Seën, voorspoed en vreugde vir Jerusalem en Israel (vervolg; 61:5-11) – Francois Malan

61:5-7 In die vorige vier verse is die ander nasies nie genoem nie. Hier word hulle betrek by die nuwe samelewing, maar die bordjies is verhang. Die groot bouprogram het vakmanne nodig, en hulle word ingevoer van die ander nasies af. Die nasies kom werk as arbeiders ook op die plase van die Jode wat tydens die ballingskap op hulle beurt in diens van die Babiloniërs was.

Terwyl die ander nasies ook die geringer landboutake uitvoer, word die ontvangers van die Here se beloftes aan Sion, met ander woorde die hele gelowige volk  ‘Priesters van die Here’ en ‘Dienaars van ons God,’ met die voorreg om te lewe van die ryk gawes van die nasies wat hulle na die tempel toe bring en in die ekonomie lewer, en in hulle eer/besittings sal jy  roem (1983: die trotse eienaars word van hulle besittings). Priesters tree vir die volk en die ander nasies in by die Here, en Dienaars dien die gemeenskap met die woorde en dade van die Here, om hulle te leer om vir die nasies ‘n voorbeeld te wees en ‘n getuienis van hoe die Here is.

In 40:2 staan, Israel het van die hand van die Here dubbel ontvang vir al hulle sonde (1983: die volle straf). In die ballingskap is hulle dubbel verneder in die oë van die nasies, en het dubbel gely vir hulle sonde. 61:7a sê letterlik ‘in plaas van julle dubbele skande en die verwarring waaroor hulle hardop gekla het as hulle lot…’ daarteenoor staan die dubbele deel voorspoed in 61:7b, soos aan Job in Job 42:10. ‘n Dubbele deel verwys in Deutr 21:17 na die erfenis van die eersgeborene as sy voorreg (vgl. 1 Sam 1:5). So ontvang Israel ‘n dubbele deel van die welstand en oorvloed as die Here se eersgebore seun (Eks 4:22). In die nuwe tyd word alles omgekeer. Israel, die Here se volk wat aan Hom toegewy is, lewe in die weelde van die gawes wat sy eertydse onderdrukkers vir hom bring uit eerbied vir die God van hierdie volk wat volgens sy wil saam lewe. In plaas van hulle vroeëre vernedering ontvang Israel nou ‘n oorvloed besittings, lof en vreugde.

61:8  Die profeet se rede word onderbreek deur die woorde van die Here, wat die rede verskaf vir die buitengewone vergesigte van die digter-profeet. Die goeie vooruitsigte vir ‘n herstelde Jodendom is gebaseer op die Here se wil vir hulle samelewing en sy beloftes wat teen die huidige omstandighede ingaan. Die vers begin met ‘n ‘Ek is’ uitspraak soos in 41:4. Ek is Jahweh, ‘Die Ek is’ – die HERE (wat altyd persoonlik en aktief teenwoordig is).

Die Here is geheel toegewy aan reg en geregtigheid (Ps 99:4 Hy het die reg lief en het reg en geregtigheid in Jakob gevestig). ‘En Ek haat roof met onreg’ – die onreg wat Israel so lank gely het onder die nasies wat hulle van hulle menswaardigheid en besittings beroof het. Daarom is dit dat die Here, deur sy liefde en toewyding aan die reg, die radikale omkeer van die vorige verse aankondig (die woord be‘aowlah ‘met onreg’ van party Hebreeuse manuskripte is deur die Masorete anders gevokaliseer as be‘owlah ‘met brandoffer’ en is gevolg deur die 4e eeu n.C. se Vulgaat in Latyn en holocausto. Die Griekse Septuaginta van 200 v.C. vertaal byvoorbeeld met eks adikias  ‘uit onreg’ wat die konteks beter pas).

En Ek sal in getrouheid aan hulle die verdienste vir hulle werk gee, en ‘n ewige verbond met hulle sluit (letterlik ‘sny’ Gen 15:10). Gedurende die ballingskap het baie gedink dit is die einde van die Here se getrouheid aan sy verbond. Slegs die enkeles wat dit gewaag het, het geglo die ballingskap is nie die einde van die verbond  nie. Nou word die getrouheid van die Here aan sy verbond, waarop die bestaan van Israel gebou is, deur die Here bevestig. Sy trou aan sy verbond met Abraham (1,300 jaar tevore; Gen 17:7) en met Dawid (1,000 jaar tevore; 2 Sam 23:5) is nie voorwaardelik nie en bly staan onder alle omstandighhede. Die toekoms van Israel wat nou in werking tree is gewortel in die Here se ononderbroke besluit. Die verbond word deur die bloed van Jesus beseël, wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes (Mt 26:28; vgl Jes 53:12 hy het die sondes van baie op hom geneem). As self God, is Hy die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (Jn 1:1,29), dit sluit ook die sonde van die mense van die Ou Testamentiese tye in, en van vandag se mense 2,000 jaar n.C. Wie in die Seun glo, het die ewige lewe; wie egter aan die Seun, die Woord van God, ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom (Jn 3:36).

61:9 Die nasies sal die herstel van Israel sien en erken dat Israel deur die Here geseën word. In Gen 12:3 het die Here vir Abram gesê: In jou sal al die volke van die aarde geseën wees. Dit is die fondament waarop die herstel van die ballinge gebou is. Hulle kom terug uit die ballingskap om vir al die volke van die aarde ‘n seën te wees (vgl. Jes 51:4; 52:10).

61:10 Die digter is vervul met vreugde – die sin begin in Hebreeus met ‘n herhaling van dieselfde woord: ‘ek is verheug met vreugde oor die Here’. ’My siel –die hele ek – juig oor my God.’ Die digter is ongereserveerd uitgelate.

‘want Hy het my beklee met ‘n gewaad van verlossing, met ‘n mantel van geregtigheid het Hy my toegedraai., soos ‘n bruidegom met ‘n priesterlike hooftooisel, en ‘n bruid haarself versier met haar bruidsuitset’

Na die militêre drag in 59:17 waarmee die Here Homself beklee met geregtigheid, word die beeld van ‘n bruidegom en bruid se vreugdeversierings hier gebruik vir die verlossing en geregtigheid waarmee die Here die digter-profeet en sy volgelinge beklee (soos Ef 4:22-23:’ julle moet eerder in die gees van julle denke vernuwe word. Ja, trek die nuwe mens aan wat in geregtigheid en ware heiligheid na God se beeld geskep is.’ Israel is uit die ballingskap verlos, maar word nou van hulle ou lewenswyse verlos. Geregtigheid wys na die verhouding tot God en medemens wat reggestel word. As die Here jou daarmee beklee en toedraai is dit hoe jy moet begin lewe. Die priesterlike hooftooisel praat van die verandering van die mens se denke, om soos ‘n priester bewoë te wees oor die sonde en tekortkominge van mense, en om vir hulle in te tree by die Here.

61.11 Alles gaan om die uitwerking op die samelewing in Sion wat vervul moet word met die Here se verlossing en geregtigheid en om Hom te prys. Die opbloei van die ekonomie soos uitgedruk in die jubeljaar, met sy regverdige verdeling en teruggawes, word vergelyk met ‘n produktiewe tuin wat vrugbaar sal wees deur te blom en geregtigheid voort te bring, met billike en regverdige verhoudings wat lewe aan almal gee. Dit sal ‘n getuienis vir die Here wees voor die nasies (vgl Jesus se gebed vir al sy volgelinge in Joh 17:20-23). Daarvoor het die Here Israel teruggebring uit die ballingskap dat  hulle samelewing in reg, geregtigheid en barmhartigheid  vir die nasies sal wys hoe die Here is, wat reg en geregtigheid liefhet, Hy wat oor die hele aarde regeer.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Bose geeste in jou huis – Francois Malan

Jackie vra:

Ek wonder al so lank oor die vraag. Kan geeste of bose geeste in jou huis wees? Kan hulle met jou praat of jou aanraak? My mense glo daaraan maar ek self het dit nog nooit beleef/ervaar nie.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Paulus waarsku in Efesiërs 6:10-12 teen die listige aanslae van die duiwel. ‘Ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie maar teen die bose magte van hierdie sondige wêreld, teen die bose geeste in die lug.’

In Efesiërs 2:2 verwys hy na die gemeentelede se heidense verlede: ‘Julle het gelewe soos hierdie sondige wêreld en julle laat lei deur die vors van die onsigbare magte, die gees wat daar nou aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is.’

Jesus waarsku in Lukas 11:24-26; vgl. Matteus 12:43-45): Wanneer ’n bose gees uit ’n mens uitgaan, swerf hy deur dor streke op soek na ’n rusplek. As hy dit nie kry nie, sê hy: ‘Ek gaan terug na my huis toe waar ek uitgegaan het.’ Hy kom dan terug en kry dit skoon en aan die kant. Dan gaan haal hy sewe ander geeste, nog slegter as hy self, en hulle trek in en gaan woon daar. Aan die einde is so ’n man slegter daaraan toe as aan die begin.

Die Bybel weet van die werking van bose geeste wat ons probeer wegkry van die Here af en weg van die Here se riglyne vir ons lewe. Sekere mense raak bewus van die werking van die bose geeste, wat gewoonlik nie hoorbaar met jou praat nie, maar jou probeer bang maak. Hulle raak bewus van sy teenwoordigheid, dikwels deur iets wat hulle aanvoel. Maar almal van ons ken versoekings wat ons wil lok en aandryf om verkeerde dinge te doen.

Jesus sê byvoorbeeld: die duiwel is ’n leuenaar en die vader van die leuen (Joh 8:44). As ons verkeerd gedoen het probeer ons dikwels eerste om die verkeerde te bedek met ’n leuen om ons los te lieg. Dan roep ons eintlik die duiwel om ons vry te maak. Terwyl Jesus sê die waarheid sal ons vrymaak (Joh 8:31). As ons die waarheid praat staan Hy ons by, want Hy is die weg die waarheid en die lewe (Joh 14:6).

In Efesiërs 6:10-18 wys Paulus die pad aan vir die gelowiges hoe om die duiwel se teenwoordigheid en sy werking teen te staan:

Soek julle krag in die Here en in sy groot mag (want Hy het die duiwel oorwin. Ons kan by die Almagtige God skuil). Die Here se pad wat Paulus aanwys word verduidelik met die beeld van die soldaat in uniform, wat vir Paulus oppas (Hand 28:16). Ons moet die volle wapenrusting van God aantrek en so lewe, gereed vir die stryd teen die bose geeste. Die wapenrusting bestaan uit:

1 die waarheid soos die gordel wat die soldaat se los klere om sy heupe vasmaak sodat hy vryelik kan werk en veg. So ken ons Jesus as die waarheid wat ons vryelik laat lewe deur die waarheid met mense te praat en daarin te bly. Dan kan die duiwel, vader van die leuen, ons nie vir sy doel gebruik nie.

2 geregtigheid soos die borsharnas van die soldaat, wat sy hart beskerm teen die pyle en spiese van die vyand. Geregtigheid is om in die regte verhouding met God te lewe as sy kinders vir wie Hy sorg. Die regte verhouding kry ons van God af omdat Jesus reeds vir al ons sondes met sy lewe betaal het en ons vrygespreek het. Daarom kan die duiwel ons nie aankla nie, en sy bose geeste kan ons nie uit ons Vader se hand ruk nie (vgl. Joh 10:28-29).

3 bereidheid vir die evangelie van vrede soos die sandale aan die soldaat se voete wat hom oor klippe en dorings vryelik laat beweeg. So kan ons praat en getuig oor die wonderlike evangelie, die goeie boodskap, dat ons deur en saam met die Seun van God beskou word as God se kinders. Dan kan die duiwel ons nie gebruik vir geweld en valse stories oor ander mense nie.

4 geloof in die Here Jesus, is soos die groot skild wat die soldaat se voorkant heeltemal bedek om die brandende pyle, met tou om wat met pik gesmeer is, af te weer. So kan geloof in die Here Jesus die vurige pyle van die Bose se aanvalle en versoekings afweer. As daar bose geeste in jou huis sou inkom kan jy hulle in die Naam van die Here Jesus bestraf en vra dat Hy hulle uitjaag.

5 verlossing soos die helm om die soldaat se kop te beskerm. So verlos Jesus ons van die sondeskuld van ons verlede, en verlos ons uit versoekings van die Bose deur by ons te staan in alle omstandighede. As ons in ons koppe seker is van ons verlossing deur Jesus, kan ons die duiwel en sy versoekings oorwin, en sal die bose geeste ons ook nie probeer aanval nie.

6 die woord van God is die swaard van die Gees. Die soldaat val aan en beskerm homself met sy swaard. So is die woord van God wat ons in die Bybel lees en ons lewens daarvolgens inrig, ons aanvalswapen en ons beskerming teen die Bose. Met die woord van God het Jesus die versoekings van die duiwel suksesvol teengestaan (lees Matteus 4:4,7,10).

7 daarby kom gebed waarmee ons met ons Vader praat nadat Hy met ons deur sy woord gepraat het. Met gebed dank ons Hom vir alles wat Hy elke dag vir ons doen, en bid ons elke dag dat Hy ons sal lei om sy wil vir ons lewe te doen.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Die merk van die dier – Francois Malan

Hester vra:
Is die micro chip waarvan almal nou praat die merk van die dier?
Antwoord:

Prof francois Malan antwoord:
Die Amerikaanse Signs of the Times verkondig dat Openbaring 13 se ‘merk van die dier’ die rekenaartegnologie is wat die wêreldekonomie sal beheer. Daarmee word Openbaring se simboliese getalle letterlik verklaar en misbruik.

Openbaring 13:16-17 praat van die dier uit die aarde, die beeld van die valse profeet, wat saam werk met die dier uit die see. Die dier uit die aarde word in 1 Johannes 2:18 genoem die antichris en dat daar nou reeds baie antichriste is. Deur die eeue lei hulle mense weg van Christus af om teen God en sy mense te laster.

Die bose trio is die draak van Openb 12 wat die plek van God die Vader wil inneem, die antichris wat die plek van Christus wil inneem, en die valse profeet, wat die werk van die Heilige Gees om mense te oortuig om Christus te verheerlik, wil oorneem om mense met wondertekens te mislei om die antichris te volg (Openb 13:14-15). Al drie is na-apers van die Goddelike Drie-eenheid. Die bose trio se merkteken is die getal 666 (Openb 13:18). Die merkteken beteken dat hulle maar net nie die volmaakte getal 777 van die Drie-eenheid kan bereik nie.

Die valse profeet se taak is volgens Openb 13:16 om al die mense ’n merk op hulle voorkoppe en regterhand te laat dra, wat sal aantoon dat hulle lojaal is aan die antichris.

Die waarskynlikste simboliese verklaring vir die merk op die regterhand en op die voorkop is dat die mense hulle denke (op die voorkop) en hulle werk (op hulle regterhande) in diens van die antichris plaas. Dit is ’n na-apery van die merk waarmee die engele die dienaars van God op hulle voorkoppe merk met die seël. (Openb 7:3). Die merk van die dier staan teenoor die verseëling van die gelowiges as God se eiendom. Die verseëling van Openb 7:3 is simbolies om te bevestig dat iemand aan God behoort, ’n simbool wat gesien word in die lewe en optrede van so ’n persoon. Die merk op die gelowiges se voorkoppe is ’n beeld wat verduidelik dat hulle glo in Jesus as die Seun van God, hulle Verlosser.

So spot die bose trio met die Joodse gebruik om die wet van God in ’n leersakkie op hulle voorkoppe en op hulle arms te dra. Somige Jode volg Deutr 6:6-9 letterlik: Hierdie gebooie wat ek vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan. Jy moet dit as herinneringsteken vasbind aan jou hande (in jou daaglikse werk), en dit moet ’n merk op jou voorkop (in jou gedagtes) wees.

Die gelowige navolgers van God en Christus dra die seël van Christus. Dit ’n beeld wat hulle aandui as mense wat aan Christus behoort. Dit is beeldende taal vir wat in hulle gedagtes en hulle optrede aangaan, dat hulle Christus gelowig navolg (Openb 7:3; 22:7). Dit staan teenoor die goddeloses wat so lojaal teenoor die antichris is dat hulle denke en werke geheel en al aan die Bose gewy is. Die goddelose se lewenswyse en optrede, wat deur mense gesien kan word, is die merkteken van die dier wat hulle denke (voorkop) en werke (op die regterhande) simboliseer.

Die taak van die valse profeet is ook om niemand toe te laat om te koop of te verkoop nie, behalwe dié mense wat die merk van die dier het, wat soos die antichris dink en daarvolgens optree (Openb 13:16-17).

Die arbeidsgildes (soos vandag se vakbonde) het ekonomiese druk op die gelowiges toegepas om hulle geloof prys te gee, bv. in Smirna en Filadelfia (Openb 2:9 met verdrukking en armoede; en 3:8 min krag) en selfs in Pergamum (waar die troon van die Satan is, Openb 2:13) en Tiatire (met die profetes Isebel wat hulle die geheimenisse van die Satan leer, Openb 2:20,24). As jy nie by die gilde van bouers of skrynwerkers, ens. aansluit nie, kry jy nie werk nie.

Die figuurlike verklaring van die merkteken sluit veel meer in as ’n micro-chip of RFID transponder met jou ID-nommer wat onder jou vel ingeplant word met ’n verbinding aan ’n databasis met jou mediese geskiedenis, die medisyne wat jy gebruik, jou allergieë, en jou kontak-inligting. Dit kan seker deur iemand misbruik word, maar is bedoel om jou te help in noodsituasies. Die merkteken van die dier in Openbaring verwys na ’n hele denkwyse en lewenswyse wat nie met Christus rekening hou nie, of juis teen Christus gerig is; na ’n lewe en woorde wat teen Christus is en teen sy Vader se riglyne vir die lewe.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Seën, voorspoed en vreugde vir Jerusalem en Israel (61:1-4) – Francois Malan

‘n Persoon, waarskynlik die digter-profeet, is aan die woord in verse 1-7 en 10-11. In verse 8-9 praat die Here. Die volgorde van: mens – God – mens, wys hoe nou die Here se besluit en die menslike roeping aan mekaar verbind is. Die spreker moet die bedoeling van die Here bekendmaak en gaan uitvoer.

61:1 Die spreker is deur ‘my Here, die HERE (Die Ek is Teenwoordige),’ gemagtig en  besiel om die Here se geloofsgemeenskap te transformeer. Twee figure is gebruik vir die magtiging:

1 Die HERE se Gees, sy bemagtigingskrag wat die radikale vernuwing kan bewerk, die Gees wat in die vormlose en leë skepping orde en die lewe gegee het by die skepping (Gen 1:2), van wie Jesus beloof het dat die Gees strome van lewende water uit die binneste van dié wat in Hom glo sal laat  uitvloei (Jn 7:38-39). Dieselfde Gees het nou op hierdie agent van die Here gekom (soos in 42:1; vgl. Jn 20:22).

2 Die HERE se salwing – stel die spreker in die openbaar bekend as die HERE se gesant, of dit is slegs ‘n metafoor  vir sy bemagtiging, soos in Lk 4:18-19 waar Jesus hierdie gedeelte op Homself van toepasing maak. Die lesers en hoorders van hierdie bemagtiging sou onthou van Dawid se bemagtiging met dieselfde twee figure, in 1 Sam 16:13: Samuel het die horing met die olie gevat en hom voor sy broers gesalf. Die Gees van die HERE het van daardie dag af kragtig in Dawid gewerk (vgl. Dawid se laaste woorde in 2 Sam 23:1-2).

61:1b Die spreker word bemagtig om te bring, te verbind, te verkondig, te bevry, aan te kondig, te troos, te voorsien en te gee. Al hierdie optredes is om diens te lewer aan die swakkes wat geen krag of gesag het nie en uitgeskuif is, om te herstel sodat hulle ten volle sal kan funksioneer in ‘n gemeenskap van welsyn en vreugde.

Om die goeie nuus (evangelie) te bring waarna reeds in 40:9; 41:27 en 52:7 verwys is.  Dit behels die reorganisering van die samelewing volgens die wil van die Here. Dit is evangelisasie met ‘n konkrete sosiale uitwerking. Die gesalfde van die Here moet die Joodse leefwêreld met die evangelie, die goeie nuus, transformeer. Dit bring goeie nuus vir die armes (die mense wat voor God weet hulle is arm, nederig, sagmoedig; 1983: mense in nood), dit verbind gebroke harte (1983: die moedeloses), gee vryheid vir gevangenes (ballinge en slawe), ontslag vir prisoniers (oopmaak van tronke – Griekse vertaling: oopmaak van blinde oë, soos in Lk 4:18), troos vir dié wat treur.

61:2 Dit kulmineer in ‘die jaar van die Here se guns en die dag van ons God se wraak’ (1983-vertaling: die tyd vir die Here se genade en die dag om sy vyande te straf). Die genadejaar verwys na Levitikus 25 se sabbatsjaar wanneer alle mense en goed wat in ekonomiese transaksies verloor is, teruggegee word, grond wat teruggekoop word (Lev 25:13,23,24) en mede-Israeliete wat bywoners geword het gaan vry terug na hulle grond (Lev 25:41). Die menswaardigheid en die orde in die hele gemeenskap word  herstel om te funksioneer volgens die wil en aanwysings van die Here. So het Nehemia opgetree (Neh 5) om ‘n stabiele gemeenskap te skep.

Met Jesus se toepassing van hierdie verse op Homself in Luk 4:18-19 het die mense van Nasaret eers daarmee ingestem en hulle verwonder, maar toe Hy dit ook op die heidene van toepassing gemaak het,  het hulle Hom probeer doodmaak (Luk 4:28-29). Dieselfde gesindheid teenoor buitestaanders word ook deur die meeste Jode in Esra en Nehemia se tyd geopenbaar.

61:3-4 Drie maal word teenoorgesteldes gestel met ‘in plaas van’ soos in 3:24 en 60:17. Dit verwys na die gemeenskap se radikale transformasie van hulle gesindhede en toestand, as gevolg van die verkondiging van die goeie nuus en die uitvoering van ‘n genadejaar. Hulle word genoem dié wat in Sion treur (oor die korrupsie, onreg, selfverryking en onderdrukking) aan wie die volgende toegeken en gegee word:

eer as versiering vir jou kop (soos ‘n bruidssluier of  ‘n blommekrans) in plaas van in oneer met stof/as op jou

voete, om vasgevang te sit in dinge wat niks werd is nie (1983: ‘as’ as teken van smart). In Hebreeus is daar ‘n woordspel: pe’eer i.p.v. ’eefêr – blomme in plaas van stof/as.

Olie van vreugde in plaas van ‘n begrafnisseremonie

‘n mantel van lofprysing in plaas van ‘n ontmoedigde/neerslagtige gees

Op Christus toegepas, verwys dit na sy kruisdood en begrafnis wat vervang word met sy opstanding en hemelvaart (vgl. Joh 16:20: julle hartseer sal in blydskap verander)

Sodat hulle genoem sal word groot magtige bome van geregtigheid, deur die Here geplant sodat Hy (deur hulle eerlike en regte optrede en lewe) verheerlik kan word.

en hulle sal die eeu-oue ruïnes opbou, verwoeste plekke uit die vorige tye weer oprig

en hulle sal die bouvallige stede vernuwe, die verwoeste plekke deur baie geslagte.

Hulle is die samelewing wat deur die Jubeljaar herstel is in hulle waardigheid as mense wat vol vreugde voor die Here lewe in reg, geregtigheid en barmhartigheid, en nou weer krag en visie en energie het, soos groot sterk bome (vgl. Ps 1:2-3), om die tempel en die mure van Jerusalem en die stede van Juda op te bou – dit staan  teenoor Israel voor die ballingskap wat soos bome was, waarvan die blare verdroog is 1:30 (vgl. Haggai 2:4-5).

Skrywer:  Prof Francois Malan