep die indruk dat dit nie eintlik baie belangrik is nie. Ook omdat ons nie in enige een van hierdie plekke ‘n goeie beeld kry van wat dit beteken nie. Maar dis ‘n misverstand. Dieselfde gedagte kom oor en oor in ander woorde voor. Dink maar net aan Paulus wat skryf dat ons nuwe mense of ‘n nuwe skepping is, en selfs dat ons nog dag na dag verder vernuwe moet word, en Johannes wat skryf dat ons uit God gebore is en kinders van God is.

Die gedagte dat ons totaal nuut gemaak is en heeltemal ‘n an­der soort lewe moet lei, kom sterk by Paulus na vore. Dink maar aan die radikale uitspraak: “Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nu­we mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God” (2 Kor 5:17-18). Trouens, dit kan selfs vertaal word met: Iemand wat aan Christus behoort, is deel van ‘n nuwe skepping. Die totale ou orde/tydperk is verby, ‘n totaal nuwe orde/tydperk het gekom. Dit oue en die nuwe is dus nie maar net die individu se ou lewe wat verby is en nuwe lewe wat begin het nie. Deur Jesus het die totale werklikheid ‘n nuwe tydperk ingegaan, die tyd waarin die koninkryk van God op hande is.

Natuurlik sluit dit ons eie individuele lewe in. Daarom die uit­gebreide vermanings in Efesiërs en Kolossense. Deur die geloof in Jesus het ons ‘n nuwe lewe ontvang. Ons is nuwe men­se. Daarom moet ons ‘n nuwe lewe lei, anders as die ou lewe in die sonde (Ef 2:10; 4:20 ev; Kol 3:9 ev). En dit word baie konkreet gemaak met lyste sondes waarmee ons moet ophou, en lyste nuwe dinge wat ons lewe moet vul. Lees dit gerus.

Die gedagte dat ons kinders van God is, kom nie op baie plekke in die Nuwe Testament voor nie, maar tog ‘n paar keer in Romei­ne 8 en 9, in Galasiërs 3 en 4, en in 1 Johannes 3. By Paulus kom die prag­tige gedagte voor dat ons nie net kinders van God is nie, maar selfs erfgename van God, wat beteken dat ons saam met Jesus gaan erf. In dieselfde verband word Jesus dan ook ons broer genoem (Rom 8:14 ev; Gal 4:7; Rom 8:29).

Veral Johannes ontwikkel die gedagte van kindskap verder (1 Joh 2:28-3:10). En dis interessant dat juis hy dit doen omdat dit ook juis hy is wat bekend is vir die begrip “wedergeboorte”.

Johannes begin met “Kyk”, wat ‘n uitroep van verbasing is. Dis eintlik ongehoord. Mense wat sondaars is, kom in die allernouste verhouding denkbaar met God: kinders! Dit is dus nie vreemd nie dat hy ‘n interessante toevoeging maak: “en ons is dit.” Dis asof hy wil sê “Kind van God” is nie maar net ‘n titel nie, dis die werk­likheid.

Dit ondersteun hy dan verder met die gedagte dat ons “uit God gebore is” en dat “die saad van God” in ons bly (1 Joh 3:9, 1953-ver­taling). Dit kom ook voor in sy Evangelie: ons het die reg om kin­ders van God te word, want “ons is uit God gebore” (1:12-13, 1953-vertaling) of God is ons Vader (1983-vertaling).

Maar daaruit ontwikkel hy dan ‘n merkwaardige gedagte, iets soos “aardjie na sy vaartjie” (‘n kind moet na sy pa aard). As ons kinders is, sal ons by ons Vader moet pas. Daarom is dit nie vreemd dat die wêreld ons nie ken nie. Hulle ken Hom nie (1 Joh 3:1). “Ken” beteken hier iets soos “verstaan”: die wêreld verstaan nie ons manier van lewe en veral ons lewenswaardes nie omdat ons oor­geskakel het na God se waardes, en dit lyk baie anders. Of lyk dit in jou lewe regtig so anders?

Daar kom ‘n tweede gedagte by: omdat Jesus die Seun van God is en ons is kinders van God, moet daar tussen ons en Hom ‘n soort ooreenkoms wees. Wanneer Jesus kom, sal ons “soos Hy wees”, maar intussen moet ons iets daaraan doen: ons moet ons lewe so rein hou soos Hy rein is (1 Joh 3:2-3). Hierdie “soos” laat ‘n mens na jou asem snak, maar dit word baie in die vermanings van die Nuwe Testament gebruik en is ‘n geweldige gedagte: tus­sen ons en Jesus, en selfs tussen ons en God, moet daar ‘n soort ooreenkoms wees. En dis ook nie heeltemal so vreemd nie, ons is dan sy beeld, of ons is tenminste veronderstel en bedoel om sy beeld te wees. (*Beeld van God)

Die pad wat Johannes dan hier verder loop in terme van die totale onaanvaarbaarheid van sonde in ons lewe (3:4-9), is ener­syds volkome logies, maar andersyds byna te veel om waar te wees. (*Kind/Kinders van God, *Perfeksionisme)

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Heilsweg (6)

Die Groot Geloofswoordeboek: Heilsweg (6)

  • Verlossing

Verlossing word in die Bybel omvattend gebruik: vir bewa­ring, genesing, saligheid. Dit sluit dus die liggaamlike en geestelike behoeftes van mense in. In die Ou Testament word dit dikwels ge­bruik vir die redding uit Egipte, wat die bevryding van Israel uit konkrete nood was (Eks 15:2; Deut 32:15). Verlossing word gereeld in die Ou Testament en selfs tot in die Nuwe Testament gebruik wanneer Israel of ‘n individu se verlossing van vyande ter sprake is (2 Sam 22:2-4; Ps 107:13 ev; Luk 1:68-75). Verlossing word ook gebruik vir redding uit gewone nood (Matt 8:25; 14:30; Hand 27:43; 28:4) en vir Jesus en die apostels se genesings. Dit is jammer dat vertalings ander woorde gebruik wanneer dit om genesings gaan, maar dieselfde Griekse woord word vir genesing én saligheid ge­bruik (Matt 9:21-22; Hand 14:9-12).

Verlossing of redding word ook vryelik vir redding van sonde en saligheid gebruik (Mark 5:34; 10:52; Luk 7:50; 17:19; Rom 10:1; 13:11; 1 Kor 3:11; 15:2)

 

  • Verlosser (Enigste Verlosser)

In hierdie verband word Jesus dan verkondig as die Verlosser. Hy verlos mense dan omvattend deur in al hulle nood te voorsien. Maar die vraag wat dan telkens na vore kom, is of Hy regtig die enigste Verlosser is.

Argumente wat na vore gebring word teen die feit dat Jesus die enigste Verlosser is, is onder andere die feit dat baie mense alreeds voor die koms van Jesus dood is, dat baie mense sedertdien dood is sonder dat hulle van Hom gehoor het, dat ons hoogmoedig is as ons maak of ons godsdiens beter as ander s’n is. (*Godsdiensge­lyk­heid) Teorieë word dan aangebied dat God magtig is om mense deur enige gods­diens te red solank mense maar net eerlik en opreg in hul godsdiens is, of dat mense dit net nie besef nie, maar dat hulle in werklikheid tog Christene is as hulle net ‘n goeie lewe lei.

Kom ons kyk wat ons in die Bybel hieroor kry.

 

Nuwe Testament

In die Nuwe Testament is daar ‘n paar sterk uitsprake oor die uniekheid van Jesus. “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.” Jesus “bring die verlossing, en niemand anders nie. Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie” (Joh 14:6; Hand 4:12). Hierdie uitsprake sê so dui­delik as wat taal dit kan sê dat Jesus die enigste Verlosser is. Maar daar is meer.

Paulus loop in Atene rond (Hand 17:16 ev). Hy kom diep onder die indruk van hoe godsdienstig hierdie mense is, in so ‘n mate dat hulle selfs ‘n altaar het vir ‘n onbekende God. Hulle wil nie dalk iewers “uitmis” nie! Hulle het ruimte vir alle gode, selfs dié waarvan hulle nog nie gehoor het nie.

Wat is Paulus se reaksie? Hy verkondig aan hulle juis hierdie onbekende God. Hy is die Een wat alle mense gaan oordeel. Hy is die een ware God. En Hy het een Man aangewys deur Wie Hy alle mense gaan oordeel. Almal moet hierdie Man aanvaar, en daarom het God Hom uit die dood opgewek (17:30-31). En as die gehoor dit nie wil aanvaar nie, verlaat Paulus die stad sonder enige toegewing asof ander gode ook goed genoeg kan wees.

As Paulus ruimte daarvoor gehad het dat ander gode ook goed genoeg is, was dit die ideale geleentheid om dit te sê. Immers, hy het nie veel sukses in Atene nie. Ons het hier een van die min geleenthede waar hy in ‘n stad preek en ons hoor nie dat daar ‘n gemeente gevorm is nie. Net ‘n paar mense reageer positief op sy boodskap. En tog lees ons: “So (sonder sukses) het Paulus van hulle af weggegaan” (v 33).

Jesus, of niks!

 

Ou Testament

Dat Jesus die enigste Verlosser is, is nie iets vreemds en buitenge­woons in die Bybel nie. Dit is deel van ‘n baie ou en sterk boodskap dat daar net een ware God is. (*Drie-eenheid) Die Ou Testament is bekend met baie gode: Baäl, Astarte, Asjera, Dagon, Nebo, die He­melkoningin, en nog ander. Trouens, die bewoording van die eer­-ste gebod veronderstel dat daar baie ander gode is: “Jy mag naas My geen ander gode hê nie.” Israel mag net hierdie God dien, die ander mag hulle nie dien nie.

Natuurlik kan die teenargument wees dat dit net vir Israel geld, en dat Jesus net vir die Christene die enigste Verlosser is. Maar dit maak die vroeë kerk se sendingwerk sinloos, en ook die aansprake van die Ou Testament dat God die God van die hele wêreld is en dat al die nasies na Jerusalem sal stroom om Israel se God daar te aanbid (Jes 2:2-5, Jer 3:17; 4:1-4; 32:27; Ps 22:28 ev).

Dit is ‘n duidelike en sterk lyn in die Bybel. Daar is een ware God, en Jesus is die openbaring van hierdie God en die enigste Verlosser.

Dit beteken nie dat ons duidelikheid het oor mense wat nooit die evangelie gehoor het nie. Ons het nie daaroor duidelike uitspra­ke in die Bybel nie. Maar ons het duidelike uitsprake oor die God van Israel as die enigste ware God, en sy Seun, Jesus, as die enigste Verlosser, en ons roeping is om hierdie boodskap aan alle mense te verkondig en Hom as Verlosser aan hulle aan te bied.

En dit is ook nie duidelik of ons eendag aan God die vraag sal kan vra: “Wat van die mense wat nooit gehoor het nie?”, en of Hy dit nie dalk aan ons sal vra nie.

Verder is daar ook nog die beskuldiging dat Christene hoog­moedig is om hulle Verlosser aan te bied as die enigste een. (*Gods­diensgelykheid) As Christene dit uitgedink het, sou dit nogal ‘n argument gewees het. Maar omdat hulle dit ontvang het en deur­gee soos hulle dit ontvang het, kan dit dalk selfs uit nederigheid wees. Sou hoogmoed nie dalk juis die teendeel wees nie: om op eie gesag dit wat jy ontvang het te verander in dit wat jou pas nie?

 

Skrywer: Prof Adrio König