Die Openbaring aan Johannes – Die tweede tot vyfde engel (16:3-11) – Francois Malan

16:3 Die tweede engel gooi sy bak uit oor die see, en soos die water in bloed verander het in Egipte (Eks 7:20-21), vrek elke lewende wese in die see. In die ou Ooste was die see die blyplek van die Bose en van chaos, ‘n bedreiging wat verwyder moet word om plek te maak vir die nuwe Jerusalem (waar die see nie meer bestaan nie, 21:1). ‘Elke lewende wese’ sluit alle bose wat die wêreld omkrap, in, ook die dier uit die see, wat finaal verwyder word in 19:20.

16:4 Die derde engel gooi sy bak ook uit oor die riviere en fonteine en dit het in bloed verander (soos met die eerste plaag in Egipte, Eks 7:20-21). In Esegiël 29:3 noem die Here die farao van Egipte ‘groot krokodil (draak) wat rustig in jou rivier lê en sê: Dit is my rivier, ek het hom gemaak.’ Die farao van Openbaring, simbool vir die maghebbers van die aarde, gaan verstik in die bloed van die heiliges en profete wat hy vergiet het deur hulle te vervolg en dood te maak (16:6).

16:5-7 is ‘n lofprysing oor die regverdigheid van Hom wat is en wat was (die derde deel: ‘en wat kom,’ soos in 1:4,8; 4:8 word weggelaat, want Hy is nou hier met sy regverdige oordeel), die Heilige (die gans andere wat Hom ook aan die mens toewy). Hy is regverdig ‘omdat Hy oor hierdie dinge geoordeel het,’ waaroor die gelowiges lankal bid. Die lofprysing lewer kommentaar op die eerste vier plae. Wat Johannes hoor, verklaar wat hy sien. Die engele is ook die spreekbuise van die hele omgewing. Hulle verkondig dat God se oordele regverdig is, want: (i) die aarde ontmasker die dwaasheid van afgodsdiens met die swere wat uitbreek (eerste engel); (ii) die bloedige see en varswaters ontmasker die bose se moordadige optrede teen mense en die besoedeling van die omgewing (tweede en derde engel); (iii) die skroeiende son openbaar die mense se harte wat die Naam van God laster (vierde engel).

16:8-9   Die vierde engel gooi sy bak met die Here se toorn uit op die son. Die opdrag word in twee stappe uitgevoer: (i) aan hom is gegee (die son word toegelaat) om die mense met vuur te skroei – die passiewe werkwoord ‘is gegee’ beteken dat die skepping nie op sy eie kan optree nie, maar dat die son reageer op die aanwysing van God. (ii) en die mense is deur die groot (versengende) hitte geskroei. Die mense wat die Lam volg, word beskerm teen die son se hitte en word deur die herder gelei na die verfrissende waters van die lewe (7:16-17; 22:1-2; vgl Eks 8:22; 9:26 waar die Gosenstreek van Israel nie getref is nie). Daarteenoor bring die versengende son die verborge lojaliteite van die dier se volgelinge in die openbaar: hulle sien nie die skepping se kommentaar op hulle korrupte lewens raak nie, maar weier om tot bekering te kom (metanoia verandering van denke en optrede) en aan hulle Skepper heerlikheid te bewys. Hierdie mense word soos diere en laster teen die Naam van God, soos die dier vir wie hulle aanbid (13:5-6). Die twee stappe van hulle optrede: nie tot bekering kom nie….nie aan God heerlikheid gee nie, staan teenoor die Lam se volgelinge: wat vreesbevange geword het…en aan die God van die hemel heerlikheid betoon (11:13).

16:10-11 Die vyfde engel gooi sy bak uit op die troon van die dier, en sy koninkryk is in duisternis gehul…sy troon is die simbool van sy wedywering teen God se troon, om die lojaliteit van die mense se harte te wen; die valse god probeer om die alleenheerskappy oor die skepping te verkry.

Die gevolg van die toorn van God in hierdie plaag is dat die dier se koninkryk in duister gehul is, soos in Egitpe se negende plaag (Eks 10:21-27). Die fisiese duister wat oor die dier se koninkryk uitgegooi word, stem ooreen met die godsdienstige, morele en politieke duister van die dier se regering. Die mense se reaksie op die duisternis is om hulleself te pyning deur op hulle tonge te byt as hulle ondek dat hulle lewenswyse duister is. Maar hoewel hulle pynlik bewus is van hulle verkeerde lewe, het hulle nie berou (metanoia – omkering van denke en dade) daaroor nie, maar gee vir God die skuld; hulle laster die God van die hemel as die oorsaak van die pyne en swere, wat hulle aan hulle self gedoen het. Die feit dat hulle Hom ‘die God van die hemel’ noem is ‘n erkenning dat Hy vanuit die hemel die alleenheerser is op aarde, maar steeds volhard hulle lojaal teenoor die skyn-godheid wat aanspraak maak op alleenheerskappy. Duisternis beskryf ook die plek van die finale oordeel (Mt 8:12 oor ongelowige Jode; Mt 22:13 die man sonder ‘n bruilofskleed; Mt 25:30 die nuttelose slaaf).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Openbaring aan Johannes – Die opdrag aan die sewe engele (15:5-8) – Francois Malan

15:5 Johannes sien die tempel in die hemel is oop, die ‘tent van getuienis,’ die draagbare tabernakel met die ark van die verbond en die twee kliptablette met die tien gebooie, wat Israel deur die woestyn gedra het (Eks 25:16; Deutr 10:2). Die ark was die teken van God se teenwoordigheid by die Israeliete, met die tien gebooie as riglyn vir hulle lewe. Na analogie daarvan is die hemelse tent die getuienis van die teenwoordigheid van God en die Lam, wat die nuwe volk van God begelei op hulle nuwe eksodus.

15:6-7 Uit die tempel kom sewe engele met blink klere van suiwer linne en ‘n goue band om die bors, soos die Seun van die mens (1:13) en sy bruid (19:8), wat die belangrikheid van hulle taak beklemtoon. Soos die priesters van die ou bedeling moet die engele ‘n priesterlike funksie vervul (Eks 28:2-6). In die bakke bring hulle die sewe plae, wat hulle ontvang van een van die lewende wesens. Die bakke word in die eredienste gebruik vir die offergawes aan die Here (Eks 25:29; 27:3). Die sewe engele en sewe plae word drie maal genoem (15:1,6,8). Twee maal word gesê dat die bakke kosbaar is, van goud: in 5:8 is die bakke vol wierook, simbool vir die gebede van die heiliges wat vir die Here ‘n aangename geur is. Die gebede van die gelowiges is geheilig deur die bloed van die Lam (1:5-6 met sy bloed is ons van sondes verlos; 5:8-9 ons is met bloed gekoop as die Lam se eiendom; in 7:14 is die 144,000 se stolas gewas en wit gemaak in die bloed van die Lam; in 6:10 hulle vra: ‘Tot wanneer, heilige en ware Here, gaan U uitstel om u oordeel te voltrek en ons bloed op die aardebewoners/ goddeloses te wreek?’) – God se regverdige oordeel word deur die goue bakke verbind aan die gebede van die gelowiges. Dit word beantwoord met die bakke gevul met die plae van die ewige God se toorn oor die sonde.

15:8 Die tempel is gevul met rook, simbool van ‘die heerlikheid van God en sy mag;’ dit is God se buitenste kleed. Die Gans-andere se andersheid word gesien in sy misterieuse en ondeursigbare kleed. Dit openbaar sy teenwoordigheid, maar bedek sy voorkoms. So het God aan Moses verskyn in die tent van ontmoeting wat bedags gevul was met ‘n wolk en snags met ‘n vuur van God se magtige teenwoordigheid, sodat selfs Moses nie daar kon ingaan nie, maar waarmee die volk gelei is deur die woestyn (Eks 40:34-38). So was die berg Sinai met wolk en vuur geklee, met die teenwoordigheid van die Here (Eks 24:15-16), en het die Here hulle dag en nag gelei (Eks 13:21), en van die Egiptenaars geskei (Eks 14:19-20); so is die tempel wat Salomo gebou het, gevul met God se teenwoordigheid (1 Kon 8:10-12), en is die tempel met rook gevul met die roeping van Jesaja (Jes 6:4). Niemand kan in die tempel inkom voordat die sewe plae volbring is nie. Die tyd vir ‘van aangesig tot aangesig’ met God te kom, het nog nie gekom nie. Dit kom eers as God alles in sy regte plek en orde geplaas het, alle geregtigheid vervul het, en sy volk in die nuwe beloofde land ingelei het. Dan sal hulle Hom van aangesig tot aangesig sien (22:4; vgl 21:22-23).

 

Die sewe bakke word op die aarde uitgegooi (16:1-21)

16:1 God kondig die opdrag aan die engele aan met ‘n harde stem uit die tempel, vir almal om te hoor (Jes 66:6 hoor daar in die tempel hoe die Here sy vyande straf oor hulle dade). Die sewe plae loop parallel met die mense se innerlike ingesteldheid. Dit is uiterlike tekens van mense se lojaliteite en toewyding. Hulle weiering om te verander bevestig die diepte van hulle opstand teen God. Die eesrte vier plae is die kommentaar van die skepping op die mense se dwase weë. Die laaste drie plae is God se oordeel oor die koninkryk van die dier en Babilon. Die seën in 16:5-7 tussen die derde en vierde bak verklaar die regverdigheid van God se oordele, en 16:15 onderbreek die vloei van die plae om die lesers te waarsku om waaksaam te bly. Terwyl die seëls ‘n kwart, en die trompette ‘n derde van die aarde getref het, is die vernietiging van die bakke ‘n totale vernietiging. Die plae herinner aan die plae in Egipte:

16:2 Die eerste engel gooi sy bak uit op die aarde en dit bring bose swere vir die mense wat die dier se beeld aanbid, soos die sesde plaag in Egipte (Eks 9:10). Die merk van die dier, wat onsigbaar is, identifiseer die verborge motiewe van die persoon se lojaliteit aan die valse god; dit bars nou oop in sigbare swere. Die uiterlike verrotheid van hulle vleis loop saam met die bedorwenheid van hulle gees.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Openbaring aan Johannes – Uitbreiding op die finale oordeel (15:1-16:21) – Francois Malan

15:1 Die vorige drie hoofstukke vertel van ‘n vrou beklee met die son (12:1) en ‘n bloedrooi draak wat haar vervolg tot in die woestyn (12:1-6, 13-17). Johannes sien ‘n ander teken in die hemel, groot en wonderbaarlik/verbasend. Die derde teken volg op die eerste en tweede, van die vrou (hfs 12) en die draak (hfs 13). Die plan van God word volbring met hierdie ‘sewe laaste plae.’ Soos die leër van die farao in die Rietsee verdrink het, word die leër van hierdie farao – die volgelinge van die draak en sy twee trawante –verslaan in ‘n nuwe eksodus/uittog uit die slawehuis.

Soos die tien plae in Egipte voor Israel se verlossing, begin die hoofstuk met die sewe laaste plae van God se toorn, en eindig met niemand wat in die tempel kan ingaan voordat die sewe plae ‘volbring’ is nie (vgl Jesus se laaste woord aan die kruis: ‘Dit is volbring!’ (Joh 19:30). Openb 15:1 is die opskrif vir hoofstukke 15-16, God se finale plae en God se uitvoering daarvan deur die sewe engele. Hoofstuk 15 bied die mees voltooide en sistematiese ontwikkeling van eksodus se meester-plot van ‘n vervolgde volk wat verlos word van die moderne farao wat hulle agtervolg.

 

’n Nuwe lied op die vurige see (15:2-4)

15:2 Johannes sien iets soos ‘n see van glas gemeng met vuur, waarop die oorwinnaars oor die dier staan met die siters van God as hulle begeleiding by hulle lied van Moses en van die Lam. God het die siters aan hulle gegee om Hom mee te besing. In 5:8 het elkeen van die 24 ouderlinge voor die troon ‘n lier vasgehou, en in 14:3-4 het die nuwe lied van die 144,000 wat losgekoop is geklink soos die geluid van liere wat bespeel word.

Die glansende vurige see is die hemelse analogie van die Rietsee. Dit lyk soos die see van kristal voor die troon, simbool van God se majesteit en heerlikheid (4:6). Die vuur verteenwoordig die oordeel van God. In 8:7 het die vuur van God ‘n derde van die aarde verskoei; in 8:7-8 ‘n derde van die lewende wesens in die see en van die skepe; in 9:17-18 ‘n derde van die mense; in 16:8 word die son toegelaat om die mense met vuur te verskroei. In 19:20; 20:10,14-15; 21:8 word al wat boos is in die vuurpoel gewerp.

15:3-4 Die oorwinnaars het die dier, sy naam en die getal van sy naam oorwin. Die drievoudige verwysing na die draak wys na die gelowiges se volkome oorwinning oor die duiwel se lis. As volgelinge van die Lam staan hulle op die see van glas en vuur by die Lam as teken van hulle oorwinning oor die see van chaos, en hulle verlossing uit die toorn van   God se veroordeling, soos brandhout wat uit die vuur geruk is (Amos 4:11; Sag 3:2; Jud 23) sing hulle ‘n oorwinningslied.

Die nuwe lied klink na ‘n samevatting van Moses se lied oor die Israeliete se verlossing uit die hand van die farao by die Rietsee (Eks 15:1-18). Hulle lied se eerste deel (15:3) sluit aan by Moses se lied van verlossing nadat God hulle deur die see gelei het, en by sy afskeidslied wat hy voor sy dood in opdrag van die Here vir Israel geskryf het (Deutr.32).

Die nuwe lied word ook genoem ‘die lied van die Lam,’ die sleutel tot die nuwe eksodus van God se volk, want die tweede deel (15:4) brei uit op die eerste met lof vir God se verlossing deur die Lam – die paaslam geslag vir die verlossing van die nasies. Die Here, die Almagtige God, is die Koning van die nasies – Christus moet erken word as die alleenheerser op aarde, soos in die hemel (15:3; 17:14; 19:16), en staan in kontras teenoor die dier wat God se alleenheerskappy bespotlik maak met godslasterlike woorde en name (13:1,5).

Teenoor die ongelowiges se vrae van verwondering oor die mag van die dier (13:4), sing die gelowiges in verwondering oor die almag van die Here God, soos Moses in Eks. 15 en Jeremia in Jer. 10:6-7. Daarmee word die misplaasde lojaliteit van die ongelowiges verwerp: Net God moet gedien en vereer word deur al die nasies, Hy is regverdig en betroubaar. Hy alleen is heilig – ten volle toegewy aan sy skepping en die mense. Sy regverdige dade is geopenbaar deur die Lam se liefdesoffer vir die sonde van die wêreld.

Die danklied word gesing voordat die bakke met die plae van God se toorn uitgegiet word, want God se plae is deel van sy verlossing om sy volk te bevry uit die mag van die menslike farao’s, die keisergod van Rome en die mens se selfgemaakte afgode – wat ‘n lewe vir hom/haarself insluit; ook uit die mag die geestelike farao, die duiwel en sy trawante.

Met die sondvloed in Noag se tyd en die kruisdood van sy Seun, het God met die sonde afgereken, en tog het baie mense sy aanbod van vrye vergifnis nie aanvaar nie. Maar dié mense wat glo in God se versoening deur Jesus, lewe nie meer onder die toorn van God en sonder God nie, maar is deel van die liggaam van Christus (Rom 4:21-25; 5:8-11; 12:4-5). Hy is die Seun van God en ons Here, voor wie die nasies in aanbidding sal neerval – dit is ‘n laaste oproep tot bekering voor die plae kom.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Geloof wat besig is om te verdwyn – Hermie van Zyl

Willie vra:

Aan die iemand wat bereid is om na my te luister – as kind, ek was nog baie klein, het ek eenmaal amper verdrink. Ek het afgesak bodem toe en myself opgeskop met my voete en sodra my kop bo die water was het ek probeer roep maar geen geluid het uitgekom nie want my mond was vol water. Met hierdie hele worsteling voel dit net so, ek roep om hulp maar weet u, niemand hoor nie.
My geloofslewe is besig om totaal uitmekaar uit te val. Ek het soveel vrae in my kop en het niemand om dit mee te bespreek nie. Miskien is my Godsbegrip verkeerd. Miskien is dit Satan se werk maar die lewe, my lewe was nog nooit so sinloos, so sonder rede soos nou nie en daar is soveel dinge wat net doodeenvoudig nie sin maak nie. Dit voel vir my ek is besig om hierdie stryd stoksielalleen te baklei. Gister in die erediens het die beeld in my kop opgekom van iemand wat buite die kerk staan en deur die vensters binne toe kyk na al die mense wat God se guns het, wie se lewens een groot fees is en met niks worstel nie. Die mense wat al die regte keuses gemaak het en hulle lewens het uitgewerk. Ek staan buite en kan nie ingaan nie, want ek is die teenoorgestelde. Dit laat my twyfel of ek wel gered is en of ek wel iets vir God beteken – of is ek maar net ‘n oorlas vir Hom.

  1. Bekering. Is dit nie die proses waar God my lei om die evangelie van Jesus Christus te hoor, te glo en waar die wedergeboorte deur HOM begin word nie? As iemand (‘n predikant) dan vra, het jy al tot bekering gekom, dan klink dit so ek moes iets doen, wat ek dalk nog nie gedoen het nie – solus Christus? Of besluit ek, ek hoor die boodskap en ek besluit of ek dit gaan glo of nie? Ek besef hoe groot my sonde is, ek gaan na Jesus toe. M a w, wedergeboorte kan nie begin voordat ek die besluit geneem het nie? Hoe kan solus Christus dan waar wees?
  2. Heiligmaking. Hoe help God my? Ek lees Bybel, ek verstaan hoe ek moet lewe maar ek sukkel om dit reg te kry. Hoe help Hy my? Is dit ‘n geval van ek het die Bybel, volg die riglyne en kom self reg. Moenie iets ekstra verwag nie, want ek het mos die Bybel. Die beeld wat ek hier bo gebruik het is ter sprake – die ouens binne het dit reg gekry of God het iets spesiaals in hulle lewens gedoen, maar ek staan buite omdat ek nog niks reggekry het nie.
  3. Krag van God. Wat is dit en hoe kry ek dit of hoe en wanneer gee God dit? Weereens, dit voel vir my ek baklei alleen teen die sonde, want ek het geen idee hoe dit werk nie. Moet ek dit net glo, of as ek in gebed daarvoor vra, wat kry ek en hoe? God weet, alleen gaan ek ten gronde gaan, maar al bid en vra ek daarvoor dink ek nie ek kry juis iets wat my gaan help nie.
  4. Blydskap. Paulus sê wees bly in die Here. Wat beteken dit en hoe doen ek dit? Dit is seker nie ‘n emosie nie, dus, wat is dit dan? Tans meet ek my lewensvreugde, of gebrek daaraan, aan dié begrip, en die slotsom is: ek het dit nie, dus ‘n miserabele, sinlose bestaan.
  5. Gebed. Nodeloos om te sê is dit tans nie wat dit moet wees nie. Ek het onlangs met ‘n dominee gesels en gesê God sê 99% van die tyd nee, sou ‘n mens iets vra. En hy sê ek is besig met welvaartsteologie, en miskien is hy reg. Maar is dit wat van dag tot dag met my gebeur nie ook belangrik nie? Vrae soos: Kan U ons help om ons tonnel se dak reg te maak (die wind het ons groentetonnels oor die laaste 7 jaar totaal vernietig); kan dit nou asb ophou! Geen versekering dek teen wind nie en om R80 000,00 in die hande te kry om dit te herstel is nie moontlik nie. Verlede week weer ‘n buitegebou se dak afgewaai. Die wind hou net aan verwoesting saai, en ja, dit is nou maar ek, ek ervaar dit baie, baie sleg.

Ek weet van mense wat bitter swaar kry en vir my gesê het hulle kan doodeenvoudig net nie meer nie. Hier onder is twee gevalle van mense wat ek vir baie jare ken.

  • Ek het saam met haar gewerk vir baie jare. So ‘n paar jaar gelede het sy borskanker ontwikkel. Beide haar borste verloor. Sy het weer begin werk en haar firma maak toe na 4 maande wat sy daar begin het. Dit is nou die 4e keer wat dit met haar gebeur. Sy sê vir my sy weet nie meer nie. Sy is ook al in haar 50s en seker een van die skitterendste werkers met ongelooflike kennis en vaardighede in ons bedryf en wat lang ure kan insit. Die Bybel sê ons sal nie bo ons kragte beproef word nie, maar dié vrou word ver bo haar kragte beproef en dit word net donkerder. Sy is op ‘n ouderdom waar sy bitter moeilik gaan werk kry. Wat hou die toekoms vir haar in?
  • Hy werk ook tans by bg firma wat gaan toemaak. Ken Deon en sy vrou sedert 1980. So ‘n paar jaar gelede het sy vrou ‘n gewas in haar brein ontwikkel. Sy is geopereer. Sy het weer ‘n gewas ontwikkel en is weer geopereer. Vroeër die jaar weer ‘n gewas in die brein maar op so ‘n plek dat hulle nie kan opereer nie. Toe nog bo op dit ‘n gewas in haar nier. Sy ken net siekwees die afgelope klompie jare. Deon het vir my gesê hulle het
God gevra vir ‘n wonderwerk om sy vrou gesond te maak. Sy word net sieker en sieker – lang uitgerekte lyding.
My oudste seun is gebore as ‘n spastiese kwadrupleeg en vir 26 jaar het Kobus net swaarkry geken (siekwees, rugpyn, wurg aan jellie, kon nooit net doodgewoon lekkers eet soos ander kinders nie, kon nie praat nie, kon nie self regop sit nie). Totdat sy aorta geskeur het en hy inwendig dood gebloei het – letterlik dood gebloei het
  1. Ek weet die Bybel sê ons gaan swaar kry en dat alles nie maanskyn en rose gaan wees nie. Beteken dit dan dit gaan ook nooit ophou nie? God gaan geen verligting vir sulke mense bring nie en hulle maar aan die swaarkry oorlaat, want wonderwerke gaan nie gebeur nie, maak nie saak hoe hard Deon hulle daarvoor smeek nie? Die antwoord gaan “nee” wees. Die antwoord van “God dra hulle deur die situasie” is ek ook maar baie skepties oor, want om sy vrou te moet sien stadig maar seker doodgaan en die vooruitsig te hê om teen die einde van die maand sonder werk te sit, dus ook sonder ‘n mediese fonds, beteken sy gaan met ‘n helse klomp pyn en lyding doodgaan. Ek het onlangs die stelling gemaak dat as dit so is, dan is God ‘n tiran wat behae daarin skep dat sy kinders deur hierdie verskrikking moet gaan om sogenaamd mense se geloof te toets. Hoekom, hoekom, hoekom?
  2. My gevolgtrekking is dat die lewe op aarde is sinloos, dien geen doel nie want daar is geen vreugde nie – niks om na uit te sien nie, net swaarkry en preke waarvan die predikers self nie alles mooi verstaan nie en sodra ‘n mens hulle uitvra, is dit vae antwoorde of geen antwoorde nie.

Soos ek ten aanvang gesê het, is my Godsbegrip dalk heeltemal verkeerd. Dít is wat ek glo:

  • Ek glo sonder twyfel dat Jesus Christus vir my gesterf het – geen vrae daaroor nie.
  • Ek glo Hy het opgestaan, sonder die geringste twyfel – geen vrae nie.
  • Ek glo Hy kom terug – geen vrae nie.
  • Ek sukkel om te glo dat Hy elke dag by ons is om ons by te staan. Ek dink Hy het ons sy Woord gegee en ons moet self regkom.
  • Ek sukkel om te glo dat ek Hom kan vra om my te help met daaglikse menslike probleme wat ek bitter, bitter erg ervaar.
  • Ek dink die “krag” waarvan die Bybel praat, is net vir sekere Christene waar, maar nie vir mense soos ek nie. Ek dink daar is bitter min mense (teoloë ingesluit) wat weet wat dié krag werklik is.
  • Ek dink die bly wees waarvan Paulus praat, is net vir sekere Christene waar, maar nie vir mense soos ek nie. Daar is net te veel mense wat kinders van God is wat net die bitter van die lewe ken, niks anders nie. My lewe van 60 jaar is ‘n bewys hiervan.
  • As ek verkeerd is, hoop ek die God teen wie ek rebelleer, sal my genadig wees soos met die tollenaar en my help om reg te verstaan sodat ek kan seker wees van sy liefde, dat dit vir my ook bedoel is en dat Hy vir mense soos hierbo beskryf, wel omgee. Tans beleef ek Hom as dat Hy nie omgee vir my nie, net soos wat my pa bitter min in my belang gestel het.

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

In wat volg kan ek nie op al die vrae van die korrespondent ingaan nie; dit sal ‘n te uitgebreide antwoord verg. Ek probeer eerder sy grondgedagte peil en daarop antwoord.

Ek wil graag reg aan die begin die korrespondent verseker dat daar baie gelowiges is wat – een of ander tyd in hulle lewe – soos hy voel. Hy hoef dus nie skuldig te voel oor sy “ongelowige” gedagtes oor God en geloof nie; gedagtes soos: Wat help dit om in God te glo, al die regte dinge te doen, tot Hom te bid, en tog lyk dit nie of God antwoord nie. Want niks in jou lewe verander ten goede nie. Alles bly net soos dit was. En, moet mens eers wag tot ná jou dood voordat dinge met jou goed sal gaan? Is hierdie lewe nie ook bedoel om as kind van God die guns en gawes van God te geniet nie?

Laat my dadelik sê dat daar nie eenvoudige en maklike antwoorde op hierdie vrae is nie (iets wat die korrespondent waarskynlik al dikwels gehoor het). Maar hoewel ‘n cliché, bly dit nogtans waar. Die lewe in die algemeen en spesifiek die verhouding met God is net te kompleks om in sy omvang en diepgang volledig te deurgrond. Nie al ons vrae word aan die duskant van die graf beantwoord nie. Dit is iets waarmee mens – in die geloof – moet vrede maak. Verder, God loop ook met elkeen ‘n unieke pad. Wat geld vir die een, is nie net so oordraagbaar op die ander nie. Dit is dus nie altyd wys om jou lewe met dié van ander te vergelyk nie, want dan spoel die twyfelvrae nog sterker oor ‘n mens, veral as dit oënskynlik met ander beter gaan as met jou.

Die dilemma dat God skynbaar nie ingryp in ons lewens om dit beter te maak nie, is nie ‘n onlangse probleem nie. Dis so oud soos die mens se verhouding met God. Die bladsye van die Bybel is vol hiervan. Dink maar aan die klassieke verhaal van Job. Sy lewe beweeg van ryklik geseënd, tot alles verloor, tot weer ryklik geseënd. Was dit werklik nodig dat sy geloof op so ‘n (verskriklike) manier getoets word, in so ‘n mate dat selfs sy vrou vir hom die raad gee om God te vloek en te sterwe (Job 2:9)? Het God een of ander behae geskep in Job se lyding? Kon Hy Job nie op ‘n ander manier sterker aan die ander kant laat uitkom het nie? Want dis nie asof Job ‘n ongelowige was nie – inteendeel. So ook die digter van Ps 73. Hy worstel daarmee dat dit so voorspoedig gaan met die goddeloses terwyl hy wat die Here met oorgawe dien, terugslag op terugslag beleef (Ps 73:13-14; vgl ook Ps 37). En Paulus, die groot apostel van die Here Jesus, se geloofspad was ook glad nie met rose besaai nie. In 1 Kor 4:10-13 en 2 Kor 11:16-31 vertel hy van al die verskriklike ontberings wat hy ondergaan het in diens van die Here. En dis nie asof hy ‘n masochistiese genot geput het uit hierdie lyding nie. Nee, hy sou wat wou gee om daarvan ontslae te raak; hy praat daarvan as ‘n doring in die vlees wat hom teister (2 Kor 12:7-10). Daarom dat hy die Here drie maal (beteken eintlik “herhaaldelik”) gevra het om dit weg te neem, maar die Here het gesê dat sy genade vir hom genoeg is. Geen wonder nie dat Paulus in Gal 6:17 sê dat niemand hom moeite moet aandoen nie aangesien hy in sy liggaam die littekens van Christus dra. Hiermee wil hy sê: ek ken die weg van Christus; dis geen maklike pad nie, ek dra die bewyse daarvan aan my lyf.

Met bogenoemde oorsig oor Bybelse gelowiges se lyding wil ek nie mense soos ons korrespondent se persoonlike worsteling met God probeer afmaak as onbelangrik nie, as iets waarmee ons maar almal worstel nie. Ek wil maar net die punt vanuit die Skrif maak dat geloof in God geen vrywaring is teen die aanslae van die lewe nie. Gelowiges is net so blootgestel aan die gevare en teisterings van die lewe as hulle wat nie in God glo nie. Ook ongelowiges moet leer om die teenslae en teleurstellings van die lewe die hoof te bied. Ons is immers almal mense met dieselfde emosies, behoeftes, vrese en ideale. Ons verlang almal na geluk en ‘n rustige lewe.

Maar wat is dan die verskil tussen die gelowige en ongelowige? Dit lê daarin dat gelowiges die teenslae van die lewe doelbewus, op ‘n manier wat alle verstand te bowe gaan, in verband bring met hulle lewe saam met God. Hulle vind troos in die wete dat hulle naby God lewe (Ps 73:21-28), dat niks en niemand hulle van die liefde van God in Christus kan skei nie (Rom 8:35-39), dat God se genade vir hulle genoeg is en dat sy krag losgelaat word juis wanneer hulle swak is (2 Kor 12:9), en dat op een of ander manier alles tog ten goede meewerk vir dié wat vir God liefhet (Rom 8:28). Hulle lewensvreugde is dus nie primêr afhanklik van omstandighede nie, maar is diep gesetel in hulle verhouding met God. Al bot die vyeboom nie, al misluk die druiweoes, al word die vee minder, nogtans juig hulle in God, hulle Redder (Hab 3:17-18).

Die rede hoekom dit moontlik is, is omdat die gelowige weet dat sy of haar lewe vir ewig geborge is in God, nie net vir hierdie lewe nie. Daarom dat Paulus vanuit die opstanding van Christus redeneer as hy sê dat as mens net vir hierdie lewe op Christus hoop, ons die bejammerenswaardigste van alle mense is (1 Kor 15:19). God het in Christus ‘n nuwe lewe begin wat tot in alle ewigheid duur. Ons beleef op aarde nog maar net die begin hiervan; deur die Heilige Gees proe-proe ons nog net daaraan. Ons hoop lê in Christus wat die bose en die dood oorwin het. In die mate wat ons aan Christus verbind is deur die geloof (geloof as lewenswyse van vertroue in Christus), in daardie mate word ons getroos met die wete dat ons deel het aan die ewige lewe en dat God eendag die trane van ons oë sal afvee, eendag wanneer lyding, hartseer en dood, wat so deel is van hierdie wêreld, geen houvas meer op ons sal hê nie (Op 21:4). Hoe onwerklik God se nuwe wêreld ook al klink wanneer ons daagliks moet worstel met die onbeantwoorde vrae van die lewe, was hierdie wete en vaste geloof nog altyd die troos en krag van die gelowige. Vreemd, onlogies, maar waar.

Verder, omdat ons vanuit hierdie ewigheidsperspektief lewe, kan ons ook in geloof na die wêreld rondom ons kyk en nou reeds daarvan ‘n beter plek probeer maak. Ons weet immers dat elke daad wat in liefde gedoen word, tot in ewigheid standhou (1 Kor 13:8), dat ons so belê in die hemelse skatte wat nie deur mot en roes verniel kan word nie (Matt 6:19-21). Ja, geloof vrywaar ons nie van aardse ellendes nie, maar dit open ‘n hemelse perspektief (Heb 11:1) van waaruit ons elke dag se uitdagings aanpak. En presies dit gee moed, krag en vreugde in die lewe.

Verder, ons put ook krag en vreugde uit die geloofsverhale van ander. Die Bybel is vol hiervan, maar ons word ook daagliks omring deur mense wat dieselfde stryd as ons stry. So word ons verryk en versterk, en dra ons mekaar se laste (Gal 6:2). Ons moet ons dus nie onttrek van die geloofsgemeenskap nie. Die Hebreërbrief vertel byvoorbeeld van so ‘n groepie gelowiges wat klaarblyklik weens die talle aanslae van die wêreld geloofsmoeg geword het, tot op die punt dat hulle afvallig wou raak. Maar dan bemoedig die skrywer hulle met allerlei aansporings om te volhard. Hy spoor hulle aan om die gemeenskap met ander gelowiges te beoefen (Heb 10:25), hy herinner hulle aan die geloofshelde uit die OT wat God se onsigbare (maar werklike) wêreld in die oog gehou het (die hele Heb 11, veral vv13-16). Hulle word herinner daaraan dat hulle op aarde pelgrims is sonder ‘n vaste woonplek en so Christus se smaad moet dra (13:13-14). Hulle word dus aangemoedig deur die medegelowiges wat klaar die aardse stryd voltooi het, terwyl hulle die oog gevestig hou op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof (12:1-3).

Ek is maar te bewus daarvan dat al bogenoemde, hoe waar ook al, deur elke gelowige in sy of haar persoonlike omstandighede geïnternaliseer moet word. Niemand anders kan dit vir jou doen nie. Party vind dit “makliker” as ander; sommige se omstandighede is net soveel moeiliker as ander s’n. Maar elkeen kan daaraan vashou dat God ons nie alleen laat nie, al voel dit so. (Ook Christus het geworstel met Godverlatenheid [“My God, my God, waarom het U My verlaat, Matt 27:46].)

My hartewens is dat ons korrespondent op die een of ander manier krag sal ontvang vir sy persoonlike geloofspad op aarde.

 Skrywer:  Prof Hermie van Zyl