Die Heilige Gees leer die gemeente (16:12-15)

Die Heilige Gees leer die gemeente (16:12-15) – Francois Malan

16:12 Die werk van die Heilige Gees is op die wêreld gerig, maar Hy werk ook deur die volgelinge van Jesus. Die gemeente word ook deur die Gees geleer om hulle toe te rus vir hulle taak. Die Gees sal die gelowiges lei tot dieper insig in wie Jesus is en in die betekenis van sy prediking en werk (vgl. 14:26). Hulle kan baie dinge wat Jesus nog wil sê, nie nou begryp nie (bastazoo letterlik: om te dra, te ondergaan, aanvaar of ontvang van ‘n waarheid wat moeilik is om te verstaan). Die vermoë om Jesus en sy getuienis te verstaan sal later kom, ná Jesus se opstanding, met hulle verligting deur die Heilige Gees (vgl. 2:22; 12:16).

16:13 Die Gees van die waarheid sal hulle in die hele waarheid lei (soos ‘n gids of ‘n leier) om die diepte en hoogte en breedte en lengte van die openbaring van God beter te begryp (vgl. Ef 3:18 oor die liefde van Christus). Vanweë sy verhouding met Jesus gee die Gees God se openbaring aan Jesus se volgelinge. So het Jesus ook dit wat Hy van die Vader ontvang het aan die dissipels oorgedra. Jesus het die waarheid in die wêreld ingebring deur sy teenwoordigheid; die Heilige Gees maak die waarheid oop en skep die ingaan van die waarheid in die gelowiges, vgl. Jer.31:33 Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagtes vaslê (grondteks: Ek sal my wet in hulle binneste gee en dit op hulle harte skryf) . Die Gees sal julle inlig oor die besonderhede van die dinge wat gaan kom – oor die betekenis van Jesus se aanstaande dood en opstanding, sy wederkoms en oordeel, en van die gelowiges se betrokkenheid daarby, by sy lyding, sy oorwinning (15:20) en die hoop op die ewige toekoms ‘in die huis van my Vader’ (14:1-3). Die woord anangello ‘blootlê, oopmaak’ het die gedagte van inlig oor die besonderhede, en word in verse 14,en 15 herhaal om te verwys na die betekenis van die hele en finale openbaring van God in Christus. 

 

16:14 Die woord ‘verheerlik’ word in hierdie Evangelie gebruik in verband met Jesus se dood en opstanding (bv. in 12:23,27-28; 13:31-32; 17:1). Dat die Gees Jesus sal verheerlik beteken dat Hy juis sal blootlê wat die betekenis is van Jesus se versoeningswerk. Jesus se kruisdood is die toppunt van die openbaring van God se liefde vir die wêreld. so het God sy geliefde Seun gegee (Jn 3:16). Die Heilige Gees sit Jesus se versoeningswerk in die gelowiges voort. Die Gees ontvou  aan ons die openbaring van God se liefde in Jesus se lewe, dood en verhoging sodat ons ook Jesus sal verheerlik. Die werk van die Gees sentreer op Jesus.

 

16:15 Die Vader is ten nouste verbind aan die werk van die Seun en die Gees. Die Vader is die bron van alles. Hy het alles aan die Seun oorgedra, en die Seun dra alles oor aan die Gees. ‘Alles’ omvat die hele heilsopenbaring van God se liefde. Die ware, volledige openbaring van God het deur Christus gekom, deur sy menswording, dood en opstanding vir die lewe van die wêreld. Dit word deur die Heilige Gees aan die gelowiges ‘blootgelê.’ Die Gees bring geen ander openbaring van God nie.

 

In hierdie Evangelie is daar vyf paragrawe oor die Heilige Gees: twee, 14:15-17; 14:26,  in die eerste gesprek, en drie, 15:26; 16:7-11; 12-15,  in die tweede gesprek met die dissipels.

            Die kort uitsprake oor die Gees in die eerste gesprek vertel van die teenwoordigheid van God by die kerk, van die teenwoordigheid van die opgestane Here by ons, deur die inwoning van die Gees. Die Vader het Jesus na die wêreld toe gestuur. Die Seun se sending onder mense gaan voort deur die Heilige Gees. (i) 14:15-17 gaan oor die bystand van die Helper aan Jesus se volgelinge in ‘n vyandige wêreld. (ii) 14:26 gaan oor die Gees se bediening aan die dissipels om God se voltooide openbaring in Jesus aan hulle bloot te lê. Die implikasie daarvan is dat die Gees by die kerk gaan bly om voortdurend God  se selfopenbaring in Jesus aan die kerk van alle eeue te ontvou. Die Gees maak God se openbaring in Jesus relevant vir elke geslag.   

            Die rol van die Heilige Gees word in die tweede gesprek breër uitgespel. (iii) 15:26-27 brei uit op Jesus se belofte van ‘n ander Helper as antwoord op hulle ontsteltenis oor sy weggaan (14:1): Hy stuur die Gees van die waarheid om van Hom te getuig, soos die Vader vir Jesus gestuur het om God te openbaar. Die Gees gaan die dissipels help om Jesus se getuies te wees in die wêreld. (iv) 16:7-11 brei uit op die werk van die Gees deur die dissipels in die wêreld (15:26-27): (a) om hulle sonde bloot te lê en hulle te oortuig van  hulle sonde; (b & c)  hoe om die geregtigheid van God te verkry, of dat hulle onder die oordeel van God bly. Dit is alles ten nouste verbind verbind  aan Jesus: aan hulle verwerping en veroordeling van Jesus, maar God se aanvaarding van sy offer.

(v) 16:12-15 fokus op die gelowiges (‘n uitbreiding op 14:25-26), dat die Gees hulle sal lei en leer om Jesus beter te ken en te verstaan in hulle getuienis oor Jesus in die wêreld.  

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die werk van die Heilige Gees (16:8-11))

Die werk van die Heilige Gees (16:8-11)) – Francois Malan

16:8 Die beeld van die werk van die Heilige Gees in vv8-11 is dié van ‘n verhoor van die wêreld voor God as regter. Die wêreld verhoor Jesus en verklaar Hom skuldig: van opstand teen die Romeinse keiser (Jn 19:12) en lastering teen God (Mk 14:63-64).  Maar in werklikheid is Jesus onskuldig en word die wêreld veroordeel vir hulle optrede. Die taak van die Heilige Gees is om, deur die volgelinge van Jesus, die waarheid oor Jesus aan die wêreld bloot te lê/teregwys (elengein, 1983-vertaling: skuldig bewys). Drie dinge word genoem  wat die Heilige Gees aan die wêreld kom blootlê in die lig van wat God in Jesus besig is om te doen, en wat die implikasies daarvan is vir die mens: (i) sonde – die ware aard van sonde as teen die wil van God (ii) geregtigheid (dikaiosune) – hoe die verhouding met God reggemaak word (iii) oordeel – van God oor die mens se optrede.

16:9  Die wêreld het Jesus veroordeel oor godslastering, dat Hy Hom as God voordoen (10:33,36). Die Heilige Gees kom aan die wêreld openbaar dat die wese van sonde ongeloof is in Jesus as Seun van God, dat Hy waarlik God is.

Die wêreld se ongeloof is hulle volgehoue verwerping van Jesus, van sy liefdesoffer vir hulle sonde en van sy openbaring van God se woord en wil – so het die Ou Testament van Hom getuig (Jn 5:45-47) en so het die duidelik geblyk uit Jesus se werke (10:36-38). Sonde is om jou af te sluit van die openbaring van God, wat alle wêreldse sekerhede onseker maak. Dit bied ‘n ander sekerheid, nl. om op God alleen te vertrou  vir jou lewe. Die Heilige Gees kom die mens daarvan bewus maak. So reik God uit na die mens, om hom te oortuig van sy sonde van ongeloof, dat hy naamlik sy rug op God gedraai het. Dit was ook die sonde van ou Israel. Daarom het die profete telkens geroep: Israeliete, bekeer julle tot Hom van wie julle so ver verwyder geraak het (Jes.31:6; Jer.3:7,10,12,14;  4:1; 5:3; Hosea 14:2-4; Joel 2:12-13). Die Heilige Gees kom doen wat Klaagliedere 5:21 uitroep: Bekeer U ons tot U, Here, dat ons bekeer kan wees.     

 

16:10   Die Heilige Gees kom die geregtigheid van God aan die mense blootlê en hulle daarvan oortuig.  Jesus se weggaan na die Vader toe bewys dat die reg aan sy kant is en dat Hy die geregtigheid van God vir ons berei het.  Terwyl die mense Jesus se verhoging aan die kruis gesien het as die bewys van Jesus se ongeregtigheid (godslastering), was dit juis die weg waarop die Vader Hom verhoog het tot aan sy regterhand, en die verhouding van die mens tot God reg gemaak het. So lyk die geregtigheid van God se liefde vir sy Seun en vir die wêreld. Dat die dissipels Hom nie meer sal sien nie, bevestig ook die finaliteit van Jesus se vertrek na die Vader. Die wêreld dink dit is die einde van Jesus. Die dissipels leer dit is Jesus se terug-ontvangs by die Vader in heerlikheid. Die wêreld is bly hulle is van Jesus ontslae (16:20), sy volgelinge is bly oor die vergifnis van hulle sonde. Van dié geregtigheid van God kom die Heilige Gees mense oortuig. 

 

16:11 Die kruisiging van Jesus word in verse 8-11 beskryf as ‘n hofsitting waarin die mense Jesus veroordeel en straf. Maar aan die kruis straf God die sonde van die wêreld, gee aan Jesus die seggenskap oor hemel en aarde, en veroordeel die owerste van hierdie wêreld, die Satan  (vgl. Jn 12 31-32: nou kom die oordeel oor hierdie wêreld, nou sal die owerste van hierdie wêreld uitgegooi word buitentoe (uit sy magsgebied uit). En as Ek van die aarde verhoog is – tot die hemel via die kruis – sal Ek almal na My toe trek). Die Heilige Gees kom die ware  oordeel van God oor Jesus, oor die sonde en oor die duiwel blootlê, en mense daarvan oortuig. God het ie heerskappy oor die wêreld oorgedra aan ons Here en sy Gesalfde, en Hy sal as koning heers tot in alle ewigheid (Openb 11:15). Die Heilige Gees maak bekend dat Jesus se kruisiging God se oordeel oor die wêreld is, van dié mense wat hulle aan die owerste van die wêreld oorgegee het, en daarom die Seun van God verwerp het, en ‘n werktuig van die duiwel geword het om Jesus te vermoor (die duiwel was van die begin af ‘n moordenaar en vader van die leuen; 8:44). Die straf van God bly op die mense wat die Seun ongehoorsaam is, soos die duiwel klaar veroordeel is (Jn 3:36). Die Gees sal dit deur die gelowiges as sy getuies bekendmaak.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die wêreld sal hulle haat (vervolg)

Die wêreld sal hulle haat (vervolg) – Francois Malan

16:1 Jesus se doel met die bekendmaking van ‘hierdie dinge’ in 15:18-27 is dat hulle nie sal ophou om te glo wat die waarheid is, en verlei word om wat vals is te glo nie (verlei – die letterlike betekenis van skandalizomai is om in ‘n wip gevang te word, of om te laat struikel oor ‘n struikelblok, vgl. Mark.14:27; 6:61). Die Heilige Gees word juis aan hulle gegee om te volhard in die geloof in Jesus.

16:2 Vervolging en lyding is deel van die lewe wat Jesus vir sy volgelinge voorhou, veral van die kant van die Jode, in die eerste tydperk van die kerk. Die Jode het reeds vroeër besluit dat as iemand openlik verklaar dat Jesus die Christus is, hy uit die sinagoge geban sal word (Joh.9:22,34). Soos Jesus se uur van lyding en dood gekom het (12:27; 31:31), so sal die dissipels se uur ook kom dat elkeen wat hulle doodmaak sal dink dat hy ‘n diens (latreia is ‘n godsdienstige seremonie/ritus) aan God aanbied (prosferoo – soos ‘n offerande aanbied om God se eer te herstel). So is Stefanus later deur die Jode gestenig terwyl hy Jesus aanbid (Hand.7:55-58), en is Paulus vir dood uit Listre gesleep (Hand.14:19). Die Jode het Jesus skuldig gevind aan godslastering (Mat.26:66) en daarom moes Hy dood volgens die bevele wat die Here aan Moses gegee het (Lev.24:14-16,23; die Hebreeuse woord vir lastering qilleel beteken om iemand sy krag te ontneem. In die Midde-Ooste is geglo dat jy iemand  met ‘n magiese formule deurboor en kragteloos kan maak). Soos Jesus gely het, sal sy volgelinge ook ly en vervolg word (Hand.6:11-14 blasfemia vir die Jode van die Bybelse tye was lastering van God beskou as iets wat die wese van God beskadig/wond). Daarom beskou hulle die doodmaak van ‘n volgeling van Jesus as ‘n offer  wat die skade herstel/daarvoor vergoed, God se eer herstel.

 

16:3 Soos die wêreld in 15:21 God nie in Jesus wil herken nie, het die ongelowige Jode hulle hart en verstand gesluit vir die Vader en die Seun, wat deur Jesus aan hulle geopenbaar is. Daarom staan hulle skuldig voor God. As gevolg van hulle valse godsbegrip vervolg hulle ook Jesus se volgelinge fanaties, en dink hulle dat hulle God op die wyse dien.

 

16:4 Jesus berei hulle voor vir hulle uur/tyd van verwerping en vervolging deur die wêreld en veral deur hulle mede-Jode. En as dit gebeur en hulle onthou dat Jesus dit gesê het, sal hulle nog sekerder wees van Jesus se goddelike kennis van die toekoms, sterker in die geloof staan  en geestelik weerbaar wees om die aanvalle te weerstaan, en nie afvallig te word nie.

 

Jesus vertrek om sy werk deur die Heilige Gees voort te sit (16:4b-7)

16:4b ‘Hierdie dinge’ verwys na 16:1,4a en die vervolging wat vir die dissipels voorlê nadat Jesus weg is. Daarmee lei Jesus die aankondiging in dat Hy weggaan.

 

16:5 Die stelling van Jesus, dat nie een van hulle vra waarheen Hy gaan nie, is vreemd, ná die vrae van Petrus (13:36) en Tomas (14:5) in die eerste afskeidsgesprek (hoofstukke 13-14). Die tweede afskeidsgesprek (hoofstukke 15-16) was waarskynlik eers ‘n afsonderlike stuk wat hier ingevoeg is. Die situasie is ook ‘n bietjie anders as in hoofstukke 13-14, want Jesus sê ‘Nou gaan Ek na Hom toe wat My gestuur het’ – die tyd vir sy vertrek na die Vader  het aangebreek. Die punt van 16:5 is egter dat die dissipels so ontsteld is oor hulle verlies as Jesus weggaan (meer as oor die lyding wat vir hulle voorlê), dat hulle nie dink aan sy heerlikheid by die Vader en wat Hy in die Vaderhuis vir hulle gaan doen nie (14:2,28). 

 

16:6 Al is sy weggaan daarop gerig dat hulle blydskap volkome kan word deurdat Hy die Vader se opdragte uitvoer in die liefde van die Vader vir die wêreld (15:11),  is hulle harte vervul met droefheid, die droefheid van afskeid en dat hulle alleen agter gelaat word sonder Jesus. As hulle sou dink aan wat Jesus by die Vader vir hulle gaan doen, sou hulle hartseer en twyfel tot ruste gekom het.

 

16:7 Voordat Jesus die volle verlossing van ons sonde bewerk het en die saligheid dat ons verhouding tot God reggestel is deur sy kruisdood en opstanding, kan die Heilige Gees dit nog nie kom toepas in die lewe van elkeen wat Hy tot geloof in Jesus sal lei nie. Die Heilige Gees moet ons juis kom oortuig van die betekenis van Jesus se dood en opstanding. Die Gees van die Lewe bring die vernuwing van die mens en die skepping, deur die reddende heerskappy van God se liefde toe te pas, wat deur die Middelaar van  die verlossing, Seun van God en Seun van die mens,  bewerk is. Die Vader gee die Gees (14:16),  soos die Vader die Seun gegee het (3:16), en die Seun stuur die Gees (16:7; 15:26), wat van die Vader af uitgaan (15:26). So is die Vader en die Seun en die Gees betrokke by die goddelike sending in die wêreld. Daarom is Jesus se weggaan vir die wêreld en veral vir sy volgelinge ‘tot hulle voordeel’ (Kajafas het ook vir die Jode die raad gegee dat dit ‘tot hulle voordeel’ is dat een man vir die volk sterwe, Joh.18:14).     

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die wêreld sal hulle haat (15:18-16:4a)

Die wêreld sal hulle haat (15:18-16:4a) – Francois Malan

15:18-19 Na die aanwysings vir Jesus se volgelinge se lewe met mekaar, word die blik gerig op die wêreld waarin Jesus hulle stuur om sy bediening deur hulle voort te sit. In dié twee verse kom die woord ‘die wêreld’ ses maal voor. Daarmee word verwys na die vyandige mag, die owerste van hierdie wêreld (Joh. 12:31), wat hom stel teenoor die koninkryk van die lig (vgl. die koninkryk van die Satan/Beëlsebul teenoor die koninkryk van God  in Mat 12:25-28).

Die wêreld verwys na die hele mensheid in sonde, van wie die Jode in daardie tyd die verteenwoordigers was as teenstanders van Jesus (Joh. 8:23), maar vir wie God so lief is dat Hy sy Seun gegee het tot verlossing uit die sonde (Joh. 3:16). Tussen die volgelinge van Jesus en die wêreld is daar ‘n radikale verskil. Jesus se volgelinge word gekenmerk deur liefde (agapê). Die wêreld word gekenmerk deur selfsug en haat (misos), die volgehoue houding van die wêreld teenoor Jesus, selfs voordat Jesus die dissipels geroep het (memiseken – perfektum: het gehaat en haat steeds, vgl. Joh. 7:7). Omdat die dissipels nie aan die wêreld behoort nie, maar deel is van die ware wingerdstok, deel van die ewige lewe geword het, is hulle wel ín die wêreld, maar nie ván hierdie wêreld nie (Joh. 17:11,14; soos Jesus, Joh. 18:36-37). Jesus het hulle uit die wêreld uitgekies en vir hulle ‘n nuwe lewe gegee wat teenoor die sondige wêreld gestel is. As hulle tot die wêreld behoort het, sou die wêreld hulle as vriende liefgehad het (filein). Die feit dat die wêreld hulle haat bevestig dat hulle aan Christus behoort. Daarom moet die dissipels hulle voorberei vir vervolging.   

 

15:20  Jesus herinner hulle aan sy woord in Joh. 13:16 (ook in Mat.10:24 en Luk.6:40). Daarom moet hulle vervolging verwag. Sommige sal wel hulle getuienis hoor en daarvolgens begin lewe, soos sommige Jesus se woord bewaar (vgl. Mat.13:23). Die gelowiges sluit die dissipels in (Joh.6:68).

 

15:21 Jesus gee twee redes waarom die mense sy volgelinge sal haat en vervolg in verse 21 en 22: (i) ter wille van sy Naam  (soos ook in Mark.13:13 gesê is). Met sy Naam word verwys na Jesus as persoon (Seun van God wat mens geword het) met alles wat Hy gedoen en gepreek het om mense te verlos. As die dissipels dit verkondig sal die wêreld hulle haat. (ii) Die onderliggende rede is dat die mense nie vir God ken nie (selfs nie die Jode wat die Ou Testament bestudeer nie). Hulle wil nie erken dat die Vader vir Jesus gestuur het om die sonde van die wêreld op Hom te neem nie. 

 

15:22-23 Die skuld van die wêreld is dat hulle God se openbaring deur Jesus verwerp. Aangesien dit ‘n openbaring is wat van God af kom, is dit verwerping van God self (vgl. Joh.13:20). Verwerping van God is juis die grootste en die kern van alle sondes.

 

15:24 Wat in 15:22-23 gesê is oor Jesus se woorde, word hier gesê oor sy werke. In 7:46 het die wagte gesê: Nog nooit het iemand gepraat soos hierdie man nie. Hier sê Jesus: niemand het nog sulke werke gedoen as Hy nie. Sy woorde en werke getuig dat Hy van God af kom. Daarom het hulle geen verskoning vir hulle ongeloof nie. Die werke wat Jesus gedoen het, is die Vader se werking in en deur Jesus. In dié sin het die wêreld ‘n aanskouingsles gehad oor wie God is. Hulle kon Hom sien in die optrede en Persoon van sy Seun. Maar hulle reaksie was om die Seun, en die Vader in Hom, te haat.  Dit is die basis van alle sonde, teenoor liefde vir God as die basis van alle goeie werke.  Joh.3:19-20 sê: omdat hulle dade sleg is en nie aan die kaak gestel moet word nie, haat die mense die Lig. Met die koms van Jesus het ‘n ander situasie ontstaan, wat ongelowiges hulle onskuld ontneem het. God het Homself duidelik in Christus geopenbaar.

 

15:25 Die Jode spog dat nét hulle die wet van God het. Met die term ‘wet’ verwys die Jode na die hele Ou Testament (Joh.12:34 waar hulle na Ps 89:37 en Eseg 37:25 verwys, en nie net na die eerste vyf boeke nie; 1983-vertaling vertaal 12:34 met ‘Skrif’). Die einste wet van God waarop hulle roem as húlle wet (Joh.8:17; 10:34), veroordeel hulle. Jesus haal  aan uit Ps 35:19, veral Ps 69:5, wat dikwels i.v.m. die lyding van Jesus in die Nuwe Testament aangehaal word, waar Dawid sê: hulle het My sonder rede gehaat. Daarmee identifiseer Jesus Homself as die Christus/Messias, uit die nageslag van Dawid (Joh.7:41-42).

 

15:26-27 Die sending van die Helper (14:16,26, parakletos), die Gees van die waarheid (Joh. 14:17)  stem in baie opsigte ooreen met die sending van die Seun (8:42 deur God gestuur, nie op eie gesag nie; 13:3 dat Hy van God af kom). Die taak van die Gees is om van Jesus te getuig. Die getuienis van die Gees in en deur die volgelinge van Jesus sal die waarheid aan die lig bring van die openbaring van Jesus in woord en daad, van sy dood en opstanding. Die getuienis van die Gees geskied nie buite die dissipels om nie, maar verhelder die hoorders se insig en lei hulle tot geloof deur die getuienis van die dissipels in die vyandige wêreld (vgl. Mark.13:9-11). Dwarsdeur Jesus se bediening het Jesus hierdie dissipels met Hom saam geneem om sy oog- en oorgetuies te wees, soos dit bv. in die Evangelies neerslag gevind het. 

 

Skrywer : Prof Francois Malan