Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Landbou(5) – Hennie Stander

Oestyd

Die vlas is in Maart en April geoes deur die stingels daarvan met ‘n skoffel teen die grond of te sny. Sodra dit afgehandel is, was die gars gereed om geoes te word. Die koring is afgesny met ‘n sekel-‘n halfmaanvormige werktuig, met ‘n skerp snykant aan die binnekant, wat in die hand gehou word. In die vroeë tye is die implement van hout gemaak, of selfs van ‘n groot kakebeen van ‘n dier, terwyl vuurklippies al langs die binnekant geplaas is om ‘n snykant te vorm. In latere jare is metaal­sekels gemaak (Jeremia 50:16; Joel 3:13).

Die stingels is dikwels hoog bo afgesny terwyl die res van die plant vir weidoeleindes in die grond gelaat is. Die koringare wat afgesny is, is in gerwe gebind (Genesis 37:7; Psalm 129:7) en op donkies (Genesis 42:26-27) of op ‘n wa gelaai om weggeneem te word sodat dit gedors kon word. Gewoonlik het ‘n hele groep snyers saam op een land gewerk. Hulle het egter nooit die hoeke van die lande afgeoes nie omdat dit vir die armes gelaat moes word (Levitikus 23:22). Verder is die armes ook toegelaat om agter die snyers aan te loop om te kon optel wat die snyers moontlik laat val het (Deuteronomium 24:19-22). Die verhaal aangaande Rut speel juis teen so ‘n agtergrond af. Die eerste dag wat sy op Boas se land are gaan optel het, het dit wat sy opgetel het, nadat sy dit uitgeslaan het, byna dertien kilogram geweeg (Rut 2:17).

vrouoes

‘n Arabiese vrou sny koring of met behulp van ‘n sekel in haar hand.

Die koring was al baie droog wanneer dit geoes is en dan was daar groot gevaar van brand (sien Eksodus 22:6). Hierdie gevaar is dikwels in oorlogstye deur die vyand uitgebuit omdat hulle daardeur onder andere hul vyand van belangrike lewensmiddele kon beroof (sien Rigters 6:1-6; 15:4-5).

Dorsery

Die koring en die kaf is eers op die dorsvloer van mekaar geskei. Enige harde kompakte oppervlakte kon as ‘n dorsvloer dien. Soms is ‘n gladde rotsoppervlak gebruik. Ander kere weer is ‘n stuk grond. herhaaldelik met klei bedek en vasgetrap om op so ‘n wyse ‘n hardeoppervlakte to vorm. Die boer het sy graan na so ‘n dorsvloer geneem om dit daar te dors. Hy was dan egter ook verplig om dwarsdeur die nag by sy graan wag te hou en ons lees dat Boas by die dorsvloer geslaap het – moontlik om diefstal te voorkom (sien Rut 3). Vender lees, ons ook in die Skrif van die dorsvloer van Nakon (2 Samuel 6:6 ev) en van Arauna (2 Samuel 24: 18-25).

In die geval van klein hoeveelhede koring, is die koring gewoonlik gedors deur dit met die hand of met ‘n dorsstok (n Lang buigsame stok) te slaan. Dit is ook die proses wat Rut gebruik het (Rut 2:17). Gideon het dieselfde gedoen toe by die klipbodem van ‘n parskuip gebruik het (Rigters 6:11). .

Die ander metode om graan te dors was met behulp van beeste of osse. ‘n Paar beeste is aanmekaar gejuk en die juk is dan aan n regop paal in die middel van die dorsvloer vasgemaak. Hulle is deur iemand al in. die rondte voortgedryf, en hulle hoewe het dan die res gedoen (vgl Hosea.10:.11), Die Wet het bepaal dat osse nie gemuilband moes wees wanneer hulle graan dors nie sodat hulle kon eet wanneer hulle wou (Deuteronomium 25:4). In die Nuwe Testament word daar juis na hierdie beginsel terugverwys wanneer daar aangevoer word dat bedienaars van God se Woord wel toegelaat is om van die opbrengs van hul bediening te leef (1 Korintiërs 9:-7-9; 1 Timoteus 5:18).

Op ‘n later stadium is die dorsslee ontwerp wat die osse agter hulle aan gesleep het soos wat hulle dit met ‘n ploeg sou doen. So ‘n slee is van lang planke hout gemaak wat langs mekaar geplaas is. Onderaan die bodem van die slee is daar dan skerp tande van klip, metaal of basalt vasgemaak wat die graan stukkend gesny het (vgl. Job 41:21). Die dorsslee is heen en weer oor die graan getrek en dit was ‘n veel gouer manier om die werk gedoen te kry. In Jesaja 41:15 word daar juis na so ‘n skerp en ‘n ruwe dorsslee met baie tande verwys. Later is selfs ‘n meer gesofistikeerde dorsslee ontwerp waar getande rollers of wiele die graan fyn gekerf het. Die graan het dan deur die strooi tot op die harde oppervlakte geval terwyl die strooi op hierdie wyse opgekap is. Laasgenoemde is dikwels as voer vir die vee gebruik.

Koring word gedors deur gebruik te maak van ‘n sift wat deur twee osse getrek word.

dors

Koring word gedors deur gebruik te maak van ‘n slee wat deur twee osse getrek word.

In Jesaja 28:27 skryf die profeet dat die verskillende oeste verskillende prosesse moes deurgaan: “Want swart komyn word nie met die slee gedors nie, en die wawiel word nie oor komyn gerol nie; maar swart komyn word uitgeslaan met ‘n stok en komyn met ‘n hout.”

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Landbou(3) – Hennie Stander

Graangewasse

Die twee belangrikste graansoorte was koring en gars, maar sorghum en spelt is ook verbou (Eksodus 9:32; Esegiël 4:9). Koring het in die Filistynse kusvlaktes, naamlik die Jordaanvallei en die Jisreëlvallei, gegroei. Gars kon in armer grond verbou word en dit het ook ‘n korter groeiseisoen nodig gehad, maar ‘n oes daarvan was nie soveel werd as ‘n koringoes nie.

Die siklus van graanproduksie het begin wanneer die vroeë reëns in Oktober/November gekom het en dit die grond genoegsaam sag gemaak het sodat dit bewerk kon word. Die reën het daarna met tussenposes geval en dit was veral swaar in die winter. Joël praat van die “vroeë reën” en die “laat reën” (Joel 2:23). As dit nie reën nie, bak die son die grond hard en dan kon boere nie die ploeg gebruik nie (Jeremia 14:4). Dit was harde werk om te ploeg veral omrede die winterreëns swaar en koud was, en hulle wat van die ploeëry weggeskram het, moes derhalwe geen oes verwag het nie (Spreuke 20:4).

Ploeëry

Daar is dikwels gelyktydig gesaai en geploeg. Die graan is uit ‘n oop mandjie geneem en dan rondgestrooi. Die saad in die mandjie is dan weer aangevul uit ‘n sak wat op die rug van ‘n donkie vasgemaak was. Die saad het nie altyd eweredig verspreid geval nie en baie saad het ook verlore gegaan omdat dit op verkeerde plekke geval het. Jesus se verhaal oor die saaier is juis rondom hierdie feite gebou (Matteus 13:3-23). Vervolgens is die saad in die grond ingeploeg sodat die voels dit nie kon oppik nie (vgl Matteus 13:4). Die Babiloniërs en die Assiriërs het egter ‘n soort saaimasjien ontwerp wat baie meer spaarsamig met saad gewerk het. Dit het bestaan uit ‘n saadtregter wat aan ‘n ploeg vasgemaak is.

n Ander metode van ploeg en saai was om eers die grond te ploeg en daarna die saad te saai. Dit het dan meegebring dat daar vir ‘n tweede keer geploeg moes word reghoekig met die eerste vore, ten einde die saad te bedek. ‘n Alternatiewe metode om die saad te bedek (en die grond te “eg”), was om ‘n groot bos agter ‘n span osse aan to sleep.

Gewoonlik is beeste vir die ploegwerk gebruik en wanneer ‘n bul gebruik is, is dit gekastreer. Die Wet het egter verbied dat ‘n mens ‘n bees en ‘n donkie saam voor ‘n ploeg inspan (Deuteronomium 22:10), waarskynlik omdat daar dan oneweredig getrek sou word en dit sou die swakker dier laat swaarkry. Die voorskrif in 2 Korintiërs 6:14 wat enige vennootskap tussen gelowiges en ongelowiges verbied het (“Moenie met ongelowiges in dieselfde juk trek nie”) was nie bloot ter wille van eksklusiwiteit nie. Die eintlike rede was omdat God geweet het watter swaarkry dit vir die gelowige kan veroorsaak.

Die ploeë kon egter nooit diep ploeg nie en dit het bloot die oppervlakte van die grond gekrap tot nie dieper as 7-10 cm nie. Die rede waarom die man wat ploeg nie agtertoe moes kyk nie (Lukas 9:62), was nie omdat by dan nie reguit kon ploeg nie. Die rede was bloot dat hy al sy aandag aan sy werk moes gee deur die ploeg deurentyd hard of te druk om sodoende diep te kon ploeg. Voorts moes by ook baie oplettend wees en moes by voortdurend op die uitkyk vir klippe en rotse wees, aangesien dit sy ligte werktuig kon beskadig. Omdat sy ploeg so lig was, kon hy dit egter maklik oor ‘n hindernis lig.

Die grootte land wat ‘n span beeste op een dag kon ploeg het later ‘n standaard meeteenheid geword (1 Samuel 14:14). Daar is egter dikwels in groepsverband geploeg. So lees ons onder andere dat Elisa saam met elf ander mense besig was om te ploeg met 12 paar osse toe Elia horn vir die profetiese bediening geroep het (1 Konings 19:19).

ploeery

‘n Bedoeienboer gebruik ‘n donkie om sy ploeg te trek

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Landbou(2) – Hennie Stander

Die Gezer Kalender

Teen die tyd dat die Joodse volk Kanaän ingeneem het, was die landbou aldaar reeds goed gevestig. In Gezer is daar ‘n tablet gevind waarop ‘n seun sy skooloefening gedoen het en wat handel oor dit wat ‘n boer regdeur die jaar moes doen (sien ook die foto):

landboutabel

Aangesien elkeen op sy eie land ook skape en beeste aangehou het, kan daar inderdaad van ‘n selfonderhoudende en ‘n gemengde boerderysisteem gepraat word. Hierdie toedrag van sake het egter reeds vroeg tydens die Joodse koningskap verander, aangesien grond deur die adellikes bekom is ten koste van die oorspronklike boere. ‘n Sisteem van koninklike huurders het ontstaan, en bestuurders is aangestel om toesig te hou oor wingerde, olyfboorde, graanskure en beesboerdery (sien 1 Samuel 8:14). Die profete het hulle stem verhef teen die inpalming van grond wat ten koste van die armes geskied het (Jesaja 5:8) en Nehemia het bepaal dat die eiendom aan hul oorspronklike eienaars teruggegee moes word (Nehemia 5). Hierdie situasie het daarna onveranderd so gebly totdat die land deur die Griekse, en Romeinse leërs verower is. Daarna het dit weer moontlik geword om grond te vergaar (vgl Lukas 12:18-19).

Ons sal vervolgens, aan die hand van die skoolseun se kalenderoefening, kyk na sommige van die produkte wat gekweek is.

GezerKalender

Die Gezer Kalender-hierdie is ‘n skoolseun se oefening wat hy op ‘n tablet geskryf het en waarin hy aantekeninge gemaak het oor die werk wat ‘n landbouer regdeur die jaar moet doen.

 

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Landbou(1) – Hennie Stander

Toe die Joodse volk Kanaän ingeneem het en begin het om weer landbou te beoefen, na hul seminomadiese lewe van veertig jaar in die woestyn, het hulle ‘n bedryf opgeneem wat hulle vroeër honderde jare lank beoefen het. Verder was die nuwe land wat hulle betree het, besonder ryk aan plantelewe. Ook in Ur van die Chaldeërs, waarvandaan Abraham gekom het, was daar ‘n gesonde landbousisteem wat in stand gehou is deur watervore uit die rivier en landbou-implemente soos ploegskare en sekels van klip. Met hierdie tegnologie is die Chaldeërs in staat gestel om twee keer per jaar oeste op hul lande te hê.

Maar landbou was ook in Egipte ‘n bekende bedryf. Elke jaar het die Nylrivier sy walle oorstroom en die land met fyn rivierslik bedek wat die grond vir die volgende jaar verryk het. Die water is uit die Nylrivier geskep en is dan in slote gegooi met behulp van ‘n sjadoef. ‘n Sjadoef is ‘n soort waterpomp wat bestaan uit ‘n emmer wat aan die een punt van ‘n lang houtbalk hang. Aan die ander punt is ‘n swaar gewig wat die emmer water uit die rivier na hoërliggende dele hys. Soms moes daar van ‘n hele reeks sjadoefs gebruik gemaak word om die lande te besproei wat uitermatig hoog geleë was.

waterskep

Selfs vandag nog besproei boere hulle lande deur water uit die Nylrivier te skep met behuip van ‘n sjadoef of ‘n swaaitoestel.

 

Kanaänitiese landbou

Die wyse van besproeiing in Kanaän het heeltemal van bogenoemde metode verskil. In Kanaän het die sukses van die boerdery nie van die styging van die watervlakke van groot riviere afgehang nie, maar van winterreëns wat van jaar tot jaar gewissel het en verder was dit ook nodig om water op te gaar. Moses het derhalwe die Joodse volk daarop gewys dat die klimaat geheel en al van God se voorsienende sorg afgehang het: “Die land wat julle in besit gaan neem, is nie soos Egipte waar julle vandaan kom nie, waar julle julle saad gesaai het en wat julle dan met baie moeite natgelei het asof dit ‘n groentetuin is. Die land wat julle in besit gaan neem, is ‘n land met berge en vlaktes en word nat gemaak met reënwater” (Deuteronomium 11:10-11). As hulle egter God dien, sal Hy vir hulle reën gee op die regte tyd (Deuteronomium 11:13-14). Omdat landbou wat geheel en al van reën afhanklik is, eintlik baie riskant is, het die Kanaänitiese volk hul tot Baäl gewend om hulle grond vrugbaar te maak en vir hulle reën te gee.

Wisselvallige watervoorrade was egter nie die enigste faktore wat die landbou in Kanaän riskant gemaak het nie. Die warm woestynwinde van die suidooste het alles wat gegroei het, geskroei (Jona 4:8; Lukas 12:55). n Ander ernstige probleem was sprinkaanplae. Verskillende soorte sprinkane het in groot swerms getrek (sien Rigters 6:5; 7:12) en alles wat groen is, verslind. In Joël 2 is daar ‘n beskrywing van ‘n verskriklike swermplaag en word dit as ‘n beeld gebruik vir wanneer die dag van die Here aanbreek. Dit was juis ook ‘n sprinkaanplaag waarmee God vir die Egiptenare getref het om hulle te oorreed om “My volk te laat gaan” (Eksodus 10:13-15). Wanneer die sprinkane aangekom het, het hulle soos ‘n leërorde gelyk (Spreuke 30:27). Op ‘n koue dag het hulle egter bly sit en eers gevlieg wanneer die son opgekom het (Nahum 3:17). Verder het die Jode ook met gronderosie te kampe gehad terwyl hulle in Kanaän was. Die winterreëns het dikwels die boonste grondlaag teen die heuwels afgespoel. Keerwalle moes gebou word om dit te voorkom.

Landbou is natuurlik die eerste bedryf wat in die Bybel genoem word. Die eerste taak wat aan die mens opgelê is, was om die grond te bewerk (Genesis 2:15), en dit het ook die mens se taak gebly nadat by die paradys verlaat het (Genesis 3:23). Boerdery het begin toe dit by die antieke mens opgekom het dat, in plaas van wilde graansoorte en groente te soek en bymekaar te maak, dit makliker sou wees om die sade te versamel en op een plek te saai. Met die ontwikkeling van die landbou-implemente en die besproeiingstegnieke het die landbou vinnig gevorder.

Skrywer:  Prof Hennie Stander