Die Openbaring aan Johannes – Die opdrag aan die sewe engele (15:5-8) – Francois Malan

15:5 Johannes sien die tempel in die hemel is oop, die ‘tent van getuienis,’ die draagbare tabernakel met die ark van die verbond en die twee kliptablette met die tien gebooie, wat Israel deur die woestyn gedra het (Eks 25:16; Deutr 10:2). Die ark was die teken van God se teenwoordigheid by die Israeliete, met die tien gebooie as riglyn vir hulle lewe. Na analogie daarvan is die hemelse tent die getuienis van die teenwoordigheid van God en die Lam, wat die nuwe volk van God begelei op hulle nuwe eksodus.

15:6-7 Uit die tempel kom sewe engele met blink klere van suiwer linne en ‘n goue band om die bors, soos die Seun van die mens (1:13) en sy bruid (19:8), wat die belangrikheid van hulle taak beklemtoon. Soos die priesters van die ou bedeling moet die engele ‘n priesterlike funksie vervul (Eks 28:2-6). In die bakke bring hulle die sewe plae, wat hulle ontvang van een van die lewende wesens. Die bakke word in die eredienste gebruik vir die offergawes aan die Here (Eks 25:29; 27:3). Die sewe engele en sewe plae word drie maal genoem (15:1,6,8). Twee maal word gesê dat die bakke kosbaar is, van goud: in 5:8 is die bakke vol wierook, simbool vir die gebede van die heiliges wat vir die Here ‘n aangename geur is. Die gebede van die gelowiges is geheilig deur die bloed van die Lam (1:5-6 met sy bloed is ons van sondes verlos; 5:8-9 ons is met bloed gekoop as die Lam se eiendom; in 7:14 is die 144,000 se stolas gewas en wit gemaak in die bloed van die Lam; in 6:10 hulle vra: ‘Tot wanneer, heilige en ware Here, gaan U uitstel om u oordeel te voltrek en ons bloed op die aardebewoners/ goddeloses te wreek?’) – God se regverdige oordeel word deur die goue bakke verbind aan die gebede van die gelowiges. Dit word beantwoord met die bakke gevul met die plae van die ewige God se toorn oor die sonde.

15:8 Die tempel is gevul met rook, simbool van ‘die heerlikheid van God en sy mag;’ dit is God se buitenste kleed. Die Gans-andere se andersheid word gesien in sy misterieuse en ondeursigbare kleed. Dit openbaar sy teenwoordigheid, maar bedek sy voorkoms. So het God aan Moses verskyn in die tent van ontmoeting wat bedags gevul was met ‘n wolk en snags met ‘n vuur van God se magtige teenwoordigheid, sodat selfs Moses nie daar kon ingaan nie, maar waarmee die volk gelei is deur die woestyn (Eks 40:34-38). So was die berg Sinai met wolk en vuur geklee, met die teenwoordigheid van die Here (Eks 24:15-16), en het die Here hulle dag en nag gelei (Eks 13:21), en van die Egiptenaars geskei (Eks 14:19-20); so is die tempel wat Salomo gebou het, gevul met God se teenwoordigheid (1 Kon 8:10-12), en is die tempel met rook gevul met die roeping van Jesaja (Jes 6:4). Niemand kan in die tempel inkom voordat die sewe plae volbring is nie. Die tyd vir ‘van aangesig tot aangesig’ met God te kom, het nog nie gekom nie. Dit kom eers as God alles in sy regte plek en orde geplaas het, alle geregtigheid vervul het, en sy volk in die nuwe beloofde land ingelei het. Dan sal hulle Hom van aangesig tot aangesig sien (22:4; vgl 21:22-23).

 

Die sewe bakke word op die aarde uitgegooi (16:1-21)

16:1 God kondig die opdrag aan die engele aan met ‘n harde stem uit die tempel, vir almal om te hoor (Jes 66:6 hoor daar in die tempel hoe die Here sy vyande straf oor hulle dade). Die sewe plae loop parallel met die mense se innerlike ingesteldheid. Dit is uiterlike tekens van mense se lojaliteite en toewyding. Hulle weiering om te verander bevestig die diepte van hulle opstand teen God. Die eesrte vier plae is die kommentaar van die skepping op die mense se dwase weë. Die laaste drie plae is God se oordeel oor die koninkryk van die dier en Babilon. Die seën in 16:5-7 tussen die derde en vierde bak verklaar die regverdigheid van God se oordele, en 16:15 onderbreek die vloei van die plae om die lesers te waarsku om waaksaam te bly. Terwyl die seëls ‘n kwart, en die trompette ‘n derde van die aarde getref het, is die vernietiging van die bakke ‘n totale vernietiging. Die plae herinner aan die plae in Egipte:

16:2 Die eerste engel gooi sy bak uit op die aarde en dit bring bose swere vir die mense wat die dier se beeld aanbid, soos die sesde plaag in Egipte (Eks 9:10). Die merk van die dier, wat onsigbaar is, identifiseer die verborge motiewe van die persoon se lojaliteit aan die valse god; dit bars nou oop in sigbare swere. Die uiterlike verrotheid van hulle vleis loop saam met die bedorwenheid van hulle gees.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Openbaring aan Johannes – Uitbreiding op die finale oordeel (15:1-16:21) – Francois Malan

15:1 Die vorige drie hoofstukke vertel van ‘n vrou beklee met die son (12:1) en ‘n bloedrooi draak wat haar vervolg tot in die woestyn (12:1-6, 13-17). Johannes sien ‘n ander teken in die hemel, groot en wonderbaarlik/verbasend. Die derde teken volg op die eerste en tweede, van die vrou (hfs 12) en die draak (hfs 13). Die plan van God word volbring met hierdie ‘sewe laaste plae.’ Soos die leër van die farao in die Rietsee verdrink het, word die leër van hierdie farao – die volgelinge van die draak en sy twee trawante –verslaan in ‘n nuwe eksodus/uittog uit die slawehuis.

Soos die tien plae in Egipte voor Israel se verlossing, begin die hoofstuk met die sewe laaste plae van God se toorn, en eindig met niemand wat in die tempel kan ingaan voordat die sewe plae ‘volbring’ is nie (vgl Jesus se laaste woord aan die kruis: ‘Dit is volbring!’ (Joh 19:30). Openb 15:1 is die opskrif vir hoofstukke 15-16, God se finale plae en God se uitvoering daarvan deur die sewe engele. Hoofstuk 15 bied die mees voltooide en sistematiese ontwikkeling van eksodus se meester-plot van ‘n vervolgde volk wat verlos word van die moderne farao wat hulle agtervolg.

 

’n Nuwe lied op die vurige see (15:2-4)

15:2 Johannes sien iets soos ‘n see van glas gemeng met vuur, waarop die oorwinnaars oor die dier staan met die siters van God as hulle begeleiding by hulle lied van Moses en van die Lam. God het die siters aan hulle gegee om Hom mee te besing. In 5:8 het elkeen van die 24 ouderlinge voor die troon ‘n lier vasgehou, en in 14:3-4 het die nuwe lied van die 144,000 wat losgekoop is geklink soos die geluid van liere wat bespeel word.

Die glansende vurige see is die hemelse analogie van die Rietsee. Dit lyk soos die see van kristal voor die troon, simbool van God se majesteit en heerlikheid (4:6). Die vuur verteenwoordig die oordeel van God. In 8:7 het die vuur van God ‘n derde van die aarde verskoei; in 8:7-8 ‘n derde van die lewende wesens in die see en van die skepe; in 9:17-18 ‘n derde van die mense; in 16:8 word die son toegelaat om die mense met vuur te verskroei. In 19:20; 20:10,14-15; 21:8 word al wat boos is in die vuurpoel gewerp.

15:3-4 Die oorwinnaars het die dier, sy naam en die getal van sy naam oorwin. Die drievoudige verwysing na die draak wys na die gelowiges se volkome oorwinning oor die duiwel se lis. As volgelinge van die Lam staan hulle op die see van glas en vuur by die Lam as teken van hulle oorwinning oor die see van chaos, en hulle verlossing uit die toorn van   God se veroordeling, soos brandhout wat uit die vuur geruk is (Amos 4:11; Sag 3:2; Jud 23) sing hulle ‘n oorwinningslied.

Die nuwe lied klink na ‘n samevatting van Moses se lied oor die Israeliete se verlossing uit die hand van die farao by die Rietsee (Eks 15:1-18). Hulle lied se eerste deel (15:3) sluit aan by Moses se lied van verlossing nadat God hulle deur die see gelei het, en by sy afskeidslied wat hy voor sy dood in opdrag van die Here vir Israel geskryf het (Deutr.32).

Die nuwe lied word ook genoem ‘die lied van die Lam,’ die sleutel tot die nuwe eksodus van God se volk, want die tweede deel (15:4) brei uit op die eerste met lof vir God se verlossing deur die Lam – die paaslam geslag vir die verlossing van die nasies. Die Here, die Almagtige God, is die Koning van die nasies – Christus moet erken word as die alleenheerser op aarde, soos in die hemel (15:3; 17:14; 19:16), en staan in kontras teenoor die dier wat God se alleenheerskappy bespotlik maak met godslasterlike woorde en name (13:1,5).

Teenoor die ongelowiges se vrae van verwondering oor die mag van die dier (13:4), sing die gelowiges in verwondering oor die almag van die Here God, soos Moses in Eks. 15 en Jeremia in Jer. 10:6-7. Daarmee word die misplaasde lojaliteit van die ongelowiges verwerp: Net God moet gedien en vereer word deur al die nasies, Hy is regverdig en betroubaar. Hy alleen is heilig – ten volle toegewy aan sy skepping en die mense. Sy regverdige dade is geopenbaar deur die Lam se liefdesoffer vir die sonde van die wêreld.

Die danklied word gesing voordat die bakke met die plae van God se toorn uitgegiet word, want God se plae is deel van sy verlossing om sy volk te bevry uit die mag van die menslike farao’s, die keisergod van Rome en die mens se selfgemaakte afgode – wat ‘n lewe vir hom/haarself insluit; ook uit die mag die geestelike farao, die duiwel en sy trawante.

Met die sondvloed in Noag se tyd en die kruisdood van sy Seun, het God met die sonde afgereken, en tog het baie mense sy aanbod van vrye vergifnis nie aanvaar nie. Maar dié mense wat glo in God se versoening deur Jesus, lewe nie meer onder die toorn van God en sonder God nie, maar is deel van die liggaam van Christus (Rom 4:21-25; 5:8-11; 12:4-5). Hy is die Seun van God en ons Here, voor wie die nasies in aanbidding sal neerval – dit is ‘n laaste oproep tot bekering voor die plae kom.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Openbaring aan Johannes – Seënspreuk: Twee oeste (14:13) – Francois Malan

‘n Stem uit die hemel kondig die tweede van die sewe seënspreuke in Openbaring aan (1:3; 14:13; 16:15; 19:9; 20:6; 22:7,14): ‘Skryf neer! Geseënd is die dooies wat wat van nou af in die Here sterf…’ Dit is ’n tussenwerpsel van hoop midde in die aankondiging van die onheil van God se ewige straf. Om in die Here te sterwe beteken om enduit in die geloof getrou te bly aan Jesus Christus, om in sy ligkring te bly leef, om deel te word en te wees van Christus se sterwe (Rom 6:5-11; 2 Kor 5:14-15; Kol 3:3-4).

Die Gees het Johannes meegevoer om sy visioene te sien en op te skryf (1:10; 4:2; 17:3;21:10). God praat met die gemeentes deur die Gees (2:7,11,17,29; 3:6,13,22). Net hier en in 22:17 praat die Gees self; hier om die seën te bevestig: ‘inderdaad!’ en voeg by: ‘sodat hulle mag rus van hulle geswoeg/verdrukking, want hulle dade volg hulle.’ Dié mense wat in die Here sterf se rus staan in skrille kontras met die dier en sy volgelinge wat dag en nag geen rus sal hê nie (14:11). God onthou die gelowiges se getrouheid te midde van vervolging en swaarkry ter wille van Hom (Mt 16:27; Rom 2:6-11).

 

Die graanoes (14:14-16)

 

Verras, sien Johannes ‘n spierwit wolk, en op die wolk sit iemand soos ‘n seun van ‘n mens (iemand soos ‘n mens). So het Jesus Homself op aarde genoem, soos in die gesig van Daniël 7:14. Die wolk is wit as simbool van suiwerheid, reinheid en wysheid. Die wolk as sy koets/troon wanneer Hy weer kom, simboliseer sy verheerlikte posisie (vgl. die beloftes in Mt 24:30; 26:64). Die goue kroon op sy kop is die simbool van sy oorwinning en heerskappy as koning wat die finale oordeel kom voltrek. Die skerp sekel/sens in sy hand is die gebruiklike oesinstrument (Mk 4:29) as simbool van die finale oordeel, wat Jesus kom voltrek soos die ‘ander engel wat uit die tempel kom’ (14:9) aangekondig het, met ‘n harde stem vir almal om te hoor. Met ‘n enkele swaai van die skerp sekel/sens is die hele aarde afgeoes. Soos in Johannes 4:34-38 verwys die graanoes na die insameling van die gelowiges wat ryp geword het vir die oes om vir ewig by Christus hulle koning te wees (vgl. Joël 3:13).

 

Die druiweoes (14:17-20).

Die ander engel uit die hemelse tempel met ‘n skerp sekel/sens kry sy opdrag van die engel wat in beheer is van die vuur by die offeraltaar om die vuur van die oordeel te simboliseer – hulle wat nie Christus se offer aanvaar nie, word self offerdiere (20:15). Die druiwe-oes verloop in twee stadiums: eers afsny van die trosse (oordeel) en dan getrap in die parskuip van God se toorn (straf). Christus moet as die Regverdige Regter ook die straf van God oplê (vgl. 19:15; Jes 63:3-6). Hy wat red, herstel ook die orde in die skepping, as verlosser en regter.

Die beelde van die hoofstuk is baie erg. Die bloed uit die parskuip vloei so hoog soos die perde, vir 1,600 stadia, amper vir 300 kilometer. Maar die omskakeling na kilometers mis die simboliek van 4x4x10x10 met 4 wat die wêreld aandui en 10 totaliteit, en verdubbel vir beklemtoning. Dit beteken die bloed bedek die hele aarde totaal (vgl. die baie deur die wye poort na die verderf, in Mt 7:13). Dit behoort die lesers wakker te skok om te besef hoe lewensbelangrik elke keuse is. Die bedwelmende invloed van Babilon is so groot dat gewone mense en gelowiges nie maar kan aangaan sonder deeglike nadenke nie. ‘n Mens kan nie die merkteken van God en die Lam dra saam met die merk van die dier nie (Mt 6:24).

 

Hoofstukke 12-14 se boodskap

Die geestelike oorlog wat in hoofstuk 12 begin met die draak wat die Christuskind wil verslind, loop uit op die draak se uitwerping uit die hemel deur die soendood van Christus. Daardeur is die Satan=aanklaer se grond vir sy aanklagtes ontneem. Die kind word na die hemel weggevoer om vandaar as die Lam met liefde te regeer. Daarna roep die draak, wat hom as god voordoen, sy trawante: die dier uit die see, simbool van die mag en geweld van regeerders, stelsels, kulture en gebruike van mense; die dier uit die aarde as simbool van slinksheid, leuens en verleiding om mense weg te lei van die ware God en die Lam af. Hoofstuk 14 teken die Lam op berg Sion saam met die gelowiges wat Hy losgekoop het en ‘n nuwe lied sing om die evangelie oor die hele aarde te verkondig. Daarteenoor val die magtige Babilon met die nasies wat sy bedwelm het. Hulle gaan nou die beker van God se toorn drink en met vuur gefolter word. 14:12 roep gelowiges op om te volhard en 14:13 verseker hulle van die rus van hulle geswoeg. Hoofstuk 14 sluit met God se oordeelsdag as laaste waarskuwing met troos vir gelowiges en verskrikking vir ongelowiges wanneer die Seun van die mens op die wit wolk kom sit met verlossing en die regverdigheid waarom die hele skepping roep (6:9-11; vgl. Rom 8:18-25). Die gelowige verlosdes word soos ryp graan geoes vir die ewige lewe (Mark. 4:29; Joh. 4:35-36); die ongelowiges ontvang die regverdige oordeel van God soos ‘n wingerd wat af geoes en die druiwe in die groot parskuip van God se toorn getrap word (Joël 3:13; Jes. 63:3-6).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Openbaring aan Johannes – Drie engele (14:6-12) – Francois Malan

Die drie engele (die Griekse woord angeloi beteken ‘boodskappers’) bring dringende boodskappe:

 

14:6-7 Met ‘n harde stem sodat almal kan hoor, hoog in die lug dat almal hom kan sien, roep die eerste engel al die bewoners van die aarde op met die ewige evangelie, die ’goeie boodskap’ van God se liefde en genade, om húlle Skepper wat ook Skepper van die ganse skepping is, te aanbid en te dien Dit is ‘n dringende waarskuwing dat die tyd van sy oordeel aangebreek het (vgl. Jesus se beginprediking in Mk 1:15). Die oordeel van God het reeds aangebreek. Jn 3:36 sê: Wie in die Seun glo, het die ewige lewe, maar wie aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, inteendeel, die toorn van God bly op hom. Jn 3:18: Wie in Hom glo word nie veroordeel nie, maar wie nie glo nie, staan reeds veroordeel omdat hy nie in die Naam van die enigste Seun van God geglo het nie. In die finale oordeel word dit in die openbaar bevestig.

14:8 Die tweede engel roep uit dat die magtige Babilon geval het – haar val is seker, daarom word dit herhaal, al word haar finale val eers in hoofstuk 18 bespreek. Die groot stad wat figuurlik Sodom en Gomorra genoem word in 11:8 verwys waarskynlik na Babilon. Die naam Babilon word egter 6x in Openbaring genoem (14:8; 16:19; 17:5; 18:2,10,21) na aanleiding van die dier se getal. Babilon was die hoofstad van die Babiloniese ryk, wat die tempel van Jerusalem in 587 v.C. verwoes het en die Jode in ballingskap weggevoer het. Openbaring se eerste lesers het die naam Babilon as ‘n skuilnaam vir Rome beskou (soos in 1 Petr 5:13), onder wie se bose mag en geweld hulle gely het (Babel het reeds in 141 v.C. onder die Parte ten gronde gegaan; vgl. Jes 13:19-22; 14:23). Maar in Openbaring is Babilon eintlik die simboliese stad van hierdie wêreld wat verdrukking, gevangenisskap en ballingskap verteenwoordig. Johannes skilder ‘n stad en wêreldstelsels wat ‘n bedreiging vir God se volk in baie tye en plekke behels, as die teenpool van die nuwe Jerusalem; dit is elke plek en samelewing wat hulle self vergoddelik en as heersers aanstel. Soos die toring van Babel verrys die stad tot in die hemel om onafhanklik van God te wees, en weier om God se opdrag te gehoorsaam om die hele aarde te bewoon (Gen 11:2; 1:28). Babilon se invloed is bedwelemend, met oorweldigende verleidelikhede en onsedelikheid waarmee afgodery en afvalligheid van God geimboliseer word. Afgodediens het gewoonlik gepaard gegaan met seksuele onsedelikheid. Daarmee word al die nasies weggelei van die oproep van die evangelie om hulle Skepper te aanbid en te dien (14:6-7).

 

14:9-11 Die derde engel se waarskuwing aan gelowiges wat deur die wêreld se sedes en gebruike en norme verlei word en deur die Babilon-samelewing bedelm raak, wys hy op die dreigende lyding, dag en nag vir ewig, en marteling soos in ’n vuur wat nie uitbrand nie, vir diegene wat die dier en sy beeld aanbid met sy merk op hulle voorkoppe (in hulle gedagtewêreld) en regterhande (in hulle daaglikse optrede). Want die mense wat hulle rug draai op die ware God, die God wat Jesus aan ons kom openbaar het, gee Hy in sy toorn oor aan hulle eie begeertes om mekaar te vernietig (Rom. 1:18-31). Teenoor Babilon se wyn van verleiding tot verkeerde dade en bedwelming van hulle denke (18:3) staan die onverdunde wyn van God se ewige oordeel wat Jesus vir baie gedrink het (Luk. 22:19-20; Mark. 10:38,45).

 

14:12 ‘Hiervoor (die toorn van God oor die volgelinge van die dier 14:9-11) het die heiliges volharding nodig, hulle wat die gebooie van God nakom en in Jesus bly glo.’ ‘Volharding’ is die vermoë om uit te hou onder moeilike omstandighede. Die paragraaf eindig met ‘n oproep tot volharding soos in 13:10 (vgl.1:9 vir Johannes; 2:2-3,19 vir die gemeente). Volharding hou in dat ek innerlik en aktief teenstand bied teen die lewenswyse van die wêreld (Babilon en die dier), deur my lewe in gehoorsaamheid aan God se gebooie in te rig, en in geloof (met volle vertroue) vas te klou aan Jesus as die Here van my lewe. Deur die inwoning van die Heilige Gees in ons, gee God die volharding in geloof in Hom as ons Vader en in Christus as ons Verlosser en Here van ons lewe. Daarom vra Hy ook van ons geloofsvolharding, uithou ook onder moeilike omstandighede en verleidings. Hy vra van ons om dit wat Hy vir ons gee, te gebruik en toe te pas (1 Jn 4:19: Ons het lief omdat Hy ons eerste liefgehad het).

Skrywer:  Prof Francois Malan