Ons rabbi se Naam – Francois Malan

Deon vra:

  1. Is ons Rabbi se naam Jesus of is Sy Naam vertaal
  2. Watter dag is die Sabbat

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

1 Die naam Jesus is die Germaanse weergawe van die Griekse Jêsous van die Nuwe Testament, wat ‘n transkripsie is van die Hebreeuse Jihoosji‘a (die twee i’s word uitgesprek soos in dik), in Afrikaans: Joshua. Die weergawes in aldrie die tale beteken ‘Jahweh/die Here is hulp/verlossing/redding’ (Jahweh is die Hebreeuse vorm van ‘Ek is’ van Eksodus 3:14, wat nie eintlik ‘n naamwoord is nie maar ‘n werkwoord, as aanduiding dat die Here altyd aktief teenwoordig is in sy skepping, en ook saam met Moses na Egipte sal gaan om sy volk te verlos).

Soos Joshua beteken die naam Jesus ook ‘die Here is verlossing.’ In Matteues1:21 sê die engel van die Here vir Josef het moet die seuntjie wat gebore gaan word Jesus noem, want Hy sal sy volk van hulle sondes verlos. Die engel Gabriël sê dieselfde vir Maria in Lukas 1:31: Jy moet Hom Jesus noem (vgl. Luk. 2:21).

Jesus is egter nie slegs ons Rabbi/leermeester nie (rabbi is die Hebreeus vir ‘my grote’), maar ons verlosser, omdat Hy die Seun van God is wat self God is. Hy is die Woord van God deur wie die Vader alles geskep het,wat mens geword het om ons te kom verlos en van ons kinders van God te maak (vgl. Johannes 1:1-3,14), deur self as God die straf op ons mense se sonde te dra aan die kruis en aan ons die ewige lewe te gee (vgl. Joh 3:16).

 

2  Die Hebreeuse woord sjabbat word gebruik vir die rusdag en ook vir ‘n week van sewe dae. Dit kom van die Hebreeuse werkwoord sjabat wat beteken ophou/voltooi of rus; en hang saam met die Hebreeuse woord sjab‘ kompleet/voltooid, en die Hebreeuse sjêba‘ sewe. Daarom is die sabbat op Saterdag die sewende dag van die week wat met Sondag begin het, deur die Jode gehou.

Toe Jesus na die wêreld gekom het, het Hy egter op die Sabbat mense genees en gesê: My Vader is tot nou toe steeds aan die werk, en Ek is ook aan die werk (Joh 5:17). Hy het ook gesê: Die Sabbat is gemaak vir die mens en nie die mens vir die Sabbat nie; daarom is die Seun van die Mens Here óók van die Sabbat (Markus 2:27-28).

Jesus is op Goeie Vrydag gekruisig, wat in Johannes 19:31 die Voorbereidingdag vir die Sabbat genoem word. Op die eerste dag van die week (Sondag) het Hy uit die dood opgestaan (Joh 20:1). Later het die kerk op die opstandingsdag as die voltooiing van Jesus se werk, bymekaar gekom om die nagmaal te vier (Handelinge 20:7) en die erediens te hou (vgl. Hand. 16:2). Hulle het die Sondag die dag van die Here genoem (Openbaring 1:10).

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Vakmanne en Bedrywe(11) – Hennie Stander

Medisyne in die tyd van Jesus

In. die Nuwe Testament lees ons van talle soorte siektes. Daar was melaatses, dowes, blindes, lammes, stommes asook mense wat koors gehad het of epileptiese aanvalle gekry het, of aan vrouesiektes gely het, ens. Dit blyk duidelik uit Markus 1:32-34 dat daar baie siektes aan die orde-van die dag was. Mense wie se siektetoestand versleg het, het, soos verwag kan word, dokters gaan opsoek. In die tyd van Jesus was daar ongetwyfeld baie geneeshere. Ons lees byvoorbeeld dat die vrou wat aan .bloedvloeiing. gely het, baie onder die behandeling van die dokters gely het en .dat sy alles wat sy gehad het, daaraan bestee het (Markus 5:25-26). Verder het Jesus ook die spreekwoord aangehaal wat soos volg lui: Geneesheer, genees jouself” (Lukas 4:23). In die ruïnes van Pompeii is daar ‘n groot versameling chirurgiese instrumente gevind wat uit die eerste eeu: n.C. dateer. In die Bybel self lees ons nie van enige operasies wat gedoen is nie, uitgesonderd die besnydenis. Laasgenoemde moet egter veel eerder as ‘’n godsdienstige rite gesien word en nie soseer as ‘n mediese aksie nie. Benewens die fisiese siektes wat genoem is, was daar waarskynlik ook etlike siektes wat aan psigiese toestande toegeskryf kon word. Die doofstomheid van Sagaria, die pa van Johannes, is as ‘n teken deur God gegee, maar dit lyk nie of dit aan fisiese oorsake toegeskryf moes word nie. Dit vertoon veel meer ooreenkomste met psigiese toestande, soos byvoor­beeld wanneer ‘n mens groot skrik.

Jesus se houding teenoor sonde het nie die Ou Testamentiese siening weerspreek nie. Dit lyk of hy wel siektes beskou het as die gevolg van die Satan se aktiwiteite in die wêreld, en dat dit as sodanig teen­gegaan moes word. Hy het egter nie geglo dat alle siektes noodwendig altyd as gevolg van die persoon se individuele sondes op horn gekom het nie. Dit blyk duidelik uit Johannes 9:2-4: “Sy dissipels vra Horn toe: `Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s’n?’ En Jesus antwoord: `Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s’n nie, maar by is blind sodat die werke wat God doen, in horn gesien sal kan word.‑

Jesus het aanvaar dat sommige siektes wel aan duiwelbesetenheid toegeskryf kon word en Hy het dienooreenkomstig daarteen opgetree (bv Matteus 12:27), maar Hy het nie alle siektes op hierdie wyse behandel nie. Jesus het die oë van die blindes geopen en die dowes laat hoor. Een van die eien­aardige genesings was toe Jesus die blinde man in Betsaida genees het. Hierdie genesing het in ver­skillende stadia verloop: In die eerste stadium was sy visie nog nie heeltemal duidelik nie en eers nadat Jesus weer Sy hande op sy oë gesit het, kon hy duidelik sien wat om horn aangegaan het. Die houding wat Jesus teenoor siekte openbaar het, het ‘n groot rol gespeel op die eerste Christene se houding teenoor siektes en geneeshere. Lukas, ‘n dokter, was die reisgenoot van die apostel Paulus (Kolossense 4: 14). Hy was natuurlik ‘n Griekse dokter en daar was ‘n groot mate van ontwikkeling van medisyne in Griekeland. Dokters het ‘n eed afgelê, geskoei op die leringe van Hippokrates, dat die lewe van ‘n pasiënt altyd eerste gekom het, dat hulle nooit hul verhouding met vrouepasiënte sou uitbuit nie, dat hulle nooit aborsies sou bewerkstel­lig nie en dat hulle nooit vertroulike inligting bekend sou maak nie. Daar was ‘n groot mediese skool in Aleksandrië.

In die verhaal van die Barmhartige Samaritaan, is daar olie en wyn op die beseerde man se wonde gegooi (Lukas 10:34). Die vroeë Christene het hierdie praktyk voortgesit en siek mense met olie gesalf terwyl hulle ook vir hulle gebid het (Jakobus 5:14).

Jesus het bale mense genees van hul siektes en kwale en daardeur het Hy getoon dat Hy waarlik die Messias was (Lukas 7:20-22).

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Vakmanne en Bedrywe(10) – Hennie Stander

Mediese werkers

God het belowe dat die Jode goeie gesondheid sal geniet solank as wat hulle die wette van God gehoorsaam (Eksodus 15:26). Daar is etlike gesondheids­wette aan hulle gegee wat voorskrifte ingesluit het oor sake soos gereelde rus en ontspanning, die eet van geskikte kos, die vermyding van besoedelde water, seksuele aangeleenthede, die nakoming van higiëniese voorskrifte, die vermyding van mense met aansteeklike siektes, ens. Hierdie wette op sigself sou verseker dat, indien hulle nagekom word, ‘n hoë standaard van gesond­heidstoestand gehandhaaf sou kon word. Indien die wette nie gehoorsaam word nie, sou siektes volg (Deuteronomium 28:58-61). Die Israeliete het God as die groot Geneesheer beskou. Iemand wat siek was en horn nie tot God gewend het nie, is skerp gekritiseer. So word dit van Koning Asa gesê dat toe by ‘n uiters ernstige siekte aan sy voete opgedoen het, by selfs in die siekte nie die Here geraadpleeg het nie, maar wel die dokters (2 Kronieke 16:12). Die korrekte optrede tydens siekte was om tot God te bid (Numeri 21:7; 2 Konings 20; 2 Kronieke 6:28-30; Psalm 6; 107:17-21).

Maar daar was ‘n ander houding in ander lande. In Egipte en in Babilonië is siekte toegeskryf aan die werkinge van bose geeste en dokters is geraadpleeg om dit teen te werk. Alhoewel mediese werksaamhede dikwels baie ooreenkomste getoon het met magiese kunste, het hulle tog ook chirurgie beoefen en medisyne ontwikkel. Daar was selfs wette wat die. werk van dokters beheer het. Die Hammoerabi Wetskode bepaal dat indien ‘n mens op iemand anders se .oog opereer het met behulp van ‘n koperlanset, en daardie persoon het sy oog verloor, dan moes die dokter se oog ook met ‘n koperlanset vernietig word.

Die Egiptenare was baie bedrewe met breinchirurgie. Hulle het gate in die kopbeen geboor “om die bose geeste te laat uitkom”, maar deur dit te doen het hulle die drukking op die brein verminder wat soms wel tot genesing gelei het. Dit is ook in Lakis gedoen. Verder het die Egiptenare tandheel­kunde beoefen en sommige van die Fenisiërs het goue tande gehad.

dokter

‘n Romeinse chirurg versorg ‘n wond. Kyk na al sy instrumente, wat onder andere ook ‘n klein sagie insluit

Ten spyte van die teologiese sienings van die Jode, het die houding van die omringende nasies tog ‘n invloed op hulle gehad. Op die alledaagse vlak van die lewe lyk dit of die mense amulette (d. w. s “towerkragtige voorwerpe”) gedra het om die bose geeste af te weer. Soos Koning Asa het hulle ook die dokters besoek. Op Hiskia se sweer is ‘n vyekoek gesit omdat daar geglo is dat dit genesende krag besit het (2 Konings 20:7). Teen die tyd dat die Boek Job geskryf is, het die sieninge van. die Jode at baie verander. Reëlreg in stryd met die algemene siening van daardie tyd, spel die Boek Job dit duidelik uit dat Job se siekte nie die gevolg van sonde was nie. Volgens. die Apokriewe geskrif Jesus Sirag, wat uit die tweede eeu v. C. dateer, gee God, alhoewel Hy die heler is, gawes van genesing aan die mense. Die mense het ook van mediese hulp gebruik gemaak: Jesaja het gesê dat-Juda se “wonde” (d.w.s. toestand’) skoongemaak, verbind en met salf behandel moes word (Jesaja.1:6); wyn-wat-met gal gemeng is, is as ‘n pynstiller gebruik (Matteus 27:34); daar is geglo dat-die gebruik -van liefdesappels n vrou vrugbaar kon maak (Genesis 30); voorts het daar regdeur die Bybelse tyd talle vroedvroue opgetree (Eksodus-1:15; vgl ook Esegiël 16:4).

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 




Vergoeding van evangeliedienaars – Francois Malan

‘n Leser wil weet:

Ek wil weet mag iemand evangelie verkondig en vergoeding ontvang?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord

In 1 Koriniërs 9 gee Paulus ‘n reeks argumente waarom ‘n verkondiger van die evangelie vergoeding moet ontvang:

9:4 het ons dan nie die reg om te eet of te drink nie? (1983-vertaling: die reg op lewensonderhoud)

9:7 wie dien ooit as soldaat op eie koste, plant ‘n wingerd en eet nie van die vrugte nie,  pas ‘n kudde op en drink nie van die melk van die kudde nie?

9:9-10 Hy verwys na die wet van Moses (die eerste 5 boeke van die Ou Testament):  Jy mag ‘n os wat graan trap nie muilband nie (Deutr. 25:4); dit is ter wille van evangelieverkondigers gesê…Wie ploeg moet met verwagting ploeg, en wie oes, om daarin te deel

9:13 Weet julle nie dat hulle wat in die tempel werk, uit die tempel eet en hulle wat die altaar bedien, ‘n deel van die offerande kry nie?

9:14 So het die Here ook bepaal dat hulle wat die evangelie verkondig, uit die evangelie moet leef.

9:15 Maar ek (Paulus) het nie een van hierdie regte gebruik gemaak nie…

9:18 My beloning is dat ek deur my verkondiging die evangelie gratis aanbied, sonder  om van die regte wat met die verkondiging saamgaan, ten volle gebruik te maak.

In Galasiërs 6:6 het Paulus reeds voor 1 Korintiërs geskryf: Wie onderrig ontvang, moet die een wat hom onderrig, laat deel in al die goeie dinge wat hy besit.

Aan die einde van sy gevangenskap in Rome skryf hy aan die Filippense 4:15: Aan die begin van my evangelieverkondiging, toe ek van Masedonië vertrek het, het geen gemeente bygedra tot my rekening van inkomste en uitgawes nie, behalwe julle alleen.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan