Gebruike en Gewoontes in die Bybel: ’n Besoek aan Moderne Jerusalem (2) – JP Louw

Hiskia se tonnel

Met ‘n flits en gepaste klere kan ‘n mens van die fontein Gihon deur die driekwart kilometer tonnel loop tot by die bad van Siloam. In die tonnel is ook die plek te sien waar die grawers van weerskante bymekaar gekom het. Ook die skag waardeur Joab geklim het om in die stad te kom, is te sien.

herodesgraf

Die familiegraf van Herodes. Die klipwiel is die deur wat die graf toerol.

 

Ander besienswaardige plekke

Aan die westekant van die huidige Jerusalem by die Koning Dawid Hotel is ‘n tuin waar Herodes se familie moontlik begrawe is. In die tonnel kan ‘n mens afklim en die nisse in die gange sien waar die liggame neergelê was. In die noordooste van die stad is onder die bouvalle van ‘n ou kerk die oorblyfsels van die bad van Betesda. Een van sy pilaargange is opgegrawe en mens kan tot by die modderwater afklim. Buite die muur is Salomo se steengroewe waar baie van die Tempel se klip uitgehaal is. Soms word hier nog ‘n skaapmark gehou soos in antieke tye.

Op die Olyfberg staan die Pater Noster (“Ons Vader”) Kerk waar dié gebed in ‘n menigte tale teen die mure aangebring is-ook in Afrikaans. Hier, so word gesê, het Jesus oor die voleinding van die tye met sy dissipels gepraat.

paternoster

Die Pater Noster Kerk op die Olyfberg

 

Betlehem

Tien minute met ‘n bus na Betlehem bring ‘n mens by die Kerk van die Geboorte waar gesê word dat die stal was waarin Jesus gebore is. Hierdie kerk, word gesê, is een van die oudste kerke in die wêreld. Van hier is dit nie ver na die veld van die skaapwagters nie. Daar is twee plekke wat aangewys word: een by die YMCA-gebou waar daar grotte is, en die ander is by ‘n kerk met baie skilderye oor Jesus se geboorte.

‘n Mens kan besef dat deur die eeue baie spekulasies rondom plekke en gebeure ontstaan het en dat verskeie tradisies sonder enige werklike sekerheid ontstaan het. Baie plekke, soos die vorige, en ander soos die oppersaal waar Jesus die nagmaal ingestel het, die Via Dolorosa, die plek van die hemelvaart, ens. het deur die eeue ontwikkel met die aanwysings wat hulle vandag het. Oor sommige is kerke gebou en so het die plek ‘n vaste aanwysing gekry. Al is baie hiervan onseker, en sommige beslis foutief, het dit vir die Christendom deur die eeue groot waarde gekry, of dit nou as reëel beskou is, of by wyse van assosiasie toegedig word. Nogtans adem die plekke ‘n atmosfeer wat die gedagtes inkleur met ‘n lokalisering van eertydse gebeure.

Skrywer: Prof JP Louw




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: ’n Besoek aan Moderne Jerusalem (1) – JP Louw

Jerusalem

Baie mense kry geleentheid om Jerusalem te besoek en staan altyd verruk om die ou Bybelse stad te sien. So baie van die Bybelse gebeure kry dan ‘n lokale raamwerk hoewel ‘n mens moet onthou dat dinge verander en dat gidse soms aan toeriste baie optower wat misleidend is.

jerusalem1

Jerusalem en die Rotskoepel soos gesien vanaf die Olyfberg.

Die tempelterrein

Die Tempel is tans op die suidoostelike deel van die stad waar Herodes die muur verleng het wat oorspronklik deur Salomo gebou is en deur Serubbabel, die Persiese stadhouer in Juda, herstel is na die terugkeer van die Jode uit die ballingskap. Die tempeldak was hoog en van hierdie punt van die Tempel was dit moontlik waar Satan vir Jesus wou laat afspring het (Matteus 4:5). Verder na die noorde is die Goue Poort wat die westelike ingang tot die Tempel was, maar tans toegebou is en volgens die Jode eers oopgemaak sal word as hulle Messias kom. Die westelike muur is nie deur Titus afgebreek nie en dit is tans die sentrum van die Joodse godsdiens waar Jode teen die muur bid en klaag. Die Tempel self is tans ‘n plek van aanbidding van Islam, want dit lê in die Arabiese deel van Jerusalem. Hier is ook die oorblyfsels van Salomo se stalle to sien, die dorsvloer van Arauna (2 Samuel 24:18) en die rots van die berg Moria (2 Kronieke 3:1) waar Salomo die Tempel gebou het. Die rots is tans ‘n Moslem heiligdom met ‘n groot koepeldakgebou daaroor.

 jerusalem3

Die westelike muur wat oorgebly het en tans die sentrum van die Jode se godsdiens is.

 

Die plek van die kruisiging

Die oorblyfsels van die plek waar Jesus gekruisig en begrawe is en opgestaan het, word tradisioneel in Jerusalem gewys aan Christene op ‘n plek waar daar tans ‘n kerk gebou is – die Kerk van die Heilige Graf. By meer van die “historiese” plekke is Kerke gebou soos in Getsémané en die Kerk van die Hanekraai. Of die presiese area histories getrou is, word baie oor geargumenteer. Die heilige plekke is tans met baie ornamentele bykomstighede versier. Sowat drie- tot vierhonderd meter van die Kerk van die Heilige Graf is die Graftuin waar aan toeriste die graf van Jesus gewys word.

jerusalem2

Die Kerk van die Heilige Graf wat volgens tradisie die plek is waar Jesus gekruisig en begrawe is

Die Olyfberg

Met ‘n bus kan mens na die oostekant van die Olyfberg ry na Betanië toe, en dan terugloop oor die rif van die berg na Jerusalem toe. Die Olyfberg is maar ‘n plat heuwel en is maklik begaan­baar. In Betanië is daar ook ‘n kerk gebou oor ‘n plek waarvan gesê word dat Marta, Maria en Lasarus daar gewoon het. Lasarus se graf word net buite die dorp aan toeriste getoon. Al is die

plekke wat aangewys word nie histories seker nie, plaas dit ‘n mens tog in ‘n omgewing van soortgelyke aard. Bo op die heuwel is Betfage en ook hier is ‘n kerk wat Jesus se intog in Jerusalem simboliseer. Van hier soos ‘n mens afdaal, bied die terrein ‘n pragtige uitsig op Jerusalem. ‘n Entjie af is nog ‘n baie klein, maar beroemde kerkie, met die naam Dominus Flevit (“Jesus het geween”), gebou in die vorm van ‘n traan om te herinner dat Jesus oor Jerusalem geween het. Aan die anderkant van die heuwel is die Kedronvallei en Getsémané. Weer is daar ‘n kerk met ‘n rots in waarvan gesê word dat Jesus daar gebid het. Die kerk heet die Kerk van Alle Volke. Buite die kerk is ‘n tuin wat deur Franciskaanse monnike in stand gehou word met baie ou olyfbome, moontlik deel van antieke Getsémané.

jerusalem4

Die Olyfberg soos gesien vanaf die stadsmuur.

 

Plekke wat met Jesus se veroordeling verband hou

Op die berg Sion, waar Jerusalem geleë is, staan ‘n mooi kerk waarvan gesê word dat dit oor Kajafas se paleis gebou is. Langs die kerk is ‘n antieke trappegang wat na Kajafas se paleis sou gelei het. Die kerk word genoem Petrus Gallicantus (“Petrus van die Hanekraai”). Hier word ook aan toeriste die binneplein aangewys waar Petrus horn verwarm het by die vuur.

By die Burg Antonia is ‘n klooster wat Ecce Homo, (“Sien die Mens”) genoem word om aan te dui dat Jesus daar deur Pilatus oorgelewer is. Hier begin ook die smal straat wat as die Via Dolorosa bekend staan, die Weg van Smarte. Verder word hier ook gewys waar die soldate met Jesus gespot het en die doringkroon op sy hoof geplaas het met die kleed en septer. Van hier kan ‘n mens na Herodes se paleis loop. In later eeue was dit ‘n Turkse fort en tans ‘n museum. Die huidige gebou is oor die plek gebou van die oorspronklike paleis en een van die torings se fondamente word nog aangewys.

Skrywer: Prof JP Louw




Sagaria 12 – Herrie van Rooy

Jan vra:

In Sagara 12 verse 12 tot 14 staan daar:
En die land sal rouklaag by geslagte, elke geslag afsonderlik:

. Die geslag van Dawid afsonderlik, en hulle vroue afsonderlik
. Die geslag van Natan afsonderlik =do=
. Die geslag van Levi afsonderlik =do=
. Die geslag van Simei afsonderlik =do=
. Al die ander geslagte afsonderlik =do=

Wat bedoel hierdie snaakse skrifte, asseblief?

 

Antwoord

Prof Herrie van Rooy antwoord:

Hierdie lys van die mense wat sal rou is deel van Sagaria 12:10-14. Hierdie paragraaf verwys na gebeure wat nog in die toekoms sal plaasvind. Die teks verwys na iemand wat doodgesteek is. Omdat dit nog vir die profeet in die toekoms lê, is dit nie duidelik wie die persoon is wat doodgesteek gaan word nie. Wat duidelik is, is dat die mense oor hierdie persoon gaan rou. Die rou word vergelyk met die rou oor Haddad-Rimmon, klaarblyklik ‘n Kanaänitiese afgod. Blykbaar is daar oor hom jaarliks ‘n rouseremonie uitgevoer by die vlakte van Megiddo. Ons weet nie meer hiervan nie.

Daar sal egter grootliks gerou word oor die een wat doodgesteek is (vers 10). Daar word nou vier groepe genoem wat aan die rou sal deelneem. Twee van hierdie families is uit die konings en twee uit die prietsers. Dawid verwys natuurlik na koning Dawid. Natan was een van Dawid se seuns (1 Kronieke 14:4). Jesus is self uit die nageslag van Natan gebore. Dit wil lyk of die koninklike lyn teen die tyd van Sagaria oorgegaan het op Natan se nageslag, en nie meer Salomo se nageslag nie. Kyk by Lukas 3:23-31). Levi was die seun van Jakob uit wie die priesters gekom het. Simei was Levi se kleinseun (Exodus 6:16-1; Numeri 3:17-18). Dit gaan dus daaroor dat die hele koninklike en priesterlike geslag sal rou oor die een wat doodgesteek gaan word. Daarbenewens sal al die ander mense ook rou (vers 14). Die oorspronklike teks verwys elke keer na die betrokke familie en dan die vrouens in daardie familie. Hierdie formulering wil basies stel dat die mans en die vrouens sal rou, waarskynlik in aparte groepe.Dit lyk die waarskynlikste, alhoewel daar ook mense is wat dink dit gaan oor die koninklike (Dawid), profetiese (Natan, profeet in Dawid se tyd), priesterlike groepe (Levi) en raadgewers (Simei).

Skrywer:  Prof Herrie van Rooy




Leiding deur die Heilige Gees – Francois Malan

Willie vra:

Ek verwys na Kol 1:9-14
Leiding deur Die Heilige Gees- hoe werk dit presies? Sien asb my vrae hieronder
Ek hoor die evangelie en glo dit . Is ek reg as ek sê die pad van Heilgmaking begin dan? Ek gaan dan deur die lewe en is veronderstel om op die pad te loop , gehoorsaam aan God.
Dit gebeur egter nie altyd nie , of selfs die meeste van die tyd nie omdat ek n sondige natuur het.
Paulus bid hier vir die gemeente in Kolosse en vra vir geestelike insig en wysheid sodat hulle heeltemal seker is van wat God wil hê.
Dan, vers 11-Deur die krag van Sy Godelike heerlikheid sal Hy ons toerus met krag om geduldig te volhard- ek neem aan dit is wanneer n mens byvoorbeeld deur n moeilike tyd gaan en net aanhou vashou aan God , met Hom praat sonder ophou ?
Vraag 1 – Hoe lei die Heilige Gees my in die alledaaglikse lewe. By die werk , by die huis ens. Kom ek gee ‘n voorbeeld . Ek het n trekker wat gebreek het . Ek het die trekker nodig om groente in die grond in te kry . Ek het nie kontant om dit te laat regmaak nie . Nou dink ek sal geld moet leen om dit te kan doen. Nou bid ek daaroor en ek vra God of die regte ding is om te doen . Hoe gaan ek weet wat Sy wil in die saak is . Is dit reg om God ook in sulke dinge te ken ? Ons leer ook dat ons geduldig moet wag op Sy andwoord – weereens hoe gaan ek weet nou het God geandwoord en dit is die regte pad om te loop?
Vraag 2- Dan net in elke dag se lewe vandat ek opstaan tot ek gaan slaap – Moet ek leer om deur die Heilge Gees begelei te word of is dit soos by my redding , waar ek die Heilge Gees ontvang het?? – ek het niks gedoen om dit reg te kry nie , God het dit gedoen . As ek dit moet leer hoe doen ek dit en as dit is hoe dit werk beteken dit dan nie dat die Heilge Gees niks kan uitrig tensy ek geleer het hoe nie?? ( maak nie sin vir my nie )
Vraag 3 – Wat is Geestelike wysheid en insig?
Vraag 4 – Wat presies is die krag waarna verwys word ?
Vraag 5 – Het God n unieke plan vir my , Willie Esterhuizen, se lewe en hoe sal ek weet wat die pad is ?
Weet U, ek glo met my hele hart en verstand Jesus Christus het die ewige lewe vir my verdien , ek glo dat God die Heilge Gees vir my gegee het anders sou ek nie geglo het wat in die Bybel staan nie .
Ek sukkel egter om bg vrae te verstaan

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Leiding deur Die Heilige Gees- hoe werk dit presies?

Die Heilige Gees is God wat in my kom woon (Kol 1:11 se ‘mag van sy heerlikheid’) om my te oortuig dat ek ‘n sondaar is en dat Jesus my verhouding met God kom regmaak het deur al my sonde op Hom te neem en die straf daarvoor reeds aan die kruis gedra het, en dat ek nou deur God aangeneem is as sy kind wat aan sy Seun se dood en opstanding verbind is (vgl. Joh 16:8; Rom 8:14-17). Die Gees oortuig my, maar dit is ek wat besluit om in Jesus te glo dat Hy God is wat mens geword het om die sonde van die wêreld weg te neem (Jn 1:1-3,14,29) en ek wat besluit om Hom te volg met my lewe en optrede. Nou werk die Heilige Gees daagliks aan ons om ons te verander om al meer soos Jesus te lewe in liefde en nederige diensbaarheid aan mekaar – dit is die pad van ons heiligmaking wat beteken vrywillige toewyding aan die Here en sy woord en wil, en aan die mense wat die Here op my pad bring (vgl. 2 Kor 3:18; Joh 13:34; Mat 25:34-40). Die vrug van die werking van die Gees in ons lewe word in Galasiërs 5:22-23 uitgespel, teenoor die werke van ons sondige aard (Gal 5:19-21). Die krag wat Hy ons gee, is nie net vir moeilike tye nie, maar vir my daaglikse stryd met myself en my getuienis in die wêreld deur my lewe, gedrag, woorde en denke. Die Here se pad is die pad van reg en geregtigheid vir almal, en ons optrede moet daaraan gemeet word (Spreuke 2:9; Jesaja 1:16-17).

Die leiding van die Gees geskied deur oortuiging, dat Hy my tot ‘n oortuiging lei wat die regte optrede in ‘n spesifieke situasie sal wees. Daarvoor gebruik Hy veral die woord van God wat ons in die Bybel lees, deur preke wat ons hoor, deur dinge wat ons lees, deur mense se opmerkings en raad, deur omstandighede, deur ons denke en beplanning. Soms gaan ‘n deur juis vir ons toe, en wag ons biddend op ‘n nuwe geleentheid wat die Here vir ons oopmaak (vgl. Hand. 16:6-10).

Die Heilige Gees neem ons nie oor nie, maar maak my oë oop om my myself beter te ken, my vermoëns nie te oorskat of te onderskat nie, my eie selfsug raak te sien en hoe ek vir ander tot diens kan wees. Hy bevry my wil en lei my denke om die waarheid te ken, te praat en te doen (vgl. Jesus se gebed in Getsemane, Mat. 26:39,42). Hy gee my ‘n aanvoeling van wat vermy moet word en die krag om die regte ding te doen. Maar die besluit is myne uit my oortuiging onder sy leiding. Maar my oortuiging moet steeds getoets word aan die riglyne van God se woord.

 

Vraag 1&2

Ja, ons kan die Here se leiding oor elke ding vra, want Hy het in ons kom woon om ons daagliks te lei en te versterk, met elke besluit en elke optrede. Die besluit oor die lening vir die regmaak van die trekker val ook hieronder. Maar dit is jy wat moet besluit wat om te doen uit oortuiging dat dit die pad is waarop die Here jou lei in jou omstandighede, maar ook hier sal die Here deure oopmaak of toemaak om jou te lei.

 

Vraag 3 oor Kol 1:9

Om deur die Heilige Gees vervul te word tot die volle kennis van God se wil vereis gehoorsaamheid van ons, waarvoor Paulus juis hier bid. Dit gaan oor ons praktiese lewe waarvoor wysheid en insig nodig is in ons daaglikse lewe (vgl. Eksodus 31:3 waar die goudsmid deur die Gees toegerus word om met kennis/vaardigheid, insig en verstand enige werk vir die tempel te kon doen; Jesaja 28:23-29 dat die Here die boer leer en hom die kennis gee hoe om te boer). Dit gaan ook om praktiese bekwaamheid om reg en verkeerd te onderskei volgens die wil van God.

 

Vraag 4 Die krag van God se heerlikheid wat Hy aan die mens gee deur die Heilige Gees wat in ons kom woon, stel ons in staat om geduldig in alles te volhard (Kol 1:11) – Die volharding verwys veral na die vermoë om onder moeilike omstandighede uit te hou en te verdra; geduld verwys na die emosionele kalmte onder uitlokking, belediging of ongeluk sonder om te kla of om geïrreteerd te word (vgl. Jesus se kalmte tydens die Joodse leiers se beskuldigings voor Pilatus, Mat 27:12, soos ‘n lam is Hy stil na die slagplek gelei, Jesaja 53:7).

 

Vraag 5 God se unieke plan vir Willie Esterhuizen.

Elke mens is uniek. In Jesaja 43:7 verwys die Here na ‘…elkeen wat Ek geskep het tot my eer, wat Ek gevorm het, wat Ek gemaak het,’ vgl. Ps 139:13-16. Hy gee aan elke mens die asem, die lewe aan alles wat op die aarde beweeg (Jesaja 42:5). Deur Hom lewe ons, beweeg ons, en bestaan ons (Handelinge 17:28). Efesiërs 4:7 sê: Maar aan elkeen van ons is ‘n genadegawe geskenk soos Christus dit uitgedeel het.

Vir die gemeentelede in Korinte sê Paulus: laat elkeen leef in ooreenstemming met wat die Here hom toebedeel het, soos God elkeen geroep het….besnede Jood of onbesnede Griek bly so … maar wel gehoorsaam aan God se gebooie. Elkeen moet bly by die roeping waarin hy was toe hy geroep is. Is jy as ‘n slaaf geroep, laat dit jou nie kwel nie, maar as jy tog kan vry word, maak ten alle koste daarvan gebruik….laat elkeen voor God bly soos hy was toe hy geroep is (1 Kor 7:17-24). Christenskap beteken getrouheid in die werk waarin jy staan. Kolossense 3:17: En wat julle ook al doen, in woord of daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus, terwyl julle God die Vader deur Hom dank. Kol 3:23: Wat julle ook al doen, werk met geesdrif, soos vir die Here en nie soos vir mense nie.

Skrywer:  Prof Francois Malan