Ja vir God, nee vir die kerk – Kobus Kok

Ja vir God, nee vir die kerk…dis hoe baie Christene voel.

“Jammer om dit te sê, maar Suid-Afrika is nie ver van hierdie trajek af nie. Indien die kerk nie nou radikaal wakker skrik nie, is dit onafwendbaar dat die kerk soos ons dit ken, ’n stadige (of dalk vinnige) dood gaan sterf,” sê Kobus Kok.

In Ja vir God, nee vir die kerk? praat Kobus Kok reguit hieroor. Hy skryf eerlik oor sy lewenslange liefde vir God, sy uitdagings as pastoriekind en sy lewe as NG predikant, asook sy lewe tans as professor in Nuwe Testament aan die Evangelische Teologische Faculteit Leuven in België.

Kom gesels saam by die bekendstelling van die boek en ‘n groepsgesprek oor die uitdaging van die kerk in moderne tye, onder leiding van Kobus Kok en Bouwer Bosch  op 15 September 2018.

Hiermee ‘n kort videogreep van Kobus:  Kliek hierop om te wys

Om sy boek se bekendstelling by te woon, kliek asb op die volgende skakel: Besprekings




Die Evangelie volgens Lukas: Terugskou oor die Lukasevangelie se beklemtonings – Francois Malan

Die Evangelie begin met ’n inleiding oor Lukas se skriftelike en mondelinge bronne en sy doel om dit in ‘n betekenisvolle samehang aan te bied om mense tot God te bekeer om die ware geluk te beleef (1:1-4). Daarop volg 1:5-4:13 met die geboorteverhale van Johannes en Jesus, ook die voorbereiding, doop en versoekings van Jesus. Die eerste hoofdeel (4:14-9:50) vertel van Jesus se lering, gelykenisse en wonders in Galilea. Die tweede hoofdeel (9:51-19:27 ) Jesus op pad na Jerusalem vir die einddoel van sy koms na die aarde, met talle gelykenisse en lering en min wonders. Derde hoofdeel (19:28-24:53) Jesus in Jerusalem: intog, profetiese rede, instelling van die nagmaal, Getsemane, gevangeneming en verhoor, kruisiging, dood, opstanding hemelvaart.

 Lukas plaas die verhaal van Jesus in die raamwerk van die wêreldgeskiedenis in 2:1-2 en 3:1. Lukas voer Jesus se stamboom terug tot by Adam, die vader van die ganse mensdom (3:23-38)). Ou Simeon sê dat Jesus ’n lig is wat vir die nasies tot openbaring dien (2:32). Lukas gee ook besondere aandag aan die Samaritane (10:33-37; 17:16). Die boodskap oor Jesus is vir alle nasies bedoel.

 Lukas lê besondere klem op die Heilige Gees wat werksaam is by Johannes die Doper (1:15), Maria (1:35), Elisabet (1:41), Sagaria (1:67), Simeon (2:25) en by Jesus (1:35; 3:16, 22; 4:1,14,18), en beloof word aan sy volgelinge (11:13; 12:12; 24:49); wie teen die Gees laster kan nie vergewe word nie (12:10).

 Gebed speel ’n belangrike rol in dié Evangelie. Nege keer het Jesus gebid: by sy doop (3:21), gereeld teruggetrek in afgeleë plekke (5:16), ’n hele nag in gebed voor die verkiesing van sy 12 apostels (6:12), alleen met sy dissipels (9:18), op die berg van verheerliking (9:28-29), sy lof aan sy Vader (10:21), toe die dissipels gevra het Hy moet hulle leer bid (11:1-4), in Getsemane (22:41-45), aan die kruis (23:34,46). Twee van sy gelykenisse gaan oor gebed: die vriend om middernag (11:5-13) en die weduwee en die onregverdige regter (18:1); vgl. die Fariseër en die tollenaar se gebede (19:10-14).

 Vreugde oor die genade van God word beklemtoon: 2:20 die engel aan die skaapwagters; vreugde oor verlore goedere en mense wat gevind word in 15:5-7, 9-10,23-24,32; Saggeus se blydskap 19:6. Die Evangelie begin en eindig met blydskap, Maria se gees jubel oor God haar Verlosser (1:47); die dissipels keer met groot blydskap terug ná Jesus se hemelvaart (24:52)). Slegs in Lukas kom die lofsange voor van Maria (1:46-55) en Sagaria (1:68-79) en die engele (2:14) en van Simeon (2:29-32).

 Lukas beklemtoon dat wat gebeur op bevel van God en volgens sy plan is. Maria aanvaar haar swangerskap as die wil van God (1:38). Die Fariseërs en die wetskenners het God se plan vir hulle verwerp (7:30). In Getsemane bid Jesus dat God se wil geskied (22:42);  ‘soos geskrywe is’ moet vervul word (18:31; 22:37). Dikwels word gesê dat Jesus iets  moet doen: 2:49 moet Hy met die dinge van sy Vader besig wees; 4:43 moet Hy die evangelie in die ander dorpe verkondig; 13:16 moet Hy op die Sabbat gebreklikes/siekes genees; 19:5 moet Hy in Saggeus se huis oorbly. Sy hele bediening is onderworpe aan hierdie ‘moet’ 13:33; veral sy lyding en dood wat tot verheerliking lei (9:22; 17:25; 22:37; 24:7,26,44). God is konstant besig met die lewe van mense om sy verlossingsdoel deur te voer.

 Die onbelangrike en minderbevoorregte mense van destyds ontvang besondere aandag van Jesus om hulle menswaardigheid te herstel en die hele samelewing van destyds en van vandag op nuwe verhoudings van liefde te stuur:

 Lukas gee besondere aandag aan die rol van vroue, wat in Jesus se tyd nie geag is nie: Maria 1:27, Elisabet 1:36, Hanna 2:36, Martha en Maria 10:38-39, Maria Magdalena 8:2, Johanna 8:3, Susanna 8:3, Maria die vrou van Jakobus 34:10, die weduwee van Sarfat 4:26, die weduwee van Nain 7:11, die sondares wat Jesus se voete gesalf het 7:37, die vrou wat bloedvloeiing gehad het 8:43; die vrou wat Jesus se moeder geseënd noem 10:27;  die gebreklike vrou 13:11; die vrou wat suurdeeg inwerk 13:21; die arm weduwee wat alles wat sy gehad het gegee het 21:2, die vroue van Jerusalem wat oor Hom gehuil het 23:28, en in die gelykenisse; die vrou wat haar geldstuk verloor het 15:8, die weduwee en die onregverdige regter 18:3.

 Lukas maak dit duidelik dat Jesus in kinders belangstel. Lukas begin met die geboorte van Jesus en sy kinderdae, en ook van Johannes die Doper se geboorte en naamgewing. Lukas praat van die ‘enigste seun’ en ‘enigste dogter’ van die mense oor wie hy skryf; 7:12 weduwee van Nain; 8:42 van Jaïrus; 9:38 seun met stuiptrekkings. Jesus vergelyk die Fariseërs en wetskenners met kinders op die markplein wat nie wil dans of treur nie (7:32). Wie ’n kind in Jesus se Naam ontvang, ontvang vir Hom (9:47-48). Die koninkryk van God behoort aan mense wat soos kinders na Jesus toe kom; wie die koninkryk van God nie soos ’n kind ontvang nie, sal beslis nie daar ingaan nie; en Hy raak die kindertjies aan (18:15-17). Die vroue van Jerusalem moet huil oor hulleself en hulle kinders (23:28).

 Lukas skryf hoe die genade van God tot mense gekom het. Selfs die eenvoudigstes, verlorenes en diegene op wie mense neersien, is die voorwerpe van God se liefde, soos die armes in 4:18; 7:22 die evangelie word aan die armes verkondig, 6:20 geseënd is julle wat arm is, 14:13,21 nooi die armes, kreupeles, verlamdes, en blindes na jou feesmaal; 16:19,22 die arm bedelaar Lasarus, 18:22 deel jou goed onder die armes uit; soos Saggeus 19:8 en die arm weduwee 21:2-3.

 Ook bv. die onbetroubare skaapwagters wat die eerste getuies van Jesus se geboorte word 2:8,17. Sy eerste dissipels was ongeleerde vissers (vgl. Hand 4:13), en ’n tollenaar 5:27, vgl. ook die tollenaars wat na Johannes die Doper gekom het om gedoop te word 3:12; 7:29; die Fariseërs en skrifkenners wat mor omdat Jesus saam met tollenaars en sondaars eet 5:29-30, 15:1-2; Jesus word genoem ’n vriend van tollenaars en sondaars 7:34; vgl. die tollenaar wat gebid het 18:10,11,13.

 Lukas beskryf die plan van God wat in die Skrifte aangekondig is om sondaars te red. Jesus voer God se plan uit, deur sy prediking en wonderdade, deur sy lyding, sterwe, opstanding en hemelvaart. Jesus stuur sy volgelinge na alle volke en rus hulle toe om Hom te volg en sy opdrag uit te voer om met woord en daad van Hom en sy redding te getuig. Slegs Lukas en Johannes van die vier Evangelies noem Jesus die Verlosser (sōtêr Luk 1:47; 2:11; Joh 4:42; ook in Handelinge 5:31; 13:23 en dikwels in Paulus en Petrus se briewe; een keer elk in 1 Joh en Judas).




Die Evangelie volgens Lukas: Jesus se hemelvaart (Luk 24:50-53) – Francois Malan

Lukas is eintlik die enigste Evangelie wat die hemelvaart van Jesus beskryf. In Hand. 1:9-12 brei Lukas daarop uit met meer besonderhede. Johannes eindig met Petrus wat by die see van Tiberias deur Jesus in sy amp herstel is en opmerkings oor Johannes se ouderdom (Joh 21). Mattheus vertel van Jesus se laaste opdrag aan die elf dissipels by die berg in Galilea waarheen Jesus hulle ontbied het (Matt 27:16-20). Volgens die oudste manuskripte eindig Markus eintlik met Mark 16:8. Daar bestaan vier verskillende slotte vir Markus ná 16:8, wat waarskynlik nie oorspronklik deur Markus geskryf is nie en later bygevoeg is uit gegewens uit die ander Evangelies en mondelinge tradisies. Die lang slot se twaalf verse, 16:9-20, is opgeneem in manuskripte uit die 5e eeu n.C., maar enkele tekste daarvan is al aangehaal deur van die ou skrywers aan die einde van die 2e eeu n.C.  Mark 16:19 verwys na die hemelvaart nadat Jesus aan die elf verskyn het terwyl hulle aan tafel was en met hulle gepraat het.

24:50-51 Lukas vertel dat Jesus sy dissipels uit die stad (Jerusalem) uitgelei het tot naby Betanië, wat 2.7 km oos van Jerusalem lê, bo-op die Olyfberg. Hand 1:9-12 sê ná hulle gesien het dat Hy opgeneem word en ’n wolk Hom uit hulle gesigsveld weggeneem het, staan daar meteens twee mans in wit klere wat sê dat Jesus net so weer sal terugkom. Daarna het hulle van die Olyfberg af na Jerusalem teruggekeer. In Hand. 1:3 sê Lukas dit was veertig dae na sy opstanding.

 Jesus het sy hande opgehef en hulle geseën, die groot seën deur die Hoëpriester, soos die Joodse hoëpriester uit die geslag van Levi volgens die orde van Aäron gewoonlik aan die einde van die tempeldiens oor Israel die seën van die Here uitgespreek het. Jesus is egter self die Here, die Priester vir altyd, volgens die orde van Melgisedek; die koning van vrede wat vir Abraham geseën het (Ps 110:4; Hebr 7:1,3,11). Met sy verheerlikte liggaam keer Hy terug na sy Vader en sy heerlikheid wat Hy gehad het voordat die wêreld bestaan het (Joh 17:5). Met sy seënende hande oor sy volgelinge skenk Hy hulle sy daaglikse beskerming, sy redding uit genade, sy verhoring van hulle gebede en gee aan hulle die vrede met God en hulle medemens (Num 6:23-27). Met die seën verbind Hy Hom aan sy volgelinge en verbind hulle aan God. Daardeur behoort ons aan Hom en aan sy Vader.

 ‘Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is in die hemel opgeneem.’ Voor die Sanhedrin het Hy al getuig: ‘van nou af sal die Seun van die Mens aan die regterhand van God die Magtige sit’ (Luk 22:69; Hand 2:34, soos in Ps 110:1). Paulus sê Hy sit aan die regterhand van God en tree vir ons in (Rom 8:34). Efesiërs 1:20-21: God het Hom laat sit aan sy regterhand in die hemel bo alle maghebbers, ja, bo enigiets wat genoem kan word, nie alleen in hierdie bedeling nie, maar ook in die toekomstige (vgl. 1 Petr 3:22: alles is aan Hom onderwerp).

 24:52 Terwyl Hy hulle seën het hulle op hulle knieë geval en Hom aanbid. Deur sy hemelvaart is hulle oortuig dat Hy die Seun van God is wat  aanbid moet word.  Met sy seën stel Jesus hulle onder sy beheer en beskerming vir die opdrag wat Hy aan hulle gegee het. Omdat hulle nou oortuig is dat Hy die Seun van God is, gaan hulle met groot vreugde terug na Jerusalem van die Olyfberg af. In Johannes 14:28  het Jesus al gesê as hulle Hom sou glo sal hulle bly wees dat Hy na sy Vader toe gaan, ‘omdat die Vader groter is as Ek.’ Die engel het vir die skaapwagters gesê: ‘Moenie bang wees nie. Kyk, ek bring vir julle ’n goeie boodskap wat vir die hele volk ’n bron van groot vreugde sal wees’ (Luk 2:10)  Daarom kon die eerste gemeente ook gereeld met blydskap saam eet (Hand 2:46). Vreugde is die kenmerk van die gelowiges wat van die hemelvaart van Jesus af teruggekom het. Vir Lukas is die vreugde oor Jesus baie belangrik. Die Evangelie wat in Luk 1:14 met vreugde oor Johannes die Doper begin, eindig hier met groot vreugde oor Jesus se hemelvaart. En deur die Evangelie loop vreugde soos ’n goue draad, die woord chara vreugde kom 8 maal voor: agalliasis uitermate bly 2 maal; makarios gelukkig 15 maal; die werkwoorde chairō bly wees 11 maal; agalliaō om uitermate bly te wees 2 maal; makarizō as gelukkig beskou; eufrainō bly wees 1 maal; sungairō saam bly wees 3 maal; eufrainō bly maak 6 maal; skirtaō spring van vreugde 3 maal.

 24:53 Bewus dat hulle onder die seënende hand van Jesus is, is hulle sonder vrees vir die Jode of die leiers voortdurend in die tempel, besig om God te prys. Lukas se Evangelie begin in die tempel waar Sagaria die belofte van die geboorte van sy seun Johannes die Doper ontvang. Met die dissipels in die tempel sluit Lukas sy Evangelie af. Daar vergader die verteenwoordigers van die nuwe Israel as getuies van die geskiedenis van Jesus, van sy kruisdood, en sy verhoging as die Messiaskoning aan die regterhand van die Vader. In Handelinge is die tempel ook vir die eerste gemeentes belangrik (Hand 2:46; 3:1; 5:42). Dit was ook die laaste werkplek van hulle Here (Luk 19:47 waar Hy daagliks in die laaste week onderrig gegee het; Luk 22:53). Daar prys hulle God om hulle opdrag van Jesus te vervul om in Jerusalem te begin om in sy Naam bekering tot die vergewing van sondes aan alle nasies te verkondig (Luk 24:47-48). Die groot dade van God (Hand 2:11) wat Hy deur Jesus verrig het moet nou al die volke bereik. Dit vervul hulle met groot vreugde.




Die Evangelie volgens Lukas: Jesus verskyn aan die dissipels (Luk 24:36-49) – Francois Malan

24:36 Terwyl die dissipels nog oor die dinge praat staan Jesus self tussen hulle en sê vir hulle: ‘Vrede vir julle.’ Die Jesus wat nou orals teenwoordig is, tree uit sy verborgenheid te voorskyn. Joh 20:19 verduidelik daarby dat die deure waar die dissipels vergader het daardie Sondagaand gesluit was en dat Jesus tussen hulle kom staan het met sy vredegroet (die gewone Joodse groet, sjalōm lekêm).

 24:37 Verskrik en beangs dink hulle dat hulle ’n gees (van iemand wat gesterf het) sien. Dit ten spyte van die getuienis van Petrus en die twee Emmausgangers dat hulle Jesus self gesien het, en dat Hy vooraf gesê het dat Hy gaan opstaan. Toe Hy in die nag na hulle toe op die see geloop het, het hulle ook beangs geskreeu omdat hulle liggelowig gedink het hulle sien ’n spook (Mark 6:49).

 24:38 Die gedagte van ’n gees kom uit ’n verwarde hart. Jesus vra ‘waarom is julle onder groot spanning en kom daar twyfel in julle harte op?’ Dit kom uit die skielike ontmoeting met die bo-natuurlike. Soos die Emmausgangers het hulle Jesus leer ken voordat hulle Hom herken het. Daarby het hulle nog geen idee van hoe die veranderde liggaam gaan wees nie – onsterflik, ’n geestelike liggaam in heerlikheid (1 Kor 15:42-44). 

 24:39 Aan sy hande en sy voete kan die merke van die kruisspykers gesien word – dit is Ek self (egō eimi ‘Ek is’ – Dit is ook sy identiteit, Hy is die teenwoordige God, vgl. Eks 3:14-15). Hy is God met die merktekens van die kruis. Dat Hy werklik gesterf en opgestaan het, word bewys dat aan sy liggaam (sarks) en bene gevat kan word (vgl. Joh 20:20,27; 1 Joh 1:1). Hy is nie ’n gees of ’n spook sonder liggaam nie. Hy het mens (sarks) geword (Joh 1:14), en na sy opstanding is Hy nog ’n mens, maar met ’n verheerlikte liggaam.

 24:40 Na sy woorde wys Hy ook vir hulle sy hande en sy voete, om hulle te verseker dat dit Hy is, die gekruisigde, wat opgestaan het en nou hier by hulle is (vgl. Joh 20:20).  

 24:41-43 Van vreugde oor sy teenwoordigheid kon hulle dit steeds nie glo nie en was verbaas oor die wonder van sy opstanding. Die dissipels wat van droefheid aan die slaap geraak het in Getsemane (22:45) is nou van vreugde nog ongelowig. Oorweldig deur hulle vreugde is dit vir hulle te goed om waar te wees. Daarom vra Jesus vir iets om te eet. Voor hulle oë eet Hy van die vis wat hulle vir Hom voorsit, ook as bewys dat Hy liggaamlik opgestaan het uit die dood, en dat Hy werklik teenwoordig is by hulle. Hy het ook die dogtertjie van Jaïrus laat eet nadat Hy haar uit die dood opgewek het om te wys dat sy waarlik lewe (Luk 8:55).

 24:44 Daarna gee Jesus aan hulle sy laaste reeks woorde, sy testament. Dit is sy heilige bemaking aan sy kerk wat hulle onveranderd moet onthou. Hy herinner hulle aan die woorde wat Hy aan hulle gerig het toe Hy ‘nog saam met hulle was’ – as aanduiding van sy aardse bestaan. Dit het ook verwys na die noodwendigheid van die vervulling van wat geskryf staan in die Wet van Moses (die eerste vyf boeke: Genesis-Deuteronomium) en die Profete (vroeëre profete: Josua-2 Konings (sonder Rut), die latere profete: Jesaja-Esegiël (sonder Klaagliedere)  met die twaalf kleinere profete Hosea-Maleagi) en die Geskrifte (die eerste boek is Psalms en daarna Job, Spreuke, Rut, Hooglied, Prediker, Klaagliedere, Ester, Daniël, Esra, Nehemia, Kronieke – dit is die volgorde van die Hebreeuse Bybel). Vir Jesus en sy dissipels en ook vir die gemeente het dit besondere betekenis. Die Griekse vertaling daarvan was ook die Bybel van die vroeë kerk, voordat die geskrifte in die Nuwe Testament stelselmatig bygekom het om die Ou Testament vanuit Jesus se woorde, lewe, dood en opstanding as die vervulling van die Ou Testament uit te lê en toe te pas.

 24:45 Ná sy verwysing na alles wat in die hele Skrif oor Hom geskryf is wat vervul moes word, open Hy die oë van  hulle verstand, hulle manier van verstaan, om self te verstaan wat die Skrifte oor Hom en sy kruisdood en opstanding sê. In Efesiërs 1:17-18 bid Paulus ‘dat die God van ons Here Jesus Christus…vir julle die Gees van waarheid en openbaring wat in kennis van Hom bestaan, sal gee sodat julle geestesoë  (letterlik: die oë van julle hart) verhelder kan word en julle kan verstaan…die hoop van sy roeping…die rykdom van sy erfenis…grootheid van sy mag.’ In Hand 16:14 vertel Lukas dat die Here die godvresende Lidia se hart oopgemaak het om ag te slaan op wat Paulus oor Jesus Christus gesê het. Die gemeente voer hulle verstaan van die Skrif terug na die Paasgebeure. Soos Jesus die harte en verstand van die Emmausgangers geopen het om die Ou Testament reg te verstaan (Luk 24:31-32), doen Hy dit nou vir die hele groep wat hier vergader is, sy kerk (die woord ‘kerk’ kom van die Griekse kuriakê, ‘wat aan die Here behoort, die Here s’n’).

 24:46 Hier gee Jesus die kern van sy boodskap aan al sy volgelinge deur die eeue, die dubbele raaiselagtige gebeure van die Seun van God (Luk 1:35; Rom 1:3-4). Christus, die Joodse verwagte Messias, ‘moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan.’ Dit gaan teen alle messiasverwagtings en alle menslike denke in. Dit word die sleutel tot die Skrif en word deur die Skrif verhelder. Paulus noem dit in 1 Kor. 15:1-5 die wesenlike van die evangelie, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte (Jes. 53:8-9): Hy is begrawe en op die derde dag opgewek volgens die Skrifte (Ps. 16:10; soos in Hos. 6:2; Jona 1:17), en Hy het aan Sefas verskyn en toe aan die twaalf…’

 24:47 Die geskiedenis van Israel met die voorspellings/profesieë van die heilstyd, met ander woorde die Ou Testament as profesie oor Jesus waarna Lukas verwys, is die eerste tyd. Die tyd van Jesus wat in die Evangelies beskryf word is die middel van die heilsgeskiedenis. Die tyd van die kerk se getuienis en sending onder leiding van die Heilige Gees wat in Handelinge begin beskryf word, is die derde tyd. (Hand 1:1 verwys na die Evangelie van Lukas as sy ‘eerste boek – logos’).  Jesus het die eerste lede van sy kerk op sy opstandingsdag bymekaar laat kom en aangestel as verkondigers van Hom wat gely en opgestaan het  (anístamai). In Jesus se Naam moet aan alle nasies verkondig word om hulle te bekeer tot vergewing van hulle sondes deur geloof in Jesus se soenoffer vir die sonde. Metanoia ‘bekering’ beteken om jou lewenswyse te verander as gevolg van ’n totale omkeer van jou siening en houding oor sonde en hoe om jou saak met God reg te stel, dat jy nie op jou eie goeie werke vertrou nie, maar geheel en al op die werk van Christus se sterwe aan die kruis vir die sonde van die wêreld.

 Die opdrag om na alle nasies te gaan is ’n vervulling van God se belofte aan Abraham in Genesis 12:3 ‘In jou sal al die volke van die aarde geseën wees.’ Simeon het reeds by Jesus se geboorte geprofeteer dat die baba ’n lig is wat vir die nasies tot openbaring dien (Luk 2:32a). Johannes die Doper het Jesaja 40:5 aangehaal: ‘Dan sal alle vlees sien hoe God verlossing bring’ (Luk 3:6). Daarmee word alle nasies opgeroep om deur geloof in Jesus tot die volk van God te behoort.

 Met die uitvoering van die opdrag moet hulle in Jerusalem begin. Dit wys dat God nie Israel verwerp het nie, maar vir hulle ’n deur na Hom toe oopgemaak het om deur Jesus na Hom toe te gaan. Simeon het ook gesê dat die baba in sy arms eer bring aan die Here se volk Israel (Luk 2:32b).   

 24:48  ‘Julle is getuies van hierdie dinge.’ Hulle is getuies van Jesus se kruisiging en sy opstanding uit die dood en die betekenis daarvan. Hulle is getuies van sy Naam, dit is van sy persoon en van sy werke. Hulle wat weer in die gemeenskap met Jesus opgeneem is nadat hulle Hom verlaat het, is getuies van hulle bekering en sondevergewing deur Jesus. So is hulle getuies van Jesus se vergewing van sonde wat hulle self beleef het. Die woord martus ‘getuie’ is ook die woord vir martelaar, bloedgetuie, wat sy lewe gee vir die getuienis oor Jesus, selfs as dit hulle lewe sou kos, soos vir die diaken Stefanus en die apostel Jakobus (Hand. 7:59-60; 12:2) en baie martelare vir Christus deur die eeue.

 24:49 God het belowe om hulle toe te rus vir die opdrag. Sy gawe is die Heilige Gees wat in ons kom woon om ons te lei en te versterk in die geloof. Daaroor wei Lukas later uit in Handelinge 2. Die tyd van die kerk begin met Jesus se hemelvaart. Dan sal Hy sy gemeente toerus met krag uit die hoogte. Hy gaan self met sy werk voort deur sy getuies in die wêreld, deur in hulle te kom woon. Sagaria het al geprofeteer dat, danksy God se innige ontferming, die môreson uit die hoogte oor ons opkom, om te skyn oor diegene wat hulle in die duisternis en in die skaduwee van die dood bevind, en om ons voete op die pad van vrede te plaas  (Luk 1:78). Die gemeente ontvang die ‘krag uit die hoogte’ soos ’n kleed waarmee ons beklee word (endusêsthe passief) as beeld van die Heilige Gees wat in ons kom woon (Hand 1:4). Die Gees sal ons bekwaam maak vir ons getuienistaak. Hy kom ons verander om soos Jesus te word, vol liefde, vreugde, vrede, vriendelikheid, geduld, goedheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (Gal 5:22).