Die oue weerklink in die nuwe: Die Skepping (2) – Jan van der Watt

In die vorige artikel het ons gekyk na God wat skep. Hy staan bo die skepping uit en moet daarvan onderskei word.

 

Vir die Nuwe Testament is baie belangrik dat die God wat geskep het, dieselfde God is wat mense deur Jesus leer ken. Omdat Jesus die sentrale figuur in die Nuwe Testament is, is dit baie belangrik om die kontinuïteit tussen die God van die Ou Testament en Jesus van die Nuwe Testament te beklemtoon. Luister hoe vertel Paulus aan al die slim en geleerde mense in Atene wie die ware God is: 24God, wat die wêreld met alles wat daarin is, gemaak het, hý is die Here van hemel en aarde, en Hy woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie. 25Hy het ook nie nodig dat mense Hom versorg nie. Inteendeel, dit is Hy wat aan almal lewe en asem en alles gee. 26Uit een mens het Hy al die nasies gemaak. Hy het hulle gemaak om oor die hele aarde te woon. Hy het bepaal hoe lank hulle sal bestaan en waar hulle sal woon. 27God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind (Hand 17:24-27). Die ware God is die Skeppergod wat van niemand iets nodig het nie, maar van wie almal afkanklik is. Hy is die een wat bepaal wat met nasies gebeur en na wie nasies moet soek. Dit is díe einste God wat ons in Jesus ontmoet; dit is Hy wat Jesus lewe gegee het, omdat Hy die God van lewe is: As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom (Jesus) uit die dood laat opstaan (Hand 17:31).

 

In die Nuwe Testament kom daar ’n belangrike element by. God skep nie alleen nie, maar Hy skep deur Jesus. Dit beteken dat Jesus dieselfde kwaliteite as God vertoon. Hy is ook verhewe bo die skepping (pre-eksistent) en Hy verteenwoordig ook al die ware egte kwaliteite van liefde, waarheid, omdat Hy alles gemaak het. Hy hou ook alles in stand. Kyk hoe stel Paulus dit: Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping. God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders. Alles is deur Hom en vir Hom geskep. Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand (Kol 1:15-17). Daarmee bedoel Paulus nie dat God nie meer by die skepping betrokke is nie, maar Jesus as sy Seun deel word van die proses. Dit beklemtoon Paulus in 1 Kor 8:6: Daar is nogtans vir ons net een God: die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe; en net een Here: Jesus Christus, deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe. Dit herinner ons nogal aan Spreuke 8:22-31 waar die Wysheid vertel hoe sy teenwoordig was toe God alles gemaak het. God en Jesus het inderdaad ‘saam’ gewerk aan die totstandkoming van die Skepping.

 

Johannes sluit hierby aan: In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie (Joh 1:1-3). Op die manier word die band tussen God en Jesus onlosmaaklik bevestig. God en Jesus kan nie geskei word nie. Wat dus in die Nuwe Testament gelees word, word op die intieme verhouding tussen Jesus en God gebou. Wat Jesus dus doen en sê kom regtig van God af.

 

In die volgende artikel gaan ons die artikels oor die skepping afsluit.




Die oue weerklink in die nuwe: Die Skepping (1) – Jan van der Watt

Na die inleiding gaan ons nou spesifiek na die skepping kyk.

  1. a) Die Skepping

 Alles het begin by die skepping. Van daaruit moet alles wat ‘is’, verstaan word. Daarom speel die skepping ’n belangrike rol in die Nuwe Testament. Dit verklaar ook baie van die voortgang van die Ou Testament in die Nuwe.

 God skep en so ook Jesus

Waar kom die aarde en alles vandaan? God het dit gemaak (Gen 1-2). Hy is dus die Gewer van alle lewe op die aarde en onderhou dit ook. Lewe het sy oorsprong by Hom. Maar as Skepper staan Hy ook buite die skepping – Hy is nie deel daarvan nie. Voor die skepping daar was, was Hy al daar (die tegniese term is Hy is pre-eksistent). Dit is belangrik, omdat dit onderstreep dat Hy as God bo die skepping uitstaan en van die skepping onderskei moet word, byna soos die pottebakker van die klei onderskei moet word. Daarom is God in sy karakter en kwaliteite anders as mense, verhewe bo hulle. Omdat Hy die begin van alles is, is Hy ook die kriterium en maatstaf van alles. Ware liefde is die liefde soos God dit bedoel het, ware lewe is lewe soos God dit gee, ware reinheid is soos God dit bedoel. Immers, alles wat God gemaak het, is goed (Gen 1:31). Daarom vra gelowiges in die Ou en Nuwe Testament altyd na wat God wil. Om iets te doen soos God dit bedoel het, is om dit te doen soos dit waarlik reg en eg is.

So gesien het die skeppingsverhaal dus ’n ryk boodskap met baie implikasies vir mense. Omdat dit so sentrale deel van die boodskap oor God is, hoor mens dit oor en oor terug in die Nuwe Testament. Daarna gaan ons volgende keer kyk.




Die oue weerklink in die nuwe. Die eggo’s van die Ou Testament in die Nuwe Testament – Jan van der Watt

Die boodskap van die Nuwe Testament het nie sommer uit die lug geval nie. Jesus het nie sommer een dag opgedaag en niemand het geweet waarom nie. Nee, die Nuwe Testament is die tweede episode van God se verhaal met sy mense op aarde. Die Nuwe Testament begin nie nuut nie, maar is gewortel in die Ou Testament. Hoewel die verhaal van Jesus vars en nuut is, is dit ook die ou-ou tyding van die Skeppergod wat ’n pad met sy mense deur die wêreld stap. Om dus te verstaan waarom daar sekere dinge in die Nuwe Testament gebeur en waarom dit juis op die manier moes gebeur, is dit dus belangrik dat mens die verhouding tussen die Ou en Nuwe Testament goed verstaan. Die nuwe groei immers uit die oue.

’n Basiese veronderstelling is natuurlik dat die God waarom dit gaan, gister, vandag en môre dieselfde is. Dit is sy verhaal, beide in die Ou en in die Nuwe Testament. Daarom kan mens verwag dat dit nie twee afsondelike verhale is nie, maar een verhaal waarin die verskillende temas en drade nou met mekaar vervleg is. Die verhaal van die Ou Testament word dus in Nuwe Testament voortgesit. Verwagtings uit die Ou Testament, profesieë, voorbeelde van hoe God is en optree, dit alles vloei deur na die Nuwe Testament.

Daar is natuurlik een verskil – in die verhaal van God in die wêreld het daar in die Nuwe Testament een ‘karakter’ bygekom, naamlik Jesus Christus, die Seun van God. In en deur Hom het die ou verhaal van God met die wêreld nuut geword. Hy is nie verniet Immanuel genoem nie, want Hy het God naby sy mense gebring. Die ware lig sou nou oor die wêreld skyn (Joh 8:12) sodat mens in díe lig God se teenwoordigheid by sy mense beter sou kon sien. Daarom word die Nuwe Testament ook NUWE Testament genoem; dit gaan oor God se nuwe plan en ooreenkoms deur Christus met sy mense in die wêreld.

Die spore van die Ou Testament lê diep in die Nuwe Testament. Hier volg voorbeelde van die belangrikste voetpaadjies wat uiteindelik op die Nuwe Testament uitgeloop het. Sekere sentrale gebeure in die Ou Testament was vir die Christene veral belangrik. Gebeure soos die skepping, die uittog (eksodus) uit Egipte, die ballingskap in Babilonië was baie belangrik, omdat dit draaipunte in die geskiedenis van Israel was waarin hulle God baie nodig gehad het. Dan het die vroeë Christene ook baie geleer uit die voorbeelde wat ‘godsmanne’ soos Abraham, Moses of koning Dawid gestel het. Daarom duik die figure gedurig in die Nuwe Testament op as voorbeelde. Natuurlik is daar ook die profete soos Jesaja of Esegiël; die gelowiges word gedurig herinner aan hulle woorde en hoe dit betekenis het vir die Christene. Dit help hulle om die betekenis en boodskap van Jesus soveel beter te verstaan.

In die volgende artikel gaan ons kyk na spore van die Ou Testament wat diep in die Nuwe Testament lê. Ons gaan by die skepping begin.




Mense en Redding: Sonde (6) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Word sonde na die doop vergewe (Heb 10:26)?

In die vroeë middeleeue was daar groepe wat op grond van Heb 10:26 hulleself nie wou laat doop nie. Hulle het probeer wag tot net voor hulle doodgaan en het dan gevra om gedoop te word. Die rede was omdat hulle Heb 10:26 verstaan het as dat as mens opsetlik sondig nadat jy gedoop is, daaar nie weer ‘n kans is nie. Dan is jy verlore. Heb 10:26 lees so: Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie.

Die woorde opsetlik sondig verwys na iemand wat in minagting van God voortgaan met ‘n lewe wat nie vir God aanvaarbaar is nie. Dit word duidelik in 10:29 gestel: hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het? So iemand hoort dus nie binne die raamwerk van gelowiges nie – dit bewys hy deur sy optrede. Wat alles vererger is dat die persoon die kennis van die waarheid ontvang het. Hy weet wat is reg, maar vertrap nogtans die Seun van God. Dit gaan dus duidelik nie hier oor iemand wat ‘n fout gemaak het en sonde gedoen het, dit wil bely en alles weer wil regmaak nie. Vir so persoon is daar sewentig maal sewe maal vergifnis. Dit gaan hier oor iemand wat bewustelik heeltemal sy verhouding met God verbreek het en dit so uitleef ook. Vir hom bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie. Hierdie is kultiese taal, met ander woorde, taal wat dui op aksies wat daarop gerig is om die verhouding tussen God en mens reg te stel of te versterk. Die persoon wat sy rug op God gedraai het, het ook sy rug op hierdie moontlikhede gedraai.