Bybelvertaling (1)

Bybelvertaling (1) – Jan van der Watt

Die Bybel is vroeg reeds vertaal

Solank mense die Bybel in hulle eie taal wil lees, sal Bybelvertalings gedoen word. Toe die Jode nie meer Hebreeus kon lees nie, is die Hebreeuse Bybel drie eeue vC reeds in Grieks (die Septuagint of LXX) vertaal sodat hulle dit maklik kon lees.

In die vroeë kerk is die Bybel vinnig in ʼn verskeidenheid tale vertaal. Toe die kerk in Rome die godsdiens in die Weste begin domineer het, is die Bybel in Latyn vertaal. Daar is reeds in 150 nC met Latynse vertalings begin. In die vierde eeu is daar ʼn formele Latynse vertaling gedoen. Dié vertaling is die Vulgaat genoem en was die hoofvertaling wat tot met die Reformasie in die Westerse kerk gebruik is.

In ongeveer 160 nC is daar met ʼn Siriese vertaling begin en teen die derde eeu was daar ook ʼn Koptiese vertaling. Baie ander tale het vinnig gevolg.

Jeronimus het die Bybel in 382 in opdrag van pous Damasus in Latyn begin vertaal en dit die Vulgaat genoem. Die taak het tot in die vyfde eeu geduur. Dit het bekend geword as die “Vulgaat” wat eintlik “vulgêr” insinueer omdat die mense gesê het die Bybel mag nie in die vulgêre algemene spreektaal – wat Latyn in daardie tyd was – vertaal word nie.

Outeur: Prof Jan van der Watt




Buitebybelse getuienis oor Jesus (3)

Buitebybelse getuienis oor Jesus (3) – Jan van der Watt

Joodse verwysings uit die tyd kort na Jesus se opstanding.

Natuurlik was die Jode nie baie tevrede met die nuwe beweging wat beweer dat die (Joodse) messias vir almal gekom het nie. Hulle was eintlik baie vyandig gesind teenoor die Christene en Jesus, veral toe die Christelike geloof so vinnig begin groei het. In die verhale in Handelinge en uit Paulus se briewe, asook die Johannese geskrifte kom ons agter dat daar baie spanning tussen die Jode en die Christene was. Maar dit is nie net die Christene wat daarvan skryf nie. Die Jode het ook baie negatiewe verwysings na Jesus en die Christene gemaak. Hulle beskryf Jesus veral as valse leraar (sy leerstellings) en towenaar (sy wonders). Kom ons kyk na ʼn paar van hierdie verwysings na Jesus uit Joodse geskrifte. (Die verwysings is uit boeke wat heelwat later as Jesus se tyd geskryf is).

Dit word geleer: Op die aand van die Paasfees is Yeshu gehang. Vir veertig dae vooraf het ‘n proklameerder geskreeu: ‘Hy gaan uit om gestenig te word omdat hy toordery in Israel beoefen het en Israel mislei het. As iemand iets in sy verdediging wil sê, laat hom uitkom en dit sê’. Maar hulle het niks in sy guns gevind nie, met die gevolg dat hulle hom op die aand van die Paasfees gehang het. (Babiloniese Talmud, Sanhedrin 43a).

Hierdie verhaal onderstreep dat die Jode probleme gehad het met Jesus se leer en sy wonders. Die Jode het toe bogenoemde storie opgemaak om te probeer voorgee dat hulle ʼn regverdige verhoor gehou het – iets wat die Christene ontken het.

ʼn Ander verhaal probeer Jesus teken as ʼn slegte persoon wat sy bes probeer het om ʼn Jood te bly, maar nie goed genoeg daarvoor was nie. Hy het daarom maar afgode aanbid en sy eie domheid het gemaak dat daar stories ontstaan het dat Hy ʼn leraar was wat wonders gedoen het, so beweer die Joodse opponente van die kerk. Die kwaadwilligheid van hierdie verhale is duidelik. As die Christene nie ʼn werklike probleem vir die Jode was nie, sou die opmaak van sulke stories onnodig gewees het.

Rabbi Joshua ben Perahiah het Jesus met beide hande weggestoot…. Rabbi Joshua het gesê: Hoe lieflik is hierdie ‘askania’ (Dit kan na ʼn herberg verwys of na ʼn vroulike herbergier). Jesus antwoord: ‘Rabbi, sy het skrefie ogies’. ‘Jou slegte persoon’, antwoord die Rabbi, ‘Is dit  waaraan jy dink?’ (Die Rabbi het die eerste een bedoel en Jesus die tweede een). Die Rabbi het toe 400 trompette laat blaas en Jesus geëkskommunikeer. Jesus het baie keer teruggekom en gepleit om weer terug te kom, maar die Rabbi  wou niks weet nie. Een dag was die Rabbi besig om te bid toe Jesus weer daar aankom. Die Rabbi besluit toe om hom weer toe te laat en wink vir hom. Jesus dog toe die Rabbi stuur hom weg. Hy vat toe ʼn baksteen en aanbid dit. Die Rabbi vra hom toe om hom te bekeer, maar sy antwoord was: ‘Ek het van jou geleer dat daar geen kans vir bekering is vir iemand wat sondig en ander leer om ook te sondig nie’. ʼn Leraar het daarom gesê: ‘Jesus die Nasarener beoefen toorkunsies en mislei Israel’ (Sanhedrin 107b).

Nog ʼn interessante verhaal is die verhaal wat Jesus as die buite-egtelike kind van ʼn Romeinse soldaat (Pantera) teken. Hy word as ʼn waarsêer beskryf en die feit dat sy ondersteuner sommer gou sterf is ʼn duidelike teken dat God nie aan sy kant kan wees nie.

Rabbi Eleazar ben Dama is deur ʼn slang gebyt. Jakob van Kefar Sama kom toe om hom in die naam van Jesus ben Pantera gesond te maak. Rabbi Ismael wou dit nie toelaat nie. Eleazar het die besluit betwis, maar is dood voor hy nog kon sê hoekom. Ismael het hom gelukgewens omdat hy dood is sonder om ‘die heining af te breek wat waarsêers opgerig het’ (Tosefta Hullin 2:22-24).

Hoewel hierdie verhale vyandige propaganda was, beklemtoon dit hoe belangrike rol Jesus en die kerk gespeel het. Een ding wat die Jode nie kon doen nie, is om dit te probeer wegredeneer dat Jesus daar was nie. Hulle kon ook nie ontken het dat Hy wonders gedoen het nie. Hulle sê toe maar dat Hy  ʼn towenaar was – wat anders kon hulle sê? Hulle het mos besef dat Jesus dit gedoen het.

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Buitebybelse getuienis oor Jesus Christus (2)

Buitebybelse getuienis oor Jesus Christus (2) – Jan van der Watt

Nie-Christelike Jode wat van Jesus praat

Josefus in Antiquities of the Jews – sy boek oor die geskiedenis van die Jode van die skepping af tot 66nC – noem Jesus twee maal en Johannes die Doper een maal. Hy noem dat Johannes ʼn gewilde figuur was wat genoeg invloed gehad het om ʼn opstand te kon reël wat  hom uiteindelik ook sy lewe gekos het.

Josefus se eerste verwysing noem dat Ananus, die nuwe hoëpriester in 62nC, ‘die Raad van die Sanhedrin saamgeroep en die broer van Jesus, die sogenaamde Messias, (Christos) wat Jakobus genoem is, saam met ʼn paar ander mans, oorgelewer en gestenig het. Hulle is daarvan beskuldig dat hulle die wet gebreek het’.

Hierdie verwysing onderstreep natuurlik ook die aktiewe teenwoordigheid van die Christene in Jerusalem, asook die posisie van Jakobus as leier van die kerk in Jerusalem.

Josefus se tweede verwysing lui so: Omtrent hierdie tyd het Jesus geleef, ʼn wyse man, as ʼn mens Hom inderdaad ʼn man kan noem. Hy het verbasende dinge gedoen en was ʼn leraar vir mense wat opgewonde was om die waarheid te aanvaar. Hy het baie Jode oortuig en ook baie Grieke: Hy was die Messias. In reaksie op die aanklag wat deur leidende mense onder ons  gebring is, het Pilatus Hom tot ʼn kruisdood veroordeel: maar diegene wat Hom aanvanklik liefgehad het, het nie opgegee nie. Hy het op die derde dag lewendig aan hulle verskyn, soos die profete van God oor Hom gepraat het asook oor duisende ander wonders oor Hom. Tot op hierdie dag bestaan die stam van die Christene, wat na Hom vernoem is, nog. (Ant. XVIII.3.3).

Hoewel dit lyk of Christene die weergawe ‘geredigeer’ het (as ʼn mens na frases kyk soos ‘as ʼn mens Hom inderdaad ʼn man kan noem‘; ‘die derde dag‘), is daar min twyfel dat die essensie van wat hier staan, werklik op Josefus teruggaan. Selfs die taal wat gebruik word, is nie tipies Christelik nie. Onthou, Josefus was ʼn Jood (nie ʼn Christen nie) en hy het vir die keiser ʼn geskiedenis geskryf oor alles wat in Palestina gebeur het. Hy het die grootste deel van sy lewe in Palestina gebly en het geweet wat daar aangegaan het en of iets wel gebeur het of nie. Hy het dus min belang by Jesus gehad, behalwe dat die dinge wat destyds in Palestina gebeur het in sy geskiedenisboek moes kom. Josefus het dus geen rede gehad om na Jesus te verwys as hy dit nie as werklike gebeurtenis gesien het nie.

Lees volgende keer verder oor getuienis van nie-Christene oor Jesus uit die ou tyd… dit bewys natuurlik dat die verhale oor Jesus deur die mense van destyds as waar aanvaar is en nie net as Christelike propaganda nie.

Outeur: Prof Jan van der Watt




Buitebybelse getuienis oor Jesus (1)

Buitebybelse getuienis oor Jesus (1) = Jan van der Watt

Daar is nie baie oor Jesus in sy tyd geskryf behalwe in die Bybel nie. Tog is daar verwysings na sy kruis en opstanding in Romeinse en Joodse geskrifte van daardie tyd.

1. Verwysings deur nie-Jode na Jesus uit die eerste en tweede eeu

 

* Tacitus skryf in sy Annale van ongeveer 115 nC oor Jesus. Hy vertel die verhaal van Rome wat in Nero se tyd afgebrand het. Hy skryf:

 

Om gerugte die nek in te slaan, het Nero sekere mense as die sondebokke uitgemaak en hulle op ekstreme maniere gestraf. Hierdie mense is in die volksmond ‘Christene’ genoem. Hulle skandelike optrede was berug. Die man waaraan daardie naam toegeskryf kan word, Christus, is onder bevel van n’ prokurator, Pontius Pilatus tereggestel toe Tiberius keiser  was. Maar die dodelike kultus (bygeloof), wat vir ʼn kort rukkie in toom gehou is, het nou oral begin kop uitsteek, nie alleen in Judea – die geboorteplek van die kwaad – nie, maar ook dwarsdeur Rome, waar al die slegte en veragtelike idees van reg oor die wêreld invloei en gewillige volgelinge vind. (Annale 15.44.2-8).

Die opmerking wys dat daar reeds in middel sestigs van die eerste eeu ʼn groot groep Christene in Rome was wat selfs die aandag van die keiser se mense op hulle getrek het. Na Jesus se dood het die Christene dus vinnig versprei.

 

* Suetonius (120nC) vertel ook van Nero. Hy het niks van Nero gehou nie en in die lys van dinge wat Nero verkeerd gedoen het, noem hy: ‘Christene is gestraf, ʼn groep mense wat aan ʼn nuwe en woeste kultus behoort’ en verder skryf hy: Claudius het die Jode uit Rome uitgejaag, want hulle het heeltyd in opstand gekom onder die aanmoediging en leiding van ʼn sekere Chrestus (Lewe van Claudius 25.4). Dit onderstreep die vroeë bestaan van die Christene as beweging, selfs in die hoofstad Rome.

* Plinius die Jongere (ongeveer 110nC) moes die Christene in sy area verhoor omdat hulle nie bereid was om die keiser te ‘aanbid’ nie. Hy het van hulle verwag om Christus te vloek en op die wyse hulle lojaliteit teenoor die keiser te wys. Hy het gevoel dat hy raad by die keiser moes kry oor hoe om die probleem op te los. Uit sy pen lees ons die volgende:

 

Hulle het die gewoonte om voor sonop op ʼn spesifieke dag te ontmoet waartydens hulle ʼn lied voordra vir Christus asof hy ʼn god is en ʼn eed neem om nie iets krimineel verkeerd te doen nie, maar om nie te steel of egbreuk te pleeg of mense se vertroue te skaad of om deposito’s terug te betaal nie. Nadat hulle dit gedoen het, is hulle uitmekaar. Later het hulle dan weer bymekaar gekom om saam te eet (dit was gewone en skadelose kos). Plinius konkludeer: dit is ʼn perverse religieuse kultus wat tot ekstreme gevoer word.

* Lucius van Samosata (120-180 nC) skryf ook ʼn satire oor ʼn groep Griekse filosowe en noem Jesus terloops. Hy sê dat Jesus gekruisig is en dat die mense hom nog aanbid omdat Hy ʼn nuwe kultus in die wêreld kom vestig het. Hy het die Christene oortuig dat hulle mekaar se broers is – hulle aanbid die gekruisigde wysheidsleraar en volg sy wette.

 

Die Christelike beweging het dus nie sommer maar net in stilte ontstaan nie. Die dood van Jesus, sy onderrig en selfs sy wonders was deel van die verhale was wat onder die nie-Christene in omloop was.

 

Lees volgende keer verder….

Outeur: Prof Jan van der Watt