Die Bron van Kwaad – Francois Malan

Werner vra

Ons bely onder andere dat God goed is en dat God liefde is. Ons aanvaar ook dat God alles geskape het wat bestaan. Gegewe bogenoemde, waar kom “kwaad” dan vandaan? Daarmee saam, kan ons aanvaar God het die engele geskape met die kennis van goed en kwaad aangesien Lucifer hoogmoedig geraak en die kwaad gekies het? Waarom sou God dan ‘n wese (engel of mens) skape met die wete dat hulle kwaad kan kies? Verder nog, waarom die boom van kennis van goed en kwaad in die tuin van Eden plaas en daardeur die mens die keuse gee om te kies as God geweet het ons gaan verkeerd kies? Laastens, waarom het God dan nie die gevalle engele eers in die hel opgesluit voor Hy die mens op die aarde geplaas het nie want dan sou die “slang’ nie ‘n rol gespeel het nie.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Volgens Genesis1:26 is die mens geskape na die beeld en gelykenis van God, as verteenwoordiger van God en instrument in die hand van God. In en deur die mens se optrede (sy werk, 1:28; 2:15) en verhoudings (1:27) word God sigbaar teenwoordig in die skepping. God heers oor die wêreld, en die mens kry van Hom die opdrag om te heers (1:28), om God se heerskappy oor die wêreld in stand te hou en deur te voer. God is liefde – liefde is ‘n verhoudingsterm. Die eenheid tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees is ‘n liefdeseenheid. Dit is ‘n liefde wat dien en gee en nie gryp en oorrompel nie. Hy heers in en deur liefde wat trek (1 Joh 4:7-10; Joh 12:32-33). Die mens is geskep om die liefde van God uit te leef deur mekaar en ander uit liefde te dra en te verdra met liefdevolle diens (vgl. Mark 10:45). Alles wat God gemaak het, is goed (Gen 1:31).

 

Waar kom die kwaad vandaan?

God het die mens nie geskape soos ‘n stok en ‘n blok wat Hy links en regs kan neergooi soos Hy wil nie, maar Hy het juis die mens geskape in sy ‘gelykenis,’ om as sy verteenwoordiger op aarde te lewe in verantwoordelikheid teenoor God, om in alles wat die mens dink en doen en sê dit sal gaan om die wil van God. Daarin was Jesus vir ons ‘n voorbeeld van ‘n egte mens: Die woorde wat Ek vir julle sê, sê Ek nie uit Myself nie, maar dit is die Vader wat in My bly en sy werke doen (Joh 14:10). Die mens is gemaak met die moontlikheid van bewuste keuse, sodat die mens in vryheid kon aanvaar en bevestig waarvoor God hom bestem het. Genesis 2:16-17 beeld dit uit met God se keuse aan die mens: ‘Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, maar van die boom van kennis van goed en kwaad mag jy nie eet nie. Die dag as jy daavan eet, sterf jy.’ Anders as die dier kan die mens beredeneerde beslissings neem. Om mens te wees beteken om deur God se woord aangespreek te word, en uit vrye keuse die woord te gehoorsaam. So het God die mens as sy gespreksgenoot geskep wat Hom in vryheid liefhet, nie uit dwang nie, maar in kinderlike gehoorsaamheid aan sy Vader.

Die sonde kom in ‘n gemaskerde gestalte na die mens. Agter die masker van ‘n dier, waaroor die mens heers, kom die Satan, vermom soos ‘n engel van die lig (soos die valse apostels in die gemeente van Korinte as dienaars van Satan, wat hulle self vermom as apostels van Christus, 2 Kor 11:14). Die sonde kom as versoeking. God stel die mens op die proef om te weet of hulle Hom werklik met hulle hele hart liefhet (Deutr. 13:3; vgl. Abraham wat vir Isak moes offer, Gen 22:12). God se doel met sy beproewing van die mens is ‘n demonstrasie van geloof en vertroue in God. Maar Satan gebruik die beproewing as ‘n versoeking om die mens te laat optree teen God en teen sy medemens en vir homself. Deur sy eie keuse val die mens in die sonde. Genesis 3:4-6 beskryf dit met die gesprek tussen die slang en die vrou. Toe die vrou besef het dat die boom se vrugte goed is om te eet en mooi om na te kyk en begeerlik omdat dit kennis kan gee, om soos God te wees en alles te kan ken, ook die kwaad, het sy geëet – en so vir haarself gekies teen God, en haar eie god geword vir wie sy in selfsug lewe; nie in liefde vir God en ander mense en ander skepsels en God se skepping nie. Sonde begin in die verhouding van die mens tot God en brei daarvandaan verder uit teen ander mense en die skepping. Dit begin met twyfel oor God en die billikheid van sy gebod. Dit lei tot hoogmoed om self soos God te wees. Dit lei tot ongehoorsaamheid teenoor God en ongeloof in God. Met ‘n leuen verlei die Satan die mens (vgl. Joh 8:44 die duiwel is ‘n mensemoordenaar van die begin af; ‘n leuenaar en die vader van die leuen). Christus kom die mens daarvan verlos deurdat Hy, wat self God is, sy lewe in ons plek uit liefde offer aan ‘n kruis en ons van die mag van die sonde bevry deur al ons sondeskuld teen God op Hom te neem, en ons weer kinders van God maak wat in Hom glo en op Hom vertrou as die Here van ons lewe aan wie ons gehoorsaam is, want sy pad is die beste.

Menslike sonde veronderstel ‘n versoekende mag. Hierin verskil die menslike sonde van die duiwel se sonde, wat nie deur ‘n versoekende mag of ‘n versoeker voorafgegaan is nie. Daarom is die mens vir verlossing vatbaar, en die duiwel nie.

Volgens Judas 6 was die duiwels eers engele wat hulle nie aan hulle magsgebied gehou het nie. 2 Petrus 2:4 noem hulle engele wat gesondig het en vir die oordeel gevange gehou word. Volgens Johannes 8:44 noem Jesus die leier van die duiwels ‘n mensemoordenaar en vader van die leuen wat nie by die waarheid staan nie. Mat 25:41 praat van die duiwel en sy engele. In Luk 10:18 sê Jesus: Ek het die Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel sien val. Volgens 1 Tim 3:6 het hy verwaand geword en het daarom onder God se oordeel geval. Openb. 12:4 verwys waarskynlik na die Satan en ‘n derde van die engele wat in opstand teen God gekom het (die sterre waarna 12:4 verwys is waarskynlik engele, soos in 9:1). Uit die gegewens kan afgelei word dat die duiwels vroeër engele was wat deur God geskep is met die verhewe status as dienende geeste in die hemel (vgl. Ps 103:20-21) – waarskynlik na die skepping en voor die sondeval van die mens. Hulle wou nie hulle dienende status onder God aanvaar nie, en uit hoogmoed oor hulle status en uit selfverheffing het hulle die verhewe status verloor. Die opstand teen God word sonde genoem en op grond van hulle sonde is hulle uit die hemel uitgegooi. Met die kruisdood van Jesus, wat al die sonde van die wêreld op Hom geneem het, is die duiwel die grond vir alle aanklagte by God teen die gelowiges vir die duiwel (Grieks: diabolos: aanklaer, lasteraar) ontneem. Maar nou woed die duiwel en sy trawante om die gelowiges van God te vervreem, met verleiding, leuens en geweld. Daarom word gelowiges dwarsdeur die Bybel opgeroep om te volhard in hulle styrd teen die duiwel en sy versoekings, deur steeds op Jesus te vertrou en God in liefde te dien met die liefdeskrag van die Heilige Gees wat in ons kom woon het.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die nuwe hemel en aarde – Francois Malan

Werner vra:

Hierdie vraag is oeroud en ek kon tot hede nie ‘n sinvolle antwoord kry nie. Waarom moet die nuwe Jerusalem dik mure kry met engele wat die porte bewaak as satan en sy helpers saam met verlore mense in die hel is? Is daar dan steeds ‘n bedreiging van een of ander aard?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Openbaring 21:12 praat nie van ‘dik mure’ nie, maar van ‘groot en hoë mure.’ Daar staan ook nie dat die 12 engele by die poorte ‘die poorte bewaak’ nie.

Die hele boek Openbaring werk met beelde en getalle, simbole wat nie letterlik geïnterpreteer word nie (anders sal daar bv. slegs 144,000 mense in die hemel kom, Openb. 7:4). Die meeste van die simbole is reeds in die Ou Testament gesien. So sien Esegiël tydens die ballingskap in Babelonië ‘n gesig van hoe die tempel in Jerusalem weer opgebou gaan word as ‘n boodskap om die ballinge te bemoedig en gereed te maak en dat die Here hulle weer gaan teruglei na die land van Israel en dat stad en die tempel weer opgebou gaan word (Eseg. 40-44).

So word die nuwe Jerusalem in Openbaring 21:9 genoem ‘die bruid, die vrou van die Lam,’ en word die heilige stad ‘n simbool van die heerlikheid en die glans van God (21:10-11). Daarby is die stad verlig (sonder son en maan) deur die heerlikheid van God en die Lam (21:23). Die poorte word nooit toegesluit nie (21:23), en die Here God, die Almagtige en die Lam is die stad se tempel (21:22).

Die hoë mure (1,000 kilometer hoog, 21:16) is nie vir beveiliging nie, maar simbool vir die heerlikheid wat van God uitstraal, hoe hoër die mure, hoe groter die weerkaatsing van God se heerlikheid. Die engele by die twaalf poorte (21:12) herinner aan die engele van die sewe gemeentes, die leiers van die sewe gemeentes van hoofstuke 2-3, as boodskappers of skakels tussen God en die mense. Die 12 poorte, 3 in elke windrigting, soos Esegiël 48:30-35 se 12 poorte in elke windrigting is simbool vir voldoende toegang vir die volke van die wêreld. 21:7 sê: elkeen wat die oorwinning behaal, sal dit alles kry, het deel aan die nuwe Jerusalem, dat die Here sy God sal wees en hy sal my seun wees. 12:11 sê: hulle sal self die oorwinning oor die vrou en die draak behaal danksy die bloed van die Lam. 7:14 praat van hulle wat hulle klere wit gemaak het in die bloed van die Lam. 21:27: net dié wie se name in die boek van die lewe, die boek van die Lam geskrywe staan, sal in die nuwe Jerusalem inkom. Dit is slegs deur geloof en vertroue op Jesus as die Here van jou lewe dat jy deel word van die ewige lewe by God (Joh 3:36).

Teenoor die sedelose Babilon van 17:1-19:5 staan die bruid, die nuwe Jerusalem van 21:9-22:5 in skrille kontras met mekaar, sodat die lesers opgeroep word om tussen die twee te kies: of vir Babilon of vir die nuwe Jerusalem, of vir die sedelose vrou, of as vrou van die Lam wat die sonde van die wêreld wegneem (22:7: Geseënd is elkeen wat die woorde van hierdie profetiese boek ter harte neem; vgl. Joh. 1:29).

 

[Die stad Babel is reeds in 162 v.C. totaal verwoes, en word hier gebruik as simbool vir alle onderdrukkende regerings. Tydens die skrywe van Openbaring was dit Rome].

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Regverdigheid en redding – Hermie van Zyl

Werner vra:

Ons dien ‘n regverdige God, dit glo ek met my hele hart. Ek probeer egter verstaan hoe dit werk met verskillende groepe mense wat nie dieselfde voorregte as ons het om God te leer ken nie. In die ou Testament is daar bv. die Amalekiete of Hetiete of wie ook al wat buite Israel staan. As ek as een van die volke buite Israel gebore is en grootword met afgode sonder om in aanraking te kom met God, en my hele stad (mans, vrouens, kinders en diere) word uitgewis, waar sou ek die kennis kry om by ‘n punt te kom waar ek ‘n keuse vir of teen God kan maak? Dieselfde geld vir ‘n Romein of Samaritaan voor die evangelie versprei is na heidene of selfs vandag in lande waar die evangelie bloot nie geduld word nie.

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Jy vra een van daardie vrae wat eintlik onbeantwoordbaar is, gewoon omdat ons nie die volle prentjie het soos God dit het nie. As Christene glo ons dat Christus die enigste weg na die lewende God is. Alle ander weë (godsdienste) is dus vals en afgodery. Hierdie oortuiging vorm terselfdertyd die grootste motivering vir sendingwerk, want as mense hulle nie tot Christus bekeer nie, is hulle vir ewig verlore. Dit is die konsepte waarmee ons grootgeword het.

So ‘n (simplistiese) siening roep egter by baie mense vandag weerstand op. Moet ons regtig aanvaar dat miljoene nie-Christene wat deur die eeue geleef het en nog gaan lewe vir altyd verlore is net omdat hulle aan die “verkeerde kant van die draad” gebore is? Is dit hoe ‘n liefdevolle God werk wat regverdig oor alle mense oordeel? En wat van die miljoene wat vóór Christus geleef het, of wat ná die koms van Christus nooit die kans gekry het om die evangelie te hoor nie – is hulle ook verlore? Is daar niks goeds van ander godsdienste te sê nie? Werk God se genade nie onder alle mense nie, ongeag of hulle Christene is of nie?

Hierdie vrae stel Christene voor moeilike kwessies, waarvan ons by voorbaat moet sê dat ons hier voor ‘n diepe misterie staan wat nie regtig te deurgrond is nie. Ons sal nie op aarde by glashelder, finale antwoorde uitkom nie.

In die grond van die saak gaan dit oor twee waarhede wat met mekaar in verband gebring moet word. Enersyds bely Christene die universele Heerskap van Christus. Die Bybel leer ons inderdaad dat daar maar een ware God is, dat Hy Hom in Christus geopenbaar het, dat daar slegs een Naam is waaronder mense gered sal word – Jesus Christus – en dat ons die roeping het om van alle nasies sy dissipels te maak.

Andersyds was daar nog altyd in die hoofstroom Christelike denke die oortuiging dat God Hom nie onbetuig laat onder mense nie. Kragtens die feit dat almal na die beeld van God geskape is, is daar inderdaad by alle mense ‘n Godsbesef en die potensiaal tot ware Godskennis en aanbidding aanwesig, maak nie saak wie jy is of binne watter godsdienstige sisteem jy grootword nie.

Die spanning tussen die belydenis van God se finale en unieke openbaring in Jesus Christus en die erkenning van God se algemene maar egte werksaamheid buite Christus om is nie deursigtig of oplosbaar nie. Hierdie spanning sal bly en daarmee moet ons vrede maak.

Dié spanning hoef egter nie ons sendingywer te verlam nie. Dat sendingwerk nie in ‘n vakuum plaasvind nie, maar telkens ontdek hoe God reeds werksaam was waar die evangelie verkondig word, spoor ons juis aan.

Verder, ons werk met die oortuiging dat die Christendom ‘n bewese rekord het. Waar die hart van die evangelie eg aan die werk is, word omvattende redding en genesing gebring. Christene kan daarom hulle belydenis oor God se openbaring in Jesus Christus met oortuiging en onverdun uitleef, maar ook met beskeidenheid, wetende dat die vraag oor wie almal uiteindelik gered word, sy geheim is. Daarvoor moet ons wag tot by die voltooiing van die totale geskiedenis.

God se heilswerk in Christus is universeel, daarom moet dit aan almal uitgedra word. Maar presies hoe Hy die heil in Christus selfs buite Christus om meedeel, is ‘n misterie. Eers aan die einde sal die ware kinders van God aan die lig tree.

Oor God se misterievolle werking onder alle mense en godsdienste, wil ek graag die volgende voorbeeld gee, wat juis in hierdie tye van terreuraanvalle deur Islamgesinde mense ons weer tot besinning dwing oor al ons vooroordele. (Terloops, ware Islam-aanbidders is net so onsteld soos Christene oor hierdie aanvalle wat sogenaamd in die naam van die Islam gepleeg word. Moslemleiers is dit deur die bank eens dat dit nie die hart van Islam verteenwoordig nie.)

Maar die voorbeeld: ‘n Paar jaar gelede het ek die voorreg gehad om na ‘n praatjie van ‘n sekere dr Abuelaish (‘n mediese dokter) te luister. Hy is ‘n Palestyn en oortuigde Moslem wat in die Gasa-strook in Palestina gepraktiseer het. In 2009 het drie van sy dogters in ‘n Israeli tenkaanval op sy huis gesterf, net enkele maande nadat sy vrou aan kanker dood is.

Gegewe die slegte verhouding tussen die Palestyne en Israeli’s sou mens Abuelaish nie verkwalik het as hy wraak gesweer het nie. Dit is immers hoe dit in daardie geweste werk – bloed roep om bloed. Maar presies die teenoorgestelde het gebeur. Die tragiese gebeure het hom na sy Islam-wortels gedryf, en na volhardende gebed en besinning het hy tot die oortuiging gekom dat God hom tot iets beter roep. Hy hoef nie sy lewe met wraak te vergiftig nie, maar hy kan iets anders in die plek daarvan stel: liefdesdiens aan ander. Die beste manier waarop hy die nagedagtenis van sy dogters kan lewend hou, is nie deur te haat nie, maar deur geleenthede aan ander te bied. Hy roep daarom ‘n stigting in die lewe, Daughters for Life, wat beurse toeken aan meisies – waaronder Israeli’s – om hulle lewensdrome te verwesenlik. Hy wy sy lewe aan vergiffenis en naastediens.

Wat dring hom daartoe? Abuelaish glo dat ons grootste vyand nie die ander is nie, maar onkunde. Dis eers wanneer jy die ander ontdek in sy/haar gewone menswees dat begrip daag en nuwe verhoudings moontlik word. Verder, ons ken nie ons eie godsdienstige tradisies nie. Mense maak karikature van hulle eie godsdiens. So pas dit Moslem geweldenaars om net sekere dele van die Koran aan te haal om aanvalle op die “Groot Satan” – die Weste – te regverdig. Dis ‘n soort fundamentalistiese omgaan met jou eie tradisie wat jy eintlik net misbruik om jou eie idees en haat te vergoeilik. Terreur en ongebreidelde haat is egter nie waaroor die Islam gaan nie. Aldus Abuelaish.

Ook binne die Christendom kan groot onkunde heers. Ons klou dikwels verbete vas aan troetelopvattings – hoe skeef dit ook al is – en hou dit voor as Goddelike waarheid, sonder om te vra of dit is wat ons tradisie werklik sê. Daar is soveel onkunde oor wie en wat die Christus van die Christendom is en sê.

As elkeen opreg voor God die beste in sy eie tradisie soek en uitleef, en bereid is om met ander in gesprek te tree, sal ons verras staan hoe ons mekaar as gewone medemense ontdek. Dit beteken glad nie dat ek my identiteit as Christen moet prysgee of dat die uniekheid van die openbaring in Christus in gevaar gestel word nie. Inteendeel. Dit bring juis die besonderse daarvan na vore. Maar terselfdertyd word ook erkenning gegee aan die misterievolle werking van God se Gees wat baie wyer strek as die spesifiek Christelike.

En so verloor die eindelose geredekawel oor wie nou eintlik reg is, sy skerp kante. Die oordeel hieroor kan ons gerus aan God oorlaat. Ten minste weet ons wat ons as Christene aan God het – genoeg om getroos te lewe en te sterwe, en ‘n leeftyd van sinvolle diens aan God en naaste te lewer.

Ek vertrou dat bogenoemde gedagtes darem in ‘n mate help om die misterievolle werking van God se Gees van liefde op aarde te probeer peil.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl

 




Onsterflikheid – Hermie van Zyl

Werner vra:

Ek lei af dat alles wat God skape (minstens engele en mense) onsterflike wesens is, anders kon God bloot die gevalle engele doodgemaak het en net so sou Hy ook mense wat Hom nie kies nie, kon verdelg sonder die nodigheid vir ‘n hel. Is dit waar? Die gedagte dat mense en engele vir ewig en altyd moet bly betaal vir sondes en verkeerde keuses is moeilik om te verwerk in die lig van God wat liefde is. Boonop is daar dan ‘n hel wat vir ewig bewaak moet word. Waarom nie totaal en al net wegdoen met alles wat kwaad is nie?

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Laat ons begin by die gedagte van onsterflikheid. Die Bybel praat nêrens van die mens (of engele) wat onsterflik is nie. Net God is onsterflik (1 Tim 6:16). Van die mens word presies die teenoorgestelde gesê, naamlik dat hy stof en sterflik is (Gen 3:19; Pred 3:20). (Let wel: al die teksverwysings is volgens die 1933/53 Afrikaanse Vertaling.) Die gedagte wat soms die ronde doen dat die mens uit drie dele bestaan – liggaam, siel en gees – waar die liggaam dan sterflik is en tot niet gaan maar die siel darem onsterflik is en vir ewig voortbestaan, is nie ‘n Bybelse gedagte nie.

Daar is baie begrippe wat vir die mens in die Bybel gebruik word, soos siel, liggaam, vlees, gees, hart, ensovoorts, maar dit beteken nie dat hulle die verskillende “onderdele” is waaruit die mens bestaan nie. Dis eerder so dat elkeen van hierdie terme die totale mens beskryf, maar dan ‘n bepaalde aspek van menslike lewe op die oog het. So kan “liggaam” en “vlees” in bepaalde kontekste die konkrete bestaan, broosheid, weerloosheid, sondigheid of sterflikheid van die mens uitdruk (vgl Matt 26:41; Rom 6:12; 7:18; 8:8). “Siel,” “hart” en “gees” kan weer die innerlike lewe of diepste oortuigings van die mens, of die mens in sy verhouding tot God weergee (vgl Ps 42:2-3; Luk 1:46-47).

Wat in die Bybel voorkom in terme van mensbeeld, is dus die gedagte dat die mens ‘n eenheid is van siel, gees en liggaam. Hierdie gedagtegang stem ooreen met wat vandag in die mediese wetenskap algemeen aanvaar word dat die mens ‘n psigo-somatiese eenheid is (= eenheid van siel/gees en liggaam). Dit het natuurlik ook die implikasie dat as die mens sterf, daar nie iets “oorbly” wat darem “onsterflik” is nie. Die mens leef as eenheid van siel, gees en liggaam, en sterf as eenheid van siel, gees en liggaam.

Die punt is: die mens, of “iets” van die mens, beskik nie oor inherente onsterflikheid nie. Net God beskik oor hierdie eienskap. Maar wat wel waar is, is dat die Bybel duidelik sê dat die mens ná sy dood die ewige lewe beërwe of ewig in die hel deurbring. Hierdie lewe ná die dood is nie iets vanselfsprekend of noodwendig weens die inherente kwaliteit van die mens as onsterflike wese nie, maar is so omdat dit deur God aan die mens geskenk of toegedeel word. Ons het egter geen idee hoe hierdie lewe van die mens na die dood lyk nie. Al wat ons weet, is dat die mens (let wel, nie “iets” van die mens nie) ná sy dood óf in gemeenskap met God voortleef óf vir ewig in die hel bestaan. So sê Paulus: “Ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees” (Fil 1:23). Wie/wat is die “ek” van wie Paulus praat? Ons weet nie. Al wat ons weet, is dat daar een of ander kontinuïteit is tussen die totale mens vóór die dood en die totale mens ná die dood. Maar hoe dit presies daar uitsien, weet ons nie aan die duskant van die graf nie.

Hoe dit ook al sy, dit is veral die gedagte aan die mens wat vir ewig in die hel deurbring wat ons as mense wat glo in ‘n liefdevolle en regverdige God teen die bors stuit. Hoe bring ons ‘n ewige hel en straf, wat gepaardgaan met onbeskryflike pyn en ellende (vgl Mark 9:43-44; Luk 16:24-28; Open 20:10), in verband met die God van die Bybel wat sê dat Hy geen behae het in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat hy hom bekeer en lewe (Eseg 33:11), of dat God in Christus Homself met die wêreld versoen het en hulle hulle misdade nie toereken nie (2 Kor 5:19)? Kortom, dit is moeilik om die evangelie van liefde, genade en vergiffenis in verband te bring met ‘n God wat bereid is om mense vir ewig in ‘n plek van pyniging gevange te hou. Getuig dit nie van opperste wreedheid om mense vir ewig in die lewe te hou met die uitsluitlike doel om hulle te pynig en te straf nie?

Dit is nie maklik om ‘n goeie antwoord op hierdie vrae te gee nie. Want enersyds kan ons nie ontken dat die Bybel baie duidelik is oor die hel en die ewige straf nie. Maar andersyds moet ons erken dat ons hier met oënskynlik innerlike teenstrydighede in die wese en karakter van God te doen het waarmee ons vanuit ons huidige begrip van die evangelie worstel en waarmee ons nie heeltemal vrede het nie. Daarom is dit geen wonder nie dat baie teoloë vandag heeltemal afsien van die gedagte van die hel. Hulle maak die hel af as elemente in die Bybel wat eerder iets weergee van die antieke lewensgevoel en siening van die lewe as dat dit iets sê van hoe God werklik is.

Ons moet onthou dat die Bybel ook ‘n menslike kant het. Daarmee word bedoel dat die openbaring in die Bybel oor wie God en die mens is, ook deur die kanaal van menslike oorlewering geskied het. Die konteks waarin die Bybel ontstaan het, het sy afdruk gelaat op die kennis oor God en sy wil wat ons in die Bybel het. Daarom is daar ook progressie in die Bybel oor bepaalde sake. Neem byvoorbeeld die gedagte van die opstanding. Mens soek tevergeefs in die Ou Testament na iets soos ‘n algemene opstanding uit die dood. Dis ‘n konsep wat eers werklik in die tussen-testamentêre tydvak ontwikkel het, en dan veral in die Nuwe Testament nuwe betekenis kry na die opstanding van Jesus uit die dood. Laasgenoemde gee dan ook nuwe betekenis aan die idee van “lewe na die dood”. So is daar baie ander sake (soos God as Drie-enige God, of die heilige oorlog-gedagte in die Ou Testament wat God die aanhitser tot wreedhede maak, om nie meer te noem nie) wat mens sou kon noem om te sê dat die Godsopenbaring in die Bybel oor tyd heen bepaalde ontwikkelinge en selfs veranderinge ondergaan het.

Dieselfde kan ons ook sê oor ons verstaan van die Bybel die afgelope 1700-2000 jaar sedert die afsluiting van die kanon. Ons denke oor God vanuit ons studie van die Bybel bly nie staties nie. Daar is uiteraard kontinuïteit met die sentrale boodskap van die Bybel, maar daar is ook insigte en gedagtekomplekse oor God wat vandag anders lyk as dié van ons voorgeslagte. Een hiervan is juis die gedagte van hoe liefde en regverdigheid mekaar balanseer in die wese van God. Die antieke mens het makliker vrede daarmee gehad dat uiterste liefde (soos geopenbaar in die handelinge van God in Jesus Christus) en uiterste “wreedheid” wanneer oor die straf van die goddeloses gedink word, mekaar nie noodwendig uitsluit nie. Maar ons moderne lewensgevoel het nie heeltemal vrede hiermee nie. Ons het tot by ‘n punt in ons denke oor God gegroei wat dit moeilik maak om met hierdie – vir ons –teenstrydighede in ons Godsbeeld saam te leef.

Tog bly ons met die probleem van die kwaad en die bose in ons midde worstel. Want dat daar dinge gebeur wat ten hemele skrei en roep om vergelding, kan niemand oor stry nie. Gaan God dit maar net oorsien, of gaan Hy dit op een of ander manier “wreek”? Want dat God geen vrede het met sonde en boosheid nie, staan soos ‘n paal bo water. Dit het nie ‘n plek in sy koninkryk nie. Die Bybel leer immers – en dit kan ons as evangelie aanvaar – dat God met sy skepping op pad is na ‘n eindbestemming waar net liefde en geregtigheid sal heers (2 Pet 3:13).

Die vraag is net wat van al die mense wat oor die millennia van die mens se bestaan die wil van God verkrag en onnoembare leed aan ander veroorsaak het. Wat word van hulle? Ons is hieroor verleë, gewoon omdat ons nie werklik weet wat ná die dood gebeur nie. Ons kan eintlik maar net (verantwoordelik) hieroor spekuleer. Dalk wórd die bose eenvoudig vernietig. Dalk word daar ‘n nuwe proses van straf, groei, smeek om en gee van vergiffenis aan die gang gesit waarvan ons nou nog geen begrip het nie. Al wat ons eintlik maar net weet – en dis wat die gedagte van “ewige hel” in die Bybel wil oordra – is dat volhardende en verhardende sonde en boosheid ernstige implikasies vir die doener daarvan inhou. God het nie vrede daarmee nie. Maar hoe Hy presies daarmee “vir ewig” gaan handel, sodat dit ook op een lyn gebring kan word met die hart van God as een van liefde en regverdigheid, kan ons nie nou deurgrond nie. Al wat ons kan doen, is om hier en nou aan mense – en onsself – die liefde en vergiffenis van God in Jesus Christus maar ook sy regverdige oordeel oor mense – ook oor ons – te verkondig en die erns van ons keuses hier op aarde te onderstreep.

Hieraan kan ons vashou: God sal uiteindelik regverdig oordeel en handel, op ‘n manier wat in ooreenstemming is met sy wese as liefde

Skrywer:  Prof Hermi van Zyl