Paulus se brief aan die Filippense- Briefaanhef (1:1-2) – Francois Malan

Paulus se brief aan die Filippense Inleiding tot die brief Die stad Filippi in die noord-oostelike hoek van Macedonië dra die naam van Alexander die Grote se pa, koning Filippus II van Macedonië. In 398 v.C. het hy die stad opgebou en na homself vernoem. In 148 v.C. is Macedonië deur die Romeine oorgeneem wat afgetrede Romeinse soldate daar gevestig het. Die Via Egnatia, wat die Ooste met Rome verbind, is daarlangs gebou. In 30 v.C. het keiser Augustus van Filippi die sentrum van ’n Romeinse militêre kolonie gemaak. Op sy tweede sendingreis het Paulus die eerste gemeente op Europese bodem daar gestig nadat God hulle met ’n visioen daarheen gestuur het (Hand 16:6-40; vgl. ook 1 Thess 2:2). Paulus noem dit die begin sy evangelieverkondiging (Fil 4:15). Daar was so min Jode dat hulle nie ’n sinagoge gehad het nie, en die vroue het by die rivier vergader (Hand 16:13). Op sy derde sendingreis besoek Paulus weer die gemeente (1 Kor 16:5; 2 Kor 2:13; 7:5). Daarna het hy vir drie maande daar vertoef op pad na Jerusalem met die kollekte vir die gelowiges in Judea (Hand 20:1-6; 1 Kor 16:3-4; 2 Kor 8:4). Van tyd tot tyd het die gemeente geld gestuur om Paulus te help met sy onderhoud (vgl. 2 Kor 11:9; Fil 4:15-18). Hierdie brief word onder andere geskryf om hulle daarvoor te bedank. Volgens hoofstuk 3:2-3, 18-19 was daar Joodse dwaalleraars wat die gemeente verwar het. Daarom pleit Paulus ook by die gemeente om by die evangelie te bly en eensgesind te wees (vgl. 3:2-3; 2:2-4; 4:2-3). Filippense, Efesiërs, Kolossense en Filemon word Paulus se Gevangeniskapsbriewe genoem, wat hy uit die gevangenis geskryf het (vgl. Fil 1:7,13,14,17; Ef 4:1; Kol 4:10; Flm v9). 2 Timoteus word ook uit die gevangenis geskryf (2 Tim 1:8), maar word as een van die Pastorale Briewe beskou. Daar is van vroeg af gedink dat Paulus Filippense geskryf het tydens die twee jaar tussen 59-61 n.C. wat hy as gevangene in sy gehuurde huis in Rome onder konstante bewaking van ’n soldaat was (Hand 28:16,30). Sedert die 18e eeu was daar teoloë wat Efese en Caesarea as moontlike plekke vir die skrywe van die brief voorgestel het omdat dit nader aan Filippi is. Aangesien Paulus die moontlikheid van sy dood verwag wanneer hy voor die keiser, op wie hy hom beroep het (Hand 25:10,12), moet verskyn en hoop dat hy vrygelaat sal word (Fil 1:20-25), kon hy moontlik teen die einde van sy twee jaar gevangeniskap in Rome die brief geskryf het (vgl. Fil 2:24 ‘Ek vertrou op die Here dat ek ook self gou na julle toe sal kom ’). Die brief is die mees persoonlike van Paulus se briewe saam met Filemon. Die hoofsaak van die brief is die eenheid van die kerk wat deur Christus bewerk word deur nederige diens en waardering vir mekaar. Paulus vertel van sy omstandighede en planne en gee aandag aan die omstandighede van die gemeente. Daar is baie gedagtes in die brief, dankbaarheid, eensgesindheid, nederigheid na Jesus se voorbeeld, ens. maar die toon van die brief is deurgaans die vreugde in die Here, wat in elkeen van die vier hoofstukke voorkom. Die woord chará (vreugde, blydskap) kom vyf maal voor (1:4,25; 2:2,29; 4:1), chaírō (wees bly) sewe keer (1:18; 2:17,18,27; 3:1; 4:4,10) en sunchaírō (saam bly wees) twee maal (2:17,18). Gereeld dink hy met vreugde aan wat God vir en met elkeen van die gemeentelede doen en daarvoor dank hy God met ’n vreugdegebed. Briefaanhef (Flp 1:1-2) Paulus volg die briefvorm van sy tyd van ‘skrywer, ontvangers en ’n groete.’ Hy brei egter uit op elkeen van die dele met ’n ryk evangeliese inhoud wat by die gemeente se behoefte aanpas. 1:1 Terwyl Paulus sy roeping en apostelskap in die ander briewe aandui, maak hy hom so ‘klein’ moontlik in hierdie brief se aanhef (vgl. Fil 2:3 se nederigheid). Sy Latynse naam ‘Paulus’ beteken ook ‘klein, gering’ (vgl. 1 Kor 15:9). Hoewel hy die skrywer van die brief is, word Timoteus, sy betroubare geestelike kind (Fil 2:22; 1 Tim 1:2 en 2 Tim 1: 2), as medeskrywer genoem (vgl. twee getuies, Matt 18:16), moontlik ’n aanduiding dat hulle oor die inhoud van die brief gesels het – Timoteus beteken ‘tot die eer van God, die een wat vir God vereer.’ Van vers 3 af skryf Paulus egter in die eerste persoon, en in 2:19-23 word na Timoteus in die derde persoon verwys. Hulle twee is diensknegte (letterlik: slawe douloi) van Christus Jesus. Dit wys weg van hulle af na hulle Heer, hulle eienaar, wat hulle met sy bloed gekoop het (1 Kor 6:20) en hulle met sy boodskap stuur. Hulle is niemand anders se slawe nie. In die kerk is almal nederige slawe, geheel afhanklik en in diens van Jesus as hulle Heer (Fil 2:10-11,13). ‘aan al die heiliges in Christus Jesus wat in Filippi is’ – Die gemeentelede word almal betrek om hulle tot eenheid onder mekaar te roep (vgl. ‘almal’ in Fi1:4,7,8,25; 2:17,26; 4:21; één gees, één siel in 1:27). Paulus vermaan die gemeente om eensgesind te wees (2:1-8), en in die besonder twee vroue wat by die naam genoem word (Fil 4:2). ‘Heiliges in Christus Jesus’ beteken hulle is deur God afgesonder om sy kinders te wees (Rom 8:14-16). Deur die werking van die Heilige Gees is hulle aan God toegewy om al meer sy beeld te vertoon (Kol 3:10; Rom 8:29) deur hulle verbondenheid aan sy Seun, Christus Jesus (2 Kor 3:18). Hulle verhouding met Christus Jesus is die kern van hulle afsondering en toewyding aan God. Jesus se nederige voorbeeld word as maatstaf voorgehou (Fil 2:5-8). ‘en ook die opsieners en diakens’ (episkopoi et diakonoi). Die opsieners word in Handelinge 20:17,28 ouderlinge genoem, wat die Heilige Gees as opsieners oor die gemeente aangestel het om hulle herderlik te versorg. Paulus het gewoonlik, nadat gemeentes gebid en gevas het, met die opsteek van hande, ouderlinge laat kies wat hy en die hele gemeente aan die Here opgedra het (Hand 14:23). Die vereistes vir opsieners word in Titus 1:6-9 bespreek en in 1 Timoteus 3:1-13 opsieners saam met diakens. Die diakens doen dienswerk in die gemeente, veral aan die armes en reël hulle versorging deur die gemeente (vgl. ook Handelinge 6:1-6). In 1 Korinthiërs 12:28 word verwys na lidmate in die gemeente wat God aangewys het met die vermoë om ander te lei (ouderlinge), en om ander te help en te ondersteun (diakens). Maar van almal word nederige diens aan mekaar verwag (Fil 2:3-4). 1:2 Genade vir julle en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus. Paulus vervang die Westerse ‘groete!’ (chaírein) met ‘genade’ (cháris), God se vrye, spontane, onverdiende guns wat aan die gemeente gegee word om ook teenoor mekaar genadig te wees (2:3). Die Oosterse en Ou Testamentiese ‘vrede’ (Hebreeus: sjalōm; Grieks: eirênê) word bygevoeg as God se seën wat vrede en rus in hulle verhouding met God en met mekaar gee, verhoudings sonder stremminge en bekommernis (Fil 4:5-7). Die twee gawes, genade en vrede, kom van God, wat ‘ons Vader’ geword het deur ons geloofverbinding aan sy Seun Jesus Christus en aan sy offer aan die kruis vir ons sonde (Fil 3:9-11). Soos die brief deur twee skrywers opgestel is, kom die twee gawes ‘genade en vrede’ ook van ons Vader en Here, God en Jesus (Jesus is die Griekse vorm van Joshua, ‘Jahweh, die HERE, red’); die Christus (Gesalfde koning, priester, profeet). In Johannes 14:10-11 het Jesus gesê: ‘Ek is in die Vader en die Vader is in My.’ Soos Paulus en Timoteus diensknegte van Christus Jesus is, en die gemeente heiliges in hulle gemeenskap met Christus Jesus is, word genade en vrede deur God en Christus Jesus aan die gemeente geskenk. God het ‘ons Vader’ geword deur Jesus, en Jesus is deur God aangestel as die Here wat die seggenskap het oor alle lewe (Fil 2:10-11).