Die Here se toorn word vervang met sy troos (51:12-23) – Francois Malan

51:12 Die Here antwoord met ‘n dubbele ‘Ek’ om sy versekering te beklemtoon dat Hyself by hulle gaan optree: Ek, Ek is dit wat jou gaan troos (soos in vers 3 reeds belowe is), nie slegs my arm/mag, soos hulle vra nie (v9).

Maar dan volg die Here se berisping met die vraag aan die ballinge: wie is jy? dat jy bevrees is vir ‘n nietige sterflike mens wat so maklik soos gras vergaan (40:6-7 as die Here sy wind daaroor laat waai). So word Israel telkens verwys na die nietigheid van die mens, om hulle vrees vir mense te oorwin (51:7-8), maar ook om hulle te laat rekenskap gee van hulle identitiet. Aan wie behoort jy?.

51:13 Die rede vir hulle vrees is dat hulle Maker hulle kan vergeet; juis omdat Hy hulle Maker is, sal Hy hulle nie verlaat nie (Deutr 31:6). Hy is die Almagtige Here wat die hemel en die aarde gemaak het (40:22). Om aan Hom te behoort,  beteken beskerming teen alle moeilikheid van Babel se kant af.  Maar Israel se kleinmoedigheid word beskryf as ‘n aanhoudend bewe van angs. Asof gehipnotiseer deur die toorn van hulle verdrukker wat daarop uit is om hulle te vernietig, doen hulle alles wat Babel sê, in plaas van wat die Here sê, Hy wat die enigste is op wie ‘n mens kan vertrou en behoort te gehoorsaam.  Die Here vra spottend waar is die verdrukker se toorn nou, as Kores, die dienaar van die Here, begin optree? In werklikheid bewe Israel van vrees vir ‘n spookgestalte.

51:14 Die wat in kettings sit sal haastig/gou vrygelaat word. Dit verwys na die ballingskap wat sommige wel in die tronk laat beland het (42:7,22), maar baie is vasgevang deur die heidense lewenswyse in die  ballingskap in Babel met sy ekonomie wat floreer op slawe-arbeid en geen teenstand duld nie. Hulle word bevry van hulle vrese vir die dood en gebrek aan  daaglikse voedsel wat die voorland is van ‘n slaaf wat durf opstaan vir sy regte.

51:15-16 Verse 9-10 het begin met ‘n gebed tot die Here wat die waters van die see beheer. In dié antwoord van die Here verwys Hy ook na sy skepping van die onstuimige see. Hy is die Here (die Ek is, die aktief teenwoordige) God, en sy Naam is die Here van die leërs op die aarde en in die hemel, wat as Almagtige die wêreld beheer en sy volk Israel in sy hand beskerm. Die doel van die Here met Israel is om Palestina weer op te bou as die woonplek van die Here (hemel) en sy volk (aarde), wat ‘n voorafskaduwing is van die nuwe hemel en die nuwe aarde van 65:17 en 66:22.

51:17 In 51:9 het die bidders tot die Here geroep: Word wakker! Word wakker! (1983: Gryp in 2x). Hier roep die Here die ballinge op met dieselfde woorde in die intensiewe refleksiewe vorm: skud julleself wakker! 2x. Jerusalem moet wakker word uit hulle dronkenskap van die beker van die Here se oordeel wat hulle moes drink, en nie meer in selfbejammering vaskyk teen hulle ellende nie. Verse 17 tot 21 beskryf met ryk beelde die Here se oordeelsbeker wat hulle moes leegdrink, die ellende waarin hulle verkeer, as inleiding tot die goeie nuus in verse 22-23.

51:18 Daar was geen leiers vir die volk nie, nie teen die einde van die laaste konings van Juda nie (3:4-7), en ook nie gedurende die ballingskap nie.

51:19 Hulle word verteer deur selfbejammering en selfverwyt. In Jerusalem het hulle slegs verwoesting, vernietiging, hongersnood en bloedvergieting deur Babel gesien. En daar was niemand wat barmhartig teenoor hulle was nie, niemand wat die Here kon gebruik om hulle te troos nie, ook nie in die ballingskap nie.

51:20 Die volk lê magteloos en doelloos op die hoeke van die strate, soos ‘n bok (1983:voël) in ‘n vangnet. Dit is die gevolg van die toorn van die Here. Volgens 51:13 was hulle bang vir die toorn van die verdrukker, maar eintlik is dit die toorn van die Here oor hulle sonde wat hulle in die ellende laat beland  het, om hulle deur die verdrukking tot bekering te roep, toe hulle nie na die Here se roep en waarskuwing deur die  profete wou luister nie

51:21 Die vers herhaal die beskrywing van Israel in vers 17: dronk, maar nie van wyn nie, dronk van hulle ellende in die Here se oordeelsbeker. Hulle word ná die tyd van ellende, wat die gevolg is van hulle ongehoorsaamheid, opgeroep om nou te luister!

51:22  Om sy innige verhouding tot sy volk uit te druk sê ‘jou Here die HERE jou God’ vir hulle, ook in die ellende van die ballinge, is Hy nog altyd hulle God, die persoonlike teenwoordige aktiewe Ek is – wat sy volk se regssaak behartig: Let op! Ek het die beker wat jou laat strompel het uit jou hand weggeneem, die beker van my toorn, jy sal nie weer daaruit drink nie – die beker is leeg gedrink, die Here se straf oor sy volk is volbring.

51.23 Ten tweede sê die Here: Hy sit die beker van sy toorn nou in die hand van Israel se verdrukkers, wat oor Israel se rug geloop het – sy vroeëre bondgenoot Babel (vgl. Jes 39:7) het Israel eindeloos mishandel en verneder tot ‘n internasionale deurmat wat op getrap word (vgl. 2:11-17). Nou kry Babel die oordeelsbeker om te drink.

Die lang hoofstuk het ‘n reeks versekerings dat wat gewees het, nie meer sal wees nie. Die toorn van God oor Israel word vervang deur sy troos, verlossing en redding. Israel word geroep as dienskneg van die Here om te bou aan die nuwe land en stad en manier van lewe waartoe die Here hulle roep, om sy instrument te wees, om deur dienaars te wees, die wêreld te oortuig dat die Here die ware God is.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Sion se herstel (51:1-11) – Francois Malan

51:1-8 Die verse vertolk die belofte van herstel op ‘n besonder mooi en kragtige wyse. Hier word veral die godvresende deel van Israel in ballingskap aangespreek (v1, en v7 letterlik: julle wat geregtigheid ken, o volk, in wie se hart my wet is). Driemaal word Israel opgeroep om te luister (vv1,4,7) soos in Deutr.6:4.

51:1-2 Die Here roep die oorblyfsel van Israel op – julle wat geregtigheid nastreef en die Here soek (1983: wat reg wil doen en na die wil van die Here vra) – om te lewe en te doen wat reg is in die oë van die Here, volgens sy woord, want Hy is die doel van hulle lewe, hulle God, te midde van die afgodsdienaars om en tussen hulle. Hulle word opgeroep om te luister (ook in vv4,7) want die Here gaan groot dinge sê, ‘n belofte van heil, met twee opdragte ingelei: kyk na (1983: dink aan) om te sien wat die Here in die verlede gedoen het. Hy verwys hulle na hulle oorsprong as ‘die rots waaruit julle gekap is’ – soos ‘n beeldhouer wat die vromes uit Abraham gebeitel het, ‘en die steengroef waaruit julle gegrawe is’ – soos ‘n klipkapper wat hulle uit Sara uitgehaal het. Uit die enkele versteende kinderlose egpaar (Hebr 11:11-12)  het die Here op ‘n wonderbaarlike wyse ‘n groot nageslag verwek. Op so ‘n wonderlike wyse kan en gaan die Here ook nou met die getroues in die ballingskap handel.

51:3 ‘Want die Here het Sion getroos; Hy het al haar ruïnes getroos’ – wat die Here aan die verwoeste stad en haar puinhope gaan doen word verpersoonlik met die Here se troos, soos vir iemand in rou. Die omgewing van die stad wat tydens die ballingskap ‘n woestyn geword het, sal weer ‘n lushof word, soos die paradystuin van die Here, ‘n nuwe skepping vol vreugde en blydskap, dank en lofsang aan die Here om sy gawe van die nuwe lewe te besing. Die opdragte en versekering van die Here gaan in teen hulle huidige ellendige omstandighede, en laat hulle uitsien na die vernuwing wat die Here beloof, Hy wat weer as die leier deur Israel aangeneem is.

51:4 Weer die oproep tot Here se volk, sy mense (die oorblyfsel wat in vv1-2 beskryf is) om te luister, want die heil van die Here neem hoër vlugte. Dit gaan ook na die heidennasies wat deur Kores gaan bevry word van hulle onderdrukking: die onderrig van die Here en sy geregtigheid sal gevestig word as ‘n lig vir hulle. Deurdat reg en orde deur die Here herstel word in die lande wat Kores nou gaan inneem, sal hulle die reg van die Here as ‘n lig sien wat hulle lewe sal verlig en lei, en hulle sal gelukkig lewe.

51:5 ‘My geregtigheid is naby; my verlossing gaan vooruit’ – waar die reg triomfeer word die verdrukking beëindig en breek ware geluk aan.  So gaan die arm van die Here (sy mag) ook die heidenvolke verlos uit die verdrukking, soos vir Israel. Die verste lande sien uit na die verlossing deur die arm van die Here, al ken hulle Hom nie. Maar in die lande is daar orals van Israel in die verstrooiing wat aan die Here getrou gebly het as sy getuies onder die nasies.

51:6 Die gedig gebruik drie konkrete voorwerpe: die hemele…soos rook , die aarde…soos verslete klere, dié wat daarop woon…soos muggies. Alles verdwyn maar die nuwe heerskappy van die Here, sy verlossing en sy geregtigheid sal bly (Markus 13:31). Die standvastigste, betroubaarste werklikheid is die Here se goeie heerskappy (die koninkryk van God waarvan die Nuwe Testament praat).

51:7 Die derde oproep aan die oorblyfsel om na die Here te luister. Hulle word weer genoem ‘dié wat geregtigheid ken’ (v1 dié wat daarna streef) – ken is hier nie ‘n saak van die verstand alleen nie, maar van harte; met die wet van die Here in hulle hart – om dit met liefde te oordink (Ps 1:2; 119:97) en hulle deur die innerlike lewensbeginsel te laat lei  (Jer 31:33; Ps 40:9). Vir die spot en beledigings van die heidene onder wie hulle lewe en van die Jode wat nie onder Kores wil teruggaan Palestina toe nie, moet hulle nie bang wees nie.

51:8 Want die spotters is sterflike mense. Maar dié wat die Here se geregtigheid ken en sy wet in hulle hart het, kan sê: wat kan ‘n mens aan my doen? (Ps 118:6). Die teenstanders word beskryf met twee metafore wat aansluit by vers 6 se metafore vir die verganklikheid van die aarde en sy bewoners teenoor die Here se blywende verlossing – hier word die spotters vergelyk met ‘n kleed wat deur ‘n mot opgevreet word en wol deur ‘n wurm, teenoor die Here se ewige verlossing van geslag tot geslag. Die opdragte in verse 1-2, 4, 7 plaas die ballinge voor ‘n keuse oor hulle ware identiteit. Deur op die Here te vertrou kan hulle seker wees dat Hy hulle huidige ellendige toestand gaan verander (In Hosea 2:13-19;  12:7,10 het die Here gesê Hy stuur Israel in die woestyn in om Hom te leer liefkry, soos met die uittog se 40 jaar in die woestyn, en dan sal Hy hulle terugbring).

51:9-11 Die beloftes van die Here se wonders word afgewissel met ‘n gebed. Na die vier opdragte van die Here aan Israel om te luister, in 51:1-2, 4, 7, volg hier vier versoeke wat getuig van Israel se vrymoedigheid.

51:9 Soos die Here die dienaar elke môre wakker gemaak het (50:4), word hier tot die arm van die Here geroep: ‘word wakker, word wakker, beklee jou met mag, word wakker soos in die ou dae, in die geslagte van die voortye…’ die arm van die Here is simbool van die Here se mag, wat slap hang wanneer Hy die volke toelaat om Israel te verdruk. Nou word gevra dat die Here sy arm met krag sal beklee, soos met die aantrek van ‘n wapenrusting, vir groot dade. Uiterlik gaan Kores sy arm wees.

In die voortye met die skepping het die arm van die Here die magte van chaos oorwin. Rahab is die naam vir die chaos of seemonster in antieke stories waarna verwys word in Ps 89:11; Job 9:13 en hier (vgl.ook Ps 74:13; Ps 29:10; Ps 93:3; en die tweede en derde skeppingsdae oor die skeiding van die waters). Rahab word ook gebruik vir Egipte in Ps 87:4 en Jes 30:7. Die draak  (Tanin) word in Ps 148:7 beskryf as ‘n seemonster wat die Here moet loof, in Eks 7:9 as Moses se staf wat ‘n groot slang word voor Farao, en in Eseg 29:3 as die Farao wat as die groot krokodil rustig in sy rivier lê en deur die Here vernietig gaan word. Die oorwinning van die Here oor die monsters verwys na sy skeppingsmag, maar ook oor sy verlossing van Israel uit die vier eeue-lange slaweskap in Egipte. (Gen 15:13).

51:10 Soos die Here die wêreldvloed beheer het op die tweede en derde skeppingssdae, so het Hy ook die Rietsee laat pad maak vir Israel se verlossing. Hulle word genoem ‘die vrygekooptes,’ wat die Here met die bloed aan die kosyne vrygekoop het uit die dood (Eks 12:23).

51:11 Daarom spreek die bidder sy verwagting uit dat die Here, soos met die skepping en die uittog, ook in die toekoms sy volk sal verlos, en hy haal Jes 35:10 hier letterlik aan. Wat in vers 9 ‘n ernstige pleidooi was, word in vers 11 ‘n uitbundige lofprysing, in die sekerheid dat die Here gaan wakker word na die lang ballingskap en optree om sy volk te verlos. Die bidder noem hulle ‘die verlosdes van die Here’ wat Sion met sang en ewige vreugde op hulle koppe ingaan.  Die Here se antwoord op die bede volg in verse 12-16.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Luister na die dienaar van die Here! (50:1-11) – Francois Malan

50:1 ‘So sê  die Here…’ Die derde uitspraak van die Here begin met twee retoriese vrae wat volg op Israel se klag in 49:14 dat die Here hulle verlaat en vergeet het, soos ‘n man wat van sy vrou geskei is en sy kinders vergeet het. Die Here vra waar  is die bewys, die skeibrief (volgens Deutr 24:1-4), wat Hy aan sy vrou Israel sou gegee het? Dit bestaan nie!  En waar is die skuldeisers aan wie Hy sy kinders as slawe sou verkoop het? Hulle bestaan nie! Dat hulle in ballingskap sit is nie die Here se skuld nie, maar Israel se sonde het hulle verkoop (aan die afgode) en hulle oortredings van die Here se riglyne het hulle as slawe verkoop aan Babel se afgodedienaars – so het die Here hulle aan hulle eie begeertes oorgegee (Rom 1:24,28).

50:2-3 Die denkbeeldige hofsitting gaan voort met die Here se uitdaging dat Hy tydens die ballingskap telkens opgedaag het vir die sitting, maar daar was niemand van Israel om hulle saak te stel nie. Hy het hulle deur die profete tot bekering geroep (vgl. bv. Jeremia se boodskappe, Daniël se voorbeeld, Ester se voorspraak) maar niemand het geantwoord nie – nie in volstrekte sin nie, maar die volk as ‘n eenheid, daar was egter nog altyd ‘n oorblyfsel. Sy pogings om Israel se band met Hom te herstel was tevergeefs.

Maar die Here se belofte van verlossing was geen leë belofte nie. Sy mag is nie te klein (letterlik sy hand is nie te kort nie) en Hy is nie kragteloos om hulle te bevry nie. Onthou wat Hy met die Rietsee gedoen het  (Eks 14:27; Hand 7:36; Ps 106:9) en met die Nyl (Eks 7:21) en die Jordaanrivier (Josua 3:17), met die duisternis (Eks 10:22). So kan die Here Babel se mag verbreek. Die Here se mag word gesien in sy magtige skepping. Die rouklere vir die son  (letterlik: sak) wys iets van die smart van die Here oor sy volk Israel.

50:4-11 Dit is die derde van die vier gedeeltes oor die dienaar van die Here (hoofstukke 42,49,50,52-53).  Hierdie gedeelte kan miskien na ‘n leier van die teruggekeerdes in Jerusalem verwys, soos bv. Serubbabel (vgl. Haggai 2:23) wat ná Sesbassar, die teruggekeerde ballinge se politieke leier was, wat veral hulle leier was met die herbou van die tempel. Maar daar is trekke van die beskrywing wat slegs deur Christus ten volle vervul word.

Viermaal kom die titel ‘Here HERE’ voor (vv4,5,7,9) elk met ‘n werkwoord wat die Here aanwys as Gewer en sy dienaar as ontvanger: die Here HERE  het vir my ‘n tong gegee (4a), my oor geopen (4b,5), help my, 2x (7-9). Die dienaar is aan die woord maar hy draai telkens die fokus van sy roeping van homself af weg en fokus op die Here. Sy werk is eintlik die Here se werk, en hy is slegs ‘n gehoorsame en vertroubare respondent/instrument.

50:4 Die Here HERE het my die tong van ‘n onderwyser gegee dat ek weet hoe om die vermoeides met woorde te ondersteun/versterk (vgl. Mt 11:28).  Die vermoeides is waarskynlik die ballinge wat afgemat is deur die Babiloniese slawerny, wat verward was deur die afgodediens van Babel, en nou tot verhaal moet kom om as vry mense verantwoordelik te lewe, as dienaars op die Here se nuwe pad vir hulle, en begin bou aan die tempel vir die Here.

Elke môre maak die Here hierdie dienaar-onderwyser van Hom wakker en Hy maak die dienaar se oor wakker om aandagtig te luister, soos ‘n dissipel/leerder – om elke môre deur die Here toegerus te word vir sy dagtaak as leier, ook by die tempelbou. Om ander te leer, moet die onderwyser homself voorberei deur eers self te leer, as dienaar van die Here moet hy by die Here leer. Om te leer vereis motivering en dissipline, en die Here voorsien dit.

50:5-6  Vir elke môre se onderwysing het die Here sy oor oopgemaak sodat hy die lering nie kon weerstaan nie, en hom so versterk dat hy nie terugdeins vir die diens van die Here nie.

Vir sy teenstanders het hy nie ‘n duim gewyk nie, nie vir dié wat hom met swepe op die rug geslaan het nie, of  wat sy baard uit sy wange uitgepluk het nie, of wat hom in sy gesig gespuug het nie (wat baie laat dink aan die soldate se geselhoue op Jesus se rug met die doringkroon op sy kop, en die owerpriesters en soldate wat in sy gesig gespuug en  Hom met die vuis geslaan en geklap het (Mt 26:67; 27:26,29,30).

So het hierdie dienaar, moontlik Serubbabel, wat die tempel kom herbou in opdrag van Kores, die felle teenstand  ondervind van die gemengde bevolking wat in Israel agtergebly het  en van sy ongelowige volksgenote wat teen hom was omdat hulle hom beskou het as die onaanvaarbare verteenwoordiger van Kores en daarom ook as as dienaar van die Here verwerp het (Haggai 2:23), hy wat juis die opdrag van die Here uitvoer (vgl. Haggai 1:1-2; 2:4; en  49:7 vir hulle teenstand).

50:7 Omdat die dienaar weet dat die Here sy God is wat hom help (Ps 121:2) gaan hy voort met die werk wat die Here aan hom opgedra het, in die vaste vertroue dat dit sal slaag (vgl Sag 4:6-10). Vgl. die teenstand teen die bouwerk en hoe dit eindelik voltooi is, (Esra 4:4-6,23; 6:14).

50:8 Die digter gebruik weer die beeld van ‘n hofsaak. Die teenstanders wil die dienaar aankla, soos hulle wel gedoen het en aan Kores se opvolger Artasasta geskryf het oor Israel en Jerusalem se sogenaamde rebellie teen die Persiese koning (Esra 4:11-16). So het die Joodse leiers Jesus valslik by Pilatus, die Romeinse goewerneur, aangekla. Maar die dienaar roep uit: Hy wat my regverdig is naby – sy ingryping kan enige oomblik verwag word. En die teenstanders durf nie saam met hom voor die hoogste Regter gaan staan nie.

50:9 Kyk! die Here HERE help my. Daarom kan geen mens of aardse regter hom skuldig vind nie (Romeine 8:33-34). Sy beskuldigers sal soos ‘n motgevrete lap wees – van alle krag en heerlikheid beroof, nutteloos en besig om te vergaan.

50:10 Ná die woorde van die dienaar volg twee slotwoorde deur die profeet in vers 10 aan die vromes, en in vers 11 aan die goddelose.

Wie van julle…? met ‘n vraag soek die profeet wie in Israel nog die Here vrees/dien en dus ook luister na die stem van sy dienaar. Ook die oorblyfsel lewe in die duisternis, sonder om lig te sien, omring deur die ongeloof en afgodsdiens  rondom hulle en word hulle op baie maniere verdruk. Maar soos die dienaar van die Here moet hulle vertrou op die Naam van die Here, dit beteken op die Here self soos Hy Hom in sy Naam HERE (die Ek is persoonlik teenwoordige) geopenbaar het (aan Moses en deur die geskiedenis van Israel).

50:11 Aan dié wat die boodskap van die Here wat die dienaar bring, verwerp, word die oordeel van die Here aangekondig: die vuur wat hulle aangesteek het, gaan hulleself tref. Hulle vyandskap, wat die dienaar van die Here se ondergang wou bewerk, gaan hulle eie ondergang beteken. Hulle sal moet lewe in die vlamme wat hulle aangesteek het. Die kwaad wat hulle beplan het, kom op hulle eie koppe neer (Ps 7:16-17). Dit word bewerk deur die Here wat sy  geregtigheid bewys. Hy gee hulle oor aan hulle eie bitterheid en vyandskap, nl. die pyn wat hulle wou uitdeel word hulle deel, die vuur van God se oordeel wat aan jou gegee word is dit wat jy aan ander wou gee. Die vertaling van 1983 ‘julle sal beland in die plek waar die pyn nooit ophou nie’ brei uit op die letterlike: in pyn sal julle gaan lê. Gaan lê staan teenoor wandel/lewe/doen (Jes 33:15).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Verlate Jerusalem word ‘n moeder met baie kinders (49:14-21) – Francois Malan

49:14 Sion, die verlate stad Jerusalem, kla egter dat die Here haar verlaat en vergeet het, soos ‘n vrou wat deur haar man verlaat is. So het Israel in ballingskap ook gekla (40:27). Hier verwoord die stad die twyfel van Israel in ballingskap oor die Here en simboliseer die stad se afgebreekte mure die gebroke lewens van Israel in ballingskap.

49:15 Die Here antwoord daarop. Om van die innige liefde en trou van die Here ‘n beter begrip te gee gebruik die profeet die beeld van  moederliefde wat maak dat sy nie haar suigeling kan vergeet nie; selfs as hulle, die moeders,  hulle babas kan vergeet, sal die Here Sion nooit vergeet nie. Sy liefde gaan alle menslike liefde te bowe.

49.16 Die rede vir die Here se intense onthou van Jerusalem en sy mense, is dat Hy Israel se naam op sy handpalms gegrafeer het, soos ‘n tatoeermerk (wat in Lev 19:28 verbied is, maar deur die profeet as beeld van permanensie gebruik word). Daarmee wil hy hulle verseker van die Here se opmerksaamheid oor wat met Jerusalem en sy mense gebeur. Die afgebreekte mure van Jerusalem en van sy inwoners se lewens ‘is onophoudelik voor My,’ soos jy ‘n merk op jou hand telkens sal raaksien.  Die opbou van Jerusalem se mure is konstant op die Here se agenda. Dit is ‘n waarborg dat die mure weer opgebou sal word.

49:17 Die vrug van die Here se onveranderlike liefde word gou gesien. Soos kinders na hulle moeder toe hardloop, stroom Jerusalem se inwoners terug, en sy verwoesters en vernielers gaan weg, soos Babel, die Edomiete (Obadja 13), die nie-Israelitiese inwoners van die omgewing (Esra 4:4-6).

49:18 Sion moet haar oë, wat in moedeloosheid neergeslaan is, ophef en rondom haar kyk.  Haar kinders is al besig om bymekaar te kom en is op pad terug. Nou word Sion soos ‘n bruid voorgestel en die Here sweer, sowaar as Ek leef  jy sal hulle, jou kinders, almal soos ‘n bruid se ornamente omhang as versiering, en soos ‘n bruid se goue gordel sal jy hulle om jou vasmaak. Die terugkerendes sal vir Sion wees soos die trousseau van ‘n bruid, as simbool van haar nuwe status en aanvaarding deur die Here – die Here se bruid!

49:19 Die oordeel van die Here oor Israel wat deur die Assiriërs in die 8e eeu v.C. en die Babiloniers in die 6e eeu v.C. voltrek is, word met drie woorde beskryf: dorpe is puinhope, Jerusalem ‘n ruïne, Israel ‘n verwoeste land. Maar dit behoort nou tot die verlede; ook die bedreiging deur die verwoesters en stropers van die stad en die land. In hierdie tyd van die Here se genade het alles verander, en Jerusalem het dit nog nie raakgesien nie. Die groei van die stad tot ‘n oorvloed inwoners is ‘n duidelike bewys van die Here se genade.

49:20 Die kinders van jou kinderloostyd (gebore tydens die ballingskap) sal in jou ore kom kla oor die gebrek aan woonplek. Is dit moontlik?

49:21 Israel sal verbaas en verruk wees om die geweldige groei van sy inwoners te sien. Hy is verlate en alleen die ballingskap in, waar kom die massa mense nou vandaan? Die werk van die Here is so groot en heerlik dat hy nie weet hoe hy dit het nie (Ps 126:1).  Dit is ‘n onmiskenbare teken van die Here se genade. Die Here se geliefde vrou is nie deur Hom verlaat en vergeet nie.

Hierop volg drie kort profetiese uitsprake 49:22-24; 25-26; 50:1-3 wat elkeen ingelei word met: So sê die Here (Jahweh die teenwoordige Ek is).

 

By die Here is die onmoontlke moontlik (49:22-26)

49:22 Die Here HERE sê hoe Hy die wonderlike vermeerdering van inwoners in Israel en Jerusalem gaan bewerk. Kyk die Here gaan sy hand ophef vir die nasies (om te sien) en sy vaandel hoog ophys vir die volke – dit sal sy teken wees wat die mense daartoe sal bring om die ballinge vry te laat (vgl. die rol van die vaandel as versamelpunt in 5:26). In beeldende digterlike taal sê Hy: hulle sal julle seuns aan die bors (na Israel) bring (soos klein babatjies gedra word), en hulle sal julle dogters teen die skouer dra (soos vir ‘n kleutertjie) vgl. Num 11:12 vir dié uitdrukking. Die volke sal met ywer en sorgvuldigheid die Israeliete gewilliglik terugstuur na hulle eie land toe, in opdrag van die Here se dienaar Kores (vgl. Esra 1:1-4). So sal die volke iets leer van die Here se mag en trou.

49:23  Konings en koninginne sal Israel versorg soos kinderoppassers, en op Oosterse wyse met die gesig op die grond voor die Here buig, in erkenning dat die Here, die God van Israel, hulle teruggebring het in hulle land.

Die groot tuiskoms na die verlate stad Jerusalem is die bewys van die Here se Almag en teenwoordigheid. Jode en die ander volke kan elkeen die bevryding van Israel deur die Here se dienaar Kores sien – in die opgehewe hand en vaandel van die Here wat die volke oproep tot vrylating van sy volk en eer aan die Here. Dan sal Israel besef dat Hy die Here is op wie jy verseker kan vertrou. Die herstel van Jerusalem is nie ‘n doel op sigself nie. Dit bring kennis en erkenning van die Here na die nasies toe, en getuig van die egte vorm van geloof: wag op die Here!

49:24 Hier word ‘n vraag gestel oor die onmoontlikheid dat soiets kan gebeur, dat ‘n lammetjoe uit die bek van ‘n leeu verlos kan word (vgl. 1 Sam 17:34-37; (letterlik: kan die gevangene/prooi aan die baasvegter/leeu ontruk word, die gevangene van die geweldenaar/tiran/terroris (volgens die Griekse vertaling die Septuaginta  – die Masorete teks lui: van die regverdige)  ontsnap?  Vir die volke onder Babilon se bewind (127 provinsies, Ester 1:1) was die verlies van hulle slawe ‘n ekonomiese ramp en ‘n verlies aan aansien (vgl. Eks 14:5). Babilon word voorgestel as ‘n magtige leeu of ‘n reuse kryger soos Goliat en Israel soos ‘n verlore lammetjie wat deur die Here gered word deur sy dienaar (Dawid, Kores). Vir die ongelowige mens wat op krag en geweld vertrou is so ‘n redding die onmoontlike.

49:25-26 ‘So se die Here HERE: ‘n Soldaat se gevangene kan ontset word…’ – vir God is alles moontlik (Mark 10:27). So het Hy die harte van die Egiptenaars verander om Israel met geskenke weg te stuur (Eks 3:21-22; 12:33-36). So sal die Here deur Kores ingryp in die hele gebied onder Babilon en vir Israel stry. Die onderdane van Babilon sal voor Kores se mag desperaat mekaar aanval en uitroei, oorgegee aan hulle eie begeertes en vrese. Die groot ommekeer in die ryk deur die beleid van Kores om bannelinge vry te laat, (Esra 1:-4) is die wêreldwye getuienis vir die Here. Hy is Israel se Redder en Verlosser, die magtige God van Jakob wat die onmoontlike kan doen, om  Israel, die buit van Babel, wat ‘n man met baie mag is, af te neem. Jerusalem nie meer verlate nie, maar het nou baie kinders.

Skrywer:  Prof Francois Malan