Die Eerste Brief van Johannes: Bly in Jesus Die vierde vereiste om in die lig te kan lewe – behou die geloof (vervolg). (d) Bly in Jesus (2:27) – Francois Malan

2:27     Getroue gelowiges het ‘die salwing’ van Jesus ontvang. Die salwing dui op die inwyding in die gesin van God deur die ontvangs van die Heilige Gees wat in die gelowige kom woon het, wat hom/haar deur die woord van God wat Jesus verkondig het, oortuig van God se wonderlike verlossing deur sy Seun, en hom/haar daagliks lei met die woord van God wat in hom/haar bly (2:24).

Die gelowige is deur Christus gesalf met die Heilige Gees en die woord van God wat in die gelowige kom bly het – God self het met sy woord in die gelowige kom bly om ons te lei om volgens God se woord en wil te lewe, ondersteun deur die krag van die Gees (vgl. Jer 31:33: ‘Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagtes vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees; Jn 17:14: Ek het u woord aan hulle gegee; Jn 14:17: die Heilige Gees bly by julle en sal in julle wees). Omdat die salwing met die Gees en die woord in ons bly, moet ons in die Gees en die woord bly, daarin volhardend lewe.

Johannes se stelling ‘julle het niemand anders nodig om julle te leer nie’ is waarskynlik gerig teen die ‘verligte’ dwalendes wat dink dat hulle alles weet. Daarteenoor sê Johannes dat die gelowiges wat die salwing het (nl. die woord van God en die Gees van God in hulle), eintlik die persone is wat die basiese geestelike onderrig het wat nodig is vir hulle toewyding aan die waarheid van God. In Jn 6:45 haal Jesus Jes 54:13 aan: al jou kinders/inwoners sal leerlinge van die Here wees; die Griekse vertaling, die Septuaginta: al jou kinders sal deur God geleer wees.

‘en sy salwing leer julle oor alles’ – Jesus het julle gesalf met die woord en die Gees – Jn 14:26: die Heilige Gees sal julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek gesê het; Jn 16:1:3: die Gees van die waarheid sal julle in die hele waarheid lei.

‘en dit is die waarheid en geen leuen nie’ – die gelowige wat deur Heilige Gees ingelei is in die woord van God, kan die geloof behou want hy/sy ken die waarheid (1 Jn 2:21) – teenoor die dwalendes wat valsheid versprei (2:22)..

‘soos Hy julle geleer het, moet julle in Hom bly’ – soos wat Jesus sy volgelinge geleer het, so moet hulle in Hom bly lewe; Jn 15:4-7: ‘julle moet in My bly en Ek in julle….wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie…as julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry.’ Soos Jesus hulle tydens sy aardse lewe geleer het, en die dissipels sy woorde in die Bybel opgeteken het, so leer die Heilige Gees ons tans deur die woord wat in die Bybel opgeteken is. Daarvolgens moet ons in ‘n persoonlike verhouding met God lewe, bewus dat ons voor sy aangesig lewe en dat Hy in ons kom woon het om ons te help en te lei. Om in Christus te bly beteken dat ons met selfverloëning saam met Hom gesterwe het vir die sonde, en saam met Hom opgestaan het, nee sê vir sonde en lewe vir God en ons medemens (vgl. Rom 6:16-19).

Vier redes word hier aangegee waarom ons deur geloof in Jesus moet bly:

i       ons het ‘n geestelike ‘salwing’ van God ontvang met sy woord, wat Jesus gebring het, en God op ons harte geskryf het deur die Heilige Gees, wat in ons kom woon het.

ii     die ‘salwing’ met die woord en die Gees leer ons alles wat ons nodig het.

iii    die salwing waarborg die waarheid van die lering: woorde wat van God, deur Jesus en die Gees kom.

iv    Jesus het self gesê ons moet in Hom bly – in ‘n persoonlike liefdesverhouding aan Hom toegewy.

Daarom moet gelowiges hulle nie laat verlei om die gemeenskap van gelowiges te verlaat en die bande met Christus te verbreek nie. Die Gees lei nie sonder die woord nie, en die woord is kragteloos sonder die werking van die Gees. Alles dring ons om in gemeenskap met Christus Jesus te bly lewe.

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Opvoeding(2) – Hennie Stander

Egiptiese opvoeding

Omdat hy deur Farao se dogter grootgemaak is, is “Moses opgelei in al die wysheid van die Egipte­naars (Handelinge 7:22). Volgens die Joodse oor­lewering het dit ingesluit wiskunde, meetkunde, digkuns, musiek, sterrekunde, en nog baie ander vakke. Die skole in Egipte is in noue samehang met die tempels bedryf en is dikwels deur priesters beheer. Die medisyne en godsdiens was belangrike vakke indien die kind ‘n priester wou word.

Moses is waarskynlik ook deur die leermeester van die koninklike hof opgelei en dus sou hy ook geleer het om Egiptiese hiërogliewe te kon skryf. In Egipte is die hiërogliewe skrif in klip uitgekap. Dit het soos prentjies gelyk. Die hiërogliewe skrif het slegs uit konsonante bestaan, maar later is ‘n kur­siewe vorm daarvan ontwikkel en is dit ook op papirus met pen en ink geskryf.

Toe Moses beveel is om die wet aan die mense te leer, is dit gedoen deur herhaling en voorbeeld (Deuteronomium 11:19), deur openbare voorlees (Deuteronomium 31:10-13), en deur liedere te sing (Deuteronomium 31:19). Dit is nogal inter­essant om daarop te let dat God Moses geroep het om as leier op te tree eers nadat hy ‘n goeie opvoedkundige agtergrond geniet het. Dit was inderdaad ook die geval met Paulus toe hy eeue later geroep is om die Kerk te lei.


Hierdie kleitablet is tipies van die waarop in die antieke tye geskryf is. Hierdie tablet bevat ‘n deel van die Babiloniese Kronieke en dit hands! oor die val van Nineve.

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 




Die dubbele reënboog

Die dubbele reënboog – Jan van der Watt

’n Leser vra:

Dit wat ek met julle deel is dinge wat werklik gebeur het.

 

Desember 2013 het ek baniere gaan haal vir my bidkamer  die “Tabernakel” wat Moses in die woestyn gemaak het. Heb 8v5

Ek en my broer was oppad terug vanaf Pretoria waar ek die baniere laat maak het.

Dit het gereën tot naby Bronkhorstspruit, toe die son uit kom was daar n dubbel reënboog wat saam met ons beweeg het tot in Middelburg, die hele tyd net so voor die voertuig.

Ons het ‘n paar keer gesê ons wonder hoekom volg die reënboog ons.

Febraurie 2014 toe praat ek met die vrou wat die baniere vir my gemaak het, toe sê sy die aand voordat ons die baniere kom haal het was daar ‘n dubbel reënboog oor haar huis gewees.

In die begin toe sy daaraan begin werk het, het sy die volgende kommentaar gehad, sy kry die indruk dat dit wat ek besig is om te laat maak God se hart se punt geraak het.

Wat beteken die dubbel reënboog. Want ‘n enkel een is die bevestiging van die verbond wat God met Noag gemaak het.

 

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

 

Vir hierdie vraag is daar nie ’n Bybelse antwoord nie, omdat daar nie in die Bybel gepraat word van twee of selfs een reenboog wat mens volg nie. In so geval, waar mens onseker is, moet mens altyd versigtig en eerlik wees. God kan op enige manier werk, dit moet ons altyd onthou. Ons mag Hom nie in wat Hy kan en mag doen beperk of voorskryf nie. Aan die ander kant, in ’n geval soos hierdie waar daar nie ’n duidelike antwoord is nie, moet mens eerlik met jouself wees en besef dat die interpretasie wat jy gee, jou eie interpretasie is en die opinie oor die baniere wat die hart van God geraak het, die opinie van die vrou. Sulke opinies hoef nie verkeerd te wees nie, maar moet getoets word, want die interpretasie kan dalk wees soos jy dit wil sien, maar nie soos God dit bedoel het nie. Met ander woorde, as God vir jou iets deur so gebeurtenis wil sê, sal Hy sy boodskap in elk geval vir jou o.a. deur die Gees bevestig. Die Bybel leer ten minste vir ons dat die bevestiging nooit teen die boodskap van die Bybel sal ingaan nie. Laat ons ter illustrasie die volgende voorbeeld neem. In die Nuwe Testament in Jesus se tyd het die aardse tempel in die agtergrond begin skuif (lees die reiniging van die tempel in Johannes 2:13 en verder). In Johannes 2:13 en verder sê Jesus dat die Jode die tempel moet afbreek en Hy sal dit dan weer in drie dae opbou. Dan word daar gesê: daarmee het Hy die tempel van sy liggaam bedoel. Wat Johannes met hierdie woorde wil sê is dat Jesus die aardse tempel met Homself vervang het. Waar Jesus is, is die tempel van God nou. ‘n Tweede belangrike uitspraak is die van Paulus, wat sê dat gelowiges nou die tempel van God is (1 Kor 3 en 6), veral omdat die Gees van Jesus in die gelowiges is (lees 1 Kor 2 en 12). Waar gelowiges bymekaar is, daar is God se tempel. Dit is nie te sê dat ons nie fisiese vergaderplekke mag hê wat vir ons spesiaal is nie, maar ons moet altyd onthou dat Jesus vir ons kom wys het dat waar Hy is en waar gelowiges wat in Hom is, bymekaar is, daar is God se tempel. Aardse vergaderplekke mag nooit belangriker word as sy teenwoordigheid nie.

 

Skrywer:  Prof Jan van der Watt

 




Die eerste brief van Johannes: Bly in God en sy woord Die vierde vereiste om in die lig te kan lewe– behou die geloof (vervolg). (c) Bly in God en sy woord (2:23-26)

2:23 ‘Elkeen wat die Seun ontken, het selfs  nie die Vader nie; wie die Seun bely, het ook die Vader.’   Waar 2:22 beklemtoon dat ‘n valse geloof uitloop op ontkenning van die Vader en die Seun, wys 2:23 daarop dat die ontkenning of belydenis van die Seun elke mens se verhouding met die Vader raak. Die twee woorde ‘ontken-loën’  en jou ‘lojaliteit bely’ is ook so deur Jesus gebruik in Mt 10:32-33:

            Elkeen wat My voor die mense bely – openlik voor die mense uitspreek

sal Ek voor my Vader in die hemele bely – openlik voor my Vader uitspreek

            Maar wie My voor die mense verloën – ontken of swyg dat hy/sy My ken

            sal Ek ook voor my Vader in die hemele verloën – ontken dat Ek hulle ken

Dit beteken dat die erkenning van Jesus ‘n verhouding tussen die gelowige en die Vader tot stand bring, deur die verhouding van die gelowige met Jesus. Hy is die openbaarder van die Vader, maar ook die weg na die Vader (Jn 14:6-7,9). Deur Jesus lief te hê en Hom te gehoorsaam kom die Vader ook woning maak by die gelowige (Jn 14:23!).

2:24  ‘Wat julle van die begin af gehoor het, moet in julle bly (‘n bevel in die voortgaande teenwoordige tyd).

            As dit wat julle van die begin af gehoor het in julle bly  (voorwaarde sin)

            sal julle ook in die Seun en in die Vader bly’(voortdurende toekomstige tyd).            

Die gelowige wat in die lig lewe, lewe in die ruimte van die Seun en die Vader, nie outomaties nie, maar deur ‘n voortdurende gelowige toëiening van die seëninge en die verantwoordelikhede van die evangelie van Christus.

            Die boodskap wat hulle van die begin af by die apostels gehoor het, kom van Jesus self af – vgl. 1 Jn 1:1 hulle het Hom self gehoor, gesien en aan Hom gevat.  By daardie woorde, wat van Jesus self gekom het, moet hulle bly, daarin woon – dit moet die geloof en gedrag van die gemeente (4x uitdruklik: ‘julle’) en van die gemeentelede bepaal.

            Dit is ‘n wedersydse blyery: soos wat die woord van God in die gelowiges gesamentlik en in die enkele gelowige bly, so bly die gelowige en die gemeente in die Vader deur die Seun. Die woord wat in ons bly is die bron van alle geestelike kennis en krag.

            Die tweede reël sê: die aanvaarding van die oorspronklike evangelie wat Jesus verkondig het en uitgelewe het, lei daartoe dat ons die ware identiteit van Jesus as die Christus verstaan. Die derde reël sê: as ons die goeie nuus toelaat om die rigting van ons gedagtes oor God en ons morele lewe te bepaal, is die gevolg daarvan ‘n lewe in die ruimte van die Seun en die Vader, in die huisgesin van God as ons Vader, met die Seun as ons Leier-kind in die gesin. Die woord van God lei ons na die Vader en verduidelik sy wil. Die evangelie word dan  elke môre vir ons nuut, sodat ons in Hom in groei, en al meer soos Jesus word.

2:25 Die eerste kenteken van die lewe in die lig van God is dat ons bly/woon in God die Vader, deur Jesus, die Seun (2:24). In 2:25 word die tweede kenmerk van die Christen wat soos Jesus lewe, gestel (vgl. 2:6): dit is die belofte wat Jesus self beloof of gegee het, wat soos ‘n pand of deposito die waarborg is (epangelia slegs hier in die Johannese-geskrifte), naamlik dat hy/sy reeds die ewige lewe het.

Die doel van Jesus se koms was dat sy volgelinge die lewe sou hê en dit in oorvloed (Jn 10:10); dit gee Hy aan hulle en hulle sal in ewigheid nie verlore gaan nie (Jn 10:28; 17:2); wie in Jesus glo, het die ewige lewe (Jn 6:47); die ewige lewe strek tot in die ewigheid; Jn 6:40: die wat in die Seun glo, sal die ewige lewe hê, ‘en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan;’  Jn 5:24: wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan.

In Jn 17:3 het Jesus die kenmerk van die ewige lewe verduidelik: dit is ‘n lewe in gemeenskap met die Seun en die Vader: ‘En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.’ Die ewige lewe waarin ons tans deel het, deurdat God in ons kom woon het, is ook die belofte/waarborg/deposito dat ons die volle verwerkliking daarvan sal ontvang (vgl. Jn 8:51).

2:26 Die voorafgaande het Johannes geskryf om die gemeente te waarsku teen die mense wat probeer om die getroues te mislei om ook soos hulle te glo en te lewe. Dit is ‘n wesenlike gevaar wat altyd teenwoordig is, soos die vorm van die werkwoord aandui. Hoewel hulle die gemeeente verlaat het, los hulle die gemeentelede nie uit nie, en probeer om die onvaste gelowiges van die ware weg van verlossing weg te lei. Dit verwys waarskynlik na twee soorte misleiding: die ‘verligte’ Hellenistiese groep wat nie die menswording van Jesus aanvaar nie maar op hulle hoë kennis vertrou, en die meer wettiese Joods-georiënteerde groep wat nie kan aanvaar dat Jesus God is nie en nog steeds self hulle verlossing deur wetswerke wil verdien.