Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Gasvryheid(1) – JP Louw

Om mense te ontvang, voedsel en verblyf te gee, was ‘n belangrike sosiale gebruik. Gasvryheid is in sowel die Ou as Nuwe Testamentiese tyd hoog geag. Die nomadiese wyse van leef, waar almal maar swerwers was soos in die vroegste Bybeltye, het sekerlik bygedra tot ‘n wedersydse gevoel vir mekaar. Nomadiese mense is goed bewus van die hardheid van ‘n dorre wêreld waar kos en water skaars is. Dit is merkwaardig dat in die geskiedenis van die mensheid rykdom en oorvloed gasvryheid gedemp het, maar dat wanneer mense min het hulle meer bewus is van ander se nood. In Romeine 12:20 skryf Paulus selfs “as jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as by dors is, gee hom iets om te drink.”

As iemand in die huis of tent van ‘n ander ‘n gas is, aanvaar die eienaar alle verantwoordelikheid (Genesis 19:2-8). Psalm 23:5 vertel dan ook van die hartlikheid waarmee ‘n eregas ontvang is. Hierdie deug is gewortel in God se troue sorg en liefde en het nog altyddeur by Christene ‘n belangrike kenmerk gebly. In die wette van Moses is baie bepalings ingebou om die vreemdeling te beskerm (Eksodus 22:21, Deuteronomium 10:18, 19; 14:29). Job 31:16-17 en Jesaja 58:7 wys hoe be­langrik dit beskou was om voedsel met ander te deel. In Deuteronomium 23:4 word die Ammoniete en Moabiete geban uit die gemeente van die Here omdat hulle kos en water geweier het toe Israel uit Egipte by hulle verby getrek het.

Die Jode het in gedagte gehou dat Abraham (Genesis 18:2-13) vreemdelinge ontvang het wat eintlik engele was. Ook Gideon (Rigters 6:11-23) het nie besef dat die vreemde man wat met hom gepraat het ‘n engel was nie. Daarom sê Hebreërs 13:2 “moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves.” Hierdie gedagtegang het by Christene voortgeleef in die raaksien van ‘n ander, veral as daar nood is, as iemand wat deur die Here op jou pad gebring is om iets aan die saak te doen.

Om ‘n maaltyd aan ander voor te sit was ‘n belangrike saak. Groot besluite en weldade was dikwels deel van ‘n maaltyd. In Sefanja 1:7 sit die Here self ‘n maaltyd voor. So ook in Psalm 23:5. In die gelykenis in Matteus 22:2-14 waarin Jesus praat oor die Koninkryk van God verduidelik Hy dit as ‘n maaltyd wat ‘n koning as bruilofsfees vir sy seun gee. Om by iemand te eet was dus ‘n groot saak, ‘n belangrike manier om eer aan iemand te betoon, en om baie nou met iemand te assosieer, om te se “ek is jou vriend” of “ons is ‘n broederskap”. Die nagmaal wat Christene vier is deels om die dood van die Here te gedenk, maar ook om jou ten volle met Hom te assosieer.

As gasvryheid geweier was, het dit sterk reaksie meegebring. In Matteus 10:14-15 word gesê dat selfs die stof van jou voete as oordeel teen so een afgeskud moet word. In Galasiërs 6:10 en 1 Petrus 4:9 word Christene vermaan om gasvry te wees.

In die verkondiging van die Evangelie het gasvryheid ‘n groot rol gespeel, want die eerste predikers het geen inkomste gehad nie en was geheel afhanklik van gasvryheid. 3 Johannes 5-8 sê dan ook dat dit die plig was van ander gelowiges om die predikers te versorg. Om te verhoed dat gasvry­heid misbruik is, het sekere voorskrifte gegeld. In een van die ou leerboeke van die vroeë kerk, die Didache (Leerstuk) van die Apostels, lees ons in hfst 11 dat as ‘n reisende prediker kom, moet by gasvry behandel word. Hy mag ‘n hele dag bly, en selfs ‘n tweede as dit nodig is; maar nie ‘n derde dag nie. Hy mag ook by vertrek niks anders as brood vir die reis van een enkele dag as padkos ontvang nie. Petrus se verblyf by Simon die leerlooier in Joppe, waarvan Handelinge 9:43 sê dat by geruime tyd gebly het, sou na alle waarskynlikheid ingehou het dat Petrus nie net bloot as gas vertoef het nie, maar ook dalk vir Simon gehelp het. Joppe was aan die see geleë en Petrus kon dalk nog deels vis gevang het.

Van die woorde in die Nuwe Testament wat gewoonlik met “gasvryheid” vertaal word, het ‘’n hele paar die element van ‘n “vreemdeling” as deel van die betekenis, byvoorbeeld om ‘n vreemdeling te ontvang, liefde aan ‘n vreemdeling te bewys, om ‘n vriend vir ‘n vreemdeling te wees, ens. In 1 Timoteus 3:2 en Titus 1:8 word van ‘n leier in die gemeente vereis om gasvry te wees.

Skrywer:  Prof JP Louw

 




Hoe verander ’n mens wat in ’n verhouding met God staan? – Francois Malan

Willie vra:

2 Petrus 1-
1. VERS 3-God het my alles gegee wat ek nodig het om te lewe en om Hom te dien – of Sy Godelike krag het ons alles laat kry om naby aan Hom te lewe
2. VERS 5 – Julle moet alles in julle vermoë doen om te wys dat die beloftes vir julle waar geword het .( Beloftes waarna in vers 4 verwys word .)
3. Vers 5 b – Dan sal julle geloof meebring dat julle leefstyl goed is
4. Dan , 1) Goeie leefstyl ek 2) Leer God beter ken- 3) myself dissiplineer – 4) kan uithou en aanhou-5) lewe naby aan God
5. VERS 9 – mense wie se lewens nie wys dat God se beloftes in hulel waar geword het nie is blind, kortsigtig.
6. Vers 10- Werk nog harder daaraan om met my leefstyl te bewys dat God my geroep/gekies het

Vraag 1- ek wil gaag verstaan wat God my gegee het om naby aan Hom te lewe.
Die verlange om naby aan Hom te wees is daar . Die begeerte om gehoorsaam te wees is daar.Ek doen moeite met my stiltetyd . Ek sukkel kwaai met die volgende ;
Ø Ek is baie oplvlieënd
Ø Ek het n kort humeur
Ø Ek kom as ongeskik oor
Ø Ek sukkel verskriklik as iets verkeerd gaan – bv, as ek n fout by die werk maak – ek moet bysê die genade is maar min en foute veroorsaak ‘n groot lawaai. Soms as iets breek by die huis – ek is ook geneig om myself vir dae aaneen oor die kop te slaan en somtyds is dit of my hele wêreld in duie stort
Ø Die voorbeelde wat ek hierbo noem is deel van hoe ek is , nog al my lewe lank – maar alles , ook my verhouding met God is ‘n integrale deel van my totaliteit- ek kan dus nie die twee in twee afsonderlike kompartemente deel nie
Vraag 2 – Hoekom kry ek dit nie reg om bogenoemde punte , wat my lewe so vergal , onder beheer te kry nie?Hoekom verander ek as mens dan nie? Dit is aspekte wat van my ‘n ongelukkige mens maak . Dan voel dit vir my Fil 4:4 is ook nie heeltemal deel van my lewe nie en dan raak die vrede waarna Fil 4:7 verwys ook vir my n vreemde begrip. Om weer terug te gaan na Petrus se 2e brief , vers 3-10- volgens die kommentaar in die Bybellenium word n mens juis minder oplvlieend. Hoe word vers 5 en vers 10 waar in my lewe?
Sal U my asseblief help om die beter te verstaan want ek smag daarna om n beter , meer intieme verhouding met God te hê , waar ek baie meer gehoorsaam is aan Sy wil . Tans voel dit vir my ek stel Hom net teleur .( vir 60 jaar al )

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die kreet het eintlik ‘n pastorale berader nodig wat geraadpleeg moet word. By die webwerf antwoord ons oor Bybelkennis. Dit probeer ek hieronder oor wat die Bybel oor geduld sê, maar ek sou Willie aanraai om meer gespesialiseerde hulp te kry.

Die verhouding met God is ‘n geloofsverhouding, om Hom te vertrou, dat Hy steeds met my besig is om my te vorm vir sy diens, en op sy tyd. Dit gaan nie oor my gevoelens van intimiteit met Hom nie. Geloof is sekerheid van die dinge wat gehoop word; ‘n bewys van die dinge wat nie gesien of gevoel word nie (Hebr 11:1).

Die Bybel is vol oproepe om te wag op die Here (die 1983-vertaling vertaal gewoonlik die ‘wag’ met ‘vertrou’) vgl. bv. die hele Ps 27, veral vers 14; Ps 37 en veral vers 34; Ps 130 veral verse 5-7).

Geduld is een aspek van die vrug van die werking van die Heilige Gees in ons lewe (vgl. die nege aspekte van die vrug van die Gees in Gal. 5:22-23). Die Griekse woord vir geduld, makrothumia, beskryf ‘n toestand van emosionele kalmte te midde van provokasie/uittarting of ongeluk, om onder omstandighede kalm te bly sonder om te kla of geïrriteerd te word.

Ons word gewoonlik kwaad as ons, of iemand na aan ons, te na gekom word volgens ons oordeel. In Romeine 12:19-20 sê Paulus: Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van die Here. Daar staan immers geskrywe: ‘Dit is my reg om te straf; Ék sal vergeld,’ sê die Here.

Die oorgee aan die Here in sulke omstandighede, is so belangrik. Dat ek nie self my, en ander, se sake wil reël en regstel nie, maar dit aan die Here oorlaat en my daarin berus dat Hy sal sorg, en dat Hy daarmee ‘n plan het, ook vir my lewe. Dit geld vir elke oomblik van die dag. In Jesaja 30:15 sê die Heilige van Israel: Julle krag lê in stil wees en vertroue hê.

Die woord ‘heilig’ het ook die element van toewyding. Die Heilige van Israel beteken dat die Here aan Israel as sy volk toegewy is, ten spyte van hulle swakhede en sonde. So sê Romeine 8:31: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? Romeine 8 sê verder dat ons deur Hom wat ons liefhet, meer as oorwinnaars is in lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard. Want niks kan ons skei van die liefde van God wat daar is in Christus Jesus ons Here nie (8:35-39).

As God ons dan só lief het, in ons kom woon het met sy Heilige Gees van die liefde (8:9-11) waarom sal ons dan kwaad word oor dinge en mense?

Kolossense 3:8 sê: Maar nou moet julle ook van al hierdie dinge ontslae raak: toorn, driftigheid, kwaadwilligheid, lastering en onwelvoeglike taal wat uit julle mond kom.

Kol 3:12-15 sê: omdat julle God se uitverkore heiliges en geliefdes is, beklee julleself met innige meelewing, goedheid, nederigheid, sagmoedigheid en geduld. Verdra mekaar en, as enigeen ‘n klagte teen enigiemand het, vergewe mekaar. Soos die Here julle vergewe het, so moet julle ook vergewe. Bo en behalwe al hierdie dinge moet julle julle beklee met die liefde, wat die band is wat alles volmaak saambind. Verder, laat die vrede van Christus in julle harte regeer…’

Soos ‘n ou stuk klere wat jy uittrek en weggooi, so moet ons bewustelik ons elke dag daarop toe te lê om op te hou om kwaad te word, selfs op pad nie kwaad word vir die ander motoris wat ‘n verkeerde ding doen nie, of vir iemand by die werk of by die huis wat my te na kom nie.

Dit kan ons slegs regkry as ons elke oomblik van die dag ons daarop toelê om vriendelik en goed, nederig, sagmoedig en geduldig te wees teenoor almal.

Oor die nederigheid sê Filippense 2:3-4: Moenie iets uit selfsug of ydelheid doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na dié van ander. En dan gaan Filippense voort om te sê dat ons dieselfde gesindheid onder mekaar moet openbaar as wat in Chirstus Jesus was, wat Homself en sy goddelike gestalte prysgegee het en aan ons mense gelyk geword het en Homself verneder het tot die dood aan die kruis toe – ter wille van ons!

Laat die vrede van Christus (wat Hy vir ons bewerk het deur ons verhouding met God reg te maak toe Hy al ons sonde en sondeskuld op Hom geneem het) in julle harte regeer – die hart as simbool vir die sentrum van ons beslissings. Die vrede met God beteken ook dat ons in vrede met mekaar lewe as kinders van God se groot gesin van gelowiges. En die vrede begin by my wat die ander persoon vergewe en verdra (Kol 3:13.15).

Kom tot stilstand, wees stil, laat die vrede van Christus deur jou vloei na ander, en vertrou op God.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Reise(5) – JP Louw

Interessante Bybelgedeeltes

Die oog van ‘n naald

Matteus 19:24. Baie verklarings is gegee vir die uitdrukking “dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as vir ‘n ryke om in die koninkryk van God te kom”. ‘n Populêre, en miskien die mees bekende, verklaring is dat daar in Jerusalem ‘n baie nou poort was waar ‘n kameel moeilik kon deurkom veral as dit ‘n vrag op het. Hierdie poort is “die oog van ‘n naald” genoem. So is die skerp uitdrukking van Jesus versag. Maar daar was geensins so ‘n poort met so ‘n naam nie. Die oog hier is doodgewoon die oog van ‘n naald. Reeds die ou Griekse kerkvader Klemens van Aleksandrië het gesê dat Jesus se woorde figuurlik verstaan moet word-tog het mense deur die eeue heen aangehou met die “poort-storie”. Die uitdrukking in Matteus 19:24 (net soos die een in Matteus 23:24 “julle skep die muggie uit, maar sluk die kameel in”) is ‘n oordrewe manier van.sê om ‘n saak te beklemtoon. So sê ons ook “ek het my dood geskrik” as ons bedoel “ek het baie geskrik’. Jesus sê dat rykdom reg gebruik moet word, byvoorbeeld om sy koninkryk te bevorder, anders kan rykdom ‘n mens van God weerhou. Die sterk uitdrukking wil die saak net onderstreep. Die gebruik van die woord kameel in sowel Matteus 19 as 23 dien om iets baie groot met iets baie klein te vergelyk: ‘n kameel met ‘n naald se oog. Ons gebruik soms die woord “olifant” of “berg” en vergelyk dit met iets kleins soos ‘n muggie of ‘n miershoop om die kontras te versterk. In die Bybelse tyd was die kameel bloot die grootste dier in die alledaagse lewe.

 

Geen plek in die herberg

Lukas 2:7. Sommige dorpe het wel ‘n herberg gehad waar reisigers kon oornag, maar daar was selde meer as een so ‘n plek. ‘n Herberg het ‘n kamer of kamers gehad, soms ook ‘n eetplek en dan ook ‘n plek vir die diere. Josef en Maria kon geen plek in die gebou kry nie en het waarskynlik oornag saam met die diere, want Maria het haar baba volgens Lukas 2:7 in ‘n krip neergelê. Jesus is dus in die stal gebore. Hoe die plek gelyk het, is onbekend. Dit kon onder die herberg of langsaan gewees het. Hoeveel muur- of dakbeskerming dit gehad het, is ook nie seker nie. Die geboorteplek wat vandag in Betlehem aan toeriste getoon word, lyk na ‘n vlak grot maar dit is baie klein en kon nie diere gehuisves het nie. Behalwe dat dit moontlik ‘n deel van die wand van die stal kon gewees het, kan niks met sekerheid gesê word nie. Selfs die plek in Betlehem waar tans die Kerk van die Geboorte oor gebou is, berus bloot op tradisie. Jesus, die Redder van die wêreld het in die grootste nederigheid mens’ geword, en so geleef en gesterf (Filippense 2:7-8).

Skrywer:  Prof JP Louw

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Reise(4) – JP Louw

Die muil

Muile is nie juis gebruik voor die tyd van Dawid nie. Levitikus 19:19 het kruisings tussen diere verbied. Tog is muile wel aangewend (2 Konings 5:17, 1 Kronieke 12:40, Jesaja 66:20)-miskien geteel deur nie Jode en aangekoop deur Jode. In Dawid se tyd was hulle moontlik nog skaars en dus besonders. 2 Samuel 13:29 meld muile as rydiere van die koningseuns. In 1 Konings 1:33, 44 ry Salomo op die koning se muil. In 2 Kronieke 9:24 word muile saam met perde as geskenke vir die koning gebring.

 

Die perd

Die perde in die Bybel was van die Arabiese tipe. Hulle is veral in oorlog gebruik, nie soseer as rydier self nie, maar meer dikwels om strydwaens te trek. In Deuteronomium 17:15-17 word die volk beveel om die koning nie toe te laat om baie perde aan te hou nie. Hulle moes nie op eie krag begin vertrou het nie. Die ander volke het strydwaens gehad (Josua 11:6, 9, Rigters 4:3). Dawid het egter ‘n klompie perde behou (2 Samuel 8:4). Salomo het die perd op groter skaal ingebring as trekdier. In 2 Kronieke 1:14 en 9:25 word vermeld dat Salomo ‘n mag van perde en strydwaens opgebou het. Teen die vertroue op perde en strydwaens word gewaarsku in Jesaja 31:1 en in Psalm 33:17-18.

‘n Strydwa was ‘n platvorm met twee wiele waarop twee persone kon staan, en van voor beskerm is met ‘n halfsirkelvormige wand, hoog genoeg om die onderhelfte van die lyf toe te maak. Die een persoon het die perde gedryf en die ander het die wapens hanteer. In later tye is byna soortgelyke rytuie vir blote vervoer gebruik met meer gerieflike sitplekke-en selfs groter eenhede as voorloper van die uiteindelike koets. In die Romeinse tyd was wedrenne met perdewaens baie gewild.

Die perd was in Bybelse tye simbool van krag. In Psalm 33:17 lees ons “Dit is nie waar dat die perd die oorwinning gee en dat sy groot krag redding bring nie:” Dan -gaan die digter voort en sê dat dit die Here is wat sorg vir die wat op Hom vertrou. Dieselfde gedagte vind ons ook in Psalm 147:10 waarin ons lees “die Here het niks aan die krag van die perd nie”-‘n uitdrukking wat beteken dat vir die Here die krag van die perd, so hoog geroem deur die mens, nie ‘n faktor is nie.

perd

‘n Hedendaagse Arabier ploeg met ‘n perd.

Ondanks die besondere waarde wat die perd in die antieke wêreld gehad het, moes veral die wadrywer nie te seker van sy saak gewees het nie, want waar die paaie nie baie goed was nie, kon die wa maklik vasval – veral as dit reën, en dan is selfs die perd se groot krag aan bande geld. Moontlik was dit een van die redes waarom Agab volgens 1 Konings 18:44 so angstig was om gou in te span en na Jisreël terug te keer voor dit begin reën het.

Skrywer:  Prof JP Louw