Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Godsdiens(7) – JP Louw

Naas die verskillende heilige plekke het die taber­nakel ontwikkel as die besondere plek van God se openbaring aan die volk. Gedurende die uittog uit Egipte was hierdie tabernakel eintlik ‘n tent-tempel wat saam met die volk getrek het en oral opgeslaan is vir godsdiensverrigtinge. Die Tabernakel word dan ook “die tent van ontmoeting”, of in die Ou Vertaling “die tent van samekoms”, (Eksodus 27:21) genoem, of ook “die tent van getuienis” (Eksodus 38:21, Handelinge 7:44), of ook “ver­bondstent” (Hebreers 8:5).

Die sentrale heiligdom van die tabernakel was ‘n konstruksie van planke en pale wat met balke verbind was en met swaar silwervoetstukke regop gehou is om sodoende ‘n groot vierkantige kon­struksie te vorm wat ongeveer 15 meter lank en 7 meter breed was. Aan die een smal kant, wat oos moet wys, was die ingang wat met gordyne afge­sluit was. Die dak is gemaak van gordyne met borduurwerk en oorgetrek met sak en vel. In Eksodus 26:1- 27:21 word ‘n volledige beskrywing met allerhande detail gegee oor die bou en toerus van die tabernakel. Binne in hierdie konstruksie is die langwerpige vorm verdeel deur ‘n vierkant van gelyke lengte af te merk en met ‘n gordyn af te sluit om so die Heilige der Heilige plek, ook genoem die Allerheiligste plek, van die Tabernakel te wees waar die ark van die verbond (Eksodus 25:10-22) gestaan het. Die oorgeblewe gedeelte vorm dan die Heilige plek waar die reukaltaar (Eksodus 30:1-10), die goue lamp of kandelaar (Eksodus 25:31-40) en die tafel met die toonbrode was (Eksodus 25:23-30).

Buite voor die behangde konstruksie was die waskom van brons gemaak waar die hande en voete van die priester gewas is (Eksodus 30:17-21) asook ‘n altaar vir die offerandes (Eksodus 27:1-8). Die hele groep is as’t ware omheim met ‘n muur van gespande doek om so die hele kompleks of to sluit. Hierdie deel was 50 meter lank en 25 meter breed.

Die hele area was as gewyde plek eerbiedig met besondere eer aan die tabernakel self.

Toe die Israeliete hul in Kanaän gevestig het, is die tabernakel in Silo opgeslaan (Josua 18:1). Daar het dit ‘n min of meer permanente staanplek gekry en is dit ook mettertyd die huis van die Here (1 Samuel 1:7) of selfs die tempel (1 Samuel 1:9) genoem. Uit 1 Samuel 3:2-3, 15 blyk dat Samuel en Eli albei hulle slaapplekke in die tabernakel gehad het. Miskien was die hele kompleks teen die tyd al meer uitgebrei.

Toe die Israeliete en die Filistyne op ‘n keer in oorlog was, is die ark van die Here, die verbondsark, uit die tabernakel in Silo na die gevegsterrein geneem. Die Filistyne het die Israeliete verslaan en die ark weggeneem, maar dit later teruggestuur (1 Samuel 4:6). Dit is toe in Kirjat Jearim gehou (1 Samuel 7:2 wat in 2 Samuel 6:2 Baäla genoem word, ‘n ander naam vir Kirjat-Baäl of Kirjat- Jearim) totdat Dawid dit na Jerusalem gebring het en in ‘n tent geplaas het wat by daarvoor opgeslaan het. (2 Samuel 6:17). Toe Salomo die permanente tempel gebou het, is die ark weer in die Allerheiligste deel van die tempel geplaas (1 Konings 8:1-9). Die ark is, nadat dit deur die Filistyne afgeneem is, nie weer in die tabernakel to Silo geplaas nie omdat Silo kort daarna verwoes is. Miskien is die tabernakel ook saam verwoes. Later in Nob (1 Samuel 21:1-9) vind ons weer ‘n tempel of tabernakel. Die tent waarin Dawid die ark in Jerusalem geplaas het, kan ook tot ‘n tabernakel ontwikkel het as ons 1 Konings 8:4 so wil verstaan.

Skrywer:  Prof JP Louw




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Godsdiens(5) – JP Louw

Die Joodse godsdiens

Naas die ander godsdienste het die Joodse godsdiens met sy eie heilige Wet ontwikkel, sy eie heilige plekke – veral tabernakel en die tempel in Jerusalem – heilige voorwerpe soos die verbondsark en offerapparate, en sy eie heilige rites. Die Wet, deur die Jode Torah genoem, is reeds in die hoofstuk oor Opvoeding bespreek. Vir die Jode was dit die kern van hulle geloof wat hulle handelinge teenoor God en mense bepaal het. Oor die wette het die Jode hulle eie interpretasies ontwikkel en die het vir hulle so belangrik geword dat hulle met Jesus gebots het oor sy verstaan van die Sabbat en goeie werke. In Matteus 19:8 sê Jesus dat hulle egskeidingswette gegee is vanweë die hardheid van hulle harte en nie omdat die wet uiteraard reg is nie. In die Bergpredikasie sê Jesus ook meermale “daar is gesê” wat verwys na Joodse interpretasies, en voeg dan by “maar Ek se vir julle”. Omdat die Wet vir die Joodse godsdiens sentraal was, het die Joodse leiers Jesus met groot agterdog en afkeer beskou.

 

Heilige plekke

In die vroeë tyd van die geskiedenis van Israel, die tyd van die aartsvaders, is plekke waar mense met God ontmoet het as ‘n heilige plek gemerk deur ‘n altaar daar te bou. So het Abraham, toe hy Haran verlaat het om na Kanaän te trek, by Sigem ‘n altaar gebou omdat die Here daar aan hom verskyn het (Genesis 12:7). Ook in Bet-El het by ‘n altaar gebou (Genesis 12:8) waar by met die Here gepraat het. Ook in Genesis 13:18 het Abraham ‘n altaar gebou. In Rigters 6:24 bou Gideon so ‘n altaar, en in Genesis 35:1 gee God aan Jakob opdrag om ook in Bet-El ‘n altaar te bou omdat God daar aan hom verskyn het. Hier het by vantevore (Genesis 28:18) ‘n klip regop gesit oor die plek te merk. Sien ook 1 Samuel 7:12. In Josua 4:3-7 lees ons van 12 klippe wat opgerig is om die deurtog deur die Jordaan te merk toe die ark droogvoets deurgedra is. In vers 9 word gemeld van nog 12 klippe wat in die rivierbedding opgestapel is. Die klippe moes redelik groot gewees het sodat hulle nie maklik sou wegspoel nie, want die skrywer van Josua 4:9 sê dat dit nog daar was toe hy geskryf het.

 

Baie plekke het vir persone of families gewyde waarde gehad. So word volgens Genesis 23:19-20 Sara se graf genoem op ‘n stuk grond met ‘n grot wat vir die doel aangekoop is. Ook Abraham is hier begrawe (Genesis 25:9-10), en so ook Isak, Rebekka, Ragel en Jakob (Genesis 49:29-32). Dit het ‘n familiebegraafplaas geword wat vir die antieke mens heilige grond was. Om op so ‘n plek begrawe te word was baie belangrik. Die mummie van Josef is deur die Israeliete deur die woestyn heen vervoer tot in Sigem waar dit na die inneem van Kanaän na al die jare begrawe is (Josua 24:32)

Skrywer:  Prof JP Louw




2 Johannes vers 9 en 10 – Francois Malan

‘n Leser vra:
Kan u asb. 2 Joh vers 9,10 aan my verduidelik.

Antwoord
Prof Francois Malan antwoord:
9 ‘Elkeen wat nie bly by die leer van Christus nie, maar ‘vooruitgaan,’ het God nié;…’ Die eienaardige figuurlike gebruik van die woord ‘vooruitgaan’ word waarskynlik deur die dwaalleraars gebruik, met hulle sogenaamde meerdere kennis en progressiewe insig, dat hulle nie langer by die naïewe geloof in Christus as God en mens kan bly nie; hulle beweer blykbaar dat hulle by die naiewe geloof verby ontwikkel het.

Maar die oudste sê dat elkeen wat nie by die ware leer van/oor Christus bly nie, ‘het God nié’ – Christus bly nie in hom nie, en hy verloor ook die Vader. 1 Jn 2:23 sê: ‘elkeen wat die Seun verloën, het ook nie die Vader nie’ – het nie ‘n persoonlike en intieme verhouding met die Vader nie (In Jn 15:23 sê Jesus: wie My haat, haat ook my Vader).

‘Die leer van Christus’ – in Jn 7:16-17 het Jesus gesê: Wat Ek die mense leer, kom nie van Myself af nie, maar van Hom wat My gestuur het. Hierdie leer het die apostels verder gedra – ‘die leer oor Christus’ – wat self die boodskap van God is (Die Griekse voorsetsel kan van of oor aandui) . Vooruitgang wat nie bly by die leer wat Jesus van sy Vader af gebring het nie, gaan by God self verby, en laat die ware God agter.

‘…wie in dié leer bly, hý het die Vader en die Seun.’ Terwyl die dwaalleraar die Seun en die Vader verloor het, bly die ware gelowige by die leer van/oor Jesus as Seun van God wat vir ons mens geword het, en daarom het hy gemeenskap met die Vader en die Seun deur die Gees van God, wat in ons kom woning maak om altyd by ons te bly om ons te lei, te versterk, en te bewaar ( 1 Jn 3:23-24). In Jn 14:23 het Jesus gesê: As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom woon; 1 Jn 1:3 sê: ons gemeenskap is met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus.

10 ‘As iemand na julle (meervoud: as gemeente, die ‘dame en haar kinders’ van vers 1) kom, en nie hierdie leer oordra nie, moet julle hom nie in ‘n huis (waarin julle vergader) ontvang nie, en hom nie groet nie’ – nie ‘n welkomsgroet soos in v3 of ‘n afskeidsgroet nie – wat gewoonlik vreugde en voorpoed of die seën van die Here toewens. Dit word ‘n te groot geleentheid vir die dwaalleraars om die gemeente te probeer oortuig om hulle verkeerde leer te aanvaar, en so die waarheid te verkrag. Dit beteken nie dat nie met liefde na die dwaalleraars uitgereik moet word nie, maar liefde is nie eg sonder die waarheid nie, en die waarheid kan nie om liefdeswil gekompromitteer word nie.

11 Die rede vir Johannes se aanwysing in vers 10 word hier gegee. ‘n Leer wat Christus ontken en mense so van die Vader beroof, is nie slegs ‘n ongelukkige fout nie, maar ‘sy bose werke’ wat mense na die verderf kan lei, waaraan jy meedoen deur die dwaalleraar met ‘n groet aan te spreek. In die Oosterse wêreld is die groet meer as ‘n blote formaliteit; dit bied aan die persoon wat jy groet heil en seën aan, en verplig jou tot gemeenskap. In die gemeente is dit ‘n uitdrukking van verbondenheid tussen mede-gelowiges, kinders van God se gesin. Deur die misleier met ‘n seën te groet het jy deel aan sy bose werke, word jy medeverantwoordelik daarvoor en bied jy aan hom ’n vrybrief vir sy valse leer en optrede. Vir die oudste is dit ‘n baie ernstige noodsituasie. Dit gaan nie hier bloot om ‘n wêreldsgesindheid nie, maar om die uitsluiting van ‘n slinkse aanbieding van super-christelikheid wat die ware Christus verloor (vgl. Mt 10:12-15; 1 Kor 10:21).

Skrywer:  Prof Francois Malan




Moet jy jou baba inseën of doop – Hermie van Zyl

Alexandria vra:

Ek wil graag weet wat die verskil is tussen jou baba inseën en jou baba doop, want wat ek lees in die Bybel is dat kinders reeds aan die Here behoort, en vir my beteken dit wanneer jy self as persoon besluit jy wil weer gebore word deur die bloed van Jesus dat jy jouself moet groot doop?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord.

Ek verstaan die vraagsteller se gedagtegang soos volg: Kinders van gelowige ouers behoort reeds aan die Here, dit is dus nie nodig om sulke kinders deur een of ander kerklike handeling – doop of inseëning – aan die Here te verbind nie. Verder, die doop is blykbaar vir die vraagsteller per definisie iets wat eers kan volg nadat die persoon self tot sy/haar verstand gekom het, en self glo, en dan aanmeld vir die doop. Die doop is dan ‘n teken van die dopeling se persoonlike wedergeboorte en geloof.

Ek hoop dat ek hiermee die vraag reg vertolk. Maar ten minste kan ek op grond van my “rekonstruksie” ‘n paar opmerkings maak oor doop, inseëning, grootdoop en kleindoop waardeur hopelik groter duidelikheid mag kom.

Kerke wat die kinderdoop beoefen, doop nie kinders voor die voet nie, maar wel kinders van gelowige ouers. Dit bevestig die gedagte wat reeds in die Ou Testament (OT) geld, dat God van sy kant ‘n verbond met die vader van die gelowiges, Abraham, en sy nageslag aangegaan het om vir hulle ‘n God te wees en dat hulle vir Hom ‘n volk moet wees. As teken van hierdie verbond is die besnydenis aan babaseuntjies bedien (Gen 17:9-12). In die Nuwe Testament (NT) word die verbond voortgesit, want die God van die OT is ook die God van die NT. Nou word die verbond egter gevestig in Jesus Christus. Die redenasie is dan soos volg: Die God wat in die NT handel, is nie minder genadig en barmhartig as die Een wat in die OT gewerk het nie. Daarom, so redeneer die voorstanders van die kinderdoop, het die doop in die plek van die besnydenis as verbondsteken gekom (vgl Kol 2:11-12). Die doop is deur Christus self ingestel (Matt 28:19-20) en is ‘n ryker teken as die besnydenis, want dit kan ook aan dogtertjies bedien word. Net soos wat ‘n seuntjie op agt dae in die OT besny is, so behoort kinders van gelowige ouers ook so gou moontlik die teken van die verbond – die doop – te ontvang.

So gesien is die doop nie in die eerste plek ‘n teken van die kind se geloof nie, maar – net soos in die OT – ‘n teken van God se genade en trou wat Hy aan die kind beloof. Daarom is die doop ‘n sakrament, ‘n heilige teken en verseëling van God se trou aan sy beloftes. En soos wat die kind grootword en deur sy ouers tot geloofsvertroue in Christus gelei word, moet die kind ook deur persoonlike bekering en geloof in Christus sy/haar aandeel aan die verbond gestand doen, naamlik om in gehoorsaamheid ‘n navolger van Christus te wees. Want ‘n verbond het twee kante: God se kant, en die mens se kant. Die doop wys weliswaar primêr heen na wat God doen, maar dit omvat ook reeds en herinner die mens voortdurend aan sy/haar persoonlike geloofsantwoord.

Die punt wat ek probeer maak, is dat die vraagsteller se aanname – dat kinders van gelowige ouers reeds aan God behoort – presies die rede is waarom klein kindertjies gedoop word.

Daar is egter kerke wat die kinderdoop verwerp. Dit is nie hier die plek om volledig op al die argumente in te gaan waarom die kinderdoop nie aanvaar word nie. Genoeg net om te noem dat die vernaamste argument gewoonlik is dat mens nêrens in die NT lees van babas/kinders wat gedoop word nie, maar wel net van volwassenes wat ná hulle tot geloof gekom het, gedoop is. (Behalwe as mens by tekste soos Hand 16:31 en 1 Kor 1:16 by die terme “al sy mense” en “huisgesin” ook klein kindertjies insluit.) Dit is ook nie nou van pas om op die teenargumente in te gaan nie, want dis ‘n onderwerp op sy eie. Genoeg net om te sê dat bg argument die rede is waarom kerke wat die kinderdoop verwerp gewoonlik een of ander vorm van inseëning het. Hiervolgens word klein kindertjies van gelowige ouers nie gedoop nie, maar wel ingeseën by die gemeente, sodat hulle van kleins af in die kerk kan grootword en gelei word tot persoonlike geloof, en dan gedoop word. Vanuit die standpunt van die kerke wat die kleindoop aanvaar, word gewoonlik gesê dat so ‘n grootdoop van mense wat in die kerk grootgeword het, eintlik net ‘n “uitgestelde kinderdoop” is, of dat die inseëningseremonie niks anders is nie as ‘n “droë doop”.

Maar dit nou daar gelaat. Ek wou net die argumente noem waarom sommige kerke klein kindertjies doop en ander hulle net inseën.

Net ‘n laaste opmerking: die vraagsteller praat van ‘n “besluit om weer gebore te word”. Ek verstaan wat daarmee bedoel word, maar tegnies is dit nie heeltemal korrek nie. Net so min as wat ‘n mens kan kies om gebore te word, net so min kan jy besluit om “weer gebore” te word. Laat ek verduidelik: Daar is ‘n hele paar terme in die Bybel wat die heilsweg beskryf. Almal belig dieselfde gebeure, net van verskillende kante af. Sommige van hierdie terme lê meer klem op wat die mens doen, soos bekering en geloof. Ander beklemtoon meer wat God doen, soos regverdigmaking, verlossing en – wedergeboorte! Wedergeboorte druk veral die gedagte uit dat God ons deur sy Gees nuut maak, ons as ‘t ware van vooraf mens maak, ons opnuut gebore laat word sodat ons kan begin dink en leef soos God wil hê. So gesien is wedergeboorte nie iets wat óns kan doen nie; dis iets wat God bewerkstellig deur die werking van sy Gees om ons sy kinders te maak (Joh 3:3-8). Eintlik is daar niks wat ons uit onsself kan doen om gered te word nie, dis volledig God se werk. Tog sluit God ons as mense in by sy reddingswerk, en buig Hy ons wil om sodat ons in Hom kan glo en tot bekering kan kom. Maar selfs wanneer óns glo en óns tot bekering kom, is alles eintlik sy nuutmakende of wederbarende werk in ons waardeur ons sy kinders gemaak word.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl