Moet jy trou? – Francois Malan

Amanda vra:

Waar in die Bybel se dit jy moet trou

Antwoord

PROF Francois Malan antwoord:

In Matteus 19:1-12 antwoord Jesus op die vraag van die Fariseërs of ’n man oor enige saak van sy vrou mag skei. Daarop verwys Jesus na Genesis 1:22-24 dat die Skepper hulle van die begin af man en vrou gemaak het. Daarom sal die man sy vader en sy moeder verlaat en aan sy vrou verbind word, en die twee sal een vlees wees, sodat hulle nie meer twee is nie, maar een. Daarom, wat God saamgevoeg het, moet ’n mens nie skei nie.

Die Fariseërs vra toe waarom Moses dan bepaal het dat ’n man aan sy vrou  ’n skeibrief moet gee om sodoende van haar te skei. Daarop antwoord Jesus: Moses het weens julle harde harte toegelaat om van julle vroue te skei, maar van die begin was dit nie so nie. Ek sê vir julle dat wie van sy vrou skei, behalwe weens owerspel, en met ’n ander trou, egbreuk pleeg.

Markus 10:12 voeg by: en as ’n vrou van haar man skei en met ’n ander man trou, pleeg sy egbreuk.

Toe Jesus se dissipels daarop reageer dat dit dan beter is om nie te trou nie, antwoord Jesus: Nie almal kan hierdie saak begryp nie; slegs hulle aan wie dit gegee is. Daar is inderdaad mans wat impotent gebore word, daar is mans wat deur mense gekastreer is, en dan is daar mans wat selibaat is ter wille van die koninkryk van die hemele. Laat enigiemand wat kan, dit begryp (Matt 19:11-12).

Daar is nie ’n teks in die Bybel wat die huwelik direk gebied nie, maar vir die ongetroudes en die weduwees sê Paulus in 1 Kor 7:8-9 dat dit vir hulle goed is om soos hy (ongetroud) te bly. Maar as hulle hulleself nie kan beheer nie, moet hulle trou, want dit is beter om te trou as om van begeerte te brand. En vir jongmense, wat eers gedink het hulle sal as verloofdes steeds maagde kan bly, en dan uitvind dat dit nie vir hulle moontlik is om maagde te bly nie, sê hy: as die verloofdes dan trou, tree hulle reg op, hoewel hulle beter sou doen as hulle wel as maagde verloof kon bly (1 Kor 7:36-38).

Uit Genesis 2:24 en Jesus se verduideliking daarvan in Matteus 19 is dit duidelik dat God die huwelik van ’n man en vrou as ’n permanente verhouding van eenheid tussen man en vrou bedoel het.

Om saam te leef sonder om te trou, impliseer dat ‘n saamblyverhouding nie permanent is of permanent hoef te wees nie. Om enkel en ongetroud te bly is nie verkeerd nie, soos Jesus in Matteus 19:12 sê. Met ‘n huwelik word egter in die openbaar voor God aan mekaar trou gesweer.

Paulus brei in 1 Korintiërs 7 uit op die ongetroude staat en die eenheid van die huwelik. In 7:1 sê hy dit is goed vir ’n man om nie met ’n vrou omgang te hê nie, en in 7:7: ek wens dat alle mense soos ek (ongetroud) kon wees, maar elkeen het ’n eie gawe van God ontvang, die een dit (om ongetroud, sonder omgang met ’n man of vrou te wees), die ander iets anders (om in die huwelik gemeenskap te hê, waar elke man sy eie vrou en elke vrou haar eie man het, wat hulle aan mekaar gee en aan mekaar onderwerp, soos in 7:2-5 beskryf is).

Oor die lewenslange verhouding sê Paulus in  Kor 7:39-40: ’n Vrou bly aan haar man verbind solank as wat hy leef, maar as haar man ontslaap/gesterf het, staan dit haar vry om te trou met wie sy wil, maar slegs as dit in verbondenheid aan die Here is. Tog sal sy gelukkiger wees as sy bly soos sy is, om die Here as weduwee te dien (1 Timoteus 5:9). Vir die jonger weduwees sê hy in 1 Timoteus 5:14 dat hulle moet trou en kinders hê en hulle huishoudings bestuur.

Vir jongmense, wat die gawe van onthouding van God ontvang het, sê Paulus dat as hulle ongetroud in ’n vriendskapsverhouding sonder seksuele omgang kan bly doen hulle goed. Maar as hulle nie die gawe van onthouding ontvang het nie, doen hulle reg om te trou (1 Korintiërs 7:7 en 7:36-38).

Efesiërs 5:21-33 brei uit op die verhouding tussen man en vrou in die huwelik: (1) dat die man sy vrou so lief moet hê soos Christus die gemeente liefhet en vir ons sonde gesterf het om ons te verlos en ons te reinig (Ef 5:25); (2) dat die man sy vrou moet liefhê soos sy eie liggaam, soos Christus sy kerk liefhet (Ef 5:28-29). (3) Paulus noem die verbintenis van man en vrou tot een liggaam ’n groot geheimenis, wat ’n beeld en getuienis is van die verhouding tussen Christus en sy kerk (Ef 5:31-32). Die geheimenis is dat ’n huwelik in die selfopofferende liefdesverhouding wat hy hier beskryf het, vir mense iets wys van die verhouding tussen Christus en sy kerk vir wie Hy so liefgehad het, dat Hy vir ons sonde aan die kruis betaal het en ons vrygemaak het van die sondelas om as kinders van God te lewe.

Skrywer: Prof Francois Malan




Mense en Redding: Die Sinoptiese Evangelies (4) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Maar wat is hierdie koninkryk van God waarop die redding van Jesus gemik is? Matteus beskryf dit in meer detail in Matteus 13:

  • Redding kom deur prediking van die goeie boodskap oor Jesus. Nie almal gaan ewe goed na die goeie boodskap luister of dit aanvaar nie. Diegene wat die boodskap wel gaan aanvaar, gaan die vrug daarvan pluk (die gelykenis van die saaier – Matt 13:3-9, 18-23).
  • Goeie en slegte mense gaan skouer aan skouer in die wêreld leef – dit gaan nie alles sommer net perfek wees nie. Maar die finale oordeel gaan die kaf van die koring skei (gelykenis van die onkruid tussen die koring – Matt 13:24-30).
  • Die goeie mense sal hulle invloed moet laat geld wat aanvanklik klein en onaansienlik mag lyk, maar tog vir groot en indrukwekkende resultate gaan sorg (gelykenisse van die mosterdsaadjie en suurdeeg – Matt 13:31-33).
  • Die koninkryk gaan tog alles in waarde oortref. Mense sal alles in hulle lewens herorienteer ten einde die skat van die koninkryk te kry (gelykenisse van die skat in die saailand en goeie pêrels – Matt 13:44-46).
  • Daar wag ‘n finale oordeel waar die geredde mense van die wat nie gered is nie, geskei gaan word (gelykenis van die vangnet – Matt 13:47-50).

Hierdie gelykenisse gee ‘n indruk wat presies Jesus bedoel as Hy sê die koninkryk het naby gekom. Mense sal die boodskap moet aanvaar – dit beteken egter nie dat hulle direk in die hemel beland nie. Hulle moet saam met ongelowiges in die wêreld leef en daarom soos suurdeeg hulle invloed laat geld. Hulle het immers die kosbaarste ding denkbaar om met ander te deel, die koninkryk. Immers, die lede van die koninkryk gaan met die koms van Jesus by God wees, terwyl God se oordeel die ander gaan tref. Dit gaan dus oor mense wat in hierdie wêreld gaan werk en leef met ‘n taak nou en ‘n hoop op die toekoms. Dit is wat dit beteken om gered te wees.

Nou dat ons weet wat die koninkryk van God is, is die volgende vraag: Hoe word ‘n mens deel van hierdie koninkryk?




Mense en Redding: Die Sinoptiese Evangelies (3) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

In die vorige artikel het ons gesien dat die Ou Testament voorspel het dat die Messias sou kom en dat dit gebeur het. Ons gaan nou verder met die beskrywing van redding in die sinoptiese evangelies.

  1. b) Jesus kom en die koninkryk is naby – die verhaal van Israel deur en in Jesus herdefinieer

 Met die koms van Jesus het die koninkryk van God (of die hemele) naby gekom. As Jesus sê dat die koninkryk van God naby gekom het, verwys Hy na sy eie teenwoordigheid. Die ‘koninkryk van God’ verwys na daar waar God regeer, en God regeer waar Jesus optree en preek.

Reg van die begin af, by die beskrywing van Jesus se geboorte, word sy rol in die koms van die koninkryk beskryf: Jesus kom om sy volk van hulle sonde te verlos, soos die engel aan Josef in Matt 1:22 sê: 21Sy (Maria) sal ’n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos. Maar Jesus sal ‘n tweede naam dra (Matt 1:22-23): 22Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word: 23“Die maagd sal swanger word en’n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons. Hiermee die program wat die optrede van Jesus beskryf – Hy kom mense van hulle sonde verlos deur God tot by hulle te bring. Dit word deur die soldate by die kruis bevestig toe hulle bely dat Jesus wat aan die kruis hang werklik die Seun van God is (Matt 27:54).

Johannes die Doper eggo al hierdie boodskap nog voordat Jesus met sy openbare bediening begin. As hy oor Jesus praat, fokus hy volgens Matteus op die eskatologiese oordeelshandelinge van Jesus (Matt 3:11-12; sien ook Luk 3:16-17): 11Ek (= Johannes) doop julle wel met water omdat julle julle bekeer het, maar Hy wat ná my kom, is my meerdere, en ek is nie eers werd om sy skoene uit te trek nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. 12Hy het sy skop in sy hand en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Sy koring sal Hy na die skuur toe bring, maar die kaf sal Hy met ’n onblusbare vuur verbrand. Jesus sal dus skeiding bring tussen mense – ‘n deel wat gered gaan word en ‘n deel wat veroordeel gaan word. Hy kom inderdaad ‘n verskil maak. Hy het nie gekom om vrede te bring nie, maar skeiding.

Jesus word as redder, prediker en wonderwerker beskryf. In Matteus 4:23 word vertel wat Jesus gedoen het: Hy het toe in die hele Galilea rondgegaan en die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal onder die volk gesond gemaak. Sy verkondiging oor die koninkryk is natuurlik kragtig bevestig deur sy wonderdade. Deur hierdie reddingswerke het Jesus hom dus diensbaar gemaak vir mense sodat hulle gered kan word. Hy het dit so gestel (Mk 10:45): Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.

Vir Matteus is die geskiedenis van Jesus ‘n geskiedenis wat vertel van God wat sy Verlosser as die opvolger van Moses stuur om sy volk Israel te verlos. Hy bring die goeie nuus van die koninkryk wat gekom het, en help die “kinders” om deel van die koninkryk van God te word.

Ons het nou baie gepraat van die koninkryk van God, maar wat is dit? Daarna kyk ons in die volgende artikel.




Mense en Redding: Die Sinoptiese Evangelies (2) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

 

Ons kyk nou na die verskillende maniere waarop redding in die sinoptiese evangelies beskryf word.

  1. Bekeer julle, want die koninkryk van God het naby gekom!

Hoewel elkeen van die drie sinoptiese evangelies ook sy eie klem dra, gaan sekere punte van ooreenstemming as basis vir die beskrywing hier dien.

As die tema vir Jesus se prediking gegee word, word dit in terme van redding gestel: ‘Hy (Jesus) het gesê: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.”’ (Mk 1:15). Ons het reeds in die eerste hoofstuk gesien waarom mense hulle moes bekeer  en die redes gaan daarom nie hier herhaal word nie. Die feit van die saak is dat dit nodig was vir die mense om ‘n ommekeer te maak, hul lewens in ‘n ander rigting te oriënteer. Wat het agter hierdie boodskap en oproep van Jesus gelê?

  1. a) Die Ou Testament het voorspel… en dit gebeur!

Die tyd het inderdaad aangebreek (Mk 1:15), God het naby gekom. Die Joodse geskrifte het dit voorsien. Die getuienis uit die Ou Testament vorm ‘n belangrike raamwerk waarbinne die reddingswerk van Jesus ontvou word. Bowendien dien die Ou-Testamentiese beloftes as bevestiging dat God aan die werk is in dit wat Jesus doen. Dit is die God van die Ou Testament wat in Jesus na sy volk toe kom en sy reddingsplan in Hom ontvou; Hy is en bly die bron van die redding.

Matteus en Markus lê klem daarop dat die Ou-Testamentiese beloftes dat God na Sion sal terugkeer en sy mense so sal red, op ‘n besondere manier in Jesus waar gemaak word. Soos ‘n nuwe Moses kom Jesus uit Egipte (Matt 2:19-23) na die volk toe en praat met hulle soos Moses van die berg af oor die verwagtinge wat God van hulle het as mense van sy koninkryk (Matt 5-7). So word die geboorte van Jesus in Matteus 1:22-23 direk met die vervulling van die Skrif in verband gebring:

22Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word: 23“Die maagd sal swanger word en ’n Seun in die wêreld bring,en hulle sal Hom Immanuel noem.” Die naam beteken God by ons.

Ook in Lukas lees ons van die lang geskiedenis van God met sy volk waarin daar ook beloftes oor die redding gemaak is (Luk 1:13-17; 2:9-14). Jesus self verwys daarna as Hy vir die Emmausgangers sê:

44Daarna sê Jesus vir hulle: “Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is.” (Luk 24:44; sien ook 24:25-26).

 Jesus verduidelik dan self vir hulle watter fasette van sy lewe deur die Skrifte in die vooruitsig gestel is: 45Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan. 46Verder sê Hy vir hulle: “So staan daar geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, 47en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.’ (Luk 24:45-47).

 Die rol van hierdie aanhalings uit die Ou Testament was vir die vroeë Christene belangrik. Vir gelowiges vandag is dit ‘n uitgemaakte saak dat Jesus die Messias is, maar vir die mense wat saam met Jesus geleef het, was dit nie so vanselfsprekend nie. Ons lees dat daar verskeie persone beweer het dat hulle die verwagte Messias was. Hoe moes mense weet? Hulle het veral twee maatstawwe gehad:

  1. As iemand die messias was, moes hy God aan sy kant gehad het en dit moes duidelik word uit die bo-menslike dinge wat hy kan doen, met ander woorde, die krag van God moes deur hom sigbaar word. Dit het Jesus natuurlik gewys toe Hy siekes gesond gemaak het en duiwels uitgedryf het.
  2. Om as die messias te kwalifiseer moes die persoon binne die ewige plan van God inpas. Die plan sien ons reeds uitgespel in die Ou Testament waar God deur sy profete oor sy planne praat. Jesus moes dus binne hierdie planne inpas en het ook. Om dit te bewys word uit die Ou Testament aangehaal, om te wys hoe Jesus binne die planne inpas en die planne inderdaad verder laat ontplooi.

As Jesus dus aan die Emmausgangers die Skrifte verduidelik, toon Hy daarmee aan dat God se planne in Hom hul voortgang het. Dit is nie altyd duidelik waarna daar verwys word as daar gesê word dat die Skrifte Jesus se dood en opstanding voorspel het nie. ‘n Messias wat sou sterf was nie eintlik wat verwag is nie. Van die min, maar belangrike dele wat hiervoor kwalifiseer is Jesaja 53 waar daar oor die lydende kneg gepraat word.

Lukas gee ‘n goeie voorbeeld van hoe Jesus in die geskiedenis van Israel ingepas het. Geïnspireer deur die Heilige Gees sê Sagaria, Johannes die Doper se pa: Lofwaardig is die Here, die God van Israel, want Hy het sy volk in genade opgesoek en vir hulle verlossing bewerk. 69’n Sterk Verlosser het Hy vir ons laat opstaan uit die huis van sy dienaar Dawid. 70So het die Here dit reeds van oudsher belowe deur die mond van sy heilige profete: 71om ons te verlos van ons vyande en uit die hand van al ons haters; 72om Hom te ontferm oor ons voorvaders en sy heilige verbond te onthou. 73Met ’n eed het Hy dit bevestig aan ons voorvader Abraham dat Hy sou gee dat ons, 74gered uit die hand van vyande, Hom onbevrees kan dien 75in vroomheid en opregtheid al die dae van ons lewe. (Luk 1:68-75). Uit die woorde is dit duidelik dat die God van Israel weer sy mense opgesoek het en sy belofte by monde van die heilige profete dat ‘n nasaat van die top koning van Israel, Dawid, weer sal kom regeer, gehou het. Hy het sy verbond met Abraham nie gebreek nie en hulle kom red van hulle vyande. Om dus die betekenis van die koms van Jesus reg te verstaan moet Hy ingebed word in hierdie geskiedenis. As Hy kom, is Hy die uitloper van hierdie geskiedenis van God met sy volk.

Die verwysings na die Ou-Testamentiese geskiedenis het natuurlik nie alleen in die sinoptiese evangelies ‘n belangrike rol gespeel nie, maar ook in die ander boeke van die Nuwe Testament. Johannes sê byvoorbeeld dat Moses van Jesus geskryf het en dat die Skrifte van Jesus getuig (Joh 5:39, 46-47). Petrus stel dit nog sterker in 1 Pet 1:10-11: 10In verband met hierdie saligheid het die profete, wat die genade verkondig het wat vir julle bestem is, deeglik en noukeurig ondersoek ingestel. 11Die Gees van Christus wat in hulle was, het vooruit verkondig dat Christus moet ly en daarna verheerlik sal word… 12Aan hulle is geopenbaar dat wat hulle geprofeteer het, nie vir hulleself bedoel was nie, maar vir julle…

 Jesus en sy boodskap word dus deur die verwysings na die Ou-Testament aan God se reddingsplan verbind. Jesus is inderdaad deel van God se geskiedenis (Luk 1:47; 3:20).

In die volgende artikel sal ons sien dat met Jesus se koms die koninkryk van God naby gekom het.