Die oue weerklink in die nuwe: Die Eksodus en Moses – Jan van der Watt

  1. c) God red sy volk: die uittog uit Egipte.

Die uittog uit Egipte het ‘n baie belangrike rol in die lewe van Israel gespeel. As hulle later ooit in die moeilikheid of onseker was, het hulle teruggedink aan Egipte, want waar kon jy ‘n beter bewys as die verlossing uit Egipte kry dat God sy volk uit die moeilikheid sal red. En dan is daar nog die tog van 40 jaar deur die woestyn, waar God vir hulle oor en oor gewys het dat Hy hulle sal versorg en beskerm, al was hulle soms opstandig en ongehoorsaam.

Die vroeë Christene het gevoel die God van Israel wat sy mense op so kragtige en wonderlike manier uit Egipte gered het, ook hulle God is. Omdat dit is wie Hy is, sal Hy hulle dus ook so uit nood kan red. Daarom word die eksodusverhaal baie op die Christelike verhaal toegepas om so te wys dat die God van Israel ook die God van die Christene is. Hier gaan net ’n paar voorbeelde genoem word.

  1. i) Moses, die leier van God se volk.

Moses, wat die volk uit Egipte gelei het, was een van die hooffigure in die geskiedenis van Israel. Daarom is dit nie snaaks dat daar baie na hom verwys word in die Nuwe Testament nie. By hom kan daar baie geleer word, omdat hy so naby aan God was.

God het die wet deur Moses gegee’ (Joh 1:17) – daarvoor was Moses veral bekend. Die wet word selfs die ‘wet van Moses’ genoem (Luk 2:22; 24:44; 1 Kor 9:9; Hand 13:39) en die eerste vyf boeke van die Bybel (die Pentateug) word in die Nuwe Testament die ‘boek van Moses’ (Mk 12:26), of sommer net ‘Moses’ (Luk 16:29, 31; 20:37; 24:27) genoem. Moses en die wet is onlosmaaklik aan mekaar gekoppel en daarom is Moses ook gesien as die verteenwoordiger van die volk van God. Hy het die volk by God verteenwoordig toe God met sy mense by die berg Sinaï ’n verbond (kontrak) gesluit het (Rom 9:15; Rom 10:5,19) dat Hy hulle God sal wees, vir hulle sal sorg en hulle sal beskerm, maar dat hulle dan vir Hom ‘n volk moes wees. Die deel van die ooreenkoms (verbond) wat die volk moes nakom, is in die verbondswet neergeskryf. Dit was die deel van die kontrak wat hulle moes nakom om die kontrak geldig te hou. Deur die Wet te hou, het die Jode gewys dat hulle God se verbondsvolk was. As jy die wet sommer oortree het, was jy in die moeilikheid, want dan het jy die kontrak met God in gevaar gestel wat die hele volk en verbond in gevaar gestel het. Daarom lees ons in die Ou Testament dat mense wat die wet oortree het sommer kwaai gestraf is en selfs doodgemaak is. Dit verbond was immers nie met individuele persone nie, maar met die volk. As die volk dus toelaat dat individue sommer links en regs die wet breek en niks daaraan doen nie, beteken dit dat die hele volk skuldig is. Dan kan God almal straf. Daarom het die Jode dan ook so kwaad geword vir Jesus as Hy en sy dissipels nie die Sabbat hou nie. Maar Jesus het nie die wet oortree nie, maar die wet kom vervul.

Volgende keer gaan ons verder na Moses kyk.




Sewende Dag Adventiste en Kersfees – Hermie van Zyl

My seun behoort aan die Sewende Dag Adventiste Kerk die laaste twee tot drie jaar. Ek verneem graag of dit gebruiklik is by hulle om nie ander gelowiges ‘n geseënde Kersfees toe te wens nie.

My enigste kind is gay en is saam met sy “partner” uitgeskop of weggejaag uit die NG Kerk. Dit het tot gevolg gehad dat hulle nie enige vraag sal beantwoord aan ons as sy ouers nie want hulle het baie seer gekry in die proses.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die Sewende Dag Adventiste Kerk (SDAK), of Sabbatariërs soos dié Kerk ook soms genoem word, het nie ‘n amptelike standpunt oor Kersfees nie – óf en hóé dit gevier moet word nie. Dit word aan individuele lidmate of gemeentes oorgelaat om self te besluit.

Tog, indien die debatte hieroor in die SDAK nagegaan word, moet ‘n mens sê dat die SDAK tradisioneel taamlik krities ingestel was teenoor Kersfees. Dit vloei voort uit hulle siening dat dié fees nie in die Bybel voorgeskryf word nie (dus nie bindend is vir gelowiges nie), en ook dat Kersfees heel moontlik ‘n heidense oorsprong het. Volgens laasgenoemde siening is Kersfees eintlik ‘n ou heidense fees wat deur die Roomse Kerk oorgeneem en met ‘n Christelike sousie “gekersten” is. Die manier waarop Kersfees ook in die wêreld gevier word, is vir die SDAK so omgewe met allerlei sekulêre gebruike wat niks met die geboorte van Christus, die Verlosser, te doen het nie, dat die SDAK van huis uit nie baie positief ingestel is teenoor Kersfees as Christelike feesdag nie. Vir die SDAK is daar eintlik net een godsdienstige feesdag, en dit is die viering van die Sabbat, die sewende dag van die week, soos wat dit in die Ou Testament voorgeskryf word.

‘n Mens moet hierdie tradisionele huiwering rondom die viering van Kersfees in die SDAK ook verstaan teen die agtergrond van hulle algemene teologie. Hulle is baie sterk op die Ou-Testamentiese wette ingestel, vandaar hulle klem op die viering van die sewende dag as rusdag. Hulle het verder baie pertinente sieninge rondom die wederkoms van Christus, met sterk klem op die tekens van die tyd en die spoedige wederkoms van Christus. Hierdie sieninge lei daartoe dat hulle probeer om ‘n hoë morele peil in hulle daaglikse handel en wandel te handhaaf, wat soms na die wettiese toe neig. Dit het verder tot gevolg dat hulle ‘n algemene aversie het aan alles wat oneg, onsuiwer en “heidens” voorkom. Dit is dus te verstane dat die tipiese manier waarop Kersfees in die Weste gesekulariseer en gekommersialiseer geraak het, wat eintlik op niks meer neerkom nie as ‘n algemene gevoel van welwillendheid teenoor ander – sonder werklike Christelike inhoud – glad nie aanklank vind by die SDAK nie. In die lig hiervan is dit nie vreemd nie dat daar individue, gesinne en selfs gemeentes in die SDAK mag wees wat nie baie maak van Kersfees nie, en mekaar gevolglik ook nie ‘n “geseënde Kersfees” sal toewens nie. Dit pas in by hulle siening dat die opregte Christen (en lidmaat van die SDAK) nie mag deelneem aan gebruike en feeste wat nie tot eer van God strek nie.

Almal in die SDAK stem egter nie met hierdie (tradisionele) siening saam nie. Daar word byvoorbeeld daarop gewys dat dit nie so seker is dat Kersfees gegroei het uit ‘n ou heidense fees (die fees van die onoorwinlike son) nie, maar dat dit eerder spontaan uit bepaalde Joodse gebruike in die vroeë kerk gegroei het tot kerklike feesdag om die geboorte van Christus te herdenk. (Die besonderhede hiervan laat ek daar.) Verder word ook aangevoer dat dit nie sin maak om ‘n sterk en spoedige wederkomsverwagting te hê as daar nie ook erns gemaak word met die eerste koms van Christus nie. Daarom is daar stemme in die SDAK wat opgaan vir die gepaste viering van Kersfees, dat dit op ‘n tipiese SDAK-wyse gevier moet word, met die klem op die betekenis van die menswording van die Seun van God, en dat hierdie groot Geskenk van God aan die wêreld in die Kerstyd uitgeleef moet word in geskenke van egte mededeelsaamheid en offervaardigheid teenoor ander. Dus, eerder dat die uitwasse van Kersfees vermy word deur jouself te onttrek of dit glad nie te vier nie, of dit op ‘n ander datum te probeer vier, moet Kersfees (25 Desember) eerder deur SDAK-lidmate omskep word in ‘n egte Christusfees van ware liefde en omgee, word gesê. Met hierdie siening word dan ook nader beweeg aan die algemene gevoel van Christene in ander kerke wat ook bekommerd is oor die sekularisering en kommersialisering van Kersfees.

Ek vertrou dat bogenoemde beredenering ietwat lig sal werp op die vraag of die SDAK negatief ingestel is teenoor die viering van Kersfees of nie.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Die oue weerklink in die nuwe: Isak, Jakob, Kain, Esau en Sara – Jan van der Watt

  1. Isak en Jakob

Isak en Jakob, Abraham se seuns, word ook in die Nuwe Testament genoem. As Moses by die brandende braambos staan en vra wie met hom praat, stel God homself bekend as die God van Abraham, Isak en Jakob (Eks 3:6, 15, 16). Jesus sinspeel hierop as hy met die Sadduseërs redeneer oor die opstanding. Hy sê: Het julle dan nie gelees wat God vir julle gesê het nie: ‘Ek is die God van Abraham, die God van Isak, en die God van Jakob’? Hy is nie die God van dooies nie maar van lewendes (Matt 22:32 en die parallele dele in die ander evangelies). Die Sadduseërs het natuurlik gedink daar is nie lewe na die dood nie. Nou haal Jesus Eksodus 3:6 aan om te wys dat God self sê hy IS nou (dit is hoe die Griekse teks dit stel) die God van Abraham, Isak en Jakob. As hulle nie bestaan nie, hoe kan God sê Hy is nou hulle God? Hulle moet dus nou lewe, al is hulle fisies dood! Daar is dus lewe na die dood. God is immers nie ‘n God van dooies nie, maar van lewendes. Daarom kan Matteus ook op ‘n ander plek sê: Ek (Jesus) sê vir julle: Baie sal van die ooste en die weste af kom en saam met Abraham, Isak en Jakob aan tafel gaan in die koninkryk van die hemel (Matt 8:11-12).

In Hebreërs 11:18-20 vertel die skrywer die verhaal van Abraham wat Isak moes gaan offer, hoewel God beloof het dat Abraham se nageslag uit Isak sou voortkom. Abraham se geloof word getoets – hy weet God sal nie sy belofte breek nie. Selfs as hy Isak offer sal God Isak weer uit die dood terugbring. Dit is dus ‘n verhaal van geloof in die God van lewe. In hierdie geloof het Abraham en Isak geleef en so ‘n voorbeeld vir alle mense gestel van wat geloof regtig beteken (sien ook Galasiërs 4:21-31).

  1. Kaïn

Die verhaal van Kaïn wat sy broer Abel vermoor het, is bekend uit die Ou Testament. In 1 Johannes 3:11-12 word die verhaal van Kaïn as voorbeeld gebruik van iemand wat nie die liefde van God ken nie, en daarom die pad van die dood gekies het deur sy broer dood te maak: Ons (gelowiges) moet mekaar liefhê. Moenie soos Kain wees nie. Hy het aan die Bose behoort en het sy broer vermoor. En waarom het hy hom vermoor? Omdat sy eie dade sleg was en sy broer s’n reg. (In Heb 11:4 word net genoem dat Abel ‘n beter offer as Kaïn gebring het wat sy opregtheid bevestig het). So word Kaïn eintlik in die Nuwe Testament as die prototipe gesien van ‘n ware sondaar (sien ook Judas 11): iemand wat nie die lewe vir ander soek nie, maar die dood.

  • Esau

 Die verhaal van Esau word weer in Rom 9:11-13 gebruik om die verkiesing van God te verduidelik. Uit dieselfde familie kom twee seuns, Esau en Jakob: Daar staan ook geskrywe: “Vir Jakob het Ek liefgehad, maar vir Esau het Ek gehaat.” Die besluit van God is gegrond op uitverkiesing; dit hang dus nie af van wat ’n mens doen nie, maar van Hom wat jou roep. Maar daar hou dit nie op nie. Die Hebreërskrywer waarsku mense om nie so sedeloos en sleg soos Esau te wees nie. Sorg ook dat niemand sedeloos en goddeloos lewe nie, soos Esau wat vir een maaltyd sy eersgeboortereg verkoop het. (Heb 12:16). Om jou eersgeboortereg te verkoop,  was nie sommer maar net niks nie. As oudste seun moes Esau die familie se tradisie en karakter voortdra as die pa nie meer daar is nie. Hy moes vir hulle die pad wys en die voorbeeld stel hoe om te leef. Esau het so min van die verantwoordelikheid van hom gedink dat hy dit vir ‘n pot lensiesop verkoop het. So erg is dit dat die Hebreërskrywer dit goddeloos en sedeloos noem. So moet gelowiges nie wees nie.

  1. Sara

Maar dit was nie net manne wat as voorbeelde gedien het nie. Uit die lewens van vroue soos Sara het Christene ook baie geleer. Die voorbeeld van Sara wys hoe ‘n deugsame vrou gelyk het: 3Julle skoonheid moet nie bestaan in uiterlike dinge soos haarkapsels, juwele en sierlike klere nie. 4Nee, julle skoonheid moet dié van die innerlike mens wees: blywende beskeidenheid en kalmte van gees. Dit het  by God groot waarde. 5In die ou dae het die gelowige vrouens wat op God gehoop het, hulle ook so versier: hulle was aan hulle mans onderdanig. 6Sara, byvoorbeeld, was aan Abraham gehoorsaam en het met eerbied na hom verwys. As julle doen wat goed is en julle nie deur dreigemente laat afskrik nie, is julle haar dogters. (1 Pet 3:3-6). Die punt wat Petrus hier maak is dat die werklike skoonheid van iemand nie in fisiese dinge soos rykdom lê nie.

Volgende keer gaan ons na die uittog uit Egipte en na Moses kyk.




Engele – Francois Malan

Henk vra:

Het engele verskyn in fisiese liggame in die Bybel?Verskyn hulle vandag steeds? Die 3 mans wat aan Abraham verskyn en saam geeet het-was die een God self?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Genesis 3:24 word reeds van gerubs gepraat wat as wagters die tuin moet bewaak. In Genesis 16:7,9-11 word vir die eerste van 58 keer in die Ou Testament van die ‘Engel van die Here’ gepraat, wat na Hagar toe gekom het. Hagar het die Here wat met haar gepraat het aangeroep en gesê: U is die God wat my sien, hier het ek Hom gesien wat my gesien het (Gen 16:13-14). Vir haar het die Here self in die gestalte van ’n man daar in die woestyn na haar toe gekom. Maar nadat Hy met haar gepraat het, het sy geweet dat dit God is wat met haar gepraat het. Die term ‘Engel van God’ kom ook 11 keer in die Ou Testament voor.

Die Ou Testament se oorspronklike Hebreeuse woord vir engel is mal’ak, wat ‘boodskapper’ beteken. So beteken die Nuwe Testament se oorspronklike weergawe in Grieks se woord angelos ook ‘boodskapper.’ Engele kom dikwels in die Ou en Nuwe Testament voor, wat egter nie altyd in menslike gestalte verskyn nie, vgl. bv. die hemelse skare wat aan die skaapwagters die tyding van Jesus se geboorte gebring het (Luk 2:913).

Die engel bring die boodskap aan Maria dat sy ’n seun sal kry en dat sy Hom Jesus moet noem (Luk 1:26-38). Hy het as ’n sigbare man met haar gepraat.

In Rigters 13:3,6,8,10 verskyn die Engel van die Here aan die vrou van Manoag in die fisiese gestalte van ’n man.

In Eksodus 33:11 word gesê dat die Here direk met Moses gepraat het soos ’n man met sy vriend.

Twee van die drie mans wat in fisiese liggame deur Abraham genooi is om by hom te rus en saam met hom te eet (Gen 18:1,22), word  ‘engele’ genoem in Gen 19:1,15,21. In Gen 18:1-2 word gesê dat die Here aan Abraham verskyn het, in die gestalte van een van die drie mans. In Gen 18:13,14,17,19,20,22,26,29,33 word Hy ‘die Here’ genoem.

Die Naam ‘Here’ is in Hebreeus: Jahweh, die ‘Ek is,’ wat altyd aktief teenwoordig is. Dit is die verbondsnaam wat die Here aan Moses bekendgemaak het by die braambos wat nie uitgebrand het nie. Die Here het vir Moses gesê het dat Jahweh die Naam is waarmee Hy aangeroep moet word. In Grieks is Jahweh, soos die Hebreeuse Adonai met kurios ‘here, meneer’ vertaal. Daarom is Jahweh en adonai in Afrikaans met Here vertaal. Hy is die God wat sy verbond met Abraham, Isak en Jakob en hulle nageslag gemaak het (Eks 3:13-15).

Die Markus-Evangelie wat waarskynlik eerste geskryf is, ongeveer 30 jaar na Jesus se dood, en veral die getuienis van Petrus opgeteken het, vertel dat die vroue wat die Sondagmôre na die graf van Jesus toe is, ’n jongman met wit klere, aan die regterkant van die geopende graf gesien sit het, wat vir hulle vertel het dat Jesus opgestaan het uit die dood (Mark 16:2-6). Lukas, wat Markus en ander skrywers as bronne gebruik het, vertel van twee mans met glansende klere (Luk 24:4). Matteus, wat ook van Markus gebruik gemaak het en vir die Joodse Christene verduidelik wat daar gebeur het, sê dat daar ’n engel met ‘n voorkoms soos weerlig en klere so wit soos sneeu uit die hemel neergedaal het, die steen voor die graf weggerol het en daarop gaan sit het, en vir die vroue gesê het dat Jesus opgewek is (Matt 28:2-3). Dit was waarskynlik ’n engel in menslike gestalte wat die boodskap van Jesus se opstanding aan die vroue kom vertel het.

’n Engel van die Here bevry vir Petrus uit die tronk en eers as hulle in die straat kom en die engel verdwyn besef Petrus dat dit ’n engel was (Hand 12:6-11). Deurgaans het hy gedink hy droom dat ’n man hom bevry.

Verskyn engele nog steeds vandag? Engele word slegs deur God gestuur om sy boodskap aan die mense oor te dra wanneer God besluit om van ’n engel gebruik te maak. Meestal word God se boodskap deur sy Gees na mense en in mense gebring. Die Gees oortuig mense deur God en Jesus se woord in die Bybel en in die prediking en in die getuienis van mense aan mense, ook deur omstandighede en direkte ingrypings van die Here. Maar as Hy besluit om ’n engel in die vorm van ’n mens te gebruik, doen Hy dit. Dit is egter absoluut God se besluit hoe en waar en wanneer Hy dink dat dit nodig is en dit wil doen, vgl. egter Jesus se woorde in sy gelykenis van die ryk man en Lasarus in Lukas 16:31 oor die genoegsaamheid van die Bybel om mense te oortuig.

In Johannes 14 16-17,26 belowe Jesus dat die Heilige Gees in ons sal kom bly om ons te leer en te lei. In Joh 14:23 sê Jesus: ‘As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.’ Met God wat self in ons kom woon het, is dit nie nodig dat ’n engel na ons toe gestuur word om God se se boodskap aan ons te bring nie. Maar as die Here dit nodig ag om in die gestalte van ’n mens ons in ’n noodsituasie by te staan, is Hy vry om selfs ’n engel te stuur. Meestal stuur Hy een van sy gelowiges om so iemand by te staan. In Jeremia 31:33 het die Here reeds beloof: ‘Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagtes vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.’

Skrywer: Prof Francois Malan