Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (10)

Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (10) – Adrio König

9.3.2 Jesus as die rots

Paulus bring Jesus op nog ’n merkwaardige manier in verband met die uittog (1 Kor 10:1-22). Hy gebruik die uittog soos dit dikwels in die Ou Testament gebruik is as ’n waarskuwing. Hy wil die gemeente in Korinte veral teen hoogmoed en afgodsdiens waarsku.

Hy begin met ’n verwysing na die begin van die uittog: Die wolk wat hulle bedags gelei het en die deurtog deur die Rooisee. En sy nadruk is dat almal, dus die hele volk, die seëninge van God gedeel het. Hierdie seëninge is die beskerming deur die wolk, die redding van die vyand deur die Rooisee, die manna en die water uit die rots. Dit is almal bekende gebeurtenisse wat ons maklik in Eksodus en Numeri kan naslaan.

 

Maar wat nou belangrik is, is die interpretasie wat Paulus gee aan hierdie ervarings tydens die uittog. Die beskerming deur die wolk, en die deurtog deur die see interpreteer hy as hulle doop, en die manna en die water uit die rots interpreteer hy as hulle nagmaal. Dit is nogal opvallende interpretasies. Maar dis duidelik waarom hy dit doen. Dit sal hom help om Israel en die uittog te gebruik as waarskuwing aan die gemeente in Korinte, want hulle is ook gedoop en het ook nagmaal gebruik. Die punt wat hy gaan maak, is dat Israel net soos hulle die volle heil uit God se hand ontvang het, en tog verwerp is in die woestyn (10:5, 6). Die gemeente in Korinte moet oppas dat dit nie met hulle ook gebeur nie.

 

Maar ons moet in meer besonderhede kyk na sy interpretasie van Israel se ervarings. Hy interpreteer die beskerming onder die wolk en die deurtog deur die see as hulle doop (2). Die wolk en die see het wel albei met water te doen, en dit kan ’n mens aan die doop laat dink. Maar verder nie veel nie. En veral die gedagte van sekere kommentare dat hulle in die see onderdompel is en dat dit sou klop met die doop wat volgens hulle deur onderdompeling bedien is, is natuurlik vreemd om die minste daarvan te sê. Immers hulle is – Goddank! – droogvoets deur die see. Dié wat “onderdompel” is, die Egiptenaars, het verdrink. En “onderdompeling” in ’n wolk wat bokant die volk getrek het, is ook nie oortuigend nie.

 

Wat wel belangrik is, is Paulus se verdere interpretasie. Die Afrikaanse vertalings lui: “Omdat hulle almal vir Moses gevolg het, is hulle almal in die wolk en in die see gedoop” (1983 en NLV). Maar dit gee nie taalkundig of teologies goeie betekenis nie. Dit is tog vanselfsprekend dat hulle almal vir Moses gevolg het. Waarom sou Paulus dit byvoeg? En hoe sou dit kon bydra tot die feit dat hulle in die wolk en in die see gedoop is? As ’n mens Paulus se interpretasie van die doop in jou agterkop hou, sien jy maklik wat hy eintlik volgens die Grieks wil sê.

 

Oor en oor lees ons by hom dat ons deur die doop met Christus verenig is of in Christus ingedoop is (Gal 3:27; Rom 6:3-4). Dis presies wat hier in verband met Moses staan. Selfs die absoluut tradisionele NIV vertaal: “They were all baptized into Moses in the cloud and in the sea.” (So ook oa GN, ISV, NJB, PC, W, WJ, 1953-vertaling.) Juis hierdie interpretasie van Israel se ervarings help Paulus om die gemeente te waarsku: Israel het dieselfde ervarings gehad as julle, Israel is ook deur die “doop” met hulle leier verenig, en tog is hulle verwerp. Oppas!

 

Paulus se interpretasie van Israel se “nagmaal” is net so interessant. Hy interpreteer die manna wat hulle geëet het as die brood van die nagmaal, en die water uit die rots as die wyn (3-4). Maar hy noem dit “geestelike” voedsel en “geestelike” drank, en die rots waaruit die water gekom het, ’n “geestelike” rots (4). En net hier kan ’n mens jou in ’n warboel vasloop. Hoe lyk geestelike brood (manna) en geestelike wyn (water)? En nog vreemder: Hoe lyk ’n geestelike rots? ’n Rots is tog klip, kliphard. En gees is tog soos lug, ’n mens kan dit nie eens voel nie.

 

En dis presies ons fout. Ons gee vooraf aan ’n woord betekenis sonder om te vra na die verband waarin dit gebruik word. Dieselfde ding gebeur wanneer sommige teoloë vandag beweer dat ons nie regtig liggaamlik sal opstaan nie omdat Paulus die opstandingsliggaam ’n “geestelike” liggaam noem (1 Kor 15:44). Maar al wat Paulus regtig hier bedoel met “geestelik” is: Onder die beheer en leiding van die Heilige Gees. Dis ook die woord wat hy in 1 Korintiërs 3:1 in verband met mense gebruik: Geestelike mense. En mense kan tog nie soos lug word, airy nie. Jy kan tog aan hulle vat, al is hulle ook hoe vroom. Daarom het die vertalers “geestelike mense” vertaal met: “mense wat hulle deur die Gees van God laat lei.” Dus mense onder die beheer en leiding van die Gees. Die manna en die water was dus volkome tot beskikking van God/sy Gees. Daarom was dit meer as net gewone water en manna. En net so ook die rots.

 

En nou nog twee sake. Paulus maak oor die rots waaruit die water gekom het, ’n vreemde stelling: “die rots wat met hulle saamgegaan het” (4). Dit beteken die rots het beweeg en saam met hulle getrek. Maar terwyl al die ander dinge waaroor hy skryf, duidelik in Eksodus en Numeri staan, staan daar niks van ’n bewegende rots nie (Eks 17:6; Num 20). Waar kry Paulus dit? Hy kry dit in ’n ou Joodse oorlewering. Daar is ’n storie dat die rots saam met Israel getrek het sodat hulle elke keer kon water kry. Maar waarom bied Paulus nou hierdie ou legende aan asof dit die waarheid is? Omdat dit hom die ruimte gee om iets merkwaardigs oor die rots te sê, en dit is die punt waarby hy wou uitkom om sy waarskuwing des te sterker te maak. “Die rots was Christus.”

 

As die rots Christus was, kan jy maklik die legende van die bewegende rots aanvaar. Christus het met die volk saamgetrek. Juis dit maak die waarskuwing soveel ernstiger: Israel het alles gehad, en tog is daardie geslag verwerp. Oppas, gemeente van Korinte! (10:6, 11)

 

Paulus teken dus ’n volledige prentjie van die seëninge wat Israel in die woestyn geniet het. Dit was die volle heil, wat voorgestel word deur die doop en die nagmaal, en trouens deur die teenwoordigheid van Christus self. Dis dieselfde heil waarin die Korintiërs deel, en juis daarom moet hulle die waarskuwing so ernstig neem.

 

Wat was dan die fout met Israel? In die hele deel verwys Paulus nie een keer na hulle antwoord op die heil nie. Alles gaan oor wat God gedoen het. Hulle het nooit sinvol op die genade geantwoord nie. Dis presies dieselfde waarskuwing wat hy later in die tweede brief in ander woorde herhaal (2 Kor 5:17-21): God het alles klaar gedoen, die versoening is afgehandel. Aanvaar nou hierdie versoening wat God deur Christus bewerk het (2 Kor 5:20). Ook in hierdie geval het hy die versoeningswerk van God in Christus breed uitgespel. Maar van ons kant moet daar ’n antwoord kom: aanvaarding, bekering, toe-eiening, anders bly ons buite staan. Dit was Israel se probleem.

 

Ons het hier nog ’n voorbeeld van hoe vry Bybelskrywers met die geskiedenis kon omgaan, net soos die verskil tussen die Evangelies oor die Paasfees en die kruisiging (9.3.1). In die volgende voorbeeld, Jesus se eie uittog (9.3.3),  gaan ons dit weer sien, en dan sal ons dieper daarop ingaan.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:  Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (9)

Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (9)- Adrio König

9.3 Die betekenis in die Nuwe Testament

Die uittog speel nie ’n besondere rol in die Nuwe Testament nie. Dis nogal vreemd as ’n mens onthou hoe belangrik dit in die Ou Testament was en ook hoe dikwels die skrywers van die Nuwe Testament na die Ou Testament verwys (hoofstuk 6).

Daar is wel ’n paar verwysings. In Handelinge 7 is dit deel van Stefanus se lang oorsig oor Israel se geskiedenis. Hy skryf eensydig negatief oor Israel se rol tydens die uittog (Hand 7:39- 45). Hebreërs 11 handel oor die sogenaamde geloofshelde van die Ou Testament. Dis merkwaardig hoeveel aandag hy aan veral Abraham gee, en ook aan Josef en Moses, en daarteenoor dan die minimum aandag aan die uittog (11:29-30). Hy gee Israel se rol eensydig positief weer, maar met net twee kort verwysings: die tog deur die Rooisee en die val van Jerigo. Dis merkwaardig dat veral oor die deurtog deur die see ons net lees: “Omdat die Israeliete geglo het, het hulle deur die Rooisee getrek soos oor droë grond,” terwyl ons goed weet hoe hulle gevrees het en in opstand was. Daar is dus nie soveel nuuts in verband met die uittog in die Nuwe Testament nie, behalwe die wyse waarop dit wel direk op Jesus uitloop. Daar is drie belangrike verwysings.

 

9.3.1 Jesus as die paaslam

Jesus word “ons Paaslam” genoem (1 Kor 5:7). Dis duidelik ’n terugverwysing na die instelling van die Paasfees tydens die uittog. Daar is meer verwysings na Jesus as die Lam (Joh 1:29, 36; 19:36; 1 Pet 1:19; Op 5:6). Dit is nie elke keer duidelik na watter lam in die Ou Testament dit terugverwys nie. In die Ou Testament is daar van drie verskillende lammers sprake:

  • die paaslam (Eks 12),
  • die lam wat daagliks geoffer is (Num 28:4),
  • en die lam van Jesaja 53:7.

 

Dit is nie regtig nodig om in elke geval presies te onderskei oor watter lam dit gaan nie. Minstens twee van die lammers het verband gehad met verlossing/vergifnis. Die betekenis van Jesaja 53 se lam het juis direk met sonde te doen. “Die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom.” En alhoewel dit nie duidelik is dat enige van die verwysings na Jesus as die Lam regtig teruggaan na die brandoffer van Numeri 28 nie, kan die betekenis van die brandoffer inderdaad ook na Jesus verwys. Dit was ’n lam as ’n offer aan die Here vir die beskerming teen gevare.

 

 Maar daar is besondere nadruk op Jesus as die Paaslam. Hy word uitdruklik só genoem in 1 Korintiërs 5:7. En die paaslam moes juis die nag van die uittog die volk beskerm teen die oordeel van die Here. Veral Johannes bring dit nog baie meer direk in verband met Jesus se kruisoffer vir ons sonde. Dit bring ons by een van die interessantste verskille tussen Johannes en die Sinoptiese Evangelies. Volgens die Sinoptici het Jesus die nagmaal op Donderdagaand tydens die Paasfees ingestel, sodat Hy die dag ná die Paasfees gekruisig is. Maar volgens Johannes sou die Paasfees eers Vrydagaand ná sy kruisiging gevier word.

 

Volgens die eerste drie Evangelies eet Jesus en sy dissipels die paasmaal die aand voor Hy gekruisig is (Matt 26:17 ev). Dit is trouens juis tydens hierdie paasmaal dat Jesus die nuwe “Paasfees”, die nagmaal, instel (Matt 26:20 ev) wat beteken dat daar ’n direkte verband is tussen die Paasfees en die nagmaal. Beide is bevrydingsfeeste, bevryding uit slawerny. Israel is bevry uit die slawediens in Egipte, en ons uit die slawediens aan die sonde. Jesus word dan laat daardie nag gevang, en sterf die volgende dag, Vrydagoggend, die dag ná die Paasfees.

 

Maar volgens Johannes eet Jesus en die dissipels die Donderdagaand ’n gewone maaltyd. Johannes skryf uitdruklik dit was vóór die Paasfees (Joh 13:1 ev) en hy het geen verwysing na hierdie maaltyd as ’n paasmaal nie, en geen sprake daarvan dat Jesus die nagmaal instel nie. Dit is ’n gewone ete. Johannes doen selfs moeite om dit te benadruk. As hy die ete begin beskryf, lees ons: “Voor die viering van die paasfees … ” en as Jesus Judas tydens die maaltyd uitstuur, dink die dissipels dis om die dinge te gaan koop wat hulle (die volgende dag) vir die paasmaal sou nodig hê (13:29).

 

Die Paasfees sou dus eers die volgende dag gevier word. Presies dit lees ons ook oor die verhoor van Jesus vroeg Vrydagoggend. “Toe het hulle (die Joodse leiers) vir Jesus van Kajafas na die ampswoning van die goewerneur toe gebring. Dit was die môre vroeg. Hulle het self nie in die ampswoning ingegaan nie, sodat hulle nie onrein sou word nie maar die paasmaaltyd sou kon eet” (Joh 18:28). Hiervolgens sou die Paasfees dus die aand ná Jesus se kruisiging gevier word, en nie die aand toe Hy gevange geneem is, soos die Sinoptici dit het nie.

 

Wat nou belangrik is, is die feit dat Hy volgens Johannes juis die oggend gekruisig is toe die lammers vir die Paasfees geslag moes word. Hy is dus die nuwe Paaslam. Johannes beklemtoon dit nog verder deur te skryf dat hulle nie Jesus se bene gebreek het nie, maar met ’n spies in sy sy ingesteek het, en dat die Skrif, wat lui dat geen been van die paaslam gebreek moes word nie, op dié manier vervul is (Joh 19:33, 36).

 

Ons het dus hier ’n besonder interessante situasie. Die Sinoptiese Evangelies lê doelbewus ’n verband tussen die Paasfees en die nagmaal – ’n volkome sinvolle verband. Jesus stel tydens die Paasfees die nagmaal in wat net soos die Paasfees ’n bevrydingsfees is. Maar Johannes lê ’n verband tussen die paaslam en Jesus as die nuwe Paaslam – net so ’n sinvolle verband. Dit laat ons natuurlik met die baie interessante vraag hoe dit is dat die Evangelies oor so ’n saak so duidelik kan verskil. Heelwat pogings is aangewend, veral deur teoloë wat aan die letterlike onfeilbaarheid van die Bybel vashou. Die aanvaarbaarste van hierdie verklarings is waarskynlik dat die Paasfees op enige van sewe aande gevier kon word, omdat dit deel was van die Fees van die Ongesuurde Brode wat sewe dae lank geduur het (Eks 12). Hulle meen dat Jesus en sy dissipels doelbewus ’n vervroegde Paasfees gehou het, dat hulle die Paasfees met een dag vervroeg het. Dit is nie ’n onredelike verklaring nie, maar dis tog geforseerd. Niemand sou ooit aan so ’n uitgestelde fees gedink het as dit nie was dat hulle die Sinoptiese Evangelies en Johannes wil laat ooreenstem nie. Nêrens is daar sprake dat dit nie op die gewone datum gevier is nie, en dit terwyl daar nogal heelwat verwysings na hierdie Paasfees is.

 

Die alternatief is om te aanvaar dat die Evangelies verskil, soos hulle inderdaad op baie ander kleiner punte van mekaar verskil. Hulle gesag lê nie in die feit dat hulle in elke detail met mekaar saamstem nie, maar in die boodskap wat hulle bring. En oor hierdie verskil wanneer die Paasfees was, het hulle ’n volkome geloofwaardige boodskap. Hulle belewing en weergawe van die geskiedenis was nie dieselfde as ons moderne eis van presiesheid nie. Ons kom in die volgende bladsye weer hierop terug met die vlug na Egipte. Maar die Bybelskrywers het dikwels die geskiedenis in diens van die Evangelie gestel en daarby aangepas.

 

Die punt van Jesus en die Paasfees is egter duidelik. Sy dood het alles met die Paasfees te doen. Hy stel ’n nuwe bevrydingsfees in tydens die Joodse bevrydingsfees, ’n bevryding wat veel heerliker is as dié uit Egipte, bevryding van die skuld en die mag van die sonde. Maar Hy is self ook die nuwe Paaslam, en Hy het ’n veel heerliker betekenis as die oorspronklike paaslam. Die paaslam in Egipte moes die volk beskerm teen die doodsengel wat hulle eersgeborenes sou laat sterf, maar die nuwe Paaslam beskerm ons teen die ewige oordeel van God.

 

Ons is besig om te kyk na die betekenis van die uittog uit Egipte in die Nuwe Testament. In die volgende artikel gaan ons na Jesus as die rots kyk.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:  Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (8)

Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (8) – Adrio König

9.2.3 Die positiewe interpretasie van Israel se rol

Teenoor hierdie negatiewe interpretasie van die uittog, staan ’n merkwaardig positiewe een. Met die eerste oogopslag kan ’n mens amper nie dink dit verwys na dieselfde uittog nie.

 

Jeremia 2:1-3 is so ’n voorbeeld. Die Here sê: “Ek onthou nog hoe getrou jy aan My was in jou jeug; hoe lief jy My gehad het toe jy my bruid geword het. Israel was aan die Here gewy soos die eerste vrugte van die oes.” Wat ’n beeld om die innige verhouding tussen die Here en sy volk te beskryf! Die eerste vrugte van die oes was net die Here s’n. Niemand anders het reg daarop gehad nie (Eks 23:19; Lev 22:10 ev). Dit beklemtoon die eksklusiewe verhouding.

 

Terwyl sommige interpretasies van die uittog uitsluitlik daarop gerig is om ons op te roep om die Here te loof (9.2.1), en ander net op die negatiewe rol van Israel ingestel is (9.2.2), het ons hier ’n interpretasie wat uitsluitlik aan die positiewe rol van Israel aandag gee. Die uittog word as ’n idilliese tyd beskryf waarin Israel getrou aan die Here was en Hom soos ’n bruid liefgehad het, en dit nogal onder die allermoeilikste omstandighede in die woestyn waar geen kos was nie.

 

Wat wil die profeet hiermee bereik? Hy wil die geslag van sy tyd des te ernstiger vermaan oor hulle en hulle voorouers se ontrou (die res van die hoofstuk). Dit is een van die aangrypendste hoofstukke in die hele Bybel. Doen die moeite om dit te lees. Die kontras wat hy skilder tussen die idilliese liefde aan die begin in die woestyn, en die skreiende ontrou daarna in die beloofde land, roep ten hemel. En net so die kontras tussen Israel se ontrou aan hulle God terwyl selfs die heidene aan hulle gode getrou is (2:10 ev). Deur hierdie kontraste wil hy die volk met mag oproep om berou te kry en hulle te bekeer. Daarom gebruik hy ’n volkome eensydige interpretasie van die uittog. Hy wil sê: As julle voorouers só getrou was, watse rede is daar vir julle om die Here te verruil vir ander gode wat glad nie eens regtig gode is nie (2:11)?

 

Hosea 2:13-22 is nog so ’n voorbeeld. Ook hier het ons ’n eensydig positiewe interpretasie van Israel se rol tydens die uittog. Al wat van Israel gesê word, is dat sy die Here liefgehad het. Die Here sien uit na die toekoms: “Dan sal sy weer my liefde beantwoord soos toe sy jonk was, soos toe sy uit Egipte getrek het.” Dit word hierdie keer net per implikasie gekontrasteer met hulle ontrou in die profeet se tyd.

 

Wat is dan die eintlike punt? Iets heeltemal anders as by Jeremia. Hosea beklemtoon die ongelooflike goedheid van die Here wat ondanks Israel se ontrou in hierdie tyd, sal maak dat hulle in die toekoms weer die Here so getrou soos tydens die uittog sal dien. Die punt is dus die toekomstige goedheid van die Here, soveel so dat Hy die ontrou van Israel sal verander sodat die bruidstyd van die woestyn herstel kan word. Dus op ’n baie interessante manier kom die profeet weer uit by die goedheid van die Here waaroor die volk Hom moet loof. Die Here gaan Israel dan “vir altyd” sy bruid maak (2:18).

 

Is hierdie eensydig positiewe interpretasie ’n verdoeseling van die werklikheid? Nee. Ons het dieselfde soort eensydig positiewe interpretasie gekry in die oproepe om God se lof te besing (9.2.1). Ons moet onthou dat die uittog ’n lang geskiedenis deurloop het waarin daar baie kante was. Daar was inderdaad ook positiewe reaksies van Israel. As die profeet daarvan ’n punt wou maak, het dit hom vrygestaan. Trouens ’n mens sien duidelik by Hosea dat hy wat die uittog so eensydig positief kon interpreteer, ook deeglik van die negatiewe kant bewus was. Kyk maar net na Hosea 9:10-17. Dit begin net so positief oor Israel se aan deel aan die uittog: “Israel was vir My soos druiwe waarop ’n mens in die woestyn afkom.” Maar net twee sinne verder kom dan die draai: “Maar hulle het na Baäl-Peor toe gegaan en hulle verbind aan ’n god wat vir hulle in die steek laat, en hulle het net so afstootlik geword soos die ding wat deur hulle vereer is” (9:10b). Hy verwys na Numeri 25.

 

En later, wanneer hy die troue liefde van die Here wil uitsing, lees ons hoe die Here soos ’n moeder vir ’n seuntjie, vir Israel in die woestyn gesorg het, “maar hulle wou nie erken dat dit Ek is wat vir hulle sorg nie” (11:3). En ’n paar verse later: “Maar Efraim het geweier om hom te bekeer” (11:5).

 

Wat ons egter wel leer uit hierdie uiteenlopende interpretasies van die uittog, is dat die situasie bepaal het watter kant van die uittog die profeet na vore bring. Dit beteken dat die uittog nie een vaste betekenis in die Bybel het nie, maar deur verskillende profete op verskillende maniere gebruik word om hulle verskillende oogmerke te bereik. En die uittog het hierdie verskeidenheid van interpretasies toegelaat omdat dit ’n lang en gevarieerde geskiedenis deurloop het.

 

In die volgende artikel gaan ons kyk na die betekenis van die uittog in die Nuwe Testament.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:  Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (7)

Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (7)) – Adrio König

Maar naas die lof aan die Here is daar ’n tweede lyn. Dit is die beklemtoning van die negatiewe rol van Israel in die woestyn. En ons sal sien hulle negatiwiteit word met verskillende oormerke uitgelig. Ons gaan na drie gedeeltes kyk:

  1. 1.Esegiël 20
  2. 2.Psalm 106
  3. 3.Psalm 95

Psalm 95

Die vorm van hierdie Psalm is belangrik. Die eerste deel (1-7a) is ’n oorweldigende juigpsalm oor die grootheid van die Here.

Daar is ’n uitbundigheid in die oproep. Die sterkste juig woorde beskikbaar in Hebreeus word gebruik. En dan skielik die absoluut negatiewe prentjie van die uittog (7b-11). Waar om?

 

Die eerste deel is ’n oproep aan die volk wat tydens ’n fees in die tempel is. Dit bestaan uit twee dele, twee oproepe om die Here te loof (1-2, 6). Na elke oproep volg die rede waarom Hy geloof moet word (3-5, 7a). Die eerste rede is die feit dat Hy die groot Heerser oor alle ander gode is, en verder sy groot mag oor die hele aarde: dieptes, hoogtes, see, land – alles. Hy is duisendmaal werd om uit volle bors geprys te word!

 

En dan die tweede oproep. Dit is jammer dat nie een van NLV en 1983 die “want” voor vers 7 ingesit het nie, want hier het ons weer die rede vir die oproep tot lof. Die punt is dat dit nie sommer so ’n godjie is wat Israel uitgekies het as sy volk nie. Dis sonder meer dié God van hemel en aarde, die God van die gode.

 

Wat ’n voorreg. En kyk na die verhouding. Dis nie net die een verpligting op die ander wat Hy hulle oplê nie, al sou Hy dit maklik kon doen. Dis die sagte, versorgende verhouding van ’n herder wat omgee vir sy skape. Hy hou sy hand persoonlik oor hulle (7a). Dít is oorgenoeg rede om Hom van harte te loof. Dit is ’n idilliese prentjie vir iemand wat in die harde omstandighede van die destydse Palestina ’n skaapboer (of ’n skaap!) was.

 

En nou die draai in vers 7b na die absolute negatiewe uittogprentjie. Net een enkele insident word uitgelig, die opstand van die volk toe hulle nie water gehad het nie (Eks 17). Dit word dan verbind aan Numeri 14 waar die Here uiteindelik besluit om die geslag wat aanhoudend opstandig is, in die woestyn te laat uitsterf voor die volgende geslag die land kan intrek. Dis een van die slegste dinge wat ooit met Israel gebeur het.

 

Nou die vraag: Waarom nou, in die tempel waar die volk die Here uit volle bors oor sy grootheid (3-5) en sy goedheid (7a) moet loof, waarom juis nou na hierdie smartlike geskiedenis te rug verwys? Kommentare probeer redes gee. Niks is regtig seker nie. My voorstel is die volgende. Ons geestelike hoogtepunte kan ook die gevaarpunte wees vir ons diepste val. Wanneer die lof moet weerklink, is die groot gevaar dat dit lof met die lippe is, maar nie met die hart nie. Petrus val die diepste presies wanneer hy sy hoogtepunt bereik om Jesus as Messias te bely (Matt 16:13- 23). Die profeet wil met die verwysing na hierdie smartlike insident die volk dringend waarsku om die uitbundige lof van harte te gee, en nie maar net te doen wat daar en dan fatsoenlik is nie. Dis maklik om saam met die entoesiaste self ook in te val en “hoog op te gee”, maar is ons eg?

 

Hier word die negatiewe interpretasie van die uittog dus gebruik as waarskuwing aan die volk. Dis een van die algemeenste gebruike van die uittog. Dit kom oor en oor in talle verbande voor (oa Ps 81).

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König