3 Johannes – Christelike gasvryheid (vervolg) – Francois Malan

6 In vers 3 het die medegelowiges getuig dat Gajus in die waarheid van God voortlewe. Hier van sy liefde wat hy deur gasvryheid bewys het. Sy liefde het ooreengestem met die geloof wat hy bely. Die getuienis het hulle gelewer voor die hele gemeente waar die oudste bly, en moontlik ook by ander gemeentes. (die woord vir gemeente of kerk ekklesia word hier en in verse 9-10 gebruik; nie in die Evangelie van Johannes of die ander twee Johannese briewe nie; ook nie in Markus of Lukas nie – dikwels in Handelinge, die Pauliniese geskrifte en Openbaring; enkele male in Matteus, Hebreërs en Jakobus).

‘Jy sal goed (iets prysenswaardig) as jy hulle voorthelp op ‘n manier wat God waardig is.’ Die uitdrukking ‘jy sal goed doen’ is dikwels gebruik om ‘asseblief’ uit te druk;  ‘voorthelp’ sluit in om hulle te voorsien van die nodige vir die reis (vgl. Hand 15:3; 1 Kor 16:6,11). ‘Op ‘n manier wat God waardig is.’  (vgl. 1 Ts 2:12Rom 16:1-2).

 

7 ‘want ter wille van die Naam het hulle uitgegaan…’ hieruit blyk dit dat hulle sendelinge is wat verskillende dorpe en gemeentes besoek (die woord uitgegaan ekselthon is ook in 2 Jn 7gebruik vir die misleiers wat uit die gemeente uitgegaan het die wêreld in, om hulle valse leer te gaan verkondig. Hier gaan lidmate uit in die diens van die waarheid).  Hier word na die Naam van Jesus Christus verwys, soos in Hand 5:41; Jn 15:21 (vers7 is die enigste teks in 3 Johannes wat na die Seun van God verwys). Die voorsetsel huper kan ‘ter wille van’ aandui, dat hulle in Christus se diens uitgegaan het; of ‘in verband met,’  dat hulle Christus gaan bekendmaak. Waarskynlik word aan albei die betekenisse gedink.

‘…sonder om iets van die heidene te ontvang.’ Jesus se opdrag aan sy dissipels was om verniet te gee en te dien (Mt 10:8; Paulus het dag en nag gewerk om nie ‘n las op die mense vir wie hy preek, te lê nie (1 Ts 2:9). Die sendelinge van die Romeinse afgode was bekend as ‘bedel monikke.’ Dié sendelinge vir die waarhied wou nie met hulle geassosieer word nie, dat hulle terwille van  hulle lewensonderhoud sou preek nie. Hulle wou die evangelie gratis en vry verkondig, en was afhanklik van die gasvryheid van mense van die waarheid om vir hulle te sorg, volgens Jesus se opdrag aan sy dissipels (Mt 10:11-14, 40).

 

8 Die sendelinge moet versorg word want hulle is medegelowiges wat geëer moet word vir hulle christelike sending (v7) en omdat hulle geen ander voorsiening het nie. Die christelike gemeenskap moet vir hulle doen wat hulle nie vra van die nie-christene/wêreldlinge nie. Die verpligting om vir hulle te sorg kom van die Here van die kerk af, soos in 1 Kor 9:14 uitgespel. Die woord vir help (hupolambanoo) beteken om te help in die voorsiening van wat nodig is, en om op te neem in die gemeente (let op die woordspel: terwyl die sendelinge niks van die heidene aanneem nie – lambanoo – moet die gemeente hulle opneem – hupolambanoo).

‘sodat ons medewerkers van die waarheid kan word.’ Ons gasvryheid sal bewys dat ons saamwerk aan die waarheid, deur ons versorging van die verkondigers in wie Christus na ons toe kom. Dit bewys dat ons self lewe in die waarheid oor Jesus Christus. Hy het ons beveel om mekaar so onselfsugtig lief te hê soos Hy ons liefhet (Jn 13:34).

 

9 ‘Ek het hieroor aan die gemeente geskryf, maar Diotrefes, wat graag die belangrikste onder hulle wil wees, verwelkom/ontvang ons nie.’ Waarskynlik het  die oudste ‘n briefie geskryf aan die gemeente waaraan Gaius ook behoort. Maar Diotrefes het die brief, moontlik met ‘n versoek om van die reisende sendelinge te ontvang (v10), voorgekeer. Die naam Diotrefes beteken ‘deur God opgevoed,’ maar sy arrogante begeerte om altyd eerste te wees

om oor ander te heers, is eintlik ‘n verloëning van sy naam, soos ook weerspieël in sy optrede teenoor die oudste (dit is moontlik dat sy naam eintlik veronderstel dat Zeus hom opgevoed het, as sy ouers nog nie gelowiges was toe hy sy naam gekry het nie).

Hy wil niks te doen te hê met die oudste en die reisende sendelinge wat van die oudste se gemeentes af uitgaan nie. Die werkwoord beteken ook dat hy nie die oudste of sy verteenwoordigers gasvry wou verwelkom en ontvang nie. Dit is duidelik dat hy nie die gesag van die oudste aanvaar nie, maar eiemagtig oor die gemeente regeer. Daarmee bewys hy sy gebrek aan Christus se tipe liefde, en het hy waarskynlik ook besware begin ontwikkel teen die leer oor Christus wat die oudste verkondig. Kolossense 1:18 sê dat Christus die hoof van sy liggaam die kerk is, Hy is die begin (van alles), die eerste wat uit die dood opgestaan het, sodat Hy die eerste (prooteuoon) in alles is.’ Dit het dié man, wat lief is om die eerste (prooteuoon) te wees, nie verstaan of uitgeleef nie.

Skrywer: Prof Francois Malan

 

 




3 Johannes – Christelike gasvryheid (1-15) – Francois Malan

3 Johannes se vorm kom baie meer ooreen met die tradisionele Griekse briefvorm  as 2 Johannes, met skrywer, geadresserde en seën aan die begin, maar sonder ‘n groet, en ‘n tipiese slot. Terwyl 2 Johannes aan ‘n gemeente gerig word, word 3 Johannes aan ‘n leierspersoon in ‘n ander gemeente gerig, met verwysing na twee ander persone in die gemeente.

Albei briewe handel o.a. oor gasvryheid: 2 Johannes adviseer dat gasvryheid nie aan die misleiers gegee word nie. 3 Johannes prys Gaius vir sy ontvangs van besoekende gelowiges, terwyl Diotrefes selfs geweier het om ‘n vorige brief van Johannes aan die gemeente voor te hou.

1 ‘Die oudste’ (ho presbuteros) is dieselfde persoon wat 2 Johannes geskryf het en waarskynlik ook 1 Johannes, waar hy telkens sy lesers as ‘my liewe kindertjies’ of as ‘geliefdes’ aanspreek (2:1,7,12,18,28; 3:18; 4:1,7,11; 5:21).

Hy skryf aan sy ‘geliefde’ Gajus. Die uitdrukking getuig van ‘n hegte band tussen hulle twee, en hy voeg by ‘vir wie ek in waarheid liefhet.’ Die waarheid is die basis waarop hulle liefde gebou is, nl. dat Jesus, die Seun van God, uit liefde vir ons, mens geword het, om ons aan Hom en sy liefde en sy lewe te verbind. Die waarheid van die God wat liefde is, wat Jesus aan ons kom openbaar het,  is die sfeer waarin hulle altwee lewe.

Gajus (‘vreugdebetoon’) was ‘n algemene Griekse naam, en kom nog drie keer in die NT voor: (i) Gajus van Korinte, een van die min mense wat deur Paulus gedoop is; ‘n gemeente vergader in sy huis en Paulus gaan by hom tuis (Rom 16:23; 1 Kor 1:14); (ii) Gajus van Masedonië, reisgenoot van Paulus, wat in Efese deur die oproermakers na die amfiteater gesleep is (Hand 19:29); (iii) Gajus van Derbe, Paulus se reisgenoot met die kollekte na Jerusalem (Hand 20:4).

2 ‘Geliefde, ek bid dat jy gesond mag wees en dat dit in alle opsigte met jou goed mag gaan, soos dit met jou siel goed gaan…’  (in alle opsigte goed gaan –  staan voorop met klem; die Griekse werkwoord vir ‘goedgaan,’ euodousthai,  beteken letterlik:om op ‘n goeie pad gelei te word’). Sonder die gebruiklike groete word die goeie wense as ‘n gebed aangebied. In Paulus se briewe is daar dikwels dankgebede in die inleiding van die brief.

‘…dat jy (ligaamlik) gesond mag wees…soos dit met jou siel goed gaan.’ Miskien was Gaius se gesondheid nie so goed nie, vandaar die gebed vir sy gesondheid, maar dit kan meer waarskynlik ‘n algemene gebed vir voortgaande gesondheid beteken. Sy siel (psuche) verwys na sy geestelike lewe in sy verhouding tot God, deur sy gemeenskap met Christus.

3 Die oudste verskaf die rede vir sy vertroue in die geestelike gesondheid van Gajus. Die oudste het van tyd tot tyd besoek ontvang (soos die teenwoordige tyd van die werkwoorde aandui) van broers wat kom getuig het oor Gajus se waarheid, hoe hy die pad van die waarheid loop. Dit het die oudste grootliks verbly (die naam Gajus beteken ook‘vreugdebetoon’). Die besoekers het bevestig wat die oudste van Gajus geweet het, dat hy in die waarheid van God lewe.

4 Die oudste verduidelik die rede vir sy groot blydskap in v3: niks gee hom groter blydskap as berigte wat hy hoor dat sy kinders in die waarheid voortlewe nie. Sy ‘kinders’ is dié mense wat die boodskap oor Jesus Christus aangeneem het, aan wie hy noú verbind is, en vir wie hy verantwoordelik voel.  Die uitdrukking ‘om die pad van die waarheid  loop’ kom in die NT slegs in 2 Jn 4 en 3 Jn 3,4 voor. Die klem op die lewe in die waarheid in hierdie twee briewe is moontlik ‘n aanduiding van die intensteit van die krisis oor die waarheid van God in die Johannese gemeentes.

 5 Gajus word weer aangespreek met ‘n warm en intieme woord as die oudste se ‘geliefde’ vriend. Die oudste prys hom  met ‘jy tree getrou op in wat jy ook al vir die broers doen…’ – sy lojaliteit teenoor die waarheid is konstant te sien in sy liefdesdiens. Daarom word hy beskou as iemand wat lewe in gemeenskap met almal wat die waarheid ken en daarin lewe, ‘n getroue dienskneg van die Here (vgl. Mt 25:21).

‘…en dit terwyl hulle vir jou vreemdelinge is.’ Hy het sy liefdesdiens telkemale gedoen aan medegelowiges wat by hom aangekom het, al het hy hulle nie persoonlik geken nie. Waarskynlik gaan dit om rondreisende predikers wat op eie koste en uit geloofsoortuiging rondgaan om die evangelie te verkondig. Sy gasvryheid teenoor medegelowiges wat in die waarheid wandel, word goedgekeur en aanbeveel, terwyl 2 Jn 10-11 alle gasvryheid teenoor die misleiers wat die waarheid verdraai, afkeur en verbied. Soos gemeenskap met die misleiers jou deel van hulle boosheid maak, maak gasvryheid teenoor gelowiges wat in die waarheid wandel, jou deel van die waarheid. Hebr 13:2 sê dat sommige deur gasvryheid engele as gaste ontvang. Jesus sê: wie julle ontvang, ontvang My (Mt 10:40; Jn 13:20) ; dit wat ons aan die geringste van die broers doen, bv. huisves van vreemdelinge, doen ons aan Hom (Mt 25:35,40).

Herberge was gevaarlike plekke vir gelowiges, feitlik altyd drinkplekke en waar mense van hulle goed beroof is, as hulle nie goeie wagte saam met hulle gehad het of in groter groepe gereis het nie. Daarom was gelowiges op reis aangewys op die gasvryheid van medegelowiges op hulle pad; vgl. bv. Jesus se uitsending van sy dissipels en waar hulle moes oornag (Mt 10:11-15). Later is dit misbruik en het die 2e eeuse geskif Didache (Die leer van die twaalf apostels’  in hfs. 11-12) reëls neergelê vir die lengte van sulke besoeke, ens.

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Die Oppas van Skape en Bokke – Interessante Skrifgedeeltes – Hennie Stander

Miga 7:14. Miga het uitgesien na die dag wanneer konings hul volk sal regeer soos ‘n herder sy skape oppas: “Pas jou volk op met jou kierie, die kleinvee wat aan jou behoort.”

Slingervel

1 Samuel 25:29. Abigail bid dat die Here “die siel van Dawid se vyande uit die holte van die slinger sal wegslinger”. Abigail het dus hiermee vir die Here gevra dat Dawid se vyande ver weg verwyder sal word net soos wat ‘n mens ‘n klip uit ‘n slingervel gooi.

Versorging van die skape

Jesaja 40:11. Hier word die beeld gebruik van die herder wat die lammers optel en wat die ooie versigtig hanteer tydens lammertyd. Dit versinnebeeld die groot sorg waarmee God na Sy kinders omsien: “Soos ‘n herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen Sy bors; Hy sorg vir die lammerooie.”

Die Lam van God

Johannes 1:29. Johannes die Doper het na Jesus verwys as “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem”. Hierdie woorde verwys beslis nie na die sondebok nie (vgl Levitikus 16:20-22) omdat hier van ‘n skaaplam, en nie ‘n bok nie, gepraat word. Dit moet veel eerder as ‘n verwysing na die pasgalam gesien word. Volgens Johannes (19:14) is Jesus omtrent dieselfde tyd gekruisig as wat die pasgalam geslag moes word. Net soos die pasgalam, is ook Jesus se bene nie gebreek nie (Johannes 19:33,36; vgl ook Eksodus 12:46). Alhoewel die slag van die pasgalam nie in die Judaïsme as ‘n sondoffer beskou is nie, is dit nogtans duidelik waarom dit later so verstaan is: dit is immers hoe hulle die dood van Christus gesien het. Johannes die Doper se uitspraak beteken derhalwe iets soos “Dit is die Lam wat God gegee het om versoening vir die mense te bewerkstellig.”

Die geboortedag van Jesus

Lukas 2:8. Niemand weet presies wanneer Jesus gebore is nie. Die datum 25 Desember is egter in die vierde eeu n.C. gekies om as teenfoeter te dien vir die heidense feeste wat die Christene gaan bywoon het. Daar is derhalwe besluit om ook vir die Christene die geleentheid te bied om op hierdie dag fees te kon vier en dit is toe gekoppel aan die geboortedag van die Here. In Desembermaand is dit egter nog winter in Palestina. Dit is dan te koud vir die herders om in die oop veld by hulle skape wag te hou (Lukas 2:8) en dus kan ons met redelike sekerheid sê dat Christus nie in Desembermaand gebore is nie. Dit is dus meer waarskynlik dat hierdie gebeure in die lente of somer plaasgevind het.

Die herder

Efesiers 4:11. “En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars.” In hierdie gedeelte word een van die kerkleiers as ‘n herder bestempel. Dit is ‘n figuurlike aanwending van die term “herder”. Let verder daarop dat daar in hierdie vers nie sprake is van vyf klasse van persone nie, maar net van vier. Die laaste klas handel oor twee aktiwiteite wat mekaar aanvul, naamlik die van herder en leraar, dit wil sê om ‘n gemeente te help en te lei, maar ook te onderriq. Die herders was almal weer verantwoordelik aan Jesus, die opperherder (1 Petrus 5:4).

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Die Oppas van Skape en Bokke(5) – Hennie Stander

Bokke

Bokke was baie belangrik vir die mense van die antieke tye, soos dit blyk uit die talle verwysings in die Bybel daarna, alhoewel daar minder oor bokke as oor skape gepraat word. Die bokke en die skape het apart gewei maar nie te ver van mekaar nie aangesien hulle in elk geval min of meer dieselfde snort weiding nodig gehad het. Soms het die bokke egter met die skape gemeng. Die skeiding van die diere in skape en bokke was altyd die taak van die herder. In Matteus 25:32 het Jesus hierdie beeld in gedagte gehad toe Hy gesê het dat wanneer al die volkere voor Horn gebring word, by die mense van­mekaar sal skei soos ‘n wagter die skape van die bokke skei. Wanneer die bokke by die skape is, is die bokke geneig om die dominante groep te wees. Dit het Jesaja daartoe aangespoor om na die “leiers van die aarde te verwys as die “bokke van die aarde (Jesaja 14:9; sien ook Daniel 8:5).

Tog is daar ook verskille tussen die bokke en die skape. Bokke is baie vas op hulle voete en kom baie maklik oor die weg in bergagtige en rotsagtige plekke, terwyl skape gebiede verkies wat meer gelyk is. Skape verkies om gras te vreet terwyl bokke weer die blare van bome en bosse verkies het. Teen die middag het die kleinvee egter nie verder gewei nie, want dan het hulle gele en slaap (Hooglied 1:7).

Bokke is egter nooit as net so waardevol as skape beskou nie. Ook het die vleis van ‘n bokkie nie baie gunstig vergelyk met die vleis van ‘n kalf nie (Lukas 15:29 ev). Verder was dit op ‘n bok wat al die sondes van Israel oorgedra is. Die bok is daarna die woestyn ingejaag en moes daar agtergelaat word (Levitikus 16:20-22). Dit is ook die “bokke” wat bestem is vir vernietiging wanneer Christus weer kom (Matteus 25:33, 41). Die onpopu­lariteit van die bok kan moontlik toegeskryf word aan die feit dat die bok inderdaad ‘n baie destruktiewe geaardheid het. Hulle klim in die borne en vernietig dit deurdat hulle al die blare en takkies afvreet. Sodoende rig hulle aan ‘n land se plantegroei geweldig baie skade aan.

Tog lees ons in die Bybel dat verskeie persone redelike groot bokkuddes gehad het. Jakob het onder andere tweehonderd bokooie en twintig bok­ramme vir Esau as ‘n geskenk gestuur (Genesis 32:14) terwyl Nabal ‘n duisend bokke gehad het (1 Samuel 25:2). Die Arabiere, weer, het sewe­duisend sewehonderd bokramme vir Koning Josafat as geskenk gegee (2 Kronieke 17:11). Die bokke is vir hul melk aangehou en ook is hul vleis geëet (Rigters 6:19). Verder is bokhaar gebruik vir die weef van materiaal.

 

Skaapskeerdery

Daar was twee baie belangrike tye vir die skaapherder,  lammertyd en skeertyd. Lammertyd was in Januarie/Februarie. Skeertyd het na die somerweiding gevolg en dit het gewoonlik met groot feesvierings gepaard gegaan. Die verhaal in 1 Samuel 25 speel juis af teen die agtergrond van skeertyd. Die groot maaltyd wat Nabal en sy gaste geniet het, was waarskynlik die feesmaal wat gewoonlik aan die einde van die skeerseisoen gehou is. Nabal was ‘n baie ryk man en ons sien dat by ‘n “feesmaal gehad het soos ‘n koning” (1 Samuel 25:36-38). Maar ons lees ook in 2 Samuel 13:23-28 van ‘n groot maaltyd wat saam met die skeerders gehou is. Net soos in die geval van Nabal hierbo, het hierdie feesvieringe weer eens met oormatige drank­misbruik gepaard gegaan-soveel so dat dit selfs ‘n gulde geleentheid geskep het .vir die beplanning van ‘n moord.

Ons moet egter nie dink dat al die kuddes in die Bybelse tyd baie klein was nie. Groot skaapboere moes etlike herders huur om hul skape op te pas. Koning Mesa van Moab moes honderdduisend lammers en die wol van honderdduisend-ramme aan die Koning van Israel lewer (2 Konings 3:4). Job het veertienduisend stuks kleinvee gehad na sy ontberinge (Job 42:12). Koning Salomo het met die inwyding van die tempel honderd-en-twintig­duisend stuks kleinvee as maaltydoffer geoffer (1 Konings 8:63).

Die hoëpriester Eljasib het aan die mees oostelike kant van die noordelike muur van die ou stad Jerusalem ‘n ingang gemaak waardeur die skape kon ingaan om geoffer to word in die tempelarea. Dit is die Skaappoort genoem (Nehemia3.1; 12:39). Hier is skape verkoop om geoffer te word. Die hekke en poorte is dikwels gebruik vir allerhande gesprekke en ook om handel te dryf. Die poort het dan die naam gekry van die soort item waarmee daar handel gedryf is-vandaar Skaappoort. (Die frase “om in die poort te sit” het later die betekenis gehad van “om ‘n sekere sosiale status te geniet”-sien bv. Ester 5:13). Nie ver van die Skaappoort nie, is daar in 1888 tydens opgrawings op twee baddens afgekom. Een van hulle het vyf pilaargange gehad en dit is waarskynlik die Bad van Betesda waar Jesus die man gesond gemaak het wat al agt-en-dertig jaar lank siek was (lees Johannes 5:2). Volgens oorlewering is hierdie baddens gebruik vir die was van skape.

Skrywer:  Prof Hennie Stander