Die Groot Geloofswoordeboek: Apokaliptiek(2)

Die Groot Geloofswoordeboek: Apokaliptiek(2)

Apokaliptiek

Die woord “apokaliptiek” is afgelei van ‘n Griekse woord. Dit dui op ‘n wêreldbeskouing met sterk bonatuurlike elemente, soos bo­se magte wat die natuur en die mense aanval, goeie magte wat die kinders van God beskerm, wonderwerke, ‘n bonatuur­li­ke wêreld­einde wanneer die sterre sal val, Christus weer sal kom, die dooies sal opstaan, die hele mensdom geoordeel sal word en die aarde nuut gemaak sal word. Dit is ‘n wêreldbe­skouing wat eers laat in die tyd van die Ou Testament ontwikkel het, eers tydens en na die ballingskap, en eintlik omtrent net in Daniël voorkom behalwe vir ‘n paar hoofstukke elders, soos Jesaja 24-27 en Sagaria 9-14. Dit kom egter sterk na vore in die *Apo­krie­we boeke wat ná die balling­skap geskryf is en deel van Jesus en die dissipels se “Bybel”, die Ou Testament, was. Hulle was dus tuis in hierdie wêreldbeskouing, en Jesus het self in hierdie terme oor sy tyd en die toe­koms gepraat.

Ook ander belangrike groepe onder die Jode het dit aanvaar, al was daar interessante verskille. Die Fariseërs het aanvaar dat daar ‘n opstanding sal wees teenoor die Sadduseërs wat dit nie aanvaar het nie. Hulle het trouens net die eerste vyf boeke van die Bybel aanvaar.

Jesus self sluit sterk aan by hierdie siening. Die *koninkryk van God wat Hy verkondig en laat aanbreek het (Matt 12:28; Luk 11:20), was deel van hierdie apokaliptiese (“bonatuurlike”) wê­reldbeeld. Wat Jesus uniek maak, is dan ook nie dat Hy ver­kon­dig dat daar ‘n opstanding sal wees nie. ‘n Groot deel van die Jodedom, insluitend die Fariseërs, het dit in elk geval geglo (Joh 11:24). Wat Hom uniek maak, is die feit dat Hy self opgestaan het en daarmee die verwagting van die opstanding in vervulling laat gaan het en bevestig het dat Hy alreeds in die *eindtyd geleef het (Hand 4:2).

Woorde gemerk met ʼn * sal elders volledig bespreek word.

Outeur: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Apokaliptiek

Die Groot Geloofswoordeboek: Apokaliptiek

• Ou-Testamentiese apokriewe

Ons kyk eers na die Ou-Testamentiese apokriewe. Die Bybel wat die meeste Protestante gebruik, het minder boeke as die Bybel wat die Katolieke gebruik. Die ekstra boeke in die Katolieke se Bybel word die Apokriewe boeke genoem. Die meeste Katolieke Bybels sluit omtrent sewe sulke boeke in: 1 en 2 Makkabeërs, Tobias, Judit, die Wysheid van Salomo, die Wysheid van Jesus die seun van Sirag, en verder ook toevoegings tot Jeremia. Sommige Bybels sluit verder nog ‘n paar ander in: 1 en 2 Esdras en ‘n paar toevoegings tot Ester en Daniël.

Hierdie apokriewe boeke bestaan hoofsaaklik uit ‘n aantal hi­s­toriese boeke en ‘n paar wysheidsgeskrifte. Die groot waarde van die historiese boeke (Esdras en Makkabeërs) is dat dit groot dele dek van die geskiedenis wat nie in ons Bybel gedek word nie, die tyd tussen die terugkeer uit die ballingskap en die geboorte van Jesus. Dit is omtrent 400 jaar wat nie in die Protestante se “kleiner” Bybel gedek word nie.

Die apostels en die vroegste Christene het natuurlik nog nie die Nuwe Testament gehad nie. Hulle Bybel was die Ou Tes­ta­ment. Dis egter interessant om te weet dat die apostels gewoon­lik die Griek­se vertaling van die Ou Testament gebruik het, die *Septuagint. Hierdie vertaling het die apokriewe boeke in­ge­sluit sodat die apokriewe boeke deel van die apostels en vroeë Chris­tene se Bybel was. Die skrywers van die Nuwe Testament ver­wys byvoorbeeld op dieself­de manier na hierdie boeke as na die ka­nonieke boeke in ons Ou Testament (Jud v 14, 15). Trouens, vir 1 500 jaar na Christus het die kerk hierdie langer Ou Testament ge­bruik. Die Jode het egter kort na Christus van hierdie langer Griek­se Ou Testament afgesien en net die korter Hebreeuse Ou Tes­tament as hul heilige geskrif erken. In die tyd van die *Kerk­hervorming het *Luther en veral *Calvyn besluit om nie verder die Christene se Ou Testament te gebruik nie, maar terug te gaan na die Jode se korter Ou Testament. In Ek glo die Bybel het ek hierdie geskiedenis met sy voor- en nadele breedvoerig be­handel.

Een van die nadele van hierdie besluit van die Kerkhervor­­mers is dat ons vandag baie min agtergrond het van die *apokaliptiek (apokaliptiese wêreldbeeld) wat juis in hierdie 400 jaar tussen die Ou Testament en die tyd van Jesus ontwikkel het. Dit is juis die wêreldbeskouing waarby Jesus direk aangesluit het. In ons Ou Testament het ons net een enkele duidelike verwysing na die opstanding (Dan 12:2). Dan vind ons dit vreemd dat dit in die tyd van Jesus ‘n algemene oortuiging was van die man op straat. Maar in die apokriewe boeke sien ‘n mens in besonderhede hoe hierdie oortuiging in die tyd tussen ons Ou Testament en Jesus ontwikkel het tot ‘n wesenlike deel van die geloof van groot dele van die Jo­de­dom.

 

  • Nuwe-Testamentiese apokriewe

Daar is ook apokriewe boeke van die tyd van die Nuwe Tes­ta­ment. Daar is onder andere Evangelies van Jakobus, Tomas, Petrus en Ni­ko­demus, en Handelinge van Johannes, Paulus en Petrus, en ook ‘n Openbaring van Petrus. Die Evangelie van Tomas ge­niet vandag hoë aansien in die geledere van die sogenaamde *”Nuwe Her­vor­ming”. Hierdie geskrifte het egter nie erkenning onder die vroeë Christene gekry nie.

Verder is daar ‘n paar geskrifte wat deur die eerste geslag kerk­­­-leiers na die apostels geskryf is, soos 1 Klemens en die Di­dagé. Anders as die eerste groep geskrifte het hierdie laaste twee wel by sommige ‘n mate van erkenning gehad, maar hulle word nie vandag as deel van die Nuwe Testament beskou nie. (*Kanon) Dit beteken dat die geskiedenis van die vorming van die Nuwe Tes­tament minder in­gewikkeld was as dié van die Ou Testament.

 

Woorde gemerk met ʼn * word elders bespreek

 

Outeur: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Apostel en dissipel

Die Groot Geloofswoordeboek: Apostel en dissipel

Apostel

Apostel is ‘n Griekse woord wat net soos “halleluja” en “amen” net in ons (Arabiese) letters oorgeskryf is. Die woord het oor­spronklik verband gehou met iemand wat gestuur is. In die tyd van Jesus se aardse bediening word meestal van “dissipels” ge­praat wat iets soos volgelinge of leerlinge beteken. Die dissipels is nie in die tyd van Jesus dikwels apostels genoem nie. “Dissipels” of “die twaalf” is die gewone benaming. Maar ons kry “apostels” tog hier en daar in die Evangelies, veral in Lukas (Matt 10:2; Mark 6:30; Luk 9:10; 17:5). Dis nie duidelik of die Evangeliste hulle maar later, toe hulle die Evangelies geskryf het, so genoem het omdat hulle toe al aan die woord gewoond was nie. In Handelinge neem die woord “apostels” heeltemal oor en word hulle glad nie meer “dissipels” genoem nie.

Na die opstanding van Jesus word Mattias in die plek van Judas gekies (Hand 1:26), maar ‘n mens hoor nooit weer van hom nie. Later lyk dit of Paulus eintlik die plek van die twaalfde apostel in­geneem het (1 Kor 9:1 ev; 15:9-10).

Die woord “apostel” word later in die Nuwe Testament ook vir ander leiers gebruik (Rom 16:7; 2 Kor 8:23; Fil 2:25), maar som­­mige vertalings, soos dié van 1983, het verkies om dit met ander woorde te vertaal soos “afgevaardigde” (2 Kor 8:23). Oor Romeine 16:7 is daar groot verskille. Die Grieks laat meer as een vertaling toe. Ver­talers kies tussen ten minste twee moont­lik­hede: ons lees daar van Andronikus en Junias: “hulle is hoog­aan­geskrewe by die apostels”, of “hoogaangeskrewe onder die apos­tels”, of selfs “hulle neem on­der die apostels ‘n besondere plek in”. Die verskil in betekenis is duidelik. Hierdie twee was óf mense wat deur die apostels hoog geag is, maar self nie apos­tels nie, óf hulle was vername apostels. Wat hierdie uitspraak nog meer omstrede maak, is die feit dat daar nie so ‘n naam soos Junias (‘n man) bekend is nie; wel Junia, wat ‘n naam vir ‘n vrou is. Dit kan beteken dat ons hier met ‘n man en ‘n vrou te doen het, en dus dat daar ‘n vroulike apostel was, ‘n saak baie na aan die hart van mense wat pleit vir vrouens in die kerklike ampte. Niks is egter seker hieroor nie. (*Feminisme)

Die apostels het ‘n baie belangrike plek in die grondlegging van die kerk ingeneem. Hulle was volgelinge van Jesus wat op ‘n be­sondere manier deur Hom opgelei en voorberei is om die evan­ge­lie verder te dra. Wanneer die kerk die tempel van God genoem word, word hulle saam met Christus genoem: Hy is die hoeksteen, hulle is (saam met die profete van die Nuwe Tes­tament) die fondament van die kerk (Ef 2:20). Daarom praat ons vandag nog van die *apostolisiteit van die kerk as ‘n onmisbare eienskap.

Dit is dan ook nie vreemd nie dat die vroeë kerk besondere ont­sag vir die apostels gehad het. Die vraag of ‘n bepaalde geskrif met ‘n apostel verband gehad het (bv deur ‘n apostel geskryf is of deur die volgeling van ‘n apostel), was een van die belangrike sake wat gesag aan ‘n geskrif gegee het sodat dit later as deel van die Nuwe Testament beskou is. (*Kanon) Alhoewel hulle geweet het dat Markus nie ‘n apostel was nie, was dit genoeg om te weet dat hy ‘n besondere verhouding met Petrus gehad het. En Lukas weer met Paulus. Verder was hulle oortuig dat Matteus en Johannes self apostels was.


Petrus

Die rol van Petrus het altyd besondere aandag getrek. Dit lei min twyfel dat hy die leier onder die dissipels was. Wanneer Jesus die dissipels aangespreek het, was dit telkens hy wat geant­woord het, dikwels duidelik as hulle verteenwoordiger (Mark 8:27-30). Ook ná die koms van die Gees is hy die spreekbuis (Hand 2:14 ev).

Die vraag is egter of die kerk regtig op Petrus gebou is. Die Ka­tolieke Kerk glo dit na aanleiding van onder andere Matteus 16:18 waar Jesus vir hom sê: “Jy is Petrus, en op hierdie rots (petra) sal Ek my kerk bou.” Die woordspeling is opvallend. Die Katolieke aan­vaar dat Petrus die rots is. Daarom glo hulle hy is die aardse hoof van die kerk (hulle ontken nie dat Christus die hemelse Hoof is nie), en die *pous is sy opvolger. Die pous moet dus die leier van die kerk wees.

Die meeste ander kerklike tradisies is nie so seker hiervan nie. Sommige meen dat Jesus bedoel het die rots waarop die kerk gebou word, is Petrus se belydenis (hy het net tevore bely dat Jesus die Messias is). As Hy regtig die kerk op die persoon van Petrus wou bou, kon Hy maklik genoeg gesê het: Jy is Petrus en op jou sal Ek my kerk bou.

‘n Mens kan vra waarom jy so min van die meeste ander apos­tels in die Nuwe Testament lees. Eintlik is dit net Petrus, Ja­kobus en Pau­lus wat prominent is in Handelinge. Maar ‘n mens moet ont­hou dat Handelinge deur Lukas geskryf is wat na aan Paulus gestaan het, en dat Petrus en Jakobus in elk ge­val aan die begin ‘n prominente rol gespeel het. Die ander kon in ander verbande baie gedoen het wat maar net nie in die Nu­we Testament genoem word nie. Die Nuwe Testament is nie planmatig opgestel om vir die nageslag ‘n volledige verslag te bewaar van alles wat gebeur het nie. Geen apostel het besef sy geskrifte gaan later opgeneem word in ‘n bundel wat die eeue sal ingaan nie. Hulle het maar net geskryf wat op daardie oom­blik belangrik was vir die groep aan wie die geskrif gerig was. Uit ander bronne weet ons dat ander apostels in ander gebiede betrokke was. Daar is byvoorbeeld die oorlewering dat Matteus vroeg na Indië is en dat die kerk wat van baie vroeg af in Indië bestaan, na sy sendingwerk teruggevoer kan word.


Woorde gemerk met ʼn * word elders bespreek.

 

Outeur: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Die Ampte

Die Groot Geloofswoordeboek: Die Ampte

Amp • Predikant (leraar) • Pastoor • Priester

• Ouderling • Diaken • Amp van die gelowige

Amp

Die woord “amp” kom nie in die Bybel voor nie. Dit word in die meeste historiese kerke gebruik om bepaalde leiersposisies in die gemeente aan te dui. In die *Gereformeerde tradisie word onderskei tussen twee soorte ampte: besondere ampte en die amp van die gelowige.

Besondere ampte

Onder die besondere ampte tel predikant, ouderling en diaken. In die Gereformeerde Kerke vorm hulle saam die *kerkraad, wat die regsliggaam van die gemeente is. Tradisioneel word die pre­dikant met die profeet vergelyk wat die woord van die Here aan die volk verkondig het, die ouderling met die koning wat na­mens die Here oor die volk regeer het, en die diaken met die priester wat die diens in die tempel verrig het.

 

Predikant (leraar)

Die werk van die predikant (leraar – wat nie ‘n goeie be­skry­wende woord vir hierdie amp is nie) het dan hoofsaaklik te doen met die verkondiging van die Woord, wat die bediening van die sakramente (doop en nagmaal) insluit.

 

Ouderling

Die werk van die ouderling is om toesig oor die gemeente te hou, wat toesig oor die predikante insluit, en veral toesig oor die suiwer­heid van hul leer en lewe.

 

Diaken

Die werk van die diaken is om na die nood van lidmate om te sien.

In die tradisionele vorm van die Gereformeerde Kerke het hier­die ampte die hele bedieningstruktuur uitgemaak. Die ge­meen­te is net bedien, hulle het nie self ‘n bediening gehad nie.

In teorie is hierdie ampte almal gelyk sodat die een nie meer ge­sag as die ander het nie. In die praktyk het die predikant ge­woon­lik meer gesag. Die teoretiese gelykheid van die beson­dere ampte staan teenoor die hiërargiese ampstruktuur van die sogenaamde Hoog­kerklike denominasies, soos die *Katolieke Kerk en die *An­glikaanse Kerk, waar die biskop hoër gesag as die priester het. In die onafhanklike Charismatiese kerke is daar ook ‘n hiërar­gie om­dat daar ‘n enkele leiersfiguur is.

In sekere kerke is die neiging deesdae eerder in die teen­oor­gestelde rigting: om liewer van “dienste” of “bedienings” as van “ampte” te praat sodat almal dan gelyke gesag en verant­woor­de­likheid het.

 

Amp van die gelowige

Die amp van die gelowige beteken dat elke gelowige direk kontak met God het en nie afhanklik is van tussengangers soos die besonde­re ampte (predikant of pastoor of priester) nie. Dit dui ook op die verantwoordelikheid van elke lidmaat om in die gemeente diens te lewer en na buite ‘n getuie van Jesus te wees.

Die historiese kerke wat uit die *Kerkhervorming voortgekom het, probeer die gewone gelowiges (die amp van die gelowige) ster­ker na vore bring nadat daar tradisioneel in die *Katolie­ke Kerk ‘n duidelike onderskeid gemaak is tussen die geestelike vol­wassen­heid van die besondere ampte (biskop, priester) en die sogenaamde “geestelikes” (the religious) aan die een kant, en die lid­­mate (die leke, laity) aan die ander kant. Hulle is as geestelik on­volwasse beskou.

Die leer van die amp van elke gelowige is ‘n pragtige Bybelse leer. Dit hou verband met die *Liggaamsmodel (1 Kor 12) van ge­meen­tewees, die gedagte dat elke gelowige ‘n soldaat vir Christus is (2 Tim 2), of ‘n steen in die tempelmuur (1 Pet 2:5). Die probleem is dat dit nie in die kerke van die Hervorming tot sy reg gekom het nie. Die verwringing van die *Herder-kudde-model het van die lidmate toeskouers gemaak wat bedien moet word, en nie mense wat ander met hulle gawes bedien nie.

 

Woorde gemerk met ʼn * sal later meer volledig bespreek word.

 

Outeur: Prof. Adrio König