Die Evangelie volgens Lukas: Jesus se klag oor Jerusalem (Luk 13:31-35) – Francois Malan

13:31 ‘Juis op hierdie tydstip (letterlik: op hierdie uur)’ – Lukas plaas hierdie deel van Jesus se reis onderweg na Jerusalem deur groot en klein dorpe (13:22) blykbaar in Perea, in die gebied van Herodes Antipas. Sommige van die Fariseërs kom Jesus waarsku oor Herodes se planne om Hom uit die weg te ruim. Herodes was blykbaar ’n man wat nie moeilikheid in sy gebied wou hê nie (die Joodse geskiedskrywer Josefus sê Herodes was ’n man ‘wat gehou het van ongestoorde rustigheid en gemak’(Antiquities of the Jews 18:7:2). Volgens Luk 9:9 het Herodes erken dat hy Johannes die Doper onthoof het, en dat hy probeer het om Jesus te siene te kry, waarskynlik om die skares wat Jesus gelok het en wat hy as ’n bedreiging vir vrede in sy land gesien het, stop te sit. Jesus stuur ’n boodskap na Herodes terug, waarskynlik saam met die Fariseërs wat die boodskap gebring het, wat eintlik aandui dat hulle ook vir Jesus uit hulle gebied wou weg hê, waar hy deur die dorpies die mense anders geleer het as wat hulle die mense leer (vgl. 12:1). Of dat hulle wou hê dat Jesus na Judea toe moet uitwyk waar hulle groter gesag kon uitoefen deur die Sanhedrin. Of was hulle opreg bekommerd oor Jesus se veiligheid?

13:32 Jesus noem Herodes ’n jakkals, geslepe en listig om Hom met ’n draai deur ander mense skrik op die lyf te jaag; die jakkals is die klein roofdier in Israel teenoor die leeu as die groot roofdier. Herodes was slegs tetrarg, wat regeer het oor ’n kwart van sy pa se gebied en dit by grasie van Rome, die groot leeu, wat deur Pilatus verteenwoordig is. Maar Jesus kom met ’n hoër gesag wat vandag en môre duiwels uitdryf en siekes gesondmaak; en op die derde (Vaticanus voeg in ‘dag’) sal Ek klaar wees en my hele sending suksesvol voltooi. Die werkwoord ‘voltooi’ is passief wat daarop dui dat dit God is wat Jesus gestuur het en sy sending sal afsluit. God, en nie Herodes nie, sal besluit wanneer Jesus gaan sterf en op die derde dag opstaan. Nou gaan Hy nog voort om die evangelie met woord en daad te verkondig.

13:33  Jesus moet (dei, volgens die plan van God wat Jesus se lewe en bewegings dra en lei. Jesus is God se plan wat besig is om te gebeur) vandag en môre en die volgende dag verder gaan met sy reis om die werk waarvoor Hy gekom het voort te sit. Die eindpunt van sy reis is Jerusalem waar die profete doodgemaak word (vgl. Luk 11:51; Jer 26: 20-23; 2 Kron 24:20-22; Josefus sê Hiskia se seun Manasse was so boos dat hy elke dag profete doodgemaak het tot Jerusalem vol bloed was (Ant. of the Jews 10:3:1). Jesus is beskou as ’n profeet (vgl. Luk 4:24; 7:16,39; 24:19). Nie Herodes nie, maar Jerusalem sal Jesus doodmaak. Daar word die verhore teen profete deur die Sanhedrin verhoor. Daar sal die houding van Israel teenoor Jesus finaal gevorm word en waar sy dood God se doel met sy Messias volbring sal word (Joh 19:30 Dit is volbring!). Juis deur sy dood sal Hy almal na Hom toe trek (Joh 12:32-33).

13:34 Die afsluitingswoord oor Jerusalem is ’n profetiese uitspraak. Dit is as profeet wie se woord verwerp word deur Jerusalem dat Jesus in Jerusalem sal sterwe. Die dubbele uitroep ‘Jerusalem, Jerusalem’ maak die oproep tot die stad soveel dringender en intiemer, ’n betoning van Jesus se liefde vir die stad en sy mense wat hulle dringend waarsku (vgl  Luk 22:31); die Heilige Stad aan wie die Here toegewy is. Hulle wat die profete wat God se woord aan hulle bring, gereeld doodmaak, en die mense wat die Here na hulle toe stuur gereeld stenig (die teenwoordige deelwoorde dui daarop dat dit telkens geskied). Hulle bring die oordeel oor hulleself deurdat hulle die boodskappe verwerp, wat hulle tot gemeenskap met God sou bring. ‘Hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke’ – Jesus is die toevlug wat ’n mens by die Here het, soos Boas vir Rut gesê het: Mag jy ’n welverdiende beloning ontvang van die Here die God van Israel, onder wie se vleuels jy kom skuil het (Rut 2:12; vgl. Dawid se gebed in Ps 17:8 verberg my in die skadu van U vleuels; Ps 36:8: die troue liefde van God maak dat mense in die skadu van U vlerke kom skuil; vgl. Ps 57:2; 61:5; 63:8; 91:4; soos ’n arend sy kleintjies op sy vlerke dra Deutr 32:11). So het Jesus vir Israel die toevlug tot God oopgemaak, soos sy gelykenis van die verlore seun en oudste broer aan die Fariseërs en skrifkenners verduidelik (Luk 15:11-32). Maar die aanbod wat Jesus dikwels aan hulle gemaak het, wat wys na meer kere wat Jesus daar was as wat in die Evangelies beskryf is (of deur die eeue, Jer 22:5-9), word afgewys: ‘maar julle wou nie.’

13:35 Jerusalem word aan die oordeel van God oorgelaat sonder ’n toevlug of beskutting. ‘Jou huis’ verwys na die tempel in Jerusalem waarin God woon. ‘Kyk! jou huis word vir jou verlaat’ – die Godsnaam word deur die passiewe vorm van die werkwoord in die sin verberg, dit beteken: God gaan julle tempel verlaat (vgl. Jeremia 12:7; 22:5).

Die laaste seënwoord is vir Jode wat hulle in Jesus se arms kom werp (Rom 11:23-24), maar dié wat nie in Hom glo nie, sal op die oordeelsdag teen hulle wil moet erken: Geseënd is Hy, Jesus, wat kom in die Naam van die Here (Ps 118:26; Fil 2:9-11). Die huiseienaar sal egter sê: Ek ken julle nie (Luk 13:28).




Die Evangelie volgens Lukas: Die smal deur na die koninkryk van God (Luk 13:22-30) – Francois Malan

13:22 Lukas herinner sy lesers dat Jesus op pad is na Jerusalem. Maar Jesus is nie haastig nie, en die reis neem lank. Die imperfektum van die woord dieporeueto verwys na ’n wye reis en deeglike besoek aan stadjies en dorpies waar Hy onderrig gee,  terwyl Hy nie Jerusalem as die mikpunt van sy reis uit die oog verloor nie. Jesus se prediking oor die koninkryk van God het vir Jesus alles te doen met wat Hy in Jerusalem gaan volbring. Dit verhoog die spanning by die mense wat luister na sy verkondiging. Die suurdeeg is besig om te werk (13:21) en die einde van die jaar wat die vyeboom gegun word (13:8-9), kom nader.

13:23 Daarom vra een van die mense uit die skare of diegene wat gered word maar min is. Die Fariseërs het gereken dat alle Jode as kinders van Abraham, gered sal word. Maar Jesus se boodskap oor God se koninkryk, wat bekering vereis (13:3,5), en dat die verdeeldheid oor Hom selfs deur huisgesinne sal loop (12:51-53, laat vraagtekens daaroor.

13:24 Jesus spekuleer nie oor die vraag nie, maar antwoord met die gelykenis van die nou deur. Daarmee waarsku Hy almal wat op hulle eie tevergeefs sal soek om deur die nou (stenos nou, beperkte) deur (na die feesmaal) in te gaan met sy wederkoms. Hulle moet nou stry om daar in te gaan (12:31; agōnizomai om alles moontlik met groot intensiteit te doen; die woord agōnizomai word gebruik vir ’n atleet wat alles inspan om die wenpaal te haal, Hebr 12:1):

deur hulle verbintenis met die Seun van die Mens (14:26-27,33)

deur jouself te verloën en Jesus te volg (6:22-23)

te midde van mense se haat teen Jesus en sy volgelinge (12:8-9)

deur Hom voor die mense te bely (22:28-30)

deur by Jesus te bly deur al sy beproewings (9:48)

deur die minste te wees (18:14: deur jouself te verneder).

Hy skenk dit aan sy volgelinge, aan hulle wat in Hom glo; Hy is die nou deur na die koninkryk van God.

13:25 Die nou deur na die Vaderhuis bly ook nie vir altyd oop nie. Wanneer die Eienaar van die huis (oikodespotês) opstaan om die fees te laat begin, en die deur sluit, sal Israel as God se volk aanspraak maak om in te gaan deur aan die deur te klop en te sê ‘Meneer, maak vir ons oop.’ Maar die Eienaar van die huis sal hulle antwoord en sê: ‘Ek ken julle nie, waar julle vandaan kom nie.’ Dat hulle aan Israel behoort dra geen gewig meer nie. Om jou heil te bou op jou eie goeie werke word op ’n aanskoulike wyse afgewys.

13:26 Heel beeldryk word die gesprek tussen die Eienaar van die huis en die mense buite die geslote deur geskilder. Jesus weet dat hulle sal sê dat hulle in die verlede met Hom kontak gehad het toe Hy vir ’n wyle by hulle was; dat hulle  voor Hom (enōpion), aan sy maaltyd geëet en gedrink het (dink maar aan die spysiging van die 5000, ens.) en Hy het op hulle strate (in hulle dorpe en stede) geleer/onderrig gegee. Om aan Jesus se tafel te sit en na Hom te luister sonder om sy woord te glo en Hom en sy woorde en sy voorbeeld te volg, is geen waarborg nie.

13:27 Hoewel hulle sal aanspraak maak dat hulle Hom geken het, sal Hy ontken dat hulle Hom gevolg het, en Hy sal hulle wegstuur met die woorde van Ps 6:9. Hulle dade van onreg teenoor ander, sonder barmhartigheid teenoor ander, bewys dat hulle Hom nie gevolg het nie.

13:28 Die huis waarvan die deur gesluit is, is ’n beeld van die koninkryk van God.  Die Jode beroem hulleself as afstammelinge van die aartsvaders, en op die profete wat hulle gewaarsku het om hulle lewenswyse te verander. Die aartsvaders en die profete sal aansit aan die feesmaal in die koninkryk van God. Maar baie van die volk van God se verbond met Abraham Isak en Jakob, sal uitgesluit wees, na buite uitgeworpenes wees (ekballoumenous heksō), omdat hulle hulle nie bekeer het en in Jesus geglo het nie. Vir hulle sal daar ’n geween en ’n gekners van tande wees, onuitspreeklike smart, trane en gewetenswroegings, frustrasie en diepe teleurstelling.

13:29 Dan sal die profesieë vervul word: Jesaja 2:2-4 praat van die nasies wat sal stroom na die berg van die Here; Jes 49:12: hulle kom uit die noorde en uit die weste; Miga 4:1-2: die volke sal daarheen stroom, baie nasies sal daarnatoe optrek; Jes 25:6-8 praat van die feesmaal op die berg van die Here vir al die volke, waar die trane afgedroog en die smaad, wat sy volk aangedoen is, verwyder word. Die volke sal saam met die aartsvaders aansit in God se koninkryk. Israel se verwagting was dat die volke uitgewerp sal word en dat hulle sal ingaan; maar Jesus draai dit om. Dié mense wat sy uitnodiging om hulle tot Hom te bekeer verwerp, sal uitgewerp word, en die gelowiges uit die nasies sal opgeneem word. Die maatstawwe van die koninkryk van God is so anders as die aarde s’n, dat daar baie verrassings sal wees.

13:30 ‘Let op! wie laastes is’ in Jesus se tyd, nl. die volke, ‘sal eerstes wees’ om deur die smal deur in te gaan na die feesmaal van die koninkryk van God, ‘en wie eerstes is’ in Jesus se tyd, nl Israel, ‘sal laastes wees’ omdat hulle die Genadejaar van die Here wat aangebreek het (Luk 4:19), nie herken het nie (Luk 4:30; 10:13-16; 12:56). Vir die laastes wat hulle betyds tot die Here bekeer, wat insien dat hulle nie geregtig is op grond van die waan dat hulle eerstes is nie, maar hulle op die genade van die Here werp en sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here (13:35) is daar ’n sprankie hoop.




Die Evangelie volgens Lukas: Die gelykenisse van die mosterdsaadjie en die suurdeeg (Luk 13:18-21) – Francois Malan

13:18 Jesus vra waarmee Hy die koninklike heerskappy van God, wat Hy aankondig, kan vergelyk, want dit is verborge.Jesus is volgens Lukas die groot prediker van die koninkryk van God (in Luk 4:43 sê Hy Hy moet die evangelie van die koninkryk in die ander dorpe verkondig; in 8:1 gaan hy daarmee van die een dorp na die ander deur die land; 9:11 die skare agtervolg Hom na Betsaida waar Hy met hulle oor die koninkryk van God praat). Hy praat met die dissipels daaroor en maak dit die beslissende inhoud van hulle lewens (6:20 aan die armes behoort die koninkryk van God; 12:31-32 soek eerder die Vader se koninkryk; die Vader het aan hulle die koninkryk gegee).Sy dissipels word uitgestuur om die koninkryk te gaan verkondig (9:2,60). Aan hulle het God dit gegee om die koninkryk van God te verstaan (8:10). Die koninkryk van God is naby (10:9-10) volgens Lukas nie in tydsin nie; maar die tydlose ewige bepaling van jou lewenswyse word deur Lukas beklemtoon. Die toekomstige koninkryk word reeds gesien in Jesus se aardse werksaamheid (4:18-21: met sy koms is Jesaja se profesie vervul, dat die Gees van die Here op Hom is om die goeie nuus aan       die armes te verkondig, aan gevangenes vrylating; blindes sien weer, onderdruktes word bevry, en Hy kondig die genadejaar van God aan. 7:22 ook dooies word opgewek). Die geringste in die koninkryk van God is groter as Johannes die Doper –  om die minste te wees (7:28) Jesus dryf duiwels uit met die vinger/krag van God in Hom (11:20). Daar moet gebid word vir die koms van die Vader se koninkryk (11:2). Waarmee moet die aard van die koninkryk van God verduidelik word, omdat dit so anders as die koninkryke van die wêreld is?

13:19 Jesus vergelyk God se koningskap met ’n mosterdsaadjie wat iemand in sy tuin saai en so ’n groot struik word dat die voëls daarin nes maak (Markus 4:30-32 het ook die gelykenis). Die klein begin van die koninkryk met Jesus as die Seun van die Mens, ’n enkele mens, en later sy paar eenvoudige dissipels saam met Hom, word ’n koninkryk wat oor die hele aarde strek na alle nasies (Gen 12:13; Matt 28:19). Dit word verbeeld deur die voëls wat in die takke van die mosterdboom nes maak (vgl. Eseg 17:23 bome wat verplant word as beeld van Israel se terugkeer na hulle ballingskap in Babel; 31:6 voëls as beeld van die nasies in Assirië se takke; Dan 4:12,21 Nebukadneser se droomboom met voëls/volke se neste in sy takke). God se koninkryk is soos Abraham se nageslag wat met ’n enkele seun in sy hoë ouderdom begin en so baie word soos die stof van die aarde (Gen 13:16) en die sterre in die hemel (Gen 15:5).

13:20-21 Die tweede getuie wat Jesus roep om die geheimenis van God se koningskap te verduidelik is die werking van suurdeeg, wat deur al die vroue van sy tyd geken word deur hulle daaglikse broodbakkery. ’n Klein bietjie suurdeeg deursuur die hele groot deeg ongesiens deur die nag. God se koninkryk deurdring die lewe van elke gelowige en samelewing. Jesus gebruik hier weer ’n verrassende voorbeeld, aangesien Hy suurdeeg ook gebruik vir ’n slegte invloed (in 12:1 vir die Fariseërs se skynheiligheid wat verkondig dat mense God kan behaag met goeie werke en so hulleself kan red). Hier gebruik Hy suurdeeg se deurwerking as beeld vir die koninkryk van God se deurdringende werking (vgl. Hebr 4:12 vir die krag van God se woord wat lewend, kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard is wat deurdring tot in die raakpunt tussen siel en gees, tussen gewrig en murg, en wat die hart se voornemens en gedagtes beoordeel).

Die omvattende (ekstensiewe, mosterdsaad se groei) en deurdringende (intensiewe, suurdeeg) heerskappy van God in die mens en in die skepping, is die werk van God alleen, want mense moet verander om te word wat God bedoel het, naamlik om soos Jesus te word in liefde en nederigheid (2 Kor 3:18; Fil 2:3-8).




Die Evangelie volgens Lukas: Jesus genees ’n kromgetrekte vrou op die Sabbat (Luk 13:10-17) – Francois Malan

Dit is Lukas se tweede berig oor ’n genesing deur Jesus op die Sabbat (Luk 6:6-11: die man met die verdorde regterhand, wat ook in Markus 3 en Mattheus 12 berig is); ’n derde berig volg in Luk 14:1-6 oor die man wat aan watersug gely het. Die tweede en derde berigte kom slegs in Lukas voor. Die insluiting van ’n Sabbatsheling van ’n vrou is ’n voorbeeld daarvan dat Jesus Hom bemoei het met die ganse Israel, veral ook dié wat deur die volk geminag is. Die reaksie op die genesing is teenstand en toestemming. So is die volk verdeeld oor Jesus (vgl. Luk 12:51-53).

13:10 As voorbeeld van Jesus se bediening vertel Lukas van Jesus se onderrig op ’n Sabbat in een van die sinagoges, soos dit Jesus se gereelde bediening was om op die Sabbatte onderrig in die sinagoges te gee (vgl. Luk  4:16, 31; Mark 1:21).

13:11 In die diens is ’n kromgetrekte vrou wat nie meer kon regop kom nie (sunkuptō vooroor dubbeld gevou; skoliose – ruggraatverkromming? of spondilitis – inflammasie van die gewrigte van die ruggraat? anakuptō regop kom). Lukas sê dit is die werk van ’n gees wat die swakheid al 18 jaar lank in haar veroorsaak.

13:12-13 Sonder dat sy iets vra, merk Jesus haar op, roep haar na Hom toe. Dit is vreemd in ’n sinagoge, waar die vroue  apart sit, dikwels agter ’n skerm of op ’n galery. Die vrou se siekte maak ook dat sy kulties nie ten volle aanvaarbaar is  in die sinagoge nie. Met sy woord genees Jesus haar: Vrou, jy is van jou swakheid genees (apoluō bevry). Hy lê sy hande op haar as teken van haar aanvaarding in die gemeenskap, en sy het dadelik regop gekom (anorthō) en God geloof wat haar gesondheid, as sy gawe vir haar deur Jesus, gegee het.

13:14 Die leier van die sinagoge reageer skerp en verontwaardig op die genesing. Hy spreek die gehoor aan. Hulle moet op die ses werksdae per week hulle siekes bring (Deutr 5:13; Eks 20:9). Sy woorde is eintlik op Jesus gemik omdat Jesus, teen die vierde gebod van die Here, op die Sabbat genees, en daarmee die wet van God oortree. Hy kan nie waag om Jesus openlik teen te gaan nie, maar as die leier van die volk se godsdiens betwyfel hy Jesus se optrede en Jesus se gesag teenoor sy gesag, Jesus se siening van God teenoor sy siening van godsdiens.

13:15 Lukas wys daarop dat Jesus die Here is (ho kurios die titel vir God en Christus wat die bonatuurlike gesag voer oor die mensheid). Jesus antwoord met ’n dubbele retoriese vraag oor jou os en oor ’n medemens. In Grieks kan die dubbele vraag slegs positief met ’n Ja beantwoord word. So kry Jesus se antwoord die gesag van die Here self wat die regte uitleg van die Sabbatsgebod gee. Jesus knoop aan by die algemene gebruik van die mense in Galilea se dorpies wat op die Sabbat hulle os of donkie losmaak (luō) en uitlei om kos en water te gee, met die goedkeuring en opdrag van die leiers. Hy vra die vraag aan die skare en noem hulle skynheiliges (soos in Luk 12:56), en sluit die leier van die sinagoge daarby in. Dit is selfsugtig om die Sabbatsgebod op te hef wanneer dit om jou eie besittings (os en donkie) gaan, maar die arbeidsverbod onverbiddelik toepas op ’n medemens in nood. Die skerpheid van sy antwoord word in die tweede vraag (Luk 13:16) duidelik.

13:16 Wat ’n mens vir jou diere doen en toelaat, moet jy immers vir mense nog meer doen en toelaat. Maar hulle siening van die Sabbat beteken dat hulp aan mense op die Sabbat geweier word. Dit is tog duidelik teen wat Jesus van die wil van God weet. Moes hierdie dogter van Abraham, met wie die Here sy verbond van genade gesluit het (Luk 1:55), dan nie losgemaak word (luō) nie? Die ‘moes’ (deī ’n verpligting) wys dat Jesus dit op die Sabbat moes doen, volgens die wil van sy Vader (vgl. Luk 11:20). Jesus sê dit was Satan wat haar 18 jaar lank vasgebind het (deō vasbind, gevange hou, siekte veroorsaak, fisies strem). Die menslike ellende, liggaamlik en geestelik, is vir Jesus die gevolg van die mens se onderworpenheid aan die Satan. Sy genesing is die vrou se bevryding. Sy werk om die mag van Satan se tirannie oor sy slagoffers te verbreek moet sewe dae van die week aangaan. Eintlik is die Sabbat die beste dag vir barmhartigheid.  Jesus erken haar as ’n dogter van Abraham, hoewel die leiers op haar neersien. Jesus bring ’n nuwe verstaan van die Sabbat. Dit is naamlik die vervulling van God se skeppingswerk, en as sodanig deur God geheilig. Daarom is dit juis die regte dag vir Jesus om te genees, want dit help die mense op pad na die vervulling van God se verlossing (Hebr 4:9-11 verwys daarna as die ewige rus; Matt 11:28-12:21verwys na die rus van ons gemoed wat die Here van die Sabbat gee). Soos die Sabbatviering vooruitwys na die voleinding, so is Jesus se werk die begin van God se voltooiing van sy skeppingswerk (vgl.Joh 5:17). Om mans en vroue uit die heerskappy van Satan te bevry en onder die genadige heerskappy van God te bring, vervul juis God se doel met die Sabbat.

13:17 Jesus se teenstaanders staan beskaamd omdat hulle Hom niks kon terugantwoord nie en beskaam is deur sy voorbeeld van wat hulle op die Sabbat met hulle diere doen. Die hele skare is egter verheug oor al die wonderlike dade en woorde wat Hy gedoen en gepraat het. Maar, met die vreugde oor wat hulle sien, of beskaamd staan as gevolg van wat hulle hier beleef, het hulle nog nie ’n keuse gemaak om hulle blywend te bekeer nie. Hulle is nog toeskouers en het nog nie onderdane van God se koninkryk geword nie.