Alle Paaie lei na Jesus: Skepping of Skepper?

Alle Paaie lei na Jesus: Skepping of Skepper? – Adrio König

4.4 Skepping of Skepper?

God: In die 34 verse word die woord “God” 34 keer gebruik. Dit kan seker niks anders beteken nie as dat hierdie hoofstuk wil verkondig dat God die Skepper van alles is. Waarom hierdie boodskap?

Genesis 1 en die res van die Ou Testament het nie ’n skeppingsboodskap nie, maar ’n Skepperboodskap. Dit was nie nodig om in daardie tyd en omgewing die feit te verkondig dat alles geskep is nie. Almal het dit in elk geval geglo. Elke volk het sy eie skeppingsverhale gehad, en ons het reeds gesien die Bybel het baie soortgelyke verhale. Dit was ook nie nodig om te beklemtoon hoe alles geskep is nie. Israel deel die meeste van die voorstellings van die ander volke: die dinge is gemaak, is gevorm, dinge het voortgekom, daar is net ’n bevel gegee (woordskepping). Na die interessante en belangrike verskille sal ons nog kyk.

 

Maar wat Genesis 1 beklemtoon, is Wie alles geskep het. Daarom die byna oormatige verwysing na God, die God van Israel. Die punt wat Genesis 1 wil maak, is nie dat alles geskep is nie, ook nie hoe alles geskep is nie, maar Wie alles geskep het. As ons aanvaar dat hierdie hoofstuk sy finale vorm in die ballingskap gekry het, kan ons verstaan waarom dit vir Israel belangrik was. Hulle moes jaarliks die feeste aanskou waarin Babilon hulle gode geëer het wat alles sou geskep het, veral die god Marduk. Dan sou die boodskap dat die ware Skepper hulle God is, vir Israel baie troos gebring het. Veral ’n voorstelling soos skeiding by die skepping sou hulle ook verseker het dat God die bedreigings teen hulle kan afweer en hulle uiteindelik weer in die beloofde land terugbring.

 

Water: Die volgende opvallende woord is “water”. Tel gerus hoeveel keer dié woord in Genesis 1 voorkom. Tel dit nou ook in Genesis 2. Dadelik vermoed ’n mens: Genesis 1 is geskryf in ’n situasie/land waarin daar baie water was en waar water ’n bedreiging vir mense was – wat natuurlik waar was van Babilon met die Tigris en die Eufraat. En dit is juis anders as Genesis 2 waar min sprake is van water, en geen sprake van water as ’n bedreiging nie.

 

Ligte: Die derde opvallende woord is “ligte”. Ons sê maklik God het op die vierde dag die son en die maan geskep. Maar dié name kom nie in Genesis 1 voor nie. Net “ligte”. Waarom? “Son” en “maan” was name vir belangrike gode, veral in Babilon. Die songod is aanbid as een van die belangrikste gode. Immers hoe belangrik is die son nie vir alle lewe op aarde nie. Hoe sal ons sonder sonlig en hitte klaarkom?

 

Maar in Genesis 1 werk dit heeltemal anders. Hier is dit glad nie die son wat op sy eie lig gee nie. God maak self die lig nog lank voor daar ’n son was. En dit word ook dag en nag nog voor daar ’n son of ’n maan was. God is die Skepper van lig en Hy beheer dit self die eerste vier dae lank. En dan eers maak Hy twee ligte, en Hy stel hulle in sy diens. Hulle moet sy werk namens Hom doen, dag en nag beheer.

 

Wat sou dit beteken? As hierdie verhaal in sy finale vorm tydens die ballingskap in Babilon geskryf is, kon die skrywer hiermee gesê het dat son en maan wat daar so hoog geëer was, glad nie gode is nie. Hulle is blote skepsels in diens van God. Dis glad nie hulle wat die lig gee nie. Hulle is deur God gemaak om die lig te beheer wat Hyself gemaak het.

 

Dit bring ons by ’n terloopse opmerking. Die eerste vyf boeke is nie as eenhede deur een persoon geskryf nie. Die boeke is saamgestel uit kleiner dokumente wat oor lang tydperke geskryf is, of liewer gegroei het. Op stadiums het “redakteurs” hierdie korter dokumente in groter eenhede saamgevoeg, en later, waarskynlik eers omtrent in Dawid se tyd, is “boeke” gevorm. En selfs daarna is nog weer aan dele van hierdie boeke gewerk, sodat dit goed moontlik is dat ’n hoofstuk soos Genesis 1 eers tydens die ballingskap sy finale vorm gekry het. As voorbeeld van kleiner dokumente wat oorspronklik afsonderlik bestaan het, kan ’n mens net kyk na Genesis 1 en Genesis 2. Beide handel oor die skepping van alle dinge, maar daar is groot verskille tussen hulle. Dit is sonder meer duidelik dat twee verskillende skrywers twee verskillende voorstellings van God se skeppingswerk beskryf. Die feit dat twee weergawes wat soveel verskil, uiteindelik in dieselfde boek opgeneem is, het groot betekenis vir ons verstaan van die skepping. Daarby kom ons ook later.

 

’n Laaste opmerking oor Genesis 1 is dat ’n mens dit met ’n liniaal kan lees. Meet self die afsonderlike lengte van die agt skeppingsdade. Jy sal gou agterkom dat die beskrywing van die skepping van die mens baie langer is as enige ander een. Dit beteken dat die skrywer die mens baie belangriker ag as enige ander deel van die skepping.

 

In die volgende artikel gaan ons na Genesis 2 kyk.

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Alle Paaie lei na Jesus:Genesis 1 (2)

Alle Paaie lei na Jesus:Genesis 1 (2) – Adrio König

4.3 Genesis 1

Ons het in die vorige artikel na die struktuur van Genesis 1 gekyk. Nou gaan ons na die inhoud van Genesis 1 kyk.

 

Die inhoud van Genesis 1

Maar hierdie agt keer herhaalde gediggie is ook nie alles nie. Dit is net die “geraamte” of raamwerk waarin daar baie stof opgeneem is wat uit ’n interessante verskeidenheid bestaan. Kom ons kyk daarna.

 

Skepping deur die woord én daadskepping Ons het vroeër verwys na die baie algemene oortuiging onder Christene dat God alles net deur die woord (bevele) geskep het. Dit word gewoonlik veral uit Genesis 1 afgelei. Die gedagte is dan dat God net elke keer gesê het ’n sekere ding moet bestaan, en dan het dit bestaan. Die skeppingsvoorstelling van die lig is ’n duidelike voorbeeld: “Toe het God gesê: Laat daar lig wees. En daar was lig” (1:3). Maar dis net die skepping van die eerste ding. As ’n mens verder lees, kom jy gou agter dit werk nie presies só met die skepping van die ander dinge nie.

  • As God die gewelf maak, sê Hy wel daar moet ’n gewelf wees, maar dan maak Hy ook die gewelf (1:6, 7). En dit geld ook van die twee ligte (1:14, 16), die waterdiere (1:20, 21), die wilde diere (1:24,  25). Hier is dus nie net ’n bevel en dan is dit daar nie. Hier is beveel en doen.
  • En as Hy die plante maak, beveel Hy die aarde om plante voort te bring, en dan bring die aarde die plante voort (1:11, 12). Hy beveel nie net daar moet plante wees en dan is hulle daar nie. En Hy maak ook nie self die plante nie. Die aarde bring hulle voort.
  • En wanneer God die diere maak, beveel Hy dat die aarde diere moet voortbring, maar, anders as in die geval van die plante, doen die aarde dit dan nie. Hy maak dan self die diere (1:24, 25). Nog ’n keer beveel Hy nie net en dan is dit daar nie.

 

Teen hierdie tyd besef ons al klaar dat dit ’n uitsondering was dat God net beveel het daar moet lig wees en toe was dit daar. Elke skeppingswerk verloop op sy eie manier. God doen dit op verskillende maniere. En wat belangrik is, dit is nie waar dat Hy elke keer net beveel en dan is dit daar nie. Verder is dit ook belangrik dat van heelwat dinge ’n dubbele voorstelling gegee word: Hy beveel dat dit moet bestaan én Hy maak dit. 

 

Dit is dus nie so dat God alles net deur die woord (bevele) geskep het nie.

  • Soms beveel Hy net en dit is daar;
  • soms beveel Hy en dan maak Hy dit ook;
  • soms beveel Hy iets om iets anders voort te bring, en dan gebeur dit;
  • en soms beveel Hy iets om iets anders voort te bring, maar dan doen Hy dit tog self.

 

Skepping deur skeiding: En intussen het ons nog nie eens gekyk na skepping deur skeiding nie.

  • God skei die duisternis van die lig (1:4).
  • God skei die waters bo die gewelf van die waters onder die gewelf (1:7).
  • God skei die waters op die aarde van die droë grond (1:9).
  • God skei die nag van die dag deur die twee ligte (1:14, 18).

 

Behalwe beveel en maak, is daar dus ’n derde manier van skep: skei. Dit is trouens interessant watter dinge van mekaar geskei is:

  • Die duisternis is afgeskei van die lig.
  • Die water bo die gewelf is afgeskei van die water onder.
  • Die see is afgeskei van die land.
  • Die nag is afgeskei van die dag.

 

Waarom hierdie skeiding? Uit die res van die Ou Testament weet ons die duisternis, die water daarbo, die see en die nag is bedreigende elemente. Die duisternis en die nag is simbole van die sonde en die dood, en die lig is ’n simbool van God en van heiligheid. Johannes skryf: “God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie. As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons … Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus … ons van elke sonde” (1 Joh 1:5-7). En ons hoor Jesus sê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee” (Joh 8:12).

 

Net so is die water in die lug en die see bedreigende elemente in die Bybel. Ons weet almal van die bedreiging van die see. Die see was een van die grootste gevare vir Israel. Ons lees telkens dat God grense vir die see gestel het (Job 38:8-11; Ps 104:6-9). Die chaosmonsters was almal seemonsters: Behemot, Rahab, Leviatan. Die golwe van die see was vir Israel die aanslae van hierdie monsters op hulle lewe. Hulle het geglo God het hierdie seemonsters verpletter (Ps 74:13-14). Maar die see het ’n bedreiging gebly. Selfs in die tyd van die groot koning Dawid, het Israel nooit ’n vloot of ’n seemag gehad nie. Dit is ook opvallend dat Jesus die onstuimige see bestraf, ’n woord wat Hy soms ook vir demone gebruik (Mark 4:39; 9:25; Matt 17:18).

 

Die “water bo die aarde” vra ’n bietjie meer verduideliking. Ons lees in Genesis 1:6 ev dat God ’n gewelf bo die aarde gemaak het, en die water bo die gewelf van die water onder op die aarde geskei het. Hulle het gemeen die blou lug bo ons is ’n ondeurdringbare koepel met vensters/luike in. Die koepel hou die massa water daarbo, en as dit reën, maak God sommige van die vensters oop sodat die water kan deurval (Mal 3:10). Tydens die sondvloed het God al die vensters gelyk oopgemaak sodat al die water daarbo op die aarde geval het. Dit is dus duidelik dat ook hierdie water vir Israel groot bedreiging ingehou het. En al weet ons vandag reën werk nie so nie, weet ons ook dat die massa waterdamp in die lug inderdaad groot verwoesting op aarde kan aanrig as dit te veel reën.

En soos ons gesien het, het God by die skepping juis hierdie gevaarlike elemente afgeskei: die nag en duisternis van die dag en lig, die water bo én dié in die see van die land as ons blyplek. Die skeidingsmotief beteken dus skynbaar dat God van die begin af sy skepping teen bedreigings beskerm. Dit kon ’n wonderlike troos gewees het vir mense wat destyds in nood was, en dit kan dit vandag nog wees.

 

Daar is nog ’n paar sake in Genesis 1 wat ’n mens se aandag trek. In die volgende artikel gaan ons na Skepper of skepping kyk.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus:Genesis 1 (1)

Alle Paaie lei na Jesus:Genesis 1 (1) – Adrio König

4.3 Genesis 1

Daar is baie mense wat by uitstek juis Genesis 1 sien as die “Bybelse leer” oor die skepping. Hieroor twee opmerkings.

 

Eerstens vergeet hulle soms dat daar ook baie ander dele oor die skepping in die Bybel is. Dink maar net aan Genesis 2, Job 38, Psalm 104, en dan het ons nog nie eens begin by die talle en talle korter verwysings nie.

Tweedens het baie van ons in elk geval selfs van Genesis 1 ’n oorvereenvoudigde siening. Mense som maklik in een kort sinnetjie op wat hulle oor die skepping glo: God het in ses dae alles wat bestaan, net deur die woord uit niks geskep. Soms voeg hulle ook nog by: omtrent 6 000 jaar gelede.

 

Kom ons toets hierdie kort belydenis eers aan Genesis 1, en daarna aan Genesis 2 en ander dele in die Bybel.

Die struktuur van Genesis 1

Wanneer ons later Genesis 1 en Genesis 2 vergelyk, sal ons sien dat Genesis 1 besonder netjies gestruktureer is teenoor Genesis 2 wat ’n vrye verhaal is. Daar is vier kort sinnetjies wat die vorm / struktuur van die hele Genesis 1 bepaal.

Genesis 1:3 – 5:

1 Toe het God gesê: Laat daar lig wees!

2 En daar was lig.

3 God het gesien die lig is goed.

4 Dit het aand geword, en dit het môre geword.

Dit was die eerste dag.

 

Genesis 6 – 8:

1 Toe het God gesê: Laat …

2 So het dit gebeur.

3 Dit het aand geword, en dit het môre geword.

Dit was die tweede dag.

 

Genesis 1: 9 – 10:

1 Toe het God gesê: Laat …

2 So het dit gebeur.

3 En God het gesien dit is goed.

Ons kry dieselfde vir verse 11 – 13, 14 – 19, 20 – 23, 24 – 25 en 26 – 31.

 

Opmerkings

Ons het hier ’n vorm/struktuur van vier kort reëltjies wat agt keer herhaal word. Elke keer word dit gebruik om een skeppingsdaad te beskryf. Daar was dus agt skeppingsdade. Maar daar was net ses skeppingsdae. Op die derde dag en op die sesde dag is elk twee skeppingsdade gedoen. Dit beteken dat reël vier twee keer weggelaat is, by die derde en by die sewende skeppingsdade.

 

Ons het dus hier ’n vaste, simmetriese struktuur, glad nie die soort vrye verhaal van Genesis 2 nie. Hier sit beplanning agter hierdie merkwaardige gedig. Maar hier is selfs meer as wat ons tot dusver gesien het. In werklikheid is die week van ses werksdae in twee gelyke helftes verdeel. In die eerste drie dae word vier dinge geskep, en net so in die volgende drie dae. Maar hierdie twee stelle van vier dinge hou direk verband met mekaar.

 

Tabel 2: Die twee helftes van die week

1e dag: lig; 4e dag son en maan

2e dag: gewelf wat skeiding maak tussen a water bo in die lug, b en water op die aarde; 5e dag

a voëls in lug daarbo b visse in water op die aarde

3e dag: a droë grond b plante; 6e dag a diere op die droë grond – met plante as voedsel b mense op die droë grond – met plante as voedsel

 

Die direkte verband tussen die twee helftes van die week is opvallend.

  • Op die eerste dag van die eerste helfte van die week word die lig gemaak, en op die eerste dag van die tweede helfte (die vierde dag) word die son en die maan gemaak om die lig te beheer.
  • Op die tweede dag van die eerste helfte word die water bo in die lug geskei van die water op die aarde, en op die tweede dag van die tweede helfte word die lug daarbo “bevolk” met voëls, en die water hieronder met visse.
  • Op die laaste dag van die eerste helfte word die droë grond afgeskei van die water op die aarde, en die plante geskep, en op die laaste dag van die tweede helfte word die droë grond bevolk met diere en mense, en word die plante gegee as voedsel van diere en mense.

 

Die tweede helfte van die skeppingsweek is dus ’n direkte aansluiting by die eerste helfte, ’n soort aanvulling of voltooiing van die eerste helfte.

 

Nou het ons na die vorm of struktuur van Genesis 1 gekyk. Dit is baie netjies saamgestel en uitgewerk. Daar lê beplanning, skema en orde in.

 

In die volgende artikel gaan ons na die inhoud van Genesis 1 kyk.

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Alle Paaie lei na Jesus: Skeppingsverhale en skeppingsvoorstelle (3)

Alle Paaie lei na Jesus: Skeppingsverhale en skeppingsvoorstelle (3) – Adrio König

Skeppingsverhale en skeppingsvoorstelle

Presies hoe het God geskep?

Uit dit alles kan ons interessante gevolgtrekkings maak. Enersyds weet ons nou dat Israel sonder huiwering die meeste voorstellings gebruik wat ook in ander godsdienste voorkom. Dit beteken dat hulle nie ’n eie, unieke beskouing gehad het hoe alles geskape is nie. Trouens hulle kon van dieselfde ding sê dat dit op meer as een manier geskape is. Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde.

 

  • Deur die woord van die Here is die hemele gemaak, deur sy bevel al die hemelliggame.
  • In die voortyd al het U die aarde gevestig, en die hemele met u eie hande gemaak.

Van die hemele word dus woordskepping én daadskepping bely.

  • Met my eie hand het Ek die aarde se fondamente gelê, deur my mag (Hebreeus: my regterhand) het Ek die hemelkoepel oop gesprei. Ek het hulle te voorskyn geroep en hulle het tot stand gekom.

 

Dus nog ’n keer, hierdie keer in dieselfde sin, kry ons twee voorstellings: Die Here het die aarde en die hemelkoepel met sy hande gemaak, én Hy het dit met ’n bevel geskep (dus daadskepping én woordskepping tegelyk).

 

Ons het nou twee belangrike sake. Die Bybelskrywers is bereid om die gewone voorstellings te gebruik wat die omringende volke gebruik het. En verder het hulle van dieselfde ding bely dat dit op twee verskillende maniere geskep is. Hierdie laaste verskynsel sal ons oor en oor in Genesis 1 kry. Die Here beveel dat daar moet ligte wees (1:14), maar dan maak Hy ook die ligte (1:16). Dit geld ook van die “gewelf” en die seediere (1:6-7, 20-21). Skynbaar moet ons hieruit aflei dat die Bybelskrywers nie regtig probeer sê het presies hoe alles geskep is nie, maar eerder dat God, dit is Israel se God, alles geskep het – hoe dit dan ook al tot stand gekom het. Dit is ’n insig wat belangrik is as ons dink aan die oortuigings van natuurwetenskaplikes oor hoe alles ontstaan het.

 

Dit beteken ook dat ons nie moet probeer om vas te stel wanneer alles geskep is nie. Ons moet onthou die Bybelskrywers se voorstelling van tyd en ruimte was baie beperk. Wat ruimte betref, was hulle oortuig die wêreld en die heelal is maar taamlik klein. Hulle het gemeen die sterre is klein liggies wat nie alte hoog in die lug nie aan die vaste blou koepel hang. Ons gaan dit tog nie meer vir ons kinders in die wetenskapklas leer as die waarheid nie. En hulle voorstelling van tyd was net so beperk. Hulle het inderdaad gemeen alles is maar net ’n paar duisend jaar gelede geskep. Maar ons het vandag genoeg getuienis om te aanvaar dit is oneindig veel langer gelede. En ons voel ook nie dat ons daarmee die boodskap van die Bybel aantas nie omdat dit uit ons behandeling van Genesis 1-11, en uit ons behandeling van Genesis 1 wat nou volg, duidelik is dat die ouderdom van die aarde nie deel van die Bybel se boodskap is nie.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

Skrywer: Prof Adrio König