Jesaja – God is my redder (12:1-6) – Francois Malan

Hoofstukke 1-12 sluit af met ‘n loflied aan die Here wat met ‘n gebed begin en in ‘n belydenis ontwikkel in die verwagting op ‘daardie dag’ ná die dae van die Here se toorn in hoofstukke 5,9-10.

12:1 Op daardie dag sal jy (enkelvoud, waarskynlik Sion/Jerusalem) sê: ‘Ek wil U bekendmaak/bely (onvoltooide tyd wat steeds, maar tentatief, voortduur – daarby word die werkwoord gevorm met die stam van die word ‘hand,’ soos met jou hand uitsteek in gebed, pleitend en in aanbidding/loof. Nadat die hand van die Here hulle eers weggevoer het (5:1-10:23), swaai Hy sy hand in 10:33 om Jerusalem te red. In 11:11 steek Hy sy hand uit om die ballinge los te koop, en nou steek die aanbidders hulle hande uit na Hom in ’n dankgebed.

U was kwaad vir my – vgl. 10:25 se kort rukkie van die Here se toorn oor Jerusalem, waarna Hy vir Juda nog ‘n kans gegee het, nadat Hy Israel in ballingskap weggevoer het. Maar na 120 jaar waarin Juda netso goddeloos soos Israel geword het, laat Hy hulle ook in ballingskap gaan. En nou die skrome verwagting dat die Here die oorblyfsel sal laat terugkom. Vgl 8:23-9:1 ‘in die verlede’ se toorn en ‘in die toekoms’ se herstel, dit word hier Jerusalem se wag op die Here se nuwe belofte van die terugkeer van die ballinge wat in 11:11-16 beloof is, en hulle loof die Here omdat Hy nie meer vir hulle kwaad is nie (‘U toorn is weggedraai’), maar Hy het uitkoms gegee, letterlik: ‘maar U vertroos my (met U woorde).’ Die lied reageer op die groot openbaringswoord van die Here met die moed om te hoop dat die toorn van God gou sal beëindig word. Dit weerspieël wat Israel se optrede op ‘daardie dag’ van redding sal wees: Ek sal my hande tot U Here ophef!’

12:2 ‘Kyk, God is my redder/helper (my ‘Jeshuah’/my Jesus)!’ – die tentatiewe benadering in vers 1 beweeg na groter vertroue en sekerheid in vers 2. ‘Ek sal vertrou en ek sal nie van vrees bewe nie, want die HERE, (ja) die HERE (die Ek is, ja, die Ek is – die aktief teenwoordige) is my krag en my sterkte, en Hy is (jehi sal wees) vir my tot redder/helper (Jeshuah/Jesus).’ Hierdie vers eggo Moses se lied in Eks 15:2, wat Israel se verlossing uit Egipte besing. Hier word ‘n tweede eksodus verwag. Die God wat kwaad was omdat hulle Hom verwerp het, word nou deur Israel erken as hulle groot vriend, helper, en enigste hoop, wat die geskiedenis in sy hand hou en stuur. Vertroue word teenoor vrees gestel soos die keuse aan koning Agas in 7:4,9; 8:12-14. Israel juig oor sy Verlosser.

12:3 Met Israel se 40-jaar lange trek deur die woestyn, het die Here hulle van water voorsien, by Mara en Elim (Eks 15:25,27), uit die rots by Horeb (Eks 17:6) en by Kades (Num 20:11). ‘n Joodse tradisie beweer dat die Here hulle deur die 40 jaar van water uit ‘n rots voorsien het (vgl 1 Kor 10:4 wat die rots met Christus verbind).

Tydens die Loofhuttefees met die uitgieting van water op die altaar, beloof Jesus die Heilige Gees aan sy volgelinge, met die beeld van strome van lewende water wat uit hulle binneste sal vloei (Joh 7:37-39). In Jesaja 12:3 belowe die Here blydskap aan die oorblyfsel van Israel, deur die gesalfde uit die stomp van Isai se regverdige regering,  met die beeld van water uit die fonteine van redding (Jeshuah/Jesus=die Ek is is redding). Die fonteine van redding verwys na die Here se voorsiening in tydelike en geestelike seëninge (Jes 55:1-5; Ps 36:9-10) waaroor hulle sal sing.

12:4 Op daardie dag sal julle sê: Loof die Here (‘loof’ word ook met dieselfde stam as ‘hand’ geskryf om die opheffing van hande na God uit te druk), roep sy Naam aan (om julle te help), maak sy (herhaalde en effektiewe verlossings) dade onder die volke bekend (Ps 9:2;1 Kron 16:8), want sy Naam (sy wese) is onbereikbaar hoog.

12:5 Prys (sing met begeleiding) die Here, want Hy het hoë/wonderlike/glorieryke dinge gedoen (met die uittog uit Egipte, en nou met die terugkeer van die ballinge, dit word bekendgemaak in die hele wêreld. Jesaja sien die roem van die Here strek verder as Israel na al die nasies toe (2:1-4), ‘n versekering aan Israel en ‘n uitnodiging aan die nasies.

12:6 Die vroue-inwoners van Sion/Jerusalem word genooi om met hulle skril stemme te skreeu en te jubel van vreugde, want die Heilige van Israel is in jou midde (in elkeen van julle), soos aangedui deur die Immanuel-uitsprake in 7:14; 8:8,10; Mt 1:23; Op 21:3. Die heilige teenwoordigheid van die Here in Sion is die rede vir die daaglikse jubelende vreugde van sy inwoners, wat aan die wêreld verkondig moet word en die nasies daarheen laat stroom (2:2).

Hoofstukke 1-12 het die Here se hartseer oordeel Jerusalem aangekondig (vgl. hen haar kuikens) maar die Here se finale woord is nie oordeel nie, maar troos en vreugde in gemeenskap met Hom, die Heilige wat aan Sion toe gewy is.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Voedsel wat God gemaak het – Francois Malan

Jan vra:

In 1 Tim 4: 1- 5 verwys Paulus na die afval van die laaste dae en in vers 3 sê hy: “wat verbied om te trou en gebied dat die mense hulle moet onthou van voedsel wat God geskape het om met danksegging gebruik te word deur die gelowiges wat die waarheid ken”.
Watse voedsel word hier bedoel, asseblief?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die dwaalleer in die Griekssprekende gemeente in Efese waar Timoteus gewerk het en wat Paulus hier bestry, is ‘n skynvroomheid wat die ware geloof in God die Vader, Seun en Heilige Gees se skepping en verlossingswerk omkeer in ‘n verlossing wat jy self moet bewerk deur jou askese en ‘n minagting van die goeie skepping van God is. Daartoe het Joodse wette oor rein en onrein voedsel bygedra sowel as die Griekse opvatting dat die onsterflike gees van die mens verlos moet word uit sy sterflike liggaam waarin hy gevange sit. Die setel van die kwaad word dan gesien in die natuurlike en liggaamlike lewe waaruit jy jouself moet verlos, en nie in die mens se sondige aard wat vir homself lewe en nie vir God, wat hom louter uit sy genade en liefde red nie.

Die voedsel wat hier bedoel word, slaan eerstens op die Joodse onderskeiding van rein en onrein kosse soos in Levitikus 11 en Deutr 14:1-21 uitgespel is, maar raak ook die Griekse probleem van vleis wat aan die afgode geoffer is en in die slaghuis, waar daar ook ‘n altaar van die afgod was, verkoop is of in die feeste van die Grieke voorgesit is, soos Paulus dit in 1 Kor 8 en10 behandel het, vgl. ook Paulus se opmerkings in Romeine 14 oor die wat nog swak is in die geloof, en oor die waardeloosheid van die streng beheersing van die liggaam, in Kolossense 2:20-23.

Agter die dwaalleraars se eis dat jy sekere kosse moet vermy, staan hulle verlossingsleer wat op die verdienste van die mens berus, en wat die verlossing deur God se genade deur geloof in Christus alleen, verwerp. Daarom bestempel Paulus hierdie ‘verlossingsleer’ as ‘leringe van demone/duiwels.’

Daarteenoor het Paulus twee uitgebreide redes om die dwaalleraars se askese te verwerp, wat die dwaalleraars as nodig vir verlossing voorhou: Eerstens: God se skepping waarin Hy alles baie goed gemaak het (Genesis 1:33). Die kwaad lê nie in wat God geskape het nie, maar in wat die mens daarmee doen. So het Jesus in Markus 7:14-23 verduidelik dat alles wat by jou mond ingaan jou nie onrein kan maak nie, maar wat by jou mond uit jou hart uitkom. En het Hy alle kos rein verklaar (Mk 7:19). Vir Petrus sê die Here oor die eet van diere wat die Jode as onrein beskou: Wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie (Handelinge 10:15). Die tweede rede is die gebed voor die ete waarin jy die goedheid van die kos uit die hand van die Here bevestig en jou geloof in God en sy voorsiening dankbaar bely.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Jesaja – Israel verenig deur lyding (11:11-16) – Francois Malan

11:11 Die tweede keer wat die Here sy hand uitsteek volg op die eerste keer toe Hy hulle in ballingskap weggevoer het (5:25; 9:11,16,20; 10:4). Hierdie keer is dit om die oorblyfsel terug te bring ná die ballingskap (soos sy hand hulle uit Egipte uitgelei het, 11:16). ‘Op dié dag’ wanneer die groot herstel gaan plaasvind, deurdat die Here die oorblyfsel van sy volk weer vir Homself verkry het (kanah) as sy eiendom (die selfstandige naamwoord kanah word in 1:3 gebruik  vir die ‘eienaar’ van die os; dieselfde werkwoord ‘verkry’ word gebruik vir die ‘Skepper’ van die hemel en die aarde in Gen 14:19,21). In Eks 15:16 word kanah gebruik in Moses se lied van die volk wat die Here ‘sy eie gemaak het,’ vgl. Ps 74:2; in Neh 5:8 van die terugkoop van ‘n slaaf.

Die plekke vanwaar die Here die oorblyfsel as sy eiendom gaan ‘verkry,’ is Assirië in die noord-ooste, waarheen die tienstamme weggevoer is; in die suide: Egipte, Patros (middel Egipte) en Kus (Etiopië) waarheen party gevlug het voor en tydens die Babiloniese ballingskap (Jer 43:7); in die noorde: Hamat (in huidige Lebanon); in die ooste: Elam oos van Mesopotamië; Sinar in die Eufraat-delta; en in die weste: die eilande van die Middellandse see – almal wat oorgebly het en wag op die Here, kruis en dwars uit die suide, noorde, weste en ooste.

11:12  In 5:6 het die Here vir die leërs van Assirië en die volke wat hulle onderwerp het ‘n vaandel as versamelpunt opgerig. Nou gaan Hy ‘n vaandel oprig vir Israel en Juda wat in die ballingskap oor dieselfde gebied verstrooi is om te versamel uit die vier uithoeke van die aarde.

11:13 Die herstel van die volk van die Here sluit ook die hereniging van die twee verdeelde ryke in, wat geskeur het tussen Salomo se onderdrukkende seun Rehabeam  met Juda en ‘n halwe Benjaminstam,  en die tien noordelike stamme onder Jerobeam, die gesiene toesighouer oor Salomo se dwangarbeiders uit die Josefstam vir die bou van die terras in Jerusalem, wat na Egipte gevlug het vir Salomo se wraak, omdat die Here vir hom, vir  Jerobeam, gekies het om oor die tien stamme te regeer (1 Kon 11:26-40). Die naywer tussen die twee groepe het dikwels tot burgeroorloë gelei (bv. Jes 7:1; 9:20). Die Vredevors wat die leeu en die lam langs mekaar kan laat lê, sal ook die vyandskap tussen die twee groepe van God se volk tot eenheid lei. Die gevegte tussen gelowiges kan van die brutaalste word. Die Wonderlike Raadsman wat deur die Gees van God gelei word sal hulle egter herenig in sy Koninkryk, soos die swaarkry van die ballingskap die oorblyfsel uit die twaalf stamme bymekaar gebring het. Deur die ballingskap se lyding het die Here hulle weer een Israel gemaak.

11:14  Die interne eenheid maak gesamentlike optrede moontlik. Vyande uit die ooste en die weste sal hulle nie meer kan verslind nie (9:11). Die ballinge wat teruggekom het sal ou vyande kan onderwerp – die Filistyne in die weste onder wie hulle gely het in die dae van Simson (Rigt 13) en die Midianiete in die ooste in die dae van Gideon (Rigt 6) en die familie-volke Edom (Esau se nageslag, Gen 36:42), Moabiete en Ammoniete (nageslag van Lot, Gen 19:37-38 ). Hoewel hulle optrede teen die ou vyande in militêre terme beskryf is en ‘n tyd van  stryd voorsien, sien 11:10 dat die nasies eventueel na die loot uit die stam van Isai sal vra, 2:1-4 dat die nasies na die wil van die Here sal vra en nie meer oorlog sal maak nie, maar van hulle swaarde ploegskare sal maak.

11:15-16 Dit is die Here wat sy volk sal versamel uit die vier windrigtings, soos Hy hulle destyds uit die Egiptiese slawerny uitgelei het. Hy laat die Nyldelta (letterlik: die tong van die Egiptiese see) opdroog,, sy hand swaai (10:32) met die mag van sy Gees/sy magtige wind oor die (Eufraat) rivier (soos destyds by die Rietsee en die Jordaanrivier, Eks 14:21-22; Jos 3:15-17). Die groot Eufraatrivier word ‘n sandbank met sewe stroompies wat jy met skoene aan kan oorspring. Die res van die ballinge wat na Assirië toe weggevoer is deur die hand van die Here wat teen hulle uitgesteek gebly het (5:25; 9:10,16 20; 10:4), word deur die hand van die Here teruggebring met ‘n grootpad wat Hy vir hulle maak uit die lande waarheen Hy hulle verstrooi het.

Die koms van Jesus met die Koninkryk van God bevestig die visioen van Jesaja van die herstel van die mensdom en die aarde en bring die hoop op die hereniging van die gelowiges as getuies van God se liefde, van nasies wat na die Here begin vra te midde van die geweld en korrupsie in die wêreld, en vandag ook vir die  miljoene ballinge wat vlug vir vervolging in hulle eie lande.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Jesaja – Vrede in die nuwe skepping (11:6-10) – Francois Malan

11:6-8 Die digter spring van menseverhoudings na die dierewêreld, met beelde uit Dawid se skaapwagterdae. ‘n Jong seun of dogter as herder van die skape, bokke, en kalwers, lei die kudde soggens veld toe lei en bring hulle saans terug (1 Sam 16:11; 17:33-37). Die onskuld en vertroue van kinderherders, babatjies en klein kindertjies beklemtoon ‘n wêreld sonder gevaar of ongelukke. Hierdie tekening van die nuwe skepping in verse 6-8 is verbind aan verse 1-5 se afwagting op die nuwe verhouding tussen mense en teenoor die Here. Die vyandskap tussen die nageslag van die slang en die nageslag van die vrou in Gen 3:15 is die straf op die mense se verkragting van die Here se orde, en hier as die gevolg van die menslike hebsug en geweld wat die dierewêreld tot slinkse geweld en doodmaak vir kos dryf. In die nuwe bedeling sal die leeus weer gras eet soos aan die begin (Gen 1:30).  Romeine 8:19,21 sê: Met vurige verlange wag die skepping daarop dat die kinders van God openlik bekend gemaak sal word…en die vryheid sal smaak wat die heerlikheid van God se kinders sal kenmerk.  Dit is alles dinge wat vir die wêreld onmoontlik lyk, soos die redding van Jerusalem uit die mag van die omsingelende leërs van die vyand.

11:9 Hier beweeg die digter na nog ‘n wyer kring, na die hele skepping wat die aarde en die see insluit. ‘my heilige berg’ – Sion (beteken ‘vesting’), Jerusalem (beteken ‘fondament van vrede’) – sonder bedrog en geweld, met harmonie en vrede – dit is ‘n embleem vir die hele wêreld (letterlik: hulle – die mense en die diere – sal nie seermaak of vernietig op die hele berg van my heiligheid nie). Die hele skepping sal vol wees van die kennis van die Here – wat deur die Gees gegee word (11:2; vgl. Rom 8:21-23,26: die Gees sug tans saam met ons en die skepping, om ons van die verganklikheid te bevry; vgl. Kol 3:8-11). Die transformasie raak die hele skepping, wat God se heiligdom sal wees, sonder verdelings en skeidsmure, die sigbare openbare lewe en die intiem persoonlike lewe (vgl. Jes 6:3). Dit is God se gawe en sy roeping vir die nuwe loot uit die ou stomp, die nuwe mens wat vir God leef, uit die ou mens wat vir homself leef.

Die gedeelte verseker die voortgang van die Dawidiese konings ná die Assiriese krisis. Dit word vervul deur Hiskia en ‘n eeu later deur Josia. Maar die gedeelte beklemtoon eintlik drie fasette van die Here se ondersteuning en seën:  die Gees van die Here (11:2) wat die wysheid voorsien wat nodig is vir die regering;  die vrees/eerbied vir die Here (11:2,3) wat  reg en geregtigheid moontlik maak (11:4); die kennis van die Here (11:2,9) wat die regering van vrede verseker.  Dit is nie die werk van die koning nie, maar fasette van die Here se teenwoordigheid in Jerusalem. As die koning regeer deur die Gees van die Here, in die vrees van die Here om die kennis van die Here te versprei is die koningskap van Dawid aan die werk. Ongelukkig is die teenoorgestelde ook waar; wanneer regeerders gelei word deur hulle eie ambisie en mag, word God se bedoeling gedwarsboom en wag daar oordeel en onvrede.

11:10 Die tempelberg sal nie die versamelpunt van die nasies en die volke wees soos in 2:1-4 voorsien is nie, maar die wortel van Isai sal die vaandel wees vir die volke en die nasies, die godsvlag en simbool wat almal byeenroep na die vrede en goeie lewe vir alle nasies. Hierdie visioen strek verder as die Jodedom. Dat sy woonplek hoë aansien sal geniet word in Ps 72:10-11 aan die regering van Salomo toegedig, in Haggai 2:7 word dit voorsien vir die huis van die Here wat Serubabel, uit die Dawidsgeslag, na die ballingskap sal bou, en in Openb 21:24 van die nuwe Jerusalem.

Die gedeelte, 11:1-10, gaan in die eerste plek oor die tyd van Agas en Hiskia in die 8e eeu v.C. en die terugkeer van die ballinge in die 6e eeu v.C. onder leiding van Serubbabel, die loot uit die geslag/stomp van Dawid/Isai, in opdrag van die Persiese koning Kores (1 Kron 3:19; Esra 1:2-4; 2:2; Neh 7:6-7; Haggai 1:1; Sag. 3:8; 6:12-13).  Maar  ná die bou van die tempel verdwyn Serubbabel se naam, en die Nuwe Testament verbind die oordeel en verlossingsboodskap aan die koms van Jesus, wat nie net elke persoon raak nie, maar ook die vernuwing van die hele gemeenskap en die hele skepping. Paulus praat daarvan as ‘n nuwe skepping (1983-vertaling: nuwe mens) in Christus deur wie God die wêreld met Homself versoen het (2 Kor 5:17-18). Terwyl die Sinoptiese Evangelies die openbare optrede van Jesus onder die Jode skilder (vgl. Mt 10:5-6 se beperking; maar Mt 28:19 na al die nasies), getuig die Johannes-Evangelie van God se liefde vir die wêreld (Jn 1:4,19; 3:1; 17:2,18)

Skrywer: Prof Francois Malan