Die Groot Geloofswoordeboek: Spiritualiteit

Die Groot Geloofswoordeboek: Spiritualiteit

Spiritualiteit • Kerklike tradisies Gereformeerde spiritualiteit Evangeliese spiritualiteit Evangelicals) Pinkster-Charismatiese spiritualiteit

Spiritualiteit

Spiritualiteit is ‘n begrip wat veral die laaste twee dekades na vore gekom het in die Afrikaanse kerklike taal. Dit het veral gebeur na aanleiding van die *Vernuwingsbeweging in die NG Kerk sedert die 1980’s. Voorheen is dit uiters selde gebruik, anders as in die Ka­tolieke tradisie en sekere Protestantse en veral Evangelical tra­di­sies in Noord-Amerika. Anders as hier ter lande, is Spiritual Theo­logy daar ‘n bekende vak vir teologiese studie.

Spiritualiteit verwys na die soort of tipe vroomheid of geloofs­belewing. Dis verwys na die algemene manier waarop mense hulle geloof beleef en die Here dien. Dit gaan nie soseer oor die leer nie as oor die lewe, oor die manier waarop ons ons geloof (die leer) uitleef. Daarom is daar sterk verbande tussen leer en lewe. Spiritualiteit kry die duidelikste gestalte in die erediens en die gemeente-organisasie en -funksionering.

 

Kerklike tradisies

‘n Mens moet onderskei tussen verskillende tradisies in die Chris­telike kerk. Daar is minstens twee groot strominge: die hoog­kerk­li­ke tradisie, en die laagkerklike tradisie. ‘n Mens kry die twee in een enkele kerk, die *Anglikaanse Kerk. Ook die *Katolieke Kerk en *Ortodokse Kerke is hoogkerklik, wat onder andere beteken baie for­meel met ‘n sterk liturgiese inslag. Hierdie in­deling is egter nie waterdig nie. Daar is mense wat byvoorbeeld die Evan­geliese *Lutherse Kerk en selfs die *Gereformeerde Kerke en ander kerke soos die Presbiteriaanse Kerk as hoogkerklik sal beskou.

Onder die laagkerklike groep is daar verdere indelings moont­lik, soos die Pinkster-Charismatiese tradisie en die Evan­geliese tra­disie. Die begrip “Evangelies” kan misverstaan word. In Europa be­te­ken dit eenvoudig Protestants teenoor Kato­liek. Om­dat dit in die Engelse wêreld ontstaan en uitgebrei het, is dit eintlik beter om van “Evangelical” te praat. Dit is dan ook wat ons hier daaronder ver­staan.

Hierdie tradisie het sy basis veral in die groot Baptistekerke in Engeland en die VSA. Die Metodistekerk het byvoorbeeld as ‘n Evan­geliese kerk ontstaan, al sal almal dit nie meer vandag daar­onder indeel nie.

Mense sal praat van Gereformeerde vroomheid, Pinkster-Cha­rismatiese vroomheid, mistieke vroomheid, hoogkerklike vroom­heid (Anglikaans-hoogkerklik en Katoliek). Die tipe spi­ritualiteit kom baie sterk na vore in die erediens, maar ook in die gewone lewe. ‘n Toegewyde Gereformeerde Christen en ‘n toegewyde Pink­ster-Christen het net eenvoudig twee verskillende maniere om oor die Here te praat, en beleef elke Sondag die Here verskillend in hul eredienste.

Binne die konteks van die meeste lesers van hierdie boek, is daar drie tipes spiritualiteit of vroomheid wat deur sommige as “op­po­nerende magte” beskou word: Gereformeerde vroomheid, Evan­geliese vroomheid en Pinkster-Charismatiese vroomheid.

 

Gereformeerde spiritualiteit (Gereformeerde tradisie)

‘n Vraag wat vandag wyd be­spreek word, is presies wat Gere­for­meerde spiritualiteit is. Uit ‘n hele aantal kenmerke kan net ‘n paar hier genoem word, maar dit sal tog ‘n idee gee van waaroor dit gaan.

 

Nederig en dankbaar

Gereformeerdes beklemtoon dat God ten volle voorsien het vir ons saligheid deur die onoortreflike offer wat Christus gebring het sodat ons niks hoef by te dra om gered te word nie. Vanselfsprekend moet dit ons baie nederig en innig dankbaar maak. Nederig omdat selfs die beste wat ons sou kon aanbied, geen waarde het nie. En dankbaar omdat God alles voorsien het terwyl ons niks verdien het nie.

 

Vol vertroue en rustig

Omdat God alles voorsien het, hoef ons nie op ons naels te byt oor die vraag of ons gered is nie. Hy het die inisiatief geneem. Hy het dit ernstig bedoel. Hy wil ons dus graag red. Ons kan dus net ons vertroue op Hom stel en dan in gerustheid ons lewe lei. Ons hoef selfs nie bekommerd te wees oor die vraag of ons enduit sal volhou nie. Hy is getrou, daarom sal ons volhard. Gereformeerdes sal dus nie soveel nadruk op hulle persoonlike belewing van hul geloof en veral hul persoonlike bekering lê nie, eenvoudig omdat alles van God af kom.

 

Belangstelling in die Bybel

Gereformeerdes het ook ‘n besondere nadruk op die Bybel as die finale rigsnoer vir ons leer en lewe. ‘n Mens sal dus verwag dat hulle nie baie in mistieke vroomheid sal belangstel nie, veral nie in woordlose mistiek, stil meditasie nie; dat hulle eerder sal belangstel in die Bybel, preke, Bybelstudie en in geartikuleerde gebede. Daar word dikwels ook verwys na die nugterheid van hulle spiritualiteit, sonder veel emosie, ge­bede met netjies ge­formuleerde sinne en min stembuiging, eer­der saaklik as sme­kend.

 

Samelewingsbetrokkenheid

Omdat hulle glo dat Christus die Heer is oor alle terreine van die lewe, sal hulle ook sterk by die hele samelewing betrokke wil wees.

 

Eredienste

In die eredienste is daar ‘n soberheid en eerbied wat nie ruimte het vir uitbundigheid nie. Dit word soms ‘n ingehoue blydskap genoem. Gereformeerde Christene het ‘n absolute mi­nimum liggaamsbetrokkenheid by hul sang. Net hul lippe roer. Hulle sien dit as ‘n vorm van eerbied.

 

Evangeliese spiritualiteit (Evangeliese tradisie)

‘n Mens kry hierdie vorm van vroomheid veral in die Baptiste­ker­ke, die laagkerklike Anglikane, die ou NG Sendingkerk (wat nou deel van die VGK is), die ou Evangeliese rigting en die huidige *Ver­nu­wingsbeweging in die NG Kerk. Mense wat ge­kant is teen die Vernuwing in die NG Kerk praat graag daarvan as ‘n Charismatiese beweging (met die motief dat Charismaties vrees­­lik verkeerd is), maar dis net uit onkunde. Daar is ‘n dui­de­like verskil tussen Evangeliese en Pinkster-Charismatiese vroom­heid.

Daar is heelwat raakpunte tussen Gereformeerde en Evan­gelie­se teologie en vroomheid. Beide beklemtoon die Bybel as die fina­le rigsnoer vir ons leer en lewe (Amerikaanse Evangelicals noem hulle­self people of the Book), beide aanvaar Christus se volkome ver­soeningswerk en die leer dat ons net uit genade en net deur die ge­loof gered word.

Maar daar is klemverskille. Met die gevaar van misverstand in gedagte sou ‘n mens Gereformeerdes meer objektief, en Evan­­ge­liese Christene meer subjektief kon noem. Evangeliese Chris­tene lê sonder twyfel meer nadruk op die mens se ver­antwoordelikheid om gered te word, hulle het daarom ook ‘n baie sterker sending­ywer, hulle het baie meer emosie in hul geloofsbelewing, bid met meer gevoel, nie sulke netjiese sinne soos die Gereformeerdes nie, maar baie meer stembuiging, soms eerder smekend, amper hui­lerig. Gereformeerde Christene kan dinge baie makliker in God se hande laat en rustig voortlewe, terwyl Evangeliese Chris­tene baie meer bekommerd is oor hulle verhouding met die Here en oor verloregaande mense (“siele”). Hulle liedere is baie eenvoudiger as Gereformeerdes s’n, en hulle sing baie meer oor sonde en berou en bekering. Die kwaliteit van hulle musiek is nie so hoog soos dié van die Gereformeerdes nie, maar dit is inniger en eenvoudiger, en spreek baie sterker tot ‘n mens se emosies.

 

Pinkster-Charismatiese spiritualiteit

As Gereformeerde vroom­­heid nugter is, is Evangeliese vroom­heid innig, en Pink­ster-Charismatiese vroomheid uitbundig. (*Pink­ster­kerke en Cha­rismatiese kerke) Veral die Charismatie­se beweging is sterk in­gestel op buitengewone, dramatiese dinge soos Slain in the Spirit, Toronto Blessing, Goudstof, Prosperity Gos­pel. Hulle ere­dienste verloop baie vry en spontaan, hulle sang is nog een­vou­di­ger as dié van die Evangeliese vroomheid, hulle sing dik­wels dieself­de sinnetjie oor en oor, en hulle is ten volle lig­gaam­lik betrokke by die sang. Hulle werk baie sterk met die Gees­tesgawes.

Heelwat meer hieroor onder *Four Square Gospel.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Sondvloed

Die Groot Geloofswoordeboek: Sondvloed

Sondvloed

Sondvloed is ‘n verkorting van sondevloed; dit beteken die vloed wat deur die sonde van die mense veroorsaak is. Daar is allerlei teorieë dat die hele aarde deur water bedek was. Veral die feit dat baie volke verhale oor ‘n groot vloed het, versterk hierdie oortui­ging. Maar die verhaal in die Bybel hoef nie noodwendig só verstaan te word nie. “Die hele wêreld/aarde” beteken dikwels in die Bybel die hele aarde soos die mense dit toe geken het. Paulus praat van die evangelie wat “in die hele wêreld” vrug dra, maar hy bedoel die hele wêreld waarvan hy geweet het (Kol 1:6). (*Histories-kritiese uitleg, *Heidensending)

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Versoening

Die Groot Geloofswoordeboek: Versoening

Versoening

  • Losprys Plaasbekleding en plaasvervanging Soendood Universele en beperkte versoening

Versoening is een van die kernwoorde van die Christelike ge­loof. ‘n Hele paar begrippe is rondom hierdie woord gevorm.

  • Losprys

Losprys word gebruik vir die kruis van Jesus wat ons van die sondemag loskoop, soos ‘n slaaf in die Ou Testament vir ‘n be­paalde prys losgekoop kon word om dan ‘n vry mens te wees.

  • Plaasbekleding en plaasvervanging

Plaasbekleding en plaasvervanging word gebruik om te ver­dui­delik dat Christus in ons plek opgetree het toe Hy aan die kruis die offer gebring het wat ons moes bring (“plaas” is ‘n ou woord vir “plek”, ons kry dit nog in “begraafplaas”). In teo­lo­gie­se kringe word daar soms ‘n onderskeid gemaak tussen die twee begrip­pe. Plaas­vervanging word soms met huiwering ge­bruik omdat dit sou suggereer dat Christus my vervang sodat ek nooit weer regtig na vore kom nie, terwyl plaasbekleding dan sou beteken dat Hy tydelik, aan die kruis, my plek voor God ingeneem het, maar dat ek deur die krag van die Heilige Gees weer self na vore kom en my eie plek voor God inneem.

Maar as ‘n mens regtig tegnies wil raak, sou jy ook kon re­de­neer dat plaasvervanging tog op die ou end die beste in die Ge­reformeerde teologie inpas omdat daar ‘n sin is waarin Chris­tus nie net aan die kruis in my plek gestaan het nie, maar my voortdurend voor God verteenwoordig sodat ek selfs nie meer voor God my eie (ou, sondige) lewe het nie, maar deur die *doop en die *geloof gesterf het (Gal 2:19-20) en ‘n aandeel aan Christus se opstandingslewe gekry het.

  • Soendood

Soendood is ‘n verkorting van “versoeningsdood” en verwys na die kruisoffer van Christus waardeur ons met God versoen is.

 

Versoening veronderstel vervreemding

In die Bybel is veral sprake van versoening tussen God en mens en tussen mense onderling. Versoening is nodig as daar ver­vreem­ding ingetree het. Vervreemding kan verskillende oor­sake hê. Mis­verstand kan vervreemding veroorsaak. Dis nie so moeilik om dan versoening te kry nie. Verduidelikings is ge­woonlik voldoende. Maar as daar regtig nadelige dinge tussen mense gesê of gedoen is, is meer as verduidelikings nodig. Dan is berou en belydenis en ver­gifnis nodig.

Wanneer daar egter vervreemding ontstaan het deur ‘n struk­turele onregsituasie, is meer as woorde (berou, belydenis) nodig. Dan moet die onreg sover moontlik reggemaak word. Apart­heid was/is ‘n klassieke voorbeeld. Meer as belydenisse was/is nodig. Onregstrukture is destyds geskep, en dit moet sover moontlik afgebreek en vervang word. Regstellende aksie is maar een van die talle pogings om iets van die strukturele onreg reg te stel. En net soos die onreg van destyds mense seergemaak het, maak regstellende aksie ook nou weer mense seer.

Is versoening regtig nodig? Kan mense nie maar net ver van mekaar af bly en mekaar “met rus laat” nie? In baie gevalle ge­beur dit wel. Selfs in politiek-sosiale sin aanvaar baie mense maar net noodgedwonge die nuwe situasie in Suid-Afrika sonder om regtig iets te doen om nader te kom aan mense van wie hulle vervreemd was/is, en iets te probeer regmaak van die onreg van die verlede.

 

Verbond-enheid

Maar in beginsel is dit vir Christene onaanvaarbaar. Dit het te doen met die wese van God en die wese van die mens. God is die Verbondsgod. (*Verbond) Hy het Hom aan ons verbind, én ons aan Hom en aan mekaar verbind. Mense is verbondsmense. Geen mens kan anders in die wêreld kom as deur twee ander mense nie. Mense is gemaak om in gesinne te leef, en dit beteken in verbondenheid. Daarom verarm eensaamheid en vervreemding ‘n mens se lewe.

Dit is dan ook nie vreemd dat twee van die betekenisse van die *kruis van Jesus alles hiermee te doen het nie. Deur Christus se kruisdood het God die wêreld met Homself versoen, en deur die kruis het Christus die vyandskap tussen Jode en nie-Jode ver­nietig en hulle met mekaar versoen (2 Kor 5:18 ev; Ef 2:13-21). Christus word dan ook die *Middelaar genoem, die Een wat in die middel kom staan om vervreemding uit te wis.

Hoe moet ons die versoening deur Christus verstaan? Wie is versoen? Wat het Hy gedoen om versoening te bewerk?

 

Drie modelle van versoening

In die loop van die geskiedenis het interessante verklarings na vore gekom. Kom ons kyk kortliks na drie wat aan drie name verbind word: Anselmus se objektiewe versoeningsleer (God moes versoen word), Abaelardus se subjektiewe versoeningsleer (ons moes versoen word) en Irenaeus se dramatiese versoeningsleer (die duiwel moes “versoen” – oorwin – word).

Irenaeus het al in die tweede eeu na Christus geleef terwyl Anselmus teen die einde van die elfde eeu en Abaelardus teen die begin van die twaalfde eeu geleef het.

 

Anselmus: God moes versoen word

Anselmus was oortuig dat God deur ons sonde vervreemd is en dat Hy dus die Een is wat versoen moes word. Ons het deur ons sonde die eer van God aangetas, en omdat daar geen groter onreg as dit moontlik is nie, moet die grootste moontlike prys as boete betaal word om God weer tevrede te stel. Omdat alle mense sondaars is, kon hulle nie afsonderlik of selfs gesamentlik so ‘n boete betaal nie. Eintlik sou net God self dit kon doen. Maar dit moes ‘n mens wees wat dit doen omdat dit mense is wat die sonde gedoen het. Daarom het God die Godmens Jesus van Nasaret gestuur om die versoening te bewerk. Omdat Hy God was, was Hy in staat om die prys te betaal, en omdat Hy ‘n mens was, was Hy geskik om dit te doen.

 

Kritiek

Heelwat kritiek kan op hierdie teorie gelewer word, maar daar is ook besondere waarde in. Wat die kritiek betref, kan ‘n mens sê dat Anselmus se taal/terme nie soseer uit die Bybel kom nie as uit die Middeleeuse regsisteem. Woorde soos “boete”, “ge­noeg­doening”, ‘n prys wat net so groot is as die oortreding, die feit dat juis dieselfde wese as wat gesondig het, die prys moes be­taal, kom nie uit die Bybel nie. Verder kan hierdie siening ‘n vreem­de beeld van God oproep as iemand wat baie gevoelig en ge­steld is op sy eer. Dit sou ook die gedagte kon versterk dat God eint­lik moet veran­der van die toornige God na die liefdevolle God, en dat Christus hier­die verandering in God moes bewerk. En dit sou nie klop met die nadruk in die Bybel nie dat dit God is wat uit liefde vir die mens hierdie offer bring (Joh 3:16; Rom 5:8 ev; 2 Kor 5:18 ev).

 

Waarde

Nogtans is daar ook ‘n besondere waarde in hierdie teorie. Die nadruk op die *toorn van God as sy verwerping van sonde kom sterk na vore in baie dele van die Bybel. Dink maar net aan die pro­fete wat die oordeel van die Here oor Israel aankondig weens hulle aanhoudende ontrou aan Hom. Dink verder aan die ver­nie­tigende *ballingskap as die voltrekking van die oordeel van God oor hulle sonde.

Maar wat dan van die negatiewe beeld van God waarna reeds verwys is? Die punt is dat ons eenvoudig moet aanvaar dat hier­die twee dinge saam in God se houding teenwoordig is: oor­deel én liefde. Dit is nie so dat die Vader toornig op ons is oor ons sonde, maar dat die Seun dan tussenbeide tree en die Vader se toorn afkoel nie. Die Vader is inderdaad toornig oor ons sonde, maar Hy het ons tegelyk so lief dat Hy sy Seun vir ons gegee het. Juis aan die kruis sien ons die klassieke gestalte van beide sy toorn en sy liefde: sy toorn in die lyding van Christus, en sy liefde in die offer wat Christus bring vir die mense wat dit nie verdien nie. En die waarde van Anselmus se siening is juis dat dit die een kant van die saak – die erns van ons sonde – beklemtoon. Ons moet nie lighartig met God omgaan nie.

 

Abaelardus: Ons moes versoen word

Abaelardus staan skerp teenoor Anselmus. Die meeste van sy kritiek is reeds genoem. Hy is oortuig dat God nie eise stel voordat Hy vergewe nie. Hy is so vry soos die pa van die verlore seun. As Hy die dood van sy Seun geëis het, sou dit beteken dat Hy ‘n baie groter sonde eis as wat Adam en Eva ooit gedoen het.

Volgens Abaelardus stuur God sy Seun om sy liefde aan ons te openbaar. In Jesus sien ons hoe groot God se liefde vir ons is, én hoe ons op hierdie liefde behoort te reageer. God se liefde vir ons moet ons beweeg om ons vyandskap teen God te laat vaar en Hom te begin liefhê. As ons Hom begin liefhê, is dit die grond waarop God ons sonde vergewe. Die verlore seun het teruggekom en daarom het sy pa hom vergewe. In die verhaal van die vrou wat by Jesus se voete staan en huil, het die vertaling van 1953 gelui: “Haar sondes wat baie is, is vergewe, want sy het baie liefgehad” (Luk 7:47).

 

Kritiek

Dis eintlik makliker om Abaelardus te kritiseer as Anselmus. Dis duidelik dat hy ook in eensydighede beland. ‘n Mens kan nooit die toorn van God teen ons sonde oor die hoof sien nie. As Anselmus eensydig op die toorn van God klem lê, lê Abaelardus net so eensy­dig op die liefde klem. En hierdie eensydighede is volkome onno­dig. Soos reeds gestel, het ons beide aspekte op ‘n aangrypende ma­nier in God verenig én in Jesus se kruis ver­gestalt.

Verder is dit ook ver benede die maat om in Christus se kruis­dood net ‘n illustrasie van God se liefde vir ons te sien. Die Skrif is duidelik oor die feit dat Christus se dood ‘n offer aan God was om alle Ou-Testamentiese offers oorbodig te maak (Ef 5:2; die Brief aan die Hebreërs). “Hy het Homself vir ons sondes gegee” (Gal 1:4). Al is dit nie duidelik waarom Christus hierdie offer moes bring nie (*Kruis), is dit wel duidelik dat Hy dit moes doen en gedoen het.

En dan is daar ook nog die feit dat Abaelardus die mag van die sonde heeltemal misken. Christus bring nie net ‘n offer om ons sonde te versoen nie, deur sy kruis word ons ook verlos van die mag van die sonde (Rom 6).

 

Waarde

Nogtans is daar baie te waardeer in Abaelardus se siening. Een van die gevare van Anselmus s’n is dat, terwyl daar lank ge­lede iets aan die kruis plaasgevind het, ek dit nou maar net “glo” sonder dat dit iets aan my lewe verander. Daarteenoor kom Abaelardus met die eis dat my houding teenoor God moet ver­ander. Ek moet in reaksie op sy groot liefde wat in Chris­tus aan my gegee is met wederliefde antwoord. As God van ons eis om lief te hê (Hom en ons naaste) wys Hy eers in die lewe en sterwe van Jesus wat liefde regtig is. Jesus se gebed vir dié wat Hom aan die kruis vasspyker, is seker ‘n demonstrasie van die toppunt van God se liefde. En dan dink ons terug aan sy opdrag om ons vyande lief te hê.

Jesus is die klassieke voorbeeld van “practise what you preach”.

As ons nou terugkyk na hierdie twee standpunte, kan ons hulle as kruis en munt van dieselfde muntstuk beskou. Anselmus beskryf wat eerste gebeur, en Abaelardus wat daarop volg: eers wat God in Christus vir ons doen, en dan wat Hy in ons doen; eers vergifnis, dan verandering.

 

Irenaeus: Die Bose moet “versoen” (oorwin) word

Irenaeus het baie lank voor Anselmus en Abaelardus geleef, alreeds in die tweede eeu na Christus. Hy het heeltemal van ‘n ander kant af na die kruis gekyk. Hy het in die Bybel gesien dat daar sterk sprake daarvan is dat die Bose en die bose magte deur die kruis en die opstanding van Jesus oorwin is (Kol 2:15 ev). Dit gebeur ook tydens die lewe van Jesus waar ons lees van die “Een wat sterker is” wat die sterk man se wapens afneem (Luk 11:22; Matt 12:29). Irenaeus was oortuig dat die mense deur hulle oorspronklike ongehoorsaamheid aan God onder die mag van die duiwel ge­kom het, en daarom moes God nou die duiwel oorwin om hulle uit sy mag te bevry.

Die vraag of ons vandag nog kan aanvaar dat daar sulke bo­natuurlike bose magte is, is elders bespreek. (*Duiwel)

Ook die siening van Irenaeus oor die betekenis van die kruis van Christus pas goed in in ‘n meer omvattende versoenings­leer, want behalwe dat ons sonde versoen moet word (Anselmus) en ons innerlik verander moet word (Abaelardus), moet ons ook bevry of verlos word van die mag van die sonde (Irenaeus).

Dit alles beteken dat dit nie altyd nodig is om verskillende sie­nings téénoor mekaar te stel nie. In die meeste gevalle is daar ‘n waar­heidskern in ‘n bepaalde teorie wat geïdentifiseer en in ‘n gro­ter raamwerk ingeskakel kan word.

 

• Universele en beperkte versoening

Daar is ‘n onderskeid wat gemaak word wat saamhang met ‘n bepaalde vorm van die uitverkiesingsleer. (*Uitverkiesing) As God net ‘n sekere getal mense uitverkies het om salig te word, is dit logies dat Christus ook net vir hierdie beperkte groep gesterf het. Al sou sy offer dan genoeg kon wees vir die sonde van die hele wêreld, het dit net betekenis vir die uitverkorenes. Dit is wat onder beperkte versoening verstaan word.

Hierdie rigting beroep hom op sekere uitsprake in die Bybel, soos die een van Jesus dat die Seun van die mens sy lewe gee as ‘n losprys vir “baie” (Mark 10:45). Dit sou dan beteken nie vir al­mal nie. Ons lees ook dat Jesus sy lewe aflê vir die skape (Joh 10:11); dus nogeens nie vir almal nie.

Teenoor hierdie siening staan dit wat universele versoening ge­noem word; dit is die oortuiging dat Jesus vir alle mense ge­sterf het, maar dat net dié wat die boodskap in die geloof aan­neem, regtig in die versoening deel. Vir hierdie siening word natuurlik ook steun in die Skrif gesoek. Dink maar net daaraan dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het, dat God die wêreld so liefhet dat Hy sy Seun gegee het, dat Christus die versoening is nie net vir ons sondes nie, maar vir dié van die hele wêreld, dat God wil hê dat alle mense gered moet word, dat Jesus die dissipels na alle volke toe stuur (2 Kor 5:18 ev; Joh 3:16; 1 Joh 2:2; 1 Tim 2:4; Matt 28:19).

Die geslote sisteem waarvan die beperkte versoening ‘n integrale deel is, is reeds afgewys. (*TULIP) Daar is geen manier waarop die evangelie as die dringende oproep aan alle mense om in Jesus Chris­tus te glo langs hierdie weg verstaan en verkondig kan word nie.

Wat die Skrifverwysings betref, is daar geen rede waarom die “baie” in Markus 10 juis die beperkende betekenis van “nie almal nie” moet hê nie. Dit dui juis op die grootheid van Christus se offer, wat nie maar net vir ‘n klompie gebring is nie, maar vir die massa. En dat Hy sy lewe vir die “skape” aflê, word nêrens gestel teenoor die bokke vir wie Hy dan nie sy lewe sou aflê nie. Die teendeel is die dief wat dít nooit sal doen nie, maar inteendeel sal slag en eet en verwoes. Dit is ‘n loflied op die grootheid van die goeie Herder se sorg vir die skape, en nie ‘n beperking op die waarde van sy offer wat hoegenaamd nie in die verband sou pas nie.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Vernuwingsbeweging

Die Groot Geloofswoordeboek: Vernuwingsbeweging

Vernuwingsbeweging

Daar is ‘n omvattende vernuwingsbeweging in die NG Kerk wat in die 1980’s begin het en nog steeds sterker word. Dit is nie ‘n homogene eenheid nie, maar daar is groot gemeenskaplikhede. Daar is ‘n groot misverstand oor hierdie beweging, en dit is dat dit Charismaties is. Baie van die mense wat dit beweer, ge­bruik dit ook sommer as ‘n veroordeling omdat hulle meen dat Charismaties vanselfsprekend ook verkeerd is. Dit is egter be­kend dat die doop met die Gees en die besondere gawes twee ononderhandelbare kenmerke van die Charismatiese beweging is (*Charismatiese ker­ke), en dit kom omtrent glad nie in die Vernuwingsbeweging voor nie.

 

Oorsprong

Die Vernuwingsbeweging is die herlewing van die ou Evange­liese spiritualiteit in die NG Kerk. (*Nederduitse Gereformeerde Kerk) ‘n Aantal woorde herinner ‘n mens dade­lik aan wat hier­­mee be­doel word: Andrew Murray, Pinksterbidure, Hallelujalie­dere, *beke­ring, *CSV, *sending. Hierdie *spiritualiteit was vir meer as ‘n anderhalf eeu die dryfkrag agter die sen­ding­werk van die NG Kerk. Dit het ‘n spontane warmte en dringend­heid. Dit lê baie nadruk op per­soonlike bekering en toe­wyding, op Bybel­studie en getuienis.

Gedurende hierdie anderhalf eeu het daar twee rigtings langs mekaar in die NG Kerk bestaan, soms in vrede, soms in span­ning: die strenger Gereformeerde rigting, en die Evangeliese rig­ting. Die Gereformeerde rigting het altyd die amptelike lei­ding geneem: die voorsitters van sinodes, die professore, die belang­rike gesagsposi­sies in die kerk. Die Evangeliese rigting het altyd die inisiatief ge­neem in geestelike sake.

Gedurende die 1970’s was daar ‘n beplande aanslag op die Evangeliese rigting. Die CSV is uit die meeste tersiêre kam­pus­­se uitgewerk, die nuwe Gesangboek het ‘n paar Halle­luja­lie­dere in­gesluit en die Hallelujabundel het verdwyn, en die sen­dingen­toe­siasme het getaan.

Maar in die 1980’s het die *Evangeliese tradisie in ‘n nuwe ge­daante na vore gekom. Dit het veral begin met die vernuwing van eredienste wat informeler geword het met ander liedere en mu­siekinstrumente. Groot interkerklike byeenkomste het nuwe idees by jongmense wakker gemaak, en groot sendinguitreike het mense se verbeelding aangegryp.

 

Vestiging van Vernuwing

Geleidelik het die Vernuwings­be­we­ging veld gewen. Die Ver­nu­wingsgemeentes het oor die al­ge­meen sterk gegroei. Die nuwe reëling dat gemeentegrense stip­pel­ly­ne geword het, het beteken dat lidmate na die gemeente van hul­le keuse kon gaan. Daar het onderlinge verhoudings begin groei tussen Vernuwings­ge­meentes. Meer en meer aandag is gegee aan die herstrukturering van ere­dienste en gemeentebediening.

 

Erediensvernuwing is meer as om ander liedere te sing. Alter­na­tiewe vorme van Woordverkondiging word ontwikkel. Woordverkondiging is nie net ‘n halfuur lange monoloog nie. Voor­stel­lings, getuienisse en besprekings is moontlikhede.

 

Gemeentebediening. Wat gemeentebediening betref, is die Lig­gaams­model besig om hier en daar by die Herder-kudde-mo­del oor te neem. Bedienings ontstaan waarin gemeentelede die lei­ding neem. Die selgemeentekonsep het groot invloed in som­mi­ge Ver­nuwingsgemeentes begin uitoefen.

 

Sendingbetrokkenheid het na die insinking in die 1970’s en 1980’s weer begin opleef, veral in die vorm van individuele ge­meente-ondernemings.

 

Daar is ongetwyfeld uitwasse wat onder die naam van Ver­nu­wing skuil. Maar in die breë is die Vernuwingsbeweging ‘n ge­sonde ontwikkeling van ‘n alternatiewe spiritualiteit wat groot belofte inhou. Daar is inderdaad beperkte Charismatiese invloed, veral wat die liedere en begeleiding betref, maar in die geheel het die Vernuwing sy eie Evangeliese karakter.

Skrywer: Prof Adrio König