2 Johannes – Lewe in waarheid en liefde (1-13) – Inleiding – Francois Malan

2 Johannes volg waarskynlik op 1 Johannes, wat op die Evangelie volgens Johannes gevolg het, en is deel van die geskiedenis van die gemeentes in en om Efese:
Die Evangelie het ‘n breuk in die Efese gemeentes begin sien. Die Joodse belydenis van een God (Deutr. 6:4) was vir sommige Joodse Christene ‘n struikelblok om Jesus as God te aanvaar; Grieke het baie gode gehad en het nie ‘n probleem met Jesus se godheid gehad nie, maar met sy liggaamlike mensheid. Die Grieke het geglo die liggaam is die tronk van die mens se ewige siel. Vir sommige Griekse Christene was die mens Jesus se lydig en opstanding ‘n struikelblok. Elke hoofstuk in die Evangelie beklemtoon Jesus se godheid (vgl Jn 1:1-3, 20:28) en deurgaans word Hy as ware mens beskryf (vgl. Jn 1:14; 20:27).
Toe 1 Johannes geskryf is het die breuk begin, in 2 Johannes het sommiges reeds die gemeentes verlaat, en 3 Johannes getuig van die spanning in die gemeentes.

1 Johannes se vier voorwaardes van lewe in die lig as kinders van God word weerspieël in 2 Johannes: afstand doen van sonde (vv10-11), gehoorsaamheid aan die liefdesgebod (5-6), afstanddoen van wêreldsgesindheid (7), volhard in die geloof (1-2,4,9). In verse 10-11 word ook ‘n nuwe tema ingebring. Die doel van die brief is om die liefdesgebod by die gemeente in te skerp, en hulle te waarsku teen dwaalleraars.

Soos ‘n tipiese Griekse brief begin die brief met die skrywer, die lesers, en ‘n groete in 1-3.

1 ‘Die Oudste, aan  die uitverkore vrou en haar kinders…’ anders as Paulus, gee die skrywer nie sy naam nie, maar sy amp, en gebruik ‘n woord (ho presbuteros) wat beteken  ‘die ou man,’  wat die betekenis van leier (ouderling) van ‘n gemeente gekry het in die Ou Testament en in die Nuwe Testamentiese gemeentes. Uit die brief blyk dit dat hy verantwoordelik is vir die gemeentes wat met Johannes geassosieer word in en om Efese. Hy was moontlik een van die groep volgelinge van Johannes wat verantwoordelik was vir die skrywe van die Evangelie en die drie briewe wat Johannes se naam dra. Hy noem homself egter nie ‘n apostel nie, en is daarom mikien nie die apostel Johannes self nie. Sommige verklaarders meen egter ‘Oudste’ is ‘n eerbiedvolle naam vir die apostel Johannes in sy oudag.

‘mevrou/dame… ’ (kuria) ‘n term van respek wanneer ‘n vrou aangespreek word of oor haar gepraat word. Hier word dit gebruik sonder dat ‘n naam gegee word. ‘Uitverkore dame’  het nie ‘n bepaalde lidwoord nie, en die algemene karakter van die brief wys dat die brief aan ‘n gemeenskap geskryf is oor hulle probleme, eerder as aan ‘n persoon of ‘n familielid. Die nuwe gebod (v5), wat verwys na Jesus se nuwe gebod aan sy dissipelsgroep as verteenwoordigers van  sy kerk (Jn 13:34), veronderstel eintlik dat die brief aan ‘n gemeente geskryf is. In Jes 54 word Israel en Jerusalem beskryf as ‘n vrou (vgl. Hosea 2:18 Israel as God se bruid; Gl 4:25 die slavin Hagar as beeld van die Jerusalemslawe van die wet) en in 2 Kor 11:2 word die kerk beskryf as die bruid van Christus.

‘…en haar kinders…’ verwys na al die gemeentelede van een van die huiskerke in Efese en omgewing. Vers 13 sê ‘die kinders (tekna) van jou uitverkore suster…’ Dit verwys waarskynlik na ‘n ander huiskerk in Efese en omgewing. Die naamloosheid van die skrywer en ontvangers van die brief is moontlik ‘n veiligheidsmaatreël in ‘n tyd toe die kerk van koning Jesus onder verdenking van die Romeinse koning/keiser, sy administrasie en kultus was. Gemeentelede word in 1 Jn as kinders (tekna) van God, of as ‘uit God geborenes,’ beskryf (3:1,2,10; 5:2). Die Nuwe Testament sien die gelowiges as God se ‘uitverkorenes’ (Mt 22:14; 24:31; Rm 8:33; Op 17:14).

‘…wat ek in waarheid liefhet…’ ‘ek’ word beklemtoon teenoor die dwaalleraars wat geen liefde vir die waarheid het nie (10,11). ‘die waarheid’ verwys in laaste instansie na God wat die waarheid is, soos Hy deur Jesus geopenbaar is. Die skrywer het sy lesers lief op die manier wat ooreenstem met die waarheid van die evangelie, wat wedersydse liefde sien as ‘n uitvloeisel en verpligting van ons geloof in die God wat sy liefde in Jesus se woorde en optrede geopenbaar het.

‘…en nie net ek nie, maar ook almal wat die waarheid leer ken het.’  Die oudste is nie alleen in sy liefde vir hulle nie. ‘Almal wat die waarheid ken’ is die ortodokse gelowiges in die Johannese gemeentes, teenoor die lidmate wat begin wegdwaal van die regte leer oor God. Om die waarheid te ken beteken om die boodskap oor Christus te aanvaar en jou toewyding aan Hom in liefde uit te lewe. Die werkwoord ‘ken’ is in die voltooide tyd, wat beteken dat jy God in Christus leer ken het, en nou volgens daardie kennis van God lewe.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Landbou – Interessante Bybelgedeeltes – Hennie Stander

Interessante Bybelgedeeltes

‘n Volmaakte offerande

Numeri 19:2. Die Wet het bepaal dat slegs ‘n koei wat nog nooit ‘n juk opgehad het nie, toegelaat was om as ‘n offerande gebring te word. Die rede hiervoor was omdat die offerkoei nog jonk en vol krag moes wees en ook nog nooit ongewyde werk moes verrig het nie (1 Samuel 6:7; Deuteronomium 21:3).

 

Swaarde tot ploegskare

Joel 3:10. Joel praat van mense wat hulself vir die oorlog gereedmaak en swaarde maak van hul ploegskare en spiese van hul snoeiskêre. In Jesaja 2:4 en Miga 4:3, daarenteen, word daar weer van vredestyd gepraat waar die mense ploegskare smee van hul swaarde en snoeiskêre van hul spiese. Metaal was so skaars in daardie tyd dat dit dikwels nodig was om implemente te omskep tot ander gebruiksvoorwerpe.

 

Lewensiklus van vyebome

Hooglied 2:13; Mat 21:19. Dit is nie altyd moontlik om presies te bepaal na watter fase van die vyeboom se lewensloop verwys word nie. In Hooglied 2:13 is die verwysing waarskynlik na die voorvye omdat hulle ryp is in dieselfde tyd as wat die wingerd bot. Jesus, weer, het waarskynlik vir die laat wintervye gesoek wat moontlik nog aan die boom kon wees, of dalk vir die eerste voorvye. Die feit dat die boom blare gehad het, was ‘n teken dat dit vye kon dra. Watter vye dit ook al was wat ontbreek het, dit was nogtans duidelik dat hierdie boom onvrugbaar was en nie ‘n hoofoes sou gee wanneer dit die tyd daarvoor was nie. Jesus het die boom se nutteloosheid onderstreep deur dit te laat doodgaan.

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Landbou(12) – Hennie Stander

Vyebome

Vye is as een van die seëninge van die Beloofde Land voorgehou (Deutero­nomium 8:7-9). Die manne wat deur Moses uitgestuur is om Kanaän te gaan verken, het onder andere vye met hulle saam teruggebring (Numeri 13:23). Vyebome is van groot waarde geag vanweë hul vrug, maar ook vir die skadu wat hul gemaak het. Dit was derhalwe altyd lekker om onder ‘n vyeboom te kon sit (1 Konings 4:25; Sagaria 3:10). Toe Jesus vir die eerste keer vir Natanael ontmoet het, het laasgenoemde juis onder ‘n vyeboom gesit (Johannes 1:48). Maar die vyeboom het ook gedien as ‘n simbool van sekuriteit en voorspoed: Elke man sal onder sy eie wingerd sit, ongesteurd onder sy eie vyeboom. Ook die omgekeerde hiervan is waar aangesien die afval van vye en die vernietiging van die vyeboom altyd gesien is as ‘n aanduiding van die oordeel van God (Jesaja 34:4; Jeremia 5:17; 8:13; Hosea 2:11; Joel 1:7). Vyebome is soms ook in wingerde geplant (Lukas 13:6-9). Indien die boom toegelaat is om uit te groei, kon dit tot 10 meter hoog word, maar indien dit op rotsagtige grond geplant was of gereeld teruggesny is, is dit tot ‘n bos beperk.

vyeboom

Adam en Eva het die blare van ‘n vyeboom gebruik om hulself te bedek (Genesis 3:7). Die blare het aan die einde van die lente (die einde van April) begin uitkom en was dus ‘n teken dat die somer net om die draai .was (Matteus 24:32). Die vyeboom het twee tot drie keer per jaar vrug gedra en daar kon vir byna tien maande in ‘n jaar vye van die boom gepluk word. Die eerste vye (Hosea 9:10) was in Junie ryp, maar die hoofoes was eers in Augustus gereed. Daar was daarna ook n kleiner oes van wintervye wat tot in die lente kon hou. Die vye is geëet terwyl dit nog vars was, of dit is gedroog (1 Samuel 25:18) of vyekoeke is daarvan gemaak (1 Kronieke 12:40). Daar is geglo dat die warm pap van vyekoeke genesende krag gehad het, en Jesaja het byvoorbeeld opdrag gegee dat dit op Hiskia se sweer geplaas moes word (2 Konings 20:7; Jesaja 38:21).

 

Wilde-vyeboom

Nog ‘n soort vrugteboom, wat baie nou verwant is aan die vyeboom, was die wilde-vyeboom. Die vrug daarvan lyk soos klein vytjies-dit is soet maar is tog nie so goed soos die ware vye nie. In Dawid se tyd was daar so baie wilde-vyebome dat by dit selfs nodig geag het om ‘n amptenaar aan te stel om oor hierdie borne toesig te hou (1 Kronieke 27:28). Die takke van hierdie boom is sterk en wyd en dit het baie dwarstakke. Hierdie immergroen boom was dus ‘n ideale boom om in te klim en dit was juis in so ‘n boom waarin Saggeus geklim het toe Jesus horn gevra het om of te klim sodat Hy by hom kon gaan eet (Lukas 19:1-4). Ook hierdie boom kon omtrent tien meter hoog word en hulle is gekweek vir hul hout, wat ‘n mooi ligte kleur het en baie lank hou.

Voorts was die wilde-vyebome van ekonomiese belang met die gevolg dat toe Egipte hulle wilde-vyebome deur ryp verloor het, is dit as ‘n ramp beskou (Psalms 78:47). Ons lees dat Amos nie net ‘n veewagter was nie, maar ook ‘n kweker van wilde-vyebome (Amos 7:14-15). Die Hebreeuse woord wat hier vir “kweker” gebruik word, beteken eintlik “om te prik”. Dit was die gebruik om hierdie vruggies to prik terwyl hulle nog groen was sodat hulle van hul bitterheid ontslae kon raak en lekker sappig kon wees wanneer hulle ryp geword het.

 

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Landbou(11) – Hennie Stander

Olyfolie

Groot sorg is aan die dag gele om die olyfolie te suiwer. Daarna is dit in kruike en leersakke gebêre. Olyfolie is soos botter en kookvet gebruik en was ‘n belangrike bestanddeel van die daaglikse dieet (vgl Esegiël 16:13). Dit het ook deel van die spysoffer uitgemaak (Levitikus 2:1). Voorts is dit as brandstof vir lampies gebruik (Matteus 25:3,4) en verder is dit met soda gekook sodat seep daarvan gemaak kon word. Olyfolie is in die vel, ingevryf om dit te laat blink en ook is die hoofde daarmee gesalf om die hare te laat blink.

Moontlik was dit juis die skoonheid wat deur’ hierdie olyfolie teweeggebring is, wat veroorsaak. het dat dit ook in die godsdienstige lewe ‘n belangrike plek ingeneem het. Voorwerpe wat aan God se diens toegewy is, is met olie gesalf, d.w.s. met olie gevryf. Daarom is ook profete (1 Konings 19:16), priesters (Levitikus 8:12), en konings (1 Samuel 16:13; 1 Konings 1:34) almal met olie gesalf omdat hulle spesiaal toegewy was vir diens tot God. Hierdie rituele gebruik van die olie was so belang­rik dat dit as ‘n ernstige oortreding beskou is om gewyde salfolie vir alledaagse gebruik aan te wend (Eksodus 30:32-33). So ‘n salwing van persone het ingehou dat ’n bietjie olie op die kop gevryf is. Die persoon wat sodanige salwing ontvang het, was in ‘n gesagsposisie en die nodige respek moes aan hom betoon word (1 Samuel 24:6-7): Die profeet het tot die mense gespreek oor dit wat hy van God verkry het; die priester het die volk voor God verteen­woordig, en die koning het die Wet van God tot stand gebring.

Ook die woord Messias is afgelei van ‘n Hebreeuse woord wat “salf” beteken en dit kan dus met Gesalfde” vertaal word. Jesus Christus was terselfdertyd profeet, priester en koning. Hierin is daar baie simboliek vervat. Verder is olyfolie geas­sosieer met ‘n geskenk van God en met Sy uitstor­ting van die Gees: Jesus het ook gesê dat die Gees van God op Hom was omdat die Here Hom gesalf het (Lukas 4:16-21; Jesaja 61:1).

‘n Persoon is aan God toegewy deur hom te salf omdat dit geglo is dat die olie van God afkomstig was en die handeling self is gesien as ‘n voorberei­ding tot die diens van God. Daar staan geskryf dat Christene die salwing van die Gees ontvang het (1 Johannes 2:27).

Maar olie is ook vir die genesende krag daarvan gebruik. Toe die Barmhartige Samaritaan die man, wat deur rowers aangeval is terwyl hy op pad van Jerusalem na Jerigo was, gehelp het, het hy olie en wyn op sy wonde gegooi (Lukas 10:34). Moontlik is dit juis hierdie genesende karakter van olyfolie wat gemaak het dat dit simbolies gebruik is as teken van goddelike genesing. Wanneer daar iemand onder die vroeë Christene siek was, moes die mede-gelowiges vir die siek persoon bid en horn met olyfolie salf (Jakobus 5:13-16). Ander persone glo weer dat die salwing van siekes ‘n simboliese handeling was om aan te toon dat die persoon aan God gewy word of aan Horn oorgegee word sodat God vir hom kon Sorg. In Markus 6:13 lees ons dat toe Jesus die dissipels twee-twee uitgestuur het, het hulle die siekes met olie gesalf en hulle gesond gemaak.

Verder is die olyfolie ook gebruik om skilde mee te olie (2 Samuel 1:21) om te voorkom dat die leer kraak. Dit het dieselfde funksie vervul as wat skoenpolitoer vandag doen.

Skrywer:  Prof Hennie Stander