Die Evangelie volgens Lukas: Die geseëndes en die ellendiges (Luk 6:20-26) – Francois Malan

Vier geseëndes  6:20-23 (met vier verwerpings 6:22) en vier ellendiges wat korroleer met die geseëndes (6:24-31). Matteus 5:3-11  het 9 geseëndes en geen ellendiges hier nie, maar 7 ellendiges in Mat 23.

6:20 Matteus se saligsprekinge word in die derde persoon geskryf; Lukas s’n in die tweede persoon as toeseggings van Jesus: die armes is geseëndes. ‘Geseëndes’ meen gelukkiges, omdat hulle gunstige omstandighede beleef. Volgens die Ou Testament is die armes die mense wat nederig van God afhanklik is. Die Here is die beskermer van die armes en wil hê dat daar geen armes in Israel moet wees nie. So juig Maria in Luk 1:47-48 oor God haar Verlosser, want Hy het die nederigheid van sy diensmeisie raakgesien. Die genadejaar van Lev 25 en Deutr 15 (vgl. Luk 4:19) gee die armes se grond aan hulle terug; Ps 40:18 Ek is magteloos en behoeftig, maar die Here sal aan my dink; Ps 69:34 die Here luister na die behoeftiges. Aan die armes sê Jesus: ‘Julle is die gelukkiges want die koninkryk van God, sy koningskap en heerskappy, behoort aan julle.’ Om onder God se leiding en Vaderlike versorging te lewe is die gunstige omstandighede waarin mense lewe wat hulle hulp by God soek. God gee Homself aan hulle wat Hom soek (Luk 12:31-32). Hulle word soos die verlore seun met ope arms ontvang in die Vaderhuis (Luk 15:22-24) So begin die verwagte omkering van alle dinge waaroor Maria gesing het (Luk 1:51-55). In Christus is die koninkryk van God reeds teenwoordig (Luk 17:20-21).

6:21 Die armes is ook die mense wat honger ly, en vir hulle sê Jesus: julle sal versadig word. Die passiewe werkwoord, versadig word, verwys na God wat hulle sal versadig aan sy feesmaal in sy ewige koninkryk, maar ook nou sal hulle Vader sorg vir dié wat op Hom vertrou. So ook die armes wat nou huil van bekommernis, want hulle sal lag van vreugde, soos Ps 126 sing; so ook die skaapwagter wat sy verlore skaap gekry het en die vrou wat haar verlore penning gevind het (Luk 15:6,9). Vgl. Paulus se getuienis oor sy eie lewe in 2 Kor 6:10. Jesus verkondig die teenwoordigheid van God se koninkryk wat behoort aan dié wat die grootste nood en behoefte het aan die onuitputlike rykdomme daarvan, sonder om weggelok te word deur die valse vertroostings van die wêreld se rykdomme. Jesus vra van sy volgelinge ‘n leegheid aan hulleself, wat God kan vul, ’n onvergenoegdheid met die wêreld, wat hulle sal lei na die rykdom, bevrediging, troos en kameraadskap van sy koninkryk. Die vreugde van die koninkryk van God wag vir dié mens wat vir altyd by die Here wil wees, omdat hy/sy in die gemeenskap met God sy/haar groot beloning kry.

6:22 Julle is gelukkig as julle verwerp en gesmaad word ter wille van die Seun van die Mens. Dit het Jesus se dissipels ondervind deurdat hulle uit die sinagoge geban is (vgl. Joh 9:22). So is Jesus uit Nasaret geskop (4:29), Stefanus buite Jerusalem gestenig (Hand 7:58-59) en Paulus mishandel (2 Kor 11:24-27).

6:23 ‘Daardie dag’ verwys na die dag van die openbaring van Jesus se heerlikheid. Met sy wederkoms sal Jesus se volgelinge bly wees en soos kindertjies spring van vreugde oor hulle beloning in die hemel. Die vervolgings is eintlik ’n voorreg en rede vir groot vreugde, want dit bewys dat hulle in ware gemeenskap met hulle Here lewe en saam met Hom ly (Rom 8:17). Die bewys daarvan is dat God se ware profete van ouds so behandel is deur die goddelose (vgl. Jer 37:15; 38:6).

6:24 Die ‘wee julle’ (ouai, rampe! as uitdrukking van spyt en bejammering van Jesus oor die rykes) word uitgeroep as ’n oproep tot bekering van die mense wat die armes verdruk. Die rykes word nie gewaarsku omdat hulle ryk is nie, maar omdat hulle in hulle rykdom selfsugtig net aan hulleself dink (vgl. Luk 12:15,19,21; en die ryk man en Lasarus in Luk 16:19-31). Hulle het reeds hulle troos van God af ten volle ontvang (apecho; Luk 16:25), dit waarvoor hulle gewerk het en vir hulleself vergader het, het die Here reeds vir hulle ten volle laat kry (selfs sonder dat hulle dit kon geniet, in Luk 12:20-21).

6:25 Teenoor die armes wat honger is en huil, staan die rykes wat nou versadig is en lag. Hulle sal honger ly, treur en huil, soos in Jesaja 65:13-14 voorspel (vgl. Luk 1:53). Hulle word uit die koninkryk van God en van die vreugdemaaltyd  (Jes 25:6) uitgesluit. Dié wat selfversekerd lag sal dan sonder hoop voor die Here se regtersoë begin kla en huil. Mense wat meen dat hulle sonder God kan klaarkom, sal op dié dag sonder hoop wees. Wie alleen vreugde vind in die aardse goedere, sal self innerlik leeg word. Die wêreld en sy begeerlike oorvloed vervul nie blywend nie.

6:26 Ellende wag vir die mense wat net vleitaal wil hoor, deur mense wat hulle prys, en wat net ander na die mond praat. Sulke mense is soos die valse profete van die Ou Testamentiese tyd (1 Kon 22:6,24,25; Jer 5:31). Van die geseëndes word gevra dat hulle die uitsprake van die Here oor hulle moet vertrou. Van die vervloektes word gevra dat hulle die waarskuwings van die Here ter harte moet neem.




Die Evangelie volgens Lukas: Jesus kies twaalf apostels (Luk 6:12-19) – Francois Malan

6:12 Lukas gee nie aandag aan ’n presiese tydsaanduiding nie – hier begin hy slegs met : ‘op ’n keer.’ Met die groeiende vyandigheid teen Hom, veral van die Fariseërs, vertel Lukas dat Jesus nou moes besluit hoe Hy gaan optree. Daarvoor het Hy sy Vader se leiding nodig. Hy gaan nou die ou bedeling van Israel se 12 stamme vervang met ’n nuwe bedeling vir die nuwe Israel met 12 apostels (Luk 22:28-30). Daarvoor is Hy ’n hele nag op die berg in gesprek met sy Vader. Lukas beskryf Jesus as ’n bidder (vgl. ook 3:21 na sy doop, toe die Gees op Hom neergedaal het; 5:16 Hy gaan gereeld na afgeleë plekke om te bid; 9:28-31 Hy gaan die berg op met drie apostels om te gaan bid, en vir die gesprek met die Ou Testamentiese getuies oor sy eksodus/uittog wat Hy in Jerusalem tot vervulling sal bring). Hier word dit beklemtoon dat Hy die hele nag voor die kiesing van sy 12 apostels in gebed tot God was om die nuwe bedeling in te lei. Dit beklemtoon die belangrikheid van sy keuse van mense wat Hy kan uitstuur om namens Hom op te tree, veral nadat sy vyande Hom doodgemaak het (6:11). Hy doen alles volgens die wil van sy Vader. Deur die gesprek met sy Vader kom Jesus tot ’n besluit wat verder in die hele geskiedenis van die wêreld sy gevolge sal wys.

6:13 Teen dagbreek roep Jesus sy dissipels nader (op die berg). In Lukas word die woord dissipel/leerling gebruik vir al die volgelinge van Jesus (vgl. bv. 24:33). Die twaalf wat uit die volgelinge van Jesus gekies is, word apostels genoem. Die Griekse woord apostolos verwys na ’n spesiale boodskapper/gestuurde. Die term ‘apostel van Jesus Christus’ verwys daarna dat Christus aan die persoon ’n opdrag vir ’n spesifieke taak gee. Lukas sê nie wat die taak is nie, maar noem hulle net gestuurdes. Markus 3:4-5 sê: Hy het hulle as apostels aangestel om by Hom te wees, en sodat Hy hulle kon uitstuur om te preek en om met volmag demone uit te dryf. Matteus het ’n hele hoofstuk 10 oor hulle opdragte.

6:14-16 Lukas bied die 12 name paarsgewys aan. Die eerste drie pare was:

  •             Simon en sy broer Andreas. Vir Simon gee die Here ’n nuwe naam by: Petrus (Sefas in Hebreeus: rots);
  •             Jakobus en sy broer Johannes, seuns van Sebedeus & Salome. In Markus 3:17 noem Jesus hulle Boanerges, dit is ‘seuns  van die donder;’ wat die Samaritaanse dorpie wat Jesus nie wou ontvang nie, met vuur uit die hemel wou vernietig (Luk 9:54-55);
  •             Filippus (‘perdeliefhebber’) en Bartolomeus, ‘Bar(seun van)Tolmai,’ moontlik is hy Natanael van Joh 1:45.
  •            Matteus (in 5:27 genoem Levi) en
  •            Tomas wat ook Didimus (‘tweeling’) genoem is (Joh 11:16);
  •            Jakobus (die seun van Alfeus om hom te onderskei van die seun van Sebedeus) en
  •            Simon met die naam Seloot (iemand wat hom in die besonder vir ’n saak beywer; ’n Joodse nasionalis);
  •            Judas die seun van Jakobus (wat ook genoem word Taddeus, Matt 10:3) en
  •            Judas Iskariot, ‘man van Keriot’ ’n dorpie in Judea (Josua 15:25), die enigste apostel wat soos Jesus uit Judea kom, wat later Jesus se verraaier geword het.

 

Die eerte vier was gewone ongeletterde vissers (vgl. Hand 4:13); Matteus ’n ryk geleerde maar gehate tollenaar wat vir die Romeine werk; Simon die Seloot is daarenteen ’n Joodse vryheidsvegter wat die Romeine se juk wil afgooi; Filippus bring mense na Jesus toe (Joh 1:43-46; 12:20-22); Jakobus/Taddeus wat vra hoe Jesus Hom aan hulle sal openbaar en nie aan die wêreld nie (Joh 14:22); Tomas die pessimis ((Joh 11:16) en twyfelaar wat eerste vir Jesus ‘my Here en my God’ noem (Joh 20:28); Judas Iskariot, die tesourier van die apostelgroep (Joh 12:6; 13:29) wat Jesus vir 30 silwerstukke (’n maand se vergoeding vir ’n arbeider) verraai (Matt 27:3). Mense uit al die lae en groeperings van die samelewing word die simboliese nukleus van Jesus se nuwe volk van God, as voorbeeld vir sy kerk in die toekoms. Die mees teenoorgestelde persone soos Matteus die tollenaar en Simon die Seloot word verenig in Jesus se groep ‘gestuurdes,’ maar die groep sluit ook die man in wat die Seun van die Mens met ’n soen van noue vriendskap oorlewer (Luk 22:48).

 

Jesus genees baie mense (Luk 6:17-19)

6:17 Jesus klim met die twaalf van die berg af. Hiervandaan is Jesus nie meer alleen nie, maar omring van sy apostels wat die Vader aan Hom gegee het. Op ’n gelyk plek (Markus: by die see) naby Kapernaum (Matteus 5:1 plaas dit op die berg), waar baie mense bymekaar kan kom, gaan staan Jesus waarskynlik aan die voet van die berg, voor ’n groot groep van sy leerlinge/dissipels en ook ’n menigte mense uit die volk van Judea (wat Galilea en Perea insluit) en van die Joodse sentrum Jerusalem tot uit die aangrensende heidense Tirus en Sidon (Markus het ook Galilea en uit die gebied van die Jordaan, waarby Matteus die 10 Griekse stede, Dekapolis, byvoeg). Daar is drie kringe voor en om Jesus: 12 apostels, ’n groot menigte dissipels, en ’n groot groep mense uit die genoemde gebiede.

6:18 Die mense kom na Hom toe met twee doeleindes: om na Hom te luister en om genees te word van hulle siektes en onreine geeste; hulle kom vir Jesus se woorde en dade wat saam sy goeie nuus verkondig; sy woorde volg hier op die genesings.

6:19 Die skare kom om deur Jesus aangeraak te word deur sy kragtige hand wat almal genees het. In 5:17 sê Lukas ‘die krag van die Here het in Hom gewerk om mense te genees. Hier: daar het krag van Hom uitgegaan en Hy het almal genees. Na sy nag in gebed word dit nog duideliker dat Hy die groot Geneser van mense is, wat hulle van hulle onreinheid en onreine geeste kom bevry om met vreugde te lewe volgens sy heerlike evangelie.




Die Evangelie volgens Lukas: ’n Genesing op die Sabbat (Luk 6:6-11) – Francois Malan

6:6 Lukas beklemtoon hier dat Jesus die Heer is oor die Sabbat en oor liggaamsgebreke. Die genesing vind op ’n ander Sabbat plaas. Die mense se wettiese verkramptheid laat alle liefde verdwyn, en Hy kom om hulle uit hulle verknegting onder die wet te lei tot die vryheid van die kinders van God. Slegs Lukas het die byvoeging dat Jesus in die sinagoge onderrig gegee het (vgl. Luk 4:43). Jesus is die Here wat sy gemeente kom bevry van die dwang van die valse opvattings van die Joodse Sabbatswette. Daarvan is die genesing van die man van ’n lam verskrompelde regterhand ’n voorbeeld.

6:7 Die Skrifkenners en die Fariseërs is nie geïnteresseerd in die verlamde as gebroke mens nie, maar hulle vyandigheid teen Jesus het al so toegeneem dat hulle Hom fyn dophou om Hom aan te kla van ’n oortreding van die wet wat tot sy dood kon lei as Hy die man op die Sabbat sou genees. Eksodus 31:15 sê immers: Elkeen wat op die Sabbatdag werk, moet doodgemaak word.

6:8 Slegs Lukas het die volgende byvoeging by Markus se berig:  ‘maar Hy het geweet wat in hulle gedagtes omgaan.’ Hy is immers ook die Seun van God (Luk 3:38). Daarom maak Hy van die man met die verlamde hand, wat nie eers gevra het om genesing nie, ’n voorbeeld van sy evangelie van bevryding. Hy laat die man tussen die mense opstaan sodat almal hom en sy gebrek kan sien en wat Jesus met hom gaan doen.

6:9 Met die man met die verlamde hand tussen hulle, konfronteer Jesus hulle met die dubbele vraag of dit toelaatbaar is om op die Sabbat goed of sleg te doen, om ’n lewe te red of dit ten gronde te laat gaan. ’n Radikale keuse tussen goed en kwaad. Wat is God se doel met die Sabbat? Wat is die verhouding tussen Sabbatsheiliging en naasteliefde? Met dié vrae wil Jesus die Sabbatsviering verlos van ’n eie prestasievroomheid, om die godsdiensdag aan ander mense te wy, soos in Lev 19:18 uitgewys is. Jy kan nie die Here dien en jou naaste vergeet nie. Is die nalaat van die goeie nie juis die kwade nie (Jak 4:17; 1 Joh 3:17)? Jesus verstaan die Sabbatsgebod heeltemal anders as die Fariseërs en skrifgeleerdes: Hulle lê hulle toe op die vraag wat ’n mens nie mag doen op die Sabbat nie; Hy vra wat ’n mens nie op die Sabbat mag nalaat nie.

(Matteus 12:11 voeg hier in dat jy mos jou enigste skaap wat op die Sabbat in ’n put val, sal uithaal. Lukas 13:15 het die voorbeeld van ’n os of ’n donkie wat op die Sabbat gevoed word ; en Luk 14:5 die voorbeeld van jou seun of os wat in die put val op die Sabbat). Wat doen die Fariseërs en Skrifgeleerdes op dié Sabbat (6:11)?

6:10 Jesus wag op hulle antwoord, maar kry van hulle geen keuse tussen goed doen of niks doen aan iemand se nood op die Sabbat nie. Daarom genees Hy die verskrompelde regterhand met ’n enkele opdrag. Die geneesde hand getuig  dat Jesus juis die wil van God doen en dat Hy deur sy liefde vir sy naaste wys hoe om die liefdesgebod ook op die Sabbat uit te voer, hoe om God lief te hê met jou hele hart, siel, krag, verstand, en jou naaste soos jouself  (Luk 10:27). Die man met die verlamde hand se geloof in Jesus en gehoorsaamheid aan sy opdrag blyk daaruit dat hy sy verskrompelde hand uitgesteek het op Jesus se opdrag.

6:11 Die skrifgeleerdes en die Fariseërs besef dat hulle wetsinterpretasie heeltemal omvergewerp word. Vir Jesus is dit die Here wat bepaal wat ’n mens sal doen wanneer Hy iemand na jou toe bring, sodat die persoon die Here se stem en gesindheid deur jou stem en gesindheid sal hoor, ervaar en gehoorsaam. Die Seun van die Mens is die Here van die Sabbat, wat die seggenskap en aanwysings daaroor het. Hy wys die weg waarop ons die Sabbat sal heilig. Vir sy teenstanders word die verhouding tussen God en mens deur die wetskenners bepaal. Maar as jy nalaat om die mens te help, wat die Here op jou pad bring, word jy ’n oortreder van God se wil. Die hele diens aan God verander van vasgelegde onbreekbare wette tot Jesus se manier om die Vader te dien. Dit wissel van oomblik tot oomblik volgens die manier waarop die Vader op ’n bepaalde moment om sy liefdesdiens aan ander vra. Dit is Jesus se vryheid en dit is die manier waarop Hy die koningskap van God openbaar.

Buite hulleself van woede beraadslaag Jesus se teenstanders onder mekaar hoe om van Jesus ontslae te raak. Markus 3:6 stel dit sterker: hulle vergader saam met hulle vyande, die politieke groep Herodiane wat Herodes steun, om Jesus om die lewe te bring. Matteus 2:14 laat die Herodiane uit. Die beraadslaging oor wat met Jesus gedoen moet word, geskied alles op die Sabbat. Terwyl Jesus ’n man genees het, gebruik hulle die Sabbat om moord te beplan – goed of sleg doen? ’n lewe red of vernietig (6:9)? ’n Lewende mens raaksien of formele gehoorsaamheid aan die wet?  Liefdesdiens of wetsgetrouheid verbind met verdienstelikheid? Die Sabbat vir die mens of die mens vir die Sabbat (Mark 2:27)?




Die Evangelie volgens Lukas: Die konflikte oor die Sabbat (Luk 6:1-11) – Francois Malan

Vir die Judaïsme was die Sabbat die belangrikste instelling om hulle te onderskei in ’n oorwegend heidense wêreld. Terwyl ander vereistes van die wet privaat in jou huis of familie uitgeoefen of gelaat kon word, het die Sabbat die Jode verplig om weekliks ’n openbare belydenis van hulle geloof te doen deur op dié dag nie te werk nie. In Eksodus 31:16 sê die Here: die onderhouding van die Sabbat sal vir altyd ’n teken wees tussen My en die Israeliete. Die Joodse Mischna het ’n hele traktaat oor die Sabbat en al die verpligtinge daarvan. Enige bedreiging van die Sabbat het kwaai teenstand ontlok. Jesus het die streng reëls van die wetgeleerdes as ondraaglike laste gekritiseer (Luk 11:46) en Hom nie daaraan onderwerp nie. Hy wys dat sy teenstanders die hele punt van dié heilige dag miskyk. Dit is juis bedoel as ’n dag van barmhartigheid teenoor behoeftiges en lydendes (vgl. Joh 7:23-24).

Lukas volg Markus 2:23-28; 3:1-6 se twee Sabbatskonflikte, maar maak veranderings aan Markus se taal en teks vir sy Griekse lesers, en voeg dié gesprekke oor die Sabbat in by sy beskrywing van Jesus wat op reis is na Jerusalem vir sy dood en opstanding, wat die betekenis van die konflikte verhoog.

 

Jesus is Here van die Sabbat (Luk 6:1-5)

6:1 By Markus en Matteus se pluk van die are voeg Lukas in dat die dissipels die are met die hand uitgevryf het. Pluk en uitvryf is gesien as oes en dors, wat deur die Sabbatreëls verbied was. Die Talmud traktaat Sjabbat 70b beskou selfs die oes van ’n droë vy as werk. Die pluk van are, met jou hand, maar nie met ’n sekel nie, in jou buurman se land, is wel deur Deutr 23:25 toegelaat (maar die reëls sê duidelik; nie op die Sabbat nie). Die Fariseërs en skrifgeleerdes het nie net Jesus se woorde en wonders in Kapernaum kom ondersoek nie, maar om Hom fyn dop te hou om ’n aanklag teen Hom op te stel, selfs toe Jesus-hulle deur die koringlande gestap het (die woord duiwel beteken aanklaer/kwaadprater; Satan – teenstander).

6:2 Sommige (’n byvoeging van Lukas) van die Fariseërs sê toe: Waarom doen julle iets wat op die Sabbatdag nie toelaatbaar is nie? Volgens Lukas praat die Fariseërs met die dissipels, wat dit sagter maak as Markus 2:24 en Matteus 12:2 waar hulle Jesus aanspreek oor sy dissipels se optrede. Vier van die Sabbatswette verbied oes, trap, uitwaai, kos voorberei – al vier is deur die dissipels oortree.

6:3-4 Jesus, gebore uit die geslag van Dawid (3:31), verwys na die optrede van sy geëerde voorouer, die man na God se hart (1 Sam 13:14; Hand 13:22). Toe hy en sy manne honger was, het hulle die huis van God ingegaan en van die toonbrode geëet, wat net vir die priesters bedoel was (1 Sam 21:6; Lev 24:9 ). Volgens Levitikus 24:8-9 moes die offerbrode elke Sabbat vervang word en kon slegs die priesters die ou brood eet. Daarom was dit blykbaar juis op die Sabbat, toe die ou brood vervang is, dat Dawid dit geëet het. Volgens Jesus behoort geen seremoniële bepaling in die pad te staan van ernstige bestaansbehoeftes nie. Die menslike nood moet nie ondergeskik word aan leë wettisisme nie (so ook in Luk 13:10-17; 14:1-6 oor genesings op die Sabbatdag). Lukas en Matteus noem nie Markus 2:26 se foutiewe verwysing na die  hoëpriester Abjatar nie – volgens 1 Sam 21:1,6 was Agimelek die priester van Nob waar Dawid brood gevra het (en ook die spies van Goliat gekry het). Volgens 1 Sam 22:20 was Abjatar die seun van Agimelek. Abjatar het later saam met Dawid gevlug.

Markus 2:27 het ook nog: Die Sabbat is vir die mens gemaak en nie die mens vir die Sabbat nie. Dit kom nie in Matteus en Lukas voor nie.

6:5 Vir die Fariseërs en skrifgeleerdes sê Jesus dat die Seun van die Mens die Here is van die Sabbat. Hy staan bo die Joodse regulasies en bo die wet. Die Seun van die Mens weet wat die bedoeling van God is met die Sabbat en hoe dit gevier moet word. Jesus sê dit as die Seun van God wat as afstammeling van Adam ook Seun van die Mens geword het (Luk 3:38). Die nuwe verhouding van God en mens bring ’n kinderlike verhouding van die mens teenoor God mee. Dan eet die honger kind wat sy Vader in sy hand gee. So identifiseer Jesus Hom met sy dissipels en antwoord Hy die Fariseërs en skrifgeleerdes namens sy dissipels op so’n manier dat die nuwe verhouding wat Hy bewerk duidelik word; die verhouding van God en mens as Vader en kind. Jesus kom egter nie die wet tot niet verklaar nie (vgl Luk 16:17), maar as Here van die Sabbat, met sy hart van liefde en barmhartigheid, ken Hy God se wil vir die Sabbat, dat ons die Sabbat sal vier uit liefde en barmhartigheid teenoor swakkes en behoeftiges. Die wet sê ons moet die Sabbat heilig (Gen 20:8). Heilig beteken afgesonder vir toewyding aan God en ons medemense.