Boom van kennis, goed en kwaad – Francois Malan

Martiens vra:

God die Vader het saam met Adam en Eva in die tuin gewandel, maar hulle mag nie van die boom van kennis goed en kwaad geëet het nie.

Eva en Adam het toe van die boom se appels geëet. beteken dit dan dat die duiwel: klaar uit die hemel gegooi is aarde toe voor Adam en Eva se tyd en hoekom is die duiwel uit die hemel gegooi?

 Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Die 72 wat Jesus voor Hom uitgestuur het na die dorpe wat Hy nog wou besoek, het teruggekom en met vreugde kom vertel dat selfs die demone hulle aan hulle, sy gestuurdes, onderwerp het op grond van Jesus se Naam. Die dissipels spreek Jesus aan as ‘Here’(kurios), wat die seggenskap het in God se koninkryk en selfs oor die demone, soos hulle dit, as sy gesante, self beleef het. Jesus sê toe vir hulle: ‘Ek het Satan soos ’n weerligstraal uit die hemel sien val’(Lukas 10:17-18).

 Die naam vir die duiwel ‘Satan’ is afgelei van die Hebreeuse woord wat ‘teenstander’ of ‘aanklaer’ beteken, (vgl. sy aanklag en teenstand teen Job en teen alle gelowiges; Job 1:6-12; 2:1-7; Openb 12:7-12).  Sy blitssnel skielike val uit die hemel, soos ’n weerligstraal, beteken dat hy nie langer enige aanklag teen ’n mens aan God kan voorlê nie, want Jesus het alle aanklagte teen mense op Homself kom neem toe Hy, die Seun God, mens kom word het, en ‘die skuldbewys met sy aanklagte teen ons uitgewis en dit vir altyd weggeneem het toe Hy dit die kruis vasgespyker het (Kol 2:14). In Rom 8:33-34 vra Paulus wie sal die uitverkorenes van God aankla? God is die Een wat vryspreek. Wie sal ons veroordeel? Christus het gesterf – meer nog: Dit is Hy wat opgewek is, wat ook aan die regterhand van God sit en wat ook vir ons intree (vgl. Ps 110:1). As God ons dan vrygespreek het, kan Satan ons nie meer by God aankla nie.

 Deurdat die groot aanklaer uit die hemel uitgewerp is omdat hy niemand meer by God kan aankla nie, kon die 72 dissipels die duiwels uitdryf en het die demone hulle aan die dissipels onderwerp op grond van Jesus se Naam, die Jesus wat al die versoekings van die Satan weerstaan het (Luk 4:1-13). Die Satan is eers uit die hemelse toegang tot God uitgewerp deurdat Jesus die sonde van die wêreld op Hom geneem het en die straf op al ons sonde namens ons gedra het. Joh 1:29 noem Jesus ‘die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.’

 Omdat die Satan uit die hemel uitgegooi is, en nou saam met sy engele op die aarde neergegooi is, probeer hy   sy heerskappy hier uitoefen (Openb 12:9). In Mattheus 12:24 word hy genoem Beëlsebul, die aanvoerder van die demone. 2 Kor 4:4 noem hom die god van hierdie bedeling. Maar dit beteken nie dat hy toe eers begin het om die mens te verlei nie. Daarmee is hy van die begin af besig, maar nou sonder dat hy die mens by God kan aankla. In Johannes 8:44 sê Jesus ‘die duiwel was van die begin af ’n mensemoordenaar en hy staan nie by die waarheid nie. Wanneer hy ’n leuen vertel, vertel hy dit uit sy eie, omdat hy ’n leuenaar en die vader daarvan is.’

 Voor Jesus se koms kon die duiwel vir Job by God aankla (Job 1:9-10; 2:4-5), en het Hy reeds op aarde die mense met leuens verlei, soos vir Eva vir wie hy gesê het: ‘Julle sal beslis nie sterf nie, maar God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles sal kan ken’ Gen 3:4-5. Toe besef die vrou dat die boom se vrugte goed is om te eet en mooi om na te kyk en begeerlik omdat dit kennis kan gee (Gen 3:6). Die vrou wou soos God wees om alles te kan ken. Dit beteken dat sy self god wou wees. En van daardie dag af leef ons mense almal vir onsself terwyl God ons gemaak het om vir Hom te lewe en vir mekaar, as God se verteenwoordigers in sy skepping (Gen 1:27-28).

 SkrywerProf Francois Malan




Die Evangelie volgens Lukas: Aanwysings vir die nuwe gemeente (Luk 22:35-38) – Francois Malan

22:35 Die gedeelte kom slegs in Lukas voor. Die aanwysings vir die toekomstige optrede van die gelowiges ná Jesus se hemelvaart begin met Jesus se vraag oor sy sending van die 12 en weer van die 72 dissipels se sending na al die dorpies wat Hy nog voor sy dood wou besoek het (Luk 9:1-6; 10:1-12). Jesus vra of hulle destyds iets kort gekom het toe Hy hulle sonder enige voorsiening, sonder geld, ekstra klere of sandale uitgestuur het. En hulle antwoord: ‘Niks nie’ want hulle is orals vriendelik ontvang en versorg (Luk 9:4; 10:7-8).

 22:36 Die genadejaar van Lukas 4:19 (uit Jes 61:2) is verby: ‘Maar nou…’ Die heerskappy van God is gevestig. Nou breek die tyd vir die nasies aan. Dit is die tyd van die kerk wat Lukas in Handelinge beskryf. Jesus gaan nie meer by hulle wees nie en sy volgelinge gaan nie meer beskou word as dissipels van ’n gerespekteerde en geliefde Meester nie. Hy is reeds deur die Joodse leiers verwerp en word dieselfde dag nog gekruisig. Hy sal deur die hele volk as ’n gehate krimineel beskou word. Dan sal volgelinge van die Gekruisigde ook soos Hy verag, uitgeskop en vervolg word. Die geldsak en die kossak word dan nie tuis gelaat nie, maar gaan saam, en ’n swaard (machaira kort swaard, selfs ’n dolk) word gekoop, al kos dit jou bokleed. Die middels om jou te versorg en te stry teen moontlike aanslae word nou noodsaaklik.

 Die swaard gaan nie om ’n oorlog nie (vgl. Luk 22:51), maar om die nuwe stryd, om die erns van die saak en om die lyding en ontberings wat kom, te beklemtoon. Die getuies van Jesus gaan nie meer orals vriendelik ontvang en versorg word nie (Luk 10:3: Gaan nou! Kyk, Ek stuur julle soos lammers tussen wolwe in’). Die dissipels sal die moed nodig hê wat ’n swaard meer nodig ag as jou laaste besitting, waarvan jou bokleed die beeld is. Maar die stryd vir God se koninkryk, waarvan die swaard ’n beeld is, kan nie laat vaar word nie.

 22:37 Die erns van die dissipels se aanstaande stryd en lyding word deur Jesus se dood bepaal. ‘Want Ek sê vir julle hierdie Skrifwoord moet (dei) in My vervulling vind:’ Met Jesus geskied wat in die Skrif aangekondig word. Die ‘moet’ verwys na die wil van God wat volbring moet word (vgl. Luk 10:50: Ek het ’n doop waarmee Ek gedoop moet word).

 Jesaja 53:12 sê dat die Kneg van die Here as misdadiger beskou is – letterlik in Hebreeus pesje’im: Hy is saam met die rebelle getel; Griekse LXX: anomois onder die wetteloses/ongehoorsames aan die wet, gereken – in Hand 2:23 beskuldig Petrus egter die Israeliete: julle het hierdie man deur die hande van wettelose mense gekruisig en doodgemaak. Daarmee verwys hy na Judas se verraad, die Sanhedrin se oortreding van hulle eie prosedures, die Jode wat geskreeu het ‘kruisig Hom,’ en Pilatus wat teen sy beterwete die reg oortree het deur ’n onskuldige te laat gesel en kruisig.

 ‘Want die woorde (van Jes 53:12) wat op My betrekking het, word inderdaad nou voltrek;’ vgl. Luk 18:31; 9:44). Jesus verwag die openlike verklaring dat Hy ’n wetsoortreder is, ongehoorsaam aan die wet van die Here soos die Sanhedrin sy uitsprake en sy bediening beskou het. Dit is omdat hulle Hom nie as die Seun van God kon aanvaar nie en daarom moet Hy dood omdat Hy die volk verlei om ’n ander god as die een wat hulle aanbid, te dien (vgl. Deutr 13:10). En daarom sal hulle ook nie Jesus se volgelinge aanvaar nie, maar hulle wil uitroei (vgl. Hand 4:17-18; 5:18; 7:58; 8:1-3; 12:1-3; ens.). Maar dit is alles deel van die wil van God (‘moet’) wat oor Jesus en oor sy volgelinge regeer. Deur Jesus en sy volgelinge se verwerping en lyding word die wil van God en sy verlossingsplan vir die wêreld volbring (vgl. Romeine 8:17).

 22:38 Soos in die verlede verstaan die dissipels Jesus verkeerd. Hulle neem sy woord oor die swaard letterlik op en sê hulle het twee swaarde onder hulle. Maar Jesus breek die gesprek af, waarskynlik omdat hulle Hom nie verstaan nie. Hulle dink aan die geveg wat gaan uitbreek as Jesus oorgelewer word. Hy dink aan die komende tyd van vervolging en martelaarskap van sy volgelinge na sy dood. Daarom sê Jesus: ‘Dit is genoeg’ (hikanon estai) – genoeg van die gesprek en die onderrig van sy volgelinge, wat hier in Lukas afgesluit word (vgl. die Here se woord aan Moses in Deutr 3:26 ‘Jy het nou al genoeg daaroor gepraat’ Letterlik in Hebreeus : rab-leka genoeg vir jou; Grieks LXX: hikanousthō soi genoeg vir jou). Efesiërs 6:17 sê die swaard van die Gees is die woord van God.

 [Die misverstand oor die twee swaarde sit ook agter Pous Benedictus III se Bul ‘Unam sanctam’ van 18 Nov 1302 wat op grond van Lukas 22:38 en Matt 26:52 verklaar het dat die Here aan die kerk die mag van twee swaarde gegee het, die geestelike en die materiële gesag. Maar lank voor hom het die kerk al geweld gebruik vir sy uitbreiding en verdediging (vgl. bv. die kruistogte van 950-1350 n.C. wat veral teen die Moslemmagte opgetree en op die end verloor het,  en die inkwisisies wat ketterye met bloed wou uitroei. In 1229 is die prosedure van die inkwisisie gesistematiseer, en in 1814 is die inkwisisie weer opnuut in Spanje ingestel].




Die Evangelie volgens Lukas: Petrus se verloëning aangekondig (Luk 22:31-34) – Francois Malan

22:31 Die twee inleidende verse, 31-32, kom slegs in Lukas voor. Jesus waarsku Petrus met ’n dubbele aanspreking van sy naam Simon om die erns van die saak en die swakheid van die mens te beklemtoon (nie die ‘rots’naam wat Jesus hom gegee het nie, Luk 6:14; vgl. Matt 16:18; maar wat Jesus wel in vers 34 gebruik). ‘Kyk, Satan (die aanklaer) het daarop aangedring (eksaiteomai om iets te vra en te ontvang wat jy gevra het) om julle soos koring te sif.’ Hoewel die Satan soos ’n weerligstraal uit die hemel geval het (Luk 10:18; Openb 12:10) sit hy sy werk op die aarde met groot woede voort (Openb 12:12). Maar ook hier kan hy nie optree sonder die toestemming van God nie (vgl. Job 1:12; 2:6). Die gelowiges oorwin die aanklaer op grond van die bloed van die Lam en van hulle getuienis (Openb 12:11).

 ‘…om julle soos koring te sif.’ Die dissipels moet verwag dat die verleier, Satan, hulle in die besonder sal toets en sal verlei om die verkeerde te doen. Met Judas, aan wie die geldbeurs van Jesus en die apostelgroep toevertrou was, het Satan dit reeds reggekry. Die volgende op sy lys is die leier onder die apostels, Petrus. Satan wil nie dat daar enige koring oorbly nie, maar dat julle soos kaf uitgesif word – die Satan het toestemming gekry om ‘julle’ te sif  (vgl. Luk 3:17).

 22:32 Satan is die dissipels se teenstander; ‘maar Ek het vir jou gebid’ (deomai om dringend te vra i.v.m. ’n behoefte, te pleit). Jesus staan aan Petrus en die dissipels se kant. Hy sê Hy het reeds ter wille van (epi) Petrus by die Vader gepleit ‘sodat jou geloof (in Jesus, 18:8) nie sal ophou nie – sodat hy nie sal ophou om (op Jesus) te vertrou nie (pistis verwys na geloof en na vertroue). In Luk 18:8 het Jesus reeds sy bekommernis uitgespreek: ‘Die vraag is net: Sal die Seun van die Mens, wanneer Hy kom, geloof op aarde vind?’ Want dit is waarvoor Hy na die wêreld toe gekom het. In Luk  7:50 het Hy vir die slegte vrou wat sy voete met haar trane gewas en met haar hare gedroog het, gesê: ‘Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede;’ ook vir die vrou wat bloedvloeiing gehad het en aan sy soom geraak het (8:48); en vir die Samaritaanse melaatse wat teruggekom het om God te dank vir sy genesing (17:19); en vir die blinde by Jerigo wat aanhou roep het na Hom (18:42). Jesus het gekom om mense te red uit hulle sonde, maar die mense moet in Hom bly glo om daaraan deel te hê.

 Jesus is seker dat sy gebed verhoor is. Hy sê vir Petrus: ‘En wanneer jy tot inkeer gekom het (epistrepsas omdraai, terugkom, tot geloof kom, tot God kom in berou), moet jy jou broers (medegelowiges) versterk’ in hulle geloof. Dit verwys seker na Petrus se berou na sy verloëning van Jesus en sy herstel in sy amp volgens Joh 21:15-17. Na sy ondervinding van sy eie swakheid kan hy sy medegelowiges, wat ook moontlik kan struikel, beter versterk in hulle geloof en vertroue op Jesus. Lees wat hy later in 1 Petrus 1:6-9 oor die egtheid van geloof in Jesus Christus skryf.

 22:33 Die gesprekke van verse 33-34 kom in al vier Evangelies voor. Lukas verkort die berig drasties en gebruik sy eie woorde. Seker van homself, verklaar Petrus dat hy gereed is om saam met Jesus tronk toe te gaan en tot in die dood. Hy glo nie hy sal ’n bekering terug na geloof in Jesus nodig hê nie.

 22:34 Teenoor Petrus se versekering van sy trou aan Jesus, antwoord Jesus met die aankondiging van sy verloëning deur Petrus: ‘Petrus, die haan sal vandag nie kraai nie, voordat jy drie maal heftig ontken het dat jy My ken.’ Die Joodse dag begin die vorige aand met sonsondergang. Die Joodse Pasga hou gewoonlik aan tot middernag. Die derde Romeinse nagwaak, van middernag tot 3vm, word ook genoem ‘hanekraai’ (Mark 13:35).

 Die woord aparneomai ‘heftig ontken’ in Lukas, Markus en Mattheus, is sterker as Johannes 13:38 se arneomai ‘ontken.’  Hier gebruik Jesus die naam Petrus (rots) waarop Jesus sy kerk gaan bou (Matt 16:18). Die rotsman van Jesus gaan verbrokkel voor die vyande van Jesus, nie een maal nie, maar drie maal in een nagwaak van dieselfde dag as die paasmaal.

 Volgens Lukas, Markus en Mattheus het Jesus en sy dissipels die Donderdagaand, wat met sonsondergang Goeie Vrydag geword het die paasmaal gevier. Tydens die maaltyd het Jesus vir Petrus gewaarsku. Om middernag het hulle na die tuin by die Olyfberg gegaan, waar Jesus gevange geneem is. Toe het Petrus vir Jesus verloën voor die einde van die hanekraainagwaak wat teen 3vm. eindig. Dit gebeur buite die ampswoning van die hoëpriester waar Jesus die nag verhoor is, langs die vuurtjie van die soldate wat vir Jesus gevang het. ‘Petrus, die haan sal vandag (Goeie Vrydag van Jesus se kruisiging, wat reeds Donderdagaand aangebreek het) nie kraai nie, voordat jy drie maal heftig ontken het dat jy My ken.’




Die Evangelie volgens Lukas: Ware grootheid deur diens (Luk 22:24-27) – Francois Malan

Hier volg vier gesprekke van Jesus: 22:24-27 oor die rangstryd onder die dissipels, met 22:28-30 die belofte aan die twaalf, 22:31-34 die gesprek met Petrus, en 22:35-38 die moeilike tyd wat vir die dissipels voorlê. Lukas bied dit aan as Jesus se laaste woorde aan sy apostels voor sy sterwe, sy testament, soos in Johannes se hoofstukke 13-17.

 22:24 Die stryd tussen die apostels oor wie Jesus gaan verraai, gee aanleiding tot Lukas se plasing van die twis onder hulle oor wie van hulle as die belangrikste (meidzōn hoër status as die ander) beskou moet word (twis, filoneikia letterlik: ’n ‘begeerte om te redeneer’ het onder hulle ontstaan). Dit knoop aan by Jesus se aankondiging dat Hy die vrug van die wynstok eers weer sal drink wanneer die Pasga vervul is in die koninkryk van God. Markus 10:35-45 vertel van die dissipels se verontwaardiging oor Jakobus en Johannes se versoek om aan Jesus se linker- en regterhand te sit in sy koninkryk. Maar hulle kon hulle nie indink in ‘n koninkryk waar daar geen voorrang is nie. In Luk 9:46 het hulle al ’n argument onder mekaar gehad oor wie van hulle die belangrikste is. Ná al die tyd saam met Jesus is hulle hier, die aand voor sy kruisiging, nog besig om te twis oor hulle posisies.  

 22:25 Jesus gryp by hulle twis in met ’n politieke beeld. Hy wys dat hulle onderlinge stryd op valse veronderstellings berus. Hulle beoordeel hulleself en mekaar volgens konings en gesagsdraers van die nasies se manier van regeer. Maar Jesus moet nie in dieselfde liga as een van die konings van die volke gereken word nie. Hy is heeltemal ‘n ander soort koning,  die Gesalfde (Messias) van die Here (vgl. Luk 2:26 so aan Simeon geopenbaar; Luk 9:20 Petrus se belydenis; Luk 20:41-44 Dawid se lofsang). Dit is heeltemal ’n ander tipe koningskap. Aardse konings is tevrede as hulle mag kan uitoefen en hou daarvan om as weldoeners geprys te word. Party konings van die ou tyd het hulleself ‘weldoeners’ laat noem.

 22:26  Letterlik: ‘Julle egter nie so nie! maar laat die belangrikste (meidzōn dié wat belangriker is) onder julle soos die jongere (ho neōteros) wees en die een wat heers soos iemand wat dien (diakonōn nederig dien, soos ’n tafelbediende).’ Teenoor die grootheid van mag en roem word die grootheid van die jongeres gebou op diens. Mark 10:45 Die Seun van die Mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie (vgl. Matt 20:28). In Luk 9:48 het Jesus reeds vir die dissipels wat gestry het oor wie die belangrikste is, gesê: ‘Wie hierdie kind in my Naam ontvang, ontvang My…die kleinste onder julle almal, hy is groot.’ Luk 18:27: Voorwaar, Ek sê vir julle ‘Wie die koninkryk van God nie soos ’n kind ontvang nie, sal beslis nie daar ingaan nie.’ Vir sy toekomstige gemeentes wys Jesus die weg aan. Die leiers in die gemeente is daar om die jongeres te dien. Hulle grootheid sal uit hulle nederige diens blyk. In God se koninkryk word al die wêreldse maatstawwe van grootheid en gesag omgekeer en gaan dit om die grootheid van jou liefde en liefdesdiens.

 22:27 ‘Want…’ Jesus verduidelik die maatstaf vir lewe onder God se koningskap met die beeld van die tafelbediening.  Op eg Palestynse wyse vra Hy ’n dubbele vraag: ‘Wie is belangriker, die een wat aan tafel aanlê of die een wat bedien? Is dit nie die een aan tafel nie?’ En Hy gee sy eie optrede as sy antwoord op die twee vrae as die nuwe maatstaf vir die lewe van sy volgelinge: ‘Tussen julle is Ek egter soos iemand wat dien.’ Hy het die brood en die wyn bedien as tekens van sy groot diens aan die ganse mensdom met sy liggaam en bloed aan die kruis. Waarskynlik verwys dit ook na sy optrede by die einste ete, soos dit uitgespel word in Johannes 13 se weergawe met Jesus wat die voete van sy dissipels gewas het voor die laaste maal (vgl. ook die gelykenis in Luk 12:37). Deelname aan die tafelgemeenskap met Jesus aan die nagmaal verbind ons aan nederige diens aan mekaar, want die nagmaal herinner ons aan sy nederige liefdesoffer van Homself vir ons sondes.

 Die aanstelling van die apostels in hulle ewige taak (Luk 22:28-30) 

22:28 Na die woorde oor dienslewering volg hulle aanstelling om te wys dat dié wat dien deur God verhoog word. ‘Maar dit is julle wat by My gebly het (hoi diamemenêkótes, perfektum deelwoord – altyd gebly het en die toestand duur voort) in al my beproewings (peiramois beproewings, toetsinge, versoekings).’ Jesus kyk terug op sy bediening. Hulle was sy kamerade en begeleiers wat alles saam met Hom ondervind het, sy beproewings deur die Jode en sy versoekings deur die duiwel (vgl. Luk 4:13).   

 22:29 ‘Ek gee (diatithemai  om ’n verbond te maak, ’n ooreenkoms met wedersydse voordele en verantwoordelikhede ) aan julle, soos my Vader aan My gegee het, die reg om te heers (basileia om soos ’n koning met volmag te heers, en om jou opvolger/s aan te wys). So het die Here vir Dawid as koning laat salf met die belofte dat sy koningskap vir altyd sal voortbestaan (2 Sam 7:12-13). Dawid het die Here gevra: seën die huis van u dienaar om vir altyd in u diens te wees  (2 Sam 7:29). So lyk die verbond in Jesus se bloed wat Hy met ons gesluit het deur self vir ons verlossing te sterf (Luk 21:20) 

 In Luk 4:18-19 lees Jesus uit Jes 61:1-2 dat die Gees van die Here Hom gesalf het om die goeie boodskap aan arm mense te verkondig en om die genadejaar van die Here aan te kondig. So gee Jesus aan sy dissipels nou die reg om die goeie boodskap (die evangelie) te verkondig en die bevryding van die genadejaar van die Here aan te kondig.

 22:30 Die salwing of doop van die apostels met die Gees van die Here, waarvan Hand 1:5 praat, is om getuies vir en van  Jesus in die hele wêreld te wees (Hand 1:8). Hulle aanstelling kondig Jesus in hierdie vers aan. Maar dit verwys ook na die voortsetting van hulle amp in Jesus se koninkryk, om aan te sit aan sy feestafel (beeld van gemeenskap), in die ewigheid, waarvan die nagmaal nou reeds ’n voorafskaduwing is. Dit behels ook om in die ewigheid reg te spreek oor die twaalf stamme van Israel (soos Paulus daarna verwys in 1 Kor 6:2-3; vgl. ook Luk 11:31,34), maar in die huidige bedeling word die sleutels van die hemel reeds aan Petrus en die ander dissipels en aan die gemeente gegee (Matt 16:19; 18:18-20; Joh 20:21-23; Openb 3:7). Dit bly egter ’n heerskappy deur diens aan die Here en aan sy mense, soos Hy dit op aarde uitgeoefen het, ’n verbond wat Hy met ons gesluit het deur sy bloed, deur sy lewe as offer vir ons sonde in die dood oor te gee. Dit is ware grootheid, die grootheid van die liefde (Rom 5:6-11).