‘n Oordraagbare vloek – Hermie van Zyl

Annalize
vra:

Kan
daar ‘n band oor my lewe wees wat oorgedra was deur my ma of pa? My ma het
selfmoord gepleeg want sy het depressief geraak. My ma en pa het buite-egtelike
verhoudings gehad. My pa was ‘n alkoholis. My man is nes my pa, hy breek my af
soos my pa my ma afgebreek het. Hy drink net so baie soos my pa gedrink het.
Beide my ma en pa is oorlede. Dit voel of iets my heeltyd in die negatiewe in
trek. Ek begin so depressief raak dat dit voel: hoekom leef ek nog, wat is die
nut daarvan? My man hou aan vertel watter lekker tye hy saam met ander vroue
het. Kan dit ‘n vloek op ‘n mens se lewe wees? Is daar so iets?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die vraagsteller meld dat sy depressief
raak as gevolg van haar omstandighede. (Wie sou nie?) Tog wil dit voorkom of
die swaartepunt van haar vraag eerder neig in die rigting van ‘n sogenaamde
vloek wat op haar sou rus, wat dan vermoedelik van haar ouers se kant af kom.
Ek sal dus in my antwoord op laasgenoemde kwessie fokus. (Indien haar
gemoedstoestand egter verband hou met kliniese depressie – ‘n potensieel
lewensbedreigende mediese toestand – is dit dringend noodsaaklik dat sy ‘n
dokter, sielkundige of psigiater spreek sodat sy met behulp van medikasie
behandel kan word.)

Wat ek nou aanbied, is ‘n opsomming van
wat ek reeds uitvoerig uitgewerk het onder die titel:
“bloedlynvloeke”, op ons webwerf: bybelkennis.co.za. Ek nooi dus ons
vraagsteller uit om die volledige artikel op hierdie webwerf te soek en te
lees. Sy kan net die woord “bloedlynvloeke” insleutel by die blokkie
“Soek Fasiliteit”. Dit sal haar na die artikel toe neem. Die
hooftrekke van die artikel is soos volg:

Ons mag nooit die mag van sonde
onderskat nie. Sonde is nie net iets persoonlik wat ‘n mens doen of nalaat om
te doen nie. ‘n Mens sondig nooit net in jou persoonlike hoedanigheid nie, dit
het altyd ‘n effek op die mense rondom jou. In dié sin is sonde ook ‘n
bo-persoonlike mag wat van ‘n persoon, familie of selfs gemeenskap besit kan
neem, met verwoestende gevolge. Kom ek gee ‘n voorbeeld. Wanneer ‘n kind
opgroei in ‘n gesin waar hy of sy van kleins af blootgestel word aan
mishandeling van watter aard ook al – die pa wat die ma mishandel, of die ouers
die kinders – dan is die kanse baie goed dat so ‘n kind, wanneer hy/sy
grootword, dieselfde gedragspatrone sal openbaar teenoor sý/háár kinders of man
of vrou. Dis asof mense vasgevang word in ‘n geweldspiraal waaraan hulle so
gewoond raak dat hulle moeilik daaraan kan ontsnap. As daar nie definitief
opgetree of besluite geneem word nie, kan dit gebeur dat hulle daardie gedrag
in hulle eie lewens as volwassenes voortsit, want dis vir hulle
“normale” gedrag. Maar dit het niks te doen met ‘n Goddelike vloek
wat “vir ewig” op ‘n gesin of familie rus waaraan jy niks kan doen
nie. God plaas nie vloeke op mense nie; Hy soek nie die dood of ongeluk van
mense nie. Die aard van sonde is net sodanig dat dit verwoestende gevolge het
as jy niks daaraan doen nie. Wat lei tot die volgende gedagte.

Die Bybel is duidelik daaroor dat ons
nooit vir God of ander die skuld kan gee vir ons eie oortredings en mislukkings
nie. God het ons met ‘n eie verantwoordelikheid geskape waarmee ons moet
woeker, hoe moeilik ons omstandighede ook al is. Wanneer ons verkeerd optree,
gaan God ons self verantwoordelik hou daarvoor. Ons kan nie sê dat dit God se
skuld is omdat Hy my in sulke ellendige omstandighede laat opgroei het, of ‘n
“vloek” op my geplaas het, of dat ek slegte ouers of maats gehad wat
my lewe verwoes het, of altyd verlei het tot sonde nie. Ek moet self keuses
maak oor hoe ek my lewe wil lei. ‘n Mens is nooit net ‘n gevangene of totale
slagoffer van jou omstandighede nie. Daar is soveel verhale van mense wat in
die haglikste omstandighede grootgeword het, maar met God se genade daarbo
uitgestyg het en ‘n wonderlike seën vir hulle familie en samelewing geword het.
En dit bring ons by die laaste gedagte.

God is ‘n genadige God, ‘n God wat
verlos van sonde. Dit is juis die hoofboodskap van die Bybel. God het geen
behae in die dood van die sondaar nie, maar daarin dat ‘n sondaar hom bekeer en
lewe. God wil nie hê dat ons voortploeter in die sonde nie, maar dat ons tot
insig kom van ons sonde, God se vergifnis ontvang en lewe. Daarom dat Jesus aan
die vrou wat in owerspel betrap is, kon sê: Ek veroordeel jou nie; jy kan maar
gaan, maar moenie verder sondig nie (Johannes 8:11). Dus, wanneer iemand tot
inkeer kom, belydenis van skuld en sonde doen, God se vergifnis aanvaar omdat
Christus in ons plek gesterf het, en die begeerte het om Jesus te volg, dan is
God genadig om ons die sonde te vergewe en aan ons ‘n nuwe lewe te skenk. God
hou nie ons verlede teen ons nie. Hy maak ons juis los daarvan en open vir ons
‘n nuwe toekoms. ‘n Mens mag dus nooit terugsit nie en dink: dis te laat; of ek
is nou maar wie ek is, my sonde is te groot; of God se vloek rus op my en my
familie. Nee, God staan altyd gereed om ons te vergewe en tot ‘n nuwe lewe vry
te stel.

Ek wil dus ons vraagsteller uitnooi om te vergeet van vals leringe soos God se vloek wat op haar en haar familie rus. Dis gewoon nie waar nie. Aanvaar God se genade en breek met die verlede. En baie belangrik: Kry hulp; moenie net op jou eie insig en krag staatmaak nie. Gaan spreek ‘n dominee, pastoor of ander geestelike leier. Daar is baie mense wat gereed staan om jou by die hand te vat en verder te help.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Stefanus word gevange geneem – Francois Malan

Liesl
vra:

In watter stad/dorp is Stefanus
gevange geneem????

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Toe daar in die gemeente in
Jerusalem klagtes van die Griekssprekende weduwees gekom het, is sewe mans uit
die gemeente gekies om die apostels te help. Stefanus was een van hulle
(Handelinge 6:5). Toe hy egter in die Joodse sinagoge van die Libertyne in
Jerusalem met hulle begin redeneer het, het hulle hom by die Joodse Raad gaan
aankla, wat hom verhoor het (Hand 6:6-15). Nadat hy die Joodse Raad toegespreek
het (Hand 8:1-53) was hulle briesend kwaad vir hom; hulle het hom uit die stad
Jerusalem gesleep en hom gestenig (Hand 7:58).

Skrywer: Prof Francois Malan




Demone uitdryf – Francois Malan

Hester vra:

My vraag
is kan ‘n Pastoor wat werklik en opreg is in sy Bediening vir ‘n lidmaat se dat
dit nie moontlik is om iemand te help wat ‘n duiwelaanbidder was nie. Moontlik
dalk nog steeds is en wat kan ons dan ons familie doen om haar te help om die
demone uit haar te kry en dan ons woning en wat nodig is daarna te salf.

Dit is
nogal baie dringend asseblief ek sal enige hulp waardeer.

Antwoord

Prof
Francois Malan antwoord:

Geen
mens kan ’n demoon of ’n duiwel uitdryf nie, slegs die Here kan dit doen.
Daarvoor kan ons tot Hom bid en hom vra om ’n duiwel uit iemand te kry.
Vergelyk Markus 9:28-29 Jesus se dissipels het Hom gevra: waarom kon ons nie
die gees uitdryf nie? Hy het vir hulle gesê: Hierdie soort kan met niks anders
as gebed uitgedryf word nie.’

Ons
het nie seggenskap oor die Here om Hom rond te jaag om te doen wat ons wil nie.
Hy doen wat Hy wil, en ons kan Hom slegs in ootmoed en nederigheid in gebed
vra, in die geloof dat Hy alles kan doen, maar Hy weet wanneer en hoe Hy dit
sal doen en of dit gedoen moet word. Daarom kan ons enige tyd na die Here toe
gaan in gebed en ook aanhou met bid oor ’n saak. Maar altyd aan die einde sê:
Laat nie my wil nie, maar U wil geskied. Hy weet wat die beste is vir elke mens
en Hy wil elke mens verlos van sy sonde en sondige begeertes en gebruike. Maar
Hy wil ook elke bidder verander om te lewe soos Hy van ons vra, om mekaar lief
te hê en die Here lief te hê as ons Verlosser.   

Jesus
het ons ook gewaarsku: Wanneer ’n onreine gees ’n mens verlaat, swerf hy deur
waterlose streke op soek na rus sonder om dit te vind. Dan sê die onrein gees,
‘Ek sal teruggaan na my huis wat ek verlaat het’ En by sy terugkeer kry hy dit
uitgevee en aan die kant gemaak. Dan gaan haal hy sewe ander geeste, slegter as
hyself, trek in en woon daar. Die uiteinde van daardie mens is erger as sy
begin (Lukas 11:24-26). As die Here nie self in ons bly deur sy Heilige Gees
nie, kan ons nie die aanslae van die duiwel weerstaan nie. As ons onsself aan
God onderwerp kan ons die duiwel weerstaan en hy sal van ons wegvlug (Jakobus
4:7).

Dit is nie nodig om die huis en ander goed te salf nie. Ons salf kan dit nie reinig of beskerm nie.  Ons lewe en ons goed word deur die woord van die Here gereinig. In Johannes 15:3 sê Jesus: ‘Julle is alreeds rein deur die woorde wat Ek vir julle gesê het.’ Sy woord kry ons in die Bybel en deur dit daagliks te lees skep Hy ons telkens nuut deur sy woord.

Skrywer: Prof Francois Malan




Jesus se Doop – Francois Malan

Francois vra:

Waarom
moes Jesus gedoop word en waarom het Hy toe eers die Heilige Gees ontvang ? As
drieenige God was die Heilige Gees mos reeds “by” Jesus gewees.

Antwoord

Prof
Francois Malan antwoord:

Johannes
die Doper het dieselfde vraag gehad. Mattheus 3:14-15:  Maar Johannes het Hom probeer teengaan met
die woorde: ‘Ek behoort deur U gedoop te word, en U kom na my toe?’ Jesus het
hom geantwoord: ‘Laat dit nou toe, want dit is goed dat ons op hierdie manier
alle geregtigheid vervul.’

‘Laat
dit nou toe,’ nou terwyl Ek praat. ‘Dit is goed’
– gepas en reg. Die woord ‘geregtigheid’ beteken om reg te doen volgens wat God
vereis. Johannes het mense gedoop en ’n doop van bekering met die oog op die
vergewing van sondes verkondig (Markus 1:4). Maar Hebreërs 4:14-15 sê ons
Hoëpriester, Jesus, die Seun van God…is nie ’n Hoëpriester wat nie medelye met
ons swakhede kan hê nie, maar Een wat, soos ons, in alle opsigte versoek is, en
dit sonder dat Hy gesondig het. En 2 Korinthiërs 5:21 sê: ‘Hy wat nie sonde
geken het nie, Hom het God sonde gemaak ter wille van ons sonde, sodat ons in
Hom (Jesus) voor God geregverdig kon word.’ Deurdat Jesus met sy doop Hom met die mensdom vereenselwig het en al ons sonde op Hom geneem
het
, sodat ons geregverdig voor God kan lewe en sterwe, word alle geregtigheid voor God met sy doop vervul. Daarom
was sy doop deur sy voorloper Johannes die Doper op daardie oomblik goed, gepas
en reg, want Hy het juis gekom om ons van ons sonde te verlos.

Jesus
se salwing met die Heilige Gees direk na sy doop verbind sy salwing met sy doop
as sy inhuldiging in sy taak as die Kneg van die
Here wat as ons Hoëpriester en as die Lam van God wat die sonde van die wêreld
wegneem, moes kom sterf volgens die verlossingsplan van God (Joh 1:29). Hy word
ook ingehuldig as die Seun van koning Dawid (Mattheus 1:1), wat oor die mensdom
kom regeer as die nederige Goeie Herder-Koning (Johannnes 10:11; 18:37).

Van
die toekomstige Dawid sê die Here in Jesaja 42:1 ‘Hier is my Dienaar, Ek stel
hom aan. Ek het hom uitverkies, hy geniet my guns. Ek laat my Gees op hom kom,
hy sal my wil aan die nasies bekend maak.’ Die woorde word in Mattheus 3:17
aangehaal, en in die aanhaling in Mattheus 12:18. Van die salwing van die Seun
van Dawid deur die Gees word in Jesaja 11:2 gepraat. Jesaja 61:1-2 praat van
die nuwe tyd van die Gees van die Here wat oor hom sal kom om ’n blye boodskap
(evangelie) te bring. In Lukas 4:16-19 lees Jesus in Nasaret se sinagoge Jesaja
61:1-2 voor en verklaar dan ‘Hierdie gedeelte uit die Skrif is vandag vervul
terwyl julle daarna luister.’ Die Gees van die Here het oor Hom gekom en die
Here het Hom gesalf om die blye boodskap te bring. Daarmee verwys Jesus na sy formele salwing met die Heilige Gees met sy doop, al
was Hy verwek uit die Heilige Gees (Mattheus 1:20). Sy formele salwing met die
Heilige Gees by sy doop is sy inhuldiging tot sy openbare bediening nadat Hy ’n
gewone skrynwerker in Nasaret was wat sy familie moes onderhou na Josef se dood
(Mark 6:3).

Jesus se bediening en sy Godheid word bevestig deur die stem uit die hemele wat gesê het: ‘Dit is my geliefde Seun oor wie Ek my verheug’ (Mattheus 3:17). Daarmee word die Drie-eenheid geopenbaar met die Vader se stem, die Seun wat mens geword het ter wille van ons, en die Heilige Gees wat soos ’n duif op Hom neerdaal om Hom te salf vir sy bediening van God se versoening met ons. Die woorde van God oor sy geliefde Seun weerspieël iets van die verhouding tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees waarvan 1 Johannes 4:8,16 sê: ‘God is liefde.’  Dat die Vader Hom oor sy Seun se bevestiging verheug, wys dat God bly is dat sy Seun Hom met die mensdom kom vereenselwig het om God se verlossingsplan vir die wêreld te kom deurvoer met sy liefdesoffer van Homself. Na Jesus se eerste aankondiging van sy lyding, dood en opstanding (Lukas 9:22) praat hy en Moses (verteenwoordiger van die Wet) en Elia (verteenwoordiger van die profete) op die berg van verheerliking oor sy uittog wat Hy in Jerusalem tot vervulling sou bring (Lukas 9:31). Toe kom daar weer ’n stem uit die wolk wat sê: ‘Dit is my Seun, die Uitverkorene. Luister na Hom.’ Hy is uitverkies vir sy uittog om aan die kruis te sterf vir die sonde van die wêreld.

Skrywer: Prof Francois Malan