Jesaja – Israel se skuld, straf en verwerping (1:4-15) – Francois Malan

Die deel brei uit op Israel se rebellie teen die Here (Jahweh, die aktiewe teenwoordige ‘Ek is’ wat met hulle ‘n verbond gemaak het). Die uitgebreide gedig is ‘n toespraak in ‘n hofsaak. Die Here kla Israel aan (1:4) met ‘n klaagsang oor Israel se ware en treurige situasie (1:5-9); Hy weier om na Israel om te sien wanneer hulle in ‘n noodsituasie beland (1:10-15).

1:4 Die aanklag gebruik ‘n reeks van sewe woorde vir sonde: (i) sondig (chata’ oortreding, doel mis), (ii) met skuld belaai (‘ewoon verdraai) – die twee woorde wat Israel se mislukking beskryf, saam met ‘rebellie’ in v2 (pesja‘ opstand) is dit die drie hoofterme vir sonde in die Ou Testament – (iii) verkeerd optree (ra‘a‘ sleg/boos, waardeloos) en (iv) afbreek (sjachat verdorwe, vernietig) plaas hulle saam met misdadigers, (v) verlaat (‘azab verlaat, skei) wat 23x in Jesaja voorkom, en (vi) verag (na’ats versmaai, minag) van die Here, wys na die verbreking en ignorering van hulle verbond met die Here, soos die woord aandui (vii) rug draai op Hom (nazar onttrek aan) wat alles opsom. Die gedig beklemtoon dat Israel ten volle, op elke moontlike manier, teen die Here gedraai het, teen die verhouding wat vir hulle die lewe inhou. Alle verhoudings met die Here aan wie hulle intiem verbonde was, is verbreek. Israel is nou stokalleen deur sy eiewilligheid en hardkoppigheid.

Die Here (die aktiewe teenwoordige ‘Ek is’) word genoem ‘die Heilige van Israel’ (dié naam kom 25 maal in Jesaja voor). Dit is ‘n paradoks wat sê dat die Here intiem met Israel verbind is, volstrek aan hulle toegewy, en ook dat die Here ontsagwekkend is en dat nie van sy liefde misbruik gemaak mag word nie. Die uitdrukking getuig van die Here se vryheid om Israel as sy gunsteling onder die volke uit te kies, en die rampspoedige toekoms wat Israel vir homself skep met sy optrede wat van die Here ‘n bespotting maak. Vers 1 het Juda en Jerusalem aangewys as dié mense oor wie die visioen handel. Hier word hulle Israel genoem, die erenaam wat die Here aan Jakob gegee het (Gen 32:28; Jes 44:1-2). Na die 10-stamme weggevoer is na Asisirië, het Hiskia dié Israeliete wat agtergebly het, deel van die paasfees in Jerusalem gemaak (2 Kron 30:1-31:1).

Die vers begin met ‘n rouklag (hoi helaas, o, wee!). Daarmee berei die skrywer ons voor om te kyk hoe hierdie geliefde skepping van die Here besig is om homself te vernietig.

1:5-8 ontvou die gevolge van Israel se optrede in vers 4. Diep oop wonde en siekte en sere van kop tot tone, word as metafore gebruik om die volk se toestand te beskryf, wat in vers 7 verduidelik word. Die tien stamme is reeds as slawe in ballingskap, en Juda wat agtergebly het, word bedreig deur die inval van die Assiriërs wat brand stig, en plunder en moor – daar is nie meer een heel plek nie! Gevolglik is die ‘dogter van Zion,’ naamlik Jerusalem, verlate en het alleen van al die stede oorgebly – soos ‘n enkele tydelike takskuiling in die wingerd en soos ‘n wagtershut in ‘n groot komkommertuin, met die res van die land in die hande van die wrede soldate van Assirië wat net brandende dorpe en verwoeste velde agterlaat (vgl. Jes 10:28-34). Met klem word die woord verwoes en ontvolk in vers 7 tweemaal gebruik van die stede en van die hele land van Israel; en tweemaal die woord ‘vreemdes’ wat Israel se land en stede voor hulle oë verteer. Jerusalem is soos ‘n belëerde stad, met ‘n sterk klipmuur omring, maar eintlik omring deur die verbrande stede en velde in die land, wat sy eie verbranding voorspel (vgl. 2 Kon 18:13-16; Sanherib se geskrif spog dat hy 46 versterkte stede van Juda verwoes het; talle klein dorpies oorrompel het en 200,150 mense weggevoer het). Die lëers van Assirië is slim geïdentifiseer as die verwoesters, as ‘n gevolg van Israel se opstand teen die Here. So word Assirië ook simbool van alle verwoesters van God se skepping, ook van die Galdeërs wat vir Juda en Jerusalem later in ballingskap na Babel wegvoer.

1:9 Jerusalem word vergelyk met Sodom en Gomora wat totaal uitgewis is deur die Here (Gen 19:23-25). Maar die Here, die Almagtige (van die leërskare van die hemel en van die Assiriese leërs) het vir ons, van Jerusalem en Juda, ‘n oorlewende uit die stryd laat oorbly (in hoofstukke 36-37 word die hele verhaal van die redding van Jerusalem vertel, vgl. 37:36). Dit is die begin van die Here se belofte in Jesaja se visioen van ‘n oorblyfsel of res wat sal oorbly (sje’ar, 4:3, 7:3 Sje’ar-jasjub ‘die oorblyfsel keer terug’).

1:10-15 Die digter gaan ‘n stappie verder as in 1:9 waar Jerusalem teenoor Sodom en Gomorra gestel is. Die leiers in Jerusalem word nou self geïdentifiseer as Sodomsleiers en die volk van Juda word Gomorrasvolk genoem. Die geliefde heilige stad word genoem na die afskuwelikste naam denkbaar (vgl. Amos 4:11, reeds 10 jaar voor Jesaja; en Jeremia 23:14; 16:46-49, 70 jaar na Jesaja). Die volk en leiers wat in die oë van die Here verfoeilik lewe, word opgeroep om vir nog een keer na die Here se siening van hulle en sy woord te luister en hulleself daaraan te toets.

Die tempel staan in die middel van Jerusalem en is die plek waar die offers gebring word om die volk se verhouding met die Here reg te maak. Israel se hele godsdienstige praktyk word deur die Here veroordeel:

Hulle menigte offers – brandoffers van ramme, vet van voerbeeste, bloed van lammers en bokke

Hy is sat daarvan en het geen begeerte daarna nie (vgl. Ps 50:8-13).

Hulle kom om die aangesig van die Here in die tempel te sien – so baie keer dat hulle sy voorhof vertrap

Wie het dit van hulle gevra – nie die Here nie!

Moenie voortgaan om julle bose nuttelose offers te bring nie (met verkeerde motiewe)

Dit is vir My afskuwelike wierook

Nuwemaansfeeste (Num 28:11-15; 1 Sam 20:5) en Sabbatte, en die uitroep van samekomste –

Ek verdra nie onreg saam met feesdae nie

Ek haat julle nuwemaanfeeste en Sabbatte – hulle is vir my ‘n las, Ek is moeg daarvoor

En wanneer julle julle hande uitstrek (in gebed) – sal Ek wegkyk van julle af

Selfs al bid julle ook hoe baie – Ek sal nie luister nie

Julle hande is vol bloed

Die Here noem die offers by die naam en verwerp hulle deur hulle te noem. So ook die feeste en die Sabbat omdat dit nie meer draers van ware gemeenskap met God is nie. Die Here verwerp al Israel se gebruike en gebare om Hom te dien op die Sabbatte en met die feeste, want dit is nie meer die uitinge van ‘n ernstige verhouding met Hom nie. Hy verfoei onopregte nuttelose offers – feesviering saam met onreg (v13) . Die Here haat skynheilige vertoon. Die Here luister nie meer na hulle baie gebede nie, want hulle hande is met bloed bevlek deur hulle aandadigheid aan moord. Die Here verbied daarmee die kernmomente van die Jode se godsdiens: hulle offers, eredienste, feesdae, gebede, Hulle het hulle verbondsverhouding met die Here verbreek deur hulle onopregte diens aan Hom, met hulle onreg teenoor mense en met moord.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Jesaja – Die Visioen van Jesaja (1:1-3) – Francois Malan

Tyd en plek van die visioen (1:1)

1:1 Die visioen (chazoon) beskryf die inhoud van die hele boek tot by hoofstuk 66. Die inhoud van die boek getuig van die teenwoordigheid en doel van die Here (Jahweh die persoonlik aktiewe teenwoordige Ek is, Gen 3:14 ). Die boek bied ‘n unieke siening van die geskiedenis met die Here se heiligheid (sy toewyding in liefde) in die sentrum van die geskiedenis, wat verskil van die konvensionele geskiedenis of politieke moontlikhede.

Jesaja word nie genoem as die skrywer van die boek nie, maar sy visioen is die onderwerp van die boek, en impliseer dat die visioen ook sy idees oor die Here oordra (vgl 2:1; 7:1-6; 13:1 en in hoofstukke 6,8, 20,37,38,39 waar Jesaja genoem word). Jesaja geld egter as outeur van hoofstukke 1-39 of dele daarvan, wat in sy en die vier konings se tyd afspeel, toe Assirië die wêreldmag was. In 612 v.C. kom Assirië tot ‘n val en neem Babel oor, wat in 539 v.C. deur die Perse onder Kores ingeneem word. Vanaf Jesaja 40 handel die visoen oor hoe die Here die Perse gebruik om Israel te laat teruggaan na die beloofde land en Jerusalem in 538 v.C., bykans 150 jaar ná Jesaja.

Jesaja sien die Here in die jaar van Ussia se dood (6:1), die sterk koning van Juda wat lank regeer het (766-740; in 2 Kon 15:1-7 word hy Asarja genoem. In sy laaste regeringsjare was hy melaats weens sy arrogansie toe hy eenmaal die mag gekry het, volgens 2 Kron 26:16-21). Sy seun Jotam, wat vir 7 jaar regeer en gedoen het wat reg is in die oë van die Here (2 Kon 15:34), volg hom op (739-734 v.C., toe Miga begin profeer het, Miga 1:1). Jotam se seun Agas is ‘n swak koning van Juda in die oë van die Here, wisselvallig en onbetroubaar (734-715 v.C.; 2 Kon 16:1-5). Gedurende Agas se tyd word Israel se 10 stamme onder koning Hosea van Israel in ballingskap weggevoer na Assirië (722 v.C; 2 Kon 17:6). Agas se seun Hiskia is koning van Juda van 714-686 v.C. In skerp kontras met sy vader is hy ‘n sterk, onafhanklike en betroubare koning wat die vervalle tempeldiens weer oprig (2 Kon 18-20:21). Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here (2 Kon 18:4-8). Jesaja 36-39 handel oor Hiskia se regering, en sluit die tyd af waarin Jesaja gelewe het.

Agas en Hiskia word simbole van die lewe van Israel: Agas is ‘n simbool van Jerusalem se weiering om die Here te vertrou, waardeur Israel misluk en eventueel deur die Here in ballingskap gestuur word om te leer om Hom lief te hê; Hiskia is simbool van die vertroue wat Israel kan hê op die Here, wat lei tot ‘n gemeenskaplike bestaan vir Juda en die oorblyfsels van Israel, tot in die ballingskap en daarna (vgl. 2 Kron 29:1-5; 30:1; 10-13; 31:1).

Die eerste vier hoofstukke van Jesaja berei die leser voor vir ‘n buitengewone siening op die gebeure in die gekiedenis van Jerusalem se godgegewe en godbestuurde bestemming. Vers 1 nooi die leser om deur Jesaja, die ontvanger van die visioen, te kyk na die Outeur van hierdie gesig en die eintlike Bepaler van Jersalem se bestemming, naamlik die Here!

 

‘n Negatiewe oordeel (1:2-3)

1:2-3 Die hemel en die aarde, so wyd as moontlik, God se hele skepping, word opgeroep as getuies van die ongelooflike dwaasheid van God se kinders. Israel word aangekla. Hulle word beskryf as my kinders, wat Hy van kleins af gevoed het en grootgemaak het as Israel vir wie God die nuwe naam gegee het (Gen 32:28; 35:10), as my volk oor wie Hy as koning regeer. Maar hulle het teen My in opstand gekom, gerebelleer, onwillig om die besondere verhouding te erken van kinders wat afhanklik en verbonde is aan hulle Vader, en van ‘n volk aan hulle Koning. Dat hulle hulle rug op hulle Oorsprong en liefdevolle Leier gedraai het, word nou luid bekendgemaak vir almal om te hoor. Israel het opsetlik hulle verhouding verbreek met die God wat met hulle sy genadeverbond gesluit het, dié verhouding wat hulle karakter bepaal as God se volk, as die Here se kinders.

‘n Os en ‘n donkie openbaar ‘n beter oordeel as Israel en weet wat hulle eienaar vir hulle beteken, dat hulle heeltemal van die betroubaarheid van hulle eienaar afhanklik is. Maar anders as die werksdiere wat instinktief weet dat hulle afhanklik is van hulle vertroue op hulle eienaar om te oorleef, weier Israel hierdie basiese vertroue op hulle Eienaar. Die Here kla hulle aan: mý volk ken My nie en gee geen ernstige aandag (aan wat Ek vir hulle doen nie). Hulle steur hulle nie aan die verhouding wat hulle hele lewe bepaal nie, en sal daarom sterwe. Wat ‘n manier om ‘n Bybelboek mee te begin!

Skrywer: Prof Francois Malan




Jesaja – Inleiding – Francois Malan

Jesaja (Jahweh het gered, of: Jahweh is my bevryding) het in die 8e eeu v.C. (740 v.C.) begin opgetree as profeet in Jerusalem. Ons weet min oor sy familie: dat hy die seun is van Amos (nie die profeet Amos nie, wie se naam in Hebreeus anders gespel word as Jesaja se pa); volgens 8:3 was hy getroud, en het ten minste twee seuns gehad (8:18): Maheer-sjalel-gasj-baz (8:3 Plunder-en-roof-is-naby) en Sje’ar-jasjub (7:3 die oorblysel-keer-terug). Jesaja het as profeet vir ongveer 40 jaar lank God se wil aan Juda en Jerusalem bekend gemaak. Dit het saamgeval met die Assiriese oorheersing van 740 v.C tot by die redding van Jerusalem uit Assirië se mag in 701 v.C.

Die visioen van Jesaja in die 8e eeu, verteenwoordig ‘n dramatiese beskrywing van Gód se siening oor die geskiedenis. Deur die jare het Jesaja se opvolgers daaraan gewerk om dieselfde siening van God toe te pas in opeenvolgende tye – van die spanning tussen God se strategie en Israel/Jerusalem se planne vir hulleself, van God se klag dat sy volk en sy stad blind, doof, onontvanklik, onwillig en ongehoorsaam is aan Hom. Die Here het nie sy volk of sy stad verwerp deur die ballingskap nie. Amos (762 v.C.) en Hosea (sedert 755) het 20 jaar tevore reeds dieselfde boodskap verkondig, dat die Here Israel met die ballingskap gaan leer om Hom weer lief te hê as sy bruid, wat Hy met sy liefde aan Hom sal bind (Amos 9:11; Hos 2:12-19). Die Here het ‘n nuwe era in die geskiedenis gebring waar die klein stadstaatjies vervang is deur groot wêreldmagte, wat die Here aanstel om Israel te straf omdat hulle die Here verlaat. In God se nuwe bedeling vir die wêreld het Israel en Jerusalem ‘n nuwe rol te speel. As kinders van God is hulle sy dienaars en dienaresse in sy nuwe wêreldbestel. Dit is anders as in Dawid se tyd, toe Israel oor ‘n groot gebied gestrek het en God se gesalfde oor ‘n onafhanklike staat regeer het.

Jeaja 40-55 handel oor die tyd van Juda se ballingskap in Babilon, ongeveer ‘n eeu en ‘n half na Jesaja se tyd, net voordat Kores (Sirus) die Pers (539 v.C.) die Babiloniërs verslaan het, en ‘n nuwe beleid gehad het, om die ballinge te laat teruggaan na hulle eie lande om hulle eie gode te aanbid (in 538 v.C.; 2 Kron 36:22; Esra 1:1). Die hoofstukke beklemtoon dat God die Skepper, Regeerder en Verlosser is. In hoofstukke 40-48 word verkondig dat Israel die dienaar van die Here is en dat die Here Kores gaan gebruik as sy dienaar om Israel te bevry. Hoofstukke 49-55 handel oor die herstel van die volk en die stad Jerusalem, met klem op die roeping en optrede van die Here se dienaar – enersyds Israel en tog ook iemand anders. Tydens Darius I die Mediër (530-486 v.C.) se bewind is die tempel in Jerusalem herbou. Dit is die tyd van die profete Haggai en Sagaria.

Jesaja 56-66 is ‘n sterk oproep tot bekering met die aankondiging van God se oordeel oor sonde, afval en uiterlike godsdiens, en van God se verlossende genade wat vir alle nasies bedoel is. Die Here sal ‘n nuwe bedeling met ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde tot stand bring. Die Pers Ahasveros (Xerxes) van Esra 4:6 en van Ester regeer van 486-464 v.C. Onder Artasasta (Artaxerxes; 464-432v.C. ) neem Esra ‘n tweede groep Jode terug na Jerusalem (458 v.C.), en Nehemia besoek Jerusalem twee maal (445-433 v.C. en 430-428 v.C.). In 430 v.C. tree Maleagi op as profeet.

In sy huidige samestelling is die boek waarskynlik gefinsaliseer nadat Esra die tweede groep Jode teruggebrng het uit Babel (458 v.C.) en Nehemia die mure van Jerusalem weer opgebou het (444-432 v.C.). Die boek is in die eerste plek geskryf vir die mense van die finale skrywer se tyd, aan die herenigde Israel en Jerusalem na die ballingskap. Maar die profeet Jesaja het gelewe in die tyd toe Israel, die tienstammeryk, in ballingskap na Assirië gedryf is (722 v.C.).Toe het Jesaja vir Juda gewaarsku dat dieselfde lot vir hulle wag omdat hulle die Here verlaat.

Die finale skrywer van die boek Jesaja volg die reaksie van drie eeue se konings op die boodskap van die profeet Jesaja se visioen in die 8e eeu v.C. tot in sy eie tyd, die 5e eeu v.C.. Die konings van die herenigde Israel word geroep tot aanvaarding van hulle oorheersing deur die wêreldryke vanaf die Assiriese en Babiloniese tot die Persiese ryke. Aktiewe pogings om die ou onafhanklike koningryk van Dawid te herstel sal op gesag van die Here onderdruk word. Israel en Juda, wat weer een volk geword het tydens en na die Babiloniese ballingskap, se positiewe rol was om in te pas by Jesaja se visioen (2:1-4), van Jerusalem as ‘n sentrum vir alle nasies om as pelgrims die Here te kom dien. Die herenigde Israel in die verstrooiing en in Jerusalem is geroep om in diensknegsgestalte mense wat die Here soek, te leer hoe om dienaars van die Here te wees. Maar deur die eeue het die konings die Here se doel met hulle verwerp en die skrywer verwag nie iets beters in sy tyd nie (hoofstuk 65).

Die sentrale figuur in die boek Jesaja is die Here wat oor alle nasies en volke regeer, en die goeie tyding in Israel en Jerusalem laat uitroep: Julle God is hier! Soos ‘n herder sorg Hy vir sy kudde (40:9-11; 41:27; 51:3; 52:7; 61:1-2). Dit is die goeie nuus (evangelie) wat in geloof aanvaar moet word in elke tyd, met alle die probleme van elke tydperk, ook vir vandag.

Skrywer:  Prof Francois Malan