Die Evangelie volgens Lukas: Die vroue wat Jesus gevolg het (Luk 8:1-15) – Francois Malan

8:1 Soos in 4:44 en 5:12 sit Jesus sy reise deur die land voort om die vreugdeboodskap mee te deel (euangelizo), die koninkryk van God te verkondig (kerusso) en aandag aan persone te skenk. Hy is ’n gas by feesmale waar Hy vir dié wat in Hom glo, hulle sonde vergewe. Van stad tot stad en van dorp tot dorp verkondig Hy die koningskap van God en roep dit uit as ’n vreugde- en oorwinningsboodskap; as vreugde in God se bemoeienis met die mens en die mens se oorwinning oor sonde en selfsug. Die twaalf wat Hy uit die dissipels uitgekies het en as gestuurdes/apostels aangestel het (6:13), vergesel Hom op die reis deur die land, en help Hom waarskynlik met die verkondiging.

8:2 Dat Jesus ook vroue saam met Hom op sy reise neem is uitsonderlik. Die Jode het ’n vrou saam met kinders en slawe gereken. Hulle hoef nie die shema-belydenis op te sê, of danksegging by etes te doen nie, en word nie in die wet onderrig nie. En nou vergesel die vroue vir Jesus op sy reise saam met die twaalf apostels, hoor en sien alles wat Jesus sê en doen. Daarmee ken Jesus aan die vroue volle menswaardigheid voor God en die mense toe en neem hulle dankbaarheid aan.

Onder die baie ander vroue wat saam met Jesus was, word drie se name genoem: eers Maria van Magdala (‘Die Toring’), ’n stadjie naby Tiberias en aan die see van Tiberias/Galilea. Jesus het haar verlos van sewe demone (’n besondere graad van besetenheid, wat gewoonlik met sielsiektes geassosieer is).

8:3 Tweede: Johanna, die vrou van Gusa, ’n bestuurder van Herodes. In Tiberias was een van Herodes Antipas se paleise. Moontlik het Johanna Jesus leer ken deur sy prediking in Tiberias, en dat Hy Maria Magdalena daar genees en bevry het van haar demone.

Susanna – van haar en van Johannes hoor ons niks verder in die Nuwe Testament nie.

Saam met baie ander vroue het hulle, uit hulle besittings, vir Jesus en die twaalf met kos en drank versorg (diakoneo)

 

Die gelykenis van die saad (Luk 8:4-8)

 Hier gebruik Lukas vir Markus 4:1-9 as bron. Die inleiding word verander, sekere woorde en sinsnedes ook. Die onderrig langs die see, van Markus 4:1, val weg.

8:4 Die skare kom uit die dorpe waarheen Jesus gestap en gepreek het (Luk 8:1). Jesus leer die skare deur middel van ’n gelykenis (parabole ’n korterige verhaal met simboliese betekenis, soms om net een saak te illustreer, soms allegories waar meer elemente van die verhaal simbolies is). Lukas verkort Markus se verhaal stilisties en bied dit aan in vier gelyke dele om die plekke waar gesaai is aan te dui met vier verskillende voorsetsels: langs (para) die pad,  op (epi) ’n klipbank, tussen (en mesoi) die dorings, in (eis binne in) die goeie grond; met twee onderafdelings om die lot van die saad en die vrugbaarheid van die verskillende plekke waar die saad gesaai is, aan te dui.

8:5 Markus en Matteus sê net dat ’n saaier uitgegaan het om te saai. Lukas voeg by om te beklemtoon dat hy sy saad gesaai het. Daarom is Lukas se verhaal die gelykenis van die saaier se saad en die lot van sy saad wat hy gesaai het, en nie slegs van die saaier soos in Markus en Matteus se begin nie. Maar by die verklaring van die gelykenis vertel Markus en Matteus ook van die lot van die saad.

’n Deel van die saad val langs die pad waar dit vertrap word (’n byvoeging van Lukas) en die voëls van die hemel (byvoeging van Lukas) het dit kom opvreet (katesthio heeltemal opeet). Die Palestynse saaiers het eers die saad gesaai en daarna ingeploeg. Daarom kan hulle nie vooraf sê hoe die grond onder lyk nie.

8:6 Die tweede deel van die saad val op die rots waar dit groei, waarskynlik bedek met ’n dun lagie grond (soos Markus 4:5 sê) en verdroog sonder vogtigheid (Markus en Matteus: sonder wortels). Lukas verkort Markus se weergawe.

8:7 Die derde deel van die saad val tussen die dorings (Markus in die dorings, Matteus: op die dorings). Die dorings groei saam (met die saad) en verstik die plant. Die veronderstelling is dat daar doringsaad in die grond was, wat opgekom het, soos Markus sê).

8:8 Die vierde deel van die saad val in die goeie grond (Matteus: op die goeie grond) en het gegroei en honderdvoudig vrug gedra (Markus en Matteus het ook nog dertig- en sestig-voudig), wat die oorvloed vrug beklemtoon.

Nadat Hy die dinge vertel het, roep Jesus uit: wie ore het om te hoor, moet luister! Daarmee word die erns van die gelykenis onderstreep as verkondiging van die heerskappy van God wat besig is om te kom.

Die gelykenis verseker die volgelinge van Jesus dat die verkondiging van die evangelie ’n ryke oes sal oplewer, ten spyte van alle terugslae, frustrasies en teleurstellings. Dit is ook ’n waarskuwing aan alle mense dat die egte kwaliteit van hulle lewens duidelik word uit hoe hulle die woord van God aanvaar of nie.

 

Die doel van die gelykenisse (Luk 8:9-10)

 Lukas verkort Markus 4:10-12. Matteus voeg Jesaja 6:9-10 by.

8:9 Sy dissipels (mathetai volgelinge of leerlinge) verwys in Lukas na al Jesus se volgelinge, nie slegs na die twaalf apostels nie (vgl. Luk 6:13). Hulle vra Hom wat hierdie gelykenis beteken (Markus 4:10 en Mat 13:10 praat van gelykenisse).

8:10 Hy het gesê: aan julle is gegee (die passief verwys na God wat dit aan hulle gee) om die geheimenisse (musteria) van die koninkryk van God te ken/verstaan (ginosko), maar vir die ander in gelykenisse sodat, terwyl hulle kyk, hulle nie sal sien nie, en terwyl hulle hoor, hulle nie sal verstaan/begryp (suniemi) nie, soos die Here reeds in Jesaja 6:9 gesê het.

Gelykenisse openbaar en verberg tegelyk, want Jesus se gelykenisse gaan oor die geheimenisse van die koninkryk van God, waarvan Jesus God se openbaarder aan die mens is. Vir die mense wat in Jesus en sy woord glo, gaan die geheimenisse van God oop. Die gelykenisse is juis bedoel om die geheimenisse van God vir kinders en eenvoudige mense te verduidelik en hulle tot ’n beslissing vir Jesus se nuwe lewenspad te lei.

Maar die mense wat Hom en sy woord en sy verlossingswerk verwerp, het geen idee van die geheimenisse van God se verlossingplan vir sy wêreld nie. Vir hulle bly die gelykenissse blote stories. Jesus is egter self die geheimenis van God, dat God self al ons sonde op Hom kom neem en ons verhouding met God regmaak. Hy is aan ons gegee sodat ons anders sal lewe as kinders van God in sy koninkryk op aarde.

 

Verduideliking van die geheimenis van die saad (Luk 8:11-15)

Die verduideliking beklemtoon dat die lig van God se woord, wat in die lewe van ’n mens opgaan, moet skyn tot voordeel van ander mense. God se openbaring begin as ’n persoonlike ontdekking wat uitloop op die vertroue van die mense wat met jou in aanraking kom (Luk 8:16). God se lig was aan Israel toevertrou om ’n lig te wees vir die heidene (Jes 49:6); maar in plaas daarvan dat hulle die lig laat skyn het, het hulle al hulle pogings gekonsentreer om te keer dat die vlam vir hulle uitgedoof word. Die lig van ’n lamp is juis bedoel om lig te maak in die donker (vgl. Lk 8:16).

8:11 Die uitleg van die gelykenis beklemtoon die woord en geloof. Die saad is die woord van God. Jesus is die woord van God en wat Hy verkondig is die woord van God. In afgeleide sin is die lewe en getuienis van Jesus se volgelinge ook die woord van God wat deur hulle spreek. Soos saad is die woord wat van God kom werksaam deurdat Jesus deur sy volgelinge werk. Geloof vertrou dat die woord van God bewerk wat dit sê (Ps 33:4).

8:12 Die duiwel wil die geloof in die woord van God verhinder sodat die mense nie daardeur tot verlossing kom nie. Die saad wat langs die pad val is mense wat die woord wel hoor, maar voordat die woord kan ontkiem, voordat die woord ’n verandering in hulle denke en lewe kan bewerk, kom die duiwel en neem dit uit hulle harte weg sodat hulle nie tot geloof in Jesus kom nie (Markus 4:17: wanneer hulle hoor neem Satan dit dadelik weg; Mat 13:19: die Bose roof wat in die hart gesaai is van iemand wat dit hoor en dit nie verstaan nie). Die geheim van die koninkryk van God is dat daar waar God werk die duiwel ook werksaam is. Die koms van die koninkryk van God is ’n stryd wat in die harte van die hoorders woed. Die reaksie op die woord van God kom vanuit die mens se hart, of hy hom heelhartig aan die Here wy, en of die wêreld sy hart wen.

8:13 Die saad wat op die klipbank val is ’n beeld van die mense wat die woord met blydskap aanneem as God se genadewoord. Maar wanneer hulle op die proef gestel word, sak hulle uit, soos saad wat nie wortel kan skiet op die rots nie. Hulle laat nie dat die woord hulle hart, hulle denke en lewenswyse verander nie.

8:14 Die saad wat groei maar tussen die dorings verstik verbeeld die mense wat die woord van God hoor, maar die bekommernis, rykdom en plesier van die lewe verdring die woord (Mark 4:19 spesifiseer: die bekommernisse van hierdie wêreld, die verleiding van rykdom, die begeertes na allerlei dinge), en daar is geen volkome ryp vrugte nie (In die Nuwe Testament is dit slegs Lukas wat die woord telesforeo ‘om volkome ryp vrugte te produseer,’ gebruik). Wanneer bekommernis styg oor te min gawes en besittings, word die geloofsvertroue in die beheer van die Vader verstik. As die begeerte na meer gawes en besittings as wat die Vader gee in ‘n mens opkom, word die oë blind en die hart ongevoelig  vir die heerskappy van die Vader. Wanneer die gejaag na wêreldse plesiere (hedone verwys na die begeerte na fisiese en ander plesier, ook seksuele plesier) opbruis, word die lig van die koninkryk wat besig is om te kom, verduister en God se plante verstik. Mense vul hulle lewe met so baie dinge dat daar geen ruimte is vir geestelike ryping nie, naamlik om al meer nederig en sagmoedig soos Jesus te word (2 Kor 3:18).

8:15  Maar God se woord kom nooit leeg terug nie! (Jes 55:11). Baie saad val in goeie grond en dra baie vrug (Luk 8:8 ’n honderdvoudige oes). Dié wat die woord met ’n goeie en opregte hart hoor, dit vashou en vrug dra, word vergelyk met die goeie grond wat die saad ontvang.

Vrug dra in die koninkryk beteken dat as God sy lig in die lewe van ’n mens laat skyn, dit ander mense sal verlig. Die ryk oes van God se woord word gelewer deur gehoorsaamheid aan die wil van God om in liefde te lewe vir Hom en ander mense, selfs vir jou vyande (Matt 5:43-48).




Die Evangelie volgens Lukas: Jesus en die sondige vrou (Luk 7:36-50) – Francois Malan

Lukas het nie die salwing van Jesus se voete in Betanië deur Maria(waarskynlik die suster van Lasarus) ses dae voor die Pasga, soos in Joh 12:1-8 nie, maar ’n ander salwing van Jesus; in Markus 14:3-9, wat opgeneem word in Matteus 26:6-13, word die een wat Hom salf se naam nie genoem nie, sy giet baie kosbare reukolie oor Jesus se kop uit. Die naam van die huiseienaar in Markus en Matteus is Simon die melaatse. Lukas beskryf egter hierdie salwing van Jesus se voete deur ’n slegte vrou, in die huis van Simon die Fariseër, waarskynlik nog in Galilea (die Roomse kerk identifiseer haar as Maria Magdalena van Lukas 8:2, wat geensins seker is nie). Die gedeelte volg op Lukas 7:34 met die Seun van die Mens wat beskou is as ‘n vraat en suiplap en ’n vriend is van tollenaars en sondaars. Hier vier Hy fees met ’n Fariseër en ’n slegte vrou. Vir Lukas gaan dit om die sondares en die oordeel van die Fariseër.

7:36 Dat Jesus die Fariseër se uitnodiging tot ’n feesmaal aanneem, wys dat Hy gekom het vir alle mense, vir sondaars en ook vir die godsdienstige Fariseërs. Lukas beskryf ook nog ander geleenthede waar Fariseërs Jesus uitnooi na ’n feesmaal (11:37, 14:1), en vertel ook van ander maaltye van Jesus: ná die Sabbatsdiens by Petrus aan huis (4:38-39); saam met die tollenaars (5:29-30). Hier beklemtoon Lukas die Fariseër, deur hom viermaal so te noem voordat sy naam Simon in vers 40 genoem word. By feesmaaltye het mense destyds hulle skoene uitgetrek as hulle ‘n huis ingaan en het op hulle sye gelê (kataklino) en eet langs ’n lae tafel.

7:37 Die gedeelte begin met ‘En kyk!’ om aandag te vra vir ’n belangrike gebeurtenis: ‘’n vrou wat in die stad ’n sondares was’ – wat as sondares in haar stad bekend was, waarskynlik ’n prostituut, ‘en gehoor het dat Hy in die Fariseër se huis aan tafel was (kataklino), kom met ’n albastefles duur parfuum (muros welriekende en duur salfolie)…’ ’n Gastemaal het vir toeskouers oopgestaan – om die roem en aansien van die gasheer te verhoog.

7:38 Die vrou gaan staan by Jesus se voete en huil, bewus van haar sondige lewe. Haar trane maak Jesus se voete nat en sy doen die ongehoorde ding vir ’n Joodse vrou om haar hare in die openbaar los te maak en sy voete daarmee af te droog, sy voete te soen, en met die parfuum te salf. Dat sy sy voete salf en nie sy kop soos gewoonlik nie, is teken van haar nederigheid voor Jesus. Die salwing is in elk geval ’n teken van haar diepe dankbaarheid teenoor Jesus. Deur die woorde en optrede van Jesus waarvan sy gehoor het, waarskynlik as een van die skare wat na Hom kom luister het (6:17,27,37) is sy tot berou gelei oor die skande en skuld van haar sondige lewe, en is sy deur sy prediking getroos. Deur haar bekering en koms na Jesus, doen sy wat Johanes die Doper verkondig het. So skakel hierdie gedeelte met die vorige gedeeltes oor Johannes die Doper.

7:39 Die Fariseër skryf Jesus af. Hy kan nie ’n profeet wees wat God se woord aan die volk bring nie, omdat Hy nie kon insien dat die vrou ’n sondares is nie. Hoewel die vrou in sy huis kon inkom, sou hy nie aan haar raak en daardeur onrein word nie, maar Jesus laat die onrein vrou toe om Hom met haar trane, hande en hare aan te raak (die Vaticanus-teks lees hier ‘die profeet’ wat verwys na die verwagte Messias/Gesalfde profeet van Deutr. 18:15, wat dan sou beteken dat die Fariseër in sy hart Jesus afskryf as die langverwagte Messias). In die Fariseër se denkwêreld kan ’n egte profeet ’n sondares uitken en aanraking met ’n sondares vermy.

7:40 Dat Jesus Simon se gedagtes ken, is egter bewys dat Hy ’n profeet is.wat hóm deurskou. Simon spreek Jesus tog as Meester (didaskalos) aan om iets van sy waardering vir Jesus se lering te wys en waarom hy Hom genooi het, hoewel hy Jesus tog wou beoordeel.

7:41-42 Jesus gebruik ’n gelykenis wat die Fariseërs goed ken. Vir Jesus is dit tekenend van die basiese verhouding tussen God en die mens. Wat die mens besit, het God aan hom gegee en aan hom toevertrou. As die mens dit misbruik word hy skuldenaar teenoor God as skuldeiser. Altwee die skuldenaars kan nie terugbetaal nie. Aan altwee word hulle skuld afgeskryf as geskenk. So is God, nie ‘n hartvogtige skuldeiser nie, maar die vergewende Vader, wat Jesus verkondig. Hy skryf ons skuld genadiglik af, uit sy groot liefde vir die skuldenaars. Dit het die slegte vrou begryp, vandaar haar hartstogtelike toewyding aan haar Verlosser. Die een skuld 500 dae se dagloon, amper 2 jaar se loon, en die ander slegs vyftig, amper 2 maande se loon (’n denarius was die dagloon vir ’n arbeider). Jesus vra wie van dié twee die skuldeiser die liefste sal hê.

7:43 Versigtig antwoord Simon, ek veronderstel (hy is nie absoluut seker nie) die een vir wie hy die meeste kwytgeskeld het. Hy het nie besef dat hy daarmee sy eie oordeel uitgespreek het nie. Jesus bevestig Simon se oordeel oor die twee leners, en pas dit in die volgende verse op die Fariseër en die slegte vrou toe.

7:44-46 Jesus kyk na die vrou en praat met Simon, daarmee omvat hy altwee van hulle met sy blik en sy woord. Met haar groter skuld oortref sy die Fariseër met haar liefdesbetuiging. Jesus herinner die Fariseër aan sy optrede teenoor Hom. Hy het Jesus wel genooi vir die feesmaal, maar sy begroeting van Jesus getuig nie van ’n groot liefde vir Hom nie, in teenstelling met die vrou se optrede. Die gewone voetwassing na die stofpaaie van Palestina is nie gedoen nie, teenoor die vrou se trane waarmee sy sy voete gewas en met haar hare afgedroog het. Die Fariseër se groet was nie met ’n hartlike soen nie, maar vandat Jesus ingekom het hou sy nie op om sy voete te soen nie. Die verering om ’n gas se kop met olie te salf het Jesus nie van die Fariseër ontvang nie. Maar sy het sy voete gesalf. Teenoor die koue ontvangs wat Jesus van die huisheer ontvang het, staan die warm liefde van die vrou op wie neergesien is.

7:47 ‘Daarom (hou xarin)…’ die gevolgtrekking wat Jesus maak uit die optrede van die Fariseër en van die vrou: sonder om doekies om te draai, sê Hy dat haar sonde baie is, maar dit is reeds (deur God) vergewe en nou lewe sy as iemand wat deur God vergewe is (die perfektum vorm van die werkwoord afhiemi dui aan dat dit reeds vergewe is, en dat die gevolge daarvan nou voortduur). Daarom (hoti kan oorsaak/daarom, of rede/want, aandui op grond van ’n duidelike feit; in die lig van gelykenis, is die vergifnis die oorsaak van haar liefde) het sy baie liefgehad (aoristus), met haar optrede het sy haar liefde aan Jesus bewys. Dié een vir wie egter min vergewe word (teenwoordige tyd wat voortduur aandui), het min lief (teenwoordige tyd, wat voortduur aandui). Die Profeet wat die volmag het om te vergewe (5:20-21) sê: haar baie sondes is vergewe, daarom is sy tot groter liefde bekwaam. Die Fariseërs dink hulle het min of geen vergifnis van God nodig nie, omdat hulle dink dat hulle die wet vervul. Vergewing is die grond vir die liefde. God se vergifnis sit ’n beweging aan die gang wat tot liefde lei en in dade van barmhartigheid geopenbaar word (Luk 6:36-38). Die volle vreugde van gemeenskap met God groei slegs uit die dankbare ontvangs van God se genade. Maar sulke vreugde kan nie verkry word as iemand meen dat hy deur sy eie godsdienstge optrede sy pad na God kan oopmaak nie. Dit is ’n bewys van hoogmoed selfs teenoor God.

7:48 Jesus bevestig aan die vrou: jou sondes is vergewe (passief perfektum, daarom lewe sy voortaan as ’n mens wie se sonde deur God vergewe is). Jesus is die Profeet wat God se woord en wil verkondig en uitvoer. Die Fariseër het egter gedink Hy kan nie ’n profeet wees nie.

7:49 In die harte van sy tafelgenote wek Jesus se vryspraak aan die vrou vrae oor sy volmag om sondes te kan vergewe, want hulle glo dit is slegs God wat sonde kan vergewe (vgl. 5:21). Jesus beantwoord nie hulle vrae nie; dit het Hy reeds in 5:24 gedoen. Hy is met die vrou besig.

7:50 Vir die vrou sê Hy: jou geloof het jou gered. Gaan in vrede. Haar geloof in Jesus het haar gered uit haar sondige bestaan. Nou kan sy in vrede voor God en mens voortlewe. Dieselfde word gesê aan die vrou wat 12 jaar lank aan bloedvloeiing gely het en aan die soom van sy kleed kom raak het (8:48). Paulus het dié woord van Jesus opgeneem in Galasiërs 2:16 en Romeine 3:28. Deur Martin Luther het dié woord van Jesus die kosbare besit geword van die evangeliese Christendom.




Die Evangelie volgens Lukas: Jesus se beoordeling van Johannes die Doper (Luk 7:24-35) – Francois Malan

7:24-26a Hierdie gedeelte stem grootliks ooreen met Matteus 11:7-19, wat wys op ’n gemeenskaplike bron vir die twee weergawes. Na die vertrek van Johannes se gesante vra Jesus die skare, wat saam met Hom is, uit oor hulle opinie van Johannes die Doper en sy bediening. Waarom het hulle na Johannes toe gegaan om in die woestyn deur hom gedoop te word?

Hulle het tog nie na ’n plooibare mens, wat soos ’n riet in die wind rondgewaai word, gegaan nie – nie soos die                           valse profete wat sê wat die mense wil hoor nie.

Hulle het tog nie na ’n weelderige rykman (met malakois himatiois sagte vroulike/weelderige klere gekleed)                               gegaan nie, maar na ’n man wat van sprinkane en wilde heuning leef en ’n kameelhaarkleed dra                                     (Mark. 1:6; Matt 3:4).

Hulle het gegaan omdat hulle dink hy is ’n profeet (vgl. Matt 14:5; gekleed soos Elia met velklere en velgordel                          2 Kon 1:8) – ’n man met ’n boodskap van God af, iemand wat die woord van die Here bring.

7:26b-27 Jesus sê Johannes is inderdaad ’n profeet, maar selfs meer as ’n profeet. Hy is die profeet wat die Here beloof het om te kom: ‘Kyk! Ek stuur my engel (malak = boodskapper/engel) voor jou aangesig wat jou pad voor jou sal voorberei.’  Hy, Johannes, is die voorloper van die Een wat die Verlossing bring, die voorloper van die Here self; in Maleagi 3:1 het die Here gesê dat hy die pad vir die Here (Jahweh, die ‘Ek is’ wat altyd teenwoordig is) se koms gereedmaak (vgl. ook Maleagi 4:5-6 en Mat 17:12). So het die Here ook sy Engel voor Moses uitgestuur op Israel se uittog uit Egipte (Eks 23:20), daarby is Moses die voorloper-profeet van die Here (Deutr 18:15). Die voorloper-profeet van Jesus is Johannes, die tweede Moses en Elia (vgl. Luk 9:30). Johannes dra die staf van Moses en die kleed van Elia. Johannes is die aankondiger van die koms van die Here self. Op die drumpel van die genadejaar van die Here (Luk 4:19) staan Johannes met die opdrag om mense te doop met die oog op die vergifnis van hulle sonde in die genadejaar (Luk 3:3). Hy is deur die Here gestuur en van sy geboorte af met die Heilige Gees toegerus om die volk op te roep tot ’n harts- en lewensverandering, sodat hulle gretig en gereed sou wees om Jesus te aanvaar en Hom te gehoorsaam as die beloofde Messias/Christus/Gesalfde van God (Luk 1:15-17).

7:28  Onder alle mense is Johannes die grootste met die belangrike roeping en werk wat die Here aan die Doper opgedra het as die verteenwoordiger van die Ou Verbond, van die Wet (Moses) en die Profete (Elia) om die koms van die Here aan te kondig. Maar in die koninkryk van God geld heeltemal ander maatstawwe (vgl. Luk 6:20: aan die armes behoort die koninkryk van God). Hier is die kleinste die grootste, die nederigste die beste voorbeeld van Jesus wat Homself verneder het deur mens te word en vir ons sonde aan ’n kruis te sterf (Flp 2:6-8). Hy het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie (Mark. 9:33-37; 10:41-45).

7:29-30 Die hele volk wat gedoop is met die doop van Johannes en na Jesus kom luister het, selfs die tollenaars, is in die regte verhouding met God geplaas, deur hulle sonde te bely, deur Johannes gedoop is, en vir Jesus aanvaar het. Maar die Fariseërs, wat hulle juis aan God toegewy het, en die Skrifgeleerdes, wat hulle studies juis toegspits het op die bestudering van die wet en die profete, het God se doel met hulle verwerp, nie hulle sonde bely en deur Johannes laat doop met die oog op die vergifnis wat Jesus kom bewerk het nie.

7:31 Die twee vrae waarmee die gedeelte begin, soek eers na ‘n vergelyking tusen die mense van Johannes en Jesus se tyd – waarmee/met wie sal Ek die mense vergelyk?, en ten tweede na die punt van vergelyking – soos wie/wat is hulle?

7:32 Jesus vergelyk sy geslag met spelende kinders wat nie kan besluit wat hulle eintlik wil speel nie. Hulle sit op die markplein teenoor mekaar en een groep roep die ander op om te sing en te dans. As die een groep ’n danswysie/huwelikslied op die fluit speel, wil die ander groep nie dans nie. As hulle ’n treurlied/begrafnislied sing wil die ander groep nie huil nie.

7:33-34 Die besluitloosheid van die mense van sy geslag oor sy en Johannes se bedienings word met die verveelde spelende pretbederwer-kinders vergelyk. Johannes leef as askeet wat vas, geen brood eet of wyn drink nie, net water, sprinkane en wilde heuning, en Israel tot bekering oproep. Die mense is ongemaklik met die pretbederwer, beoordeel dit as besetenheid en maak dit daarmee af. Die Seun van die mens geniet wat Hom voorgesit word, en dit is vir die mense te onheilig. Hulle noem Hom ’n vraat en ’n wynsuiper (Deutr 21:20) en neem aanstoot aan sy optrede as Vriend van tollenaars en sondaars. Dankbaar geniet Hy van sy Vader se gawes aan die wêreld, wat van Hom ’n Broer van verlore mense maak, vir wie Hy na die Vader toe bring.

7:35 Die wysheid word as ’n moeder voorgestel. Slegs haar eie kinders uit haar gebore, kan haar reg beoordeel. Dié wat uit die vrou Wysheid gebore is (vgl. 7:28) is kinders van die Wysheid. In Luk 2:40,52 word geroem oor die wysheid van Jesus as kind en later as jongman. So is slegs dié mense geseënd aan wie Jesus geloof in Hom skenk (vgl. Luk 10:22). Die kinders van Wysheid, wat waarlik wys is, sal die wysheid van God in Johannes en in Jesus sien. Hulle sal nie krities bly lewe nie, maar sal tevrede en gelukkig wees, anders as die verveelde kinders op die markplein.




Die Evangelie volgens Lukas: Jesus se antwoord aan Johannes die Doper (Luk 7:18-23) – Francois Malan

Die gedeelte kom inhoudelik ooreen met Matteus 11:2-19, wat aandui dat hulle dieselfde bron gebruik het en vir hulle doel aangepas of uitgebrei het. Lukas het bv. die inleiding uitgebrei om by die voorafgaande aan te pas, en om van Johannes se dissipels ooggetuies te maak.

7:18-19 Die geskiedenis volg op 3:20 wat Johannes in die gevangenis by Herodes se bergvesting Magaerus aan die oostekant van die Dooie See plaas (Matteus meld dat Johannes gevangene is; Lukas sê hier niks daaroor nie). Johannes, wie se dissipels vir hom vertel het van die vreemde dinge wat Jesus in hoofstuk 6 gesê en gedoen het, stuur twee (duo) van sy dissipels (Matteus: ‘hy stuur deur (dia) sy dissipels’) na die Here toe om te vra: Is U die Komende/die Een wat sou kom, of moet ons iemand anders verwag? Moontlik wou juis sy dissipels duidelikheid kry oor Jesus.

In Luk  3:16 het Johannes gepraat van een wat kom. Daniël 7:13 praat van een wat met die wolke kom. Ps 118:26 sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here. Reeds voor die Babiloniese ballingskap het Habakuk 2:2-4 gesê: dit sal gou kom, maar julle moet geduldig wag as dit nie gou kom nie. Lukas sê Johannes se dissipels is na die Here (ho kurios) toe gestuur (Matteus: na Hom toe – die Christus wat Matteus in v18 genoem het; enkele Griekse manuskripte lees hier in Lukas  ‘Jesus’ in plaas van ‘die Here’). Lukas wys met die benaming ‘die Here’ dat Jesus die een is wat gekom het, die Messias/Christus/Gesalfde wat die Jode verwag.. Johannes se prediking in Luk 3:16-18 het vertel dat die Een wat kom die koring en die kaf kom skei. Sover hoor hy baie van die goeie boodskap van Jesus se barmhartigheid, en slegs waarskuwings oor die oordeel. Kom daar iemand anders wat die oordeel gaan voltrek? Johannes vra nie wat moet ons doen nie, maar wat moet ons verwag.

7:20 Anders as Matteus, herhaal Lukas die vraag toe die manne by Jesus kom, om daarmee te beklemtoon dat dit ’n vraag is wat in baie mense se gedagtes geleef het, of Jesus wel die verwagte Messias/Christus/Gesalfde-verlosser is. Johannes se dissipels noem hom Johannes die Doper, wat juis verwys na Johannes se verkondiging van ‘’n doop van bekering (metanoia ’n verandering van jou denke en optrede) met die oog op die vergewing van sondes’ wat Jesus kom bewerk (Luk 3:3).

7:21 Toe Johannes se dissipels by Jesus kom, was Hy juis besig om baie mense te genees van hulle siektes  (nosoon siekte toestande), kwale (mastigoon siektetoestande wat as die straf van God gesien word), bose (poneros moreel korrupte en bose) geeste, en baie blindes om genadiglik (charizomai) weer te kan sien, soos Jesaja 35:5 gepraat het van blindes wat sal kan sien, want God is hier om te red; Jes 29:18 van blindes wat weer kan sien en mense in nood wat weer bly is.

7:22 Dit waarop Israel vir 700 jaar sedert Jesaja gewag het, gebeur nou – God is hier! Die profesieë, die beloftes van God in Jesaja 35:5, 29:18 en 61:1 word vervul deur Jesus, soos Hy dit in die Nasaret-sinagoge op Homself toegepas het (Luk 4:18-21): Die verlossingslied wat hier gesing word, kondig aan dat die heilstyd gekom het, dit waarop die vrome Israeliete gewag het (vgl. Simeon se loflied in Luk 2:28-32). By die genesing van siekes kom ook die armes wat  afhanklik van God se sorg lewe, aan wie die goeie boodskap aangekondig word (vgl. Luk 6:20-23). Johannes se dissipels sien nie slegs wat Jesus doen nie, maar hoor ook sy goeie boodskap aan die armes.

Jesus antwoord nie direk op Johannes se vraag nie en sê nie dat Hy die Messias/Christus is nie. Johannes het ook nie direk gevra of Hy die Messias/Christus is nie – die term Messias/Christus het in Israel valse verwagtings gewek van ’n gesalfde koning wat hulle met geweld gaan verlos. ‘Die een wat kom’ is ’n verwysing na Jesus as die verwagte Gesalfde van God. Die messiaanse heerlikheid van Jesus is nie vir almal duidelik sigbaar nie, maar blyk uit sy woorde en optrede.  Uit sy dade van barmhartigheid word die werk van die Een wat aan die kom is, geken en nie deur militêre oorwinnings oor hulle Romeinse onderdrukkers, of deur vuur oor die vyand nie. Met sy dade van barmhartigheid vervul Jesus die beloftes van God in die Skrif.

7:23 Aan die lofsang word ’n waarskuwing in die vorm van ’n seën verbind. Moenie aanstoot neem aan Jesus nie (skandalisthe word hier figuurlik gebruik as aanstoot neem; letterlik is dit om in ’n strik gevang te word deur in die strik te trap). Aanstoot neem aan Jesus kan ’n mens tot ’n val bring as jy nie hierdie waarskuwing ter harte neem nie. Die heilstyd is verbind aan die Heilbringer wat gekom het. Johannes het die onontwykbare oordeelskatastrofe aangekondig en die reiniging van die volk deur die bekeringsdoop voorsien. Jesus bring egter die begin van die heilstyd, nie deur die oordeel of ’n nasionale bevryding nie, maar met sy barmhartigheid wat God se volk kom vernuwe. Die seën eis nie onvoorwaardelike erkenning van Jesus nie, maar waarsku teen ’n vinnige veroordeling van Jesus en sy nuwe weg, waarmee jy jouself uitsluit uit God se verlossingswerk. Om die valse verwagtings wat aanstoot neem aan Jesus te oorwin, vra om vertrouend in Hom te glo. Jesus se antwoord laat dit vir die Doper en sy dissipels oop om te besluit, maar om hulle te help om reg te besluit, herinner Hy hulle aan die skildering van die heilstyd in Jesaja 29:18-19; 35:1-6; 61:1.  Hierdie seën van Jesus aan dié wat nie aan Hom en sy woorde en dade aanstoot neem nie, geld vir alle mense (‘wie ookal’). Salig is ook die gelowiges wat hulle lyding ter wille van Jesus aanvaar (Rom 8:17).