Die Openbaring aan Johannes – Francois Malan

1:1-8 Die voorwoord antisipeer die naskrif (22:6-21) om die hele boek te omsluit. Tussenin is dit deurmekaar; die chaos deur die vervolging van die kerk in die wêreld. Maar die boek vertel eintlik hoe God alles en elkeen aan die einde in sy regte plek plaas. Die balans en simboliese parallelle van die begin en einde van die boek wek by lesers en hoorders die verwagting en uitsien na die orde en harmonie wat God uit die chaos skep. Dit bied ‘n gesig op dit wat in die wêreld agter die skerms gebeur, van Bo af gesien.

‘Ek is die Alfa en die Omega’ is die anker van die inleiding (1:8) en die slot (22:13). ‘Die bestemde tyd is naby’ in 1:3 en 22:10, kondig aan dat alles op die regte tyd in die regte orde geplaas sal wees. Die klimaks van die proloog en van die epiloog is die welkome nuus van Jesus se koms om die gebroke skepping te herstel (1:7; 22:20). Die antwoord van die gemeente op die nuus is die dubbele bevestiging: (i) in Grieks ‘nai’ – ja,/vir seker; en (ii) in Hebreeus: ‘amen’ – in der daad/waarlik (1:7; 22:20).

Die getalle en beelde is simbole uit die Ou Testament wat deur die eeue gebruik word om gebeure met gelowiges in ‘n ongelowige wêreld te tipeer, en is vir elke geslag van toepasssing.

Johannes se woordkuns blyk uit die inleiding se patroon van telkens ‘drie’ woorde en frases, met ‘n begin en einde wat die inhoud omsluit. Die woord vooraf het twee dele:

1:1-3 (i) titel, (ii) hoofkarakters in die verhaal, (iii) eerste van sewe saligsprekings in die boek.

1:4-8 (i) brief-opskrif, (ii) seën (iii) twee profetiese woorde.

 

Voorwoord (1:1-3)

Die voorwoord suggereer wat die leser in die werk gaan ontmoet – die woord ‘openbaring’ wys na ‘n nuwe gesigspunt om dinge van Bo af te sien. Die Griekse woord apokalupsis praat van iets wat bedek was en oopgemaak word, ‘n onthulling. Die leser kan dinge verwag wat slegs verstaan kan word as dit van Bo af oopgemaak word – anders as die gewone beperkte aardse gesigpunt van mense, is dit die gesigspunt van Bo af wat sin maak van die dinge en gebeure op aarde.

‘deur/van Jesus Christus’ wys na Hom as die bron van die openbaring van God, maar dit is ook die openbaring oor Jesus, wat vir ons Jesus Christus se verhaal en boodskap met lewendige prente skets, goeie hoopvolle nuus, in ‘n wêreld vol slegte nuus en nood. Dit openbaar die betekenis en belangrikheid van Jesus se lewe, dood, opstanding en finale verskyning vir die geskiedenis van die wêreld. Sy volle titel, Jesus Christus, word slegs driemaal in Openbaring gebruik (1:1,2,5): ‘Jesus’ beteken ‘Jahweh/die Here, is Verlosser’ (Mat 1:21); ‘Christus’ is die Grieks vir die Hebreeuse titel ‘Messias,’ ‘Gesalfde,’ gesalf/aangestel en toegerus as koning, priester, profeet. Dit is Hy wat God aan ons kom bekendmaak. Die ketting van openbaring is: God-Christus-engel-Johannes-slawe/diensknegte van Jesus.

Die inhoud van die openbaring is ‘wat gou/binnekort moet gebeur’ – dit word herhaal in 1:3 met ‘want die bestemde tyd is naby’ wat alles tussenin omsluit. Soos wat daar ‘n ruimtelike gesigspunt is (‘van Bo’ teenoor ‘van onder’) is daar ook in Openbaring ‘n tyd-gesigspunt: ‘gou,’ om die dringendheid van die boodskap te beklemtoon, teenoor ‘nog nie,’ om die noodsaaklikheid van volharding te ondertsreep. Jesus kom ‘gou’ weer, die bose word vernietig, en die nuwe hemel en die nuwe aarde word geskep. Die ‘nog-nie’ loop deur die hele boek. Die einde word vertraag. Die martelaars se vraag ‘hoe lank nog’ word beantwoord met ‘rus nog ‘n bietjie langer (6:10-11). Met die oopmaak van die sewende seël lyk dit of die einde om die draai is (8:1-5), maar dan ontvou die verhaal nog oor die volgende 18 hoofstukke. Met die sewende trompet lyk dit of die einde daar is (11:15), en dan gaan die tyd nog voort. Dié spanning is deel van God se naam (1:4) ‘die Een wat is, en wat was, en wat besig is om te kom’ – Hy is nou besig om in te breek in die lewe van sy hoorders om hulle wakker te skud vir nuwe en vars maniere van lewe. Die eindgebeure het alreeds begin met die oorwinning van die Lam, en sy wederkoms sal dit afsluit. Dit kom vir seker en die gelowiges moet elke dag gereed wees, deur nou al nuut te lewe in die verwarde wêreld. Die Satan weet hy het min tyd oor (12:12) en kom dus met ‘n felle aanslag. God is egter verhewe bo menslike en aardse tyd , en bly in beheer van die tyd. Hy wag tot die gelowiges voltallig is (Op 6:11; 2 Petr.3:8).

Die woord marturia ‘getuienis’ en marturein ‘getuig,’ wat drie maal in die opening voorkom, is ‘n belangrike tema van die boek. In 1:2 kom dit tweemaal voor: Johannes het vir die woord van God getuig; tot getuienis deur/van Jesus Christus. In 1:5 word Jesus Christus ‘die getroue getuie’ genoem. Dit word gebruik soos in die hof, waar getuies geroep word om oor die waarheid te getuig, soms selfs met hulle lewens. In hierdie boek getuig Jesus eerste en Johannes getuig verder oor die woord van God. Ander sal geroep word om te getuig, selfs met hulle lewe, soos Jesus, bv. Antipas 2:13 (vgl. 6:9; 12:11; 17:6; 19:10). Die twee getuies van Openb. 11, wat kwaai teenstand kry van die dier en die bewoners van die aarde, verteenwoordig die getroue getuienis van die kerk in die wêreld.

Die twee-stap stelling ‘die woord van God’ en ‘die getuienis van Jesus’ ontwikkel die inhoud van Johannes se getuienis. Die tweede deel verduidelik die eerste: die woord van God is die getuienis oor Jesus se woorde en dade, sy sterwe en opstanding. As ‘die getroue getuie’ is Jesus die voorbeeld vir die gelowiges (14:5) – die verdraaiing van die waarheid is die kenmerk van die dier wat vir Jesus na-aap (13:14).

Die voorwoord sluit met die eerste van die sewe saligsprekings (makarios – geseënd of gelukkig: 1:3; 14:13; 16:15; 19:9; 20:6; 22:7,14). Sewe is die volle verbondsgetal van God met sy skepsels – drie vir die goddelike, plus vier vir die skepping. Dit bevestig die volheid van die seën vir dié wat die woord hoor en daarby bly. Die dubbele seën, aan leser en hoorders, veronderstel dat iemand die woorde van die profesie hardop voorlees. Openbarings kom ook telkens met harde geluide om seker te maak dat almal hoor en dat die gemeentes dit onderhou. Dit veronderstel aandagtig luister, die woorde ter harte neem en daarvolgens lewe. Die tema van ‘ore wat luister’ word by elkeen van die sewe briewe herhaal (2:7,11,17,29; 3:6,13,22; vgl. 13:9; 14:12; 22:7). Die klem val op gehoorsaamheid aan God se opdragte as die vervulling van die gelowiges se volharding. ‘n Hele lewe volgens God se opdragte is wesenlik deel van hulle oorwinning..

SkrywerProf Francois Malan




Jesus en Psalm 22 – Hermie van Zyl

Pine vra:

Psalm 22 – is dit van toepassing op Jesus se lewe? En waar in die Nuwe Testament is kruisverwysings?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

In die Nuwe Testament is die bekendste verwysing na Ps 22 die aanhaling van Ps 22:1 deur Jesus as Hy aan die kruis uitroep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matt 27:46; Mark 15:34). Ps 22:1 word dus een van die sewe kruiswoorde van Jesus. Maar daar is ook ander, meer subtiele, toespelings op Ps 22 in die Nuwe Testament. Dit is partykeer net ‘n woord of ‘n frase wat terugverwys na Ps 22. Maar ons moet onthou dat die Nuwe Testament-gelowiges gedrenk was in wat ons vandag ken as die Ou Testament (hulle het daarna verwys as die “Skrif[te]”). Dit was hulle enigste Bybel. Daarom sou slegs ‘n frase genoeg gewees het om die leser te herinner aan die gedeelte in die Ou Testament waaraan dit ontleen is. Die verwysings en toespelings in die Nuwe Testament na Ps 22 is soos volg (in tabelvorm):

 

Nuwe Testament Ps 22 se verse
Rom 5:5 6
Matt 27:39 en Mark 15:29 8
Matt 27:43 9
Joh 19:28 16
Matt 27:35; Mark 15:24; Luk 23:34; Joh 19:24 19
Fil 3:2 17,21
2 Tim 4:17 22
Heb 2:12 23
Op 11:15; 19:6 29

 

Uit bogenoemde is dit duidelik dat Ps 22 ‘n gewilde Psalm was om deur die Nuwe Testament-skrywers op Jesus en die gelowiges van toepassing te maak. Veral die lydensaspekte word beklemtoon, van Jesus en van die gelowiges.

Vervolgens sluit ek ‘n oordenking oor die vierde kruiswoord in waarin Jesus se gevoel van Godverlatenheid breedvoeriger aan die hand van Ps 22 verduidelik word:

Met die vierde kruiswoord kom ons by die dieptepunt en misterie van Jesus se lyding aan die kruis. Soos Martin Luther dit gestel het (in Duits): Gott von Gott verlassen, wer kann das fassen? (“God van God verlaat, wie kan dit verstaan?”)

Jesus neem hierdie kruiswoord uit die ervaring van die digter van Ps 22. Die psalmis stort die pyn uit van iemand wat sy hele lewe lank op God vertrou het, maar nou voel asof God hom verlaat het. Hy is uitgelewer aan goddelose mense wat hom lewendig wil verslind soos honger leeus met ‘n weerlose prooi maak. Hulle dryf die spot met hom: “ja, jy wat op die Here vertrou; laat Hý jou red; laat Hý jou bevry as Hy dan so baie van jou hou.”

Waar ís U, God? Sien U dan nie my lyding raak nie? Hoekom laat U my in die steek?

Opmerklik is egter dat in hierdie uitroep van verlatenheid die psalmis – en Jesus – steeds hulle vertroue in God stel, want hulle sê: “my God”. In die diepte van hulle verlatenheid klou hulle soos drenkelinge aan die Een vas van wie hulle verlate voel, omdat hulle weet dat God hulle enigste hoop op redding is. Ten spyte daarvan dat Jesus Hom van God verlate voel, weet en glo Hy dat Hy veilig by God is.

Ons moet verder onthou dat daar vir Jesus nog ‘n dieper dimensie is wanneer Hy Hom van God verlate voel. En dit is dat Hy dit plaasvervangend doen, in ons plek. Daarom is dit nie maar net ‘n gevoel van Godverlatenheid nie; dit is werklik. In daardie donker ure tussen twaalf en drie in die middag – toe alles ook letterlik in duisternis gehul was – het Jesus werklike verlatenheid ondergaan. Hy het die hel ervaar, wat dit beteken om vir ewig sonder God se teenwoordigheid, barmhartigheid, liefde en versorging te wees, sodat ons nooit weer sonder God sou wees nie.

Maar nog meer: nie net het Jesus in ons plek die hel van Godverlatenheid ervaar nie, maar Hy het ook aan God vasgehou namens ons. Hy het oor die hel getriomfeer. Die mag van die hel – om sonder God te wees, om slegs sy oordeel te ervaar – het Hy gebreek. Nooit hoef ons weer deur God verlate te voel nie, nie eens in ons diepste nood en pyn nie. Omdat Jesus vir ons die hel van Godverlatenheid gely het, mag ons altyd verseker wees van God se teenwoordigheid en nabyheid.

 Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Finansiers en Handelaars (9) – Hennie Stander

Interessante Skrifgedeeltes

Koop

1 Korintiers 6:20; 7:23; vgl ook Galasiers 3:13. “Julle is gekoop”. Paulus wend die woord “koop” hier figuurlik aan. Natuurlik is hier geensins sprake van enige geldtransaksie nie. In die Middeleeue is hierdie teks heeltemal verkeerd geïnterpreteer op grond van die gebruik van die term “koop” en is daar geglo dat God inderdaad ‘n prys aan die Satan moes betaal vir die vrykoping van die mens. Die betekenis van die term “koop” in die teksvers beteken bloot om die vryheid of loskoping van iemand te bewerkstellig en dat hierdie daad baie kos vir die een wat dit doen.

Gesondheidswette

God het aan die Jode verskeie gesondheidswette gegee en die mediese waarde van hierdie wette word eers in ons moderne tyd werklik besef. Volgens Deuteronomium 23:13 moes ‘n soldaat ‘n grafie by horn hê sodat alle menslike ontlasting begraaf kon word. Levitikus 13 het bepaal dat mense wat melaats was in isolasie moes verkeer. Dit het die verspreiding van die siekte voorkom. Dit is al gesuggereer dat die gewoonte om mans te besny daartoe gelei het dat baie min Joodse vrouens kanker in die baarmoeder opgedoen het. Die verbod op huwelike met sekere familielede is weer gegee om die oorerwing van ‘n hele aantal oorerflike siektes te voorkom.

Die maak van juweliersware Eksodus 28:9-14. Die Jode het die kuns van ingravering en die maak van juweliersware ontwikkel. Ivoor is ingegraveer en vir inlegsels gebruik (1 Konings 10:22; 22:39; Amos 3:15). Klein silinders is ingegraveer en is as persoonlike seëls gebruik. Hierdie kundigheid het natuurlikerwys ontwikkel veral omrede die Jode vanweë hut nomadiese bestaan nie materiale kon saamneem wat baie plek in beslag geneem het nie.

jeweliersware

Ongeglasuurde potte

Matteus 10:42. Ongeglasuurde potte was baie belangrik. Omdat die water deur die klei kon verdamp, het dit die water in die binnekant lekker koud gehou. Moontlik het ons hier ‘n verwysing na koue water uit so ‘n kruik. Koue water in die warm Palestina het nie baie gekos nie, maar was kosbaar.

Aanduidings van geldwaardes Bybelvertalers het altyd maar ‘n probleem met die terme in die Bybel wat vir die verskillende geldeenhede gebruik word. Indien hulle die oorspronklike naam net so gebruik, sal dit betekenisloos wees vir die moderne leser. Indien hulle die naam van die oorspronklike muntstuk vervang met die naam van ‘n moderne muntstuk, kan so ‘n verstelling binne ‘n kort tydjie heeltemal uit pas wees vanweë die hoe inflasiesyfers wat so kenmerkend is van ons moderne wêreld.

Skrywer:  Prof Hennie Stander

Hierdie bring ons aan die einde van Prof. Stander se gedeelte. Volgende keer begin ons met Prof. J. P. Louw se gedeelte oor nasionale instellings en gewoontes.




Profetiese aksies – Hermie van Zyl

‘n Leser vra:

Wat is profetiese aksies?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord.

Profetiese aksies of handelinge hang in die algemeen saam met die optrede en uitsprake van profete. Dit kan dus help om eers ‘n paar algemene opmerkings te maak oor profesie as sodanig.

Ons dink dikwels aan profesie as uitsprake of voorspellings oor die toekoms. Profete se hooftaak was egter nie om die toekoms te voorspel nie, maar om die wil van God vir hulle eie tyd bekend te maak. Hier kan ons dink aan die optrede van die profeet Amos in die Ou Testament. Hy het opgetree teen die Noordelike Ryk in die agste eeu vC. Sy hele bediening het daarin bestaan om die sosiale wanpraktyke van die Israelitiese samelewing aan die kaak te stel, waar rykes al ryker geword het en armes al armer. Hy noem hierdie wantoestande by die naam (Am 5) en roep die volk op om geregtigheid soos watergolwe te laat aanrol (Am 5:24). Eers wanneer geregtigheid gedy, begin leef die volk in ooreenstemming met God se wil.

Verder moet ons ook onderskei tussen ware en vals profesie. Jeremia praat byvoorbeeld van profete wat in die Naam van God optree sonder dat hulle enige boodskap of opdrag van God ontvang het (kyk Jer 23:9-40). Hulle boodskap is dus nie te vertrou nie. Sommige geleerdes bring hierdie “profete” in verband met die kultiese profete wat in die tempel diens gedoen het, in wie se belang dit vanselfsprekend was om uitsprake te maak wat die koning en die volk graag wou hoor. ‘n Goeie voorbeeld is wat ons in die tyd voor die Suidryk se Babiloniese ballingskap kry. Die vals profete het graag aan die koning en die volk gesê dat hulle nie bekommerd hoef te wees oor die Babiloniese gevaar nie, want God woon in die tempel in Jerusalem en sal nooit toelaat dat die tempel en Jerusalem vernietig word nie. Hierdie vals profete het daarom uitgeroep: “Dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel” (Jer 7:4), bedoelende: ons is veilig, want God woon onder ons. Dit was egter Jeremia, die ware profeet, se taak om hierdie blinde geloof in die tempel en God se beskermende teenwoordigheid as vals vertroue uit te wys, om aan die volk te sê dat hulle nie hulle vertroue in leuens moet stel nie, en om die volk op te roep tot bekering en om te doen wat reg is (Jer 7:3-11).

Uit die aard van profete se roeping as boodskappers van God het hulle ook uitsprake oor die toekoms gemaak. Hulle het veral die oordele van God oor die nasies en oor Israel aangekondig, veral as dié hulle nie tot God bekeer nie, maar hulle het ook God se toekomstige dade van redding, heil en herstel bekend gemaak. Dit is veral in verband met onheilsaankondigings dat die profete dikwels met handelinge vorendag gekom het wat op simboliese manier uitdrukking gee aan wat in die toekoms sal gebeur. Voorbeelde hiervan is die volgende: Jeremia moes deur middel van ‘n kleipot wat in die vervaardigingsproses misluk het en toe oorgemaak moes word, aan die volk voorhou dat God soewerein is en dat hy met sy volk kan maak wat Hy dink in hulle beste belang is (Jer 18:1-10); hy moes by geleentheid ‘n juk op sy nek dra om te illustreer dat die volk onderwerp sal word aan die juk van koning Nebukadnesar van Babel (Jer 27:1-11); hy moes ‘n linnegordel gaan wegsteek by die Eufraatrivier en toe weer na ‘n ruk gaan haal. So moes hy en die volk leer dat net soos ‘n linnegordel kan vergaan, nadat dit mooi heel en skoon was, net so sal die prag van God se volk ook vergaan (Jer 13:1-11); Esegiël moes weer ‘n baksteen neem, Jerusalem daarop teken en toe allerlei beleëringsimbole daarteen bou om die beleëring van Jerusalem aan die volk voor te stel (Eseg 4:1-3); hy moes verder vir 390 dae op sy linkersy en 40 dae op sy regtersy lê, as simbool van die sondes van respektiewelik Israel en Juda wat hy so moes dra (Eseg 4:4-6); hy moes ook sy hare en baard afskeer, in drie verdeel en bepaalde handelinge daarmee uitvoer om te wys wat God alles met Jerusalem gaan doen (Eseg 5:1-17). Ook in die Nuwe Testament lees ons van profetiese handelinge. Agabus het sy hande met Paulus se gordel vasgebind om daarmee Paulus se lot in Jerusalem uit te beeld – dat hy deur die Jode gevange geneem sou word (Hand 21:1-11); Jesus het na sy intog in Jerusalem die geldwisselaars en duiweverkopers van die tempelterrein verjaag om te wys dat die tempel ‘n huis van gebed is en nie ‘n markplein nie (Matt 21:12-13); Jesus beveel ook die dissipels om die stof van hulle voete af te skud by ‘n dorp wat hulle nie wil ontvang nie, om daarmee God se oordeel oor die dorp uit te beeld (Matt 10:14-15).

Profetiese handelinge het dus ten doel om op ‘n aanskoulike en treffende manier te illustreer wat God in die toekoms beplan. Dit is egter nie magiese dade wat in sigself gebeure in werking stel nie, maar moet steeds verstaan word as illustrasies binne die algemene boodskap en optrede van die profete

Skrywer:   Prof Hermie van Zyl