Die Openbaring aan Johannes – Die dier uit die aarde (13:11-18) – Francois Malan

13:11 Die dier wat uit die land opkom met twee horings wat ‘n lam naboots, maak dit moeilik om goed en kwaad te kan onderskei. Maar sy draakagtige stem openbaar sy vernietigende aard. Dié dier is ook bekend as die valse profeet (16:13; 19:20; 20:10). Soos Christus die woorde van die Vader aan die mensdom meedeel (Jn 7:16-18), is die vals profeet die mondstuk van die Satan.

 

13:12-15 Met sy twee horings is hy die teenbeeld van die twee getuies van hoofstuk 11. Terwyl die dier uit die see die valse Christus is, is die dier uit die aarde die valse Elia. Soos die twee getuies die wonders gedoen het wat Elia gedoen het (11:5,6; vuur afbid, en die reën laat ophou 1 Kon 18:38; 2 Kon 1:9-10) en soos Moses water in bloed verander het (11:6), so sal hierdie dier vuur uit die hemel laat afkom (13:13).

Met sy valse propaganda verlei hy die mense van die aarde tot aanbidding van die dier uit die see, wat Christus na-aap met sy swaardwond wat genees het. Soos Christus sy gesag van die Vader ontvang het (Mt 11:27), ontvang die dier uit die see sy gesag van die draak (Op 13:4), en soos die Heilige Gees Christus verheerlik (Jn 16:14), verheerlik die vals profeet die dier uit die see, die valse christus (13:12). Waar die dier uit die see die politieke mag is wat oorlog maak en verdruk, kom die dier uit die aarde, as die ekonomiese mag wat handel toelaat aan die gemerktes, die mensdom verlei om die draak, die godsdienstige mag, te aanbid.

Die dier uit die aarde mislei die mense om sy valshede as die waarheid te aanvaar. Hy laat hulle ‘n beeld van die dier uit die see maak, in wie hy asem blaas (in nabootsing van God; vgl. 11:11) en wat hy laat praat sodat hulle glo dat die aanbidding van hulle eie handewerk die manier is om God te dien (vgl. Eks 34:4-5 waar die goue kalf ‘die Here’ genoem word). [die beeld in die rooibaksteentempel van die god Serapis in Pergamum was hol, met ‘n ondergrondse gangetjie waarlangs die priester opgeklim het om deur die mond van die beeld te praat]. Dié mense wat weier om die beeld te aanbid, word doodgemaak (soos Nebukadneser vir Sadrag, Mesag en Abednego; Dan 3:6,11,15) sodat mense begin glo dat dit die laaste oordeel is.

Terwyl dié dier die norme en waardes van die Romeinse samelewing, hulle verleidelike sosiale, godsdientige en ekonomiese strukture verteenwoordig, simboliseer hy alle menslike strukture wat onafhanklik van God opgerig word, en enige godsdienstige sisteem wat vyandig is teen die geloof in Jesus Christus.

 

13:16-17 Die dier verplig alle mense om gemerk te word op hulle voorkoppe, wat hulle innerlike toewyding en denke aandui, en op hulle regterhande wat die praktiese uitoefening van hulle toewyding aan die dier, aandui. Dit staan teenoor die seël op die gelowiges se voorkoppe (7:3-4; 9:4; Eseg 9:4). Soos die seël God se kinders identifiseer as syne en hulle beskerm teen die oordeel (9:4), beskerm die merk van die dier uit die see mense teen ekonomiese en sosiale uitsluiting. Dit is nie ‘n letterlike merk nie, maar verteenwoordig die mense se lojaliteite, besluite en toewydings.

 

13:18 Die merk op hulle voorkoppe en regterhande dra die naam van die dier, of die getal van sy naam wat identies is met sy naam. Dit is die getal van ‘n mens (of:’n menslike getal) nl. seshonderd-ses-en-sestig. (baie verklarings is al vir die 666 gegee). Dit is waarskynlik ‘n simboliese getal waar 6 net een tekortskiet op die volmaakte getal 7 van God omdat hulle self god wil wees. So slaag die draak, die dier uit die see, en die dier uit die aarde, met 666, nie om soos God volmaak te wees nie: 777 vir die Vader, Seun en Heilige Gees. Dit is vir die bose drie-eenheid onmoontlik om die Heilige Drie-eenheid te vervang – dít is die wysheid wat nodig is om die bedrieglike en dierlike aard van die 666, bose drie-eenheid, te verstaan, sowel as die selfverheerlikkende magte en strukture van die samelewing wat hulle perke oorskrei en die ware Godheid probeer vervang. As mense en menslike instansies probeer om soos God te wees en lojaliteit vereis wat aan God alleen toekom, word hulle dierlik in denke en optrede. Met die beeld van die dier uit die aarde waarsku Johannes teen kompromieë en vereenselwiging met die waardes, norme en gelowe van die sekulêre kultuur. Navolgers van Jesus lewe nie vir hulleself nie, maar om ander in liefde te dien.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Openbaring aan Johannes – Die draak roep sy trawante (12:18-13:18) – Francois Malan

12:18 Die draak gaan staan op die strand by die see en roep sy gevolmagtigdes uit die see en uit die aarde. In 11:7 is reeds verwys na die dier wat uit die bodemlose diepte verrys om teen die kerk te kom oorlog maak, die oorhand oor hulle te kry, en hulle dood te maak. Die draak en die twee diere rond die trio, wat teen God stelling inneem, af: teenoor God staan die draak, teenoor Jesus die monster uit die see (antichris), en teenoor die Heilige Gees die dier uit die aarde (die valse profeet).

 

Hoofstuk 12-14 is die hartklop van Openbaring:

Hfs 12:1-14 verwys na die verlede:die oorwinning oor die Satan en die geboorte van die Christuskind

Hfs 12:15-13:18 na die hede: die voortgaande oorlog van die draak en twee monsters teen die gelowiges op aarde

Hfs 14 na die toekoms: die Lam en 144,000 verseëldes op Sionsberg en die bekendmaking van die oordeel.

 

13:1 Die see verteenwoordig die chaos (na aanleiding van Gen 1:2), die ryk wat vyandig is teen God. Dit is dieselfde as 11:7 en 17:8 se bodemlose diepte, die woonplek van die bose geeste en demone (vgl. 9:1-2 se sataniese sprinkane uit die bodemlose diepte, onderdane van die verwoester Abaddon/Apollion, 9:11, wat die mense kom pynig). Die dier uit die see bring chaos en verwarring op die aarde – in die nuwe hemel en nuwe aarde bestaan die see egter nie meer nie en is die orde in die hele skepping herstel (21:1).

Die dier verskyn stukkie vir stukkie: eers die horings, dan die 7 koppe met 10 krone, en uiteindelik die hele dier. Hy lyk soos die draak (12:3). Die krone as teken van ‘n koning wat heers, word in Openbaring slegs deur drie persone gedra: Satan (12:3), die dier uit die see (13:1) en Christus (19:12). Op die eerste twee se krone is daar geskryf, nie op Christus s’n nie. Satan dra sy krone op sy koppe as tekens van sy heersersgesag, sy agterryer die dier se krone sit op sy horings as tasbare simbole dat sy koningsheerskappy op geweldige mag berus, naamlik op Satan se krag. Die dier se magsbeheptheid het hy van die draak ontvang. Die getal 7 van volheid, en die getal 10 van volledigheid beklemtoon die dier se aanspraak op volle gesag en totale mag (soos bv. van die keisers). Die godslasterlike naam beskryf die karakter en wese van die dier wat God wil vervang as die heerser van die wêreld, soos die titels wat die keisers vir hulleself toegeëien het: heer, redder, seun van god, ons heer en god – die titel ‘god’ is gewoonlik na sy dood aan ‘n keiser toegeken deur die Romeinse senaat, maar Domitianus (81-96 n.C., in Openb se tyd) het tydens sy bewind die titel ‘ons heer en god’ vir hom toegeëien. Die dier uit die see is geassosieer met die Romeinse ryk, wat beskou is as ‘n werktuig van die Satan. In die 300 jaar tussen Augustus en Konstantyn is die titel divus ‘goddelik’ aan 36 Romeinse keisers en 27 familielede toegeken, en keiseraanbidding is wyd beoefen in tempels met hulle beelde.

 

13:2 Die dier is ook ‘n kruising wat lyk soos ‘n luiperd met beerpote en ‘n leeubek – ‘n samestelling van Daniël 7:1-7 se vier diere om al die vorige bose ryke te verteenwoordig, maar wys daarmee wat met die mensdom gebeur as hulle die lojaliteit en gehoorsaamheid wat God toekom vir hulleself opeis – hulle verloor hulle menslikheid en word dierlik deur die waarheid te verruil vir die leuen, en die regverdigheid en genade van God verruil vir onreg en harteloosheid.

 

13:3 Die dier is ‘n parodie (spottende nabootsing) op Christus, die Lam wat geslag is en in die hemel opgeneem is na sy opstanding en die boekrol in sy hand hou en die seëls oopbreek (5:5-6) – een van die dier se koppe lyk of dit dodelik verwond was (letterlik ‘geslag was tot die dood’, soos die Lam in 5:6 ) maar genees het (13:14: weer lewend geword het, soos 2:8 van Jesus sê), en dit laat die mense in verwondering agter hom aanloop. Die dier se na-apery van wat God deur Christus gedoen het, is so goed dat dit moeilik word om die egte van die valse te onderskei. Vandaar die bose se buitengewone aantrekkingskrag (daar was ‘n legende in die Joodse apokaliptiek, Nero redivivus, dat Nero,wat in 68 n.C. selfmoord gepleeg het, weer lewend geword het).

 

13:4 Die hele wêreld se verwondering, wat enigiets teen Christus glo, laat hulle in aanbidding voor die draak en die dier neerval. Verwondering het gelei tot lojaliteit en dit mond uit in aanbidding van die bose wat in die volgende hoofstukke telkens teenoor die aanbidding van God gestel word. Die mense se hoogmoedige vrae: ‘wie is net soos die dier en wie kan teen hom oorlog voer? impliseer die antwoord: niemand nie! soos in Moses se lofsang op God na hulle deurtog deur die Rietsee (Eks 15:11; vgl. Ps 71:19; 89:9; Miga 7:18). Die bose se aanspraak op goddelikheid is oortuigend, en lyk vir baie mense onoorwinlik.

 

13:5-8 Maar Johannes se ironie is bytend. Hy kom met ‘n reeks werkwoorde in die passief wat God aanwys as die eintlike mag agter die gebeure: ‘aan hom (die dier) is gegee (deur God)’ in v5 tweemaal, v7 twee maal. Die mense val vir die gedierte wat vir hulle lyk of hy God is, wat onbeperkte mag uitoefen op aarde. Maar vir Johannes en sy lesers is die dier ‘n nagemaakte god wat onderwerp is aan God se ondeurgrondelike plan in die boekrol en God se toelating. Vir ‘n beperkte tyd (42 maande = 3½ jaar):

(i) vir 24 maande kan die dier teen God en sy mense grootpraat en laster (Dan 7:11,20,25). God se Naam, sy persoon, sy heiligheid word belaster, i.p.v. geheilig (Mt 6:9). God se woonplek (die hemel) en dié wat saam met Hom woon (wie se burgerskap in die hemel is), alle gelowiges wat sy Naam dra, word grootpraterig belaster.

(ii) vir 24 maande word die dier toegelaat om die gelowiges te oorwin (soos in 11:7)., maar word self deur die Lam en sy gelowiges oorwin (17:14). Satan het Christus ‘oorwin’ deur Judas te verlei, wat tot Christus se dood aan die kruis en die leë graf gelei het, waardeur Hy juis die Satan oorwin het met sy liefdesoffer van Homself vir die mensdom.

(iii) vir 24 maande kan die dier die bewoners van die aarde oorreed om hom te aanbid (‘n parodie op Daniël 7:14), wat slegs aan God en die Lam toekom. Dit geld al die bewoners van die aarde van die skepping af, wie se name nie opgeteken is in die boekrol van die lewe van die Lam wat geslag is nie (Jes 53:7; Jn 1:29,36; Op 5:6,12).

In Romeine 1:18-32 beskryf Paulus die toorn van God oor die mensdom wat die heerlikheid van die onsterflike God verruil het vir ‘n afbeelding soos dié van ‘n sterflike mens en van voëls en diere en kruipende diere. Daarom het God hulle oorgegee aan hulle eie skandelike drange en verwerplike denkwyse sodat hulle skandelik optree (Rom 12:24,28).

 

13:9-10 Om goed te luister is om te volhard in die geloof deur aktief die maastawwe, waardes en gelowe van die dier en Babilon te weerstaan, en die pad van die Lam te volg, wat Homself in liefde vir ander gegee het. Die manier waarop God besluit het om boosheid te oorwin is (i) deur die offer van die Lam (ii) die volharding en geloof van God se mense. Die swaarkry van Christus se volgelinge weens hulle getuienis kan verskillende vorms aanneem, bv. gevangenisskap en dood (vgl. Openb 2:10; Flp 3:10). In sulke omstandighede moet gelowiges nie hulle vertroue in Christus laat verflou of verloor nie.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Openbaring aan Johannes – Die vrou en die draak (2) (12:13-17) – Francois Malan

12:13-14 Die konflik tussen goed en kwaad op aarde word al hewiger. Die vrou as simbool van die kerk gaan egter op ‘n woestyntog, soos Israel se eksodus. Soos die Israeliete die Egiptenaars ontsnap het op die Here se ‘arendsvlerke’ (Eks 19:4; Deutr 32:11-12; Jes 40:31), so word aan die vrou twee arendsvlerke gegee om die agtervolgende Farao van hierdie verhaal te ontvlug. Soos die Israeliete gevoed is met manna, kwartels en water in hulle woestyn-toevlugsoord, word die vrou versorg vir ‘n tyd, tye en ‘n halwe tyd (die aanduiding in Openbaring van die tyd van vervolging van die gelowiges; in 11:2 word hulle vir 42 maande vertrap; in 13:5 tree die dier uit die see vir 42 maande met volmag op; in 11:3 getuig die twee getuies, wat die hele kerk verteenwoordig, in sak geklee, vir 1,260 dae lank; so ook die 1260 dae vir die vrou in die woestyn, 12:6). Die tyd van getuienis en verdrukking word skielik afgebreek. In die ry van: ‘n dag, twee dae, drie dae…verwag ‘n mens vier dae. Maar onverwags breek die eindtyd aan, na ‘n halfvoltooide tyd. Dit lyk of boosheid ongehinderd voortgaan, maar word dan onverwags deur God gestop metdie koms van Christus as die Regter (vgl. Openb 3:3; 16:15; Mat 24:44; Luk 12:40; 1 Kor 15:52; 1Tes 5:2-3).

 

12:15-16 Die slang (na aanleiding van die verleier in die tuin van Eden) spoeg ‘n stroom lewe-vernietigende water (‘n vloedgolf van vervolging en slinksheid) om die vrou mee te sleur na haar dood. Dit staan teenoor die water van die lewe wat uit die troon van God en van die Lam stroom (22:1). Dood en vernietiging kenmerk die slang se rivier. God se rivier voed lewe, met vrugte en genesing (22:2).

Die aarde (Grieks: ge, ‘n vroulike woord) kom die vrou te hulp en sluk die draak se rivier van versoekings en vervolgings in, soos Israel droogvoets deur die Rietsee getrek het, en die aarde die agtervolgende Egiptenaars ingesluk het (Eks 15:12); soos die aarde die rebelse groep onder Korag tydens die woestyntog ingesluk het (Num 16:32). God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle vermoë versoek word nie, maar sal saam met die versoeking ook uitkoms gee, sodat julle dit kan verduur (1 Kor 10:13).

 

12:17 Die gesig van Bo af sien God se beskerming van die kerk, wat ontasbaar in die hemel veranker is (1 Petrus 1:3-5; 2 Petrus 1:4). Die prentjie van onder gesien lyk egter anders. Die kerk word vervolg, onderwerp aan die toorn van die draak en sy trawante. Die gelowige is blootgestel aan fisiese leed deur die draak, die twee diere en die sedelose groot stad Babilon met sy goddelose en afgodiese kultuur. Geestelik word die gelowiges beskerm as burgers van die hemel, maar fisies ly hulle verdrukking in die aardse Babilon, waar mag en geweld en selfsug regeer. Maar al lewe die kerk in Babilon is hulle nie deel van Babilon nie; afhanklik van God moet hulle daarteen stry om nie by Babilon aan te pas of verswelg te word nie. Dit is hulle wat die gebooie van God nakom en vashou aan die getuienis wat Jesus gelewer het. Kerkwees beteken om God se gebooie te gehoorsaam, saamgevat in Jesus se nuwe gebod vir sy volgelinge, om mekaar lief te hê soos Jesus ons liefgehad het, en te getuig oor wat Jesus gesê het; almal sal weet dat ons sy dissipels is as ons liefde teenoor mekaar het (Joh 12:34-35); en selfs ons vyande liefhê, soos ons Vader in die hemel se liefde vir die wêreld (Mat 5:43-48; Joh 3:16).

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die Openbaring aan Johannes – Migael en die draak (12:7-12) – Francois Malan

Die gedeelte oor die oorlog in die hemelruim word hier ingevoeg tussen die twee gedeeltes oor die vrou en die draak se stryd (12:1-6 en 12:13-18). Dit verskaf die perspektief op die kerk se stryd op aarde van Bo af gesien. Geweldstaal beklemtoon die konflik tussen goeie en slegte karakters. Die woord ‘oorlog’ kom hier 4x voor: 3x in 12:7; 1x in 12:17. Vier maal word gesê ‘hy is neergegooi,’ (12:9 2x, 10,13) ‘n passiewe werkwoord wat aandui dat dit God is wat die Satan verslaan het. Die draak en sy engele het nie meer ‘plek’ in die hemel nie (12:8), en sonder sy plek verloor die Satan (teenstander/aanklaer) sy reg om ‘n ‘aanklaer’ te wees (12:10). Die woord ‘aanklaer,’ soos in ‘n hof, kom net hier in die Nuwe Testament voor.

 

12:7-9 Die draak en sy engele is oorwin en uit die hemel gegooi – soos sy stert ‘n derde van die engele op die aarde neergegooi het. Jesus sê aan sy dissipels, wat bly is dat die demone hulle aan hulle onderwerp het op grond van sy Naam: Ek het Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel sien val…maar wees liewer bly dat julle name reeds in die hemel opgeskryf is (Lk 10:17-20). Satan het nou slegs beperkte mag op die aarde.

(Volgens die Joodse oorlewering is die Satan in die oertyd uit die hemel uitgegooi en het God se magte hom oorwin). Al is die Satan die ‘god van hierdie wêreld’ (2 Kor 4:4), is hy ‘n verslane god. Volgens Openbaring is Satan by drie geleenthede verslaan: (i) in die oertyd is hy uit die hemel uitgeskop, (ii) met Jesus se kruisiging en opstanding is sy geleentheid om die gelowiges aan te kla afgesny want Jeus het reeds hulle straf gedra; (iii) met sy finale vernietiging wanneer hy en sy volgelinge in die ewige vuurpoel gegooi word (Openb 20:10).

In Daniël 10:13,21; 12:1 is Migael (‘wie is soos God’) die hoofprins van die hemelse leër, wat Israel altyd teen sy vyande beskerm. In Judas vers 9 veg hy teen die Satan oor die liggaam van Moses. Judas 9 stel die nederigheid van die hoof-engel Migael teenoor die selfverheffing van die dwaalleraars wat die heerskappy van die Here Jesus Christus verwerp (v4), en alles wat hulle nie ken nie, belaster (v10). Die insident waarna v9 verwys kom uit die Joodse oorlewering wat in die apokriewe boek die Hemelvaart van Moses beskryf word. Daarvolgens moes Migael ‘n stryd gevoer het met Satan oor die liggaam van Moses (volgens Deutr. 34:5 het die Here egter vir Moses begrawe en niemand het die graf gevind nie). Die Joodse oorlewering het geglo dat as ‘n vrome sterf kom die engele hom/haar haal, en as ‘n sondaar sterf kom die duiwel se handlangers hom/haar haal. Satan sou gesê het Moses behoort aan hulle omdat hy die Egiptenaar doodgeslaan het en dus ‘n moordenaar is (Eks 2:12). Migael het egter die Satan weerstaan en nie die oordeel van God vooruitgeloop nie, maar dieselfde woorde gebruik waarmee die Here die Satan bestraf het in Sagaria 3:2. Daarmee het Migael die eer aan God gegee.

 

Satan se name beskryf sy aard: die groot draak (wat Johanes in die lugruim gesien het, 12:3), die slang van weleer (wat vir Eva en Adam verlei het, Gen 3), duiwel (lasteraar), satan (teenstander/aanklaer), die verleier van die hele wêreld – ‘verleier’ beskryf die duiwel (20:3,8,10) en ander bose karakters: Isebel wat die Here se diensknegte in Tiatira verlei (2:20), die dier wat die bewoners van die aarde verlei (13:14; 19:20), die onsedelike stad Babel se afgodediens wat deur haar betowering die nasies mislei (18:23).

 

12:10-12 die loflied van ‘n harde stem in die hemel interpreteer die betekenis van die oorlog in die hemel. Die oorwinning van die oorlog tussen Migael en die Satan word behaal aan die kruis en deur almal wat deur geloof aan die dood en opstanding van Jesus Christus deel het en van sy oorwinning getuig deur hulle lewe en woorde en selfs hulle dood. Die loflied word in drie dele aangebied: v10 verkondig God en sy Christus se oorwinning en die aanbreek (‘nou’) van die nuwe tyd van verlossing. Die aanklaer van die gelowiges kan hulle nie langer voor God aankla nie, hulle lewe nou onder God se heerskappy, oorgegee aan Christus se volmag oor hulle lewe; v11 verduidelik hoe die oorlog gewen is – deur Christus se offer van sy lewe aan die kruis, waarvan die gelowiges getuig deur hulle lewens, selfs tot die dood toe; v12 die reaksie op Christus se oorwinning en die val van die duiwel.

 

Die hemel juig dat die aanklaer die gelowiges nie meer by God kan aankla nie (soos in 1 Kon 22:19-23; 1 Kron 21:1; Job 1:6-12; 2:1-6; Sag 3:1), maar, omdat die duiwel en sy trawante nou die stryd in die hemel verloor het, is die duiwel woedend en sit sy stryd voort op die aarde en op die see (waar die twee diere van Hfs 13 vandaan kom) , en is daar ellende (die derde ‘o,wee!’). Die eerste twee ‘o,wee!’s was teen dié mense wat teen God gerebelleer het. Die derde ‘o,wee!’ raak die hele aarde, ongelowiges en gelowiges. Teenoor die ewigheid van die koninkryk van God is die duiwel se tyd van versoeking en misleiding egter kort. Dit strek slegs van Chistus se kruisdood tot die einde van die tyd van Satan se verleiding, wanneer hy en almal wat aan hom verbind is in die ewige straf beland (20:10,15).

Skrywer: Prof Francois Malan