1

Paulus se brief aan die Filippense (Fil 1:25-26) – Francois Malan

1:25 ’Juis omdat ek hiervan oortuig is, weet ek dat ek hier sal bly, ja, dat ek wel by julle almal sal bly, sodat julle vordering kan maak en geloofsvreugde van ervaar.’ Paulus vertrou (pepoithōs ‘vertrouend’ (nie: ‘ek is oortuig’ soos 2020 vertaal nie ) dat die Here hom wil gebruik vir die noodsaaklike vordering van die Filippense se geloof in Christus en hulle verhouding met mekaar (1:24). Die Here het die vertroue in hom gewerk, moontlik deur die gemeente se gebrek aan ’n nederige eensgesindheid waaroor hy so ernstig in hoofstuk twee praat (vgl.2:1-4,14; 4:2-7). Hy kon daaroor berigte ontvang het en dit afgelei het tydens sy gesprekke met Epafroditus, die gemeente se verteenwoordiger wat hom kom help het (4:18). Sy Here bepaal sy lewensduur. Daarom weet hy, eintlik ‘dit vertrouend weet hy’ dat hy in die lewe gaan bly (menō) en voortgaan om by al die gemeentes en gelowiges te bly. Die doel van Paulus om by hulle almal te bly is om só die belang van die Here se koninkryk en die nood van die gelowiges in Filippi te dien. Almal sluit al die gemeentes in, nie slegs die Filippense nie. Dat Paulus sal volhard om by die gemeentes te bly, beteken dat hy bereid is vir die uitdagings en moontlike lyding wat dit kan behels. In die Griekse teks is vordering en vreugde met een lidwoord verbind en saam aan geloof. Dit gaan oor die gemeente se vordering in die geloof en hulle vreugde in die geloof daarmee saam. Dit beteken dat die gemeente en gemeentelede minder op hulleself moet vertrou en al meer op Christus Jesus vertrou vir alles in hulle lewe. Dan kan hulle in nederige eensgesindheid met mekaar saamlewe. Die groeiende vertroue op die Here lei tot ’n lewe in vreugde omdat ons nie meer op onsself vertrou nie, maar op die Here. Vreugde is deel van die vrug van die werking van die Heilige Gees in elke gelowige (Gal 5:22). Romeine 15:13: ‘Mag die God van hoop julle deur julle geloof met alle blydskap en vrede vervul, sodat julle hoop oorvloedig kan word deur die krag van die Heilige Gees.’ Dit beteken die aanvaarding dat alles wat met my gebeur van die Here kom. In Romeine 8:28 het Paulus gesê: ‘Ons weet dat alles ten goede meewerk vir hulle wat God liefhet, diegene wat volgens sy voorneme geroep is…’ Nadat hy opgenoem het watter ellendes die gelowiges mag tref, sê Hy: ’Maar in alles is ons selfs meer as oorwinnaars deur Hom wat sy liefde aan ons bewys het… omdat niks ons kan skei van God se liefde wat daar in Christus Jesus ons Here is nie’ (Rom 8:37,39). Dit is die vreugde van die geloof waarvan Paulus hier skryf waaraan hy in die gemeentes wil kom werk.

1:26 ‘So sal julle roem oor Christus Jesus deur my oorvloedig gemaak word, deur my teenwoordigheid weer by julle.’ (2020 ‘So sal julle trots op my, wanneer ek weer by julle is, in Christus Jesus nog meer kan toeneem) ‘…sodat julle roem oor (en) Christus Jesus oorvloedig gemaak word’ – hier verwys die Griekse ‘en’ na die Persoon oor wie hulle roem, soos in Fil 3:3 ‘ons wat oor (en) Christus Jesus roem en nie op (en) die vlees nie.’ Die gedagte is dan dat God hulle roem oor Christus sal bewerk deur Paulus se werk onder hulle (nie soos 2020 vertaal dat hulle oor Paulus sal roem nie). In Galasiërs 6:14 het Paulus gesê: ‘Maar wat my betref mag dit my tog nie oorkom dat ek spog nie, behalwe oor (en) die kruis van ons Here Jesus Christus.…’ ‘deur my oorvloedig gemaak word;’ vgl. 1:9 dat hulle liefde al hoe meer oorvloedig sal wees) ‘deur (en) my’ – hier verwys die Griekse ‘en’ na Paulus as die instrument wat God sal gebruik om die Filippense se roem oor Christus oorvloedig te laat word (Die Griekse voorsetsel en word in die Griekse Nuwe Testament vir 21 verskillende betrekkinge tussen naamwoorde gebruik, bv: ‘in,’ ‘oor,’ ‘deur,’). ‘Deur my’ word uitgebrei met ‘deur (día) my persoonlike teenwoordigheid (parousía) weer (pálin) by julle’ – sy teenwoordigheid by hulle gaan nie slegs per brief wees, soos met hierdie brief wat reeds werk om hulle roem oor Christus te vermeerder nie, maar hy gaan persoonlik teenwoordig wees by hulle nadat hy in Rome vrygelaat is; ‘weer’ – Paulus was by hulle toe die Here die gemeente begin het tydens sy tweede sendingreis (Hand 16:6-40); daarna was hy by hulle op pad na Korinthe (2 Kor 2:13; 8:1); daarna op sy reis na Jerusalem (Hand 20:1-6); en nou beplan hy om ‘weer’ na hulle te kom wanneer hy vrygelaat word in Rome. Paulus voorsien ’n baie vrugbare besoek by die gemeente na sy vrylating. Deel van sy verwagting is dat die Here se liefde onder hulle meer en meer oorvloedig sal word. Daarvoor het hy in vers 9 gebid. Die wyse waarop dit sal gebeur is dat hulle al meer op die Here Jesus Christus sal vertrou vir hulle hele lewe. Christus sal hulle ook deur Paulus se getuienis verander sodat hulle mekaar beter sal liefhê. Met hulle groeiende vertroue op Jesus sal hulle Hom al meer dank en prys. So sal hulle roem oor Christus Jesus se werk in hulle en dat Hy hulle lewe al meer verander. Op dié manier maak God hulle roem oor Christus oorvloedig. Daarvoor gebruik Hy Paulus se getuienis oor Christus. Die groei en volharding in die geloof kom van God af. Die Heilige Gees is daagliks besig met die opbou van ons geloof in Christus (2 Kor 3:18). In 1 Kor 3:6 sê Paulus: ‘Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar God het laat groei.’ God wat die goeie werk in die gelowiges begin het, sal dit voltooi tot op die dag van Christus Jesus (Fil 1:6).




Paulus se brief aan die Filippense (Fil 1:22-24) – Francois Malan

1:22a ‘maar as ek verder liggaamlik bly lewe, beteken dit dat ek nog verder vrugbaar sal kan werk,’ Die sin is gebroke en moeilik om presies te vertaal. Nadat Paulus duidelik gemaak het dat sy sterwe vir hom ’n wins sal wees, om vir ewig volmaak met Christus te wees of vir die evangelie ’n wins te wees deur die wyse waarop hy sal sterf (1:21), beskryf hy die ander moontlikheid dat hy deur die keiser vrygespreek kan word en dan verder bly lewe. Vir hom sou om verder te bly lewe, beteken om verder deur Christus gebruik te word vir vrug of oes van werk in God se koninkryk op aarde. Die woord karpós kan ‘vrug’ of ‘oes’ aandui. Dit beklemtoon dat daar vrug op sy werk sal wees, dat hy die oes moet help inbring van die werk wat die Here reeds in die harte van mense doen. Teenoor die wins wat sy sterwe vir hom en vir die evangelie kan beteken (1:21) staan die werk vir die Here as hy sou bly lewe. Teenoor sy persoonlike wins, is die diens aan sy Eienaar moontlik belangriker in die oë van sy Here.

1:22b-24 ‘Ek weet werklik nie wat om te kies nie. 1:23 Ek is in ’n tweestryd gewikkel. Aan die een kant verlang ek om heen te gaan en saam met Christus te wees. Dit is immers verreweg die beste. 1:24 Aan die ander kant is dit ter wille van julle noodsaakliker dat ek liggaamlik hier bly.’ Die keuse is vir Paulus moeilik. Hy word van twee kante af gedruk (sunéchomai). Paulus gebruik die woord nog net in 2 Kor 5:14 vir die liefde van Christus wat ons ‘dring/beheer.’ Wat die beste vir die evangelie sou wees, weet hy nie en kan hy nie sê nie (dit is die krag van die woord gnōrízō ‘bekendmaak’). Daarom laat hy dit aan sy Heer oor om daaroor te besluit. As slaaf van Christus aanvaar hy sy Heer se besluit met vreugde. Hy het die begeerte om te sterf en vir ewig met Christus in heerlikheid te wees (vgl. Rom 8:17b). Dit kan ook sy finale offer wees waarmee hy Christus in sy liggaam kan verheerlik (vgl. Fil 2:17 ‘Maar al word ek ook as drankoffer uitgegiet…’ ). Maar om liggaamlik te bly lewe, kan vir sy Heer beteken dat dit nog noodsaaklik is dat hy ter wille van die gemeente in die lewe bly om te help om sy Heer se oes in te samel. Christus is immers sy lewe! Hoe sien Paulus die lewe na die dood en die opstanding van die dooies op die dag van Jesus se wederkoms? Volgens Fil 1:23 verwag Paulus om met sy dood direk met (sun) Christus te wees. Volgens Fil 1:10 verwag hy wel die dag van Christus as die oordeelsdag wat nog kom. Volgens Fil 3:20-21 is ons burgerskap reeds in die hemel, maar ons verwag die Here Jesus Christus, wat ons nederige liggaam gaan verander om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam. Volgens 2 Korinthiërs 5:1-10 voorsien Paulus dat die lewe dit wat sterflik is, sal verteer met ons sterwe (5:4 katapínō dat die krag van die dood beëindig word en die lewe oorneem), en dat ons reeds by die Here gaan woon in afwagting van ons verskyning voor die regterstoel van Christus. 1 Korinthiërs 15:20-28; 35-55 brei uit oor die opwekking van die dooies met die koms van Christus as Wêreldregter. Reeds in 1 Thessalonisense verwys hy na ons verwagting van die koms van die Seun van God uit die hemel, met trompetgeskal en met al sy engele (1:10; 2:19; 3:13; 4:16; 5:2). In 1 Thess 4:14 verwys hy egter na gelowiges wat sterf as mense wat glo dat Jesus gesterf het en opgewek is. ‘God sal ook so diegene wat gesterf het, deur Jesus met Hom saamneem.’ In 1 Thess 5:10 sê Paulus dat ons saam met (háma sun) Christus leef òf ons nou lewe òf sterf (‘wakker is of slaap’ as beeldspraak vir lewe en dood in 5:10; vgl. Rom 14:8). Jesus het in sy antwoord aan die Sadduseërs al verwys na Abraham en Isak en Jakob wat steeds lewe, want ‘hulle God is nie die God van dooies nie maar van lewendes’ (Matt 22:32). In sy gelykenis van die ryk man en Lasarus verwys Jesus na Lasarus aan die boesem van Abraham (Luk 16:22-26) en vir die misdadiger aan die kruis sê Hy ‘Jy sal vandag nog saam met my in die paradys wees.’ So is Paulus oortuig dat hy met sy dood met Christus sal wees, aan Jesus verbind om saam met Hom te lewe, ook direk by sy sterwe. So het hy die sterwende Stefanus hoor roep ‘Here Jesus ontvang my gees!’ (Hand 7:58-60).




Paulus se brief aan die Filippense (Fil 1:18-21) – Francois Malan

 In elke geval, of dit met bybedoelings of in waarheid is, word Christus verkondig, en daaroor is ek vol blydskap.’ In vers 18 sê hy wat hy oor altwee die groepe dink. Een groep doen dit onder ’n voorwendsel (prófasis wat teen Paulus praat sonder ’n egte rede). Die ander groep doen dit met opregtheid (alêtheia wat waar is oor Paulus). Dit bekommer Paulus nie, want Christus word deur albei groepe verkondig, en daaroor is hy bly. Dit is een van die fynste voorbeelde van Paulus se adel, dat hy die persoonlike kwessies rondom hom fyn kan beoordeel en vreugde vind (chairō ek is steeds bly, teenwoordige tyd) oor die verkondiging van die evangelie van Christus (vgl.1:9: sy gebed vir die Filippense se toename in fyn aanvoeling). Dit word gedoen uit volkome vertroue op Christus dat Hy al dié verskillende stemme gebruik om sy evangelie bekend te stel en dat Hy sorg vir die voortgang daarvan (1:12).

1:18b ‘Ja, ek sal voortdurend bly wees.’

Hier kom Paulus by sy verwagting oor sy aanstaande verhoor. Vooraf beklemtoon hy sy vreugde oor wat op hom wag, of dit sy dood of sy lewe mag wees. ‘Ja (allá tog, vir seker, beslis) ek sal voortdurend bly wees (chairêsomai toekomstige tyd van voortgang).’ En dan gee hy sy rede vir sy innerlike vreugde in verse 19 en 20: 1:19 ‘want ek weet dat alles tot my verlossing (sōtêria en vrylating) sal lei, omdat julle vir my bid en die Gees van Jesus Christus my ondersteun.’ Hier gebruik Paulus dieselfde woorde as Job 13:16a volgens die Griekse vertaling, die Septuaginta (LXX), wat deur Paulus en die gemeentes as hulle Bybel gebruik is. Job sien daarna uit om sy saak voor God te stel, al sou dit sy dood beteken – Paulus sien daarna uit om sy saak voor die keiser te stel, wat sal beslis of hy sal bly lewe of sal sterf. Maar soos Job, verwag hy tog dat hy vrygespreek kan word. Die woord van God in Job het Paulus help oortuig, ‘ek weet!’ Sy oortuiging is verder versterk deur die gemeente in Filippi se pleitgebede (deêseis dringende pleit in ’n noodsituasie) vir hom by God, asook die besliste wete dat die Gees van Jesus Christus hom voor die keiser sal bystaan en wat nodig is sal voorsien (epichorêgía voorsien wat nodig is, ondersteun – eintlik op sy rekening neem ). So is Jesus deur die Heilige Gees gelei en gedra tydens sy aardse lewe (vgl. Jesus se salwing met die Heilige Gees by sy doop, Luk 3:22); en dat Hy duiwels uitgedryf het met die Gees van God (Matt 12:28). Jesus het gesê die Heilige Gees sal julle op daardie oomblik voor sinagoges en owerhede leer wat om te sê (Luk 12:11-12), dit is immers nie julle wat praat nie, maar die Gees van julle Vader wat deur julle praat (Matt 10:17-20).

1:20 ‘Dit is immers my innige verwagting en hoop dat ek in geen opsig beskaam sal word nie, maar dat Christus met alle vrymoedigheid ook nou, soos altyd, deur my liggaam verheerlik sal word, of dit nou deur my lewe of deur my dood is. Paulus sien met innige verwagting (apokaradokía gretig vooruitsien, met verwagting uitsien) en vol hoop dat hy met sy optrede voor die keiser nie in enige opsig beskaamd sal word nie. Die passiewe werkwoord wys daarop dat hy verwag dat God sal sorg dat hy nie die evangelieverkondiging in die steek sal laat nie. Hy het die diepe begeerte dat Christus nou in sy persoon (sōma) soos altyd en met alle vrymoedigheid verheerlik sal word (megalunthêsetai). Die passiewe vorm verwys na God wat Jesus sal verheerlik deur Paulus se persoon; of dit nou deur sy lewe of deur sy dood sal wees. Die nag toe die kaptein van die keiserlike wag in Jerusalem vir Paulus in die soldate-kwartiere opgesluit het, het Jesus by Paulus kom staan en gesê: ‘Net soos jy in Jerusalem oor My getuig het, so moet jy ook in Rome getuig’ (Hand 23:11). Daarom is Paulus ook steeds bly oor die geleentheid waarop hy wag om persoonlik deur God gebruik te word om Christus met alle vrymoedigheid voor die keiser te verheerlik, of dit nou deur sy lewe of sy dood gaan wees. So het hy al in Romeine 15:18 geskryf dat hy nie sal waag om iets anders te praat as wat Christus deur hom gedoen het nie – daarom dat hy hierdie hele deel van sy brief met voortdurende blydskap kon begin (1:18a).

1:21 ‘Vir my is om te leef Christus, en om te sterf wins.’ Voorop in die teks, wat nie werkwoorde het nie, staan ‘Vir my.’ In die vorige vers het dit gegaan oor wat Paulus se lewe of sy dood vir die keiser, almal teenwoordig by sy verhoor en vir die koninkryk van God sal beteken; sy diepe begeerte is dat beide, sy lewe of sy dood, Christus sal verheerlik. Hier gaan dit oor wat sy lewe of sy dood vir hom, Paulus, beteken: ‘Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.’ Letterlik staan daar: ’ om te lewe’ (to zên teenwoordige infinitief, die onbepaalde wyse) beklemtoon die belang van die proses om te lewe. ‘om te sterf ‘(onbepaalde verlede infinitief to apothanein) wys na die sterwe as ’n belangrike gebeurtenis. Die werkwoord ‘is’ ontbreek in albei die uitdrukkings, maar word veronderstel omdat ‘Christus’ en ‘wins’ in die gesegde-posisie staan. Vir Paulus beteken om te lewe Christus. Om te lewe is vir Paulus om vervul te wees met Christus, beset deur Christus, alles wat hy doen, vertrou, liefhet, hoop, gehoorsaam, preek, ens. is geïnspireer deur Christus en word gedoen vir Christus. Christus alleen gee inspirasie, leiding, betekenis en sin aan sy bestaan. Sy lewe word ten volle bepaal en beheers deur sy liefde vir en toewyding aan Christus wat aan hom op die pad na Damaskus verskyn het. Paulus is oorweldig deur Christus se majesteit, liefde, goedheid en vergifnis. In Galasiërs 2:19-20 het Paulus geskryf: ‘Met Christus is ek gekruisig; ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my! Die lewe wat ek nou liggaamlik leef, leef ek in geloof in die Seun van God wat my liefgehad en Homself vir my oorgegee het.’ In sy brief aan die Romeine 14:7-9 het hy oor alle gelowiges geskryf: niemand leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. As ons leef, leef ons immers vir die Here en as ons sterf, sterf ons vir die Here. Of ons dan lewe of sterwe, ons behoort aan die Here. Dit is tog waarvoor Christus gesterf het en weer lewend geword het – om Heer te wees oor dooies en lewendes. Vir Paulus was om vir Christus te lewe ’n daaglikse las om saam met Christus te ly, en ook saam met Hom verheerlik te word (Rom 8:17). Sterwe beteken nie om sonder Christus te wees nie, maar juis om ook met Christus te sterwe, wat weer opgestaan het, om saam met Christus vir ewig te lewe. In Romeine 8:38-39 sê hy ‘Ek is oortuig dat geen dood of lewe…ons kan skei van God se liefde wat daar in Christus Jesus ons Here is nie.’ As hy sterwe sal hy wel ontslae wees van aardse moeilikhede. Vir hom is die hoofsaak die voortsetting van sy verhouding met die verheerlikte Christus. Daarom is om te sterf vir hom ’n wins. Maar die manier waarop hy sou sterf kan ook ’n wins wees vir die evangelie.




Paulus se brief aan die Filippense (Fil 1:12-17) – Francois Malan

1:12 Broers, ek wil hê julle moet weet dat wat met my gebeur het, in werklikheid tot bevordering van die evangelie gelei het. Paulus beskou die gemeente in Filippi as sy medegelowiges in Christus (adelfoí broers, sluit susters in. Dié term gebruik Paulus 133 keer in sy briewe; in Fil 1:13; 3:1,13,17; 4:1,8,21). Hy sien homself as lid van die gesin van God, wat in liefde nou aan mekaar verbind is deur geloof in Jesus Christus om die wil van God te doen. Selfs die Christene wat swak in die geloof was (1:14) of dié wat dit vir hom as gevangene moeilik maak (1:15,17), word daarby ingesluit. Paulus wil hê die gemeente moet weet dat wat met hom gebeur het, nie die voortgang van die evangelie verhinder het nie, maar juis bevorder het. Hy verduidelik nie wat met hom gebeur het nie, maar verwys net na ‘die dinge met my.’ In 1:7 het hy egter verwys na sy gevangenskap, verdediging en bevestiging van die evangelie. Hulle het aangeneem dit sou die evangelie benadeel, maar die teendeel het gebeur. Sy gevangenskap het eerder die evangelie bevorder (prokopên vooruit sny om ’n pad oop te kap). Hy sien dat dit wat met hom gebeur het, God se plan is met sy lewe as slaaf van Christus Jesus (1:1), geroep om die evangelie van genade en vrede te verkondig (1:2).

1:13-14 Sodoende het dit by die hele pretorium (keiserlike wag) en al die ander bekend geword dat ek ter wille van Christus in gevangenskap verkeer. Die bewyse dat die evangelie bevorder is deur Paulus se gevangenskap word in verse 13-14 uitgespel: 1. Dit het by die hele praetorium en by al die ander duidelik geword (fanerós, ook: wyd bekend geword) dat Paulus nie ’n misdadiger of politieke gevangene is nie, maar dat hy in Christus is (en Christō in gemeenskap met Christus; ter wille van Christus; dat hy ’n Christen is) 2. Die meeste van die gelowiges is deur Paulus se gevangenskap geïnspireer om op die Here te vertrou, en hulle waag dit nou baie meer om die woord (van God) vreesloos te spreek (lalein). Paulus het nie die gemeente in Rome gestig nie, maar voordat hy in boeie was (Hand 21:33; 26:29) het hy vanaf Korinthe sy Romeinebrief gestuur en ’n hele klomp bekendes in Rome gegroet (Rom 16:3-16). Daarin het hy reeds geskryf dat hulle nie bang hoef te wees nie omdat die Gees self teenoor ons gees getuig dat ons kinders van God is (Rom 8:15). Die praetorium is die soldate van die paleiswag. Volgens Handelinge 28:16 is Paulus in Rome toegelaat om op sy eie te woon, met ’n soldaat wat hom bewaak het. Die Romeinse soldate het elke 3 uur snags en tweemaal bedags omgeruil. Die Romeine het die nag in vier nagwake verdeel (vgl. die vierde nagwaak in Markus 6:48). Vir twee jaar was Paulus in sy gehuurde huis verhoorafwagtend op sy appèl om voor die keiser te verskyn (Hand 25:12; 28:30). Die hele paleiswag het ’n geleentheid gekry om hom te bewaak. Tydens die soldaat se wagbeurt kon Paulus die evangelie aan elkeen van hulle verkondig, ‘en aan al die ander,’ waarskynlik almal wat hy dié twee jaar ontvang het, wat na hom in sy gehuurde huis in Rome toe gekom het. Hy het hulle met alle vrymoedigheid en ongehinderd oor die Here Jesus onderrig (Hand 28:30). So het die Here sy gevangenskap gebruik om die evangelie te bevorder. Hy skryf in dié tyd ook die Efesebrief en die briewe aan die Kolossense, Filemon en die Filippense. So het die Here sy woord laat neerskryf sodat ons dit vandag nog kan lees om God beter te leer ken en sy wil vir ons.

1:15a ‘Sommige verkondig Christus wel uit jaloesie en twisgierigheid, ander egter uit goedgesindheid.’ Vers 14 het verwys na meeste van die gelowiges (broers) wat deur Paulus se gevangenskap geïnspireer is om die woord van die Here vreesloos te spreek (lalein). Hier vertel Paulus egter van sy slegte ondervinding van sommige predikers in Rome. Sommige preek (kêrússein) Christus wel uit jaloesie, waarskynlik teenoor Paulus omdat hy meer gewild was? meer mense bereik met sy getuienis oor Jesus? of andersom dat hulle probeer om meer volgelinge as hy te hê? oor sy posisie as geroepe apostel (Rom 1:1)? Dié Christene preek Christus uit onenigheid (érin om te argumenteer met ’n stukkie antagonisme en om slegte dinge te sê oor Paulus).

1:15b ‘ander egter uit goedgesindheid’ teenoor Paulus (eudokía omdat hulle dit verkies, omdat hulle dink dat sy verkondiging van die evangelie die beste is).

1:16 ‘Hulle doen dit uit liefde, omdat hulle weet dat ek bestem is om die evangelie te verdedig.’ Hy beskryf die goedgesindes se houding teenoor hom in vers 16 as uit liefde (agápê ‘liefde op grond van hulle groot waardering en hoë agting vir Paulus) omdat hulle weet dat Paulus in dié situasie, in gevangenskap, bestem is (keimai deur God permanent geplaas is) om die evangelie te verdedig (apología om te praat ten gunste van die evangelie teen valse beskuldigings teen die evangelie). Hulle verkondig die evangelie uit liefde deur Paulus se apostolaat te erken en daardeur bevorder hulle Paulus se werk.

1:17 ‘maar die ander verkondig Christus uit selfsugtige ambisie – nie met opregte motiewe nie, maar met die bedoeling om vir my in my gevangenskap verdrukking te veroorsaak.’ In vers 17 sê Paulus hulle verkondig (katangéllō aankondig, bekend maak) Christus uit teenstand (eritheía selfsugtige ambisie of: vyandigheid) – nie met opregte motiewe nie maar met die gedagte om vir my in my gevangenskap moeilikheid te veroorsaak (thlipsis moeilikheid wat direkte verdrukking veroorsaak). Vir die gelowiges se prediking gebruik Paulus drie sinonieme woorde om te bevestig dat hulle almal Christus verkondig:: vers 14: die meeste ‘spreek’ (laléō of vertel) die woord van God sonder vrees; vers 15 sommige ‘preek’ (kêrússō of aankondig, uitroep, vertel) Christus uit jaloesie en onenigheid, ander uit goedgesindheid; vers 17 en 18 sy teenstanders ‘verkondig’ (katangéllō of aankondig) Christus uit selfsug, en beide sy ondersteuners en teenstanders ‘verkondig ‘(katangéllō) Christus. Paulus kla nie dat hulle Christus as die inhoud van hulle boodskap verkondig nie, maar wys na hulle verskillende motiewe teenoor hom.