Die Openbaring aan Johannes – Seënspreuk: Twee oeste (14:13) – Francois Malan

‘n Stem uit die hemel kondig die tweede van die sewe seënspreuke in Openbaring aan (1:3; 14:13; 16:15; 19:9; 20:6; 22:7,14): ‘Skryf neer! Geseënd is die dooies wat wat van nou af in die Here sterf…’ Dit is ’n tussenwerpsel van hoop midde in die aankondiging van die onheil van God se ewige straf. Om in die Here te sterwe beteken om enduit in die geloof getrou te bly aan Jesus Christus, om in sy ligkring te bly leef, om deel te word en te wees van Christus se sterwe (Rom 6:5-11; 2 Kor 5:14-15; Kol 3:3-4).

Die Gees het Johannes meegevoer om sy visioene te sien en op te skryf (1:10; 4:2; 17:3;21:10). God praat met die gemeentes deur die Gees (2:7,11,17,29; 3:6,13,22). Net hier en in 22:17 praat die Gees self; hier om die seën te bevestig: ‘inderdaad!’ en voeg by: ‘sodat hulle mag rus van hulle geswoeg/verdrukking, want hulle dade volg hulle.’ Dié mense wat in die Here sterf se rus staan in skrille kontras met die dier en sy volgelinge wat dag en nag geen rus sal hê nie (14:11). God onthou die gelowiges se getrouheid te midde van vervolging en swaarkry ter wille van Hom (Mt 16:27; Rom 2:6-11).

 

Die graanoes (14:14-16)

 

Verras, sien Johannes ‘n spierwit wolk, en op die wolk sit iemand soos ‘n seun van ‘n mens (iemand soos ‘n mens). So het Jesus Homself op aarde genoem, soos in die gesig van Daniël 7:14. Die wolk is wit as simbool van suiwerheid, reinheid en wysheid. Die wolk as sy koets/troon wanneer Hy weer kom, simboliseer sy verheerlikte posisie (vgl. die beloftes in Mt 24:30; 26:64). Die goue kroon op sy kop is die simbool van sy oorwinning en heerskappy as koning wat die finale oordeel kom voltrek. Die skerp sekel/sens in sy hand is die gebruiklike oesinstrument (Mk 4:29) as simbool van die finale oordeel, wat Jesus kom voltrek soos die ‘ander engel wat uit die tempel kom’ (14:9) aangekondig het, met ‘n harde stem vir almal om te hoor. Met ‘n enkele swaai van die skerp sekel/sens is die hele aarde afgeoes. Soos in Johannes 4:34-38 verwys die graanoes na die insameling van die gelowiges wat ryp geword het vir die oes om vir ewig by Christus hulle koning te wees (vgl. Joël 3:13).

 

Die druiweoes (14:17-20).

Die ander engel uit die hemelse tempel met ‘n skerp sekel/sens kry sy opdrag van die engel wat in beheer is van die vuur by die offeraltaar om die vuur van die oordeel te simboliseer – hulle wat nie Christus se offer aanvaar nie, word self offerdiere (20:15). Die druiwe-oes verloop in twee stadiums: eers afsny van die trosse (oordeel) en dan getrap in die parskuip van God se toorn (straf). Christus moet as die Regverdige Regter ook die straf van God oplê (vgl. 19:15; Jes 63:3-6). Hy wat red, herstel ook die orde in die skepping, as verlosser en regter.

Die beelde van die hoofstuk is baie erg. Die bloed uit die parskuip vloei so hoog soos die perde, vir 1,600 stadia, amper vir 300 kilometer. Maar die omskakeling na kilometers mis die simboliek van 4x4x10x10 met 4 wat die wêreld aandui en 10 totaliteit, en verdubbel vir beklemtoning. Dit beteken die bloed bedek die hele aarde totaal (vgl. die baie deur die wye poort na die verderf, in Mt 7:13). Dit behoort die lesers wakker te skok om te besef hoe lewensbelangrik elke keuse is. Die bedwelmende invloed van Babilon is so groot dat gewone mense en gelowiges nie maar kan aangaan sonder deeglike nadenke nie. ‘n Mens kan nie die merkteken van God en die Lam dra saam met die merk van die dier nie (Mt 6:24).

 

Hoofstukke 12-14 se boodskap

Die geestelike oorlog wat in hoofstuk 12 begin met die draak wat die Christuskind wil verslind, loop uit op die draak se uitwerping uit die hemel deur die soendood van Christus. Daardeur is die Satan=aanklaer se grond vir sy aanklagtes ontneem. Die kind word na die hemel weggevoer om vandaar as die Lam met liefde te regeer. Daarna roep die draak, wat hom as god voordoen, sy trawante: die dier uit die see, simbool van die mag en geweld van regeerders, stelsels, kulture en gebruike van mense; die dier uit die aarde as simbool van slinksheid, leuens en verleiding om mense weg te lei van die ware God en die Lam af. Hoofstuk 14 teken die Lam op berg Sion saam met die gelowiges wat Hy losgekoop het en ‘n nuwe lied sing om die evangelie oor die hele aarde te verkondig. Daarteenoor val die magtige Babilon met die nasies wat sy bedwelm het. Hulle gaan nou die beker van God se toorn drink en met vuur gefolter word. 14:12 roep gelowiges op om te volhard en 14:13 verseker hulle van die rus van hulle geswoeg. Hoofstuk 14 sluit met God se oordeelsdag as laaste waarskuwing met troos vir gelowiges en verskrikking vir ongelowiges wanneer die Seun van die mens op die wit wolk kom sit met verlossing en die regverdigheid waarom die hele skepping roep (6:9-11; vgl. Rom 8:18-25). Die gelowige verlosdes word soos ryp graan geoes vir die ewige lewe (Mark. 4:29; Joh. 4:35-36); die ongelowiges ontvang die regverdige oordeel van God soos ‘n wingerd wat af geoes en die druiwe in die groot parskuip van God se toorn getrap word (Joël 3:13; Jes. 63:3-6).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Moderne profete – Hermie van Zyl

Mariana vra:

Charismatiese kerke bied deesdae kursusse aan wat mense leer hoe om te profeteer. My vraag: Is dit moontlik? Is daar vandag nog profete? Charismate glo dat, omdat dit die laaste dae is, God deur mense met die gawe van profesie aan die kerk nuwe openbaringe gee. Hierdie mense beskou hulself as moderne profete en staan ook by sekere kerke bekend as profeet so en so of as profetes so en so en sê dan dat hulle ‘n profetiese woord direk van God ontvang het.
Dis ’n ernstige dwaling! Christus waarsku in Mt 24:24 teen die profete van die laaste dae en sê dat daar baie van hulle sal wees en baie mense gaan mislei. 
Die Bybel waarsku dat dwaalleraars die kerk onder die dekmantel van uiterste vroomheid sal binne-kom om mense te mislei: “Want sulke mense is vals apostels, bedrieglike arbeiders wat hulself verander in apostels van Christus.” En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig. Dis is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie” (2 Kor 11:13-15).

Hier is ‘n voorbeeld van ‘n advertensie wat mens help om jou roeping as profeet te kry. Kan dit waar wees?

You’ve heard the holy call to prophetic ministry. Now what? In this book, leading prophetic voice Jennifer LeClaire guides readers along the journey of a prophet – from the initial call all the way through to maturity. This “making” process is anything but easy. But LeClaire offers honest, accessible counsel to help you move into your prophetic call. Her spiritual insights will help you overcome the fear of man, identify and eliminate wrong motives and, above all, pursue intimacy with God. Many prophets are called . . . but not everyone endures the “making process” to his or her prophetic destiny. God is looking for people to entrust with the secrets of His heart. Embrace the journey toward your call with this comprehensive, practical guide, and experience the awesome process of being formed into a mouthpiece for the God of the universe – See more at: http://www.jenniferleclaire.org/the-making-of-a-prophet#sthash.IWDYWDPF.dpuf

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Dit is nie my bedoeling om uitsprake teen die sogenaamde charismatiese kerke te maak nie, want die verskynsel waarna die vraesteller verwys, kom in ‘n mindere of meerdere mate by gelowiges van alle kerke voor. Dit is weliswaar meer tiperend van die charismatiese kerke omdat dáár normaalweg meer gemaak word van die direkte spreke van God tot gelowiges as wat die geval is by die nie-charismatiese kerke. Ek gaan dus eerder in die algemeen ‘n standpunt stel oor profesie en hoe profetiese aansprake wat vandag voorkom na my mening beoordeel moet word.

Die blote feit dat daar in die Bybel onderskeid getref word tussen ware en vals profete wys dat dit nie so maklik is om tussen die twee te onderskei nie. Albei maak immers aanspraak daarop dat hulle ‘n boodskap van God ontvang het. So lees ons byvoorbeeld in Jeremia 23:9-40 van profete wat in die Naam van God optree, m a w hulle beweer hulle het ‘n besondere boodskap van God ontvang, maar Jeremia sê dat hulle geen boodskap of opdrag van God ontvang het. Hulle boodskap is dus nie te vertrou nie. ‘n Kenmerk van hierdie “profete” was (a) dat hulle immoreel gelewe het (Jer 23:11,13-14) en (b) dat hulle gerusstellende boodskappe aan die volk verkondig het wat nie waar was nie (Jer 23:16-17). In plaas daarvan dat hulle die volk tot bekering oproep, verkondig hulle soetklinkende leuens wat die mense graag wil hoor. In die aangesig van die dreigende Babiloniese gevaar het hulle die volk gepaai dat Jerusalem veilig is. Hulle roep uit: “Dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel” (Jer 7:4), bedoelende: Ons is veilig, God woon onder ons, geen kwaad sal ons tref nie. Dit was egter Jeremia, die ware profeet, se taak om hierdie blinde geloof in die tempel en God se beskermende teenwoordigheid as vals uit te wys; hy moes die volk waarsku om nie hulle vertroue in leuens te stel nie, en hulle oproep tot bekering en om te doen wat reg is (Jer 7:3-11).

Die vraag is nou: Wie moes die volk glo? Hoe onderskei gelowiges tussen ware en vals profete?

In die Nuwe Testament word ook van vals profete gepraat. Dáár word gesê dat mens hulle aan hulle vrugte sal uitken (Matt 7:15-20). ‘n Vals profeet se algemene optrede en lewe wys uiteindelik dat hy/sy nie regtig God se boodskapper is nie, maar eintlik met bedrog besig is.

Maar hoe nou gemaak as die vals profeet nie so opsigtelik immoreel lewe of hom/haar met valshede besig hou as wat hierbo van gepraat word nie? Dit was waarskynlik die situasie wat in die Korintiese gemeente voorgekom het. Daarom gee Paulus die raad dat iemand wat daarop aanspraak maak dat hy/sy ‘n profetiese woord het, deur die ander beoordeel met word (1 Kor 14:29), m a w, daar moet geoordeel word of dit in ooreenstemming is met die geloofswaarhede wat die gemeente van die apostels gehoor het.

Hier kom ons dus by ‘n belangrike beginsel – hoe ons vandag moet maak wanneer mense daarop aanspraak maak dat hulle profetiese insigte van God ontvang het. Want mense kom dikwels met allerlei aansprake, en dring gewoonlik daarop aan dat dit ‘n onfeilbare insig of woord is wat hulle van God ontvang het en dat dit aan die gelowiges deurgegee moet word as God se openbaring oor een of ander saak, bv wanneer die einde van die wêreld sal wees, oor wie die anti-Chris is, ensovoorts. En wee jou as jy dié “profete” se woord in twyfel trek. Maar gelukkig is gelowiges nie sonder insig oor die wil van God nie. Net soos die Christene van Korinte die woord van die apostels gehad het, so het gelowiges vandag die Bybel en die historiese geloofsuitsprake (belydenisskrifte) van die kerk. Hieruit kan hulle self oordeel of die sogenaamde nuwe insigte van mense wat beweer dat hulle direkte opdragte van God gekry het inderdaad in ooreenstemming is met die geopenbaarde waarhede van die Woord van God of nie. Ons is dus nie heeltemal uitgelewer aan mense wat met allerlei profetiese aansprake kom nie. Ons kan hulle beoordeel, of dit werklik insigte is wat van God kom en of dit vroom duimsuigery is wat meer misleidend is as wat dit waarheid is.

Persoonlik sal ek dus baie skepties wees oor sogenaamde profeteskole waar mense opgelei word om hulle profetiese gawes te ontwikkel. Dit is dikwels net ‘n manier om vanuit sogenaamde meerdere kennis ander gelowiges te manipuleer. Om werklik te hoor wat God vir ons vandag sê, kan ons maar net fyn luister na die geopenbaarde wil van God in die Bybel, soos dit op ‘n verantwoordelike manier deur die kerke se amptelike geestelike leiers uitgedra word. Die groot geheim is dat die hele kerk die gawes van God se Gees ontvang het, en dat almal kan saampraat oor hoe God se wil vandag verstaan moet word, nie net dié wat aanspraak maak op sogenaamde profetiese gawes en insigte nie.

Dit beteken egter nie dat die toets vir ware profesie net in die kollektiewe wysheid van die kerk geleë is nie. Die teendeel is ook waar: die kerk kan as geheel so ontspoor dat hy weer opnuut aan sy aard en roeping in die wêreld herinner moet word. En dit doen God deur van tyd tot tyd individue te roep om op onverskrokke manier weer die wil en koers van die Here aan te dui. Ons tref hierdie figure in die bladsye van die Bybel aan – Jesaja, Jeremia, Hosea, Amos, ensovoorts, en natuurlik Jesus Self, wat ook die tipiese trekke van die Ou-Testamentiese profetiese figure openbaar het (kyk hoe Jesus Homself identifiseer met die OT profete in Matt 23:33-39). Maar ook in die loop van die kerk se geskiedenis het God sulke figure opgewek. Dink aan Martin Luther wat die misstande van die middeleeuse Roomse Kerk uitgewys het en uiteindelik die vader van die protestantisme geword het. Maar ook in meer moderne tye – ook in ons eie land – was daar sulke figure (sonder om name te noem) wat téén die gangbare kerklike opvattings in misstande in die Suid-Afrikaanse samelewing uitgewys en ‘n nuwe koers en rigting aangedui het. Aanvanklik was daar teenstand teen hierdie figure, maar by terugskou weet ons vandag dat hulle reg was; hulle was hulle tyd vooruit en moes aanvanklik baie weerstand en selfs verguising verduur voordat die meeste mense later tot die insig gekom het dat hulle inderdaad deur God geroep en gestuur is om die kerk op die ware Godspad te lei. Hulle het by wyse van spreke net soos die Ou-Testamentiese profete opgetree en gesê: “So spreek die Here”. En die kerkvolk het uiteindelik geluister.

Hierdie moderne profete het egter nie profetekursusse of -skole bygewoon waar hulle geleer is hoe om profete te wees nie. Hulle het gewoon die pad van goeie teologiese opleiding geloop, hulle mense en konteks bestudeer in die lig van God se Woord, en gaandeweg tot bepaalde insigte gekom (onder leiding van die Gees) waarvan hulle oortuig was dat dit die wil van God vir die kerk en samelewing was. En eers by terugskou kan daar behoorlik oor hulle profetiese insigte en optrede geoordeel word.

Die pad van ware profesie en ware profete is dus nie ‘n maklike en simplistiese pad nie. Uiteindelik lê dit nie in die hande van mense om ware profete te roep en toe te rus nie. Dit lê in God se hand wat roep, bekwaam maak en stuur.

In die lig van bostaande beredenering kan mens dus in die algemeen die volgende riglyne voorstel: Gelowiges moet wakker wees om nie deur allerlei dwaalgeeste ingeloop te word wat hulleself as profete aandien nie. Nie elkeen wat beweer, “die Here het my gestuur”, is inderdaad deur die Here gestuur nie. Deur God se genade beskik die kerk kollektief oor die geestelike vermoë om tussen waarheid en verdigsel te onderskei. Maar eweneens mag die kerk nie sy ore sluit vir die stem van die ware profete wat God van tyd tot tyd opwek en vir sy kinders stuur nie. Dit sal net so fataal wees as om te luister na elke wind van verandering.

 Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Die Openbaring aan Johannes – Drie engele (14:6-12) – Francois Malan

Die drie engele (die Griekse woord angeloi beteken ‘boodskappers’) bring dringende boodskappe:

 

14:6-7 Met ‘n harde stem sodat almal kan hoor, hoog in die lug dat almal hom kan sien, roep die eerste engel al die bewoners van die aarde op met die ewige evangelie, die ’goeie boodskap’ van God se liefde en genade, om húlle Skepper wat ook Skepper van die ganse skepping is, te aanbid en te dien Dit is ‘n dringende waarskuwing dat die tyd van sy oordeel aangebreek het (vgl. Jesus se beginprediking in Mk 1:15). Die oordeel van God het reeds aangebreek. Jn 3:36 sê: Wie in die Seun glo, het die ewige lewe, maar wie aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, inteendeel, die toorn van God bly op hom. Jn 3:18: Wie in Hom glo word nie veroordeel nie, maar wie nie glo nie, staan reeds veroordeel omdat hy nie in die Naam van die enigste Seun van God geglo het nie. In die finale oordeel word dit in die openbaar bevestig.

14:8 Die tweede engel roep uit dat die magtige Babilon geval het – haar val is seker, daarom word dit herhaal, al word haar finale val eers in hoofstuk 18 bespreek. Die groot stad wat figuurlik Sodom en Gomorra genoem word in 11:8 verwys waarskynlik na Babilon. Die naam Babilon word egter 6x in Openbaring genoem (14:8; 16:19; 17:5; 18:2,10,21) na aanleiding van die dier se getal. Babilon was die hoofstad van die Babiloniese ryk, wat die tempel van Jerusalem in 587 v.C. verwoes het en die Jode in ballingskap weggevoer het. Openbaring se eerste lesers het die naam Babilon as ‘n skuilnaam vir Rome beskou (soos in 1 Petr 5:13), onder wie se bose mag en geweld hulle gely het (Babel het reeds in 141 v.C. onder die Parte ten gronde gegaan; vgl. Jes 13:19-22; 14:23). Maar in Openbaring is Babilon eintlik die simboliese stad van hierdie wêreld wat verdrukking, gevangenisskap en ballingskap verteenwoordig. Johannes skilder ‘n stad en wêreldstelsels wat ‘n bedreiging vir God se volk in baie tye en plekke behels, as die teenpool van die nuwe Jerusalem; dit is elke plek en samelewing wat hulle self vergoddelik en as heersers aanstel. Soos die toring van Babel verrys die stad tot in die hemel om onafhanklik van God te wees, en weier om God se opdrag te gehoorsaam om die hele aarde te bewoon (Gen 11:2; 1:28). Babilon se invloed is bedwelemend, met oorweldigende verleidelikhede en onsedelikheid waarmee afgodery en afvalligheid van God geimboliseer word. Afgodediens het gewoonlik gepaard gegaan met seksuele onsedelikheid. Daarmee word al die nasies weggelei van die oproep van die evangelie om hulle Skepper te aanbid en te dien (14:6-7).

 

14:9-11 Die derde engel se waarskuwing aan gelowiges wat deur die wêreld se sedes en gebruike en norme verlei word en deur die Babilon-samelewing bedelm raak, wys hy op die dreigende lyding, dag en nag vir ewig, en marteling soos in ’n vuur wat nie uitbrand nie, vir diegene wat die dier en sy beeld aanbid met sy merk op hulle voorkoppe (in hulle gedagtewêreld) en regterhande (in hulle daaglikse optrede). Want die mense wat hulle rug draai op die ware God, die God wat Jesus aan ons kom openbaar het, gee Hy in sy toorn oor aan hulle eie begeertes om mekaar te vernietig (Rom. 1:18-31). Teenoor Babilon se wyn van verleiding tot verkeerde dade en bedwelming van hulle denke (18:3) staan die onverdunde wyn van God se ewige oordeel wat Jesus vir baie gedrink het (Luk. 22:19-20; Mark. 10:38,45).

 

14:12 ‘Hiervoor (die toorn van God oor die volgelinge van die dier 14:9-11) het die heiliges volharding nodig, hulle wat die gebooie van God nakom en in Jesus bly glo.’ ‘Volharding’ is die vermoë om uit te hou onder moeilike omstandighede. Die paragraaf eindig met ‘n oproep tot volharding soos in 13:10 (vgl.1:9 vir Johannes; 2:2-3,19 vir die gemeente). Volharding hou in dat ek innerlik en aktief teenstand bied teen die lewenswyse van die wêreld (Babilon en die dier), deur my lewe in gehoorsaamheid aan God se gebooie in te rig, en in geloof (met volle vertroue) vas te klou aan Jesus as die Here van my lewe. Deur die inwoning van die Heilige Gees in ons, gee God die volharding in geloof in Hom as ons Vader en in Christus as ons Verlosser en Here van ons lewe. Daarom vra Hy ook van ons geloofsvolharding, uithou ook onder moeilike omstandighede en verleidings. Hy vra van ons om dit wat Hy vir ons gee, te gebruik en toe te pas (1 Jn 4:19: Ons het lief omdat Hy ons eerste liefgehad het).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Openbaring aan Johannes – Openbaring 14 – Francois Malan

Aan die einde van hoofstuk 12 het die draak op die strand gaan staan en roep om versterkings uit die see en die aarde vir sy stryd teen die gelowiges op aarde (12:18). In hoofstuk 14 staan die Lam wat oorwin het, op die berg Sion en roep sy ‘leër’ van 144,000 om die twee diere te weerstaan deur te volhard in hulle gehoorsamheid aan die gebooie van God, en in Jesus te bly glo (14:12). Hoofstuk 13 het ‘n oorsig gegee van die konflik tussen goed en kwaad in die wêreld; nou word ‘n kykie gegee van die oplossing van die konflik. Telkens in Openbaring word die ellende op aarde belig met die uitsig van Bo af, om gelowiges se geloof te versterk om te kan volhard in die ellende.

Die hoofstuk word in 4 dele verdeel deur vier letterkundige merkers:

Ek het gesien, en kyk (v1) die verlostes en die Lam op Sion (1-5)

Toe het ek gesien (v6) die val van Babilon en die komende oordeel oor die dier en sy volgelinge (6-12)

Toe het ek gehoor (v13) die tweede van die sewe saligsprekings in Openbaring

Toe het ek gesien, en kyk (v14) twee oeste: die graanoes van gelowiges (14-16); die druiwe-oes van ongelowiges 17-20).

 

Sionsberg vir die 144,000 losgekooptes (14:1-5)

 

14:1 Die simboliese berg Sion is die toevlugsoord, soos die woestyn (12:6,14) en die afgemete tempel (11:1), vir die 144,000 met die Naam van die Lam en van sy Vader op hulle voorkoppe.

Verskillende verklarings is al aangebied vir die 144,000 wat duidelik almal aandui wat aan die Lam en sy Vader behoort. Moontlik verwys dit na die gelowiges uit die Ou en Nuwe Verbond (12×12) soos verteenwoordig deur die twaalf stamme van Israel (21:12) en die twaalf apostels van die Lam (21:14) vermenigvuldig met 10x10x10=1,000, ‘n afgronde getal, soos die Nuwe Jerusalem se 12,000 stadioi (21:16).

In Ps 2:6-12 is Sion ‘n toevlugsoord waar God met sy Messias (Gesalfde) regeer. In Openbaring is Sion ‘n simbool vir God se teenwoordigheid. Teenoor Sion staan Babilon, die stad wat op sewe berge sit (17:9; soos Rome). Die twee stede verteenwoordig twee teenoorgestelde uitkyke op die lewe en op God, met die verskillende tekens op hulle volgelinge se voorkoppe (denke) en hande (optrede), twee verskillende uiteindes tussen die graanoes en die druiwe-oes, die toorn van God (hoofstukke 17-20) teenoor sy seën (hoofstukke 21-22; 14:10 teenoor 14:13), hulle kuisheid teenoor haar prostitusie (14:4,8 teenoor 17:1). Jy kan òf die Lam òf die dier volg. Openbaring is juis geskryf vir Christene wat probeer om in altwee stede te bly, aan te pas by die maatstawwe, waardes en gelowe van die heersende kultuur. Dit is reeds gekritiseer in die briewe aan die sewe gemeentes (2:14,20).

 

14:2 Soos die gedruis van ‘n groot watermassa, so klink die uitbundige en welluidende koorsang uit die hemel (19:6); ‘n gerammel van swaar donderweer, soos toe God se teenwoordigheid op Sinai opgeklink het (Eks 19:16-17); soos siterspel se soetklinkende melodieë op 10 snare by die tempeldienste (Ps 33:2; 57:9).

 

14:3 Die name op die gelowiges se voorkoppe definiëer hulle karakter: gekoop deur die Lam en behoort aan die Vader en die Lam. Vyf verdere van hulle kenmerke word genoem: (i) Hulle leer ‘n nuwe vreugdelied, om saam te sing met die koorsang uit die hemel, van hulle loskoping/bevryding uit sonde en uit die slawehuis van die Farao’s van hierdie wêreld, om nuut te lewe voor God, en Hom as hulle Vader in liefde te dien – hulle sing die lied voor die troon!.

 

14:4 (ii) Onthouding is ‘n simbool vir die geestelike getroues wat hulle nie vermeng met die heersende kultuur nie, wat op sy beurt gesimboliseer word deur prositusie, ‘n simbool vir afgodsdiens (17:1). Letterlik word die woord ‘maagde’ hier gebruik vir die gelowiges, maar dit moet nie letterlik opgeneem word nie, net soos die getal 144,000 nie letterlik opgeneem moet word nie, maar as simbole, ‘maagde’ vir die hele kerk se gelowiges, 144,000 uit die Ou Testament en Nuwe Testamentiese tye. ‘Onbesoedeld’ dui op gelowige volharding. Die beeld van maagdelikheid kom ooreen met die onbesoedelde klere van party lidmate in Sardis (3:4), soos die fyn linneklere van die bruid van die Lam as die gelowiges se regverdige dade (19:7-8). So lewe die sangers van die nuwe lied.

 

(iii) Die ‘sangers’ volg die Lam waar Hy ookal gaan, soos skape hulle herder volg, 7:17; Jn 10:11 wat sy lewe aflê vir die skape – dieselfde woord wat Jesus gebruik in Mk 8:34 as iemand agter My wil aankom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg. Om Jesus te volg is figuurlike taal wat verwys na ‘n lewe op die weg van Jesus se getuienis, van sy verwerping deur die volk, en van sy liefdesoffer vir ons, teenoor ‘n lewe in selfsug en die weelde van Babilon (18:3).

(iv) Christus het hulle uit die mense met sy bloed gekoop vir God en die Lam (die dier laat nie dié met sy merk toe om te koop en te verkoop nie (13:17), en verbied God se gekooptes om te koop of te verkoop. Die gelowiges is egter die ‘eerste vrugte,’ die keurvrugte, aan God en die Lam gewy (vgl. Jer.2:2-3; Jak 1:18).

(v) Oor hulle lippe kom geen leuen nie – in Openbaring staan die teenstelling leuen-waarheid voorop, dat jy sê dat jy die Lam volg, maar tog die wêreld se norme volg (2:2 van die Nikolaïete; 3:9 van die skyn-Jode). Volgens 21:8 word alle leuenaars uitgesluit uit die nuwe Jerusalem. In Jn 8:44 sê Jesus: die duiwel is die vader van die leuen. Openb. 19:11 noem Jesus getrou en waar. Sy volgelinge ken die waarheid, bly onberispelik by die waarheid wat hulle vrymaak (Jn 8:32) en word nie besoedel deur die verkeerde te behandel asof dit reg is, dwaling as waarheid, onreg as morele norm nie (vgl. Flp 2:13-16).

Skrywer:  Prof Francois Malan