Die lyn tussen Jesus en Yeshua

Die lyn tussen Jesus en Yeshua – Jan van der Watt

Judy vra:

Trek ‘n parallelle lyn tussen Jesus van die OT en Yeshua van die NT

 Antwoord

Prof. Jan van der Watt antwoord:

Dit is nie vir my duidelik wat presies hier gevra word nie. Dit is meer ‘n opdrag as ‘n vraag. Die saak wat ter sprake kom, is egter baie belangrik, naamlik of Jesus in die Ou Testament ‘aanwesig’ is en indien wel, hoe? Hy is ongetwyfeld in die Nuwe Testament aanwesig en daar is ook heelwat profesieë wat Hom met die Ou Testament verbind.

 

Opinies onder gelowiges en teoloë loop uiteen oor hierdie saak en dit kan soms emosioneel word.

 

Daar is sienings wat Jesus sien as Iemand wat eers in die Nuwe Testament werklik na vore tree en dus nie as Persoon of figuur in die Ou Testament geïdentifiseer kan word nie. Hy word immers eers uit die maagd Maria gebore. Daarom moet mens nie Jesus in die Ou Testament soek nie en ook nie hoofletters in die Ou Testament gebruik asof die gedeeltes na Jesus sou verwys nie. Baie vertalings gebruik om hierdie rede dus ook nie hoofletters waar daar moontlik na Jesus verwys sou kon word nie.

 

Daar is sienings wat met bogenoemde siening simpatiseer, maar tog beklemtoon dat van die profesieë in die Ou Testament wel na Jesus verwys, soos ons uit die Nuwe Testament duidelik sien. In die Ou Testament self is dit egter nog maar net ‘n profesie (lees die artikel oor profesie in Bybelkennis.co.za) wat nog onbepaald in die Ou-Testamentiese tyd was (met ander woord, die mense het nie geweet wat om te verwag nie, hoewel hulle besef het hulle moet iets verwag). Daarom moet mens nie die profesieë te direk in die Ou Testament al aan Jesus koppel nie.

 

Dan is daar ook sienings wat Jesus direk in die Ou Testament identifiseer. In Joh 1:1 word daar byvoorbeeld gesê dat Jesus voor die skepping reeds daar was (sien ook Kol 1:15-17) en dat alles eintlik deur Hom tot stand gekom het. (Ons noem dit pre-eksistensie, waar pre- ‘voor’ beteken en ‘eksistensie’ bestaan, met ander woorde, Jesus het ‘voor’ die skepping ‘bestaan’). Dit beteken dus dat Hy reeds in die Ou-Testamentiese tyd daar was. Maar waar was Hy gedurende daardie tyd? Hy word dan op verskillende plekke in die Ou-Testament geïdentifiseer, bv. as daar in Genesis 1 van die ‘ons’ wat skep gepraat word, of as Abram besoek kry van drie hemelse besoekers en so aan. Van die profesieë uit die Ou Testament wat in die Nuwe Testament aangehaal word (en daar is baie) word dan geïnterpreteer as dat dit in die Ou Testament reeds direk na Jesus verwys en dat Hoofletters in die profesieë in die Ou Testament gebruik moet word om so aan te dui dat die verwysing na Jesus is. So word die verwysing na Immanuel in Jes 7:14 as ‘n direkte verwysing na Jesus gesien of die (K)kneg in Jes 53 moet met ‘n hoofletter geskryf word, omdat dit na Jesus sou verwys.

 

Dit is duidelik dat dit hier gaan om hoe presies die profesieë in die Ou Testament verstaan moet word. Dit gaan dus om interpretasie van die gedeeltes. Elkeen van hierdie sienings het iets van die waarheid beet. Mens kan nie ontken dat die Ou Testament profeteer oor die koms en persoon van Jesus en alles wat daarmee saamgaan nie. Tog kan mens ook nie misken dat die profesieë in die Ou Testament ook betekenis gehad het vir die onmiddellike konteks waarin hulle deur die profete namens God uitgespreek is nie. Profesieë is immers God wat praat, en as God praat, geld dit vir die oomblik wat Hy die sê, maar ook vir die toekoms, want God kan nie lieg nie en verander ook nie. Dus kan mens verwag dat die profesie waar kan wees in die tyd van die profeet (en dus lank voor Jesus) maar ook waar en natuurlik spesiaal waar kan wees van Jesus, die Seun van God. 

 

Skrywer:  Prof Jan van der Watt

 




Die Heilige Gees tydens gebed

Die Heilige Gees tydens gebed – Jan van der Watt

‘n Leser vra:

Die volgende het met my gebeur: op die 28ste Desember 2013, het ek gaan bid, omtrent so 21h15 en die volgende ervaring gehad. Tydens my gebed, het ek gevra dat die vuur van die Heilige Gees my ten volle verhit, dit het onmiddellik gebeur, toe ek klaar gebid het, het my temperatuur terug gekeer na normaal. My ma het by my gekuier op daai stadium, toe ek terugkom in die sitkamer, het sy my gevra wat is fout, ek het haar gesê wat gebeur het, toe sê sy dit lyk of ek gloei. Nêrens in die Bybel kon ek min of meer iets kry wat dit beskryf of beteken nie.

 

Antwoord:

 Prof. Jan van der Watt antwoord:

Inderdaad vind mens nie ‘n vertelling in die Bybel wat hiermee ooreenkom nie. Die saak moet egter teen ‘n breër agtergrond gesien word.

 Die Heilige Gees word op verskillende maniere in die Nuwe Testament (en Ou Testament) beskryf, van God se krag wat in mens werk tot ‘n Persoon (soos in Johannes 14-16 as daar van die Heilige Gees as Voorspraak, Helper of Advokaat – Grieks = Parakletos gepraat word). Die werk wat die Gees doen, word net so op verskillende maniere in die Bybel beskryf. In Johannes is die Gees veral ‘n Leermeester wat gelowiges aan alles wat Jesus gedoen het, herinner (sien Joh 14-16). In 1 Kor 12-14 is die Heilige Gees die een wat verskillende genadegawes aan mense gee en so kan mens voortgaan. Wat ons hieruit kan leer is dat mens nie die Gees in ‘n hokkie kan vasvang of inperk nie. Die Gees is baie groter as ons en doen ook baie groter dinge as wat ons onsself ooit kan voorstel. Die Gees werk ook nie oral op presies dieselfde wyse nie en manifesteer Homself ook nie op dieselfde wyse aan alle mense nie. Dit sien ons in al die verskillende beskrywings wat ons van die Gees in die Nuwe Testament kry (lees ook die ander artikels oor die Gees in Bybelkennis.co.za).

 Dit beteken egter nie dat alles wat mens dink die Gees is, noodwendig die Gees hoef te wees nie. Lees 1 Joh 4:1-2 waar daar gewaarsku word teen valse geeste. Daar is sulke dinge ook. Daar moedig Johannes gelowiges aan om die geeste te toets, en dit doen mens deur dit te meet aan die evangelie van Jesus. Johannes verduidelik in 1 Johannes wat dit beteken: a) of dit in ooreenstemming met die boodskap van Jesus en tot sy eer is en b) of dit die liefde van Jesus uitstraal (dus opbouend en leweskeppend is en nie afbrekend nie). Die werk van die Gees is egter altyd stigtend en opbouend en nooit tot selfverheerliking van die individuele gelowige nie. Dit is toetse wat mens altyd moet toepas.

 Om dus die vraag so te beantwoord: Die Gees werk soos Hy wil en soos Hy goed dink. Dus kan Hy ook werk soos hierbo beskryf word. Mens mag die werk van die Gees nie beperk nie. Tog moet mens altyd die geeste toets, mens moet vra of dit werklik die Gees is en as dit is, wat die Gees daarmee tot opbouing, liefde, en eer vir Christus in die oog het.  

 

Skrywer:  Prof Jan van der Watt

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Opvoeding(1)

Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Opvoeding(1) – Hennie Stander

Opvoeding is noodsaaklik sodat die vaardighede en die insig wat deur een geslag verwerf is, oorgedra kan word na ‘n ander geslag. ‘n Mens moet egter nie die fout maak om te dink dat skole en formele onderrig eers in die moderne era ingestel is nie. Reeds in die antieke tye was daar georganiseerde opvoeding van kinders.

Sumeriese opvoeding

Toe God vir Abraham geroep het om die stad Ur in Sumerië te verlaat om te trek “na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys” (Genesis 11:31-12:5), was dit inderdaad ‘n daad in die geloof. Ur was reeds ‘n ontwikkelde stad, en Abraham is geroep om dit te verlaat vir die onbekende. Die Sumeriërs, wat tussen die Tigris- en die Eufraatrivier gewoon het, het reeds meer as 3000 jaar v. C. oor ‘n skryfsisteem beskik. Hulle skryfmateriaal was kleitablette. Hulle het die tablet in hulle linkerhand vasgehou en dan met ‘n riet- of metaalstilus skriftekens op die nat, gebreide klei afgedruk. Die punt van die stilus was wigvormig en dus het die skriftekens soos ‘n groepering van wiggies of spykers gelyk – vandaar die naam spykerskrif.

Argeologiese vondse uit hierdie tyd toon aan dat daar baie skole was in antieke Sumerië. In hierdie skole is die leerlinge opgelei vir religieuse, handels en regeringstake. Die onderrig was duur en verder was dit ook vrywillig. Die leerlinge het dus uit die hoër klasse van die samelewing gekom. Die leerplanne het gehandel oor wiskunde, tale, aardrykskunde, plantkunde, dierkunde en ander kulturele studies. In die stad Mari is tablette gevind wat oefeninge van kinders bevat met die onderwysers se korreksies daarop wat in die klei aangebring is. ‘n Leermeester is ‘n vader genoem en hy het sy leerlinge as seuns aangespreek. Hierdie leermeesters het die skool met die hulp van assistente bedryf. Daar was selfs onderwysers vir spesifieke vakke.

kaart

 

Op een tablet wat daar gevind is, word vertel wat ‘n seun in die skool gedoen het: “Ek het my tablet gelees, my ete genuttig, my tablet voorberei, daarop geskryf, en dit voltooi”. Vir ongehoorsame leerlinge is die roede gebruik. Die ouers moes self betaal vir die opvoeding. Daar is natuurlik geen bewys dat Abraham so ‘n “tablethuis” (soos hierdie skole genoem is) bygewoon het nie. Nogtans moet ons besef dat hy nie uit ‘n onbeskaafde en ongeletterde wêreld gekom het nie.

 

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 




Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Familie(8) – Interessante Bybelgedeeltes

Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Familie(8) – Interessante Bybelgedeeltes – Hennie Stander

Name

Die naam van God (El, Jahweh of Jah) het dikwels deel uitgemaak van iemand se naam. Dit word teofore genoem. Voorbeelde van sulke teofore is Abijah (“Jahweh is my vader”), Joram (“Jahweh is verhewe”), Eli(j)a (“Jahweh God”), Jeremia (“Jahweh grondves”), Jonatan (“Jahweh het gegee”), Josua (“Jahweh is verlossing”), Elisa (“My God is redding”).

Jesus se kinderdae

Lukas 2:21-40. Ons lees hier dat die kindjie Jesus op die agste dag besny is. Volgens die Wet was Maria vir veertig dae onrein nadat Jesus gebore is (Levitikus 12). Nadat hierdie tydperk verby is, het Josef en Maria na Jerusalem gegaan om die nodige offers te bring (vv. 22-24). Dit is duidelik dat Josef en Maria baie arm was, want hulle kon net twee duiwe bekostig (vgl Levitikus 12:8). Hierna het hulle met Jesus teruggegaan na Nasaret. Moontlik was Jesus byna twee jaar oud toe die Wyse Manne hul geskenke vir hom gebring het (vgl Matteus 2:16). Volgens Matteus 2:11 was Jesus nie meer in die stal toe hulle hom besoek het nie, maar in ‘n huis. Verder vertel die Bybel ons bitter min van Jesus se kinderdae. Daar het egter etlike buite-Bybelse geskrifte (Apokriewe) vir ons bewaar gebly wat allerhande verhale bevat oor wat Jesus as kind gedoen het.

 

Verbreking van die wette

Levitikus 18. Die wette van Levitikus 18 is nie altyd nagekom in die Bybelse tye nie. Sara was Abraham se halfsuster (Genesis 20:12), en ons lees in 2 Samuel 13 (vgl Levitikus 18:9-11) dat Amnon sy halfsuster Tamar onteer het. Moses se vader het met sy eie tante getrou (Eksodus 6:19; vgl Levitikus 18:12-13). Jakob het met twee susters getrou (Genesis 29:16-30; vgl Levitikus 18:18).

 

Weeklaag

Psalm 119:36; vgl ook Jeremia 9:1. Die psalmdigter weeklaag (soos wanneer ‘n mens iemand aan die dood afgestaan het) omdat die mense nie die gebooie van die Here onderhou nie.

 

Witgevertde grafte

Matteus 23:27. Die grafte in en om Jerusalem is altyd in die tyd voor pasga wit geverf sodat dit maklik raakgesien kon word. Die rede hiervoor was dat ‘n mens nie onwetend of onverwags aan ‘n graf sou raak wat ‘n mens onrein kon maak nie. Dit sou dan tot gevolg hê dat jy jouself weer ritueel moes reinig om aan die pasga te kon deelneem. Die Here vergelyk die Fariseërs hier met witgeverfde grafte – buite is hulle mooi wit, maar binne is hulle vol doodsbeendere.

 

Vastye en die huwelik

Matteus 9:14-15. Soos ons reeds gesien het, is daar vir ‘n volle week lank fees gevier wanneer ‘n huwelik gesluit is. Tydens so ‘n feesgeleentheid is daar nooit gevas nie, selfs nie op die tradisionele vasdae (die tweede en die vyfde dag van die week) nie. Jesus sê dus hier dat Hy, die Bruidegom (d.w.s die Messias), teenwoordig is. Die heilstyd het aangebreek en dus is daar net plek vir blydskap en vreugde.

 

Sadduseers en die Opstanding Matteus 22:23-33. Die Sadduseers was lede van ‘n Joodse godsdienstige party wat uit vername lae van die samelewing gekom het. Hulle het nie aan die opstanding van die dode geglo nie omdat hulle geglo het dat die Wet van Moses niks hieroor gesê het nie. Hulle het net die eerste vyf boeke van die Ou Testament as Skrif beskou.

 

Skrywer:  Prof Hennie Stander