Die grootste sonde – Francois Malan

‘n Leser vra:
Watter sonde is die ergste volgens die Bybel?

Antwoord
Prof Francois Malan antwoord
In Matteus 12:31-32 sê Jesus: Elke sonde en lastering sal die mense vergewe word, maar die lastering teen die Gees sal nie vergewe word nie. En wie iets teen die Seun van die Mens sê, dit sal hom vergewe word. Maar wie iets teen die Heilige Gees sê, dit sal hom nie vergewe word nie, nóg in hierdie bedeling nóg in die een wat kom.

Die werk van die Heilige Gees is om die wêreld te oortuig van sonde, en van geregtigheid, en van oordeel (Johannes 16:8).

Sonde is wat ons teen die wil van God doen en aan mekaar doen.

Geregtigheid is wat reg is voor God en teenoor mense. Die geregtigheid voor God, dat ons verhoudig met God reggemaak is, het Jesus vir ons aan die kruis verkry toe Hy, wat self God is, die sonde van die hele wêreld op Hom geneem het.

Efesiërs 1:7 sê: In Jesus Christus, God se Geliefde Seun, het ons die bevryding van ons sondes deur sy bloed, die vergewing van ons oortredinge uit die rykdom van sy genade – dit is gratis vir elkeen wat in Hom glo, dat Hy al my sonde se skuld en straf en smet op Hom geneem het.

Efesiërs 2:8-10: ‘Want uit genade is julle verlos, deur geloof, en dit kom nie uit julle self nie; dit is ’n gawe van God. Dit kom nie uit eie werke nie, sodat niemand kan roem nie. Van Hom is ons immers ’n maaksel, geskep in Christus Jesus om goeie werke te doen en daarvolgens te leef, soos God dit voorberei het.’

Jesus het gesê: Die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle in alles onderrig en julle aan alles herinner wat Ek vir julle gesê het (Johannes 14:26). Die Gees van die waarheid wat van die Vader kom, sal oor My getuig (Johannes 15:26). Die Heilige Gees sal My verheerlik omdat Hy dit wat Hy van My sal ontvang, aan julle bekend sal maak (Jn 16:14).

Die grootste sonde is volgens die Bybel om jou rug te draai op God, wat in sy groot genade, deur sy Seun Jesus Christus se offer van Homself aan die kruis, al jou sondes vergewe het en jou aan Christus wil verbind deurdat die Heilige Gees in jou werk om in Jesus as jou Verlosser te glo deur jou self aan Hom oor te gee.

Johannes 3:16,18,36: ‘Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe kan hê…’ ‘Wie in Hom glo word nie veroordeel nie, maar wie nie glo nie, staan reeds veroordeel omdat hy/sy nie in die Naam (alles van die Persoon) van die enigste Seun van God geglo het nie…’‘Wie in die Seun glo het reeds die ewige lewe. Maar wie aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie; inteendeel, die toorn van God bly op Hom.’

Skrywer:   Prof Francois Malan




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Ontspanning(2) – JP Louw

Speletjies

Kinders het meestal in die strate of oop plekke soos die markplein gespeel – selde of ooit in huise omdat die huise klein was en vensters ook klein was sodat daar nie baie lig in die kamer of kamers was nie. Tekeninge of modelle van antieke huise met ‘n groot binnetuin wat soms in boeke gesien kan word, is voorbeelde van die heel rykstes of van die regeerders se paleise en is nie verteenwoordigend van die gewone volk nie.

dobbelsteendan

‘n Dobbelsteen uit Dan in noord Israel

Buite het die kinders verskeie speletjies gehad. In die strate het hulle blokke op die grond getrek waarin hulle op een been gespring het volgens ‘n bepaalde patroon-iets soos die moderne hinkspel (“hop scotch”) of klippieskop. Verder was daar pyl en boog skiet, stoei, hardloop, sing en dans (Matteus 11:16-17). Ook is uit opgrawings bekend dat kinders met albasters gespeel het en met balle. Klein kinders het met kleihouers met klippies in gespeel om lawaai te maak. Van die houers wat opgegrawe is, het gaatjies in gehad om die klank meer hoorbaar te maak. Ander was in die vorm van poppe of voëls gemaak. Van hierdie was egter swaar en daarom meen sommige dat hulle eerder in religieuse feeste deur volwassenes gebruik is om musiek te maak.

Die antieke tyd het verskeie bordspele geken. Een so ‘n bord wat in opgrawings gevind is, het bo en onder drie rye van vier blokkies gehad met in die middel twaalf blokkies wat ongetwyfeld een of ander speletjie behels het. So was daar ook ‘n ander gevind met agt en vyftig gaatjies in die vorm van ‘n moderne viool. Elke vyfde gaatjie het ‘n beslag gehad om te toon dat dit meer besonders as die ander is. Sommige borde wat gevind is, lyk nogal na iets soos ‘n skaakbord. Baie speletjies is ook met ‘n dobbelsteen gespeel – of ‘n steen met net twee kante soos ‘n muntstuk of een met vier kante in die vorm van ‘n piramide. Die seskantige dobbelsteen soos vandag was ook in die antieke tyd bekend en ‘n mooi eksemplaar is in Noord-Palestina gevind waar die stad Dan van ouds was.

Al was die dobbelsteen in Israel bekend, is dit nooit vir dobbel gebruik nie. Die hoëpriester het twee voorwerpe, moontlik skywe, gebruik wat in Eksodus 28:30 die urim en die tummim genoem word, en wat deur sommige as stene met twee kante soos ‘n muntstuk beskou word. Hierdie stene het by in ‘n borssak of aan sy borslap gedra en gebruik om die wil van God mee af te lees. Sommige meen dat die stene wit aan die een kant en swart aan die ander kant was en as die hoëpriester hulle dan uit sy sak laat val, het die kleurkombinasie die beslissing gegee. Ander meen dat die urim en tummim deel van die edelstene op die borslap was en dat die wyse van beslissing net geraai kon word.

Dit is moontlik dat as die urim en tummim skywe was, hulle religieuse funksie die Jode daarvan weerhou het om dobbelstene vir sekulêre sake te gebruik. In Handelinge 1:26 (Ou Afrikaanse Vertaling) lees ons dat die lot gewerp is. Baie mense verstaan dit as die gooi van ‘n dobbelsteen. Letterlik staan daar “die lootjies is gegee”. Waarskynlik was dit stukkies hout van verskillende lengtes wat uit ‘n houer gehaal is en die een aan wie die kortste gegee word, is die wenner. Maar ook hier is die gebruik ernstig en was dit nie ‘n speletjie nie. By die nie-Joodse bevolkings, egter, is graag gedobbel en gespeel. Die Romeinse soldaat het by die kruisiging van Jesus gedobbel om te sien wie sy kleed sou kry (Johannes 19:24)-of hierdie loting met ‘n dobbelsteen of met lootstokkies gedoen is, kan nie bepaal word nie.

In die antieke tyd het dogters ook met poppe gespeel. Die lywe van poppe was meestal van klei gemaak. Sommige poppe is gevind met gaatjies in die arms en bene wat miskien kan aandui dat kinders hulle as marionette gebruik het. Speelgoedmeubels van klei en selfs pophuise is in opgrawings gevind. In Egipte is speelgoed soos waentjies gevind wat kinders moontlik met toutjies getrek of net met die hand gestoot het.




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Ontspanning(1) – JP Louw

In die antieke tyd was daar min geleentheid vir vrye tyd en ontspanning. Net die rykes kon daaraan meedoen as hulle genoeg slawe gehad het om al die werk te doen. Die groot menigte van die bevolking moes hard swoeg om ‘n bestaan te maak. Kinders het egter, soos altyd, tyd gehad om te speel. Speelgoed is in opgrawings gevind, maar die was moontlik net die voorreg van rykes.

Romeinsesoldaatspeel

Twee Romeinse soldate speel met ‘n dobbelsteen

Die enigste werklike vrye tyd was tydens groot feeste of geleenthede soos die wedrenne in die arenas wat van tyd tot tyd gehou is om die volk te vermaak en in toom te hou-iets wat die Romeine goed gesnap het. Maar ook hier moet ons nie aan die ganse volk dink nie. Die armes moes maar bly werk. Godsdienstige feeste het egter meer geleentheid vir alle mense gebied om êrens iets anders as die daaglikse werk te doen. Vir die Jode was daar wel ‘n volle dag elke week oop, die Sabbat, waarop geen werk gedoen mag word nie. Die Sabbat was nie ‘n kerkdag soos by die Christendom nie, maar ‘n werklike dag van rus. Dan was daar ook Joodse feesdae wat tye van groot opwinding was, maar dit het nie ontspanning en plesier in die moderne sin beteken nie. By die heidense volke was die spele in die gimnasiums of ontspanning in die teater of arena. Dit was geleenthede om die gees en liggaam te bou en is nie gesien as blote plesier nie. Tog bly die mens deur die eeue maar inherent dieselfde en moet hierdie ideale nie te rooskleurig gesien word nie. In praktyk het almal maar ‘n bietjie afleiding geniet.




Die man en die vrou se rol in die huwelik – Hermie van Zyl

Brenda vra:
Ek weet daar staan die vrou moet onderdanig wees aan die man, maar kan jy dalk vir my sê wat die man as die hoof van die huis se werk is? Iets soos: Hy sal haar liefhê, na haar kyk, haar versorg, hy sal daar wees as sy hom nodig het?

Antwoord:
Prof Hermie van Zyl antwoord:
Brenda, eintlik vat jy die rol van die man as hoof in die huwelik in jou sê-vra opmerking goed en kernagtig saam. Maar kom ek pak die saak bietjie breër aan. In die huwelik gaan dit immers nie net oor die man se rol en verantwoordelikhede nie, maar oor beide man en vrou s’n, anders kan die huwelik nie werk nie.

Die rol van man en vrou in die huwelik kan nie altyd so maklik aan die hand van enkele Bybelverse direk afgelees en vir vandag toegepas word nie. Want, eerstens, gewoonlik haal mense net dié verse, of gedeeltes van verse, aan wat hulle pas. So sal ‘n man maklik sê: Daar staan in die Bybel (Ef 5:22) die vrou moet aan die man onderdanig wees, want hy is die hoof van die vrou. Maar gerieflikheidshalwe word die res van die hoofstuk weggelaat waar verduidelik word hóé die man se hoofskap van sy vrou nou eintlik lyk. Tweedens, die historiese agtergrond waarteen baie uitsprake in die Bybel oor die verhouding tussen man en vrou gemaak word, is in die algemeen dié van die antieke midde-Ooste. En ons weet dat dit ‘n mangesentreerde samelewing was. In die antieke tyd het ons ‘n patriargale samelewing gehad waar daar nie veel beweegruimte vir die vrou was nie. Haar hele lewe het gedraai om die man as die enigste een wat werklik regte, mag en gesag gehad het. Die bietjie regte wat vroue geniet het, het hulle gehad by die grasie van die man. En binne die Joodse gemeenskap was dit verder die opvatting dat die vrou kragtens die sondeval (kyk Gen 3:16) ‘n permanente ondergeskikte posisie ten aansien van die man het. Ons moet dus nie van die Bybelskrywers verwag dat hulle ewe skielik sou ontpop as tipiese 21ste eeuse kampvegters vir vroueregte nie.

Tog het die evangelie van Christus hulle anders na menseverhoudings laat kyk. Daarom dat Paulus in Gal 3:28 sê dat daar in die oë van God geen onderskeid is tussen Jood en Griek, vryman en slaaf, en man en vrou nie; in Christus is hulle één. Dat man en vrou gelyk is in die oë van God, dat die man geen voorrang bo die vrou geniet nie, was in terme van die algemene opvattings van daardie tyd niks minder nie as ‘n rewolusionêre uitspraak.

En dit is vanuit hierdie inklusiewe denke van Paulus dat ons nou meer spesifiek na sy uitsprake in Ef 5:21-33 oor die rol van man en vrou in die huwelik kan kyk. Vir daardie tyd se mangesentreerde samelewing het Paulus nogal radikale uitsprake oor die huwelik gemaak, wat terselfdertyd rigtinggewend is vir ons vandag. Ja, Paulus gebruik in 5:22 die bekende terminologie van sy tyd (vrouens, wees onderdanig aan julle mans), maar dít is nie die eintlike punt wat hy wil maak nie. Die hele trant van sy betoog in Ef 5:21-33 lê ingebed in 5:21: “Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig.” Die vrou én die man kry die opdrag om onderdanig te wees. Dít moes vir die destydse man ‘n nuwe konsep gewees het. En om dit verder in te vryf, sê Paulus vervolgens dat mans hulle vrouens moet liefhê (v25). Pligte, ja, maar liefhê? Nog ‘n nuutjie. En boonop liefhê soos hulle hul eie liggame liefhet en versorg, én soos Christus sy gemeente liefgehad het deur sy lewe vir hulle op te offer. Dit alles moes vir daardie tyd se mans na radikale uitsprake geklink het, omdat die verhouding tussen man en vrou nie juis in terme van liefde verstaan is nie (dis ‘n moderne konsep), maar in terme van respek en eerbied (vrou teenoor man) en pligte (man teenoor vrou). Maar nou bind Paulus man en vrou in liefde aan mekaar, en hierdie liefde word gedefinieer vanuit Christus se allesopofferende liefde vir die kerk en hoe die man normaalweg sy eie liggaam versorg.

Kom ons sê dit in die woorde van Gen 2:18: Man en vrou is metgeselle van mekaar; hulle vul mekaar aan omdat hulle mekaar se gelykes is. Daarom dat in Ef 5:25-30 die man se hoofskap geherdefinieer word: Goed, as jy dan hoof (l w: nie “baas” nie) van jou vrou wil wees, moet jy die volgende doen: wees haar “verlosser” (m a w, bevry haar van sleur, maak vir haar die lewe so aangenaam moontlik); wees lief vir jou vrou soos Christus die gemeente liefhet en sy lewe vir haar opgeoffer het; wy jou aan haar en dra haar belange op die hart; versorg haar soos jy jou eie liggaam versorg. Hoofskap het dus niks te make met baasspelerigheid nie, maar alles met diensbaarheid.

Vir die vrou word daar eintlik nie veel gesê nie, behalwe dat sy aan haar man “onderdanig” moet wees (soos die man aan haar “onderdanig” is – 5:21) en hom moet respekteer. Nou, sou ek wou byvoeg, watter vrou sal nie aan haar man “onderdanig” wil wees as sy so deur haar man op die hande gedra word nie? Maar dit gaan eintlik oor ‘n wedersydse onderdanigheid, maats wees vir mekaar, ondersteunend dáár wees vir mekaar.

Dít is die liefdesorde wat God vir die huwelik daarstel. En binne hierdie orde kan man en vrou die verdeling van rolle, pligte en verantwoordelikhede orden soos dit hulle die beste pas. Hoe man en vrou hulle onderskeie rolle vervul, het baie te make met die tyd en die soort sosiale opset waarbinne hulle leef, hulle persoonlikhede en opleiding, watter geleenthede beskikbaar is, ens.

Punt is: Paulus herinterpreteer die hoofskap van die man radikaal. Nie baasspeel en gewig rondgooi nie, maar dien en versorg.

Verder, ek glo dat hierdie uitsprake in Ef 5 wat primêr op die huwelik gemik is, ook as metafoor kan dien vir die vennootskaplike verhouding tussen man en vrou in die breër samelewing. Uiteraard verskil man en vrou, so is ons immers deur God gemaak. En dit moet ook ten volle eerbiedig word. Daar mag dus bepaalde rolverdelings wees wat pas by die eie aard van die man en die vrou. Maar dat die man in ‘n permanente heersersrol oor die vrou geplaas is, is nié die boodskap van die Bybel nie. Dis nie wat hoofskap beteken nie.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl