Mense en Redding: Die Sinoptiese Evangelies (1) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Die verskillende aspekte van die breër verhaal van redding word natuurlik deur die verskillende skrywers op verskillende maniere uitgedruk en beskryf. Ons gaan by die eerste drie Evangelies (sinoptiese evangelies) begin. Ons begin daar omdat die drie nou verwant is, aangesien Matteus en Lukas beide vir Markus en nog ‘n ander bron, naamlik die sogenaamde Q-bron gebruik het om hulle boodskappe weer te gee. Daar is natuurlik nuanseverskille omdat die drie Evangelies aan verskillende groepe in verskillende situasies geskryf is, maar in breë trekke vloei die boodskap van redding van die drie Evangelies binne dieselfde stroom.

Wat met die Evangelies onthou moet word is dat dit verhale oor die lewe van Jesus is. Dit is nie uitgewerkte opstelle oor redding nie, maar die goeie boodskap van redding word in die verhaal van Jesus en sy dissipels ingevleg. Daar kan dus baie oor redding geleer word, deur na die optrede, relasies en woorde van die karakters in die verhale te kyk. As Jesus iemand genees, is Hy besig met redding – terloops die Griekse woord vir redding word dikwels gebruik om sulke genesings te beskryf. Matteus die tollenaar staan op uitnodiging van Jesus op en volg Hom – so word sy redding in die verhaal beskryf (Matt 9:9-13). Saggeus, nog ‘n tollenaar, klim uit die boom uit en ontvang Jesus in sy huis – so is hy gered (Luk 19:1-10).

In hierdie gedeelte gaan ons na die volgende vrae kyk:

  • Op watter maniere beskryf die sinoptiese evangelies redding?
  • Wat is die koninkryk van God?
  • Hoe word ‘n mens deel van die koninkryk van God?
  • Wat van nou?
  • Waarom is redding nodig?
  • Wat dan van sonde?

In die volgende artikel gaan ons begin kyk na die verskillende maniere waarop redding in die sinoptiese evangelies beskryf word




Liggaam en siel – Hermie van Zyl

Anna vra:

In Matt 10:28 staan God kan LIGGAAM en siel in die hel werp. Wanneer gebeur dit? Die liggaam is dan in die graf? Gaan die fisiese liggaam dan eendag hel toe, asook jou siel?

 

Antwoord:

Prof Hermie van Zyl antwoord

Die vraagsteller stel skerp en interessante vrae, maar vrae wat nie so maklik te beantwoord is nie, gewoon omdat die bedoeling van die teks in ‘n ander rigting lê as waarin ons vraagsteller geïnteresseerd is. Ek sal dus eerder iets oor die oogmerk van die teks probeer sê en dan enkele opmerkings maak oor die spesifieke vrae.

Matteus 10:28 lui: “Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan” (1983-AfrVert). Hierdie vers is deel van die sogenaamde uitsendingsrede van Matteus – waar Matteus vertel hoe Jesus sy dissipels na die “verlore skape van die volk Israel” gestuur het met die boodskap dat die koninkryk van God naby gekom het (10:6-7). In 10:17-25 word dan vertel van die teenstand wat die dissipels te wagte kan wees, wat neerkom op aktiewe vervolging. Dit is duidelik dat Matteus nie bloot die situasie tydens Jesus se aardse bediening weergee nie, maar dat hy as ‘t ware die omstandighede van sy eie tyd, ongeveer 50 jaar nadat Jesus op aarde was, inbou in sy beskrywing. In hierdie tyd het die Matteaanse gelowiges (waarskynlik die kerk in Antiogië in die tagtiger jare van die eerste eeu, aan wie Matteus skryf) geweldige druk ervaar van hulle mede-Jode wat nie in Jesus as die Messias geglo het nie. Die Jode-Christene is deur die Jode voor die hof gesleep, in die sinagoges gestraf (10:17) en daar was baie onmin in Joodse families as gevolg van sommige se geloof in Jesus (10:21). En dan troos Jesus sy dissipels deur daarop te wys dat hulle so juis bewys lewer dat hulle egte volgelinge van Jesus is, want die leerling is nie bó die leermeester nie – as die leermeester vervolg is, sal dit ook met die leerlinge gebeur (10:24-25).

Vervolgens sit Jesus sy bemoediging voort. Hy gaan in op die vrees wat die dissipels het vir hulle vervolgers. Op twee maniere besweer Jesus hierdie vrees as ongegrond: Eerstens het hulle ‘n visie van die koninkryk van God wat die vervolgers nog nie het nie. Daarom moet hulle dit onbevrees van die dakke af verkondig sodat dit aan almal bekend gemaak kan word (10:26-27). As hulle stilbly, sal dit beteken dat hulle eintlik nog maar dieselfde siening van die werklikheid het as hulle vervolgers – dat die maghebbers van hierdie wêreld die eintlike heersers is. Maar deur die koninkryk soos dit in Jesus gekom het, onbevrees te verkondig, wys hulle dat hulle Jesus se visie van die werklikheid deel – dat God regeer en uiteindelik sy koninkryk sal laat kom op aarde, soos Hy dit reeds in Jesus laat kom het; ‘n koninkryk van liefde, geregtigheid, vergifnis en herstel.

Maar daar is ‘n tweede manier waarop hulle hulle vrees vir menslike owerhede kan oorkom, en dit is deur te besef dat menslike owerhede slegs beperkte gesag het: hulle kan net die liggaam doodmaak (10:28a). Daar is egter ‘n hoër gesag, naamlik God, wat nie net oor die liggaam gesag het nie, maar ook oor die siel. En Hy kan beide liggaam en siel, dit wil sê die totale mens, in die ewige verderf laat vergaan. Dit is dus beter om Gód te vrees as menslike owerhede. Die sin van die teks is dus dat die gelowiges onbevrees met hulle verkondigingswerk kan voortgaan; daardeur bewys hulle dat hulle God meer vrees as mense en dat hulle reeds deel is van ‘n koninkryk wat geen einde het nie, waaroor God alleenbeskikking het.

Ons moet egter hierdie “vrees vir God” reg verstaan. Die bedoeling is nie dat hulle moet bang wees vir God en Hom dien net omdat hulle God se ewige straf in die hel vrees nie. Nee, “vrees” moet hier eerder in Ou-Testamentiese sin verstaan word, waar God “gevrees” en gedien word. Ons sê ook: iemand is Godvresend en bedoel dan dat God uit liefde, respek, dankbaarheid en gehoorsaamheid gedien word. Hierdie gedagte lê wyd in die OT ingebed, vergelyk Deuteronomium 6:13; 10:12,20; Spreuke 1:7; 8:13; 9:10 (lees dit in die 1933/53 AfrVert, waar “vrees van die Here” in die betekenis van eerbied, respek en liefde vir God gebruik word). En omdat die dissipels God só dien, ervaar hulle ook sy beskerming. Hulle weet dat wat hulle doen, binne sy wil is en dat niks met hulle sal gebeur waarvan Hy nie weet om hulle daardeur te dra nie. As die Here selfs die mossies beskerm, hoeveel te meer sal Hy húlle nie beskerm nie. Selfs die hare op hulle kop is getel (Matt 10:29-30).

Dit behoort nou duidelik te wees binne watter verband Matteus 10:28 verstaan moet word. Die oogmerk van hierdie teks is nie dat ons allerlei afleidings moet maak oor die lewe ná die dood en presies hoe mense wat “hel toe gaan” die ewigheid sal deurbring nie. Die bedoeling is eerder om die dissipels vir hulle verkondigingstaak op aarde te versterk: aardse owerhede kan net tydelik straf, maar God straf vir ewig. Dis daarom beter om God te “vrees”, Hom te dien, Hom te gehoorsaam en lief te hê.

Dit is wel waar dat Matteus hier gebruik maak van tipiese onderskeidinge van destyds wat sowel in Joodse as Griekse kringe gewild was. Daar is byvoorbeeld onderskeid gemaak tussen liggaam en siel. Die liggaam is die voor die hand liggende konkrete bestaan van die mens op aarde; wanneer die mens sterf, vergaan die liggaam in die graf. Die siel verwys na die voortbestaan van die mens ná sy dood, maar in Joodse kringe het die mens as “siel” nie noodwendig ewige, onsterflike status geniet nie, soos wel oor die algemeen in die Griekse wêreld geglo is. Daarom dat daar ook hier gesê word dat God die liggaam én siel kan laat vergaan, wat duidelik aantoon dat die mens in sy totaliteit kan vergaan, hoewel ons nie seker is wat presies met “vergaan” bedoel word nie – totale vernietiging of ewige, bewustelike straf? Waarskynlik laasgenoemde (kyk Matt 25:41,46). Punt is dat Jesus/Matteus hierdie onderskeid tussen liggaam en siel gebruik om God se absolute en ewige gesag oor die mens te beklemtoon. Aardse owerhede het hoogstens gesag oor die liggaam, maar God oor die totale mens – liggaam én siel, vir ewig.

Verder maak Jesus/Matteus waarskynlik ook hier gebruik van die gedagte van die opstanding van die dooies – goeies én slegtes – aan die einde van die tyd, ‘n gedagte wat wyd verbreid onder die Jode van destyds voorgekom het. Ook die verdoemdes wat intussen gesterf het, sal dan liggaamlik opstaan om hulle ewige straf as volledige mense te ontvang. Daarom dat Matteus 10:28 kan sê dat “sowel die liggaam as die siel” in die hel sal vergaan.

Ons moet egter nie te veel maak van al hierdie kategorieë van denke van destyds nie, omdat, soos reeds betoog, die oogmerk van die teks in ‘n ander rigting lê as om presiese inligting te gee oor wat met die mens ná die dood gebeur of in watter hoedanigheid mense die ewige hel sal deurbring. In die algemeen is die Bybel se siening nie dat die mens ‘n soort samevoeging van gees, siel en liggaam is nie, maar eerder dat die mens gees is, siel is en liggaam is. Elkeen van hierdie kategorieë druk eintlik die volledige mens uit, net vanuit ‘n ander perspektief gesien. “Vlees/liggaam” beskryf die mens in sy brose, tydelike, sondige bestaan; “gees” in sy verhouding met God, en “siel” in sy ewige bestaan, hoewel laasgenoemde twee kategorieë mekaar kan oorvleuel. Die saak is eintlik taamlik kompleks. Die vraagsteller kan gerus op Bybelkennis.co.za verder hieroor lees in bydraes soos: “Alle paaie lei na Jesus: siel, gees en liggaam”; “Siel, gees en liggaam”; “In die gees by iemand”; en “Die siel”. Soek hierdie bydraes op Bybelkennis se webblad deur die soekwoorde: siel, gees en liggaam in te tik.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Mense en Redding: Inleiding (2) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Voordat daar verder in meer detail in hierdie plan van verlossing ingegaan word, is enkele algemene opmerkings eers nodig.

  • Waaroor praat ons presies as ons oor soteriologie (redding) praat? Ons kan natuurlik konsentreer op die oomblik van redding, wanneer ‘n persoon se lewe van ‘n negatiewe na ‘n positiewe situasie verander word. Woorde soos genesing, bekering of wedergeboorte word byvoorbeeld vir die oomblik van omkeer gebruik. Ons kan egter ook praat oor die gevolge van die oomblik van verandering, met ander woorde, die nuwe lewe wat mens kry, versoening wat mens voortaan in vrede laat leef. Dan sluit soteriologie veel meer in as bloot die oomblik wanneer mens uit die negatiewe situasie gered word. ‘n Mens se hele lewe word dan eintlik deel van soteriologie, want jy is ‘n geredde mens. Wat vir gelowiges in die toekoms wag, kan ook as deel van soteriologie gesien word – die nuwe Jerusalem, Jesus wat ons finaal uit hierdie verganklike wêreld kom red.

Ons gaan in hierdie gedeelte meer klem laat val op die oomblik van verandering, hoewel die ander fasette nie uitgesluit gaan word nie.

  • Die Nuwe Testament bestaan uit ‘n verskeidenheid boeke wat aan verskillende groepe vir verskillende redes oor ‘n periode van sestig jaar geskryf is. In die verskillende boeke van die Nuwe Testament word daar dus op verskillende maniere oor die maniere waarop mense se lewens verander word, gepraat. Die een skrywer praat van wedergeboorte, die ander een van versoening of loskoping, die ander een van navolging. Die verskillende beskrywings mag nie sommer net deurmekaar gegooi word nie. Byvoorbeeld, (weder)geboorte is deel van ‘n groter beeldkompleks waar geboorte lei tot nuwe (ewige) lewe, wat veronderstel dat mens as deel van God se familie leef. Net Johannes en Petrus maak werklik van die uitdrukking gebruik. Regverdigmaking het weer met regspraak deur ‘n regter te doen. Dit gaan oor skuld wat vrygespreek moet word. Die beeld wat gebruik word om te beskryf wat gebeur is dus heeltemal anders en Paulus is veral lief om die beskrywing te gebruik. ‘n Mens moet dus versigtig wees om nie sommer wat Johannes sê met Paulus se beskrywings te vermeng nie. Daarom gaan die bespreking van die soteriologie hier die verskillende boeke of groepe boeke van die Nuwe Testament bietjie uitmekaar hou en afsonderlik bespreek. Daar gaan egter nie op al die detail gekonsentreer word nie, maar tog probeer word om die hooflyne van hoe die verskillende skrywers oor redding gedink het, te beskryf.
  • Die idee moet nie ontstaan dat die skrywers van die Nuwe Testament heeltemal van mekaar verskil het en elkeen sy eie kop gevolg het nie. Hulle was immers deel van dieselfde Christelike tradisie. Hulle het gevolglik sekere breë sienings oor die redding van die mens gedeel – ‘n mens kan praat van ‘n “meesterverhaal” wat basies deel was van elke skrywer se denke.

Die skrywers van die Nuwe Testament gaan uit van ‘n negatiewe beeld oor die mens opsigself. Die mens verkeer in ‘n negatiewe situasie omdat daar geen verhouding met God bestaan nie. Hulle vervreemding van God is duidelik uit die manier waarop hulle teenoor God, hulleself en ander optree (sien Rom 1-3:20). Hulle is vasgevang in hulle sondige situasie. Mense kan hulleself nie uit hierdie negatiewe situasie red nie, wat natuurlik om redding ‘van buite’ vra.

Dit is waar die genadige en liefdevolle God in aksie kom. Deur Jesus skep God die geleentheid vir mense om in ‘n verhouding met Hom te tree. Dit vind deur geloof in Jesus plaas. Deur sy dade en boodskap bemiddel Jesus die redding aan mense wat glo. Die nuwe verhouding wat tot stand kom tussen God en die gelowige kom neer op ‘n proses van hersosialisering waar die gelowige binne die raamwerk van God se koninkryk of familie nuwe lewensmoontlikhede kry en nuut kan leef. So verkry die gelowige ook die hoop op ‘n ewige toekoms saam met God en Jesus, soos Openbaring sê, in die nuwe Jerusalem. Intussen word van die gelowige verwag om volgens die wil van God in lojaliteit en gehoorsaamheid te leef.

 In die volgende artikel gaan ons begin kyk na hoe die sinoptiese evangelies redding beskryf.




Mense en Redding: Inleiding (1) – Jan van der Watt

Mense en Redding is ‘n reeks artikels geskryf deur Prof Jan van der Watt. Ons dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.

Na ‘n algemene inleiding gaan ons kyk hoe verskillende skrywers redding benader. Ons gaan kyk na:

  • Die Sinoptiese evangelies
  • Die Johannese geskrifte
  • Paulus se briewe
  • Hebreërs en die ander briewe in die Nuwe Testament.

Die reeks word afgesluit met ‘n aantal artikels oor sonde.

Die Bybel gaan van die begin af oor God en sy verhouding met mense. Soos ons uit die Ou Testament weet, is dit ‘n kleurvolle geskiedenis waar die verhouding telkens in die slag bly vanweë die ongehoorsaamheid en afvalligheid van die mense. Tog leer ons ‘n genadige God ken wat telkens sy hand weer na sy volk toe uitsteek. Hosea 11:7-9 dring tot die kern van die saak deur:

7Omdat my volk My verlaat het, sal party van hulle opgehang word en die ander sal die slawejuk moet dra, ’n juk wat nie afgegooi sal word nie! 8Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel?… Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk. 9Ek sal my gloeiende toorn bedwing, Ek sal nie so ver gaan en Efraim uitwis nie, want Ek is God, nie ’n mens nie. Ek is die Heilige wat by jou is, Ek sal nie met woede ingryp nie.

 God laat nie sy mense los nie. Hy is telkens weer die een wat ‘n nuwe plan maak. Dit lees ons ook in die laaste verse van die Ou Testament wat met ‘n belofte van redding eindig (Maleagi 4:5-6).

5Ek gaan vir julle die profeet Elia stuur voordat die dag van die Here kom, die groot, die verskriklike dag.6Elia sal vaders en kinders met mekaar versoen sodat Ek nie hoef te kom en die land heeltemal vernietig nie.

Juis daaroor gaan die Nuwe Testament, oor God se goeie nuus vir die wêreld, sy nuwe plan om sy mense van die sonde en hulle eie swakheid te red en hulle verhouding met Hom te herstel. In die plan staan Jesus natuurlik sentraal. Hierdie verhaal van God se redding word tegnies ‘soteriologie’ genoem (afgelei van die Griekse woorde sōtēr = redder en logos = woord/leer).

In die volgende artikel gaan ons na enkele algemene opmerkings kyk voordat ons die besonderhede van hierdie verlossingsplan in meer besonderhede bespreek.