Verdeelde reaksie onder die Jode (10:19-21)

Verdeelde reaksie onder die Jode (10:19-21) – Francois Malan

10:19 Daar het toe weer verdeeldheid onder die Jode gekom (vgl. 7:43; 9:16) oor ‘hierdie woorde’. Veral twee woorde in die voorafgaande gedeelte het aanstoot gegee: (i) die wyse waarop Jesus gepraat het oor die verhouding tussen Hom en die Vader, wat deur sommige as godslastering beskou is; (ii) die gedagte dat Hy sy lewe kan aflê en weer opneem, het buite die ervaring en verbeelding van die mens gelê.

10:20 Baie sê Hy het ‘n duiwel – is in bondgenootskap met die duiwel (soos drie maal tevore 7:20; 8:48,52), en voeg by: Hy is mal – irrasioneel, onder beheer van ‘n bose gees. Met uiters beledigende taal sê hulle Jesus is nie vir sy woorde verantwoordelik nie, omdat Hy onder beheer van die duiwel sou staan.  Daarom moet niemand na Hom luister nie.

 

10:21 Ander is verwonderd oor die wonderdade wat Jesus gedoen het, veral die blindgeborene se oë wat geopen is. Dit kon alleen deur ‘n gunsgenoot van God gedoen word (9:31), nie in diens van die duiwel nie, en daarom moet na sy woorde geluister word, as iemand wat van God af kom. Maar of hulle dit alles kan glo bly moeilik. 

 

Die fees van die tempelwyding – die Jode verwerp Jesus (10:22-42)

 

Die Jode vra: is U die Christus? (10:22-30)

10:22-23 Tydens die Loofhuttefees in Jerusalem (7:10) verwys Jesus na die Heilige Gees as ‘strome van lewende water’ wat sal vloei uit die binneste van dié een wat in Hom glo (7:38). Daarop volg sy strydgesprek met die Jode (hoofstuk 8), die genesing van die blindgeborene (hoofstuk 9), en die goeie herder (10:1-21). Twee maande na die Loofhuttefees, volg die fees van die Tempelwyding (Chanukkah –weidingsfees) wat op die 25e van die maand Kislev (November-Desemer) vir 8 dae lank begin.

            [Na hulle terugkeer uit ballingskap in Babilonië in 538 v.C. bly die Jode onder die Persiese regeerders tot die Grieke onder Alexander die Grote die Perse in 333v.C. verslaan. Na sy dood in 323 v.C. word Alexander se ryk verdeel onder drie van sy generaals: Antigonus in Griekeland, Seleukus in Asië, Ptolemeus in Afrika. Die Jode val toe onder Ptolemeüs in Egipte in die suide, totdat Seleukus se nageslag, wat in Sirië noord van Israel regeer, die Ptolemeërs in 198 v.C. verslaan en Palestina vir hulle vat.  Antiogus IV Epifanes regeer van 175-164 v.C. Hy beveel die Jode om hulle godsdiens en wette te los en die Griekse god Zeus te aanbid, rig ‘n beeld van Zeus in die tempelterrein op, en begin om varke op die altaar vir Zeus te offer op 25e Kislev 167 v.C. (vgl. Dan. 11:31 se gruwel vir die Here, wat ‘n toekoms simbool word in  Mat 24:15). Daardie dag begin die Joodse opstand onder leiding van Judas Makkabeus,  wat die tempel in 165 v.C. reinig en op 25 Kislev weer offers bring ‘soos die wet dit bepaal.’  Die volk vier vir 8 dae fees, en dit word bepaal dat die fees jaarliks gehou word. Die fees word nie in die Ou Testament genoem nie. In 63 v.C. neem die Romeine beheer oor Palestina oor by die Joodse Makkabeërs, en in 47v.C. stel Julius Caesar die Idumeër Antipas, die pa van Herodes die Grote, aan as die goewerneur van Judea.]

            15 Desember tot 15 Februarie is winter in Palestina, maar weerspieël ook die vasgevriesde gees van die Jode en hulle koudheid teenoor Jesus, juis tydens die fees wat die groot bevryding van die Jode uit die afgodsdiens en die triomf van die ware godsdiens in Israel vier. Die groot vreugdefees is in elke huishouding gevier, en is gekenmerk deur lig, daarom word die fees ook Foota‘(‘ligte’ in Grieks) genoem. Op elk van die 8 dae van die fees word ‘n lamp aangesteek tot al 8 brand op die laaste dag.  Jesus loop in die 15 meter breë pilaargang van Salomo wat al langs die oosgrensmuur om die tempel opgerig is om die volk te leer. Dit is reëntyd, en die pilaargang bied skuiling teen wind en weer. Later is dit ook die plek waar die eerste gemeente vergader (Hand.5:12).

 

10:24  Die vyandige Jode/leiers omsingel Jesus sodat hy van sy volgelinge afgesonder is. Hulle verwyt Hom dat Hy hulle onnodig in onsekerheid hou. Hulle eis ‘n ondubbelsinnige uitspraak dat Hy die Christus is. Dit terwyl Jesus telkens duidelik gepraat het van sy unieke verhouding tot die Vader (vgl. 5:17; 10:15,17, ens.). Maar hulle het geweier om te aanvaar dat Hy deur God gestuur of die Seun van God is. Maar omdat Jesus soms beelde gebruik het, soek hulle ‘n antwoord wat nie in beeldspraak of met vergelykings ingeklee is nie. Die Jode verwag ‘n politieke bevryder as Messias/Christus (Gesalfde). As Jesus nou openlik verklaar dat Hy die Christus is, kan die Jode Hom by die Romeinse owerheid aankla as die leier van  ‘n opstand.       

 

10:25 Jesus antwoord met ‘n indirekte vraag wat na sy woorde en wonderwerke verwys as getuienis dat Hy van God af kom. Hy is God se besondere Gesant, wat God sy Vader noem. Hy is inderdaad die  beloofde Messias, maar gee nie ‘n direkte antwoord nie, want hulle beskou die Messias as ‘n politieke figuur wat hulle van die Romeinse owerheid sal verlos. Dit is Jesus beslis nie. Hulle  idee en verwagting van die Messias maak dit vir Hom onmoontlik om bloot te sê Hy is die Messias, want Hy is ‘n ander soort Messias as waaraan hulle aan dink. Hulle ongeloof en onwilligheid om ‘n ander soort Messias as hulle vooropgestelde idee te aanvaar is die probleem, nie sy getuienis nie. Aan die Samaritaanse vrou wie se geloof begin blom het, het Hy dit duidelik gesê (4:25,26; ook aan die blindgeborene 9:35). 

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Jesus die Goeie Herder (10:11-18)

Jesus die Goeie Herder (10:11-18) – Francois Malan

10:11  ‘Ek is die goeie herder.’ Weer die ‘Ek is’ waarmee Hy Homself aan Moses geopenbaar het. Die herder is goed deurdat Hy sy lewe vir die skape ‘op die spel plaas’ (die letterlike betekenis van tithemi) – wat die huurling nie doen nie. Maar Jesus doen dit tot die uiterste toe deur sy fisiese lewe (psuche) vrywillig vir hulle, sy skape, ‘af te lê.’ 

10:12-13 Die huurling is nie bereid om sy lewe te waag vir die skape nie, wat nog te sê aflê vir hulle. Hy is nie die eienaar van die skape nie, gee nie vir hulle om nie, verdedig hulle nie. Sy lewe en sy inkomste is vir hom belangriker as die skape wat aan hom toevertrou  is. Daarom vlug hy weg as daar ‘n wolf kom. Hy is nie ‘n ware ‘wagter’ van die skape nie. Die huurling se optrede weerspieël die godsdienstige leiers se houding, wat net vir hulle eie voordeel werk, sonder liefde of besorgdheid oor die volk (7:49 ‘die vervloekte menigte’). Die wolf simboliseer die optrede van die Satan wat op allerlei maniere en deur verskillende mense die volgelinge van Jesus probeer aanval.(vgl. die wolf in Mt 7:15; Mt 10:16,17; Hand 20:29).

 

10:14-15 Jesus herhaal v11 se uitspraak: ‘Ek is die goeie herder…Ek lê my lewe af vir die skape. Tussenin word die uitspraak van v11 verder verduidelik met ‘Ek ken my eie en my eie ken My, soos die Vader My ken, en Ek die Vader ken.’ Jesus, die Seun van God, self God, het mens geword en onder ons kom woon (1:1,14). Die wedersydse ‘kennis’ van die Herder en sy skape dui op ‘n intieme verhouding. Dit weerspieël die gemeenskap van liefde tussen die Vader en sy Seun.

            [Vir die Grieke is ‘ken’ om die aard van iets te ken, vertroud met sy eienskappe, daarom is kennis van God vir hulle nadenke oor God, en ‘woord’ (logos) spel vir hulle ‘begrip’. Die Hebreeuse idee van ‘ken’ is om iets of iemand te beleef, om God te ken beteken om in ‘n verhouding met God te tree (vgl. bv. Amos 3:1-3 Ek het net vir julle uitgekies (Hebreeus jada‘ ‘geken, gesorg’) uit al die volke van die aarde, daarom sal Ek julle straf (Hebreeus: paqad  ‘tot verantwoording roep’) oor al julle sondes. Sal twee saamloop as hulle dit nie afgespreek  het nie (Hebreeus no‘ad  ‘jouself laat ken, ontmoet’). Johannes beklemtoon ‘n eenheid tussen die gelowige en God, wat met God se liefde vir die wêreld begin (3:16) en die skepsel se antwoord daarop met liefde deur Christus; in Hom alleen is God en mens een; dié mens wat in Christus glo word deel van die ewige lewe, opgeneem in die intieme huisgesin van God, Jn 1:12 ].

            Vers 11 se ‘goeie herder’ word ‘Ek lê my lewe af vir die skape.’ Daar is ‘n innige verhouding tussen Jesus en sy volgelinge. Hy bly aan hulle getrou tot die dood. Die Vader is ook betrokke in sy selfoorgawe tot in die dood as God se offer vir die sonde van die wêreld. Dit is die wil van sy Vader wat sy enigste Seun gegee het vir die verlossing van die wêreld.

 

10:16   Soos die beeld van die skaapkraal, met verskillende troppe wat daar oornag, verwys Jesus hier na skape wat nie aan sy Israel-kudde behoort nie (4:21 die verlossing kom wel uit die Jode). Die Samaritane het Hom reeds die Verlosser van die wêreld genoem  (4:42); Johannes die Doper: die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (1:29); Johannes 3:16 praat van God se liefde vir die wêreld; 6:21 Ek gee my liggaam sodat die wêreld kan lewe; 11:52 Hy sou nie net vir die (Joodse) nasie sterwe nie, maar ook om die kinders van God wat oor die hele aarde versprei is, tot een volk bymekaar te bring).

            Dit is sý skape, sý eiendom, want die Vader het hulle aan Hom gegee (10:29; vgl. 6:37,39,44,65). Hy sal hulle self bymekaarmaak, lei en dra (die woord agoo het al drie die betekenisse)’ en hulle sal na my stem luister’ – sy skeppingswoord wat van mense kinders van God maak. Vir sy werk onder die nasies van die wêreld gebruik Hy sy dissipels (volgelinge), wat Hy uitstuur (20:21) in die wêreld.’

            ‘…en hulle sal een kudde wees met een herder.’ Die eenheid van die kerk word sterk in Johannes beklemtoon. Dit spruit uit die enkele offer van God vir ons sonde (10:15,17-18) en sy unieke verhouding met die Vader en die mens (10:14,15); die eenheid van die kerk weerspieël die liefdeseenheid tussen die Vader en die Seun (17:20-23). Aan die één Herder behoort één kudde. Die opdrag van die Herder aan sy kudde is: Soos Ek julle liefhet, moet julle ook mekaar liefhê (13:34). Daarom vertoon die liefdeseenheid van die gelowiges die beeld van God (Gen 1:27; Jn 17:20-23).

 

10:17 Om sy kudde bymekaar te maak en in een kraal saam te bring, is dit noodsaaklik dat Hy sy lewe vir hulle aflê. Dit word die derde keer genoem (vgl. v11,15), maar word hier aangevoer as die rede waarom die Vader die Seun liefhet. Hulle wedersydse liefde bestaan  van ewigheid af (17:24, maar die bedoeling is hier dat die Vader innig verbonde is aan die Seun wat die wil van die Vader doen, ook deur sy lewe af te lê. as die hoogste openbaring en daad van God se liefde.

            ‘…om dit weer op te neem.’ Sy dood is op sy opstanding gemik as die oorwinning oor die dood. Dit is die eerste verwysing na die opstanding in Johannes. So sal Hy sy goddelike heerskappy en die egtheid van sy Herdersamp bewys.

 

10:18 Dit is die wil van die Vader dat die Seun sy lewe aflê vir die mensdom. Die Seun het Hom in vryheid gehoorsaam. Daarom doen Hy dit op gesag van die Vader. Die liefde tussen die Vader en die Seun word gesien in die hulle liefdesdaad vir die wêreld. In liefde wil die Vader die wêreld red, en in liefde lê die Seun vrywillig sy lewe af in opdrag van die Vader.

              Die opstanding is die voltooiing van God se verlossingswerk wat Hy aan die Seun opgedra het. Dit is ook die verheerliking van die Seun (17:1,5,11). Deur sy opstanding bring Hy die nuwe lewe vir die mensdom. 

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Jesus die Goeie Herder en die Seun van God (10:1-42)

Jesus die Goeie Herder en die Seun van God (10:1-42) – Francois Malan

Die hoofstuk bestaan uit twee hoofdele: (i) Jesus is die Goeie Herder, 10:1-21. Dit volg op die genesing van die blindgeborene in die tyd ná die Loofhuttefees in Oktober, met die olywe en druiwe-oes (Deutr 16:13), wat in hoofstukke 7-8 aan die orde gekom het; (ii) Jesus se optrede  by die fees van die tempelwyding, wat twee maande na die Loofhuttefees gevier is (10:22-42).

Die voorbeeld van die skaapkraal en die herders (10:1-6)

10:1 Dit is die enigste keer in hierdie Evangelie dat ‘n gesprek begin met ‘n plegtige formule: ‘Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle’.  Gewoonlik volg dié formule nadat die gesprek al aan die gang gekom het. Dit wek die vermoede dat die hoofstuk aansluit by die vorige gesprek met die Fariseërs oor die Goeie Herder, hoewel Jesus Hom hier tot sy volgelinge rig. Hulle is die skape wat in Jesus se kraal beskut en versorg word. Die ‘dief en rower’ word eerste genoem. Na die gesprek met die godsdienstige leiers in 9:40-41, is dit waarskynlik ‘n verwysing na hulle as valse herders waaraan  die volk van God blootgestel is, en wat sy skape weglei van God af, en dit met geweld doen (vgl. Esegiël 34:1-6).  

            Die skaapkraal waarvan hier sprake is, was ‘n kraal met ‘n muur om (‘n grondwal of ‘n steenmuur volgens die stad se rykdom), naby die stad, waar die verskillende kuddes van die stadjie snags geslaap het, met een van die wagters by die ingang as poortwagter vir die nag.

 

10:2-3 Teenoor die rowers staan die herder van elke troppie. Die hekwagter ken elke herder; die skape ken ook die stem van hulle herder, volg hom, en so lei die herder sy kuddetjie uit vir die dag. Daar is ‘n persoonlike band tussen die herder en die poortwagter wat hom ken en vertrou, en tussen die herder en sy skape wat hom ken en vertrou. So gaan God ook met mense om in ‘n vertrouensverhouding.

 

10:4-5 In die Ooste was dit gebruik dat die herder voor sy klein troppie skape loop en hulle hom en sy stem volg. Maar ‘n vreemde praat verniet met hulle. Hulle ken nie sy stem nie. Die slagter jaag die skape aan, maar die herder loop voor.

 

10:6 Johannes noem die prentjie wat Jesus hier van die herder en die skape geskets het beeldspraak (die drie ander Evangelies gelykenis’). Die toneel van die skaapkraal verbeeld iets van die gebeure in hoofstuk 9. Die behandeling wat die blinde deur die ‘siende’ Jode, wat hom uitban uit die sinagoge, kwalifiseer hulle as diewe en rowers, vreemdes, terwyl die blinde vir Jesus herken en Hom volg. Jesus se volgelinge verstaan ook nie die beeldspraak nie, daarom verduidelik Hy die beeldspraak in die volgende gedeeltes oor die poortwagter (7-10) en die herder (11-18).

 

Jesus as die poort (10:7-10)

10:7-8 Met beklemtoning bevestig Jesus ‘voorwaar, voorwaar, sê Ek vir julle: Ek is die poort vir die skape (vgl. Ps 118:19,20 die tempelpoort na die Here toe waardeur die regverdiges, mense wie se verhouding met God reggemaak is, mag deurgaan). Hy is die ‘weg…niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie’ (Jn 14:6). Die valse messiasse in die Jodedom, die verlosser-gode van die heidene, die Fariseërs wat daarop aanspraak gemaak het dat hulle die sleutels van die koninkryk van God het (Mat.23:13),  van almal wat daarop aanspraak gemaak het dat hulle middelaars van verlossing is, sê Jesus dat hulle diewe en rowers is. Hulle belas die volk en verryk hulleself (vgl. Lk 16:14 oor die Fariseërs se liefde vir geld; Mat 7:15 oor die valse profete as verskeurende wolwe).

 

10:9 Soos die skape saans deur die poort die veiligheid van die skaapkraal ingaan, so is Jesus en sy sterwe die poort na verlossing van  sonde en die bedreigings van die duiwel; soos die skape soggens uitgaan agter hulle eie herder aan  weiding toe, so gaan Jesus se volgelinge agter hulle opgestane Here aan om in sy vreugdevolle ewige lewe van oorwinning te deel.

 

10:10  Terwyl die ‘dief’ selfsugtig en met brutale geweld die mense tot ondergang lei, lei Jesus sy volgelinge met selfoorgawe en liefderyke sorg na ‘n ryk en volle lewe van liefdesdiens aan God in ons arbeid en aan mense. Die dief soek net sy eie belang , en ‘kom net steel en slag en uitroei.’ In die hande van die dief kan die skaap nie op versorging hoop nie, selfs nie op die behoud van sy eie lewe nie. Aangesien Jesus met die ‘dief’ hier na die Joodse godsdienstige leiers verwys, sê Jesus eintlik dat  hulle die volk tot ondergang lei, weg van God af. Daarteenoor het Jesus gekom sodat die sondaar ‘lewe’ kan hê, deel word van die ewige lewe. Die ewige lewe begin nou reeds vir die kinders van God. Die nuwe soort lewe van selfopofferende liefdesdiens gee Jesus in oorvloed aan sy volgelinge; Joh 1:16 ‘uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang’ om sy genade ook in liefde uit te deel aan ander. Die dief ontneem deur sy koms, Christus gee (vgl. Mark 10:45; Hand 20:35).  

 

Skrywer: Prof  Francois Malan

 




Skeiding tussen siendes en blindes (9:39-41)

Skeiding tussen siendes en blindes (9:39-41) – Francois Malan

9:39 Jesus wys op die les van die gebeure. Die genesing van die man word ‘n simbool van die genade én van die oordeel wat Jesus in die wêreld bring. Die doel van Jesus se koms na die wêreld word uitgespel: dat ‘dié wat nie kan sien nie, kan sien; en dat dié wat sien, blindes word’ – sodat mense wat geestelik in die duisternis lewe tot die volle lig van die verlossing kan kom en die Lig van God, God se selfopenbaring in Jesus, kan sien; maar daar is ook mense wat meen dat hulle ‘sien’, maar Jesus nie ken nie of verwerp (Jn 3:17-21, 36; 12:46-48). Die mense wat ontdek dat hulle blind is, kan by Jesus die lig van die lewe kry; dié wat in hulle verwerping van Jesus volhard, bly in die duisternis van hulle blindheid (vgl. Jes 6:10). Die gebondenheid aan die Joodse wetsleer het hulle onbekwaam gemaak om ‘siende’ te word.

9:40 Van die Fariseërs wat Jesus se tweede ontmoeting met die blindgeborene meegemaak het, het Jesus se beoordeling van die gebeure gehoor en aanstoot geneem. Hulle vraag veronderstel ‘n besliste ‘nee’ van Jesus: ‘ons is immers nie blindes nie, is ons?’ Die naam Fariseër kom waarskynlik van die Hebreeuse parasj  ‘afsonder’ – ‘n toegewyde aan die wet, maar het ook die betekenis van ‘verklaar’, ‘uitlê’ en ‘onderrig’. Hulle bestudeer die wet van God, leer dit vir die volk en beywer hulle vir die nougesette toepassing daarvan, veral van hulle onderskeiding tussen rein en onrein. Daarop roem hulle, en beskou hulleself verhewe bo die gewone volk (vgl. 7:49 ‘vervloektes’ – wat deur God veroordeel is); hulle is immers die manne met insig in God se woord.

 

9:41 Jesus sê nie hulle is blind nie, maar: as hulle blind was, sou hulle nie verkeerd (teen God se wil en wet) opgetree het nie. As hulle onkundig was oor die woord van God, wat juis oor Hom in die Ou Testament praat, sou hulle nie skuldig gewees het aan die sonde van ongeloof nie (Jn 16:9). Maar nou sê hulle: ‘ons sien’ – hulle leef in die waan dat hulle die volle lig het en kan sien. Daarom het hulle die oë gesluit vir God se openbaring in Jesus, die Lig vir die wêreld, en wil Hom doodmaak omdat Hy hulle reëls vir rein en onrein oortree het. Omdat hulle nie wil sien nie, bly hulle sonde van verwerping van God en sy openbaring, en veroordeel hulleself tot hulle selfgekose duisternis. So vervul hulle Jesaja 56:10 ‘Dié wat oor my volk moet waak, is almal blind.’ Jesus het gekom om mense voor ‘n beslissing te stel, óf hulle wil sien, óf hulle wil nie (Jn 9:39).

 

Hoofstuk 9 wys hoe openbaring en oordeel saamgaan. Jesus word geopenbaar as die Lig vir die wêreld, wat die lig van die ewige lewe bring vir dié wat Hom aanvaar.  Maar dié wat die openbaring en verlossing, wat Jesus bring, verwerp, word oorgelaat aan hulle selfgekose duisternis.

            Die gawe van insig ontwikkel by die blinde: van sy oë wat oopgaan deur te doen wat ‘die man wat Jesus genoem word’ hom beveel, al weet Hy nie waar Hy is nie (vv11-12), tot die erkenning van Jesus as ‘profeet’ (v17), dan as gestuurde van God (v 33), en dan as ‘die Seun van die mens’ en ‘Here’ (vv37-38). Daarteenoor verklaar die Fariseërs ‘Jesus kom nie van God af nie (v16), Hy is ‘n sondaar en hulle ontken die wonder (v24), hulle weet nie waar Hy vandaan kom nie en ontken sy leer en gesag (v29), hulle verban die man uit hulle gemeenskap en daarmee saam, vir Jesus (v34). So is die verhaal ‘n voorbeeld van die voortgaande werk van die Woord as die Lig vir die mense; sy lig kan nie uitgedoof word deur die duisternis van  mense nie (1:4-5), en illustreer die proses van verlossing en oordeel wat in 3:17-21 uiteengesit is as die reaksie op God se liefde vir die wêreld en die gee van sy Seun (3:16).

            Hierdie wonderwerk is ‘n kragtige getuienis vír Jesus, as die Een wat deur God gestuur is vir die verlossing van ‘n wêreld in duisternis. Deur die eeue is gelowiges, wat dieselfde keuse gemaak het as die blindgeborene, ook verwerp deur familie en die gemeenskap op grond hulle geloof en aanvaarding van Christus as die Here van hulle lewe.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan