Babel se mag en gode teenoor die God van Israel (46:1-13) – Francois Malan

Hoofstuk 46 wys die afgode van Babel af en hoofstuk 47 die politieke mag van Babel – die oordeel oor Babel se politiek is gebou op die afwysing van Babel se teologie, want die doel en funksie van die gode is om die politieke beheer te wettig en te waarborg.

Die passiewe, onbeweeglike, stom afgode word in hoofstuk 46 weer gestel teenoor die persoonlike aktiewe teenwoordige Here. Die hoofstuk is ‘n oproep tot Israel om die hopelose staatsafgode te los en tot die Here terug te keer.

46:1-2 Die profeet sien in sy geestesoog dat Babel reeds ingeneem is deur Kores se Perse, soos 43:14 aangekondig het, en die magteloosheid van Babel se gode om te red. Bel (Mardoek) en Nebo, die twee hoofgode van Babel ‘het op hulle knieë geval en hullle neergebuig’ – met Kores se aankoms het hulle magteloos op die grond geval. Die profeet noem hulle ironies ‘julle beelde wat julle rondgedra het’ – in hulle feestelike optogte het hulle die beelde uit die tempels gaan haal en op hulle skouers deur die strate gedra om die volk te verenig in hulle verering van die afgode.  Maar nou word die magtelose beelde agter die geboeide Babiloniërs in Kores se triomftog op moeë diere vasgemaak as deel van sy roem oor hierdie gode en hulle aanhangers. Die afgode kan nie red nie, nie eers hulleself nie. So word hulle deur die hemelse hof afgeskryf as heeltemal onbevoeg.

46:3-4 Die Here roep die oorblyfsel van Israel op om die kontras raak te sien. In plaas daarvan dat hulle hulle gode dra, het die Here hulle gedra van voor hulle geboorte, nog in die moederskoot (toe hulle net ‘n belofte was in die Here se verbond met Abraham). Nou is Israel oud en tot in hulle grysheid sal die Here hulle vir wie Hy gemaak het aanhou dra en red. Die persoonlike verhouding van die Here met Israel word beklemtoon met vier persoonlike voornaamwoorde: Dit is Ek wat dieselfde bly tot in jou ouderdom, tot in jou grysheid sal Ek jou dra, Ek het (jou) gemaak,  Ek sal jou dra en jou verlos. Die Here is die enigste akteur in Israel se lewe op wie hulle mag reken vir die toekoms. Dit is die versekering aan elkeen wat in geloof aan Jesus verbind is (Rom 8:38,39).

46:5-7  Terwyl die Here onvergelykbaar enig is in wat Hy is en wat Hy doen, kan niemand en geen god met hom vergelyk word nie (40:18; wie? 41:2-4,26). Enigeen kan met geld vir hom/haar ‘n god laat maak wat nie kan beweeg of antwoord op ‘n hulproep nie (goudsmit 41:7; yster en houtwerkers 44:12-13) – soos die Babiloniërs nou in trane agterkom, toe hulle deur Kores oorgeneem  en saam met hulle afgode verneder word. In vergelyking met die lang geskiedenis van die Here se sorg en reddingskrag, van voor geboorte tot in die grysheid, word die afgode afgeskryf as niks werd nie, hulle staan waar jy hulle staangemaak het.

46:8 Die Here rig Hom spesifiek tot die Israeliete wat van Hom afvallig geword het en verlei is om aan die afgodediens mee te doen (‘julle oortreders’). ‘Dink hieraan’ – aan die dwaasheid van die afgode wat nie kan red nie. ‘en luister’ – die betekenis van die woord ‘luister’ is onseker; die Hebreeuse woord word slegs hier gebruik en kan iets soos ‘wees ‘n man,’ ‘vat jouself vas’  beteken.  Moenie langer weifel tussen die Here en die afgode nie.

46:9-10 Dink terug aan wat die Here van ouds af gedoen het, en jy sal weet dat die Here alleen God is. Hy het toekomstige dinge lank voor die tyd verkondig want Hy het dinge, wat nog nooit van gehoor is nie, beplan en uitgevoer. Sy beplanning staan vas en Hy sal sy wil deurvoer.

46:11 Die Here roep die man uit die ver land, ‘n roofvoël uit die ooste (41:2) sy dienaar Kores (45:12) wat met die krag en die spoed van ‘n roofvoël die Here se besluit kom uitvoer en Babel wegvoer soos ‘n roofvoël met sy prooi wegvlieg. Kores word genoem ‘die man van my raadsplan/strategie’ wat vir die taak aangewys is.  En die Here se besluit staan vas, dit word met vier werkwoorde uitgedruk: Ek het dit gesê, Ek sal dit laat gebeur, Ek het dit beplan, Ek sal die ook uitvoer. Dit is die Here se langtermyn bedoeling vir Israel se welwese.

46:12-13 Die oproep van die Here aan die hardkoppiges (Letterlik: mense met harde harte): Luister na My (soos in vers 3), Hy kom na mense wat nie met die sy verlossingsplan saamstem nie, geen redding verdien nie, letterlik: wat ver is van geregtigheid af.  Maar die Here se geregtigheid is egter nie ver van Israel af nie. Die Hebreeuse woord vir geregtigheid, tsadek, verwys na wat reg is, maar veral na die regte verhouding met God. ‘Ek het my geregtigheid laat naderkom’  – die Here het sy verhouding met Israel reg gestel deur hulle te vergewe. ‘dit sal nie ver wees nie en my verlossing sal nie talm nie, Ek sal verlossing aan Sion skenk’ – twee maal word na verlossing verwys. Die woord kan na die verlossing van hulle sonde/hardkoppigheid en na hulle vrylating uit ballingskap verwys – 40:1-2 het begin met Israel se verlossing uit die ballingskap, en 43:25 het die vergifnis van hulle opstandigheid en sondes aangekondig. ‘Ek gee aan Israel my heerlikheid’ – Hulle sal nie meer soek na hulle eie eer en roem nie, maar sal beklee wees met die Here se heerlikheid wat vergewe en van sonde reinig, sodat hulle ook mekaar sal vergewe en in vrede woon. Die Here roep hulle tot ‘n nuwe soort lewe, wat Jesus later die koninkryk van God noem (Mk 1:15)

Israel moes besluit oor die oop aanbod van die Here, en slegs ‘n oorblyfsel het dit aangeneem.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Eindes van die aarde, laat julle red! (45:18-25) – Francois Malan

45:18 Die verse word ingelei met ‘n plegtige verklaring: So sê die Here; daarop volg die profeet se verduidelikkings, eers oor die Here as die Skepper van die hemele en Formeerder van die aarde wat Hy gevestig het – met sy skeppingswerk het die Here getoon dat Hy die ware God is. Verder toon die profeet aan dat die Here dit nie vir chaos (tohu leegheid, niks, nietigheid) geskep het nie, maar Hy het dit gevorm as ‘n woonplek/rusplek. Die chaos kan verwys na Gen 1:2, en na die doodsvonnis van die ballingskap, en na die verwarde afgodsmakers (44:9 waar tohu ook gebruik word), en na die afgode wat vir die wanorde verantwoordelik is (41:24 hulle is minder as niks).

Die vers word met ‘n plegtige woord van die Here aan vers 19 gekoppel: Ek is die Here en niemand anders nie.

45:19 Die kontras tussen die Here en die afgode is absoluut.  Aan Israel het God, wie se raadsplan vir die mens se verstand verberg is (45:15), sy woord deur die profete openlik bekend gemaak (44:26), nie in ‘n verborge en donker plek van die aarde, soos die afgodspriesters wat in die geheim met hulle gode sou praat nie – bv. Delfi se priesters se dubbelsinnige uitspraak aan Kroesus, toe Kores teen Kroesus en sy Lidiese mag opgetrek het: as jy die Halus rivier oorsteek sal jy ‘n magtige ryk vernietig. En toe verloor Kroesus, wat deur die jare baie rykdomme vir Delphi gegee het om die Grieke se simpatie te wen, en sy magtige ryk verkrummel voor Kores.

Israel het duidelik geweet wat die Here van hulle verwag. ‘n Plek in die land van die duisternis verwys waarskynlik na die doderyk en die oproep van dooies om by hulle raad te vra. Die Here het egter in die land van die lewendes gepraat. Aan die saad van Jakob het Hy nie gesê: soek My tevergeefs nie. Alle soeke van die Here word ryklik beloon! (Amos 5:4). Die Here praat in geregtigheid (wat deur hulle reddende uitkoms bevestig word) en Hy verklaar wat betroubaar is – teenoor die heidense bedrieglike orakels en dubbelsinnige antwoorde. Die Here maak egter ‘n geordende lewensvatbare en vrugbare lewe moontlik.

45:20-21 Die vlugtelinge wat voor die aanslag van Kores gaan vlug, o.a. die Babiloniërs wat met feestye hulle afgode van hout in prosessies deur die strate gedra het (46:1), word uitgenooi om hulle bewyse voor te lê en vooraf met mekaar daaroor te beraadslaag. Het hulle gode iets oor die oorwinning van Kores vooruit voorspel? Hulle word dwase genoem, mense wat geen insig het nie, omdat hulle bid tot ‘n god wat nie kan red nie en nie vooraf reg kan voorspel nie.

Die profeet sien die magtige uitwerking van Kores se optrede: Kores gaan Israel bevry en die heidene beweeg om Israel se God te erken. Die Here se voorspelling van Kores se opmars en bevryding van Israel  bewys dat Hy die enigste regverdige God is (wat doen wat Hy vooraf sê) en Verlosser vir wie Hom aanroep. Selfs Babilon word uitgenooi om vir sy toekoms te kies. Die Here bied aan: ‘n verborge God (v15), ‘n herskepte woonplek (v18), ‘n God wat red (v21). Wat die Here aan die Joodse ballinge aanbied, word ook aan die heidenwêreld aangebied.

45:22 Die eindes van die aarde word uitgenooi om om te draai na die Here toe, weg van die afgode wat geen gode is nie, om gered te word. Die hele mensdom word uitgenooi. Dit gaan om die beroeringe in die wêreld van destyds, maar sterk veel verder tot aan die einde van die wêreld, want daar is geen ander God nie! en dit sluit in die redding uit sy toorn oor dié wat sy uitnodiging verwerp.

45:23-24 Geregtigheid het uit die Here se mond gekom, ‘n woord wat nie onvervuld sal bly nie: voor My sal elke knie buig –  almal sal Hom as God eer en dien. Daar is slegs een keuse, om deur Hom gered te word, of deur Hom verdelg te word. Aan My sal elke tong trou sweer – die mensheid sal Hom as God eer en dien. Die woord word in Filippense 2:10 as ‘n belofte herhaal, en in Romeine 14:11 as ‘n bevel.

Elke mens sal voor Hom moet rekenskap gee van sy/haar regte of verkeerde lewe volgens die aanwysings van die woord van God. Hulle sal moet erken dat net in die Here is daar geregtigheid en krag – deur sy dade betoon die Here sy geregtigheid, Hy doen wat Hy sê vir dié wat op Hom vertrou. Ook teenoor die kragtelose afgode betoon die Here sy krag om te doen wat Hy sê. Dan sal dié wat teen die Here te kere gaan, beskaamd daarvan afkom.

45:25 Al die saad (nakomelinge) van Israel – waarby almal ingesluit is wat hulle by Israel se God aangesluit het – sal in gemeenskap met die Here geregverdig word (in die regte verhouding tot die Here gestel word) en in Hom roem – teenoor die ander wat beskaamd sal staan. Die reëls vir die Here se huisgesin lei tot ‘n opgeruimde, vrolike, geesdriftige, fees van ‘n lewe van roem in die Here. So vervul die Here sy verbond met Abraham waarby ‘n menigte nasies ingesluit is (Gen 12:3; 17:4-5).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die enigste God word nie voorgeskryf nie (Hoofstuk 45 vers 9 tot 17) – Francois Malan

45:9 -13 Durf julle aan My voorskryf?

Hier word vrae wat Israel sou gestel het deur die Here beantwoord. Hulle verwyt die Here blykbaar oor sy optrede om hulle te red deur die heidense koning Kores. Daarteenoor word die Here se vrymag in die lig gestel.

45:9 Die weë! word uitgespreek oor die nietige mens wat sy Maker verwyt, ‘n potskerf tussen baie potskerwe, wat deur die Here gevorm is soos ‘n pottebakker sy  klei vorm tot ‘n unieke sierlike gebruiksvoorwerp (Gen 2:7) en dan sê dat sy Maker geen (kunstenaars) hande het nie. Teenoor die mens is sy Maker absoluut vrymagtig (Rom 9:22).

45:10-11 Die weë word herhaal met ‘n volgende beeld, van ‘n kind wat sy ouers verwyt dat hy/sy gebore is. So is die Here besig om van Israel ‘n nuwe kind te maak. Israel wil volgens sy eie gedagtes en planne gered word op ‘n eg Joodse manier en bevraagteken die lewensvatbaarheid van die Kores-projek van die Here. Israel reken hulle kan die Here se toekomsplanne  bevraagteken, en weier omdat dit te onkonvensioneel en skokkend en vernederend is.

Die klei kan nie sy Formeerder verwyt nie, die spermsel kan nie sy vader bevraagteken en die fetus kan nie sy moeder ondervra nie, so kan die ballinge nie die Here van die geskiedenis betwyfel nie. Hy bepaal die gang van die geskiedenis (45:7). In sy hand en in sy beplanning kan hulle verlosser ‘n heiden wees!

Die Heilige van Israel is aan hulle toegewy, hulle Maker is hulle eienaar, Israel kan nie sonder die Here bestaan nie en staan geheel en al onder sy regering. Israel is voorwerp, ontvanger, skepsel, en dit is al. Die Here maak nie sy planne in konsultasie met Israel nie, net so min as in gesprek met die afgode (41:28).

145:12-13 Om al Israel se vrae en proteste stil te maak bevestig die Here: Ek het gemaak…Ek het geskep…Ek het oopgespan…Ek het beveel…Ek het opgewek…Ek sal reguit maak.  Die Here se aansprake dat Hy die Skepper is, soos in 44:24-28 wat daar op Kores se roeping uitloop, impliseer ook vir Kores in 45:13 – in die oorspronklike is Kores nie hier genoem nie, maar veronderstel: ‘Ek self het hom opgewek in geregtigheid.’ Die Here sal nie uit Kores as verlosser vir Israel gepraat word nie, net so min as wat Jesus uit sy kruisiging gepraat kon word (Mark 8:31-34). So moet vandag se mense ook nie die Here probeer ompraat uit sy metodes wat vir ons onaanvaarbaar is nie (vgl. Luk 7:23: En geseënd is elkeen wat nie aan My aanstoot neem nie).

Ironies, die heiden Kores gehoorsaam die Here om reg te laat geskied sonder betaling of geskenk en sonder vrae, terwyl die Here se volk Israel teen Hom rebeleer en murmereer. Maar die Here verwyder elke hindernis in Kores se pad om die Here se stad op te bou en die Here se ballinge te bevry. Die Here van die leërskare lei en beheer sy ganse skepping! En Hy bly by sy verbond met Abraham!

 

Die Here alleen, is God (45:14-17)

45:14 Die heidennasies (verteenwoordig deur drie Afrika nasies) sal met hulle skatte na Israel toe kom; Egipte met die opbrengs van sy landerye, Etiopië met hulle handelswinste, die groot mense van Seba (suide van Etiopië) sal, asof gebind, voor Israel kom buig met die gebed/smeking: Slegs tussen julle is God (ons wil by julle opgeneem word; 44:5); en met (die belydenis:) daar is geen ander God nie (vgl. Hand 8:27-39).

So het Laban getuig (Gen 30:27: ek het agtergekom dat die Here my seën om jou ontwil); en die Egiptenaars in die Rietsee (Eks 14:25: die Here veg vir die Israeliete teen Egipte); die Gibeoniete (Jos 9:24 ons het gehoor dat die Here aan julle die hele land gee). So buig die nasies van die wêreld vandag voor die Lam van God wat op Golgota die sonde van die wêreld weggeneem het (vgl. Joh 12:32-33).

45:15 Die profeet roep uit dat die God van Israel Homself verberg hou, deurdat Hy en sy plan en sy werk verberg is in die sluier van ‘n misterie wat nie deur die menslike verstand deurvors kan word nie (vgl. 40:28 sy insig is ondeurgrondelik; 55:9; Spr 25:2; Rom 11:33; Ef 3:19). Maar in dit alles is Hy vir sy volk hulle Heiland, die Redder uit alle nood, en Hy word geken deur sy onverwagte reddingswerk vir sy volk, deur ‘n hele wêreld te verander. Luther het die verborgenheid van  God gesien in sy vrymag, dat sy almag verborge is in die swakheid en kwesbaarheid van die kruis. Dit word nader uitgewerk in 16-17:

45:16-17 In teenstelling met die afgode wat niks kan help nie, hulle makers beskaam en verneder, word Israel deur die Here verlos en dit wel met ‘n ewige verlossing, en sal hulle nie beskaamd word tot in eindelose ewighede nie (1983-vertaling: blywende en nooit). Teenoor die verborge vrymagtige God wat verlos, is die afgode beskikbaar, sigbaar, tasbaar, plooibaar, maar magteloos om te help. Die profeet sien die terugkeer uit die ballingskap as die begin van die nuwe groot heilstyd van die Here wat geen einde het nie.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die roeping van Kores (Hoofstuk 45 vers 1 tot 8) – Francois Malan

45:1 Kores word geroep vir die wêreld-politiese werk wat die Here beplan vir sy volk Israel. Hy word met ‘n goddelike dekreet gesalf tot die Here se Gesalfde (Messias/Christus) ,gesalf as koning, soos vir Dawid in Ps 2 wat oor Israel se buurnasies moes optree om die gebied wat die Here aan hulle toegeken het, te onderwerp, Hier moet Kores in die hele bekende wêreld van destyds optree as die Here se Gesalfde (vgl. 44:28 hy is my herder-koning). Hierdie heidense heerser is die Here se ‘Christus’ om Israel te red uit die Babiloniese ballingkap deur die politieke en militêre take uit te voer wat nodig is om Jerusalem te herbou. Die Here hou sy regterhand vas (NAV wat Hy as Heerser aangestel het; vgl. 42:6 :Ek het jou hand gevat)  om hom te lei en te help met al sy take; ‘om nasies voor hom te onderwerp.  Selfs die lendene van konings sal Ek ontgord, om voor hom (stads) deure oop te maak  en die hekke sal nie gesluit wees nie (In Jer 25:9 noem die Here koning Nebukadneser ook sy dienaar om Israel met wegvoering te straf vir hulle sonde).

Kores se loopbaan word gekenmerk deur baie gunstige omstandighede wat die Here voor hom uit geskep het, buiten sy militêre mag. Hy het die Persiese stamme met groot gemak om hom verenig; Babel het saam met hom die Mediërs onderwerp. Twee Mediese leërs is teen hom gestuur, wat altwee na hom toe oorgeloop het. Sy genadige optrede teenoor sy onderworpe volke het in sy guns getel. Sonder teenstand het Armenië aan hom oorgegee, die Lidiërs in Klein-Asië se perde het op die vlug geslaan toe hulle sy Persiese kamele geruik het, en die stad Babilon het sonder teenstand aan hom oorgegee (nadat hy die stad deur hulle droë water-kanaal ingekom het deur die kanaal by die Eufaat af te sluit, die nag toe die Here teen die muur van Belsasar se fees geskryf het, Dan 5:28 Mené, Mené, Tekél, Upharsin – ‘geweeg, geweeg, te lig, die Perse’ gaan jou oorneem). So het die Here, voor hom uit, deure en hekke oopgemaak en konings van hulle amp gestroop.

Soos die heidense Kores vir Israel onaanvaarbaar was as hulle redder, was Jesus van veragde Nasaret  vir die Jode onaanvaarbaar as hulle Verlosser aan ‘n kruis, sodat  die krag van God se liefde, deur die swakheid van Goeie Vrydag, die sonde van die wêreld weggeneem het. So is die kerk deur die eeue bespot oor hulle geloof dat Jesus die Woord van God is wat mens geword het, en kan die Here vandag nog selfs buite die kerk om swakkes, onaanvaarbares en ongelowiges gebruik om sy wil en werk deur te voer. In hierdie vers is dit duidelik dat God se toekoms vir Israel nie uitgewerk word soos hulle dit verwag of verkies het nie.

45:2 Die Here sê vir Kores: Ek self sal voor jou uitgaan en hoogtes gelykmaak – alle hindernisse verwyder (soos vir terugkerende Israel in 40:4). Koperdeure en ystergrendels stukkend slaan – Herodotus het destyds geskryf Babel het 100 koper deure.

45:3-6 Die skatte in die skatkamers van Babel (Jer 50:37; 51:13) en die rykdom van Sardis, hoofstad  van Kroesus, die rykste man van die oudheid (spreekwoord: so ryk soos Kroesus), word aan Kores gegee sodat hy kan weet dat die Here hom by name geroep het en toegerus/versterk het vir die taak (letterlik: Ek gord jou – teenoor ontgord van die konings in 45:1), hoewel hy nie die Here ken nie. Dié mense wat die wil van die Here uitvoer al ken hulle Hom nie, doen dit vir heel ander redes, selfs negatiewe redes, maar word so deur die Here gebruik in sy diens. Die Here se doel met Kores se politiek en oorwinnings is ter wille van my dienaar Jakob, van Israel wat Ek uitverkies het, en dat elkeen van die Ooste tot die Weste kan weet dat daar geen god buiten die Here is nie – wat dit alles voorspel het, en uitgevoer het. Die Here se doel strek verder as Israel en die kerk. Dit gaan oor sy hele wêreld. Hy bepaal die toekoms van die ganse wêreld en elke samelewing. Maar die hele wêreld is ook voortaan die gebied waarin Israel as dienaar van die Here met hulle lewe en woorde moet getuig dat Hy die enigste ware God is.

45:7 As die enigste God is die Here die enigste wat lig vorm en duisternis skep, wat vrede/heil/voorspoed (sjaloom) maak  en onheil/rampspoed (r‘a die slegte) skep. So is die Here verantwoordelik vir die skepping se lig en duisternis, vir die ballingskap en die bevryding van Israel. Die slotsom van verse 1-7 is: Ek, die Here, doen al hierdie dinge (44:24). Teenoor die Perse wat ‘n goeie en ‘n bose god teenoormekaar gestel het, is die Here in beheer van alles op aarde en gebruik Hy voorspoed en teenspoed om sy dienaars te vorm tot sy eer; selfs Jesus, as ons voorbeeld, het geleer wat gehoorsaamheid is deur wat Hy gely het (Hebr 5:8; vgl. sy gebede in Getsemane). So moes Israel in ballingskap leer hoe om dienaar te wees (vgl. dat die sterk Jakob na sy worsteling met God by Pniël mank stap, Gen 32:31; Josef was in die put en ‘n gevangene in Farao se tronk, om ‘n wyse onder-koning te word, Gen 50:20; en kinders van God het die vooreg om deel te hê aan  Christus se lyding en daarom ook aan sy heerlikheid, Rom 8:17).

45:8 Die profesie eindig met ‘n lied wat Israel se verlossing en hulle erkenning van die Here geesdrigtig besing. Die Here beveel: ‘Hemele en wolke, laat strome geregtigheid uit die hoogte drup! Laat die aarde oopmaak en saam verlossing voortbring en geregtigheid laat uitspruit, Ek, die HERE het hom geskape.’

Die Here gaan die geregtigheid, om sy volk van hulle vyande te verlos, soos reën op die aarde uitstort. Met die ‘reën’ van geregtigheid sal die Here heil/vrede saam met geregtigheid op die aarde laat ontwikkel. Met Israel se verlossing deur Kores gaan geregtigheid onder mense ook vrede onder hulle bring. Wanneer die Here sy verhouding met die mense regmaak sal hulle ook in geregtigheid en vrede met mekaar saam lewe. Die Here gaan nie Israel verlos deur hulle eie Joodse soldate nie! maar deur ‘n nuwe skepping, deur ‘n vrye gawe van die Here, wat die hele skepping raak. So word die skepping en die gelowiges opgeroep om die Here te loof in verwondering oor sy wonderlike plan met die wêreld en dankbaarheid vir sy ruime genade oor die mensdom.

Skrywer:  Prof Francois Malan