Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Finansiers en Handelaars (8) – Hennie Stander

Die markplek

Ons weet baie min van hoe daar op plaaslike vlak handel gedryf is. Daar was gewoonlik ‘n oop plek of vierkant binnekant die stadsmure wat as ‘n markplek gedien het, en die strate wat weg van die markplek geloop het, het die handelaars gehuisves. Daar was ‘n straat van die bakkers in die tyd van Jeremia (Jeremia 37:21), en die vallei tussen die oostelike en die westelike riwwe van Jerusalem het as die vallei van die kaasmakers bekend gestaan. Daar moes ongetwyfeld ook stalletjies gewees het om die mense in die stad te bedien omdat vars kos elke dag gekoop moes word. Daar was ook ‘n weeklikse mark vir mense van die omringende dorpe waar hulle produkte kon koop en verkoop. Dit was vir Nehemia nodig om dinge so te reël dat markte nie op die Sabbatdag met hul werksaam­hede voortgegaan het nie (Nehemia 13:15-22).

 

Wat die vorm van die mark betref: al die goedere is op die grond uitgestal en die verkoper het tussen die goedere gesit. Spesiale markte is gehou wanneer daar ‘n karavaan aangekom het. Die pryse was selde vasgestel met die gevolg dat daar oor elke prys onderhandel moes word. In Spreuke 20:14 lees ons van die man wat kla oor die hoë prys wat hy moet betaal terwyl hy met die verkoper onder­handel, maar wanneer by by die huis kom, spog hy oor sy winskoop. In ruil vir die handelsware is ander goedere daarvoor ontvang, of ook metaal of muntstukke wat afgeweeg is (Lukas 16:5-7). ‘n Maateenheid moes altyd vol wees. Toe Jesus be­skryf het hoe ‘n goeie maateenheid goed ingestamp moes wees, en dat dit ook behoorlik geskud en tot oorlopens toe volgemaak moes wees, het Hy die standaardpraktyk beskryf soos wat dit op die mark­plekke gebeur het (Lukas 6:38).

Skrywer:  Prof Hennie Stander




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Finansiers en Handelaars (7) – Hennie Stander

Die dryf van handel

‘n Bestaan is ook gemaak deur handel te dryf. Dit was egter ‘n latere ontwikkeling omdat die eenvoudige landboukundige ekonomiese bestel van die vroeë periode nie voorsiening gemaak het vir die dryf van handel nie. Dit was bloot aanvaar dat die eenvoudige lewenstyl die enigste en die regte le­wenstyl was (vgl Spreuke 31:10-17). Tog, teen die tyd dat Esegiël 27:17-24 geskryf is, was daar n lewendige handel in landbouprodukte aan die orde van die dag. Daar is met Tirus handel gedryf ten opsigte van goedere soos graan, olywe, vye, heu­ning, olie en balsem. Olie en wyn is uitgevoer na Egipte, waar daar weer ‘n graansurplus was. Wol en wolstowwe is na verskeie gebiede uitgevoer en in ruil hiervoor is hout, metale (tin, lood, silwer en koper) ingevoer, asook luukse goedere soos spese­rye, sy, juwele en goud. Hierdie handel het tot stand gekom as gevolg van die uitbreiding van die koninkryk onder Salomo. Die uitbreiding het dit vir die koning moontlik gemaak om belastings te hef op die goedere wat deur sy grondgebied gegaan het.

handelsroetes

Die belangrikste handelsroete was die “Seeweg”, wat al langs die kus van Egipte geloop het deur dit wat altyd die Land van die Filistyne was. Dit het daarvandaan noordoos geswenk na Megiddo en Hasor en het deurgegaan tot by Damaskus. Die heuwelroete van Egipte het deur Berseba, Hebron, Jerusalem, Bet-El en Sigem gegaan en daarna het dit verdeel, hetsy na Bet San en uit na Damaskus, of na Samaria en verder aan na Megiddo. Dit was egter ‘n moeilike roete wat net in nat toestande gebruik is wanneer dit onmoontlik was om ander roetes te volg.

 

Aan die oostekant van die Dooie See en die Jordaanrivier, het die “Koning se Hoofweg” die Golf van Akaba met Ammon en Damaskus verbind. Die seeroetes is beheer deur die Fenisiërs, wat in bondgenootskap met Salomo was.

 

Aangesien die belangrikste handelsroetes deur gebiede gegaan het wat onder die beheer van die Jode was, was dit moontlik vir diegene met kapitaal om goedere in en uit te voer. Dit lyk of Salomo perde uit Silisië ingevoer het en waens uit Egipte en dit alles weer uitgevoer het (1 Konings 10:28-29). Reëlings is ook getref dat die koning sy goedere kon verkoop op die mark van die omringende stede. Agab het ook so ‘n reëling in Damaskus gehad (1 Konings 20:34).

 

Die probleem met hierdie soort van handel is dat diegene met kapitaal gewoonlik meer en meer rykdom verkry, terwyl diegene sonder kapitaal­ armer word. Dit het op beide individuele en na­sionale vlak gebeur. Individuele persone is deur Amos veroordeel veral waar die rykdom gepaard gegaan het met die onderdrukking van die armes (Jesaja 5:8-12; Amos 6:1-7; Miga 2:1-2). Tirus is veroordeel vir die feit dat by hooghartig geword het oor sy voorspoed (Esegiël 28:2; sien ook Jesaja 23). In die Nuwe Testamentiese tye was die dryf van handel algemeen aan die orde van die dag en die Pax Romana (d.w.s. die vrede en die stabiliteit wat die Romeine vir die gebied om die Middellandse See gebring het) het die moontlikhede van handel verder vergroot omdat die paaie baie veiliger was. Rome het die sentrum van rykdom en handel geword terwyl “alle paaie na Rome gelei het”. In hierdie periode is al hoe groter hoeveelhede olyfolie uit Judea uitgevoer, terwyl Griekse wyne, glas, appels, kaas, linne en katoen algemeen geword het in die land.

Skrywer: Prof Hennie Stander

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Finansiers en Handelaars (6) – Hennie Stander

Belasting

Mense is ook aangestel.om belastings in te vorder. In die begin van Israel se geskiedenis is “belastings” gehef ter ondersteuning van die Tabernakel en later die Tempel (Deuteronomium 14:22-29; 18:1-5). Toe die volk ‘n koning wou hê, het Samuel hulle gewaarsku dat hulle ekstra belastings op. hulle hals gaan haal indien hulle dit sou doen (1 Samuel 8:45, ev). Dit het toe

so gebeur. Salomo se bouprogramme en lewenstyl (1 Konings 4:22-28) het­ meegebring dat die Israeliete swaar belastings moes betaal. Hy. het onder andere streekbestuurders aangestel oor twaalf gebiede met die oog op die onderhoud van die koning en die hof (1 Konings 4:7-19). Die belastinglas was so swaar dat dit ‘n rebellie veroorsaak het wat die koninkryk kort na Salomo se dood verdeel het (1 Konings 12:4 ev).

 

Daar is getuienis dat hierdie vorm van belasting­heffing voortgesit is in die koninkryke van Juda en Israel. Ostraka wat in ‘n Samaritaanse stoorplek gevind is, het ook kwitansies vir die ontvangs van olie en wyn bevat, en op grond van die handvatsels van kruike wat regoor Juda gevind is, is daar aanduidings gevind dat die kruike olie en wyn bevat het wat vir die koning gestuur is. Dit lyk of selfs die eerste gras wat afgesny is, na die koning gestuur moes word (Amos 7:10).

 

Die mees afkeurenswaardige vorm van belasting was die betaling van beskermingsgeld: Dit was die praktyk dat magtige konings hulle buurstate ver­plig het om belastings aan hulle te betaal. Enige skending hiervan is as rebellie interpreteer en sou gevolg word deur die uitstuur van ‘n strafekspedi­sie van die leër na die swakkere staat. Tiglat-Pileser (ook Pul genoem) van Assirië het Israel verplig om sulke belastings te betaal tydens die koningskap van Menahem.(2 Konings 15:19-20). Farao Neko van Egipte-het dieselfde gedoen aan Joahas van Juda (2 Konings 23 :33-35) .

 

In die Nuwe Testamentiese tyd moes belastings aan die Romeinse Ryk betaal word. Die Romeinse amptenare het die reg om belastings in ‘n spesifieke gebied te hef verkoop aan die persoon wat die hoogste bod daarvoor gemaak het. Die belasting­kommissaris (hooftollenaar) moes dan ‘n sekere bedrag geld betaal. Hy het weer op sy beurt plaaslike mense as geldinvorderaars (tollenaars) ge­huur, en sowel die hooftollenaar as die ander tollenaars sou dan swaar belastings op die mense lê sodat hulle alles aan die staat kon betaal wat van hul verwag was en nog terselfdertyd ‘n goeie bestaan kon voer.

 

Saggeus was ‘n hooftollenaar en hy het sy bedrog erken deur te onderneem om alles wat hy van iemand anders op onregmatige wyse gevat het, viervoudig terug te gee (Lukas 19:8). Levi was waarskynlik so ’n plaaslike tollenaar (Lukas 5:27). Die Jode het die tollenaars gehaat, nie alleen omdat die tollenaars die Jode se geld gevat het nie, maar ook omdat die tollenaars as verraaiers gesien is deurdat hulle met die onderdrukkers saamgewerk het. Die naam tollenaar is dus met minagting bejeën. Die Joodse leiers kon nie aanvaar dat Jesus met hierdie mense bevriend was nie (Matteus 9:11; 11:19; vgl ook 21:31). Die afkeer wat die mense aan die tollenaars gehad het, was dus nie heeltemal sonder goeie rode nie. Ook Johannes die Doper het horn uitgespreek teen die tollenaars se praktyk om meer in te vorder as dit wat vasgestel was (Lukas 3:12).

Skrywer:  Prof Hennie Stander




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Finansiers en Handelaars (5) – Hennie Stander

Geldwisseling

Geldwisselaars het ‘n belangrike rol gespeel. Dit was hulle taak om die geld van diegene wat by die tempel in Jerusalem kom aanbid het, om te ruil vir spesifieke soort munte wat aanvaarbaar sou wees om as offerande gebring te word. Gewoonlik is daar sowat tien persent op hierdie transaksie gehef. Verder is geld ook benodig om die tempelbelasting mee te betaal, asook om te betaal vir offerdiere wat as rein verklaar is. Sommige mense reken dat Nehemia spesiale munte laat slaan het vir hierdie doel (vgl Nehemia 10:32) en dat hierdie praktyk daarna voortgesit is.

Dit is nie baie duidelik presies wat die geldwisselaars gedoen het waaroor Jesus so kwaad was nie. Moontlik het hulle buitensporige koerse gehef en die arm en godvresende aanbidders ingeloop of moontlik was hulle tafels so naby die gedeelte in die Tempel wat vir aanbidding gereserveer was, dat hulle die normale funksies van die Tempel in die wiele gery het. In ieder geval, Jesus is aangevuur deur die woorde van Psalm 69:10 (vgl Johannes 2:17). Die omruil van geld as sodanig was nie verkeerd nie, maar hulle was besig met ‘n aktiwiteit in die Huis van die Vader wat dit nie waardig was nie (Matteus 21:13).

Mense wat geld gewissel het, was ook in staat om lenings uit te gee. Jesus noem byvoorbeeld in die gelykenis wat Hy vertel het aangaande die twee diensknegte, wat onderskeidelik twee en vyf talente ontvang het, dat die heer rente op sy geld sou ontvang het indien die dienskneg sy geld by die geldwisselaars sou belê het (Matteus 25:27; Lukas 19:23). Hier is ‘n saak wat verder toegelig moet word. In die Ou Testamentiese tye het die lewe op ‘n baie eenvoudige landboukundige ekonomiese sisteem berus: Niemand .het lenings vir kapitale insette en beleggings benodig nie. Lenings is slegs aangegaan wanneer ‘n persoon in baie moeilike tye verkeer het wat hy te bowe moes kom. Om hierdie rede was dit geensins toegelaat vir ‘n persoon om rente te hef op geld wat hy geleen het nie. Dit sou net daarop neerkom dat by die verknorsing van sy broeder uitgebuit het (Eksodus 22:25; Deuteronomium 23:19). Sodanige winste kon wel gemaak word deur rente te hef op geld wat aan uitlanders uitgeleen is (Deuteronomium 23:20). Teen die tyd van die Nuwe Testament het die ekonomiese toestand aansienlik verander en was dit moontlik om geld uit te leen ten einde n besigheid te ondersteun en om ‘n opbrengs op jou geld te verwag – soos dit ook uit Jesus se gelykenisse blyk. Maar Jesus was nogtans gekant teen privaatlenings (Lukas 6:34) omdat dit in daardie tye as uitbuiting van nood gesien is.

Skrywer:  Prof Hennie Stander