Ek sal hulle genees (57:14-21) – Francois Malan

Na die aanslag op die oortreders in 57:3-13a verander die toon weer skielik in 57:14-21. Die teenstelling tussen oordeel en versekering is tipies van Jesaja wat telkens God se oordeel baie ernstig opneem, maar herhaaldelik hoop ná die oordeel beklemtoon. Die gedeelte sluit in vers 21 met ‘n herhaling van 48:22 (vgl. die slotvers van die boek  66:24): vir die goddelose is daar geen vrede nie, sê my God.

57:14 Die vers herhaal die metafoor van die hoofpad wat as ‘n beeld vir die terugkoms na Jerusalem gebruik is (35:8; 40:3; 49:11). Omdat Israel reeds in Kanaän terug is en die tempel reeds opgebou is, verwys die metafoor waarskynlik na die pad vir die torah, dat gesorg moet word dat daar geen obstruksies sal wees wat volle gehoorsaamheid aan die woord van die Here sal verhinder nie. Die beeld praat van die blye opbou van die samelewing volgens die voorskrif van die Here.

57:15 Die karakter en identiteit van Jahweh word hier op ‘n besondere genuanseerde wyse bevestig: Die teenoorstelling van hoog en heilig teenoor nederig en verdruk is die kern van die Here se selfopenbaring, die misterie van God wat die onderwerp is van die Bybelse geloof. Dit is die beskrywing vir die groot Regeerder van die heelal. Vanuit sy verhewe troonsaal (6:1) reik sy koninklike teenwoordigheid en sy koninklike sorg uit na die laagste en onwaardigste van sy onderdane.  Dit is hierdie optrede van die Here wat die lewenswyse van Israel lei op nuwe weë – my gedagtes is nie julle gedagtes nie…soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede en my gedagtes verhewe bo julle gedagtes en optrede (55:8-9; vgl. sy woorde aan die vertrapte slawe in Egipte in Eks 3:7-8). So het die Seun van God Homself prysgegee deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem, gehoorsaam tot die dood aan die kruis (Filip 2:6-8).

Die doel van God se identifisering met die nederiges en verguisdes is om hulle harte en gees te vernuwe, te laat herleef. Die God wat so deur die teruggekeerdes vereer word as die hoë God, gee lewe aan diegene wie se lewe uit hulle gemergel is. Dit is die paradoks van God. Die ereplek, heerlikheid en mag in die Here se koninkryk en tempel behoort nie aan die trotse ambisieuses en sterkes nie, maar aan die nederiges van gees (Mat 5:3-10).

57:16-19 Hier word uitgebrei op die wonderlike aankondiging in vers 15, met ‘n teologiese verslag van die hele verloop van die Here se optrede teen Israel, binne die denkwyse van Israel se tradisie oor die toorn van God oor  sonde. Die basis vir wat volg is die goeie nuus van die Here se versekering dat Hy nie toornig sal bly op Israel nie (vgl dieselfde versekering in Ps 103:9-10).  Die Here se toorn is beperk deur sy identiteit as barmhartig en genadig, geduldig en vol troue liefde (Ps 103:8; vgl. Eks 33:19, aangehaal in Rom 9:15).

‘want ‘n gees word swak/flou voor My, en die mense (letterlik: die wat asem het) wat Ek gemaak het’ (1983-vertaling: want anders sou dit die einde beteken van die mens aan wie Ek die asem gegee het)

Die Here erken dat Hy kwaad geword het vir Israel wat opgeroep is vir die hofsaak teen hulle omdat hulle sy verbond verlaat het en erge straf verdien het. As sy toorn voortgaan sal dit egter sy werk aan sy skepping negatief beïnvloed. Daarom word sy toorn oor die skepsels wat Hy gemaak het, gestaak.

57:17-19  Die Here se optrede teen Israel word in drie stappe aangebied, volgens die Jesaja-tradisie:

1 Ek was kwaad …..voor die ballingskap (v17)

2 Ek sal genees ……. verlossing van die bannelinge (v18)

3 ‘Vrede, Vrede’…… sy teenwoordigheid by Israel na die ballingskap (v19).

57:17 Die vernietigende toorn van die Here wat Israel in ballingskap gestuur het, was ten volle geregverdig. Die Here wat gehoorsaamheid aan die verbond vereis, moes optree teen mense wat daarop uit was om geweldaddig en vernietigend op te tree vir eie gewin. Daarom het die Here hulle geslaan met die ballingskap en Homself vir hulle verberg. Hulle was hardkoppig, daarom moes die Here hardhandig teen hulle optree; hulle het hulle rug op die Here gedraai en wou nie na Hom luister nie, en daarom het Hy Hom vir hulle verberg en doof gehou vir hulle klagtes.

57:18 Die Here sê: ‘Ek het gesien…’ ‘maar… ’ ‘Ek sal hom genees…’ ‘Ek sal hom lei…’ ‘Ek sal vergoed met vertroostinge aan hom en sy treurendes.’  Die Here as Heler wil genees en krag gee vir ‘n goeie lewe. ‘Lei’ verwys na die uitlei uit Egipte en uit Babilon en die Here se beskerming en sorg oor hulle (soos die wolkkolom en manna van ouds). Troos is die sleutelwoord reeds in 40:1. Die drie beloftewoorde verseker Israel van die Here se teenwoordigheid en sorg, soos in Ps 23 uitgespel word met groen weivelde, beskerming en ‘n gedekte tafel. Israel se afdraande lewensreis ná hulle terugkom uit die ballingskap en hulle herstel word uitgespel, maar bevestig ook dat die Here barmhartig en genadig is, en onreg straf (vgl. Eks 34:6-7).

57:19 Die beweging van toorn (v17) na genesing (v18) lei tot sjalom die heelheid van lewe –  dit is totaal in kontras met die vernederdes en verdruktes van v15, en met die toorn van die Here (v17).  Die Here kom met die versekering:  sjalom, sjalom! Vir dié wat ver en dié wat  naby is, vir Jode wat reeds terug is in Jerusalem en dié wat nog verkeer in die verstrooiing dwarsoor die hele Persiese ryk. Dit is die nuwe gawe van die hoë en heilige God (v15) wat besig is om die laagstes en verdruktes te vernuwe (Die Dooie See manuskrip laat die tweede sjalom uit, maar die Septuaginta plaas dit, soos in die Afrikaanse vertaling, elk aan die begin van ‘n sinsnede).

Die vers begin met ‘skeppende (die een wat skep) die vrug van die lippe (woorde) – dit is die Skepper Here wat  met sy skeppingswoord vrede skep (soos met die skepping). Slegs die Skepper kan woorde praat wat doen wat Hy sê (55:11). Die vers sluit met ‘en Ek sal hom (die naby Jode en die wat ver is) genees’ (soos aan die begin van vers 18) om dié wat treur oor hulle sonde, hebsug en ellende nogmaals te verseker van sy heling, van die mens en die samelewing te midde van die bedreiging van die goddeloses wat tussen hulle woon.

57:20  Die paragraaf sluit af  met ‘n uitsluiting: die belofte van sjalom geld nie vir die goddelose nie. Hulle is soos  die see wat rondgeslinger word sonder stilte – wat nooit tot rus kan kom nie, en slyk en modder opwerk. Die goddelose is soos die eindelose bruisende waters van chaos – meedoënloos wreed, verwar, uitdagend, afbrekend – wat altyd vullis en geweld laat opbruis en oorspoel uit hulle harte. Die sjalom van dié wat van die Here afhanklik is, is ‘n gawe wat juis met  die diepgaande verdeeldheid in die samelewing wil gaan. So het Jesus die onstuimige see beveel: Bedaar, wees stil! (Mark 4:39). Alleen die woord van die Here maak alles veilig vir sy volgelinge.

57:21 In die hart van die goddelose is daar geen plek vir vrede nie (48:22), die sjalom van verse 2,18,19. Daarom tree hulle so woes en onvergenoegd op.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die onregverdiges (57:3-13) – Francois Malan

57:3 Met die vers begin die lang deel (57: 3-13a) oor die onregverdiges, met wie die digter-profeet nie simpatie het nie – ‘Maar julle!’ (julle onregverdiges) teenoor die regverdiges wat in vrede lewe en sterf. Die kwaaddoeners word voor ’n hof tot verantwoording opgeroep. Dit gaan oor die chaotiese toestand as gevolg van hulle wegdraai van die Here en sy pad af. Hulle word beskuldig van afgodery, dislojaliteit teenoor die Here, en onsedelikheid: kinders van ‘n towerheks, die saad van ‘n owerspeler en ‘n prostituut.

57:4 Hulle neerhalende woorde teenoor die getroue volgelinge van die Here in Jerusalem is eintlik gerig teen die Here self. Die antwoord op die twee retoriese vrae oor vir wie hulle spot, en teen wie hulle grootpraat en hulle tong uitsteek, is die antwoord: teen die Here! Daarmee word hulle getipeer as opstandelinge en leuenaars/vals, soos hulle voorouers (van voor die ballingskap). Die term bedrieërs word ook gebruik vir afgodedienaars wat agter die bedrog/ valsheid van afgode aan lewe (vgl. Jer 10:14; Jes 28:15).

57:5 ‘n Lys van heidense gebruike word opgenoem waaraan Israel skynbaar lustig deelneem: Julle wat julleself troos met die gode onder elke groen boom (dit verwys na seksuele orgies in heidense tuin-heiligdomme) – groen bome is gesien as gestaltes van die goddelike natuurkrag van die lewe; julle wat die kinders slag in die valleie onder die splete in die rots’ – soos vir die Fenisiese god Molek/Milkom wat reeds in Ur en later in Babel gedien is en deur Israel se buurvolk, die Ammoniete  (Lev 18:21; 20:2-5; 1 Kon 11:7; 2 Kon 21:6; 23:10; Jer 32:35). Molek was gesien as die god van vuur, ook van die onderwêreld en die dood (vgl. Jes 28:15). Sy diens het gelei tot geweld.

57:6  Op die gladde oppervlakte (klippe) van die wadi (droë loop) is jou deel, hulle is jou lot (wat deur die loting met ‘n klip aangewys word), aan hulle het jy ‘n drankoffer uitgegiet, ‘n graanoffer gebring (in plaas daarvan dat die Here jou deel is). Sal Ek tevrede gestel word  deur dié dinge?  Terwyl party Jerusalemmers aan die tempel bou, bespreek ander Jerusalemmers (die woorde in die sinne is vroulik) hulle plekke in die heidense valleie vir hulle offers, waarskynlik om vrugbaarheid te verseker vir hulle landerye, huisdiere en gesinne. In droefheid vra die Here of Hy Homself met die dinge kan vertroos. Moet Hy hulle oorsien? Moet Hy verwag dat die dinge vanself sal verdwyn?

57:7 Nie net in die valleie en droë lope nie, maar veral op ‘n hoë en verhewe berg het jy (Jerusalem) jou bed gemaak. Jy gaan ook op soontoe om ‘n offer te bring – dit verwys ook na vrugbaarheidsritusse (vgl. verse 8-10). Dié offers is ‘n duidelike verbreking van die verbond met die Here, en word vergelyk met ontrouheid in die huwelik, met ‘n lêplek op ‘n hoë berg, nie op lae Sionsberg nie, nader aan die gode van die heidene wat volgens hulle op die godeberg woon.

57:8 Deutr 6:9 en 11:20 sê die Israeliete moet die wet van die Here op hulle deurkosyne en op hulle hekke aanbring  (die sg. Mezuzah  – die Hebreeuse woord vir deurkosyn). Hulle het egter hulle ‘herinnering’/aandenking (aan die wet van die Here) agter die deure en kosyne geplaas waar hulle nie so maklik gesien kan word en herinner word aan die Here en sy wet nie. So het hulle die Here verlaat, opgeklim (op die berg) en hulle bed oopgemaak, ‘n verbond met sommige van die afgode gemaak, hulle bed liefgehad en jy (vroulik) het gestaar  na ‘n hand, eufemisme vir ‘n manlike  privaatdeel (1983 naaktheid geniet). Vrugbaarheid is deur die Kanaäniete vergoddelik, en daar is geglo vrugbaarheid word bevorder deur met die temelprostitute by kultusplekke gemeenskap te hê. Israel se afvalligheid van die Here en hulle deelname aan die afgodery het ook tot letterlike owerspel en prostitusie aanleiding gegee (Jer 2:23-24). Die Kanaänitiese godsdiens was by die onsedelkheid ook wreed en het ingesluit dat hulle kinders geoffer het aan die god van vuur en geweld en die dood.

57:9 Jy (vroulik) het afgegaan na die koning met olie, en jou parfuums vermeerder. Jerusalem het ook sy gesante gestuur na vér plekke om hulp te soek by heidene en hulle gode, selfs by die magte van die onderwêreld, soos Molek, maar hulle het nie hulp gesoek by die Here, wat by hulle is en ‘n liefdesverbond met hulle gesluit het nie.

57:10 Al het sy moeg geword as gevolg van die moeisame pad van haar soeke na geluk het sy nie ingesien en gesê dit is nutteloos nie – nie tot die besef gekom het dat dit uitputtend is en nie bevredig om agter die afgode en avontuurlike politiek aan te loop nie. Maar haar begeerte na die onwettige is eindeloos en sy het nie opgehou om dit te soek nie. ‘Jy het lewe vir jou hand gevind’ (19833vertaling: jou wellus het jou aanhou oorweldig)— sy is aan haar onsedelike afgodsdiens en politiek verslaaf al lei dit tot niks positiefs nie. Daarom het sy nie siek geword daarvoor nie – nie omgegee nie (1983-veraling: daarom het jy nie opgehou nie).

57:11 Goddelose mense wat onreg doen, word gekonfronteer met twee ondersoekende vrae: Vir wie was jy so bang en bevrees? Het Ek nie stilgebly nie? Hulle het die afgode gevrees en nie die Here nie (vir wat die goddeloses mis, vgl. Job 28:28; Ps 111:10; Spr 1:7). Die Here het in lankmoedigheid stilgebly oor hulle verkeerde lewe, en sy geduld verdien nie sulke verwerping nie! Hulle het gelieg – deelgeneem aan afgodsdiens, afgode word ‘leuens’ genoem (28:15,17)  en die Here nie onthou  of  dit ter harte geneem nie – nie aan Hom  gedink nie; sonde en afdwaling begin in die mens se denke/hart voordat dit tot dade oorgaan, en dit vind plaas deur jou verbondenheid aan die Here te vervang met dié aan die afgode . Daarom  vrees/vereer/dien hulle Hom nie meer nie!

57:12-13a Dié vers gaan voort met ‘n skerp ironie, sonder om op vers 11 se vrae te antwoord. ‘Ek, Ekself sal jou en jou werke “regverdig,” maar dit sal jou nie baat nie.’  Dan moet hulle maar met hulle nood na die afgode gaan vir hulp, en die afgode is niks werd nie. Hulle is niks/nietigheid en het geen  krag om te red nie. Hulle word met twee beelde beskryf: die wind dra hulle almal weg; hulle word weggevat deur ‘n asempie, ’n nietigheid. Die goddelose is totaal hopeloos, sonder toegang of grond vir appél op die Here. Die Here is deur hierdie groep in die gemeenskap verwerp, en die gevolge daarvan vir hulle is onvermydelik.

57:13b Die toneel sluit soos hy begin het in verse 1-2. Dié een wat by die Here skuil sal die land besit en die Here se heilige berg erf. Dié wat op die Here vertrou is die regverdiges. So anders as die onregverdiges wat op enigiets behalwe op die Here vertrou. Die regverdiges ontvang al die Here se goeie gawes, hier veral die land met sy goeie lewe, soos die Here aan Abraham beloof het (Gen 12:1-3). Die heilige berg verwys na die voorreg om die Here in sy heiligdom te ontmoet. Deur hulle toewyding aan die Here word die regverdiges van die ander burgers onderskei.

Die skerp onderskeid tussen die regverdiges (v1- 2)– dan die goddeloses (v3-13a) – en weer die regverdiges (13b) wys dat die stryd tussen die groepe in Jerusalem en Juda intens was. Die digter-profeet is seker dat die goddeloses nie sal seëvier nie. Daarom moet die regverdiges vasstaan in geloof en vertroue op die Here.

‘n Oop samelewing is baie kwesbaar. Goddelose bure sien dit as ‘n maklike geleentheid vir roof. Maar die finale toneel bevestig dat die finale sjalom/vrede en welsyn, en die erfenis behoort aan dié wat by die Here skuil. Die wêreld kan uiteindelik nie die kerk oorspoel nie, net soos duisternis geen lig kan doof nie (vgl. Mat 16:18; Jes 42:16; 58:10; Joh 1:5; 1 Joh 1:5; 2:8).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die negatiewe reaksie van Jerusalem (56:9-57:13) – Francois Malan

Na die vreugdevolle uitsig op ‘n gemeenskap waarin almal welkom is om saam te aanbid en te lewe uit die genade van die Here, vertel die volgende twee hoofstukke van die negatiewe reaksie van Israel op die uitnodiging, en stippel dit die vereistes van die Here uit sodat Israel waarlik die dienaar van die Here sal wees wat sy beeld vertoon aan die nasies om hulle nader te trek na die Here toe. .

56:9-12: Die gedeelte begin met ‘n vreeslike dreigement. Diere van die oop veld en al die diere in die bos, die wilde diere, word opgeroep om in die gemeenskap in te kom en te verslind. Die invallers word nie by name genoem nie, maar gewoonlik word ‘verslind’ gebruik vir ‘n invallende leërmag wat alles vernietig. Die Here is gewillig om Israel weer oor te gee aan ‘n bedreiging van buite af, so sleg het hulle verdorwenheid geword. Dit is eintlik’n herhaling van wat die Here deur Assirië (10:5-6) en Babel (47:6a) as sy roede gedoen het.

Dit is ‘n aanval op die leiers van die gemeenskap (wagte en skaapwagters). Die wagte is veronderstel om te waak sodat hulle die volk teen gevare kan waarsku en om die volk te beskerm teen aanslae van buite. Hulle word vergelyk met honde:’n  blinde hond  sien nie die gevare nie; hulle is ook stom, hulle blaf nie – waarsku nie en maak nie alarm teen gevare nie; is lief vir slaap en droom in hulle slaap, weet nie wat gevaar is nie; eet gulsig en kry nooit genoeg nie (letterlik: hulle weet nie wanneer om tevrede te wees nie), – Israel se leiers tree net soos gulsige en slapende honde op en sorg net vir hulleself. Hulle verwaarloos die volk wat gewaarsku moet word teen godsdienstige, sosiale en politieke gevare.

Die leiers is herders wat hulle skape moes lei en beskerm, maar hulle sorg net vir hulleself (soos die herders in Eseg. 34). Hulle gebruik openbare fondse om hulleself te verryk, is dronkaards  wat net aan hulle eie genot dink, hulle werk verwaarloos, en nie vir ander omgee nie (vgl. Amos 6:4-6 van voor die ballingskap). Hulle gee nie om nie, en dink dat daar niks op die spel is nie. Dit is nie wat die Here daarvan dink nie!

Die slegste is dat dit al die leiers is: v10: almal is blind, almal is stom; v11 almal slaan hulle eie koers in – weg van die Here se pad vir Israel, hulle is elkeen uit op sy eie voordeel (vgl. daarteenoor Filip 2:3-4). Almal wat geroep is tot leierskap het gefaal, en daarom is daar geen hoop nie. Die ernstige oproep in 56:1-8 om alle mense in te sluit, het sinies waardeloos geword deur ‘n leierskorps wat die Here se doel met Israel dwarsboom met hulle selfsugtige denke en gulsige lewenswyse. Hulle eng en bekrompe denke het die Here se plan verwerp, van ‘n oop en insluitende samelewing onder sy beskerming. Hulle moes as beeld van God voor die nasies lewe, maar daarin het hulle misluk (vgl. Mat 5:41-48). Dit is die rede vir die Here se toorn en straf.

Die keuse: vrede of teen die Here (57:1-2).

57:1-13 Hierdie moeilik verstaanbare gedeelte skilder die diepe verdeeldheid in die samelewing van Jerusalem wat besig is met die heropbou van die stad. Daar is ’n  duidelike verskil tussen die ‘regverdiges,’ wat toegewy is aan die woord en wil van die Here, en hulle negatiewe teenstanders, wat maklik hulle geloof in die Here laat aanpas by hulle eie wil en wense. Verse 3-13a is ‘n veroordeling van die boosheid en die bose werke van die teenstanders teen die plan van die Here. Die gedeelte word omsoom  met vers 1-2 aan die begin en 13b aan die einde, om elemente in die samelewing, wat lojaal is aan die Here en op Hom vertrou, te bevestig.

‘Hy kom om (hy sterf),  maar niemand neem dit ter harte nie (slaan daarop ag  met barmhartigheid nie), en mense wat lojaal is (teenoor die Here) word versamel (= sterf) en niemand begryp dat dit vanweë die boosheid is dat die lojale persoon versamel word (sterf) nie.’ (‘n alternatiewe verklaring lui: want die regverdige word weggeneem uit die ellende; of: word voor die bose weggeneem). Dit beskryf die chaotiese posisie waar mense hulle nie daaraan steur dat ander mense ly nie, of dit maar verdra dat gelowiges en getroue wetsgehoorsames vervolg word. Die situasie is soos dié van die dienaar van die Here in Jes 53. Die regverdige is die slagoffer van die ontrou en inhaligheid van die leiers en die gewelddadigheid wat daarmee gepaard gaan.

57:2: ‘Hy (die regverdige) kom (tot sy vaders = sterf) in sjalom (vrede en welsyn); hulle rus op hulle lêplek/rusplek, hy wat reguit wandel’ – alternatiewe vertalings vir die onduidelike teks is: 1. En hulle wat opreg lewe gaan in met vrede en sal op hulle rusbanke rus; 2. vertalings wat die enkelvoud met ‘die regverdige’ vertaal, en meervoude met ‘die kwaaddoeners’, vertaal soos volg: wanneer die vrede kom sal hulle in hulle beddens rus (die kwaaddoeners), sy opregtheid gaan voort (die regverdige s’n); 3. Die1983-vertaling: Dié wat die reguit pad loop kom waar daar vrede is, en hulle rus in die graf.

Die vers bevestig die Here se hulp aan dié wat volgens die Here se aanwysings lewe. Die geloof van die regverdige gaan nie ongemerk by die Here verby nie (Calvyn het gemeen die Here kom gryp die regverdige, om hom deur die dood uit die dreigende moeilikheid te red).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Vreemdelinge en ontmandes (56:3-8) – Francois Malan

‘Laat die vreemdeling, wat ‘n aanbidder van die Here is (letterlik: wat homself aan die Here verbind het), nie sê: die Here sal my waarlik van sy volk uitsluit nie, of die ontmande sê: kyk ek is maar ‘n droë boom, nie’ – ‘n aanduiding van sy onvermoë om kinders te verwek. Die woord vir uitsluit of afskei is in die intensiewe vorm (deur herhaling van  die werkwoord) en was ‘n sleutelwoord in die opkomende Judaïsme wat alles wou reël, alle onenigheid, verwarring of onreinheid wou uitsuiwer uit die gemeenskap. Dieselfde woord badal word gebruik by die skeiding van lig en donker,  van die waters bo en op die aarde, dag en nag, om orde te skep in die skepping  (Gen 1:4,6,14). Beide vreemdeling en ontmande het verwerping deur die gemeenskap verwag.

’n Vreemdeling wat tot die Joodse geloof gekom het, is deur die Jode ‘proseliete’ genoem, ‘n lid van die sinagoge wat nie ‘n gebore Jood is nie. Daar was ‘n verskil van mening onder die Jode oor die posisie van die proseliet. Nie alle Jode wou aan hulle volle verbondsregte toeken nie (so het Serubbabel die Samaritane nie toegelaat om saam te werk aan die opbou van die tempel nie (Esra 4 :1-6) en Esra en Nehemia  het vereis dat die mans wat met vreemde vroue getrou het, hulle wegstuur (Esra 10; Neh 13:25).

Die ontmandes is deur die wet verbied om in die tempel te kom (Deutr 23:1-2; Lev 21:20). In die Oosterse paleise is baie ontmandes aangestel as amptenare en diensknegte, veral in die harems van die vroue, ook in Jerusalem en Samaria (vgl. 2 Kon 9:32; 20:18; Ester 2:3, Daniël 1 :3-7; Hand 8:27-37). Hulle het belangrike poste beklee in die hofhoudings en administrasie, maar mag nie in die tempel ingekom het nie.

Die ou torah het ‘n eksklusiewe gemeenskap van suiwerheid as visie gehad, en sommige, in die laat sesde eeu v.C, ná die ballingskap, het voorgestel om dié mandaat voort te sit.  Die verbod word hier deur die Here opgehef.  Die visie van hierdie digter-profeet gaan direk in teen die posisie van die ou torah.

56:4-5: Vir die ontmandes wat saam met die Jode die wet van die Here onderhou en op die Sabbat na die tempel/sinagoge toe wil gaan, word die gemeenskap oopgestel as lid van die Here se genadeverbond – ‘in my huis en in my geboue gee Ek aan hom ‘n plek en ‘n naam, ‘n ewige naam…wat nie uitgewis sal word nie (letterlik: nie afgesny sal word nie’- teenoor Deutr 23:1 wat ontmandes letterlik noem: wie se geslagsdele afgesny is). Die Joodse gemeente moet die naam van die ontmande, wat nie ‘n nageslag kan voortbring nie, bewaar en veral sy diens aan die Here en aan sy medemens, wat andersins verlore sou raak in ‘n wêreld wat nie omgee nie.

Die eerste deel van Jesaja het in 39:7 afgesluit met die voorspelling dat die seuns van Juda diens sou doen in die paleis van die koning van Babel  (as ontmandes, soos Daniël en sy vriende). Die derde deel begin hier met die ontmande amptenare, as hakies om die tweede deel (40-55). Daarmee word dié uitgeskuifde lidmate weer opgeneem in die verbondsgemeenskap, mense soos Nehemia, wat gereeld die Persiese koning en koningin moes bedien (Neh 2:6) en die mure van Jerusalem kom herbou het. Die ontmande Etiopiër van Handelinge 8:27-28, wat nie in die tempel toegelaat is nie, was juis besig om uit Jesaja te lees en is gedoop ná sy ontmoeting met Filippus se toepassing van Jesaja 53:7-8 op Jesus. En hy het sy reis met blydskap voortgesit (Hand 8:39). So het Jesus sy kerk vir die ontmandes oopgemaak.

56:6-8:  Deut 23:2-9 sluit die tempel vir ontmandes en Ammoniete en Moabiete wat uit bloedskande gebore is (Gen 19:31-38; Lev 18:6)), die deurtrekkende Israel nie wou ontvang nie, en hulle wou laat vervloek. Deuteronomium laat egter die tempel oop vir Edom, die afstammelinge van Esau, wat hulle deurgang deur hulle land geweier het (Num 20:18-21; Deutr 2:1-8) en Egipte waar hulle vreemdelinge was, hoewel hulle daar slawe gemaak is en hulle seuntjies vermoor is. Soos vir die ontmandes word vreemdelinge nie meer uitgesluit nie. Daarmee gaan die visioen in teen die maklike opsie om saam met die heersende siening in die samelewing te gaan. Dit geld ook, soos vir die ontmandes, slegs vir vreemdelinge wat hulle heelhartig aan die Here toewy.

Die twee vereistes vir ontmandes in vers 5 om die verbond met die Here en Sabbat te onderhou word herhaal in vers 6a. Maar voorop staan vier kenmerke wat ‘n effektiewe toewyding aan die Here veronderstel wat sterker is as enige politieke affiliasie: elkeen wat verbind is aan die Here om Hom te dien en lief is vir die Naam van die Here (sy Naam staan vir sy volle wese, sy mag en sy werk), om vir Hom ‘n dienskneg te wees. Dit gaan om vreemdelinge wat met hulle hele hart die Here in liefde wil dien.

Vir hulle belowe die Here self: Ek sal hulle na my heilige berg toe bring en hulle bly maak in my huis van gebed – Hy sal hulle vir Hom werf en Hy is self die verwelkomingskomitee wat hulle in die tempel op Sionsberg en in die sinagoge sal ontvang. Hulle sal welkom wees in die samekomste van die gemeente en hulle offers op die altaar sal deur die Here aanvaar word, want die Here wil sy huis ‘n huis van gebed maak vir al die nasies wat aan Hom  verbind is, Hom liefhet en Hom gehoorsaam (Mark 11:17; vgl. Gal 3:28; vgl. ook Jesus se gebed in Joh 17:21-23). Dit is die vervulling van die Here se belofte aan Abraham in Gen 12:3: In jou sal al die volke van die aarde geseën wees.

Skrywer:  Prof Francois Malan