Alle Paaie lei na Jesus: Die Wet in die Ou Testament

Alle Paaie lei na Jesus: Die Wet in die Ou Testament – Adrio König

3.1 Die wet in die Ou Testament

Ons woord “wet” is nie regtig ’n goeie vertaling van die Hebreeus Torah nie. Hierdie Hebreeuse woord kom meer as 200 keer in die Ou Testament voor en word in verskillende verbande gebruik. Oorspronklik kan dit iets beteken soos “rigtingwyser” of “aanwysing” of “onderrig”.

Watter boeke het hulle onder hierdie drie dele ingedeel? Nie presies wat ons vandag daaronder verstaan nie.

  • Die wet was die eerste vyf boeke (die Pentateug), of soms die eerste ses (die Heksateug) as Josua ook daarby kom.
  • Die profete is al die ander geskiedenisboeke van Rigters af tot by Konings, met die uitsondering van Ester en Rut, en dan ook die boeke wat ons vandag nog die Profete noem.
  • Die geskrifte is die derde groep, en dis nogal ’n “deurmekaar” groep wat wysheidsboeke (Job, Spreuke, Prediker) insluit, maar ook digterlike boeke (Psalms, Hooglied, Klaagliedere), ses historiese boeke (Ester, Rut, 1 en 2 Kronieke, Esra, Nehemia) en dan nog Daniël ook.

In die tyd van Jesus was daar nog groot verskil onder die Jode oor die gesag van hierdie groepe boeke. Die Sadduseërs was ’n baie “konserwatiewe” groep wat net die Torah as gesaghebbend erken het, en omdat daar niks van die opstanding in staan nie, het hulle ook nie aanvaar dat daar ’n opstanding sal wees nie. Die Fariseërs was die meer “liberale” groep wat ook die ander twee groepe boeke aanvaar het en daarom geglo het daar sal ’n opstanding wees. Dit kom immers duidelik in Daniël 12:2 voor.

Dit was een van die belangrike take van die priesters om die volk te onderrig in die wet en om die wet te interpreteer. Ons het in Haggai 2:10-12 ’n mooi voorbeeld van hoe die priesters genader is met ’n vraag hoe die wet verstaan moes word. Maar ons kan ook uit hierdie besonderhede aflei hoe radikaal hulle die wet in hierdie tyd (na die ballingskap) geïnterpreteer en toegepas het.

In die volgende artikel gaan ons kyk hoe die Jode die wet geïnterpreteer het.

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

Skrywer: Prof Adrio König

 

 




Alle Paaie lei na Jesus: Die Wet

Alle Paaie lei na Jesus: Die Wet – Adrio König

Hoofstuk 3

In die volgende aantal artikels gaan ons na die wet uit verskillende hoeke kyk,

naamlik:

  • Die wet in die Ou Testament
  • Die Jode se interpretasie van die wet.
  • Jesus se houding teenoor die wet
  • Die wet in Handelinge
  • Paulus: Die wet en ons saligheid
  • Paulus se verwerping van die wet
  • Die wet in Hebreërs
  • Verskillende houdings teenoor die wet
  • Die verhouding Ou Testament-Nuwe Testament

Die wet

Vir baie jare van my lewe het “die wet” my allermins ’n interessante onderwerp gelyk. Maar ek het onlangs my fout uitgevind. Trouens ek begin wonder of daar enige van die groot temas in die Bybel is wat nie opwindend is nie, veral omdat ek al meer besef hoe hulle met Jesus in verband staan.

Dink aan die een kant daaraan dat Jesus die wet volkome ernstig geneem het en selfs verklaar het Hy het gekom om die wet sy volle betekenis te gee. Maar aan die ander kant het Paulus geskryf Jesus is die einde van die wet, en elkeen wat nog die wet wil hou, verbreek die band met Christus en verbeur die genade. Paulus kan skryf die wet is heilig en reg en goed, maar intussen is dit eintlik deur die wet wat Jesus gekruisig is. Hoe werk die dinge oor die wet?

Kom ons begin by die begin, en kyk waar ons uitkom. Is dit nie lekker nie om te probeer om nie vooropgestelde idees en oortuigings te hê nie, en sover moontlik met ’n oop gemoed na die Bybel te gaan en te kyk wat ’n mens kry.

Waar begin ons? By die wet in die Ou Testament.

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Alle Paaie lei na Jesus : Die Nuwe Testament (4)

Alle Paaie lei na Jesus : Die Nuwe Testament (4) – Adrio König

2.3.4 Die ewige lewe

Ons het hier, net soos met die opstanding, een van die opvallendste verskille tussen die Ou Testament en die Nuwe. Net soos in die geval van die opstanding, kom die begrip “die ewige lewe” net in Daniël 12:2 voor. En ons weet reeds Daniël is deel van die oorgangsliteratuur tussen die twee Testamente. Daar is dus vroeër in die Ou Testament geen sprake van ewige lewe nie.

In die tyd van die Nuwe Testament het die verwagting van die opstanding alreeds sterk na vore gekom, ook onder sekere groepe onder die Jode soos die Fariseërs. In die meeste gevalle is dit in die Nuwe Testament nog ’n toekomsverwagting, maar by Johannes is dit nou al die gelowiges se deel (Joh 3:36).

Maar ook in gemeenskap met sy Vader. Let op na Johannes se “definisie” van die ewige lewe: “Dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is” (Joh 17:3).

Omdat die ewige lewe dus in werklikheid die gemeenskap met Jesus en sy Vader is, is dit vanselfsprekend dat dit nie net iets is wat net in die toekoms lê nie. Ons leef nou reeds deur die geloof aan Hom en sy Vader verbonde, en in daardie sin deel ons nou reeds in die ewige lewe. Die ewige lewe is dus nie maar net ewig aanhou lewe nie. Dis ewig in die gemeenskap van God en sy Seun op die nuwe aarde om sy gawes van rykdom en oorvloed te geniet en Hom daarvoor te loof en te dank.

Dit is heil, aardse heil, heil soos God dit van die begin af bedoel het. Alle paaie, óók die pad van die heil, lei na Jesus.

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Alle Paaie lei na Jesus : Die Nuwe Testament (3)

Alle Paaie lei na Jesus : Die Nuwe Testament (3) – Adrio König

Ons is nog besig om na heil en saligheid te kyk. In die vorige gedeeltes het ons na die doel van die skepping as ook na die Ou Testament gekyk. Nou gaan ons na die Nuwe Testament kyk. Hier gaan ons veral na vier aspekte kyk. Die eerste twee het ons reeds hanteer.

 

  1. Heil sonder gawes.
  2. Toekomstige heil.
  3. Verheerliking.
  4. Die ewige lewe.

2.3.3 Verheerliking

Daar is wel nog ’n ander helfte van die verhaal. Enersyds is daar baie sterk aansluiting tussen die begin en die einde, tussen Genesis 1 en 2, en Openbaring 21, 22. Maar andersyds is daar ’n belangrike plus bo die Ou Testament. Daarvoor word gewoonlik twee begrippe gebruik: Verheerliking

en die ewige lewe.

Hierdie plus moet ons waarsku om nie aan die heil te dink as bloot ’n herstel van die oorspronklike toestand (Gen 2) nie. Daar is gelowiges wat presies dit graag doen. Hulle dink ons sal teruggeplaas word in die posisie/toestand waarin Adam en Eva oorspronklik was. Net die sonde en die gevolge van die sonde sal weggeneem word. Nou sal dit natuurlik al geweldig baie wees. Trouens ons sou maklik daarmee tevrede kon wees. Maar ons kry meer in die Bybel.

Kom ons begin by Openbaring 21, 22 omdat ons so pas daarna gekyk het om aan te toon dat die heil aan die einde inderdaad aansluit by die heil volgens die Ou Testament. Maar dieselfde hoofstukke beklemtoon net so sterk dat daar op die nuwe aarde veel meer sal wees.

  • Daar is veel sterker en nader gemeenskap tussen God en die mense. In Genesis besoek Hy vir Adam en Eva, maar in Openbaring woon Hy by die mense (21:3).
  • Aan die begin was daar net ’n tuin, en dié moes opgepas word. Aan die einde is daar ’n stad waarvan die poorte dag en nag oopstaan (Gen 2:8, 15; Op 21:10, 25). Ons moenie hierdie opvallende verskil miskyk nie. Ons het dikwels negatiewe belewings van ’n stad, veral van ons moderne middestede. Ons sal ’n tuin honderdmaal bo ’n middestad verkies. Maar in die Ou Testament is die stad die simbool van veiligheid en geordendheid. God woon in die stad Jerusalem en Hy beskerm die stad.

Buite die stad was dit onveilig, dáár was mag reg. ’n Groot deel van die offer wat Abraham bring as die Here hom roep, is om uit die stad Haran na die oop veld van Kanaän te trek en in tente te gaan woon.

  • Maar op die nuwe aarde kry ons ook nie net ’n gewone stad nie, maar ’n oorluukse een. Die rykdom is vir daardie tyd onvoorstelbaar: Die stad self en die strate is van suiwer goud, en die poorte van pêrels.
  • In Genesis verlig die son en die maan die wêreld, maar aan die einde verlig die heerlikheid van die Here die stad, en “die Lam is sy lamp” (Op 21:23). Dis interessant dat die simboliese voorstelling in Genesis 1 is dat die Here eintlik aan die begin self die lig beheer het en eers op die vierde dag die son en maan gemaak het om hierdie verantwoordelikheid van Hom oor te neem. Maar skynbaar neem Hy dit terug aan die einde. Dan is daar nie meer ’n son en ’n maan nie, “want die heerlikheid van God het die stad verlig, en die Lam is sy lamp” (Op 21:23).

Hierdie plus bo die begin, kom ook in ander verbande dikwels in die Nuwe Testament voor. Paulus vergelyk Adam en Christus twee keer om te beklemtoon dat Christus veel meer is as Adam. Hieruit moet ons leer dat die verlossing en die eindheerlikheid veel meer is as die skepping.

  • Deur Adam het ons onder die oordeel van God gekom, maar deur Christus word ons vrygespreek.
  • Deur Adam se sonde het die dood geheers, maar deur Christus ontvang ons ’n oorvloed genade en sal ons lewe en heers.
  • Die een oortreding het gelei tot veroordeling van alle mense, maar die een daad van gehoorsaamheid het gelei tot vryspraak en lewe vir almal.
  • Soos baie deur die ongehoorsaamheid van die een mens sondaars geword het, sal baie deur die gehoorsaamheid van die een Mens vrygespreek word (Rom 5:15-19).

Maar dis een ding om te weet die einde sal veel meer wees as die begin, ons sal verheerlik word. Maar dis ’n ander ding om te probeer agterkom wat met hierdie “verheerliking” bedoel word. Dit kan help om na die heerlikheid van God te kyk. In die Ou Testament word sy heerlikheid dikwels voorgestel as ’n ligglans wat so helder is dat ’n mens nie eens daarna kan kyk nie. Soms word gesê dat ’n mens God nie kan sien en bly lewe nie. Daarom beskryf die mense aan wie God verskyn, nooit hoe Hy lyk nie, maar net die dinge rondom Hom. Jesaja skryf dat hy die Here gesien het, maar hy sê nie hoe die Here lyk nie, hy beskryf net die dinge rondom Hom: sy troon, sy kleed, die serafs (Jes 6:1 ev).

Uit dit alles is dit duidelik dat ons nie veel uit die Ou Testament kan aflei oor die heerlikheid van God nie. Maar in die Nuwe Testament word sy heerlikheid in verband met Christus gebruik. In Jesus het die dissipels die Vader se heerlikheid gesien (Joh 1:14), en dit was die oorvloed van sy genade en waarheid. Dit bring die heerlikheid van God op ’n ander vlak, nie hoe Hy lyk nie, maar wat Hy doen. En dan kan ’n mens maklik in sy kruisiging en opstanding die toppunt van sy heerlikheid sien: genade en waarheid.

Maar verder word ook ons met sy heerlikheid in verband gebring. Ons weerspieël die heerlikheid van die Here Jesus en ons word geleidelik verander om aan sy beeld gelyk te word sodat ons sy heerlikheid al meer kan uitstraal (2 Kor 3:18). Dan word heerlikheid etiese kwaliteite. En dan dink ons onwillekeurig aan Openbaring 21:27 dat in die nuwe Jerusalem niks onreins sal inkom nie.

Maar Paulus het ook ander beklemtonings in verband met heerlikheid. Wanneer hy oor ons eie toekomstige opstanding skryf, gebruik hy sterk kontrasterende begrippe. Hy stel die mens wat gesterf het teenoor die mens wat opstaan:

  • verganklik – onverganklik
  • gering – in heerlikheid
  • swak – in krag
  • ’n natuurlike liggaam – ’n geestelike liggaam

Daar is maklik misverstand oor die “geestelike” liggaam asof dit nie meer regtig ’n liggaam sal wees nie. Maar net hierna noem Paulus Jesus se opstandingsliggaam “die lewendmakende Gees” (15:45). Daaruit kan ’n mens aflei dat “geestelike” liggaam beteken ’n liggaam wat by die opstanding deur die Gees lewend gemaak is.

Uit die teenoorstellings wat Paulus hier maak, is dit duidelik dat dit die swakheid, verganklikheid, sterflikheid van ons liggaam is wat oorwin word. Dit is die dood wat oorwin word, en dit is dan ’n deel van ons verheerliking. Maar daar is “voorvorms” van die dood, aanduidings dat ons aan die dood onderworpe is: swakheid, siekte, ouderdom. Maar ook hierdie vorms van lyding word in die verheerliking weggeneem: “Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan” (Op 21:4). As ons nou teruggaan na “geestelike liggaam” is dit die liggaam wat deur die Gees opgewek is (Rom 8:11) en daarom volkome deur die Gees beheer word, wat beteken dat ook die sonde nou totaal oorwin is. Dit is wesenlike aspekte van verheerliking.

Maar dit het ons onbewustelik by die ewige lewe gebring, nog ’n belangrike faset van ons verheerliking.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

Skrywer: Prof Adrio König