Die Eerste Brief van Johannes: Die eerste vereistes vir kinders van God – breek met die sonde (3:6) – Francois Malan

Sondig nie meer nie! (3:6)

3:6 ‘elkeen wat in Hom bly, sondig nie meer nie (die werkwoord ‘sondig’ is in die teenwoordige tyd wat voortduur aandui: lewe nie voort in die sonde nie). Dit is die logiese gevolg van wat in vers 5 van Jesus gesê is – Hy is sondeloos en wie in Hom bly is ook sonder sonde. Maar in 1:6,8 het Johannes gesê dat as ons sê dat ons aan Hom verbonde is/gemeenskap het en tog in die duisternis lewe, lieg ons en leef ons nie volgens die waarheid nie.

Jn 3:18 sê: wie in Jesus glo, word nie veroordeel nie; 8:24 voeg by: het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan; in Jn 13:10 sê Jesus vir Petrus: ‘Iemand wat gebad is, het nie nodig dat iets anders as sy voete gewas word nie, omdat hy reeds heeltemal skoon is, en julle is skoon…..’ Die dwalendes het daarom gesê dat hulle reeds sonder sonde is. Johannes wys daarop dat ‘n lewe sonder sonde die regte implikasie is van wedergeboorte deur God, en daarom ‘n verpligting wat op die gelowige rus om sonder sonde te lewe, in die wete dat hy/sy tekortskiet aan die vereiste om sonder sonde te lewe. 1 Jn 2:1: wanneer iemand sondig (verlede tyd wat ‘n daad aanwys: ‘n sonde gedoen het), het ons Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader.

Luther het gesê die christen is tegelyk geregverdig en sondaar (simul justus et peccator). Soos Jesus en deur Hom, is ons in staat om nie te sondig nie. Maar anders as Jesus val ons, en is ons in die huidige ou bedeling nog nie ten volle instaat om nie te sondig nie. Hier in 3:6 en 9 praat Johannes van ons moontlikheid, as lede van die nuwe bedeling wat met Jesus se koms aangebreek het, om nee te sê vir die sonde. In hoofstukke 1-2 het hy die werklike kere van toegee aan ons selfgerigte sondigheid, aangespreek. Maar die moontlikheid om nie te sondig nie, eis van ons om so op te tree. Die christen moet nie in die sonde leef nie, maar moet in gehoorsaamheid aan die Here in liefde en geloof lewe (3:7-10). Ons lewe in die spanning van ‘reeds kinders van God in die ewige lewe saam met Christus’ (3:6,9) en ‘nog nie volmaak nie;’ daarom is sonde nog vir gelowiges ‘n voortgaande werklikheid, wat dié vergifnis nodig het wat altyd beskikbaar is by Jesus – soos die voetewas van Petrus.

‘elkeen wat aanhou sondig, het Hom nie gesien nie en ken Hom ook nie’ (‘sondig’ hier ook in die teenwoordige tyd wat mense aandui wat voortgaan in die sonde); ‘sien’ en ‘ken’ word hier figuurlik gebruik vir ‘n intieme verhouding met die Vader en die Seun deur die Heilige Gees. In die Ou Testament word die twee terme dikwels gebruik om ‘n noue verhouding aan te dui, vgl. ook Jn 14:7: as julle My ken sal julle die Vader ken; Jn 14:9: wie My sien, sien die Vader (dit is nie die letterlike sien of ken van 1 Jn 1:1, of die Helleniste se teoretiese sien en ken nie).

 

Johannes sê in hierdie vers:

i elkeen wat nie gewoonlik in gemeenskap met Jesus lewe nie, is konstant sondig, maar elkeen wat nie uit gewoonte voortlewe in sonde nie, sien en ken die Vader en die Seun;

ii sondeloosheid moet beskou word as ‘n gawe van God, die gevolg van God se werk in die gelowige, deur sy woord en Gees, wat ons aan die sondelose Jesus verbind (Rom 6:6: dit weet ons: dat ons ou mens saam met Christus Jesus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kan word en ons nie meer slawe van die sonde sal wees nie);

iii ‘n kind van God moet sonde los en oorwin, en begin lewe volgens God se liefdesgebod en Jesus se voorbeeld. Elkeen wat aan Christus verbind is, kan ‘n nuwe lewe lei, en moet ook. As ons in sonde voortlewe plaas ons ‘n vraagteken agter ons liefdesband met Christus (Rom 6:13: as mense wat uit die dood lewend geword het, moet julle julleself tot beskikking van God stel, en julle ledemate as waperns van geregtigheid tot beskikking van God).

Om in Jesus te bly, is soos Paulus se ‘in Christus’ lewe (Rom 6:11; ,23; 8:1-2; 12:5; 16:3; 1 Kor 1:2,4,30; 4:17; 5:17, ens.) . ‘In Christus’ is die vrye ruimte waarin die gelowige alles wat hy/sy doen of sê of dink elke oomblik tot eer van God uitleef deur die Gees van God wat in ons woon om ons te lei en die krag gee om dit so te doen.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Eerste Brief van Johannes: Die eeste vereistes vir kinders van God – breek met die sonde (3:4-9) – Francois Malan

Geen sonde in Jesus nie (3:4-5)

Die simbool waaronder die Christelike lewe bespreek is in hoofstukke 1-2 is: ‘God is lig’ (1:5-7) en daarom moet ons in die lig lewe. Dieselfde vereistes word herhaal onder die nuwe simbool in hoofstukke 3-4: ‘God is Vader’ (3:1-3), en gelowiges is lede van sy gesin deur hulle verbondenheid aan sy Seun, Jesus Christus, en daarom moet ons lewe as kinders van God, wat nie voortgaan in die sonde nie.

Nadat 2:28-29 dit beklemtoon het dat ‘n Christen in Christus moet bly, en al meer soos Hy moet word deur soos Jesus reg te lewe, word die noue verband tussen Christus en die christen verder uitgewerk. Elke lid van God se gesin moet soos Jesus lewe (vgl. Hebr 12:1-2 ‘…met volharding hardloop, die oog gerig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof…’).

3:4 ‘elkeen wat sonde doen, doen/beoefen wetteloosheid, want sonde is wetteloosheid’ – mense lewe asof daar geen wet is nie, of: weier om die wet te onderhou, of: hulle minag alle wette. In die Griekse teks het die woorde ‘sonde’ en ‘wetteloosheid’ telkens ‘n lidwoord in 3:4-5: ‘die sonde’ as onderwerp van die sin verwys na sonde in die algemeen, en ‘die wetteloosheid’ as voorwerp van die sin wys na enige oortreding van God se wet, wat insluit die arrogante opstand teen en verwerping van God se openbaring van Homself in Christus deur die antichriste (2:22-23), en só die duiwel se wil uitvoer. In sy wese is sonde opstand teen God en ‘n oortreding van sy goeie wil vir die mensheid, ook van sy goeie reëls vir sy huisgesin.

‘wetteloosheid (anomia)’ word in die Nuwe Testament spesifiek gebruik van die boosheid wat deur die Satan geïnspireer word. 2 Ts 2:3,8 praat van die antichris as ‘die wettelose mens;’ Mt 7:22 letterlik: ‘Ek het julle nooit geken nie, gaan weg van My af julle wat wetteloosheid doen’ wat ‘n aanhaling is van Ps 6:9 (ook in Mt 13:41); In Mt 24:11-23 voorspel Jesus dat daar baie valse profete sal kom wat baie mense sal verlei, en omdat die ‘wetteloosheid’ sal toeneem, sal die liefde van die mense verkoel, maar wie volhard tot die einde toe sal gered word. In 2 Kor 6:14 vra Paulus: watter vennootskap kan daar wees tussen reg en onreg/wetteloosheid?

Teen dié agtergrond moet ‘n mens nie sonde lig opneem nie. As jy nie oppas nie, lei dit jou tot in die ryk van die Bose, die groot verleier, waarin jy verstrengel raak. ‘n Mens se dade wys aan wie hy/sy behoort. Wetteloosheid is om nie God se gebooie in ag te neem nie, en sy grootste gebod is die liefde vir Hom en vir mekaar.

3:5 Vers 4 het die aard van sonde verduidelik as ‘wetteloosheid’ – om sonder God se wet te lewe. Vers 5 konsentreer op die persoon en werk van Jesus om die mag van die sonde te breek. ‘Julle weet…’ – ‘n beroep op dit wat elke christen ten minste weet – ‘…dat Hý (met klem verwys Johannes na Jesus) verskyn het (die verlede tyd verwys na sy eerste koms na die wêreld) om die sondes (meervoud: om nie net die totaliteit van sonde aan te wys nie, maar veral die sondige dade van elke mens) weg te neem…’ (die woord airoo’wegneem’ het ook die gedagte van verwyder, vernietig). Johannes die Doper het dieselfde woord gebruik in Joh 1:29 oor die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. In 1 Jn 2:2 is reeds gesê Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie net vir ons sondes nie, maar ook vir dié van die hele wêreld. Terwyl die Evangelie van Johannes vir Jesus veral as openbaarder van God skilder, beklemtoon 1 Johannes ook dat Jesus die Verlosser is. Hier word die versoening egter nie voorop gestel nie, maar die verlossing uit die ban van die sonde. Jesus het gekom om die mag van die sonde te verbreek, die sonde se ontwikkeling te stuit, en die houvas daarvan op die gelowige te vernietig.

‘…en in Hom is daar geen sonde nie’ – in sy wese is Jesus nie teen sy Vader se wil in opstand nie, maar volkome een met die Vader. Hy is die Heilige van God, volkome aan sy Vader se wil toegewy (Jn 5:40; 8:55). Hy is die volmaakte offer vir die sondes van die mensdom (vgl. Jn 8:46: ‘wie van julle kan sonde by My aanwys?’ 2 Kor 5:21: Hy – Christus – wat nie sonde geken nie, Hom het God ter wille van ons sonde gemaak, sodat ons in Hom voor God geregverdig kon word; Hebr 4:15: ons Hoëpriester is, soos ons, in alle opsigte versoek, en dit sonder dat Hy gesondig het. 1 Petr.1:19: ons is vrygekoop met die kosbare bloed van Christus, Hy wat soos ‘n lam is, vlekloos en sonder liggaamsgebrek. Omdat Jesus sonder sonde by ons kon lewe, kan ons ook sonder sonde lewe as ons in Hom bly deur sy Gees wat in ons bly, want net Hy breek die mag van die sonde. Wie aan Jesus in geloof verbind is deur die Heilige Gees, begin ‘n nuwe lewe van liefde (3:14).

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Eerste Brief van Johannes: Lewe as kinders van God (2:28-5:13) – Francois Malan

Nadat die eerste hoofdeel die belangrikheid van ‘n lewe in die lig onderstreep het, teenoor die dwalendes en hulle onetiese optrede wat uit ‘n valse geloof oor Christus spruit (1:5-2:29), konsentreer die tweede hoofdeel op die ontwikkeling van die gelowiges se geestelike lewe (2:28-5:13). Dieselfde program word gevolg as in die eerste gedeelte:

1:5-2:29 lewe in die lig                                       2:28-5:13 lewe as kinders van God

  1. God is lig a God is die Vader
  2. Los die sonde b los die sonde
  3. Wees gehoorsaam c wees gehoorsaam in liefde
  4. Lê wereldsgesindheid af d lê wereldsgesindheid af

e wees liefdevol

  1. Behou die geloof f behou die geloof

(b) God is die Vader – leef soos sy Seun (3:1-3)

Die gedeelte skakel met die vorige verse: 2:28 koms; 2:29 nuwe geboorte; 3:1 nuwe geboorte; (3:2) koms

Die verwysing na God se vaderskap moedig die lesers aan om nou reeds as God se kinders te lewe (3:1) soos in die ewigheid (3:2).

3:1 ‘kyk watter groot liefde die Vader aan ons gegee/bewys het’ – met ‘kyk julle’ roep Johannes sy lesers op om noukeurig aandag te gee, na te dink, en te verstaan dat dit jou persoonlik raak. ‘watter’ verwys met verbasing na die soort en graad van liefde wat die Vader aan ons en in ons ‘gegee’ het (voltooide tyd ‘gegee’ – in die verlede en steeds sy liefde aan ons skenk om daaruit en daarin te lewe). Die hele uitdrukking spreek van Johannes se entoesiasme en sy uitbarsting van verwondering oor hoe kwistig/oorvloedig die Vader ons met liefde oorlaai/oorstelp het, dit nie slegs aan ons betoon nie, maar sy liefde is in ons ingestort het – sodat ons kinders van God genoem word, en ons is dit uit sy genade. God skep deur sy woord. Hy noem ons sy kinders – en ons is dit omdat die Heilige Gees ons deur geloof aan sy Seun verbind (die woord tekna ‘kinders’ kom van die woord tekein ‘om geboorte te gee’ – teenoor 2:29 ‘uit God gebore’ gennein). Dat ons kinders van God is, onderstreep ons geestelike oorsprong. Nie slegs in naam nie, maar werklik kinders van God, wat al meer ons skepping na die beeld van God vertoon, soos Hy oorsponklik bedoel het (Gn 1:27). Jesus het vir ons die beeld van God se selfopofferende liefde aan die kruis kom wys. Só moet ons liefhê en lewe (Jn 13:34-35; 2 Kor 3:18). Anders as Paulus, gebruik Johannes ‘seun’ slegs vir Jesus, en ‘kinders’ vir gelowiges.

Die rede waarom die wêreld ons nie herken en erken as kinders van God nie, is omdat hulle God, wat onder hulle kom rondstap het, nie erken het in Jesus, die Seun van God, wat God aan die wêreld kom openbaar het nie. Kinders van God het die gesindheid en natuur van hulle hemelse Vader deur die Gees van God wat in hulle kom woon. Soos die mense Hom verwerp het, verwerp hulle ook sy kinders se geloof en lewenswyse wat nie saam met die wêreld jaag na mag, roem en rykdom nie, maar wat dien (Mk 10:42-45).

3:2 Met dié lieflingsnaam druk Johannes sy verhouding tot die gemeentes uit. Soos in 2:7 beoefen hy daarmee self sy opdrag om mekaar lief te hê. Ons is nou reeds kinders van God deur sy wonderlike liefde vir ons (3:1), maar dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees wanneer Jesus weer kom nie. Daarby berus ons.

‘Wat ons weet, is dat wanneer Hy verskyn, ons soos Hy sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is’ – vgl. sy gebed Jn 17:24: Vader, Ek wil graag hê dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook by My moet wees, sodat hulle my heerlikheid kan sien, die heerlikheid wat U My gegee het, omdat U My al voor die skepping van die wêreld liefgehad het.’

3:3 Die vaste hoop dat ons soos Jesus sal wees wanneer Hy in heerlikheid kom, het sedelike implikasies vir ons daaglikse lewe. Elkeen wat hierdie vaste hoop het op die ewige lewe by Jesus en by die Vader, ‘hou homself rein net soos Hy rein is’ (sonder enige morele defek) – van elke gelowige word verwag om sy lewe te reinig van sondige gedagtes, woorde en dade, deur met verkeerde gewoontes te breek en ‘nee’ te sê vir versoekings. Die kind van die God van lig moet rein bly deur sonder sonde te probeer lewe. Die vooruitsig om soos Christus in sy heerlikheid te wees behoort elke gelowige te motiveer om nou reeds te lewe soos Jesus op aarde gelewe het en die versoekings van die Satan weerstaan het (Jak 4:7-10: ‘Onderwerp julle dan aan God. Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug…reinig julle hande en suiwer julle harte…’).

‘soos Hy rein is’ – Johannes dring by sy lesers aan op ‘n lewe wat Jesus se ‘reinheid’ eggo. Sy lewe van liefdevolle diens behoort die patroon vir ons lewe te wees. In 1:7 het Johannes reeds gesê: as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons gemeenskap met mekaar, en die bloed van Jesus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.’ Terwyl God ons reining deur ons te vergewe en in ons te kom woon, het ons ‘n aktiewe aandeel en verantwoordelikheid om die sonde te los en te weerstaan deur te volhard in ons gemeenskap met Hom en sy woord te gehoorsaam (vgl. Jn 15:3-4: ‘julle is alreeds rein deur die woord wat Ek tot julle gespreek het. Bly in My en Ek in julle…’). Die teenwoordige tyd van die werkwoord ‘reinig homself’ beklemtoon die voortgang van dié verantwoordelikheid, tot in die ewigheid. Jesus het oor ons huidige lewe gesê: ‘Vader Ek het U Naam aan hulle bekend gemaak en Ek sal dit verder bekendmaak, sodat die liefde waarmee U My liefgehad het in hulle kan wees, en Ek in hulle’ (Jn 17:24) – ons bly rein deur te bly in sy opdrag om mekaar lief te hê soos Hy ons liefhet (Jn 13:34).

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Die Eerste Brief van Johannes: Die eerste vereistes vir kinders van God (3:7-9) – Francois Malan

Lewe regverdig

3:7 Die gelowige moet sondes los deur reg te lewe (dikaios, regverdig, beteken ook om in die regte versoende verhouding tot God en jou medemens te lewe).

Die gemeentelede word weer aangespreek as ‘my liewe kindertjies’ deur Johannes hulle geestelike vader, om die situasie wat hulle bedreig dringend onder hulle aandag te bring. Hulle word bedreig deur die lidmate wat afgeskei het en verdeeldheid in die gemeentes saai met hulle valse leer en lewe. ‘Laat nieand julle mislei nie!’ Teenoor die misleiers en hulle misleiding sê Johannes dat die persoon wat reg glo, ook reg lewe: die een wat reg doen, wat doen wat God sê, is regverdig (dikaios) voor God (vgl. Mt 7:16: aan hulle vrugte sal julle hulle ken). In 1 Jn 3:10-11, 12-24 word die regte lewe uitgespel as gehoorsame liefde.

‘soos Hy regverdig is’ – verwys na Jesus wat in die regte verhouding tot sy Vader geleef het, die Vader se wil volkome uitgevoer het – dit is sy wese. So moet sy volgelinge ook lewe. Hulle wese moet regverdig wees. Dit is Jesus se geskenk aan hulle wat in Hom glo. Ps 1:6 sê: die Here lei die regverdiges op hulle pad. Dit is alleen Christus wat ons sondaars se verhouding met God reg maak, en deur in Hom te bly kan ons in die oë van God reg lewe, as sy geliefde kinders, omdat ons aan sy geliefde Seun verbind is in geloof, en Hom volg as ons voorbeeld en leier.

3:8 Johannes wys op die wesenlike verskil tussen ‘n persoon wat ‘n slaaf is van sonde (v6) en ‘n gelowige wat getrou bly aan sy roeping in Christus (v7). Laasgenoemde behoort aan God wat hom/haar aangeneem het (vv1-2) en die slaaf van sonde behoort aan die duiwel vir wie hy/sy volg (v8). Die regverdige volgeling van Jesus openbaar sy geestlike natuur en oorsprong in dade van geregtigheid, wat reg is en by ‘n kind van God pas (v7); maar die sondaar verraai sy verband met die duiwel deur sy wettelose optrede.

Die een wat sonde doen (teenwoordige tyd, wat voortgang aandui) is uit die duiwel’ – in v12 word na Kain verwys, wat wys dat Johannes hier dink aan Genesis, ook aan Gen 3:1-15 waar die duiwel deur ‘n slang die vrou verlei om ongehoorsaam teenoor God te wees (in Openb 12:9; 20:2 noem hy die duiwel ‘die ou slang’). Die een wat sonde doen het daarom nie God as Vader nie, maar volg die duiwel, wat die opstand teen die wet en wil van God aanstig.

‘want die duiwel sondig van die begin af’ – Paulus sien die oorsprong van die sonde by Adam (Rom 5:12-19; 1 Kor 15:22), maar Johannes gaan verder terug tot aan ‘die begin’ – van die wêreld. Met die eerste mens was hy al daar. Van die begin af was daar ‘n geestelike mag wat in opstand teen God was en hy probeer mense verlei om hulle rug op God te draai (vgl. Jn 8:44: Julle is kinders van die duiwel…Hy was van die begin af ‘n moordenaar…die vader van die leuen).

‘hiervoor het die Seun van God verskyn om die werke van die duiwel te vernietig’ – Johannes beskryf die doel van God se menswording as die verlossing van die mens uit die sondemag van die duiwel om mense te verlei tot ‘n lewe teen of sonder God. Jesus se optrede en voorbeeld, sy dood en sy opstanding, het ons kom losmaak uit die ban van die sonde, sodat ons saam met Jesus sterwe aan sonde en saam met Hom opstaan om vir God te lewe (Rom 6:10-11).

3:9 Die egte kind van God is teen die sonde. ‘Elkeen wat uit God gebore is doen nie meer sonde nie’ – vir die gelowige is dit ‘n nuwe geboorte uit God, die sondaar volg sy eie wil teen God se wil en volg sý geestelike ‘vader,’ die duiwel..

‘…en hy kan nie sondig nie, omdat hy uit God gebore is’ – met die uitdrukking ‘uit God gebore’ begin en eindig vers 9. Die wese en aard van die gelowige word daarmee onderstreep. Gelowiges kom uit ‘n nuwe geboorte deur die Heilige Gees, wat in hulle kom woon het, om van hulle kinders van God te maak, van Bo weer gebore (Jn 3:3). Die Gees van God het hulle met God se woord oortuig. Die werkwoord ‘gebore is,’ is in die voltooide tyd, iets wat reeds gebeur het en waarvan die gevolge voortduur; reeds weergebore en nou voortlewe as kind van God.

As gebore kinders van God het hulle die vermoë om nie sonde te doen nie. Dit word gesê om die gelowiges te oortuig dat hulle sonder sonde behoort te lewe en volgens hulle nuwe wese en aard te lewe.

‘omdat sy “saad” in hom bly’ – ‘saad’ word hier gebruik vir die nuwe natuur van die gelowige, die kiem van die nuwe lewe, wat ingeplant word in die mens wat geestelik weergebore word, wat verantwoordelik is vir sy geestelike groei, soos ‘n saad wat groei, en die moontlikheid skep om sonder sonde te lewe. Die groeiende saad is die woord van God wat op ons harte geskryf word en in ons gedagtes vasgelê word deur die Heilige Gees wat in ons woon (1 Jn 2:14,24, 27: Jer 31:33-34; Eseg 36:25-27; Jn 14:23; Rom 8:9,11).

Geen kind van God, wat deur die Heilige Gees nuut gebore is, kan maar kies om in die werke van die duiwel te lewe nie, omdat hy altyd die moontlikheid het om rein, regverdig/reg, en in liefde te lewe. Hy/sy behoort reeds aan die ewige lewe, omdat hy/sy aan Christus verbind is, maar lewe nog in die bose wêreld, wat teen God se wil lewe. Daarom dring Johannes by sy lesers aan om te lewe soos wat hulle reeds in Christus is (1 Jn 2:27,28). Christus het self by sy volgelinge aangedring om in Hom te bly want Hy, die sondelose, die regverdige, bly in ons (Jn 15:4-7).

In 1:8,10 en 2:1 sê Johannes dat alle mense sondig, gelowiges ook. Niemand kan beweer dat hy/sy sonder sonde is nie, en dat ons met ons sonde na Jesus toe kan gaan. Dit sê hy veral teen dié Grieke wat beweer dat hulle deur hulle hoëre kennis heeltemal sonder sonde is. In hfs. 3 sê Hy dat ‘n kind van God nie in sonde voortleef of kan voortleef nie. Dit sê hy veral teen dié Grieke, wat dink dit is nie verkeerd of ernstig om in sonde te leef nie.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan